Geskiedenis

Die koloniale fase

Dié fase begin met die aankoms van die seevaarders (die 'klipposkantoor'-tydperk), die stigting van die VOC en Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaapse baai, die uitbreiding van die Kaapse nedersetting, toenemende immigrasie na die Kaap, die ontstaan van die veeboer-pioniere. Op politieke gebied het die kolonie wipplank gery tussen die Nederlanders, die Eerste Britse besetting, weer 'n periode onder die Nederlandse Bataafse Republiek en toe die Tweede Britse Besetting wat vanaf 1803 tot 1961 sou strek.Verreikende gevolge het:

  • die invoer van Nederlandse weesmeisies om gemengde huwelike te voorkom
  • die verskyning van die Bruinmense
  • die instelling van slawehandel en weer die onwettige verklaring daarvan
  • die aanvang van die eerste van 9 Grensoorloë
  • vestiging van permanente Blanke inwoners
  • ontstaan van politieke en sosiale strukture
  • konsolidering van Britse invloed

Laasgenoemde het gelei tot die Grensoorloë, die kolonialisering van die Ooskus en die hergroepering van die binneland van Suid-Afrika (Difiqana en die Groot Trek) .

20 Oktober 2010: Kort samevatting van LitNet se simposium ter herdinking van die stigting van die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 2010.  simposium 

Die motoriese moment: 6 April 1652

Gedagtig aan Jan en Maria van Riebeeck - Helena Liebenberg

Tot nie so lank gelede nie, was die 6e April ’n openbare vakansiedag in Suid-Afrika en het dit as Van Riebeeck- en later Stigtingsdag bekend gestaan. In nakoming van ’n eeue oue gelofte deur Jan van Riebeeck, wat die VOC-nedersetting aan die Kaap de Goede Hoop op 6 April tot stand gebring het, is die aankoms van hom en sy geselskap vir baie dekades jaarliks paslik in die land gevier. Hoewel die datum reeds geruime tyd as vieringsdag uit die amptelike landskalender geskrap is, is daar nogtans groot getalle mense wat in goedgesindheid hierdie stigtingsdatum en die gebeure daaromheen in ere hou en paslik gedenk.

Die inligting wat in die onderhawige dokument datumgewys aangebied word, is uit die volgende bronne verwerk: die gedigitaliseerde Resolusies van die Politieke Raad (1651-1795), asook Van Riebeeck se Daghregister (1651-1662 wat sy ampstermyn dek), A.J. Böeseken se Jan van Riebeeck en sy Gesin (1974), die S.A. Biblioteek se Almanach der Africaansche Landbouwers en Hoveniers (1984) en Gwen Fagan se Roses at the Cape of Good Hope (1988) in gedrukte formaat.

Die doel van dié kort mededeling is om vanuit ’n persoonlike oogpunt te wys op enkele hoogtepunte tydens sy ampstermyn as eerste kommandeur en stigter van ’n Europese vesting aan die Kaap: hy het aan die hoof gestaan van die bou van die Fort, was in ’n sekere opsig Eerste Tuinier hier en het ook ’n gelofte, die eerste, op hierdie bodem afgelê. Dié drie aspekte was volgens my rigtinggewend in die groei en ontwikkeling van hierdie vesting en ook van besondere simboliese belang.

 

Reis en aankoms

Met die doel om ’n verversingstasie en ’n militêre teenwoordigheid aan die Kaap te vestig, vertrek Jan van Riebeeck vergesel van sy gesin en grotere geselskap aan die einde van 1651 met drie klein skepies, die Drommedaris, Reijger en Goede Hoope uit Texel, “vande Camer Amsterdam”.

