J.S. Mayson, describing the Islamic life in the 19th century Cape Town writes:
"In 1652 a few Malays of Batavia were brought by the Dutch into the Residency, and subsequent Settlement of the Cape of Good Hope... " - it is possible that these "Malays of Batavia" were the first Muslims to come to this country.

Mayson, J S, The Malays of Cape Town,
Manchester, UK, Cave and Sever, 1865:7

Professor Christo van Rensburg
Navorsingsgenoot: Navorsingseenheid Tale en literatuur in die SA konteks, NWU, Potchefstroom-Kampus

Oorsig

1. Aankoms en funksie van Maleis

1.1 Maleis in die Ooste
1.2 Die tuisvaarders se kennis van Maleis (en Portugees)
1.3 Afrikaans se Nederlandse basis deur uitvaarders verstewig
1.4 Die einde van ´n periode

2. Die tweede periode in die geskiedenis van Afrikaans: Die taal van die slawe

2.1 Die herkoms van die slawe
2.2 Slawe en Khoi-Khoin
2.3 Die slawe het ook Maleis gepraat
2.4 Spore van Maleis in Afrikaans
2.5 Invloed van die slawe en slavinne

3. Die eerste geskrewe Afrikaans aan die Kaap

3.1 Skryf, lees en leer in Afrikaans
3.2 Die Moesliemgemeenskap aan die Kaap
3.3 Moesliemafrikaans
3.4 Die einde van ´n era

As ‘n besoeker op een van die bankies in die Tuine in Kaapstad sit en luister hoe die mense wat verbystap praat, hoor hy of sy baie keer die woorde “djy”, “djong en “djille” wat as “jy”, “jong” en “julle” in Standaardafrikaans geskryf word.

Hoekom so? Taalkundiges kan die antwoord gee. Dit kom van Maleis af, sê Ponelis (1993:65). Dit is waar van nog ‘n hele klomp ander verskynsels wat mens in Kaaps hoor. Djakarta (in Indonesië op die eiland Java, tydens die Hollandse periode Batavia (1619-1942), tans Jakarta) was in dié tyd die administratiewe hoofstad van die Kaap. Hierdie stad se naam begin byvoorbeeld met dieselfde beginklank as wat by party sprekers van Kaaps in woorde soos “djy” gehoor word.

Sprekers van Europese tale het ook vanaf die sewentiende eeu na Maleisië toe gegaan - ´n gebeurtenis wat nie sonder nagevolge was nie.

 

1.  Aankoms en funksie van Maleis

Die twee maniere waarop Maleis Kaap toe gekom het en die funksies wat Maleis  in die Kaapse talewêreld vervul het, kom hier ter sprake.

1.1 Maleis in die Ooste
Maleis was ‘n groot en invloedryke handelstaal in die Ooste. Die reusagtige Nederlandse handelsorganisasie, die VOC, het sy tentakels om ‘n groot aantal lande in die Ooste geslaan, soos wat KAART 1 aantoon, en Maleis en Nederlands het onvermydelik skouers geskuur. Met die Nederlandse betrokkenheid in die Ooste, sowel as aan die Kaap, was dit onvermydelik dat Maleis ook aan die Kaap gehoor is.

Twee roetes
Maleis het op twee maniere na die Kaap toe gekom. Een manier was deur die Nederlandse werkers van die VOC wat na verstryking van hulle kontrakte van drie of vyf jaar  huis toe teruggekeer en aan die Kaap vertoef het. Die ander manier? Met die slawe wat uit die ooste na die Kaap toe gestuur is, en wat die reeds gevestigde Maleis aan die Kaap op verskillende maniere versterk het.

Wedersydse beïnvloeding
In die Ooste is die Nederlanders se taal deur Maleis en ander oosterse tale beïnvloed. Op sy beurt het Nederlands sy invloed weer op hierdie tale gelaat (Darmojuwono e.a. 1996: 409-549). Een van mense wat vir die vestiging van die VOC-ryk in die ooste verantwoordelik was, was Jan Pieterzoon Koen. Die woordeindes van sy naam en van is dáár verander: Vandag word van hom gepraat as Jang Koeng (dokumentêre filmreeks: “De Gouden eeu”). Hoor mens dit, word die verband tussen die Ooste en woorde soos piesang, rottang, ens. duideliker.

Nederlands wat in Nederland gebruiklik geword het, het in sowel die ooste as aan die Kaap nog oorleef. De Ruyter en Kotze (ongepubliseer) wys in hierdie verband op die voorkoms van die uitdrukking “van doen” wat vroeër in Nederlands die betekenis gehad het van “nodig hê" of "te make hê” en wat al in 1699 in Stellenbosch opgeteken is: “…maar ick heb met sulcke knegts niet van doen” (Biewenga 1999:103). Scholtz (1981:27) wys op ‘n 1706-optekening: “Ons het jouw tabak niet van doen”, deur ‘n Khoi-Khoin of slaaf gesê. In ‘n geskiedenis (1870) van die eiland Ternate in die Oos-Molukkke staan hierdie uitdrukking ook (Voorhoeve 1983:7): “Apa ngoni fandoen? Wat beteken “wat doen jy?”

KAART 1. Nederlandse handelsteikens in die Ooste (Groeneboer 1993:18)

1.2 Die tuisvaarders se kennis van Maleis (en Portugees)

Die tuisvaarders se talestempel
Die VOC het van 1595 af vastrapplek in die Ooste gekry. Vyftig jaar voordat die Kaap aan die beurt gekom het. Nadat VOC-diensnemers vir drie tot vyf jaar in die Ooste gewerk het, is hulle terug Nederland toe. Toe die verversingspos aan die Kaap begin is, is die lang terugreis (wat van ses tot agt maande kon duur) daar onderbreek. Tot drie weke op ‘n slag (De Ruyter en Kotze (ongepubliseer)). Twee keer per jaar. Wat het hierdie tuisvaarders uit die Ooste uit saamgebring? Hulle het nog steeds die Nederlands probeer praat waarmee hulle in die Ooste aangekom het, maar daar het iets anders bygekom: spore van die Oosterse tale waarmee hulle daagliks dáár in aanraking gekom het. Tienduisende VOC-beamptes, van sowel hoë as lae range, het gedurende die VOC-tydperk dié bont spektrum van Maleise en Portugese “noodhulp”-tale in Suidoos-Asië daagliks gebruik (Ruyter & Kotzé 2002:42). Afrikaans vertoon vandag nog tekens van hulle nalatenskap aan die Kaap en van hulle taalgebruik, nie net van hulle Werkersklasnederlands nie, maar ook van die invloed wat Oosterse tale, soos Maleis, op hulle taal gehad het.

