Afrikaans en sy mense

Afrikaans kry ´n holte vir haar voet by Melrose Arch in Johannesburg.

In ´n projek deur Dagbreek Trust gefinansier is´n nuwe webblad en nuwe veldtog om Afrikaanse dinge vir´n breer publiek te gee, op 26 Mei 2016 in Suid-Afrika bekendgestel. Talle Afrikaansliefhebbers het die opening bygewoon. Woord, beeld en klank word ingespan om die leser ´n insig van die taal te gee.

Die uitnodiging is: Kom praat saam in jou hartstaal op www.Afrikaans.com

Die skrywer Anoeschka van Meck is besig om deur die land te reis en het weggeskop deur met die Afrikaanssprekendes van Fonteintjie, ´n gemeenskap buite Springok in die Noord-Kaap gesels. Die beeldmateriaal van dié gesprekke is op Afrikaans.com te sien.

Die doel van die projek wat die veldtog insluit, vier die  sjarme, eiesoortigheid en kleurrykheid van Afrikaans en werk saam met ander projekte en organisasies. Op dié manier wil die organiseerders die mense bewus maak van alles wat in Afrikaans in die land aangaan.

Afrikaans.com is ’n nuwe bymekaarkom-tuiste waar die publiek alle inligting oor die taal kan bekom of na die regte plekke herlei kan word.

Meertaligheidsweek in Soweto - Amanda de Stadler

Verlede week (26 – 29 Maart 2014) was dit meertaligheidsweek in Soweto aangebied deur die ATKV, UJ en die VVA.  Dit was vier dae vol aktiwiteite en baie pret.

Tydens die openingsdinee het dr Paahla, die adjunkminister van Kuns en Kultuur, ons verseker het dat daar kennis geneem word van die werk wat kultuurorganisasies soos die ATKV doen.

Daar was voorleeswerkswinkels vir kinders en volwassenes, ‘n skryfwerkswinkel, klasse in die aanleer van Gebruiksafrikaans, ‘n konferensie oor tolking in die klaskamer waaraan verskeie universiteite deelgeneem het. Saterdagoggend is daar gepraat met onderwysers oor die hantering van meertaligheid in klaskamer en is daar sertifikate oorhandig aan kinders in Soweto wat vrywillige Afrikaanse klasse geneem het by mev Suzy Mathlola en mnre Victor Khambule en Aby Telela.

Daar is ook vier trommels vol boeke aan die mense van Soweto oorhandig wat befonds is deur die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA).

Hierbo lees  ek saam met ‘n groep leerders uit ‘n Afrikaanse storieboek. Ek het die Afrikaans gelees en die leerders het daarna getolk na hulle onderskeie moedertale. In dié klein groepie was daar ‘n rykdom aan tale: Afrikaans, Shôna, Sotho, Venda, Xhosa en Zulu. Dit was ‘n heerlike manier om kinders bewus te maak van hulle moedertale.

Die kinders is huis toe met ‘n lekker ATKV-rugsak met ‘n tydskrif in en die slagspreuk: “Jou  toekoms begin by ‘n boek”.

Hierdie meertaligheidsweek was die inisiatief van die ATKV en het baie positiewe reaksie ontlok en baie vriende is gemaak. Ons hoop dat hierdie bewusmaking van die belang van elkeen se moedertaal, sal deursuur na ander gemeenskappe en indiwidue, en dat dit die begin is van nog soortgelyke inisiatiewe. Baie dankie aan Evelyn Ferreira en Karien Brits van die ATKV en hulle span asook Donovan Lawrence, Anne-Marié Beukes, Stefanie Dose en Marné Pienaar van UJ vir die harde werk.

Maandblad Zuid-Afrika (Uitgawe van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging in Amsterdam), Maart 2014.
Adres: Banghoekweg 115, Stellenbosch 7600.

 

Vriende van Afrikaans lees die land aan die brand - Maggie Mouton

Met hul praktiese, straatwys benadering tot lees en geletterdheid maak die Vriende van Afrikaans (VVA) welverdiende deurbrake – van hul basis in die Boland tot in die Karoo en Soweto. Maggie Mouton het meer gaan uitvind oor Vriende se vindingryke voorlees- en boektrommelprojekte.

“Ons vra nie watter skole nie – ons lees oral,” sê ’n op-en-wakker Amanda de Stadler uit die VVA se kantoor in Stellenbosch waar sy entoesiasties uitwei oor hulle voorleesprojek: Een maal per week lees vrywilligers op georganiseerde basis stories vir voorskoolse kinders in die Stellenbosch-distrik. Na drie jaar het hulle al 12 kleuterskole bereik waarvan nege voldoen aan die VVA se kriteria, naamlik skole wat goed bestuur word, maar ’n nypende tekort aan hulpmiddele het. 

“Kinders het ’n agterstand as hulle nie by die huis lees en ook nie in kleuterskool of Graad R boeke gehad het nie, maar dis iets wat eintlik só maklik reggestel kan word,” gesels Amanda oor Vriende se werk op voetsoolvlak asook, by drie kleuterskole in die gegoede deel van die dorp.

Die doel is om voorskoolse kinders lief te maak vir lees, hulle te leer konsentreer en hul verbeelding te prikkel. En die juffrou word ondersteun deur, soos sy, die belang van lees te beklemtoon. Die voorlesers se toewyding en gereelde besoeke dra ook ’n belangrike subliminale boodskap: “As grootmense hulle hiermee besig hou, dan moet dit – en óns – belangrik wees.”

Die voorlesery gaan hand aan hand met VVA se geslaagde Boektrommelprojek wat sedert 2006 die geweldige tekort aan lekker leesboeke in minder gegoede skole probeer aanspreek. Skole wat nie oor ’n biblioteek beskik nie kry ’n helderblou staaltrommel vol goeie, splinternuwe boeke waarvan kinders hou – uitgekies deur die span leeskenners by Biblionef in Pinelands, en betaal deur VVA se welwillende donateurs, soos die Dagbreek Trust, Het Jan Marais Nationale Fonds en privaat individue.

Die trommel word gesluit om te wys die inhoud is kosbaar, en moet opgepas word. Jonger kinders word gewys hoe om met boeke te werk, dit mooi te behandel en getrou terug te besorg. Om dié beginsels oor te dra, het Amanda haar eie handpop, Louwtjie die Leeshonger Leeuwtjie en ’n gelyknamige boekie geskep, want, sê sy, dis aangeleerde gedrag om boeke uit te neem. Dis vir party kinders so lekker om ’n mooi boek te hê dat hulle dit wil hou, omdat niemand hulle nog anders geleer het nie.

“Jy kan begryp dat ’n ma wat swaarkry eerder vir haar kind ’n brood sal koop as ’n boek,” beaam Dr Alta Coertzen, oud-onderwyseres en mede-voorleser in areas so ver as Kylemore en Klapmuts. “Ons lees elke week by ’n ander skool, en vat ons eie boeke saam. Ek begin deur my stem doelbewus te laat sak, ’n paar vragies te vra en dan stilswyend en dramaties in my sak boeke te grawe terwyl die kinders my stip dophou.” Soms word die storie vry vertel, of sing hulle ’n liedjie, maar die voorlesing uit die boek bly baie belangrik, want dan kom die mooi taal oor.

