Algemeen

´n Sonnige maar droë land

Stilte voor die storm in die provinsie KwaZulu-Natal
Die foto is ingestuur deur dr. Frans Grobler en is geneem iewers tussen Melmoth en Vryheid
Storms kan geweldig wees, soos hierdie foto langs die promenade van die dorp met die naam "Strand" wys. Dié gewilde toeriste-oord in Suid-Afrika was eenvoudig onbegaanbaar
(Foto: Rina Loader, 2012)

Aan die seekant van die Eskarpement val die meeste reën in die land en dit kan dwarsdeur die jaar voorkom.

Daar is drie hoofreënvalsones in die land, naamlik die suidelike en oostelike kusstreke waar dit dwarsdeur die jaar reën; die sentraalplato en die Laeveld (somerstorms); suidelike en westelike dele van die Kaapse gebiede (winterreëns).

In die binneland is die reënval wisselvallig en in die woestyngebiede kan dit gebeur dat die boere vir jare sonder 'n druppel reën moet oorleef. KwaZulu-Natal en die Laeveld is weer bekend vir hulle subtropiese klimaatsomstandighede.

Die gemiddelde reënval vir die land as geheel is dus baie gering - slegs 464-502mm per jaar met temperature wat wissel van ongeveer 20 grade C in die Winter (April-September) tot min of meer 40 grade C in die somer (Oktober - Maart). Dit reën natuurlik so min omdat die son so baie skyn - 9.5 ure per dag dwarsdeur die jaar!

Hierdie gunstige klimaat sorg dat Suid-Afrika op die derde plek staan as daar van biodiverse land in die wêreld gepraat word. Slegs Brasilië en Indonesië is beter daaraan toe.

In Suid-Afrika vind ons 10% van die planeet se plante, 79% van sy reptiele, voëls en diere. Daar is 5 verskillende voëlhabitatte - ´n prestasie wat net deur Madagaskar geëwenaar word.

Die statistieke van die Nama Karoo Foundation is egter baie neerdrukkend:

  • 25% van die land het reeds sy natuurlike habitat verloor.
  • 50% inheemse woude is reeds verwoes.
  • Daar is slegs ´n paar natuurlike varswaterbronne oor. 50% van die vleie ("wetlands") is reeds verlore as gevolg van oorbeweiding, onoordeelkundige landboubedrywighede en die teenwoordigheid van indringerplante.

Ekologiese biome

'n "Bioom" is´n breë ekologiese gebied wat oor 'n groot gebied strek en ongeveer dieselfde klimaat, diere en plantelewe insluit. Die woord "ongeveer" dui daarop dat ons nie met waterdigte kompartemente te doen het nie, maar ´n praktiese indeling in gebiede waarbinne min of meer dieselfde natuurlewe te vinde is.

In Suid-Afrika is daar volgens die Rutherford identifikasie (1997) sewe sulke gebiede of biome:

(sien kaart langsaan (http://www.plantzafrica.com/vegetation/vegimages/biomes800.jpg).

woestyngebied, woude, fynbos, grasland, Nama-Karoo, savanna, sukkulente Karoo, boskasies of ruigtes.

Fynbosbioom

Hierdie  bioom maak deel uit van die Kaapse Blommeparadys - die kleinste van 6 sulke gebiede in die wêreld en die enigste wat geheel en al binne die grense van een land val. Daar kom 8 700 plantspesies voor - meer spesies as wat selfs in soortgelyke tropiese gebiede te vinde is - ´n verskeidenheid wat baie tropiese woude verbysteek.

In hierdie bioom vind ons verskillende veldtipes, naamlik renoster-, strand- en die fynbosvelde. Fynbos verwys na ´n groot groep immergroen plante met klein, harde blaartjies so wel as ´n verskeidenheid proteastruike, heide en suikerbosse wat baie lief is vir bergagtige gebiede maar ook in veel mindere mate in die ander veldtipes voorkom.

Die strandveld vind ons naby die kus en in die renosterveld domineer die madeliefies (Asteraceae) en renosterbossies (Elytropappus rhinocerotis). Hierdie veldtipes is uiters teruggedring deur menslike ontwikkeling.

Om nog meer foto´s van die blommevelde te sien, kliek hier: fynbosbiome

Kaapse heide en proteas
Foto Rina Loader
Protea magnifica
Foto Rina Loader
Die nasionale blom van Suid-Afrika - Protea cynaroides of koningsprotea
Foto Rina Loader

Woudbioom

Ongeveer 0.5% van die Suid-Afrikaanse grondgebied is met natuurlike woude bedek. Die bekendste is die Knysnawoud. Die woudgebied is hoofsaaklik in die suidwestelike, suidelike en oostelike kusgebiede in die omgewing van berge wat relatiewe hoë reënval, sporadiese sneeu en mis verseker - voorvereistes vir die handhawing van ´n woudbioom. Slegs 30 van hierdie woudgebiede is groter as 500 hektaar. Boonop is baie woude grotendeels aangeplant, dikwels met uitheemse bome.