Sy vertroueling en geliefde ‘huijsvrouw’ Maria de la Queillerie wat van Hugenote-herkoms was, het ’n geweldige groot en ondersteunende rol aan die sy van haar man gespeel [Lees oor die Hugenote in Taaloord onder Stamboomboord: “Is ons van mistieke herkoms?”]. Die Franse biskop Nicolaes Etienne wat die Kaap besoek het, beskryf haar in 1661 as een van die wysste vroue wat hy ooit ontmoet het. “Sy word deur almal bemin,” skryf hy. “Sy is onbevooroordeeld, selfbeheersd, goed bekend met die Heilige Skrif en nie styfhoofdig nie.” Minder selfgenome skryf hy daarna dat hy hom as Rooms-Katoliek eintlik skaam om soveel goeds van ’n Hugenoot te skryf (Böeseken, bl. xvi-xvii).

Op Saterdag, 30 Desember het die skeepsraad wat ook die Breë Raad genoem is, op see die eerste Resolusies (resolutien, ‘besluite’) aan boord die Drommedaris geneem. Die Raad het bestaan uit Jan van Riebeeck as voorsitter, en die skippers en offisiere van al drie skepe as lede. Dié Resolusies was die begin van die wetgewende en grondwetlike Nederlandse gesag in Suid-Afrika.

Die volgende vergaderings van 20 Januarie en 29 Maart 1652 is gehou aan boord voordat Tafelbaai bereik is, terwyl dié van 8 en 19 April plaasvind “in ’t schip den Drommedaris” wat toe al in die baai was. Op 11 Mei is die Raadsvergadering “in ’t scip den Drommedaris ter rhede in de Tafelbaai” gehou, maar op 13 Augustus op land: “aen Cabo de Boa Esperance in ’t Fort de Goede Hoope”. Met die vertrek van die skepe en hul skippers bestaan die Raad net uit amptenare met die hoogste range en die militêre gesagvoerder.

 

Jan Anthonisz. van Riebeeck
(1619-1677, oorlede in Batavia)
Maria de la Queillerie
(1629-1664, oorlede in Malakka)

Stigtingsdag: Saterdag, 6 April 1652

So het die son opgegaan op die môre van die 6e April, wat Van Riebeeck self later beskou het as die stigtingsdag van die nedersetting.

Daardie dag het die skepe rustig naby die kus bly lê, terwyl Van Riebeeck sy boekhouer, Adam Hulster, en die onderstuurman, Aernt van Ieveren, in ’n sloep uitgestuur het om Tafelbaai te verken. Eers twee uur voor sononder kom hulle weer terug met die gerusstellende berig dat daar geen skepe in die baai was nie. Met behulp van ’n sagte suidewind kom die Drommedaris en die Goede Hoope die baai binne. Hulle laat die ankers sak naby die “versse” rivier, terwyl Van Riebeeck reëlings tref vir alles wat die volgende dag gedoen moet word. Eerstens moet skipper Davidt de Coninck baie vroeg gereed wees om saam met ses gewapende soldate te land. Hulle moet kyk of daar briewe of papiere onder die sogenaamde poskantoorklippe lê en ook soek na vars groente. De Coninck moet ook ’n seën/treknet saamneem om vis te vang.

Op Sondag, 7 April, skryf Van Riebeeck as opskrif bo-aan die Daghregister: “In ’t schip den Drommedaris ter rheede aen Cabo de Boä Esperance”. Nog twee volle weke en twee dae sou almal in die skip oornag en slegs aan land gaan om te werk. Toe die Reijger op Sondag, 7 April, sy ankers langs die ander twee skepe laat sak het, was skipper De Coninck reeds met ses gewapende soldate aan land besig om na briewe te soek. Net ná 8-uur die oggend kom hy terug met baie vis en enkele briewe.

Grondplan van Vierpuntfort wat voor aankoms geteken is

Vierpuntfort

Teen die aand van hierdie eerste Sondag aan die Kaap het Van Riebeeck saam met sy skipper aan land gegaan om naasteby te besluit waar die fort gebou moes word (Böeseken: 56).Vergelyk die etimologie van fort: die woord kom net so die eerste keer in 1577 in Nederlands voor, uit Frans fort uit Latyn fortis ‘sterk, kragtig’ en hou waarskynlik verband met Latyn firmus ‘stewig, vas’; vergelyk hier ons woord ferm. ’n Ouer Nederlandse vorm, wat ook deur Jan van Riebeeck gebruik word, naamlik fortresse kom reeds in Middelnederlands voor as forteresse uit Oudfrans forteresse.