Onlangs het De Ruyter en Kotze (ongepubliseer) opnuut (na vroeëre ondersoekers soos onder andere Nienaber (1934:38-39)),met nuwe gegewens tot hulle beskikking, die aandag gevestig op hierdie belangrike bron van invloed op die Afrikaans wat aan die Kaap gepraat is. In hierdie hoofstuk word daar meermale na hulle belangrike werk verwys. Die tuisvaarders het nie net hulle taalstempel op die Kaap afgedruk nie. Hulle het dit ook in Ceylon en in die trope agtergelaat (De Ruyter en Kotze (2002:149)).

Getalle
Daar was genoeg tuisvaarders om die taal van die inwoners van die Skiereiland te beïnvloed. De Ruyter en Kotzé (2002:148-149) wys daarop dat daar gedurende die VOC-tydperk wat in 1795 geëindig het, nie minder as 330 000 tuisvaarders aan die Kaap aangedoen het nie, sowat 2300 per jaar. Aan die Kaap was daar in 1661 maar net 225 VOC-lede en hulle families. Aan die einde van die eeu, in 1701, was daar reeds 1815 koloniste wat vryliede sowel as VOC-amptenare ingesluit het (Ponelis 1993:2,3).

Mense
Daar is na die mense uit die Ooste verwys met die woord “oorlam”, wat uit Maleis kom. “Orang lama” het “man van vroeër” beteken. Die tuisvaarders was gedurende die tuisvaardertyd in hulle eie oë belangrike mense. Met hulle terugkeer, in die Kaap en in Nederland, het hulle hulle laat geld deur  met vreemde klere, baie geld, en kennis van vreemde gewoontes te spog. Enkele tuisvaarders het aan die Kaap agtergebly.

Om ‘n idee te kry van die vertoon waarmee die terugkeer uit die ooste gepaard gegaan het, wys Schoeman (2001, teenoor p. 576) op ’n skildery uit die laat 17de eeu, en lewer die volgende veelseggende kommentaar daarop:

'n Matroos van die Kompanjie vier sy terugkeer na Nederland, gekleed in 'n pak van bont Oosterse katoen, 'n pêrelhanger in sy oor, ‘n mes in sy gordel, 'n bottel in die een hand en in die ander sy hoed met 'n pyp in die band vasgetrek, terwyl sy vroulike metgesel sy vol beurs bo haar kop hou.

Taalinvloed
By alles waaroor hulle kon spog, het die tuisvaarders nuwe woorde en uitdrukkings geken wat hulle in die Ooste, ver van Nederland af, aangeleer het. Die vreemde tale van die ooste het´n spoggerige draai aan hulle Nederlands gegee. Die besoekers se vreemde Oosterse wendinge aan hulle Nederlands moes baie aantreklik geklink het, soos vroeë optekenings wel aantoon. Die Khoi-Khoin se Kaaps kon nie anders as om verryk te word met dié nuwe woorde en uitdrukkings uit Maleis, Portugees en ander tale wat die besoekers saamgebring het nie.

In die Ooste was Maleis die hooftaal, hoewel daar eilande was waar Maleis nie bekend was nie. Dit was nietemin ‘n groot handelstaal, die taal waarin vreemdelinge met mekaar gekommunikeer het en waardeur die tuisvaarders se taal sterk beïnvloed is.

Waar die mense van die Kaap beïndruk was met die tuisvaarders se Nederlands met Maleise invloede, het hulle dit probeer napraat. Vir buitestaanders het dit gelyk na foute in die Nederlands van die bewoners van die Kaap (alhoewel daar maar min van hulle sou wees wat in elk geval ooit regtig Nederlands gepraat het). In plaas van om “mure” te hoor, het mens dan byvoorbeeld onder die Kaapse bewoners “miere” gehoor. Vandag nog.

In die Ooste, in die vroeë 20ste eeu, het onderwysers van Nederlands hard probeer om hierdie Oosterse manier van Nederlands praat by hulle leerlinge te korrigeer (vermeld De Ruyter en Kotzé (ongepubliseer:12)), met verwysing na opmerkings van Nieuwenhuis hieroor.

Portugees
Maleis was nie die enigste taal uit die Ooste wat aan die Kaap gepraat is nie, maar het die langste in die Kaap en die binneland oorleef. Portugees was die taal van die Portugese handelsryk in die Ooste en  aan die Kaap goed bekend.

Toe die Nederlanders die hoofspelers in die Ooste geword het, was daar nog baie Portugees en Aanleerdersportugees in die talepoel waarmee hulle in aanraking gekom het. Portugees en Aanleerdersportugees het dus vanselfsprekend ook deel van die talepoel aan die Kaap geword. Franken (1953:116-117) wys daarop dat Bütner in 1718, en die sendeling Böving in 1709, nog baie Aanleerdersportugees aan die Kaap gehoor het.

Aanleerdersportugees (Hesseling (1923:46) verwys na Kolbe wat van “Basterportugees” praat) is nie orals eenders gepraat nie. Met ‘n bietjie Portugees kon mense wat ‘n draai in die Ooste gemaak het, baie goed in die Kaap en selfs ook in die Kaapse binneland oor die weg kom. Franken (1953:121) wys op proklamasies van Somerset tussen 1814 en 1825 in sowel Nederlands as Portugees wanneer slawe ook daarvan kennis moes neem.

Kennis van Portugees was gedurende die eerste dekades van die nedersetting vir die owerhede ook om ‘n ander rede belangrik: Dit was die sleutel wat toegang moes gee tot die geheimsinnige ryk van Monomotapa, sy baie goud, en die rivier Vigiti Magna. Die Kompanjie se vroeë ekspedisies was naarstiglik daarna op soek (Schoeman 2001:142).

Beïnvloedingsfeer
In die taphuise en losiesplekke aan die Kaap is hierdie tuisvaarderstaal oorgenoeg aangehoor. Wie was die Kaapse inwoners wat veral daarna moes luister?

Die Nederlandse amptenare was, soos genoem, in die minderheid. Hulle het hulle nie veel aan hierdie dikwels rumoerige kuiergaste en hulle taalgebruik gesteur nie.

Die ander bewoners van die Kaap in daardie tyd was die skiereilandse Khoi-Khoin. Hulle was meer geneë om die besoekers te akkommodeer.Van vóór die VOC-tyd af het hulle al ‘n bietjie Nederlands aangeleer en  hulle kon baie van die tuisvaarders se taal verstaan. Hulle het die besoekers gehelp met hulle bagasie, die aflewer van boodskappe, en met die soek na huisvesting. Daar was oorgenoeg geleenthede om na al die stories van die gretige vertellers te luister.