Alta verkies die ou staatmakers – die geïllustreerde sprokies van Grimm en Andersen – want al is hulle nogal ingewikkeld, glo sy die visier moet hoog gestel word, sodat die kind kan groei. Gedigte werk ook baie goed, want dit leer hulle die ritme van die taal aan. Antjie Krog se Fynbos feetjies en Riana Scheepers se gediggies is veral gewild en natuurlik die versies van Opperman, Grobbelaar en de Vos. “Ja, hulle luister na elke woord en is gefassineer! Die fantasie op daardie leeftyd is ongelooflik!” vertel sy.

Die projek het weldoeners se verbeelding in so ’n mate aangegryp dat Vriende vanjaar heelwat meer boeke kon skenk, ook met geld wat deur Ubuntu Stichting Nederland bewillig is. In November is nege swaar gelaaide blou boektrommels uitgedeel by plattelandse skooltjies met aandoenlike name soos Sonnestraal Kleuterskool (Worcester), Ligstraaltjie Creche (Slanghoek, Rawsonville), De Kleine Gansies (Gansbaai) en Heideland in Kleinmond. Dit bring die getal boektrommels uitgedeel sedert Oktober 2012 op 25 (ongeveer 1 500 nuwe boeke) te staan.

Nou wil Vriende die projek nasionaal uitrol: in die volgende twee jaar beoog hulle om boektrommels aan nog 25 kleuterskole landswyd uit te deel, want “kleuterskole in soveel dorpe as moontlik moet goeie leesboeke hê”. Dis wel ’n duur storie, want ’n trommel met ongeveer 50-70 nuwe boeke (gepak deur Biblionef) kos sowat R7 000. Maar dan bevat dit gewilde, relevante leesstof vir vandag se kind, en splinternuwe boeke – want die vars reuk en blink voorkoms motiveer kinders om die boek beter op te pas, sê Biblionef.

 

Misdaadskrywer Deon Meyer en die Rietbron-leesrewolusie

Die VVA ontvang egter graag gehalte tweedehandse boeke van weldoeners omdat ’n goeie boek ’n lang rakleeftyd het en intrinsieke waarde behou. Onlangs het die VVA se skenking van goeie geleesde boeke ’n behoorlike leesrewolusie veroorsaak in Rietbron, ’n klein Karoo-dorpie 100km noord van Prins Albert. Dit was kort nadat die bibliotekaresse daar, boervrou Liesbet Matthee, besluit het om haar bib ’n goeie oormaak te gee. Ou, stowwerige, verouderde boeke van 1950-1990 is verwyder en vervang met hedendaagses, want ’n boek moet ook kan verlei. “Ons in die platteland wil ook meer bekende skrywers se boeke lees, soos Deon Meyer en Irma Joubert s’n,” sê Liesbet.

Omdat die Oos-Kaapse Departement van Kuns en Kultuur net Engelse boeke verskaf, en Rietbron ’n uitsluitlik Afrikaanse gemeenskap is, het Liesbet die VVA genader, wat sewe sakke gewilde Afrikaanse leesboeke by ’n leesklub in Stellenbosch gekollekteer het, onder meer ’n paar boeke van die gewilde misdaadskrywer Deon Meyer.

“Die boodskap het gevlieg – die dorp het die boeke kom verslind!” vertel Liesbet trots. Sy het rede om trots te wees: Danksy dié treffers en die talle goeie boeke wat die Baviaanskloof Munisipaliteit vir hulle aangekoop het, het haar “nuwe-voorkoms”-biblioteek se boeksirkulasiesyfer van gemiddeld 60 per maand opgeskuif na ’n rekordgetal van 1 600 in Oktober – ’n teken dat sy die regte keuses maak.

Liesbet het ook op eie inisiatief ’n mobiele biblioteek vir twee plaasskole begin wat sy self maandeliks hanteer. Skaars het die leesgier vlam gevat onder die leerders – wat self die biblioteekreëls bepaal – of hul ouers en ander plaaswerkers het kom vra of hulle ook lekker leesboeke mag uitneem. Baie van die werkers was net tot St 4 (Graad 6) op skool, maar geniet die liefdes- en avontuurverhale wat Liesbet spesiaal vir hulle uitsoek en saambring. By Willowdale Primêr met sy 40 plaaswerkerkinders plus hul lesende ouers was die Oktober-sirkulasiesyfer ’n goeie 120. Hier het Vriende se tweede skenking van vier bokse geleesde fiksieboeke ook ’n groot verskil gemaak.

“Dit was ’n baie positiewe ervaring. Ek wens net ek het meer boeke en tydskrifte gehad,” sug Liesbet op ’n dorp wat so afgeleë is dat daar nie een tydskrif of selfs ’n koerant te koop is nie. Sy en Charon Laksman, haar assistant, het die vyf kamers van die bib só ingerig dat die skoolkinders daar kan kom huiswerk doen, opvoedkundige DVDs kyk (waaroor hulle mal is) en rekenaars gebruik. “Ons bib wemel elke dag van laerskoolkinders, want dis ’n veilige, rustige plek. Selfs in skooltyd kom hulle navorsing doen op die rekenaars. Ons bied onder meer lees- en inkleurklasse en rekenaaropleiding aan en Donderdae speel hulle skaak. Die kinders is ook mal oor tydskrifte wat ek agter die toonbank bêre, en kom vra gereeld, “Tannie, kan ons asseblief deur die prenteboeke blaai?”

Die hoogtepunt van haar week is egter Liesbet se voorleeswerk vir die bejaardes op die dorp, meestal afgetrede arbeiders en ou skaapskeerders waarvan baie nie kan lees nie. Tans lees sy Don Horn se Skeerhuis-stories vir “so tussen 30 en 60 oumensies” in die gemeenskapsaal. Dis staaltjies waarmee hulle hulle kan vereenselwig en as hulle dan lostrek met kommentaar in kleurryke, diep-Karoo Afrikaans kan Liesbet haar verluister.

 

Die biblioteek as veilige hawe

“Ons kry dit baie,” sê Amanda uit Stellenbosch, “dat die kinders middae biblioteek toe gaan, want dis veiliger as by die huis, veral as albei ouers werk.” In Petunia Primêr in Kraaifontein, ’n voorstad van Kaapstad waar daar leerders is wat nog nooit eens die see gesien het nie, doen die hoof en ’n groep vrywilligers moeite om die biblioteek vir hulle lekker in te rig. In Macassar naby die Strand het die bibliotekaresse dieselfde behoefte raakgesien en tafels en rekenaars beskikbaar gestel sodat die kinders daar kan huiswerk doen en lees. So bou jy ’n positiewe assosiasie met ’n biblioteek as ’n plek waar jy met respek behandel word en waardig is om ’n boek uit te neem.

