Algemeen

Tertius Kapp is tans besoekende Senior Lektor by die Departement van Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies aan Adam Mickiewicz Universiteit in Poznan. Hy het sy Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkunde onder leiding van Professor Marlene van Niekerk by die Universiteit van Stellenbosch voltooi. As regisseur en dramaturg het hy al verskeie teaterproduksies op die planke gebring, en sy digkuns is in die Groot Verseboek opgeneem.

 

Hy skryf as volg -

In gister se Rapport lees ons dat Dirk Hermann by tieners gehoor het dat hulle danksy Bok van Blerk voel dat hulle ‘n identiteit het. En ons lees dat Fokofpolisiekar “‘n break vat”. Voor julle paniekbevange raak – dis net ‘n blaaskansie. Hulle gaan vir ‘n paar maande rus na hulle in drie jaar honderde der honderde gigs gespeel het. Kom ons ignoreer die feit dat ons almal al in verhoudings was waar “’n break” meer as dit beteken het.

Wat Bok betref: ek dink ons stem almal saam dat die afgelope dekade of meer gegaan het om die ontdekking van ‘n nuwe identiteit vir die Afrikaner. Dis dan seker goeie nuus dat dit gevind is. Moenie my verkeerd verstaan nie - ek hou van Bok. Maar wanneer mens daai lyn tussen vermaak en politiek oorsteek, moet mens versigtig wees.

My vraag is net of identiteit iets is wat mens soos ‘n verlore skat weer vind? Dit is immers wat ‘De La Rey’ doen: dit krap ‘n bietjie rond in die verlede en vind die maklikste, handigste simbool om ‘n emosionele wysie rondom te skryf - die oorlogsheld (en ‘n man van vrede, ja, goed, ons weet, maar die video maak duidelik waar die fokus van ‘De La Rey’ lê).

Om weer die Anglo Boereoorlog te gebruik as fondament in die bou van ‘n identiteit, is om die honderd jaar wat intussen verloop het, onder die mat in te vee, en te fokus op ‘n Afrikanerheld wat nie deur die tyd tussenin gevlek is nie. Die ‘tyd tussenin’ is nie iets wat vergeet moet word nie. Dis iets wat deurgewerk moet word, om ‘n verskynsel wat al baie keer in die geskiedenis voorgekom het (naamlik die herhaling van die sondes van die vaders) te verhoed.

Goed, dit trek die Afrikaners bymekaar. Maar tot watter doel? Gemeenskaplike aksie teen misdaad, korrupsie, ensovoorts, sou mens aanneem. Het ons nie al gesien dat wanneer hierdie kwessies deur net wit Afrikaners aangespreek word, dit meer skade as goed doen nie? Dit maak daarvan ‘n rassekwessie en maak dit ontneem dit onmiddelik van die regmatige geldigheid daarvan. Kan ‘n mens met ‘n oop gemoed sê dat dit nie gaan bydra tot verder polarisasie nie?

In dieselfde koerant skryf iemand in die briewekolom dat ‘ons’ “die oorlog sou gewen het”, en nou besig is om “die vrede te verloor”. Dit is die soort praatjies wat hierdie soort identiteit tot gevolg gaan hê. (As daar dan ‘n burgeroorlog in Suid-Afrika was, sou ons presies in dieselfde posisie as voor dit gewees het, minus ‘n paar miljoen lewens aan beide kante. Enigiemand met ‘n verstaan van die realiteite van burgeroorloë kan dit insien).

En dan Fokofpolisiekar. Die gehate seuns van Afrikaans. Wat afbreek en vernietig net waar hulle kom. In ‘n tyd waar dit miskien presies is wat ‘n mens nodig het. Hoe kan ek so sê? Die feit is dat daar baie van Afrikaneridentiteit is wat ernstig herondersoek moet word. Baie mense is bang om dit te doen omdat die goed nog steeds op ‘n altaar staan. Baie mense glo steeds heimlik dat ons ‘n uitverkore volk is. Hierdie idee’s moet eers afgebreek word voordat daar ernstig werk gemaak kan word van die skepping van ‘n nuwe identiteit, een wat gaan kan oorleef in ‘n moderne wêreld. Een wat moontlik ook ‘n diaspora gaan moet oorleef, soos meer en meer van ons na ver lande vertrek. As ‘n mens trek, kyk ‘n mens altyd deur al jou ou dokumente, klere, besittings. Jy besluit wat jy hou, en wat nie. Jy herskep jouself. Anders word jy soos een van daai kluisenaars, wat nie kontak maak met ander mense nie, en in die museum van jou huis vasgekeer is.

Fokofpolisiekar saai twyfel by die jeug. Twyfel is die saadjie wat groei tot eie denke. En daardeur kan ons die proses van identiteitskonstruksie behoorlik aanpak. Nie deur ‘n desperate herwinning van ‘n geskiedenis wat meer as ‘n eeu oud is nie.

Ingestuur op 15/03/2007 met toestemming van die skrywer om dit te publiseer.

 

Opdateer: Januarie 2010

 

© Catharina Loader 2001