Op ‘n meer formele vlak, waar ruilhandel en die sluit van meestal mondelinge ooreenkomste ter sprake was, het tolke ‘n groot rol gespeel (Groenewald 2002: 106 e. v.).

Beïnvloeding
Baie van die Maleise woorde wat vandag in Afrikaans te vinde is, so sê De Ruyter en Kotze (ongepubliseer), het in hierdie besoekers se taal voorgekom. Uitdrukkings wat hierdie ondersoekers aan Maleis toeskryf en ook deur die tuisvaarders gebruik kon wees,is:

  • “baadjie” (Mal. “badjoe”), “basaar/mark” (Mal. “passer”), “katel”, “baklei” (Mal. “berkelahi”), oorlam, “piesang”, “piering”, “bobotie”, “kaplaks”, “pê”, “lieplap”, ens;

  • “sudah kelar” (“al klaar”, uit Maleis uit, met die betekenis “klaar-klaar”);

  • in die afskeidsgroet “lekker bly” gebruik Maleis ‘n ekwivalent wat “bly” beteken en nie “woon” soos in Nederlands nie, en in Maleis word groete “gestuur”, nie “gedoen” soos in Nederlands nie;

  • in Maleis “drink” mens medisyne, soos in Afrikaans (terwyl dit in Nederlands “gesluk” word);

  • die “knop” (Maleis “kenop”) van “knopkierie” kon in die Kaap aan die Khoiwoord “kierie” gekoppel geword het;

  • die Afrikaanse “kry”, waar Nederlands “vind” het, kom ooreen met die gebruik in Maleis.

Schoeman (2001:450) wys dat die Maleise woord “passer” (“mark”, ook “basaar”) in 1664 al in die Kaap gebruik is.

Vir houtsandale is die woord “kaparring”, met variante, bekend onder gebruikers van Afrikaans, veral in die Kaap. Die WAT noem dat dit “veral vroeër deur die Moesliems aan die Kaap gedra is”.

Franken (1853:118) het teen 1930 nog woorde gehoor soos “minta” (“versoek”), “kirim” (“stuur”), “salamat” (“heil”), “kasib” (“gee”), “soerat” (“geskrif”, “brief”).

Afrikaans verskil van Nederlands deurdat konsonantkombinasies aan woordeindes nie ‘n –t het nie. In Afrikaans hoor mens “herfs”, “sug”, “vermuf” terwyl Nederlands ‘n –t aan die einde het. Hesseling het al vroeg daarop gewys (1923: 126) dat dit tipies van Maleissprekendes in die Ooste is om -t aan woordeindes nie te gebruik nie. Hierdie neiging is nie tot die Ooste beperk nie. Ook aan die Kaap hoor mens dit. Ponelis (1991: 70) skryf dat hierdie verskynsel, wat aan die invloed van Maleis toegeskryf kan word, goed bekend was in die vroeë Kaapse taalgemeenskap.

1.3 Afrikaans se Nederlandse basis deur uitvaarders verstewig
Hoekom het die Nederlandse basis van Afrikaans aan die Kaap behoue gebly, terwyl daar min skakeling tussen die Nederlandse VOC-personeel aan die Kaap en die Khoi-Khoin was?

‘n Gedeelte van die antwoord lê by die groot getalle besoekers wat teen wil en dank by die Kaap moes aandoen en wie se taal steeds op Nederlands geskoei was. Behalwe die tuisvaarders, was daar nog die uitvaarders wat van Nederland na die Ooste toe op pad was. Hulle taal het dieselfde pad as die taal van die tuisvaarders geloop en is op dieselfde manier aan die Kaap ontvang. Die Khoi-Khoin het makliker by hulle aansluiting gevind as by die VOC-amptenare. Die uitvaarders het nie sulke indrukwekkende vreemde Oosterse woorde geken nie, maar het deur hulle kontak met die sprekers van Kaaps die Nederlandse taal onder hulle lewendig gehou:

  • Die Afrikaanse woord “kombuis” is byvoorbeeld in die Nederlandse skeepstaal bekend (Nederlands “keuken”).

  • Die term “maswerkknoop” is op skepe gebruik. Vandag word dit op plase gebruik vir ander doeleindes (WAT).

  • “Baken”, “balie” en “bottel” kom uit die vroeë seemanstaal, soos die name van slaapgeriewe, “kooi” en “bulsak”.

Vroeër was dié name nie in Afrikaans onbekend nie. Tans is hulle maar skaars.

Buite die wêreld van die amptenary was daar ‘n Nederlands gepraat wat baie van dié  van die amptenare verskil het. Van Rheede, ‘n vroeë VOC-inspekteur (1685), skryf dat die Nederlandssprekendes in kontaksituasies die nie-moedertaalsprekers probeer napraat het. Dit is die reël in sulke situasies, weet ons vandag. Aan hierdie napraat van aanleerders in die Kaap is daar iets wat vir latere taalkundiges baie interessant is: die woordvolgorde wat Nederlanders gebruik het wanneer hulle nie-moedertaalsprekers probeer napraat het, kom plek-plek met Khoi-woordvolgorde ooreen.

Daar is nog baie omtrent die gemeenskaplikhede van Maleise en Afrikaanse taalstrukture wat ondersoek kan word. Slomanson (2009:135) sê byvoorbeeld: Afrikaans modals are partly modeled on Malay modals.

Den Besten (2012a:31-33) wys weer op ooreenkomste tussen die Afrikaanse –hulle-konstruksie, soos in Pa-hulle, en soortgelyke konstruksies in oostelike Maleise dialekte.

Die Nederlands van die Kaap
En die algemene omgangstaal aan die Kaap? Met ‘n kennis van Nederlands kon mens ver kom.

Van Rheede het tydens sy besoek in 1685 in sy dagboek geskryf dat hy agtergekom het hoe die kinders in die slawelosie almal Nederlands (en nie ander tale nie) probeer praat het. Volgens Groenewald (2003: 125) was daar 22 kinders in 1662. Hulle het teen 1679 tot 101 aangegroei. Hierdie Kaaps-gebore kinders was van jongs af in kontak met Khoi-Khoin, besoekers, en later met slawe.

Optekenings soos dié van Ten Rhyne (in Raidt (1976: 11-112) aangeteken) wys dat dit dikwels net die kerngedeeltes van Nederlandse woorde is wat in Kaaps oorleef het. Die res van die Nederlands is in die taalkontaksituasie afgemaal. In hierdie proses het die aanleerders se moedertale, naas ander invloede,‘n groot rol gespeel.

1.4 Die einde van ´n periode
Die hooftale aan die Kaap tot 1658? Dit was Khoi en die een of ander soort Nederlands, waaronder die Aanleerdersnederlands soos dié wat Van Rheede gehoor het (waarna hierbo verwys is), en die soort Nederlands van die besoekers.

