Algemeen

Min mense weet vandag dat een van Suid-Afrika se mees legendariese vlieghelde in die Groot Oorlog 'n Bolander met die bynaam Sailor was.

Org Potgieter het in die argiewe gaan delf op die spoor van hierdie uitsonderlike man.

  • Vir die titel van baas-vlieënier moes jy vyf vyandelike vliegtuie met die nodige getuienis en bewyse afskiet. Sailor Malan se totaal was meer as ses keer soveel.
  • Sy Tien Reëls vir oorlogvoering in die lug was die amptelike handleiding van die RAF en het oral teen die mure van barakke gepryk: "Wag totdat jy die wit van sy oë sien voordat jy vuur; hoogte gee jou altyd die voordeel; neem jou besluite vinnig, selfs al is hulle nie die beste besluite nie; moet nooit langer as 30 sekondes reguit en op dieselfde hoogte vlieg nie. Reël nommer 10 het gelui: "Gaan vinnig in - slaan hard - laat spaander!"
  • In sy kort loopbaan het hy talle eerbewyse versamel, waaronder die Belgiese Croix de Guerre; die Tsjeggo-Slowaakse Militêre Kruis; die Franse Legioen van Eer (offisiersklas) en die Franse Croix de Guerre.

Op 29 Oktober 1941 het 'n afvaardiging van ses offisiere van die Britse Royal Air Force (RAF) New York onder hoogs geheime omstandighede en geklee in privaatdrag besoek. Amerika was nog nie by die Tweede Wêreldoorlog betrokke nie, maar was reeds besig om die Geallieerdes in die geheim te voorsien van tenks, ammunisie, skepe en vliegtuie.

In ruil daarvoor, en as deel van die VSA se voorbereiding om tot die oorlog toe te tree, het hierdie halfdosyn lede van die RAF lesings vir die Amerikaanse lugmag kom gee en deelgeneem aan dié land se oorlogsmaneuvers.

Een van die ses was 'n vleuelkommandeur. Hy was die Britte se voorste vegvlieënier en taktikus; 'n man wat in minder as 'n jaar tientalle Duitse vegvliegtuie en bomwerpers afgeskiet het. Hy was behang met medaljes en eerbewyse en had reeds in daardie stadium legendariese status vir sy vaardigheid in die lug, sy vreesloosheid en sy leierseienskappe geniet.

Hy was ook 'n Suid-Afrikaner: Adolf Gysbert Malan, beter bekend as Sailor Malan, een van ons heel grootste oorlogshelde - 'n man wat 'n legendariese status verwerf het vir sy gevegsvernuf gedurende die Slag van Dunkirk, die Battle of Britain en talle ander skermutselings met die vliegtuie van die Luftwaffe.

En tog is sy nalatenskap in Suid-Afrika vandag beperk tot militêre museums. Anders as wat die geval met soveel ander oorlogshelde is, is daar geen eenheid of skool of woongebied of selfs 'n straat wat na hom vernoem is nie. Weet so min mense van hom; is hy as 't ware gereduseer tot 'n blote voetnota in ons oorlogsgeskiedenis.

Sailor Malan is op 3 Oktober 1910 in die Wellington-distrik gebore uit die huwelik tussen Willie Malan en Evelyn Jordan, 'n meisie wie se Britse ouers hulle twee dekades vroeër aan die Kaap kom vestig het.

Hy is in die N.G. Kerk (die "Andrew Murray kerk") gedoop en het die AB Boek in 'n plaasskool geleer voordat hy op die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch verder skoolgegaan het onder die wakende oog van die einste eerste Springbokkaptein.

Die jong Malan was net 'n jaar of wat daar voordat die gesin teruggetrek het Wellington toe. Dit was ook die einde van sy skoolloopbaan. Die see was van kleins af sy groot liefde, en op 14-jarige ouderdom het die jongeling hom by die opleidingskip Generaal Botha vir sy leerlingskap aangesluit.

Kadet 168 was die jongste en een van die kleinste bemanningslede en was dikwels die teiken van boelies - iets wat sy lewe lank 'n merk op sy gemoed gelaat het.

