Afrikaans Grammatika

Wenke 2000

1. Betaling vs. inbetaling
2. Hulp met terminologie
3. Spelling in Afrikaans
4. Los huidiglik uit
5. Kies een!
6. Presiesheid van uitdrukking
7. Buitestander of buitestaander
8. Probleme met afkortings: punte
9. Sinne begin nie met afkortings nie
10. Hoe spel ek?
11. Basiese groetvorme
12. Taalname
13. Betekenisverwarring
14. Kondisie vs. toestand
15. Die skryfwyses van verbindings met nie-
16. Die skryfwyse van verbindings met nie-, non-, oud- en eks-
17. FormaTeer of formaTTeer
18. Nie-amptelike spelwenk oor los en vas skryf

 

1. Betaling vs. inbetaling

Ons is nogal bekommerd oor die professionele beeld wat die Universiteit vertoon – ook wat taalsake betref. In die Universiteit se kommunikasie met die publiek en studente is dit egter nie altyd die geval dat die taal die nodige aandag kry nie. In die kassierelokaal het ek byvoorbeeld talle basiese spelfoute opgemerk, soos in betaling i.p.v. inbetaling of rekening navrae i.p.v. rekeningnavrae. Ons het dan ‘n taalpraktisyn (Johan Blaauw, x2618) by die PUK! Hoekom klaar ons nie al die kennisgewings by hom uit nie? Dis mos professioneel. As ek ‘n lid van die publiek was en ek moes sulke soort foute sien, dan sou ek maar gewonder het…

10/01/2000

2. Hulp met terminologie

Wetenskaplikes val dikwels vas met die gebruik van die regte terminologie. Die verlangde inligting – oor veral nuwe terme - is ook nie altyd so geredelik beskikbaar in vakwoordeboeke nie, want dit neem lank voordat ‘n term eers in ‘n woordeboek opgeneem word. Gebruik gerus die kundigheid van die personeel by die Afdeling: Terminologie en Plekname, van die Nasionale Taaldiens in Pretoria om u hiermee te help. Bruikbare kontaknommers is:.

· Me. Judi de Beer (Geesteswetenskappe, Ekonomie, ens.) 012 337 8174

· Me. Susan Roets (Natuurwetenskappe, rekenaarwetenskap ens.) 012 337 8149

· Me. Christine Marais (Biologiese wetensakppe en landbou..) 012 337 8160

· Dr. Mariëtta Alberts Stelselontwikkeling en Navorsing 012 337 8166.

10/01/2000

3. Spelling in Afrikaans

Die spel van woorde in Afrikaans bly maar ‘n tameletjie. Dit weet taalpraktisyns maar alte goed! Die vermoë om goed te kan spel, is nie ‘n vaardigheid waaroor almal noodwendig beskik nie. Bewuste taalgebruikers sal egter altyd probeer om hulle spelling te verbeter. Gebruik gerus die jongste beskikbare uitgawe (1991; 8ste uitgawe) van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) as u spelprobleme het. Dit sal u probleme - en dalk ook verleentheid - spaar!

10/02/2000

4. Los huidiglik uit

Die gebruik van modewoorde in Afrikaans is – soos in ander tale – niks unieks nie. Dis gewoonlik woorde wat vir ‘n kort tyd ‘n hoë gebruiksfrekwensie het en dan skielik weer in die vergetelheid verdwyn. Onthou u nog die dae toe alles kategories ontken is? Of toe elke probleem gefasiliteer moes word? Huidiglik is ook so ‘n woord. Om die een of ander duister rede het hierdie woord nie geyk geraak nie en kom dit in die taal van soveel Afrikaanssprekers voor dat ‘n mens al amper begin dink dis ‘n goeie Afrikaanse woord. Dis egter nie die geval nie – as woord verdring dit beter Afrikaanse woorde soos nou, tans, deesdae, teenswoordig. Ons wenk is: laat hierdie woord weg uit u taalgebruik. Dit laat u wel deftig klink, maar dis grammatikaal ‘n ondeftige woord.

09/03/2000

5. Kies een!

Het al u gehoor dat na iemand verwys word as die mees verwaandste mens? Of dat dit die mees wonderlikste nuus is wat u al ooit gehoor het? Mense gebruik naamlik dikwels die dubbele vergrotende trap van vergelyking om hulleself uit te druk oor ‘n bepaalde saak. Dis egter grammatikaal ‘n oorbodigheid, want hier word twee afsonderlike sisteme vermeng, te wete die morfologiese sisteem (bv. suur – suurder – suurste) en die leksikale sisteem (bv. beskeie – meer beskeie – mees beskeie) . Hou eerder by een sisteem, want dan kommunikeer u grammatikaal beter. Dus eerder: mees verwaande naas verwaandste of wonderlikste.