Hierdie periode het teen 1658 tot ‘n einde begin kom. Slawe is toe ingevoer, en hulle tale het aangesluit by ´n poel van ander tale wat al hoe meer geword het: Hoog- en Laagduits, Frans, etlike Afrikatale, Malgassies, Maleis, Javanees, Buginees, Portugees, Indiese tale, en nog ander tale. Tolke het nie om dowe neute ‘n groot rol in die Kaapse samelewing gespeel nie (Hesseling 1923: 35).

Die eerste periode in die geskiedenis van Afrikaans, toe Khoi en Nederlands die tale was wat vanaf 1595 gepraat is, het met die kennismaak met tale van die slawe tot ‘n einde gekom.

Die slawemark soos afgebeeld in 1866 deur Jean-Léon Gérôme (1824–1904)
(Foto: Publieke domein)
Thomas Baines het hierdie waterverfskildery gemaak om die slawe-arbeid bloot te lê.

Lees verder ...

2. Die tweede periode in die geskiedenis van Afrikaans: Die tale van die slawe

In 1658 het die eerste slawe in die Kaap aangekom. Om die arbeidstekort te verlig. Immigrasie uit Nederland is as gevolg hiervan lateraan stopgesit. Met die koms van die slawe was daar geen nuwe werkers meer nodig nie.

Van Riebeeck het die stelsel van slawearbeid in die Ooste leer ken en die implikasie daarvan raakgesien. Die Nederlanders wat van die Ooste af terugkom, het hy opgemerk, was nie meer aan werk gewoond nie. Nóg immigrante sou die kompetisie tussen ondernemers onnodig verhoog het.

Die gevolge van die besluit om slawe in te voer, het verreikende gevolge vir die geskiedenis van die suidpunt van Afrika gehad - selfs lank nadat slawerny stopgesit is.

Die opdroging van die toevoer van Nederlandssprekendes na die Kaap het die aard van Afrikaans in die jare daarna bepaal. Nederlands was tot op dié stadium die model vir Afrikaans. Die sprekers in die Kaap wat Nederlands nie as ‘n moedertaal gepraat het nie, het in verhouding met die Europese sprekers van Nederlands ‘n al hoe belangriker rol in die Kaapse gemeenskap begin speel. Húlle getalle het aangegroei; die Nederlandssprekendes s’n nie.

2.1 Die herkoms van die slawe
Die eerste groepe slawe het uit Afrika gekom. Die bietjie Portugees wat hulle geken het, was die Portugees wat in taalkontaksituasies gepraat is. Daarnaas het hulle hulle moedertale gepraat. Hulle moes gou-gou ‘n antwoord kry op die probleem om hulle verstaanbaar te maak in taalomgewings waar die een of ander soort Nederlands ook gepraat is. Baie van die taaloplossings wat hulle gekry het, was aanpassings van hulle eie tale, beïnvloed deur Khoi-Afrikaans (Den Besten 2012b: 269)).

In die loop van hierdie eerste 50 jaar het daar groepe slawe ook uit ander oorde in die Kaap aangekom. Die retoervloot het enkele slawe van die Ooste af saamgebring en in die Kaap verkoop.

Lateraan het slawe uit die Ooste in groepe in die Kaap aangekom. Die meeste Oosterse slawe het van Bengale af gekom. Talle slawename dui dit aan, byvoorbeeld in ou geslagsregisters, soos dié van Maria van Bengale wat, soos Schoeman (2001: 642 e.v.) uitwys, met Jan Sagarias van Amsterdam in die huwelik getree het.

Ross (1994: 129) wys daarop dat daar tussen 1657 en 1717 nie minder as 58 vrygestelde slavinne was wat met blanke mans getrou het nie.

2.2 Slawe en Khoi-Khoin
Die verhouding tussen die slawe en die Khoi-Khoin was oor die algemeen gespanne. Daar was nogtans genoeg kontak om mekaar oor en weer taalkundig te beïnvloed. Waar die slawe se Kontaknederlands opgeteken is, wys die dokumente op groot ooreenkomste met die Khoi-Khoin se soort Nederlands. Na die pokke-epidemie is tekste in Khoi-Afrikaans skaarser. Taalkundiges wys daarop dat tekste in Slawe-Afrikaans talle kenmerke van Khoi-Afrikaans vertoon. Die voorsetsel “vir”, wat algemeen in Khoi-Afrikaans voorkom, dui andersyds weer op ‘n slawe-herkoms. Oorspronklik kom “vir” uit Portugees.

2.3 Die slawe het ook Maleis gepraat
Die inwoners van die Kaap het Maleis dus nie net by die tuisvaarders gehoor nie, maar vanaf 1658, by die slawe. Die slawe het verskeie tale aan die inwoners van die Kaap bekendgestel. Die hooftale vanuit die Ooste was Maleis en Portugees (Hesseling 1923:23). Tog het alle slawe nie noodwendig Maleis of Portugees geken nie. De Ruyter en Kotze (2002:154):

"Die herkoms van slawe van een van Oos-Indië se baie anderstalige eilande is geen waarborg dat selfs maar ´n minmale kennis van Maleis tot hul taalinventaris behoort het nie.'

Sowel die tuisvaarders as die slawe met ‘n kennis van Maleis en Portugees het dus meegewerk aan die taalerfenis van dié tale in Afrikaans.

Invloed
Maleis (sowel as Portugees) het na 1713 gereeld in hofsake opgeduik (Franken 41 e. v.). Van al die slawetale het Maleis die diepste wortel geskiet in Afrikaans en is nog tot aan die einde in die negentiende eeu in die Kaapse Moesliemgemeenskap gebruik.

Wat die uitbreiding van die Christelike kerk betref, was Maleis ‘n struikelblok (Davids 1987:44). Nederlands was die koloniste se geloofstaal maar kon nie met Maleis kompeteer wat vir die uitbreiding van Islam gebruik is nie.

Hoe wyd is Maleis gehoor? Van al die Oosterse tale wat in die eerste halfeeu na kolonialisasie aan die Kaap gehoor is, het Maleis die grootste invloed in die Kaap en die Kaapse binneland gehad.

De Ruyter en Kotze (2002:145) verwys na ‘n onvoltooide studie van De Ruyter waarin 860 gesproke en geskrewe woorde uit die Ooste opgeteken is. Daarin is bevind dat, “behalwe die benamings van kossoorte en handelsware (d.w.s. selfstandige naamwoorde), eintlik geen woorde uit tale van Afrika, Indië of Malgassië in Afrikaans opgeneem is nie”. Met verwysing na data van Shell (1994:15) blyk dit dat “juis uit genoemde gebiede nie minder nie as 77,3% van alle slawe aan die Kaap geland het”.

