Algemeen

Dis 20 April 2006 op die Aardvark Natuurreservaat. Skilpaddam is al maande droog. Drinkwater het in Januarie al opgeraak en word gereeld uit die dorp uit aangery.

Gister het die termiete die wêreld vol gewerk en stokkies aangedra na die nesgate toe. Dis warm en drukkend, en die wind stoot uit die ooste. Die donker wolke pak saam.

Kyk, ‘n bietjie reën sal darem handig wees. Die laaste jaar het ons net 63 mm reën gemeet. Tot die Scholtzbosse is vaal van die droogte.

Gelukkig dra ons op die oomblik min wild, anders sou ons ‘n ernstige weidingsprobleem gehad het. Selfs die goggas is minder – ironies dat die droogte ook sy voordele gebring het. Die gebruiklike steekvlieë van die vroegsomer was amper heeltemal afwesig, selfs die muskiete was die hele somer lank amper nie ‘n faktor nie. Altyd iets om voor dankbaar te wees!

Die lug is nou swanger met vog, en nie lank nie toe klap die eerste skote. Die donderslae weergalm om ons, en toe kom die reën. Sulke vet druppels wat plof in die stof.

Minute later is ons deurnat – wat ‘n heerlike gevoel! Van veldwerk is daar nie verder sprake nie, ons keer maar huiswaarts.

Terwyl ons om Skilpaddam ry, sien ons hoe die water aankom. Die dorre damvloer drink en drink. Later sal die water begin opdam. Ons ry verby op pad huistoe. Gedeeltes van die pad het nou ‘n rivierloop geword, kompleet met brandertjies.

En wat sien ons die pad afkom? ‘n Waterskilpad. Iewers het die ou uit sy droogteslaap ontwaak en kies nou koers dam toe. Waterskilpaaie grawe in die modder in en oorleef droogtes in ‘n soort hibernering, iets wat ons estivasie noem. Verstommend dat hulle binne 20 minute na die reën reeds op pad is water toe – dit lyk soos ‘n branderplankryer soos die waterskilpad met die branders saam tuimel.

Die reën stort nog neer wanneer ons die lang hoogte vat na die Aardvark Opleidingsentrum. Halfpad teen die bult moet ons weer kyk – honderde vlieënde insekte kruip uit die grond uit en styg op in ‘n lompe vlug. Dis termiete wat hulle prinse en prinsesse vrylaat om nuwe kolonies te begin – hulle wag al 'n jaar lank vir die regte geleentheid.

'n Akkedis kom vinnig nadergedraf. Termiete is kos. Vlieënde termiete is poeding! Vinnig word die ongelukkiges onder die prinse en prinsesse opgeraap en ingesluk – vanaand gaan ‘n paar akkedisse lekker slaap met stywe pensies.

Dis einde Augustus. Dit was die natste winter in jare. Sedert daardie dag in April het ons 296 mm reën gehad. Die damme loop al twee maande lank oor, water borrel uit die grond uit soos fonteine ontspring waar daar stofpad was.

‘n Blommeparadys omring ons – alles van basterkalkoentjies tot bobbejaantjies en uintjies het geblom. Dis plate goud en geel en oranje en pers en wit.

Kos is in oorvloed beskikbaar. Die insekte wys dit eerste. Die veld is oortrek met ruspers – sulke geel-groenes met swart strepe op die sye. Hulle ontsien niks nie – alles word voor die voet gevreet. “Dis kommandowurms,” sê Pieter. “Ons kry hulle in die Vrystaat. Hulle gaan jou veld kaal vreet.”

Nouja, dit glo ek nie sommer nie. Ek dink terug aan die dag by my huis in die Krugerwildtuin toe ek deur ‘n swerm ruspers gekonfronteer was. Ek het so pas ‘n nuwe boom geplant (‘n swart apiespeul). ‘n Maand of so later stap ek eendag daar verby en sien dat die boompie oortrek is met ruspers. Hulle is besig om die arme plant kaal te vreet. “Daar gaan van jou niks oorbly nie” dink ek by myself. “Ek sal moet gif kry om die wurms te spuit” vertel my sosiale kondisionering my.

Terwyl ek staan en kyk na die slagting, val ‘n wurm op die grond, waar die miere hom onmiddellik toetakel. Skielik besef ek dat ek kyk na ‘n natuurlike proses met sy eie balanse en wisselwerkings. “Ek gaan nie hierdie proses met gif versteur nie” dink ek. “As die boompie vrek, sal ek maar nog een by die kwekery gaan haal.”

Twee weke later keer ek terug van ‘n lang veldekskursie. Ek stap toevallig by die boompie verby wat laas so afgeknou is. Ek kan my oë nie glo nie – die boompie het amper twee keer groter gegroei en is blakend gesond. Toe besef ek dat die ruspers se afknou maar net ‘n natuurlike reaksie ontlok het – die boompie het ‘n enorme groeistimulus gekry. Ter wille van sy oorlewing het hy gegroei dat dit bars om net so vinnig as moontlik groot en sterk te word. Danksy die ruspers!

So het ons ruspers in die Klein Karoo ook gekom en gegaan. Die veld is nog daar, maar die Klein Karoo is 'n paradys van motte en skoenlappers wat die miljoene blomme bestuif, sodat ons volgende jaar weer 'n blommeskou kan hê.

As die reën net kom.

Johan Fourie: The Nature College

 

Gepubliseer: 2011

 

© Catharina Loader 2001