Leesstukke

Leesstukke uit prosawerke

Om u taalvaardigheid te verbeter plaas ek enkele uittreksels uit prosawerke. Terselfdertyd is dit ook ´n bekendstelling aan Afrikaanse literatuur. U kan die boeke by Amazon probeer in die hande kry.

Uittreksel uit: Kringe in die bos - Dalene Matthee

Aangebied tydens eksamens van die Gilde vir Spraak- en Drama-onderwysers

Verwerking deur Rina Loader

Hy hoor die skoot aan die bopunt van die Streepbos en dit voel of die skoot sy eie lyf tref. Amper onmiddellik na die knal dreun dit deur die bos van die uittrompetter van ´n olifant se pyn. Harder en harder en harder totdat die bloed in Saul wil verys en die tweede skoot godsgenadiglik die verskriklike angsbasuin tot stilte ruk.

“God, hulle het Oupoot geskiet!”

Nie ´n voël roep nie – nie ´n tak se kraak nie – niks. Dis asof die bos in bo-aardse stilte sy skok uitgalm. Na ´n ruk begin ´n enkele loerie kok-kok-kok soos een wat tydsaam huil.

Instink laat Saul elke kraak van ´n tak hoor, die rigting van die wind dophou, die stilswye van die loeries opmerk. Sy hande is koud om die kwartponder en dit voel of sy hele lyf vanuit sy ingewande bewe. Hy swaai regs die ruigtes in en verhard hom vir dit wat hy weet daar wag. Honderd tree verder hoor hy stemme wes van hom en loop daarop af. Oomblikke later beur hy die laaste onderbosskeiding weg en voel sy lyf skielik verstyf.

Die olifant lê rugkant na hom toe, ´n entjie laer af teen die skuinste, soos ´n groot grys rots.

“Here, as daar ooit ´n olifant waardig moes sterf, was dit hierdie een. Nie so nie. Nie só verneder nie, maar diep in die boskloof op sy bestemde tyd.”

Hy hoor die stemme anderkant die olifant. Sy hande kramp om die kwartponder, sy voete begin vinnig oor die oopgevlekte varings trap om kopkant om te kom. Hy kyk op. Drie delwers staan saamgebondel, gewere oor die skouers. Hy herken die voorste een: Stopforth.

“Vuilgoed!” skree hy verwoed en lig die kwartponder totdat die loop tussen sy oë en Stopforth se lyf lê.

“Don´t shoot! Don’t shoot!”

“Vuilgoed!”

“Dis my olifant! Die ivoor is myne!”

Saul trek die sneller met sy hele lyf, met elke greintjie haat en woede in hom. Die voëls swerm verward uit die onderbos. Stopforth se lyf is ´n vlugtende sliert.

Die geur van gekneusde boskruie hang in die lug; die wind suis liggies deur die Bos en word weer stil.

Toe Saul na die olifant draai, is hy soos ´n man bevange van pyn.

“Oupoot.”

Met dié dat sy hand uitgaan om hom aan te raak, breek ´n leeftyd se liefde vir die dier uit hom los en weemoed kom oor hom soos ´n donker wolk.

“Hoekom? Hoekom, Here, hoekom?”

Oupoot. Droom-olifant van sy kindertyd. Oupoot. Die mees gevreesde een. Boskoning. En hy, Saul Barnard, raak aan hom. Die onaanraakbare het tasbaar geword. Hy voel die dik, skurwe vel oor die yslike kop span. Saul tas oor die koue, lewelose oog en die stekelrige ooghare prik die sagte binnekant van sy hand. Sy hand bly al langs die lewelose slurp af en vee die grond van die sagte, vlesige punt af. Die onderste tand is halfpad in die bosvloer ingeploeg, die boonste een is ´n geel-wit ivoorboog. Trane stroom oor sy wange.

“Was daar ooit ´n mooier maaksel geskep? Was daar ooit ´n mooier maaksel deur die mens se wil vernietig?”

Die onderbos kraak onder sy voete terwyl hy om en om die lewelose dier loop en die droefheid so groot in hom word dat dit sy besef van tyd en werklikheid verswelg.

 

Gepubliseer: April 2013

 

 © Catharina Loader 2001