 

Trommels tot in Soweto

Victor is die voorsitter van die VVA se Lewende Taal-tak en het ’n besondere passie vir Afrikaans. Hy gee al byna 20 jaar lank Afrikaanse lesse in Soweto, waar bitter min skole nog Afrikaans aanbied. Dit doen hy elke middag, van Maandag tot Donderdag, in ’n klaskamer van die Kwa-Mahlobo Sekondêre Skool, waar Afrikaans nie eens ’n skoolvak is nie. Hy bied Afrikaans aan as buitemuurse aktiwiteit, sê hy, en heel dikwels woon die ouers ook sy lesse by, want daar’s baie wat hul Afrikaans wil verbeter, en ander wat graag hul kinders met skoolwerk wil help.

Die ouers wil hul kinders ekonomies voorberei, veral vir werk in tweetalige maatskappye in die private sektor, verduidelik Victor, en Afrikaanse lesse kan ook die kinders se kanse verbeter om in te kom by die goeie Afrikaanse hoërskole naby Soweto. Vir hom gaan dit daaroor dat leerders nie werksgeleenthede moet misloop net omdat hulle nie Afrikaans het nie. 

 “Jy moet nooit die taal met die politiek koppel nie,” vertel Victor vir die swart jongmense wat hom daaroor uitvra. “Afrikaans is een van die inheemse tale, en as jy dit kan praat, kan jy makliker werk kry. Ons gaan van nou af net vorentoe – so motiveer ek hulle as ouer en onderwyser.”

Sy Afrikaanse bedrywighede hou hom heelweek besig, ook soms op Saterdae, wanneer hy remediërende klasse aanbied vir dié wat persoonlike aandag nodig het. En op weeksoggende besoek hy groepies pensioenarisse wat hou van geselsies maak in Afrikaans en selfs Afrikaanse liedjies sing.

Van waar die liefde vir die taal? Sy Zulu-sprekende pa was ’n tolk in die hof en vlot in heelwat tale maar baie lief vir Afrikaans, onthou hy. En op hoërskool in Soweto in die stormagtige 1980’s was dit Victor se Tswana-sprekende Afrikaanse onderwyser, mnr. Samuel Nakedi (tans by SAUK Sport) wat “daardie gees van Afrikaans en die liefde vir die taal aan ons oorgedra het. Dis as gevolg van sy passie dat ek vandag Afrikaans onderrig”.

Weens Victor (47) se werk in Meadowlands (Noordwes-Soweto) en die volgehoue Afrikaanse lesse van twee ander vrywilligers, Suzie Matlhola (51) en Abraham Telela (70) in Doringkop-uitbreiding 1, het die ATKV vanjaar vir hulle ’n spesiale kursus by die Universiteit van Johannesburg geskep – in die onderrig van Afrikaans. Elke Vrydagmiddag woon die drie klasse by by Prof. Marné Pienaar waarvoor hulle aan die einde ’n sertifikaat sal verwerf.  

Buiten welkome boekskenkings van Biblionef en die VVA het ’n klomp Kapenaars wat te hore gekom het van Vriende se werk in Soweto onlangs ’n besending van gewilde kinder- en kleuterboeke gestuur ter ondersteuning van veral Suzie se voorleeswerk vir die kleiner kinders – in ’n skeepshouer-klaskamer op Saterdae. “Ons kinders hulle kom selfs op Sondae,” vertel Suzie, “maar dan kom hulle om te dans!” Ná kerk tussen 3 en 5nm kom hulle bymekaar om te luister na Wielie en die Wenspan, ’n CD met kerkliedjies, en later kap hulle dit uit op die maat van Tuisgebak in Afrikaans, ’n CD met gewilde liedjies van Afrikaanse kunstenaars soos Kurt Darren en Nicholis Louw. Die kinders se gunsteling dansnommer? Pieter Koen se ‘Dis ’n Fees Fees Fees!’ - hierdie is ATKV-werk. Los tot 2014.

Die ATKV en Vriende werk saam in Soweto en het in Maart 2014 hul Meertaligheidsprojek daar uitrol. Tot dusver bevorder Vriende meertaligheid op praktiese wyse: hulle skryf en help skep byvoorbeeld Afrikaanse, Xhosa- en Sotho-moedertaalpamflette, en is ’n stigters- en bestuurslid van die XhosAfrika-netwerk, waar hulle werk vir die uitbou van Xhosa aan die hand van die voorbeeld van Afrikaans. Dit doen hulle ook deur boektrommels vol lekkerlees Xhosa-boeke te skenk aan skole waar daar ’n minderheid Xhosa-leerders is. “Dis dan ’n Xhosa-boek uitgedeel deur ’n Afrikaanse persoon – ’n gebaar wat sê: Ek weet jy praat Xhosa, hier’s vir jou ’n boek in jou taal,” sê Amanda, en voeg by: “Dit gaan oor respek vir mekaar se tale, want met respek kan jy ver kom.”

NASKRIF:

  • Die Ubuntu Stichting, ’n Nederlandse organisasie wat jaarliks belangstellendes op kultuurbesoeke na SA bring, het gehoor van die trommelprojek en is so beïndruk daardeur dat hulle vir ’n tweede keer geld vir ’n trommel geskenk het.
  • Aan die Universiteit van Groningen is ’n M-student besig met navorsing oor hoe hierdie projek meer effektief onder Nederlanders bemark kan word.

Die artikel het verskyn in die Maandblad Zuid-Afrika (Uitgave van de Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging te Amsterdam).
5 Desember 2013

 

Simposium van die Afrikaanse Taalraad (ATR), 23 Oktober 2013, Paarl

Die kokerboom is as simbool vir die ATR se logo gekies omdat dit so ’n toonbeeld van oorlewing is. Dit is ’n vaalgroen plant, met verrassende heldergeel blomme, wat in ’n dorre landstreek floreer, al is daar min hoop op oorlewing. Die boom benut die water deur dit in sy stam op te gaar. Pyl-en-boog-jagters het graag die sagte vogtige binnekant van stamme en takke van die boom uitgehol om as kokers vir hulle pyle te gebruik.

Michael le Cordeur is voorsitter van die Afrikaanse Taalraad en was een van die sprekers by die simposium wat die ATR op Vrydag 18 Oktober by die Taalmuseum in die Paarl aangebied het.

 

 

'n Uittreksel: ...... Die ATR is na afloop van 'n lang konsultatiewe proses op 24 Mei 2008 in Wellington gestig. Dit was 'n historiese dag vir Afrikaans, omdat dit die waarmaak van 'n gesamentlike strewe verteenwoordig het: die totstand­koming van 'n liggaam wat ten doel het om koördinerend, netwerk­skeppend, inklusief, bemagtigend en versoenend op te tree in die belang van die totale Afrikaanse taalgemeenskap. Lees meer .....kliek hier


 

Nuus van die Afrikaanse Taalraad

Hier kan u artikels, media-verklarings, nuusbriewe, referate, verslae, nuusberigte, ens. oor Afrikaans lees - kliek hier.