Die name van die verskillende vertrekke in die vierpuntfort is ook op die grondplan aangetoon (sien afbeelding). Daarop word vertrek G (links tussen punt A en B) benoem as die ‘combuijs’, wat daarop dui dat hierdie eg Afrikaanse woord sonder twyfel saam met Jan van Riebeeck aan wal gekom het.

Daar is in die eerste jaar ná die kommandeurspaar se aankoms aan die Kaap de Goede Hoop baie tot stand gebring. Dat dit die geval was, is hoofsaaklik aan die kommandeur se ywer en daadkrag te danke. Terwyl ’n deel van die besetting besig was met die borswering rondom die fort, was ander besig met die grawe van ’n kelder onder die woon- en pakhuise wat nog gebou moes word.

Saffaanpeerboom uit Van Riebeeck se tyd (foto’s onlangs in die Tuine geneem)

Kompanjiestuin

Die eerste gedokumenteerde tuin in Suid-Afrika was dié een wat deur Jan van Riebeeck in opdrag van die VOC in Cabo de Boa Esperance aangelê is. Dit was immers die aanvanklike en een van twee hoofredes waarom die Kaapse nedersetting op 6 April 1652 gestig is.

Van Riebeeck het heel gou na sy aankoms die ‘Compagnies Thuijn’ aangelê. Met die doel om tuine aan te lê, het hy genoeg plantmateriaal, sade en pitte per skip van die vaderland af saamgebring. Hy skryf op 29 April 1652 in sy dagregister: “Item, bij den tuijnier, ons uijt ’t vaderlant mede gegeven, eenige parckjens aerde om voor eerst tot preuve wat te besaijen ...” (Daghregister, deel 1) – so kry tuinier Boom op daardie dag opdrag om die eerste saad in die aarde te saai.


Op 1 Mei het nog ’n amptenaar opdrag gekry om saam met Boom “moes en andere cruijden’, dus groente, te saai en om naby die grag rondom die fort te begin spit.

Op 19 Junie is vyf of ses man besig om “patriase saden”, dit is saad afkomstig uit Nederland, te saai: radys, slaai en bronkors.

In Julie spoel die meeste saad egter weg en weer eens word rape, kool, geelwortels, ertjies, boontjies, radyse, slaai, beet, spinasie en allerhande graansoorte gesaai.

Die doel was, soos Van Riebeeck in die Daghregister skryf, om die hele jaar deur klein hoeveelhede saad in die grond te kry om sodoende proefondervindelik vas te stel wat die beste tye sou wees om elke soort saad te saai.

Hoewel Boom met ses of sewe tuiniers die werk gedoen het, het Van Riebeeck eiehandig in sy Hovenier’s Almanack opgeteken wat gesaai en geplant is en wat van die saad geword het.

Ook in die Daghregister vind ons ’n weergawe van die saad wat gedurende die eerste jaar reeds aan die Kaap gesaai is, soos Turkse boontjies, anys, vinkel, als, mispel, kweperpitte, appelpitte, Spaanse lemoenpitte, andyvie, boerboontjies, geel- en rooibeet, moesgroente bekend as warmoes, komkommers en pampoen, uie, waatlemoene en ander meloene en katjangboontjies.

Baie soorte vrugtebome is aangeplant waarvan sommige, soos die mispel en kweperbome, op die kante van die slote geplant is. Deur middel van hoë heinings is die tuin simmetries ingedeel, met ’n afdeling vir elke tipe boom. Die tuin het appelkose, lemoene, nartjies, suurlemoene, bitterlemoene, appels, pere, pruimedante, perskes, koejawels, granate, vye, piesangs, pynappels, amandels, okkerneute en bessies opgelewer.