2.4 Spore van Maleis in Afrikaans
Afrikaans het ‘n indrukkwekkende lys beïnvloedings uit Maleis. De Ruyter en Kotze (ongepubliseer:14) wys op “leksikale versteurings in alle registers, ontlenings, reduplikasie, beslissende opheffing van verbuigingsreëls, fonologie en morfologie”.

Mense uit die ooste uit het van die einde van die agtiende eeu af ‘n groot rol in die visbedryf aan die Kaap gespeel. Dáár kon baie Maleis gehoor word (De Ruyter en Kotze (ongepubliseer)).

Maar Maleis was verweef met ander tale. Waar Maleis gehoor is, is ander tale dikwels ook gehoor. Franken (1953:122) wys op Maleis in die name van landmerke wat die vissers gebruik het, soos “ghoeni matjan(“tier” + “berg), en toon aan dat Sjinees ook sy merk in hierdie taalomgewing gelaat het: “koebitjinakom uit Maleis “koeping tjina wat “oor van die Sjinees beteken.

Portugees kon egter ook in die visbedryf gehoor word. Ponelis (1993:103) wys op die Portugese “pesce cavallo wat as “boesmanvis oorleef het, en “biera-biera om ‘n net om visse te gooi. In Maleis, wat hier ‘n rol kon speel, kom herhalings baie voor terwyl dit nie in Nederlands die geval is nie. Die uitroepe “parra wat beteken het om met ‘n skuit stil te hou, en “tjappa (om stadig te roei), kan waarskynlik na Portugees teruggevoer word (vgl. ook Franken (1953:125)).

Maskie
Maskie hoor mens vandag nog in Kaaps, waarvan Franken (1953:204) heelwat voorbeelde  wat uit die eerste dekades van die agtiende eeu kom, opgeteken het. “Maskie het die betekenis van “almiskie” / “hoe dan ook al, en kom  in sinne soos “masqiu ophangen, ik ben niet bangh(a.w. 204) voor. “Maskie kom uit Portugees (vgl. Scholtz: 1980:46) en is meestal by slawe opgemerk (vgl. Roberge 2004:397). Die gebruik daarvan het heelwaarskynlik onder slawe uitgebrei en die woord was volgens WAT-inskrywings ook in die binneland bekend.

h- aan die begin van woorde
Hoekom klink die h- in die Afrikaanse woord “hand anders as die h- in die ooreenstemmende Engelse, Duitse en Nederlandse woorde? In Afrikaans word die –h- stemhebbend uitgespreek, en in die vermelde gevalle stemloos. De Ruyter en Kotzé (ongepubliseer) met verwysing na Emeis (1946:5), toon aan dat die h- in Maleis, soos in Afrikaans, stemhebbend uitgespreek word.

Beklemtoning
In Nederlands val die woordklem op die eerste deel van die woord. Dit bring mee dat maklik is om die woordeindes nie uit te spreek nie. Hierdie reël kom ook voor in die Maleise ontlenings in die Kaap: De Ruyter en Kotze (ongepubliseer) wys daarop dat “goenoeng (“berg”) as “ghoeni uitgespreek en “goenting (“skêr), as “ghoenti.

Waar kom baie vadaan?
Dit is nie maklik om te onderskei of invloede van Oosterse tale op Afrikaans van die tuisvaarders,Maleise slawe of ‘n ander bron afkomstig is nie. Die Afrikaanse woord “baie” het duidelike Oosterse wortels en Davids (Willemse en Dangor 2011:59) voer dit na die Maleise woord “bannyak” terug. Is “bannyak deur die tuisvaarders of deur die Oosterse slawe Kaap toe gebring? Dit sal nie sommer vasgestel kan word nie.

Davids (a.w. 59) wys daarop dat die Oosterse Buganese en Makassar-slawe in hulle tale woorde op ‘n vokaal of ‘n -ng eindig. Daarvolgens sal “bannyak deur hulle as “baja en as “banjang uitgespreek word. Of dit al in die Ooste gebeur het of eers ná onderlinge kontak tydens die Kaapse tyd, kan mens nie weet nie.

Wat is “baie se geskiedenis in Afrikaans?
Die bogenoemde drie Kaapse vorme (“bannyak, “baja, “banjang) het in talle variasies in Afrikaans voortgeleef:

  • In briewe in die Transvaalse koerante (Van Rensburg en Combrink 1982:72) kom hulle, naas talle ander variante,  as “banjac, “baja en “baiing voor.
  • “Banja kom die meeste voor, dan “baing”, gevolg deur “baja. (vgl. ook Lätti (1978:19)) en Raidt (1984:112).

Hoe kies mens tussen al hierdie moontlikhede?
Die Taalkommissie van 1921 het besluit “baie moet die manier wees waarop dié woord in Afrikaans gespel word. (Die spelling “baie kom nie in die briewe aan die Transvaalse koerante van die negentiende eeu net so voor nie.)

Dit sluit aan by ‘n besluit van die Bybelvertalers in 1918: “(4) die spelling baie word gevolg (Nienaber 1965:250-251).

Deur die proefvertalings van 1922 en 1929 en die 1933-Bybelvertaling het ‘n groot aantal mense heelwaarskynlik met hierdie spelling vertroud geraak. Die gebruik van “baie deur die hele spektrum van Afrikaans se variëteite wys op ‘n heel vroeë beïnvloeding deur Maleis, sê Ponelis (1993:100-101).

Taalerflatings is nie die enigste Maleise nalatenskap in Afrikaans nie. Maleierkore bewaar vandag nog in hulle kosbare sangtradisie taalwortels wat baie ver teruggaan en met nuwejaar ten toon gestel word. Vir reisigers op ´n Afrikaanse taalroete is dit iets wat die moeite werd is om te onthou!

2.5 Invloed van die slawe en slavinne

Slawe en slavinne wat eers aan eienaars in die Ooste behoort het, is met die retoervloot as enkelinge Kaap toe gebring. Hulle waarde het ook gelê in hulle kennis van Maleis, Portugees en Nederlands (Groenewald 2003:126, 146, Schoeman 2001:511). Dit moet in gedagte gehou word dat hierdie tale in die meeste gevalle aanleerderstale was en dat die slawe se kennis daarvan nie goed kon wees nie.

Slavinne
Die invloed van die Maleis (en ander tale) van die slawe aan die Kaap was nie tot die manlike werkswêreld beperk nie.

