Die Groot Vyf

Suid-Afrika is bekend vir die groot verskeidenheid diere wat in die verskillende wildreservate aangetref word. Hiervan is die sg. 'Groot Vyf' miskien die bekendste en word beskou as van die gevaarlikste diere in Afrika.

 

Die leeu (Panthera leo)

Leeus is die enigste van die sowat 38 katagtige spesies wat daarvan hou om in troppe te lewe. Op die eerste foto is ´n indrukwekkende leeumannetjie in die Kgalagadi Grenspark, ´n foto geneem deur Nigel Dennis (1998). Hy kan tot 250 kg weeg en is die hoof van 'n harem: ´n klomp wyfies en kleintjies.

Die koning van die oerwoud.
(Kopiereg: SAT*)
 
Die drie leeuwyfies op die volgende foto is deur Anette Kellerman iewers by 'n watergat in die Noordkaap  gefotografeer. Tydens paartyd kan daar tot 30 keer per dag gepaar word. Die wyfie sonder haar af van die trop as sy geboorte gee. Wanneer die kleintjies kan loop, gaan sy terug na die trop. Tydens jagsessies kan 'n wyfie tot 60 km hardloop.
 
 
Drie leeuwyfies by 'n drinkgat.
(Kopiereg: SAT)

Leeus brul geweldig hard (ná sononder, ná 'n vangs en as hulle klaar geëet het). Hulle het ook 8 verskillende bromgeluide en verskeie tjirp-, tjank- en spingeluide.

 

Die olifant (Loxodonta africana)

Twee volwasse bulle groet mekaar in die Sabi Sabi Wildtuin in Mpumalanga
(Foto deur Nigel Dennis, 1998. Kopiereg: SAT)

Die Afrika-olifant kom suid van die Sahara voor en is deesdae tot sekere tropiese woude, savannas, woestyne en riviervalleie beperk. Hulle eet tot 200 kg voer en drink 190 liter water per dag. Hulle is in konstante gevaar omdat wilddiewe agter hulle enorme ivoortande (oogtande wat deur die vel groei) aan is.

´n Olifant naby Orphen in die Kruger Nasionale Park in Mpumalange.
(Die foto is in 1994 deur Lanz van Hörsten geneem. Kopiereg: SAT)

 

Die renoster (familie: Rhinocerotidae)

Van alle soogdiere is net olifante en die seekoeie groter as renosters. Hulle kan meer as 2500 kg weeg. In Suid-Afrika kry ons twee soorte: Die swartrenoster (Diceros bicornis) en die witrenoster (Ceratotherium simum), beide met twee neushorings maar hulle lipvorm verskil. Beide renosterspesies het swak sig maar 'n besondere skerp reuksintuig.

Swartrenoster in die Lapalala Wildtuin in die Limpopo provinsie gefotografeer.
(Foto van Nigel Dennis. Kopiereg: SAT, 1998)

Die swartrenoster wat vanaf die savannas en berghange suid van Ethiopië tot in Suid-Afrika voorkom, het 'n lang, gepunte, ''grypende'' bolip. Dit kan mooi gesien word in die foto hieronder.

Swart renoster deur onbekende fotograaf.
(Kopiereg: SAT)

Die witrenoster is baie skaars en word meestal nog net in Suid-Afrika aangetref. Hierdie diere is eintlik nie wit nie. Die benaming is 'n volksnaam wat as gevolg van ´n taalfout ontstaan het. Die boere het die Nederlandse "wijde" (wat na die wye vorm van dié tipe renoster se onderlip verwys) verkeerd gehoor en na "wit" vervorm.

 
´n Witrenoster en haar kalfie in die Nasionale Krugerwildtuin
(Fotograaf: Nigel Denis, 1993; kopiereg:  SAT)
 
 

Die buffel (Syncerus caffer)

Die buffel het ´n reputasie onder jagters as een van die gevaarlikste diere om te jag.  Buffels is ook tropdiere en die leiding by 'n trop word uitsluitlik deur die alfakoei geneem.

 
Tipies van die buffel is dat sy horings 'n helm oor sy kop vorm.
(Foto: Lanz van Hörsten, 1992. Kopiereg: SAT)
 
Die buffel het 'n reputasie onder jagters as een van die gevaarlikste diere om te jag.  Buffel is 'n ook tropdiere en die leiding by 'n trop word uitsluitlik deur die alfakoei geneem. As daar 'n gevaarlike situasie dreig, kom die koeie en die kalwers in die middel van die trop bymekaar en word deur die bulle omring wat dan die koeie en die kalfies beskerm.
 
Buffels lewe in indrukwekkende troppe
(Foto: Catharina Loader, 2002)

 

Die luiperd (Panthera pardus, Leopard)

Die luiperd ('leopard') moet nie verwar word met die jagluiperd ('cheetah' of in Duits bekend as 'Gepard')) nie. Laasgenoemde is ’n heeltemal ander katspesie.

 
Luiperd in die Sabi Sand Wildtuin in die Mpumalanga provinsie (2005)
(Foto: D. Allan Photography. Kopiereg: SAT)
 

 Die luiperd se pels het swart vlekke in die vorm van rosette en hy het ´n bonkige, stewige liggaamsbou.

Links´n luiperd  en regs´n jagluiperd in die Mala Mala Wildtuin in Mpumalanga
(Fotograaf van luiperd onbekend; jagluiperd gefotograveer deur Richard du Toit. Kopiereg: SAT)
 
Luiperds is kranige klimmers wat in droogtetye ook veldmuise, ystervarke en selfs vrugte sal vreet. Die jagluiperd (foto bo regs) se vlekke is rond en sy liggaamsbou is baie meer vaartbelyn. Hy het ook ´n prominente traanstreep langs die oë wat by die luiperd ontbreek.
 
___________
 
*Dié afkorting SAT staan vir Suid-Afrikaanse Toerisme, in dié geval ook vir hulle foto-biblioteek waar die SAT foto's gratis beskikbaar ge stel word om SA toerisme in nie-kommersiële en opvoedkundige verband te bevorder.

 

Literatuur geraadpleeg:

Die webwerwe van mieliestronk en SA Tourism Photo Library.

Soogdiere van die Krugerwildtuin en ander Nasionale Parke (1979). Saamgestel deur Die Nasionale Parkeraad. 'n Publikasie van die Raad van Kuratore vir Nasionale Parke van die Republiek van Suid-Afrika. ISBN 0 86953 027 5.

 

Publikasie: 2009


 © Catharina Loader 2001