Uit ’n inventaris wat Van Riebeeck van sy lande opgestel het, blyk egter dat sitrusvrugte en wynstokke die belangrikste was.

Na ’n paar maande aan die Kaap skryf hy op 22, 23 en 24 Augustus 1652 in sy Daghregister: “ ... ende als ’twat warmer begint te orden, sijn voornemens om oock wat spaense limoenen ende appelcornen te planten die wij mede uit patria gebracht hebben” (spaense lemoenen (cornen) ‘lemoenpitte’). Die Spaanse lemoenpitte waarna Van Riebeeck verwys, was blykbaar dié van die Citrus aurantium, ofte wel die Seville-lemoen.

Ook aan die toekoms is gedink, want in sy brief van 14 April 1653 het Van Riebeeck, behalwe die reeds genoemde sade, ook nog 10 lb. pasternaken of witwortels bestel, asook 5 lb. saad van essebome, 1 lb. bieslook, 1 lb. artisjoksaad, 1/2 lb. pimpernelsaad, 1/2 lb. roosmarynsaad, 1/2 lb. rooi-, wit- en swart-aalbesse en kruisbesse. Wanneer hy vra om een pond braamsaad, skryf hy “sal hier wel wassen alsoo der wilde bramen sijn”. Interessant is ook sy versoek aan Amsterdam om “1 vatjen met carsen ende pruymesteenen, rood ende wit. Item enige persick ende abricoossteenen in sant gelijt ende coel bewaert” (Böeseken: 71).

 

Aflegging van eerste gelofte

Uit ’n menslikheidsoogpunt het Jan van Riebeeck die volgende jaar, dus 1653, dalk nie besef hoe belangrik die herdenking van stigtingsdag is nie, aangesien in die Daghregister geen melding daarvan gemaak word nie en die dag gevul was met wat gedoen moes word en soos elke ander dag verloop het. Die tweede jaar na aankoms egter is die volgende aangeteken, waarna stigtingsdag tydens sy bewind tot in 1662 jaarliks herdenk is:

APRILIS ANNO 1654
Paesdagh, den 5en dito, werm weer ende windt als gister, tot tegen den avont begond uytten Nwesten wat te koelen met regen.

[Maandag] 6en ditto ... Heden voor de tweede mael jarich sijnde dat wij door Godes Hulpe geleyde met de scheepen Drommedarus, Reyger ende Goede Hoope hier ter plaetse behouden sijn aengelandt omme dese fortresse ende colonie nae d’ ordre onser Heeren Meesters op te maecken ende stabileren, ende gemerckt Godt de Heere alle die saecken tot den dach van heden met veele segeningen wel ende gewenscht heeft laeten succederen ende voltrecken,

Eerste gelofte lui soos volg: soo hebben beslooten, ende oock voor d’ eerste reyse begonnen, desen dach, den 6en April wesende, tot Godes eere met dancksegginghen te vieren ende voor altijt tot een vastblijvenden danck- ende bededach in te stellen, ten eynde daerbij des Heeren weldaeden, aen ons bewesen, bij ons naecomelingen nooyt vergeten, maer altijt tot Godes eere ter gedachtenisse in memorie gehouden mogen worden.

Afrikaans
6 APRIL 1654. Aangesien dit vandag twee jaar gelede is dat ons met God’s hulp en leiding met die skepe Drommedaris, Reiger en Goede Hoop veilig hier geland het, om hierdie fort en kolonie in opdrag van ons here en meesters op te bou, en ons gemerk het dat God die Here al die sake tot vandag toe met baie seëninge, goed en na wens laat verloop het, het ons besluit, en ook vanjaar daarmee begin, om hierdie dag, 6 April, tot Gods eer met danksegging te vier, en dit vir altyd as ’n dank- en biddag in te stel, sodat ons nakomelinge nooit die weldade wat God aan ons bewys het, vergeet nie, maar dit altyd in gedagte mag hou.