09/03/2000

6. Presiesheid van uitdrukking

So dikwels word die verkeerde woord gebruik om na ‘n saak te verwys. Om ‘n voorbeeld te noem: as u ‘n pen wil hê, maar u sê potlood, gaan u na alle waarskynlikheid nie die betrokke item kry nie. Dis ook so met die terminologie wat ons op die kampus gebruik. Iemand sê eksamenvraestelle moet nagesien word, maar daar word eintlik bedoel die eksamenantwoordstelle. Dis so maklik om ‘n woord in die verkeerde konteks te gebruik. Wyle prof. Johan Combrink het altyd gesê: “100% kommunikasie die eerste keer”. Kom ons probeer in ons kommunikasie dit ook doen.

09/03/2000

7. Buitestander of buitestaander

Die vraag word dikwels gevra of woorde soos buitestander, bystander, omstander, teenstander, voorstander met een of twee a’s gespel word. Enkele bronne erken wel die spelvorm met twee a’s, maar die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) erken net die spelvorm met een a. Hou eerder konsekwent hierby.

24/04/2000

8. Probleme met afkortings: punte

Daar is ‘n neiging tot groter puntloosheid by afkortings en veral akronieme is tekenend hiervan: SARVU of Sarvu in plaas van S.A.R.V.U. In bepaalde gevalle kan puntloosheid egter leesprobleme skep – vergelyk o.a. (onder andere) teenoor oa, of o.m. (onder meer) teenoor om, t.o.v. (ten opsigte van) teenoor tov. Onthou dat ‘n leë spasie nie noodwendig gelyk is aan ‘n punt nie; dus ook nie: o a of o m of tov. Gebruik by hierdie soort vorme (woordgroepafkortings) eerder die vorme met die punte om begripsverwarring te vermy.

24/04/2000

9. Sinne begin nie met afkortings nie.

Dit is ‘n algemene reël in versorgde skryfwerk in Afrikaans dat ‘n sin nie met ‘n afkorting begin nie. Ons skryf daarom nie vorme soos die volgende nie: T.o.v. jou opmerking net die volgende… I.s. jou navraag: ek reageer hierop soos volg…

Soos by enige reël is daar hierop ook enkele uitsondering, te wete die gebruik van titels (bv. Prof. Reinecke versoek dat u hom kom spreek), graadname (bv. B.A.-studente mag hierdie kursus volg). In die 1991-uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) word op bl. 332-334 hierdie en ander waardevolle wenke verskaf as skryfhulp. Maak gebruik daarvan as u ernstig is oor u skryfwerk.

24/04/2000

10. Hoe spel ek…?

Kollegas Herman Strydom en Jaco Breytenbach is taalbewuste akademici. Uit hulle navrae blyk dit dat daar onduidelikheid is oor spelvorme soos maatskaplike werk studente en elektriese impedansie metode en ander soortgelyke gevalle. Die reël is dat hierdie vorme vas geskryf word; dus maatskaplikewerkstudente (b.nw. + s.nw. + s.nw.) en nie *maatskaplike werkstudente nie; verder ook elektriese-impedansiemetode en nie *elektriese impedansiemetode nie. Dit bring ‘n betekenisverskil mee. Vergelyk hieroor ook verstopterioolingenieur teenoor verstopte rioolingenieur… As die vorm lank raak, kan ‘n koppelteken gebruik word tussen die laaste twee dele, soos in vergelykendeletterkunde-benadering.

24/04/2000

11. Basiese groetvorme

In hierdie taalwenkkolom bevorder ons ook veeltaligheid. Bykans 70% van die bevolking in die Noordwes-Provinsie se huistaal is Tswana. As Afrikaansprekendes weet ons min van die basiese beleefdheidsvorme in hierdie taal. Die groetvorme en die gebruik daarvan kan grootliks bydra tot welwillendheid tussen die mense in ons provinsie.

 

 

A: Dumêla mma/rra

Goeie dag dame/meneer

B: Ahêê/Dumêla

Wees u ook gegroet

'n Gewone groetvorm:

 

 

A: Dumêla mma/rra

Goeie dag dame/meneer.

B: Eê, dumêla mma/rra.

Ja, goeie dag dame/meneer

B: O kae?

Hoe gaan dit met u?
(Letterlik: Waar is u?)

A: Ke têng, wêna o kae?

Dit gaan goed. Hoe gaan dit met u?(Letterlik:Ek is hier, waar is jy?)

B: Ke teng.

Dit gaan goed.

Gebruik gerus een van bogenoemde groetvorme en kyk wat ‘n groot verskil dit sal maak om ubuntu (medemenslikheid) in ons omgewing te bevorder!

LJZ

20/07/2000

12. Taalname

Die spelvorm van taalname gee soms probleme, en daar is veral onsekerheid oor hoe SA se elf amptelike tale (volgens artikel 6(1) die 1996-Grondwet van die RSA ) gespel moet word. Benewens Afrikaans en Engels is daar ook nege Afrikatale. Die Taalkommissie se voorstel in hierdie verband is:

1. “Die name van die amptelike Suid-Afrikaanse tale (behalwe Afrikaans en Engels) word in Afrikaans soos volg geskryf: Venda, Swazi, Noord-Sotho, Suid-Sotho, Tswana, Ndebele, Zulu (of Zoeloe), Xhosa, Tsonga.”