De Ruyter en Kotze (ongepubliseer) wys op taalerflatings wat in die huislike kring gebruiklik was, soos “bly, “’n kers doodmaak, “medisyne drink, “kleintongetjie, “kleinvinger, “meisiekind, “seunskind, “stuur groete en “weggooi. Dié woorde het nie in die werkssfeer van tipiese plaas- of hawearbeid tuisgehoort nie. Dit kan eerder toegeskryf word aan die taalinvloed van slavinne wat hulle Maleisgebaseerde Nederlands in die Nederlandse taalomgewing van hulle eienaars in die klein Kaapse nedersetting gebruik het. Daarby kom nog die direkte invloed van Aanleerdersnederlands van getroude slavinne, hulle dogters, soogmoeders (Rosseau 2003) en ander kinderversorgsters op ‘n ‘n groot aantal Kaapse kinders (Franken 1953: 36 e. v.).

Die gehalte van die slavinne se Nederlands? Kolbe, wat tussen 1705 en 1713 aan die Kaap was, het geskryf dat hulle “ellendige” Nederlands gepraat het (Franken 1953: 36).

 

3. Die eerste geskrewe Afrikaans in die Kaap

Die toeris wat in Afrikaans belangstel, kan ‘n interessante toer in Kaapstad onderneem. Aan die einde van Adderleystaat het destyds die ou slawelosie gelê. Met die slawelosie agter jou rug is Seinheuwel voor jou. En net hier kan jou toer begin. ‘n Lekker tog teen die hange van daardie berg uit en jy is in ‘n gebied met ‘n besondere betekenis vir die geskiedenis van Afrikaans: die Bo-Kaap.

In hierdie wêreld is Afrikaans al teen die begin van die negentiende eeu geskryf. Ons weet hoe die vroegste Afrikaans (Kaaps) teen die helfte van die sewentiende eeu gelyk het (vgl. die vorige hoofstuk). Ten Rhyneen ander mense (waaronder Kolbe) het dit toe neergeskryf (Raidt 1976: 11-112).

En hoe het dit in die negentiende eeu gelyk? Dit is wat die Afrikaans van die Bo-Kaap vir ons wys. Die Bo-Kaap was een van twee plekke waar Afrikaans in daardie eeu geskryf is. Die ander plek was die Paarl.

3.1 Skryf, lees en leer in Afrikaans
In die Bo-Kaap het baie mense sedert die einde van die agtiende eeu (Davids 1987:40) met Afrikaans as ‘n lees- en skryftaal kennis gemaak en daarin geleer. Hulle was lede van die Kaapse Moesliemgemeenskap. Dié soort Kaaps wat met Arabiese skryftekens geskryf is, staan ook  as Arabiese Afrikaans bekend. Davids onderskei dit van Kaapse Afrikaans omdat laasgenoemde nie ‘n skryftradisie gehad het nie (Willemse en Dangor 2011:16; 19).

Die manier om Afrikaans deur middel van Arabies te skryf, was nie net in die Kaap bekend nie. In die tweede helfte van die 1800’s is die Kaapse skryftradisie in Kimberley en Uitenhage voortgesit.

3.2 Die Moesliemgemeenskap aan die Kaap
Maleis het ‘n groot rol gespeel in die skryf van die eerste Afrikaans gespeel. Die vryheid om die Moesliemgeloof te beoefen, is skoorvoetend in die VOC-gebiede toegelaat en Maleis was die Islamitiese godsdienstaal.

Die Kapenaars het soms afkeurend na die aanhangers van die Moesliemgeloof verwys en partykeer die spot  met hulle gewoontes en kleredrag gedryf.

Die Moesliemgeloof is nie net deur Kaapse Moesliems, hoofsaaklik slawe, beoefen nie. Vooraanstaande Moesliemleiers uit die Ooste is om politieke redes na die Kaap toe verban. Hier het hulle die Islam  aktief gepropageer, status daaraan gegee en al hoe meer aanhangers gewen.

Gedurende die eerste 50 jaar van die kolonie aan die Kaap het dié geloofgemeenskap maar klein gebly. Teen die einde van die agtiende eeu het die getalle Moesliems egter vinnig begin toeneem. Davids (1987:43) dui aan dat hulle teen 1838 nie minder as ‘n derde van Kaapstad se bevolking uitgemaak nie. Die aanwas het ook uit die gemeenskap wat Kaaps gepraat het gekom.

Baie sprekers van Moesliemafrikaans was nasate van slawe. Hulle het steeds naby aan hulle slaweherkoms en -geskiedenis gestaan en was in die reël baie arm. Van die tweede helfte van die 1800’s af het hulle aktief aan Kaapse samelewingsake begin deelneem en later ook aan die politiek. Hulle doelwitte om samelewingsomstandighede te verbeter, kon hulle nie alleen bereik nie. Meermale het hulle saam met ander groeperings gewerk om daarin te slaag - saam met die Nederduits Hervormde Kerk het hulle byvoorbeeld begraafplaaskwessies aangepak. Ander aksies het oor die verbetering van dienslewering gegaan.

Vir die Islamgeloof is dit belangriker om sy aanhangers te konsolideer as om pogings aan te wend om ’n permanente politieke drukgroep te vorm. Een van Abubakr Effendi se seuns, Achmat Effendi, was ’n kandidaat vir ’n setel in die Kaapse Parlement. ’n Brief waarin hy sy voorneme bekendmaak het hy in Afrikaans met Arabiese letters geskryf. Hy het nie Afrikaans verder in sy veldtog gebruik om vir hom steun op te kommandeer nie. By terugblik wonder mens: Moes hy nie maar gemaak het soos baie politici ná hom nie? Die gevolg is dat hy by die stembus verslaan is.

Moesliemsprekers van Kaaps lees vandag nog die godsdiensgeskrifte soos dit sedert 1869 geskryf is. Die woordeskat en styl daarvan het nie alleen die taal van al die sprekers van Kaaps beïnvloed nie maar ook, in ´n mindere mate, die taal van nie-Moesliemsprekers. Taalkundiges en moedertaalsprekers kan onderskei tussen die Kaaps van Moesliemsprekers en dié van ander sprekers van Kaaps.

3.3 Skryf en leer in Moesliemafrikaans
Afrikaans was in die negentiende eeu al die algemene taal van die Moesliemgemeenskap aan die Kaap (Davids 1987:37), alhoewel dit nog nie ‘n skryftaal was nie.

Arabies as skryfmedium
In die Moesliemtradisie speel geletterdheid ‘n groot rol omdat dit toegang tot die Qoer’aan (Koran) verskaf. Die beste plan om godsdiensgeskrifte toeganklik te maak vir die Afrikaanssprekendes aan die Kaap, was om die Arabiese manier waarvolgens Maleis geskryf is, vir Afrikaans aan te pas. Hierdie aanpassings staan as Jawi bekend (Willemse en Dangor 2011:111).