[Lees gerus verder in die Taaloord-webtuiste onder Argief: 6 April – ’n dag om te gedenk]

Waarskynlik ’n nakomeling van die outydse Hollandse roos aan die Kaap met ’n sagte, heerlike geur asof van Provence

Eerste Kaapse roos

Die Daghregister-inskrywing op 1 November 1659 lui: “ ... ende is op dato d’ eerste Hollantse roos aen de Caep gepluckt van roseboomen anno passade hier gecomen, ende staen de kerse- ende mispelboomen jegenwoordigh mede al fraey te bloeyen.”
Die Hollandse roos verwys na die Rosa centifolia – my vertaling is honderdblaar – ook genoem die Provence-roos.

Teen Augustus 1657 het die roosbome wat uit ‘patria’ aangevra is, nog nie aangeland nie. Hoewel nie aangeteken is wanneer die roosbome wel ontvang is of watter variëteite gestuur is nie, is die Kaap de Goede Hoop waarskynlik die enigste plek ter wêreld waar die presiese datum aangeteken is toe die eerste roos afgepluk is. Hoe vreemd dat juis die honderdblaar, die gesofistikeerdste Europese tuinroos wat oor eeue heen gekweek is van die wilde roos, die eerste variëteit moes wees om te blom aan die suidelikste punt van Afrika waar geen wilde rose nog ooit voorgekom het nie.

Slegs twee lemoene as eerste drag aan ’n nakomeling van simbolies die belangrikste lemoenboom tans in die land (uit die tuing van die Liebenbergs, 27/7/12)

Eerste twee Kaapse lemoene

Lemoenbome uit St. Helena het soos volg in die ‘Compagnies Thuijn’ beland: In Februarie 1655 stuur Van Riebeeck die Tulp na die eiland om onder andere appel- en lemoenboompies vir die Kaap te haal (JvR, DR I, 14.2.1655), bl. 289). Hulle het goed aan die Kaap gegroei nadat Van Riebeeck ’n windwerende heining rondom die hele Kompanjiestuin laat plant het. Die Nachtglas het in 1656 nog 300 appel- en lemoenboompies van St. Helena af gebring. In November 1[6]57 het die jag Maria nog 900 appel- en lemoenboompies daar gaan haal. Vergelyk die Resolusie van “Maendagh den 20en Augustij ao. 1657: soo veele appel off lemoen boomtjes als sal cunnen bergen om hier aen te planten”.

In sy Daghregister word daar telkens verwys na sitrusbome en op 29 Oktober skryf hy dat “de orangie- [en] lemoenboomen” gaan vrugte dra. Op 18 Julie 1661 berig hy van die “orange- ... en lemoenbomen” in die Kompanjiestuine.

Naas die dagboekinskrywing oor die eerste Hollandse roos aan die Kaap is die volgende mededeling op 25 Julie 1661 vir my van besondere belang en word as slotgedagte bespreek:“’s Namiddags heeft den Commandeur Riebeeck met sijn huijsvrouw d’ eerste twee lemoenen van een boomtjen in Compagnie’s thuijnen staende affgepluckt, sijnde fray geel gecouleurt ende al moij groot, St. Helena’s slagh, van jonge boomtjens voor dato vandaer doen haelen, en te hopen datter haest meer sullen beginnen te dragen.” (JvRDR, 25.7.1661, bl. 384, deel III).

In die Resolusie van “Maendag den 18en Julij 1661” word berig dat dit hoog tyd was dat die Edele Kompanjie ’n goeie stuk land moes kies vir die plant van olyfbome, maar insonderheid dié van “orangie, pompelmoes ende lemoenboomen”. Aan die “nieuwlandt” (huidige Nuweland) word daar toe grond voorberei vir sodanige “plantagie”, vry van die felle suidoostewinde, met die oog op “orangie, lemoen ende wijnplantagie”.

In die Resolusie word ook geskryf dat dit jammer is dat die vryburgers nie geneë was “tot boom off wijnplantagie” nie; hulle het eerder net “koring, thuin- en aardvrugte” geplant omdat hulle onmiddellik ’n inkomste moes hê.