Lees meer hier: woudbioom

Sukkulente-bioom (vetplante)

Oppad na Nababeep
Foto Alet Steyn, 2006

Die grootste gedeelte van hierdie bioom is wes en suid van die Eskarpament en noord van die Kaapse Vouberge te vinde. Kenmerkend is veldstroke wat deur heuwels onderbreek word. Uitgestrekte rotslae is bedek met 'n dun grondlaag (net soos in die Nama-Karoo) en die water dreineer vinnig. Daarom vind ons dat vetplante met dik, sappige blare of bolle waarin water opgaar word, hier dominant is. Hierdie plante is aangepas om ekstreme droogtes en hittegolwe te weerstaan. Daar is onder andere ongeveer 2 000 vygiesoorte, Euphorbia- en Crassulasoorte en Stapelia.

Jaarliks gedurende die lente (as dit genoeg gereën het!) is die veld met massas blomme (hoofsaaklik madeliefie Asteraceae) oortrek.

Lees hier meer: sukkulente-bioom

Nama-Karoobioom

Hier, in die Oos- Wes- en Noordkaap provinsies, tref mens die bioom aan. Dié gebied is oortrek met geharde klein struikies en bome wat vir droogtetoestande geskik is. Dikwels word van karoobossies gepraat, ´n benaming wat verwys na die kenmerkende bossies wat oral groei. Sommige bossies is eetbaar en nuttig vir vee. Dit het dikwels vaalgroen blaartjies en geel blommetjies. Name soos beesbossie, perdebossie, soetbossie, skaapkaroobossie hoor jy dikwels in die volksmond.

Lees nog meer oor die Nama-Karoobioom;  Nama-Karoo

Sien die fotogallery

Graslandbioom

Die graslandbioom val in die somerreënvalgebiede. Dit is uitgestrekte grasvlaktes waar die veld hoofsaaklik met grasgewasse bedek is.

Dit sluit byvoorbeeld die volgende gebiede in: die streek tussen Riversdal en Knysna in, die gedeeltes suid en oos van die Storm- en Drakensberge, die oostelike en suid-oostelike gebiede van Gauteng en die oostelike deel van die noordweste van Kaapland.

Ons vind die graslandbioom dus veral op die hoë sentrale plato van Suid-Afrika, die binnelandse gebiede van KwaZulu Natal en die Ooskaap.

Bome is meestal afwesig en bolplante dikwels volop. Dit is ook die mekka vir bees-, skaap- en mielieboerderye asook sorgum, koring en sonneblomme.

Meer inligting: graslandbioom

Savannabioom

Dié bioom is die grootste in suid-Afrika en maak 'n derde van die totale grondgebied uit. Ons tref  gemengde grasland en verspreide groepe bome hier aan. Dié tipiese bioom word in die laeveld, die Kalahari en ook in Botswana, Namibië en Zimbabwe aangetref.

Die sg. "Bosveld" bestaan uit lae grasse en houtagtige struike en/of bome (in Engels bekend as "shrubland" en "woodland").

Waar daar sprake is van oorbeweiding word van struikland gepraat terwyl gesonde veld gekenmerk word deur hoër bome.

Die Nasionale Kruger en Kalahari Gemsbokparke is voorbeelde van dié bioom.

Leer meer: savannabioom

Woestyn

In woestyngebiede is die omstandighede nog veel meer ekstreem as in die Sukkulente- en Nama-Karoo. Reënval is erg wisselvallig en daar word gereken met slegs 10mm reën per jaar.

Die grootste gedeelte van die suidelike woestyngebiede val in Namibië. In die sg Springbokvlakte van die Richtersveld (in die Oranjeriviervallei) kruip die woestyn oor die grens tot in Suid-Afrika.

As dit goed reën kan die veld oortrek wees met grasse en eenjarige plante.

In droë jare is die veld kaal en die plantsade kruip in die sand weg ter wille van oorlewing.

Kyk na mooi foto's: woestyn

Ruigtes of boskasies ("thickets")

Hierdie verskynsel word deur sommige bronne as 'n bioom beskou en verwys na die ondeurdringbare klein struike en bome wat veral langs kusstroke aangetref word.

Hierdie gebiede bevind hulle in 'n oorgangsfase van woud na bv. savannaland.

Lees: ruigtes ("thickets")

Catharina Loader
2005, hersien 2011

© Catharina Loader 2001