Die lees en verstaan van geskrewe tekste (“kitaabs) was van onderrig afhanklik. Tuan Guru het alreeds teen die einde van 1700 leerboeke geskryf.

Die lesse in die leerboeke van die Moesliem se godsdiensskole moes van buite geleer word, en is daarom "koplesboeke" genoem. Om te help onthou moes die les hardop gelees word.

Rym het ´n opvallende rol gespeel. Davids gee so ‘n voorbeeld (Willemse en Dangor 2011:67). As mens dit hardop gelees word, kom jy agter dat “dettis” vandag as “dit is” geskryf word.

Gevolge van die gebruik van Arabies
‘n Verbondenheid met die Moesliemgeloof is ‘n doelwit van die geloofskole. ‘n Gevolg van die bywoning van die geloofskole was ‘n styging in die bewoners se geletterdheidsvlak.

Die geloofskole het ‘n beduidende rol gespeel in die uitbreiding van Islam en  geloofsvryheid aan die Kaap, asook in en die vrystelling van die slawe in 1838 (Davids 1987:45). Die invoer van slawe is al in 1815 gestaak. In 1838 was die meeste van die slawe aan die Kaap in die skiereiland gebore en moedertaalsprekers van Kaaps.

Afrikaans in Arabiese skrif is nie net  vir onderrig in die geloofskole geskryf nie maar het  ‘n godsdienstige strekking gehad (Willemse en Dangor 2011:131). Davids (1987:49) wys ook op gevalle waar dit ‘n informele doel gedien het. Hierdie manier van skryf was die enigste manier wat bekend was. Briefies, boodskappe en notas is in Arabiese skrif geskryf en natuurlik ook daardie noodsaaklike inkopielysies!

Met die ontwikkel van Moesliemafrikaans sedert 1800 het die reikwydte van Kaaps aanmerklik verbreed. ’n Nuwe funksie het bygekom met dié dat Afrikaans as godsdienstaal gebruik is. Die Maleise en die Arabiese neerslag in die godsdienstaal het uitgekring en die Afrikaans van meer mense beïnvloed. Van die gevolge daarvan sien mens vandag in gestandaardiseerde Afrikaans, veral wat die godsdienswoordeskat betref.

Behalwe die impak op die Afrikaanse woordeskat kan Arabiese invloed byvoorbeeld ook gesien word in die uitspraak van die stemhebbende–h- (vgl. “h- AAN DIE BEGIN VAN WOORDE”, p. 9) wat as gevolg van hierdie invloed as ‘n –g- uitgespreek is (Kotzé 1985). Dit blyk onder andere blyk uit “gak (“die reg”) en “galaal (“suiwer”, “skoon”) wat in die Ooste (Bahasa Indonesies) as “hak en “halal uitgespreek is.

Afrikaans vervang Maleis
In die madrassas (godsdienstige skole) wat aan die onderrigbehoefte moes voldoen, was Maleis eers die onderrigtaal. Later (in 1815) is dit deur Kaaps vervang (Davids 1987: 45); desnieteenstaande geleerde Moslems (veral uit Oos-Indië) se pogings teen 1800 om Maleis te probeer verskans (De Ruyter en Kotzé 2002:151).

‘n Vernuftig aangepaste Arabiese skryfstelsel is gebruik en mens kon Afrikaans hoor deur die Arabiese tekste hardop te lees (Willemse en Dangor 2011:17). Die uitspraak van die sprekers van Afrikaans uit die negentiende eeu is lank bykans foneties weergegee. Vandag kan ondersoekers dus baie goed agterkom hoe hierdie variëteit van Afrikaans geklink het. Dit is ook verstaanbaat  hoeom ‘n groot aantal woorde uit die Moesliemgeloofswoordeskat deel van Afrikaans geword het, soos “masiet (moskee), “Ramadaan (maand van vas), “bismillah (in die naam van Allah). Afrikaans het in hierdie geloofskole gefloreer.

Die Britse regering het vanaf 1822 slegs Engels as skooltaal in die Kaap toegelaat. Wat het die Moesliemgeloofskole toe gedoen? Hulle het Afrikaans steeds bly gebruik!

Ná 1925 is Maleis glad nie meer in hierdie skole gebruik nie.

Ajami-tale
‘n Groot aantal tale word geskryf deur Arabies aan te pas by die klanke van die verskillende tale, sê Kotzé (2012:476). Tale wat hierdie Arabiese manier van skryf gebruik en dit aanpas het, staan as die Ajami-tale bekend.

Verder maak ‘n groot aantal tale wat van Arabies verskil tog van die Arabiese skryfwyse gebruik, byvoorbeeld Urdu, Malgassies, Sindhi, Kasjmiri, Farsi en Koerdies. Die aanpassings wat aan die Arabiese skrif gemaak word, bring mee dat die teikentaal baie klankgetrou neergeskryf word.

Hoe die teikentaal geklink het? Dit moet ook reg gelees word. Davids was daarop dat in die geval van Kaaps nie alleeen gemeenskapsleespraktyke in ag geneem moet word nie  maar ook die reëls van tajwīd, die manier waarop Arabies foneties geskryf word (Willemse en Dangor 2011:158).

Oudste Afrikaanse publikasie
Die oudste boek in Afrikaans (Van Selms 1953)is waarskynlik Isjmoeni se Betroubare Woord, ook bekend as Gablomaliem uit 1856. Meurant se Zamenspraak dateer uit 1861. Van Gablomaliem het daar ongelukkig geen eksemplaar behoue gebly nie. Die oudste teks in Afrikaans is in Kaaps opgeteken (vgl. Hoofstuk 1) en die eerste boek in Afrikaans is ook daarin geskryf.

Abubakr Effendi se invloedryke Bayān nūd dīn, ’n verduideliking van die godsdiens, is die eerste gepubliseerde teks waarvan daar wel ’n kopie bestaan. Dié boek is eers in 1877 in Konstantinopel gedruk en uitgegee, maar is al vir twaalf jaar voor dié tyd (1865) as studiemateriaal onder die studente van die Ottoman Theological School in Kaapstad versprei.

Afrikaans in Afrika, C. van Rensburg (red.), p 17

Die publikasies in Arabiese Afrikaans gee nie net ‘n beeld van hoe Kaaps geklink het nie, maar ook hoe sy grammatika gelyk het. Davids kon aantoon (Willemse en Dangor 2011:117-118) dat Abubakr Effendi se gebruik van Kaaps nie altyd ooreenstem met die gebruik daarvan in ander publikasies nie. Abubakr Effendi was nie ‘n moedertaalspreker van Kaaps was nie maar moes dit aanleer. Afwykings in die Bayān nūd dīn skryf Davids aan Engelse invloed toe en illustreer dit met die volgende voorbeeld waar Abubakr Effendi nie die Afrikaanse hulpwerkwoord “het” gebruik het nie (a. w. :117-118):

Die sin kan vertaal word met " Allah ta aalaa gemaak vyf gebede verpligtend”, en kom nié ooreen met die Engelse vertaling, “God the most High made five prayers compulsary” nie.