ANC onverdraagsaam en kortsigtig oor taal

Verklaring van Die Suid-Afrikaanse Akademie op 01-03-2012

Onverdraagsaam en kortsigtig – dit is hoe die ANC-fraksie se houding in die portefeuljekomitee oor die talewetsontwerp beskryf kan word, aldus die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die portefeuljekomitee het gister met meerderheid van stemme, gedryf deur die ANC-fraksie, besluit om ‘n taalklousule wat bepaal dat nasionale entiteite, soos provinsies en departemente, in drie tale moet diens lewer, te handhaaf. Die negatiewe aspek van die bepaling is dat twee van die drie tale sogenaamde voorheen gemarginaliseerde of benadeelde tale moet wees. Die ANC-fraksie besef maar al te goed dat hulle daarmee Afrikaans ernstig kan benadeel. Die konsekwensies van die taalklousule is dat provinsies, munisipaliteite en nasionale departemente noodwendig Engels as hooftaal sal kies en Afrikaans, wat nie as ‘n benadeelde of gemarginaliseerde taal beskou word nie, buite rekening laat. Die demografie van Pretoria met ‘n sterk aanwesigheid van Afrikaanssprekendes asook in gebiede van die Noord-Kaap en die Wes-Kaap hoef so glad nie in ag geneem te word nie.

Pleidooie van opposisiepartye en groeperings uit die Afrikaanse kultuurhuishouding dat vier tale in ag geneem word sodat Afrikaans darem ‘n redelike kans het in gebiede waar die taal sterk staan, het op dowe ore geval. Die ANC-fraksie se houding dui allesbehalwe op versoening. ‘n Toegewing ten opsigte van vier tale sou juis die gemoedere gekalmeer het en uiteindelik bygedra het tot versoening rondom een van die grootste twisappels in die land, het die hoof uitvoerende beampte van die SA Akademie, prof. Jacques van der Elst, gesê. Afrikaanse organisasies is ‘n ruk gelede by die eerste sitting van die portefeuljekomitee se openbare besprekings oor die wet met groot welwillendheid ontvang met die versekering dat “Afrikaans niks te vrese het nie”. Gister se besluit kom eintlik as ‘n skok en ‘n beroep word op die Staatspresident gedoen om tussenbeide te tree. Indiwidue – in hierdie geval Afrikaans­sprekendes – se grondwetlike regte word eintlik aangetas. ‘n Gesprek op kort termyn met die ANC is reeds deur die Akademie in samewerking met die Afrikaanse Taalraad aangevra.

Die ANC-fraksie is in werklikheid kortsigtig in die opsig dat hulle vaskyk teen die vermeende politieke bagasie van Afrikaans, maar geen begrip toon vir die feit dat meer mense van ander kulture, anders as blankes, Afrikaans praat. Die ekonomiese waarde van Afrikaans ook as wetenskapstaal word eweneens onderskat en geminag.

Die vraag kan ook gestel word wat dan presies ‘n gemarginaliseerde of benadeelde taal is. Wat het daardie tale se sprekers die afgelope 18 tot 20 jaar self gedoen aan die opheffing van hulle taal? Sal die uitreiking van ‘n amptelike verklaring of selfs ‘n kragrekening in daardie taal werklik bydra tot die opheffing van daardie taal? Die drastiese agteruitgang van akademiese Departemente Afrikatale by universiteite en die afname van studentegetalle getuig nie van eie taaltrots nie. Dit is ‘n simptoom van die feit dat baie sprekers van die sogenaamde gemarginaliseerde tale hulle eie taal en kultuur ten gunste van Engels versaak. Die ANC-fraksie se meerderheidsbesluit is ‘n opportunistiese leë gebaar teenoor die gemarginaliseerde tale, maar ‘n geniepsige en byna wraaksugtige poging om Afrikaans ‘n uitklophou toe te dien. Koelkoppe is in hierdie spannende situasie nodig. Redelike gesprekvoering moet steeds nie uitgesluit word nie, het prof. Van der Elst gesê.

Prof. J van der Elst
Hoof Uitvoerende Beampte
jvde@akademie.co.za / akademie@akademie.co.za
Tel. 012-328-5082; 082-880-7636

MEDIAVERKLARING, 1 MAART 2011

Aksie van die burgerlike samelewing met verteenwoordigers van die NTLA (Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans) en ondersteun deur PanSAT. Die sekretariaat van die ATR word behartig deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Afrikaans as besmette taal: Jeugberaad by US

Die etikettering van Afrikaans as verdrukkerstaal is die onderwerp van ’n diskussie wat deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) by die Woordfees op Stellenbosch aangebied word. Dit vorm deel van Jeugberaad waarheen jongmense oor ’n breë spektrum genooi word. Die doel van die beraad is om ’n klimaat te skep waarbinne Afrikaans van sy negatiewe konnotasie bevry word sodat Jeugdag vorentoe vry en onbevange en inklusief gevier kan word.

Die beraad, onder leiding van dr. Michael le Cordeur, ondervoorsitter van die ATR en voorsitter van die BEd-Programkomitee van die US se Departement Kurrikulumstudie (Afrikaans), sal aan jongmense ’n geleentheid bied tot kritiese en ingeligte besinning oor die gebeure rondom Soweto-dag, 35 jaar gelede.

Sprekers op dag 1 sluit in prof. Albert Grundlingh, voorsitter van die US se Geskiedenis-departement, wat ’n historiese oorsig sal bied, en drs. Hendrik Theys, dosent in Afrikaans en Opvoedkunde en ATR-bestuurslid. Verteenwoordigers van KSUT (Bellville), Northlink Kollege (Bellville) NWU-PUK, UP, US, UV en UWK is genooi om deel te neem aan ’n paneelbespreking deur studenteleiers. Dr. Llewellyn MacMaster, studentedekaan van die Universiteit van Stellenbosch, sal hier die leiding neem. Op dag twee sal daar ’n aanbieding wees van poësie en liedjies uit 1976 deur studente van KSUT (Mowbray-kampus). Daarna sal bekendes uit die sewentigjare, die toenmalige politieke aktivis Cecyl Esau, tans verbonde aan die Institute for Justice and Reconciliation, en ds. Zack Mokgoebo, bekende VGK-kerkleier en predikant van Orlando, Soweto en destyds lid van die Belydende Kring, hul persoonlike ervaring van die Soweto-gebeure met die gehoor deel. Daar sal ruim geleentheid wees vir deelname aan die interaktiewe besprekings, ook in kleiner groepe.

Die beraad het ten doel om spesifiek aan die jeug ’n stem gee. Deelname aan die besprekings word sover as moontlik en by voorkeur beperk tot persone nie ouer as 35 nie, hoewel die verrigtinge vir almal toeganklik is.

Ten einde te verseker dat almal se stemme gehoor kan word, word daar voorsiening gemaak vir ’n tolkdiens.