Maar hy was ook vroeg reeds 'n vasbyter, en in 1926 het sy kadetskap suksesvol ten einde geloop. Hy het sy maritieme loopbaan voortgesit en hom later aangesluit by die reserwemag van die Britse vloot, waar hy sy opleiding in 1934-35 ontvang het. Terselfdertyd het aansoek gedoen om 'n pos in die Britse lugmag. Die geluk was aan sy kant, want die ouderdomsperk is kort tevore verhoog en hy kon hom (as ietwat bejaarde van 25 jaar) by hierdie gevegsmag aansluit.

Sy siviele opleiding het hy by die Pilton Vliegskool in Bristol ontvang, waar sy bevelvoerder Taffy Jones was. Jones was een van die Eerste Wêreldoorlog se vermaarde vegvlieëniers en was vroeër lid van 74 Eskader - die Tier Eskader. Jones het dadelik Malan se potensiaal raakgesien, en hy het spoedig self lid van die Tiere geword. Hier is hy vinnig bevorder tot vlugluitenant.

Die Tier Eskader was ook die toneel vir die ietwat eiesinnige Malan se eerste potjie met die militêre lughiërargie, wie se neergelegde taktiek dit was om van groot afstande af te begin vuur.
Malan het sy onortodokse taktiek gebaseer op dié van die baasvegters van die Eerste Wêreldoorlog. Hoogte, die posisie van die son en jou wapentuig was die belangrikste. Hy het ook daarop aangedring om sy wapens self in te stel.

"Goeie vliegwerk skiet nie vliegtuie af nie; goeie geweervuur wel," was Malan se argument.

Later sou hy ook afwyk van die "vic"-formasie van die RAF. Saam met sy senior vlieëniers is daar besluit op 'n losser formasie, gebaseer op die "viervinger"-formasie wat die Luftwaffe ontwikkel het.

Met Sailor se aankoms by 74 Eskader was die gevegsgroep baie uitgedun en moes daar tot 'n groot mate van voor af met nuwe rekrute begin word. Hy het spoedig getoon dat hy 'n uitstaande skut in lugoefeninge is. As vlugkommandeur het hy in November 1938 sy gevegsgroep gevoer tot die verowering van die Sassoon Flight Attack Trophy. Dié sege is met erg-verouderde Gauntlet tweedekkers teen 23 ander eskaders met veel moderner vliegtuie behaal.

Toe die oorlog uitbreek, had hy hom reeds gevestig as 'n eersteklas-skut en 'n uitsonderlike leier en taktikus. Sy eskader is met streng dissipline aangevoer. Hy het in alles die voorbeeld gestel, geen slapheid geduld nie en was suinig met die uitgee van medaljes, iets waarvoor hy streng vereistes neergelê het. Van diens af was hy 'n verstokte dobbelaar wat dikwels by sy ondergeskiktes in die skuld was. Hy het ook soveel as moontlik van sy tyd saam met sy gesin bestee.

Malan is in April 1938 met Lynda Fraser getroud. Sy vrou het hom altyd John genoem - 'n voorbeeld wat slegs sy binnekring-vriende gevolg het. Vir die res van die wêreld was hy, en sal hy altyd, Sailor wees. (Die Tier Eskader het hom eers "Admiral" genoem, totdat daar ontdek is dat sy maritieme opleiding in die maritieme vloot en die Britse vloot se reserwemag was. Hy is toe grappenderwys "gedemoveer" na Sailor - die naam waarmee hy sy roem verwerf het.)

Hul eerste kind - 'n seun, Jonathan - is gebore toe Malan op die hoogtepunt van sy vegloopbaan was en het Sir Winston Churchill as een van sy peetouers gehad.

Sailor Malan se groot wens is vervul toe die Tiere vroeg in 1939 van die jongste Spitfires voorsien is. Toe die oorlog op 3 September uitbreek, was 74 Eskader een van die bes-toegerustes en gevegsvaardigste ekskaders in die hele Britse lugmag.

Malan het sy die eerste tasbare bewyse van vreeslose en onverbiddelike gevegslus getoon gedurende die Slag van Dunkirk (Mei-Junie 1940), waartydens hyself vyf vyandelike vliegtuie afgeskiet het tydens die tien aanvallende patrollies oor Noord-Frankryk. Aan die einde van hierdie slag is hy met met die Uitmuntende Vliegkruis (Distinguished Flying Cross) vereer. Ten tyde van hierdie slag het Malan tussen 21 en 25 Junie 1940 self ses Duitse Bf 109's afgeskiet.