Davids sou die beter Afrikaans van die volgende sin verkies:

Notaboeke waarin studente al voor 1860 Afrikaans geskryf het, bestaan nog. Davids maak melding van koplesboeke wat uit 1806 en 1808 dateer (Willemse en Dangor 2011:67). Daar bestaan 74 notaboeke en publikasies uit die periode tussen 1845 and 1957 (Davids 1987:49). Kotze (2012: 477) wys op ‘n interessante kenmerk daarvan: die Arabiese titels van die meeste van hierdie Afrikaanse tekste kan moontlik op die agting vir die taal van die Qoer’aan dui.

3.4 Die einde van ´n era
In 1957 het die Arabies-Afrikaanse skryftradisie tot ‘n einde gekom omdat die Arabiese skrif van 1898 af gaandeweg deur die Romeinse skrif vervang is. Die ortografie het  by die standaardtaal aangesluit, maar tog het dit die belangrikste eienskappe van Kaapse Moesliemafrikaans behou. In 1957 het Sjeg Achmad Behardien die laaste Arabies-Afrikaanse geskrif geskryf. Islamitiese literatuur is daarna in Romeinse skrif geskryf.

 

_____________

Biewenga, A., 1999, De Kaap de Goede Hoop. Een Nederlandse vestigingskolonie, 1680-1730, Prometheus / Bert Bakker, Amsterdam.

Darmojuwona, S., Suratminto, L., en Groeneboer, K. (reds.), 1996, Vijfentwintig jaar studie Nederlands in Indonesië, Fakultas Sastra, Universitas Indonesia.

Davids, A., 1990, Words the Cape slaves made: A socio-historical-linguistic study, Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 1990, 8 (1), 1-24.

Den Besten, H. 2012a, The complex ancestry of the Afrikaans associative constructions, in T. Van der Wouden, (red.), Roots of Afrikaans, pp. 25-33, John Benjamins, Amsterdam.

Den Besten, H. 2012b, From Khoekhoe Foreignertalk via Hottentot Dutch to Afrikaans: The Creation of a Novel Grammar, in T. Van der Wouden, (red.), Roots of Afrikaans, pp. 221-256, John Benjamins, Amsterdam.

De Ruyter, C. en Kotzé, E. F., Maleis kom Kaap toe, ongepubliseer.

De Ruyter, C. en Kotzé, E. F., 2002, Oor Austro-Nederlands en die oorsprong van Afrikaans, Literator, 23(3) Nov., 139-160.

Du Plessis, H. G. W. en Du Plessis, L. T., (reds.), 1987, Afrikaans en taalpolitiek, HAUM, Pretoria.

Emeis M. G., 1946, Inleiding tot het Algemeen Beschaafd Maleisch, Wolters, Groningen en Batavia.

Franken, J. L. M., 1953, Taalhistoriese Bydraes, Balkema, Kaapstad.

Groeneboer, K., 1993, Weg tot het Westen, KITLV Uitgeverij, Leiden.

Groenewald, G. J., 2002, Slawe, Khoekhoens en Nederlandse Pidgins aan die Kaap, ca. 1590-1720: ‘n Kritiese ondersoek na die sosiohistoriese grondslae van die Konvergensieteorie oor die ontstaan van Afrikaans, M.A.-skripsie, Universiteit van Kaapstad.

Hesseling, D. C., 1923, Het Afrikaans, E. J. Brill, Leiden.

Kotzé, E. F., 1984, Afrikaans in die Maleierbuurt – ‘n diachroniese perspektief, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 24(1), 41-73.

Kotzé, E. F., 2009, Adjektiwiese verbuiging in Afrikaans herbesoek, in Afrikaans: Een drieluik, Den Besten, H., Hinskens, F. en Koch, J. (reds.), (Uitgaven Stichting Neerlandistiek VU, 58.), 125-132, Nodus Publikationen, Münster.

Kotzé, E. F., 2012, The Afrikaans of the Cape Muslims deur Achmat Davids (reds. H. Willemse en S. E Dangor), Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 52(3), 474-479.

Lätti, M. C., 1978, Die taalgebruik van Ons Klyntji 1896-1906, M.A.-verhandeling, Universiteit van die Witwatersrand.

Nienaber, G. S., 1934, Oor die Afrikaanse taal, Swets en Zeitlinger, Amsterdam.

Nienaber, P. J., 1965, Taalkundige probleme by die vertaling van die Bybel in Afrikaans, in P. J. Nienaber (red.), Taalkundige opstelle, Balkema, Kaapstad.

Ponelis, F. A., 1993, The Development of Afrikaans, Peter Lang, Frankfurt am Main.

Raidt, E. H., 1976, Afrikaans en sy Europese verlede, Nasou, Bloemfontein.

Raidt, E., 1984, Interne ontwikkeling van Afrikaans, in Botha, T. J. R. e.a. (reds.), Inleiding tot die Afrikaanse Taalkunde, 52-82, Academica, Pretoria.

Roberge, P., 2002, The Modal Elements mos and maskie in Cape Dutch, Language Sciences 24 (2002), 397–408.

Rousseau, L., 2003, Die Burger, (Bylae, 6 Sept. 2003)

Schoeman, K., 2001, Armosyn van die Kaap. Die wêreld van ’n slavin, Human en Rousseau, Kaapstad.

Scholtz, J. du P., 1980, Wording en ontwikkeling van Afrikaans, Tafelberg, Kaapstad.

Scholtz, J. du P., 1981, Taalhistoriese opstelle, Tafelberg, Kaapstad.

Slomanson, P., 2009, Convergent bootstrapping in syntactic reanalysis. A Malayo-Khoesan conspiracy in Afrikaans syntax? in Afrikaans: Een drieluik, Den Besten, H., Hinskens, F. en Koch, J. (reds.), (Uitgaven Stichting Neerlandistiek VU, 58.), 133-148, Nodus Publikationen, Münster.

Van Rensburg, M. C., en Combrink, J. H., 1982, “Gesondheid in die rondheid, hou jou voete uit Paul Kruger se gront uit”, Acta Academica 16, 70-94.

Voorhoeve, C. L., 1983, Some observations on North-Moluccan Malay, in J. T Collins, (red.), Studies in Malay dialects. Part 2. NUSA: Linguistic Studies of Indonesian and Other Languages of Indonesia, 17, 1-13.

WAT. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Stellenbosch.

 

Publiseer 2013

 © Catharina Loader 2001