Bywoning is gratis. Daar is egter ’n beperkte aantal sitplekke. Bespreek dus vandag nog u plek deur Ria Olivier, Suidelike verteenwoordiger, te skakel by 084-221-9153 of stuur e-pos (ria.olivier@mweb.co.za) of faks (086-216-7410). Besoek www.afrikaansetaalraad.co.za vir verdere inligting.

Die datum van die beraad is Vrydagmiddag 11 en Saterdagoggend 12 Maart.

Plek: Attie van Wyk Ouditorium, Teologiese Fakulteit, Universiteit van Stellenbosch.

Prof. Jacques van der Elst
Hoof Uitvoerende Beampte
Tel. 012-328-5082; 082-880-7636
E-pos: jvde@akademie.co.za
 

MEDIAVERKLARING: SASNEV KONDIG FEES MET DIE LAE LANDE AAN

4 Oktober 2010 - ʼn Driedaagse feesviering waarin bande tussen Suid-Afrika en Nederland en Vlaandere versterk gaan word, word in Oktober in Kaapstad gehou.

Die vernieude Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV, voorheen Huis der Nederlanden) het aangekondig dat die fees van 21 tot 23 Oktober gehou gaan word. Suid-Afrikaners sal hierdeur blootstelling aan Nederland en Vlaandere se kultuur, ekonomie, opvoedkunde en etos van maatskaplike verantwoordelikheid verkry. Die sentrum huisves die grootste versameling Nederlandse boeke in die Suidelike Halfrond.

Op Donderdag 21 Oktober word ʼn kollokwium met die tema “Raakvlakke tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika” by die sentrum in Pinelands aangebied. Die klem val op hegter betrekkinge tussen Suid-Afrika en die Nederlandssprekende wêreld en die moontlikhede van saamwerk tot wedersydse voordeel. Die onderskeie ambassadeurs van België en Nederland sal oor hierdie onderwerp praat.
Ander bekende woordvoerders wat deelneem, is: Dirk Elzinga, Voormalige Direkteur, Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS); Wanda Smith, Uitgewer Pharos; Brett Pyper, Uitvoerende Hoof, Klein Karoo Nasionale Kunstefees; en Mike Erskine, Programbestuurder SEEDS, Universiteit van Stellenbosch.

Die akroniem SEEDS staan vir Systemic Education and Extramural Development and Support. Dit is ’n samewerkingsinsiatief wat deur Nederland befonds word en wat in die loop van die volgende vier jaar ’n invloed sal uitoefen op die onderrig en aanleer van wiskunde en wetenskap in die Wes-Kaap. Die program sal hom ook bemoei met opvoeding oor MIV/VIGS, multigraad-onderrig in landelike skole en buitemuurse onderrig. Die fondse sal deur die Universiteit van Stellenbosch behartig word. Die inisiatief word deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement ondersteun.

Vooraf besprekings vir die kollokwium is noodsaaklik. Kontak Natasja Schellaars-Le Roux by info@sasnev.co.za of (021) 531-5831.
 

MEDIAVERKLARING: SKRYWER ENA MURRAY RIG UITDAGING AAN ALLE AFRIKAANSE LETTERKUNDIGES EN NAVORSERS

Pretoria, 24 Augustus 2010: Die bekende Afrikaanse skrywer van meer as 130 romans, speur-, avontuur- en geestelike boeke, Ena Murray, het onlangs ’n direkte uitdaging aan alle ander skrywers en ander letterkundige belanghebbendes gerig om, soos sy, ’n finansiële bydrae ter ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein te doen. Sy het summier die woord by die daad gevoeg en ’n bedrag van R10 000,00 in die rekening van die Erfenisstigting, vir aanwending te NALN, inbetaal.

NALN gaan die afgelope aantal jare agv verskeie faktore deur baie diep waters. Dit het ’n baie negatiewe effek op die eens trotse instelling gehad, soveel só dat dit nodig was om vroeër vanjaar ’n reddingsplan onder leiding van die Erfenisstigting te NALN te loods. Daar word voorts met die betrokke owerhede onderhandel om NALN onder provinsiale beheer uit te neem en dit op nasionale vlak te plaas en te befonds.

Die Erfenisstigting was die outeurs van die reddingsplan en het ’n bedrag van R3 miljoen vir die implementering daarvan vanuit die privaatsektor ingesamel. Daarbenewens is die Erfenisstigting deur die Vrystaatse owerhede as diensverskaffer aangestel, om ook die implementering van die reddingsplan te hanteer.

Daar is reeds ver gevorder wat dit betref en die situasie te NALN het sedert begin Mei 2010 amper onherkenbaar verbeter. ’n Groot skoonmaak- en uitsorteringsaksie is geloods, daar is ontslae geraak van oortollige en ondiensbare meubels en –toerusting, ultravioletbeskerming is voor alle eksterne vensters aangebring, NALN se hele IT-opset is vernuwe en opgegradeer en daar is reeds heelwat nuwe staalrakke geïnstalleer, terwyl nog meer daarvan op bestelling is.

Daar sal ook binnekort oorgegaan word tot die aanstelling van ‘n aantal deeltydse vakkundiges om te help met die uitpak, aanwins en ontsluiting van talle bronne, waarvan baie die afgelope paar jaar in kartondose geberg moes word terwyl die NALN-gebou gerestoureer is.

Daar sal ook binnekort oorgegaan word tot die heraktivering van die Vriende van NALN, wat nou reeds vir ’n hele aantal jare onaktief geword het. Ena Murray se mildelike bydrae is reeds met die oog hierop gedoen, omdat sy baie sterk voel oor die beginsel dat almal wie se werke reeds of moontlik vorentoe baat kan vind by die opgegradeerde fasiliteite van NALN, ook daadwerklik daarby betrokke moet raak. Dit sluit natuulik ook navorsers is, wat voortaan die voordeel sal hê van baie makliker en vinniger toegang en beter diens.

NALN is ’n omvattende Afrikaanse letterkundige museum en navorsing-sentrum. Dit maak derhalwe nie net voorsiening vir prosa en poësie nie, maar ook vir musiek en drama en ander verwante kunsvorme regoor die hele letterkundige spektrum. Ena het egter nog verder gegaan en ook die uitgewers en drukkers van sulke werke uitgedaag om by haar aan te sluit en hul hand in die sak te steek.

Weldoeners kan skenkings in die rekening van die Erfenisstigting, vir aanwending te NALN, inbetaal by ABSA Brooklyn, takkode 632005, rekeningnommer 4056 209 535. Geliewe ’n afskrif van die inbetalingsbewys, met aanduiding dat dit vir NALN is, te faks aan 086 615 9587.

Navrae kan aan enige van die onderstaande nommers of adresse gerig word.

UITGEREIK DEUR: GENL-MAJ (AFT) GERT OPPERMAN

HOOF UITVOERENDE BEAMPTE

DIE VOORTREKKERMONUMENT EN DIE ERFENISSTIGTING

TEL: 012 326 6770

FAKS: 012 326 8374

E-POS: hub@voortrekkermon.org.za

MEDIAVERKLARING VAN DIE AFRIKAANSE TAALRAAD

NASIONALE ONDERWYSKONFERENSIE - AFRIKAANS + ONDERWYS = UITNEMENDHEID
12 Augustus 2010

Ons ondersteun moedertaalonderrig.