Vanweë die felle suidoostewinde het die bome in die Kompanjiestuin nie so hoog gegroei soos op Van Riebeeck se plaas Bosheuvel nie. Hierdie plaas was “bepoot ende beplant met 1,162 jonge orangie, lemoen ende pompelmoes boomen” asook talle ander vrugtesoorte, altesaam “1,244 stucx jonge vruchtboomtjens.” Die plan was om “wel over de 1,000 jonge orangie ende lemoenboomtjens tegen September aenstaende (gewortelt sullende wesen) aen te planten” in die “nieuwelandt”.

Slotgedagtes

Onder Jan van Riebeeck se leiding is die Vierpuntfort gebou en die Kompanjiestuin aangelê. Hiermee het hy voldoen aan die vereistes wat die Here XVII aan hom gestel het. Hierbenewens het hy die verantwoordelikheid op homself geneem om die eerste gelofte af te lê. Die vrug van sy arbeid lê bekroon in die eerste Hollandse roos en St. Helena-lemoen wat hy vir sy vrou as Kaapse seën op onvermoeide arbeid kon aanbied voordat hulle in Mei 1662 na die Verre-Ooste vertrek het.

Ek stel my voor dat die aanvanklike en toegepaste opdrag aan die egpaar Van Riebeeck in die besonder, ongeveer soos volg kon gelui het: ‘Verlaat julle vaderland waarskynlik vergoed en gaan berei ’n tuin aan die onbekende suidpunt van Afrika voor. Bewerk daar die grond met volharding, saai en plant met ywer ten spyte van terugslae, sodat veral die moeë en siek reisigers tussen die Ooste en die Weste dankbaar kan aandoen by hierdie oase wat deur julle offervaardigheid tot stand gebring is, waar dit wat benodig word, vars en goed vir die gesondheid sal wees – water, groente en vrugte. Dit is julle opdrag en verantwoordelikheid. Maak van dié landstuin ’n ware lushof.’

Hulle het die uiters moeilike toets wat aan hulle gestel is in die volvoering van hierdie belangrike opdrag met lof geslaag. Dit is opvallend maar nie vreemd nie, dat dit die kommandeur plesier verskaf het om met sy geliefde vrou die vreugde van die oes te deel; ek stel my voor dat hy sonder aarseling aan haar die eerste pragtige “Hollantse” roos in die lente van 1559 sou skenk, en in die winter van 1661 pluk hy vir haar een van die eerste twee lemoene wat ryp geword het in die Kaapse tuin en lê dit in haar hand.

Gedagtig daaraan dat die lemoen en die roos ewigheidsimbole is van onderskeidelik goddelike wysheid en goddelike liefde het ek die volgende gedig geskryf en dra dit hiermee op aan die nagedagtenis van Jan van Riebeeck en Maria de la Queillerie vir hulle onmeetlike nalatenskap aan hierdie land en aan dié van ons wat ons met hierdie erflating vereenselwig. Ons bevind ons vandag op dieselfde uitgestrekte Atland-oseaan op pad na dié vasteland waar ons by ’n kaap van goeie hoop aan wal gaan stap.


lemoenroos

lig anker by die hawe van die teks
woestyntog, voëlvlug en goeie hoop
op gekarteerde onverkende wel en seë
van storms, windstiltes en trae tydsverloop
die langtafel met spierwit kleed gedek
kunstig langs blom- en blaarmotief gesoom
berge van wind en leeu op oervaste plek
die suiderkruis se koers ’n sterredroom
tuinier in opdrag uit vrye keuse
berei die boord en bewerk die grond
somer, seën en druppels sagte reën
voltooide arbeid ryp en afgerond
hiermee die eerste roos, my lief
en hiermee die eerste lemoen
uit Provence die broospienk honderdblaar
uit Orange die sonvrug vir ’n duisend jaar

Helena Liebenberg
16 November 2008
(Uit: Rooswater – Bloemlesing, 2012)

Foto ingestuur deur Helena Liebenberg