2. “Die name van dié tale word in die onderskeie tale self soos volg geskryf:
Tshivenda, siSwati (SiSwati aan sinsbegin), Sepedi, Sesotho, Setswana, isiNdebele (IsiNdebele aan sinsbegin), isiZulu (IsiZulu aan sinsbegin), isiXhosa (IsiXhosa aan sinsbegin), Xitsonga.”

21/07/2000

13. Betekenisverwarring

In ‘n onlangse Kampusnuus merk ek op dat prof. Adri Burger van die Skool vir Fisika met navorsingsverlof na die VSA vertrek het. “Hy word vergesel van sy familie” lees ek daar. In so ‘n geval kry ek hom werklik jammer, want dan gaan daar baie mense saam met hom (ouers, grootouers, broers, susters, neefs, niggies, ens.) en sal hy duur betaal om almal daar te kry. Hier is waarskynlik gesin bedoel, d.w.s. sy huismense (vrou en kinders).

Ons het hier ‘n tipiese voorbeeld van betekenisverwarring. Dis altyd die moeite werd om maar seker te maak van die presiese betekenis van ‘n woord as jy dit wil gebruik. NP Van Wyk Louw het juis geskryf van die “fyn net van die woord”…

25/07/2000

14. Kondisie vs. toestand

Kollega Johan Zerwick doen onlangs navraag oor die gebruik van toestand teenoor kondisie. Dit is so dat hierdie woorde streng gesproke sinonieme is, maar dit is ook so dat sekere woorde meer gepas is in sekere gebruiksfere as ander. Ons gebruik kondisie hoofsaaklik as ons na diere verwys (bv. Die kondisie van die vee is goed na die reën), terwyl toestand meer gebruiklik is in ander kontekste (bv. die toestand van ons paaie, die toestand van ‘n pasiënt, die toestand van ‘n pak klere, die toestand van ‘n huis, ens.). Ook hier is goeie woordkeuse bevorderlik vir goeie kommunikasie.

25/07/2000

15. Die skryfwyse van verbindings met nie

In vroeëre uitgawes van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) is aangedui dat vorme met nie as woorddeel met ’n koppelteken geskryf word, bv. nie-nakoming, nie-standaard, nie-bestaande. In die jongste uitgawe (1991) het daar wel ‘n verandering gekom omdat vorme met nie- nou vas (sonder koppelteken) aan die volgende woorddeel geskryf word, bv. nienakoming, niestandaard, niebestaande.

As vokaalopeenhoping voorkom wat lees kan bemoeilik, kan die koppelteken wel nog gebruik word, bv. in nie-essensieel. By nieamptelik weer lees dit tog nie moeilik nie en word daar nie ‘n koppelteken gebruik nie. Probeer dit gerus toepas in u eie skryfwerk en u sal verbaas wees hoe gou u daaraan gewoond raak.

25/07/2000

16. Die skryfwyse van verbindings met nie-, non-, oud- en eks-

Die voorgestelde skryfwyse vir vorme met nie-, non-, oud- en eks- as woorddele is heel eenvoudig: hierdie soort vorme in samestellings en afleidings word sonder ‘n koppelteken vas aan die ander deel van die woord geskryf (bv. nieamptelik, nonentiteit, oudstudent, eksminister), tensy daar besondere redes is wat wel die gebruik van ‘n koppelteken sinvol maak. Hierdie redes is die volgende:

· vokaalopeenhoping (bv. nie-essensieel)

· die gebruik van ‘n hoofletter in die middel van ‘n samestelling of afleiding (bv. nie-Amerikaans, non-Calvinis, oud-PUK, eks-Noordwester).

Maklik om toe te pas!

25/07/2000

17. FormaTeer of formaTTeer

Die spel van afleidings van die stam formaat lewer probleme op. Ons moet dikwels dokumente in ‘n bepaalde formaat omsit en dan weet ons nie of die werkwoordsvorm met een of twee t’s geskryf word nie. Die korrekte vorm is naamlik formateer (dus met een t). Die rede hiervoor is eenvoudig: die vokaal van die grondwoord is lank en daarom kom daar nie ‘n verdubbeling van die konsonant nie.

Hierteenoor word die konsonante weer verdubbel by adresseer, debatteer, kanonnier (dus is die spelling van Kanonierspark op die aanwysbord in Meyerstraat verkeerd!) omdat die grondwoord eindig op ‘n kort vokaal.

16/10/2000

18. Nie-amptelike spelwenk oor los en vas skryf

Afrikaans en Engels se speltradisies verskil nogal aanmerklik. Afrikaans volg die sg. konjunktiewe speltradisie (skryf meer vas as los) en Engels weer die disjunktiewe patroon (meer los as vas). Daarom skryf ons in Afrikaans perskonferensie en Engels weer press conference.

Ten opsigte van die spelwyse van woordverbindings in Afrikaans gee ek gewoonlik aan my studente die volgende nieamptelike spelwenk (juis weens die skryftradisie): as jy twyfel, skryf eerder vas as los; dan is jou kans beter om reg te skryf. Probeer dit gerus in u skryfwerk. Dus eerder: Hokkie-akademie as Hokkie akademie, eregas as ere gas.

25/07/2000

© Catharina Loader 2001

adfadfasdfasfas