MINISTERS BY AFRIKAANSE ONDERWYSBERAAD

Knelpunte in die onderwys, veral met betrekking tot Afrikaans, word bespreek by ’n nasionale konferensie wat die Afrikaanse Taalraad in Kaapstad belê het. Twee nasionale ministers, onderskeidelik dr. Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, en me. Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys, is genooide sprekers. Die konferensie by die Kunstekaap-teater sluit aan by die gewilde skolefees van die Kunstekaap en word van 26 - 28 Augustus gehou. Benewens die Kunstekaap is Die Burger ook een van die vennote in die konferensie wat ten doel het om kreatiewe oplossings te vind vir knelpunte wat uitnemende onderwys strem.

Die konferensie word gehou in die lig van die die Afrikaanse Taalraad (ATR) se beskouing dat die handhawing en erkenning van moedertaalonderrig op preprimêre, primêre, sekondêre en tersiêre onderwysvlak ononderhandelbaar is. Daarom dring die ATR aan op die daarstelling van billike maatreëls vir die behoud en vestiging van moedertaalmedium-onderrig en moedertaalskole.

Van die voorste akademici en onderwyskundiges in die land sal aan interaktiewe besprekings deelneem. Die geleentheidspreker is prof. Neville Alexander, internasionaal bekende taalsosioloog. Alexander sal die uitdagings vir moedertaalonderrig binne ’n veeltalige konteks bekyk, met ’n spesifieke fokus op Afrikaans. Twee rektore van universiteite, prof. Russel Botman en dr. Theuns Eloff, onderskeidelik van die Universiteit van Stellenbosch en die Noordwes-Universiteit, is genooide sprekers, asook mnr. Donald Grant, Minister van Onderwys in die Wes-Kaap.

Die amptelike opening van die konferensie vind op Donderdag 26 Augustus om 19:00 in die Teater se ontvangslokaal plaas. Die sprekers by hierdie geleentheid is prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, me. Marlene le Roux, Kunstekaap se uitvoerende hoof van Gehoorontwikkeling en -opvoeding, en mnr. Bun Booyens, redakteur van Die Burger. Bywoning van die amptelike opening is gratis.

Van die kwessies wat op die daaropvolgende twee dae indringend bespreek sal word, is die posisie van Afrikaansmedium-onderrig op skoolvlak, Afrikaans as tersiêre onderrigtaal, die media en Afrikaanse onderwys, onderwysvakbonde en die toekoms van Afrikaans in die onderwys, die jeug en die toekoms van Afrikaans in die onderwys, asook beskerming, bevordering en bemagtiging deur kultuurliggame.

Registrasiegeld is R50,00 per dag.

Konferensiegangers kan ook uitsien na die Galavertoning van die gewilde Skolekunstefees op Vrydag 27 Augustus vanaf 19:00 tot 21:00. Dit beloof om, soos gewoonlik, vermaak uit die boonste rakke te bied. Kaartjies, teen R40,00 stuk, is by Computicket beskikbaar.

As deel van sy fokus op onderwys hierdie maand, word daar ook nog twee verdere inisiatiewe aangebied. Op Woensdag 25 Augustus, vanaf 08:30 tot 14:00, word die Vrye Afrikaanse Universiteit-inisiatief ’n stappie verder geneem met ’n vergadering van belanghebbendes wat by die Huis der Nederlanden (SASNEV) in Pinelands, Kaapstad sal plaasvind. Die sprekers sluit prof. Neville Alexander, prof. Kwesi Kwaa Prah, dr. Sias Mostert, dr. Dirk Brand en dr. Maarten Venter in. Akademici, kundiges en filantrope word genooi om die byeenkoms by te woon. Skakel die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) by 021-446-1378 of e-pos Merle van Diemel by Merle.vanDiemel@media24.com indien u dit wil bywoon. Die registrasiegeld is R50,00 per persoon (sluit verversings in) en is betaalbaar by registrasie.

Voorts bied die ATR op Saterdag 21 Augustus vanaf 09:00 - 11:00 ook nog vier onderwyserwerkswinkels aan: Die gebruik van tegnologie in die klaskamer (Onderwys-areakantoor Kuilsrivier); Die nuutste leesonderrigmetodes (Hoërskool Stellenbosch); Klaskamerdissipline (Onderwysareakantoor Parow); en Beurse vir Afrikaanse leerders vir tersiêre studie (Universiteit van Stellenbosch). Die aanbieders is Johann van Tonder (Media24), Ria Olivier (ATR), Adinda Vermaak en Neville Goliath (albei van die Wes-Kaap Onderwysdepartement), Christo van der Rheede (SBA), dr. Danie Langner (Rapport Onderwysbeurs) en mev. Dinah Theron (Solidariteit Helpende Hand).

Bywoning van die werkswinkels is gratis. Die getal deelnemers is egter beperk.

Vir meer inligting oor die Onderwyskonferensie, of die onderwyserwerkswinkels, skakel Ria Olivier (ria.olivier@mweb.co.za; tel. 021-446-1043; faks 021-446-1012), of besoek die ATR se webwerf by www.afrikaansetaalraad.o.za.

Prof. Jacques van der Elst & Prof.Wannie Carstens
E-pos: jvde@akademie.co.za E-pos: wannie.carstens@nwu.ac.za
 

MEDIAVERKLARING AFRIKAANSE TAALRAAD: 24 Mei 2008

Ingestuur deur prof Wannie Carstens, SA

ʼn Historiese oomblik vir Afrikaans het vandag waar geword met die stigting van die Afrikaanse Taalraad (ATR) op Wellington in die historiese Goodnowsaal. Na ʼn lang proses wat op 13 September 2003 begin het, het die breë Afrikaanse taalgemeenskap die voorgestelde Grondwet eenparig aanvaar. Die stigting is met groot toejuiging begroet! Die byeenkoms is deur meer as 40 organisasies bygewoon – die grotes, die kleineres, van die Noorde tot die Suide. Die organisasies is verteenwoordig deur ongeveer 100 beraadgangers wat meer as 500 000 mense verteenwoordig.

Hierdie liggaam het ten doel om ʼn koördinerende, netwerkskeppende en inklusiewe liggaam vir Afrikaans te wees. Die ATR beplan nie om die werk van ander organisasies oor te neem nie, maar om deur hierdie rol, die krag en doelstellings van alle lede-organisasies los te maak en te benut.

Die ATR is verbind tot inklusiwiteit ten opsigte van alle dele van die Afrikaanse taalgemeenskap en gaan van die standpunt uit dat Afrikaans die eiendom is van almal wat dit praat.

Die ATR onderskryf veeltaligheid en stel onder meer as doel om ook ander tale te bevorder. Die ATR is bereid om saam te werk met die sprekers van enige ander taal wat dieselfde doelwitte nastreef.