Op 8 Augustus 1940 - met die beroemde Battle of Britain op sy hoogtepunt - is Sailor bevorder tot bevelvoerder van die Tiere. Drie dae later is die eskader beveel om aanvallende vliegtuie oor Dover te onderskep. Dit is deur nog drie ekskursies gevolg, en teen die middag het 74 Eskader aanspraak gemaak op 38 slagoffers. Hierdie dag was daarna in die oorlogsannale bekend as "Sailor se Elfde Augustus."

Op die aand voor Kersdag 1940 is die Orde van Uitsonderlike Diens aan Malan toegeken, en die London Gazette het berig: "Hierdie offisier het sy eskader met uitstaande sukses oor 'n periode van intensiewe lugoperasies met briljante leierskap, vaardigheid en vasberadenheid aangevoer. Sedert vroeg in Augustus het hulle minstens 84 vyandige vliegtuie afgeskiet, waarvan Malan se aandeel minstens 18 bevestigde gevalle was, met 'n moontlikheid van nog 6."

Hy is as bevelvoerder van 74 Eskader opgevolg deur John Mungo Park, wat van Sailor gesê het: "Wat ek in Sailor bewonder het, is sy stil dog ferm manier en sy koue waagmoed. Hy is geseën met buitengewone skerp sig en is 'n gebore vegvlieënier."

Sailor Malan het tot aan die einde van die oorlog verskeie ander poste in die RAF gevul en in 1946 met sy vrou, sy seun, Jonathan, en sy dogter, Valerie, na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het hom by Anglo American aangesluit as die private en politieke sekretaris van mnr. Harry Oppenheimer. In 1950 het hy die plaas Benfontein naby Kimberley gekoop en hom op skaapboerdery toegelê.

Tussendeur het hy 'n groot rol in die Torch Commando van die jare vyftig gespeel. Dit was 'n organisasie bestaande uit oud-gediendes wat vyf jaar lank talle optogte teen die Nasionale Party van dr. D.F. Malan gelei het oor maatreëls wat die Kaapse bruin kiesers uiteindelik van hul ses verteenwoordiger in die volksraad sou ontneem.

Sailor se leierseienskappe het in 1952 van hom die nasionale president van 'n organisasie met 250 000 lede gemaak. By meer as een geleentheid is groot protesoptogte met brandende flitsligte gehou.

Aan die einde van die jare vyftig het sy gesondheid snel agteruitgegaan. Hy is op 'n laaste besoek aan Brittanje met 'n vreemde vorm van Parkinson se siekte gediagnoseer en hy is op 17 September 1963 oorlede.

Hy is op Kimberley begrawe - ver van die Engelse lug waarin hy so dapper geveg het, en sy grafsteen dra die woorde: "In the shadow of Thy wings I will rejoice."Geen Suid-Afrikaanse militêre lui is toegelaat om sy begrafnis in uniform by te woon nie. As 'n laaste eerbewys het 28 oorblywende oorlogskamerade in 1966 'n seremoniële swaard tot sy eer aan 74 Eskader oorhandig. Hieroor skryf Douglas Tidy, eskaderleier: ". . . sodat dit kan dien as 'n inspirasie vir dié wat ná hom kom; sodat sy hoë standaarde van moed, vasberadenheid en leierskap sal voortleef. Vir ons wat tussen 1936 en 1945 in 74 Eskader se diens was, was hy die grootste leier van hulle almal."

Sailor Malan was 'n soldaat wat, miskien meer as enigiemand anders, die leuse van 74 Eskader kon aanhaal en in alle waarheid kon sê: "Ek vrees geen mens nie."

 

Bronnelys

 

Bill Fry, Greatest of The Few.
D.P. Tidy, South African Air Aces 1939-1945.
Oliver Walker, Sailor Malan, a biography.
Pat Eriksson, A tribute to Sailor Malan .
Christopher Shores, Sailor Malan - Fighter Command's Number One.
Skrywer onbekend, Biographies of famous South Africans.