Die Oos-Kaap is die Xhosas se "tradisionele" tuiste en die geskiedenisboeke leer ons van talle Oosgrensoorloë in die dae van die Britse kolonies. Die feit dat Engels hier taamlik prominent is, is die gevolg van die Britse Setlaars wat in 1820-1924 ingevoer is in ´n poging om die hande van die Oosgrensboere te versterk. In 1994 word die voormalige Kaapprovinsie en die "tuislande" Ciskei en Transkei saamgevoeg. Die hoofstad is Bisho.

Ander belangrike plekke is onder meer Port Elizabeth, Oos-Londen, Grahamstad, King William's Town, Queenstown, Uitenhage, Mthatha (voorheen Umtata), Aliwal-Noord en Cradock.

Daar is groot verskille in die landskap:

  • die kuslyn in die suide en ooste is sinoniem met die wildekus, strande en die hawestad, Port Elizabeth
  • grasvlaktes in die oostelike binneland met streke soos die Overberg en Swartland wat (saam met die Vrystaat) bekendstaan as die broodmandjie van die Suid-Afrika omdat daar so baie koring geproduseer word.
  • barre semi-woestyngebied in die noordweste (Groot-Karoo)
  • groot woude in die suide (Keiskamma vallei)
  • berge (Witteberge, Drakensberge)
  • les bes 'n warmwaterbron by Aliwal-Noord.

Fotobeelde sluit in:

  • Port Elizabeth
  • Graaff-Reinet
  • Vallei van Verlatenheid
  • Middelburgse Karoo
  • Hogsback

Port Elizabeth: Nie lank ná die aankoms van die Britse Setlaars nie het Port Elizabeth se hawe begin om in een van die belangrikste hawens in Suid-Afrika te ontwikkel - wolhandel, die uitvoer van sagte vrugte en sitrusvrugte het dié feit aangehelp.

In die universiteitsstad Grahamtown word daar sedert 1974 jaarliks´n Nasionale Kunsfees georganiseer. Vir ´n week lank is daar onophoudelike teater, musiek, staptoere en lesings terwyl spaartyd gevul kan word met snuffeltogte deur stalletjies vol tradisionele handwerk en kunsartikels.

Graaff-Reinet is in 1786 deur die Trekboere gestig en vernoem na goewerneur Cornelis van der Graaff en sy vrou, Reinet, vandaar die naam Graaff-Reinet. Dit is die vierde oudste dorp in Suid-Afrika met die meeste verklaarde nasionale gedenkwaardighede in die land. Die Sondagsrivier vorm ´n hoef rondom die dorp.

Pier in Port Elizabeth
Graaff-Reinet lê in die voorheuwels van die Sneeuberge.

Die Karoo Natuurreservaat met ´n oorvloed van diere en voëls omring Graaff-Reinet. Hierdie reservaat is in 1979 gestig om die Karoo se ekostelsel te bewaar. Die staproete na die hoë dolomietpilare in die Vallei van Verlatenheid is onvergeetlik. Dié ysterklipsuile is afgekoelde magna, 180 tot 200 miljoen jaar oud en  bereik hoogtes van 90 - 120 meter. Die Karoo-vlaktes vorm ´n dramatiese agtergrond vir die dolemietsuile.

Die Spandaukop

Diere wat in die omgewing voorkom - ´n grondeekhoring, ´n hartebees en ´n swartwildebees.

Baie interessant is Middelburg en omgewing.

Middelburg (daar is ook ´n Middelburg in Mpumalanga!) op die oewer van die Kleinbrakrivier stam uit die jaar 1852 en is´n voorbeeld van´n tipiese Karoo-dorpie, soos die kruiedokter se winkeltjie aantoon.

Op ´n deurpad in die Karoo is daar baie besondere voetgangers - meerkatte! In die agtergrond is die Rhenosterberg naby Middelburg te sien asook ´n tipiese landskapstoneel. Skape bondel saam in ´n plaashek.

Hogsback is dorp in die Amatolaberge van die Provinsie Oos-Kaap. Die naam is afkomstig van die drie bergrûe in die omgewing wat soos die borsels op die rug van 'n vark lyk. Dié bergpieke is een van die weinige plekke in Suid-Afrika waar in die winter sneeuvalle aangeteken word. Die gebied is bekend vir sy pragtige natuurskoon met inheemse woudbosse, watervalle, toweragtige stroompies, forelle, talle voëlspesies (loeries en papagaaie) en staproetes. Volgens die tydskrif, Getaway Magazine, is Hogsback een van die tien mooiste plekke in Suid-Afrika. Daar word soms beweer dat die Amatolabos die Engelse skrywer J.R.R. Tolkien tot sy fiktiewe Mirkwood-bos in die roman The Lord of the Rings geïnspireer het.

Die volgende foto´s is geneem deur Alet Steyn toe sy om ongeveer 16.00 vanuit rigting Fort Beaufort na Hogsback oppad was. Sy skryf: "Dit was soms so mistig dat ons nie eers die pad kon sien nie. Die afgronde kon ons dus nie afneem nie, maar die skoonheid van die mistigheid het daarvoor opgemaak."

Alle foto´s is deur Alet Steyn ingestuur.

 

Gepubliseer 2009.