Die eerste Bestuur van die ATR is dan ook vandag verkies en bestaan uit:

Prof. Wannie Carstens (NWU en lid van die NTLA) as voorsitter;
Dr. Michael le Cordeur (WKOD, Voorsitter Wes-Kaapse Taalkomitee) as ondervoorsitter;
Prof. Jacques van der Elst (SA Akademie) wat die Sekretariaat gaan behartig;
Dr. Danny Titus (Uitvoerende Hoof: ATKV) as Fondsbestuurder;
Mej. Alana Bailey (AfriForum);
Prof. Francois Bredenkamp (FAK);
Dr. Gerrit Brand (i-MAG);
Dr. Louise Combrink (Vriende van Afrikaans, Erfenisstigting);
Mnr. Hennie de Wet (Solidariteit en Erfenisstigting);
Me Ria Olivier (NTLA);
Dr. Karel Prinsloo (outeur van die taaloudit; Gryskrag);
Hendrick Theys (Trustee, SBA);
Dr. Piérre Theron (Afrikanerbond);
Mnr. Christo van der Rheede (SBA).

Die nuwe Bestuur het hulle daartoe verbind om so gou moontlik subkomitees te stig met die oog op bepaalde fokusareas, byvoorbeeld die Afrikaanse jeug; tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans; onderwys in Afrikaans; en bemagtigingsprojekte in Afrikaans.

Die Afrikaanse Taalraad nooi alle Afrikaanssprekendes om die oop gesprek met die ATR voort te sit en aktief aan die verdere diskoers oor Afrikaans deel te neem.

Die vergadering het ook ʼn spesiale oomblik van stilte gehandhaaf om hulle empatie met die slagoffers van die huidige vlaag van xenofobiese geweld in Suid-Afrika te betoon.

Kontakpersoon: Prof. Wannie Carstens by Wannie.Carstens@nwu.ac.za
Kontaknommer tydens verblyf in België (tot 08/07/2008): +32 47 256 3506

 

MEDIA STATEMENT AFRIKAANSE TAALRAAD: AT LAST A LANGUAGE BOARD FOR ALL AFRIKAANS SPEAKERS

24th of May 2008

History was made in the historical Goodnow Hall in Wellington today with the founding of the Afrikaanse Taalraad (ATR – an Afrikaans language board). After a long process which started on 13 September 2003, the broader Afrikaans language community today accepted the proposed Constitution unanimously, thereby establishing the ATR formally. The founding was met with a standing ovation! The meeting was attended by more than 40 organisations – from large ones to small ones, from the North to the South. The organisations were represented by approximately 100 delegates, representing more than 500 000 people.

The aim of this organisation is to be a coordinating, network-generating and inclusive body for Afrikaans. The ATR does not intend taking over the work of other organisations, but proposes to use its role to energise and utilise the clout and aims of all its member organisations to the benefit of Afrikaans.

The ATR is committed to inclusivity regarding all sections of the Afrikaans language community and is of the opinion that Afrikaans is owned by all its speakers.

The ATR endorses multilingualism and aims, inter alia, to promote other languages as well. The ATR is prepared to cooperate with the speakers of any other language with similar aspirations.

The first Board of the ATR has also been elected today and comprises:

Prof. Wannie Carstens (NWU and member of the NTLA) as Chairperson;
Dr. Michael le Cordeur (WKOD, Chairperson Western Cape Language Committee) as Vice-Chairperson;
Prof. Jacques van der Elst (SA Akademie) as Coordinator of the Secretariat;
Dr. Danny Titus (CEO: ATKV) as Coordinator of Funding;
Miss Alana Bailey (AfriForum);
Prof. Francois Bredenkamp (FAK);
Dr. Gerrit Brand (i-MAG);
Dr. Louise Combrink (Vriende van Afrikaans and Erfenisstigting);
Mr. Hennie de Wet (Solidariteit and Erfenisstigting);
Ms Ria Olivier (NTLA);
Dr. Karel Prinsloo (author of language audit; Gryskrag);
Hendrick Theys (Trustee, SBA);
Dr. Piérre Theron (Afrikanerbond);
Mr. Christo van der Rheede (SBA).

The new Board is committed towards establishing sub-committees as soon as possible in order to address specific focus areas, such as the Afrikaans youth; second and third language speakers of Afrikaans; education in Afrikaans; and empowerment projects in Afrikaans.

The ATR invites all Afrikaans speakers to continue the open discussion with it and to participate actively in the continuing conversation about Afrikaans.

The meeting also observed a moment of silence in order to express its empathy with the victims of the current spate of xenophobic violence in South Africa.

Contact: Prof. Wannie Carstens at Wannie.Carstens@nwu.ac.za
Contact number during stay in Belgium (till 08/07/2008): +32 47 256 3506

Die FAK-verklaring oor taal en onderwys, Pretoria, 25 Februarie, 2005

Gedurende die laaste paar jaar het ‘n krisis in Suid-Afrika ontstaan rondom moedertaalonderrig in die algemeen en Afrikaanse moedertaalonderrig in die besonder. Hierdie krisis spruit voort uit onder meer veral twee faktore. Die eerste faktor is die feit dat taalgemeenskappe nie self vir hulle onderwysinstellings verantwoordelikheid neem nie en dikwels verkies om onderwys as ‘n staatsaangeleentheid en nie ook ‘n gemeenskapsaangeleentheid nie te beskou. Die tweede faktor is die Suid-Afrikaanse regering se verwaarlosing van die Grondwet se oproep om moedertaalonderrig, wat lei tot ‘n situasie waar Engels die de facto taal van onderwys word, terwyl meer as 70% van Suid-Afrikaners nie voldoende vaardig in Engels is nie. Dit is ‘n ernstige hindernis onderweg na die demokratisering van Suid-Afrika, omdat dit lei tot die uitsluiting van die meerderheid van ons mense van gehalteonderrig.

Hierdie toedrag van sake het veral met betrekking tot Afrikaans gemanifesteer, aangesien Afrikaans die een inheemse taal is wat op die basis van ‘n gemeenskapsbeweging tussen 1875 en 1925 daarin geslaag het om ‘n volledig ontwikkelde taal van die gesproke en die gedrukte woord te word. Sedert 1994 het Afrikaans ‘n hindernis onderweg na die verengelsing van die openbare lewe in Suid-Afrika geword, en dit het tot groot spanning rondom Afrikaans gelei, waar Afrikaans dan dikwels as ‘n versperring van die toegang tot onderwys blameer word. Wat kan Suid-Afrikaners in die algemeen en sprekers van Afrikaans in die besonder doen om hierdie krisis op te los?

Die eerste stap lê in gemeenskappe se aanvaarding van verantwoordelikheid vir onderwys in hul moedertale. Saam met die groot Keniaanse skrywer en denker, Ngugi wa’Thiongo, verklaar ons dat eers wanneer Afrikane hul lewens in hul moedertale kan lei hulle waarlik die kettings van kolonialisme sal verbreek. Dit is wanneer ons in ons moedertale onderrig word wat ons die deure na ekonomiese en politieke selfstandigheid en selfrespek oopsluit.

Tweedens, as Afrikaans as die een inheemse taal wat die koloniale erfenis suksesvol beveg het as taal van die onderwys tot ‘n val kom, sal ons ander inheemse tale nog slegter daaraan toe wees as wat tans die geval is. Dit is waarom ons ooreengekom het op ‘n spesiale plan van aksie waar alle sprekers van Afrikaans sekere stappe kan neem om die toekoms van Afrikaanse onderrig te verseker. Hierdie plan sal bespreek word met die breë Afrikaanse wêreld, wit, bruin en swart. Hierdie plan word aangevoer vanuit die Afrikaanse burgerlike samelewing, en ons hoop dat ons ons ervaring met ons broers en susters van ander inheemse tale kan deel op die weg na ware vryheid en demokrasie.

Derdens sal ons nie langer die toedrag van sake aanvaar nie waar Afrikaans geblameer word vir die regering se eie mislukking om gehalteonderwys en toegang vir almal te voorsien. Hierdie mislukking spruit veral voort uit die feit dat die regering daarop aandring om ‘n beleid af te dwing waar die meerderheid van ons mense in hulle tweede of derde taal onderrig word, en wat lei tot die enorme vermorsing van skaars hulpbronne. Dit is nie daardie Afrikaanse onderwysinstellings wat stry om die suksesse wat hulle in hul eie anti-koloniale stryd behaal het, te behou, wat vir ‘n gebrek aan toegang tot onderwys vir almal in Suid-Afrika geblameer moet word nie, maar juis die regering se mislukking om ons inheemse tale in die openbare lewe te gebruik en te ontwikkel. ‘n Skreiende voorbeeld hiervan is dat die regering die meerderheid swart kinders dwing om in Afrikaans of Engels te studeer omdat geen studiemateriale na graad drie in ons ander inheemse tale beskikbaar gemaak word nie.

Ons is nie teen Engels nie, maar ons is teen die misbruik van Engels om ons in ons eie land in ‘n koloniale situasie te hou. Engels is ‘n sleutel tot Afrika en die res van die wêreld, maar nie wanneer dit ons inheemse tale doodmaak nie. Dit is juis omdat ons die slagoffers van die misbruik van Engels was, maar ook omdat Afrikaans self tydens apartheid gebruik is om mense te onderdruk, wat ons hierdie gevaar verstaan. Dit is waarom ons vandag ‘n beroep op alle mede-Suid-Afrikaners doen om by ons aan te sluit in die stryd vir inheemse taalbevryding.

Prof DP Goosen Mnr J Rossouw

VOORSITTER NAVORSING EN KOMMUNIKASIE

25 Februarie 2005

MEDIAVERKLARING DEUR DIE NASIONALE TAALLIGGAAM VIR AFRIKAANS (NTLA) op 21 November 2003

'n Nasionale Strategie vir Afrikaans in Wording

Die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA) kondig graag aan dat die eerste boustene tans in plek gesit word vir 'n Nasionale Strategie vir Afrikaans.

Die NTLA is 'n subkomitee van die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), 'n grondwetlike liggaam met die opdrag om al die tale van Suid-Afrika te bevorder. Dit is ter uitvoering van haar besondere opdrag en met die heelhartige steun van PanSAT dat die NTLA 'n Nasionale Strategie vir Afrikaans in die vooruitsig stel. So 'n strategie moet toegeëien en gedryf word deur bestaande organisasies en individue wat hulle vir die bevordering van Afrikaans binne 'n veeltalige opset beywer asook deur almal wat Afrikaans gebruik, sowel eerste- as tweede taalsprekers. Hierin wil die NTLA graag 'n fasiliterings- en netwerkfunksie vervul om te help toesien dat bestaande inisiatiewe en hulpbronne gekoördineer en optimaal aangewend word en dat oorblywende gapings gevul en nuwe uitdagings die hoof gebied word.

'n Aantal stappe in hierdie proses is reeds gedoen:

1. Die NTLA konsulteer tans oor 'n wye front met organisasies in alle provinsies wat met Afrikaans gemoeid is. Hierdie proses sal in die komenda maande voortgesit word.

2. 'n Landwye opname om vas te stel watter organisasies op die gebied van Afrikaans werksaam is, wat hul aktiwiteite behels, wie hul teikengemeenskappe is en watter hulpbronne hulle tot hul beskikking het, is in die beplanningsfase en sal waarskynlik vroeg in 2004 afgehandel wees.

3. 'n Beraad oor 'n Nasionale Strategie vir Afrikaans, waarby alle rolspelers betrek sal word, word vir die nuwe jaar in die vooruitsig gestel.

4. Die NTLA ondersoek tans alle moontlikhede om strukture in plek te kry wat die proses die beste kan dien en om fondse, sowel uit die publieke as uit die privaaksektor, daarvoor te genereer. 'n Nasionale Taalfonds vir Afrikaans waartoe enigiemand wat die saak van Afrikaans steun, kan bydra, is reeds ver gevorder en R 150 000,00 is al vir die fonds bewillig.

Hoewel die inhoud van 'n Nasionale Strategie vir Afrikaans in gesprek tussen Afrikaansgebruikers uitgeklaar moet word, sal die NTLA graag wil sien dat dit oor 'n breë front aangepak word. Daar sal besin en gewerk moet word op gebiede soos Afrikaans in die onderwys, die media, die regspraak, regeringstrukture en die privaatsektor, toevoeging van ekonomiese waarde aan Afrikaans, Afrikaans en regeringsbeleid, die nie-rassige karakter van Afrikaans, Afrikaans as tweede taal en brugtaal onder alle sektore van die Suid-Afrikaanse bevolking, Afrikaans se verhouding tot ander tale en die bevordering van meertaligheid onder Afrikaanssprekendes. Die bedoeling is dat bestaande inisiatiewe op al hierdie en ander terreine mekaar onderling sal aanvul en versterk sodat die saak van Afrikaans ook meer hoorbaar op nasionale forums gestel kan word.

Die NTLA wil graag alle belanghebbendes en soveel moontlik van die beskikbare kundigheid by hierdie proses betrek en dit terselfdertyd so benader dat alle betrokkenes hul eie identiteit, fokus en onafhanklikheid kan behou. Daarom word belangstellendes uitgenooi om met ons kontak te maak, om insette te lewer en om by die Nasionale Strategie vir Afrikaans betrokke te raak. Skakel gerus met dr. Christa van Louw (voorsitter) by tel. 021-808 2983 of met prof. Wannie Carstens (ondervoorsitter) by tel. 018-299 1552.

Kom ons maak van 2004 'n waterskeidingsjaar vir Afrikaans en veeltaligheid in Suid-Afrika!

Uitgereik deur dr. Christa van Louw (voorsitter), prof. Wannie Carstens (ondervoorsitter) en mnr. Andre van der Walt (koördineerder) namens die NTLA

© Catharina Loader 2001