`n Khoi-man
Wikipedia: Openbare domain

Daar was twee hoofgroepe van Khoi-Khoin in die Kaapse Skiereiland:

  • die Goringhaikona (Strandlopers)
  • die Goringhaikwa (Kaapsmans)
  • die Gorachoukwa (Tabakdiewe)

Hulle taal vertoon sterk klikklanke wat aan dié van die Santale herinner.

 

1. Die eerste periode in Afrikaans se taalgeskiedenis

Die sosiohistoriese en geografiese omstandighede van die eerste taalkontak tussen Khoi en Afrikaans en die taalgevolge daarvan, word hier van nader te bekyk. Met die fokus wat hier op Khoi val, word die belangrike rol wat ander tale in die wording van Afrikaans gespeel het, soos die slawetale, geensins ontken nie.

Mense wat belang stel in die geskiedenis van Afrikaans interpreteer die taalkontaksituasie tussen Khoi en Nederlands dikwels verkeerd: Hulle sien dit as ‘n grootskaalse algemene taalkontak en maak die afleiding op grond van die resultate van die Khoi-Khoin se Kontak- en Aanleerdersnederlands wat in dié periode opgeteken is. Die duidelike Afrikaanse aard van die vroegste periode van Khoi-Nederlandse taalkontak, soos dit toe opgeteken is, was nie die gevolg van die grootskaalse uitruil van taalkennis nie. Daardie geleentheid het hom eers later, na 1700, voorgedoen.

By terugblik kan duidelike kenmerke van Afrikaans in hierdie vroeë kontak- en aanleerdersvorme tussen Khoi en Nederlands aangedui word. Die vroeë kontakvorme word daarom in hierdie bydraes as Afrikaans van die een of ander variëteit beskou, as dialekte van Afrikaans (Du Plessis 1994), en nie as die een of ander soort Nederlands nie. Franken (1953:94) skryf in dieselfde trant oor wat hy die oudste voorbeelde van Afrikaans noem.

 

2. Taalkontakomstandighede en vroegste optekenings

Baie Khoi-Khoin wat in die kusstreke gewoon het, het Nederlands gehoor (naas ander tale), lank voordat die kolonie in 1652 aan die Kaap gestig is. In hierdie taalkontaksituasie het hulle en die Nederlanders met mekaar begin kommunikeer. Ruilhandel was die hoofsaak. Gebare en ‘n klompie noodsaaklike woorde is gebruik. In sulke taalkontaksituasies is die deelnemers op gelyke voet by mekaar betrokke.  Party was bloot nuuskierig. Ander het probeer om op ‘n manier aan die "gesprekke"  deel te neem.

Wisselvallige kontaksituasies
Die deelnemers aan die taalkontaksituasie het nie stabiel gebly nie. Soms is daar nuwe deelnemers by die taalkontaksituasie betrek: ander seemanne en onder die Khoi-Khoin ook nuwe gesigte.Taalaanleer sou eers later kom.

Algaande het die deelnemers se rolle begin verander en ‘n taalaanleersituasie het ontstaan waar die een groep, die Nederlanders, se taal belangriker geword het as die ander een s’n.

Daar was aanhoudend besoekende Nederlandse skepe met sprekers wat die karige Nederlands in die Khoi-Khoin se kontaktaal gevoed het. In die veertig jaar tussen 1610 en 1650 het 363 Nederlandse skepe by die Kaap aangedoen (Groenewald (2002:99-100)). Naas die Nederlandse skepe was daar ook ander skepe met onder andere Engelssprekende, Franse, en Deense bemannings, tale wat ook gehoor is, maar nie so dikwels soos Nederlands nie.

Tafelbaai was verder nie die enigste vasmeerplek nie, sodat ook ander Khoi-Khoin as die Skiereilandse Khoi-Khoin by geleentheid na hierdie nuwe tale kon luister.

Behalwe om vars voorrade te laai, het die skeepskapteins ook briewe gekry wat vir hulle bewaar is en op hulle beurt het hulle weer nuwe pos agtergelaat.

Sporadiese konfrontasie
Al die ontmoetings het nie altyd vreedsaam verloop nie. ‘n Skermutseling in 1510 het byvoorbeeld tot die dood van Francisco d’Almeida gelei. Dit het tot gevolg gehad het dat Portugese skepe die Kaap vermy het (De Villiers 2012:39-40; Raven-Hart 1967:11-14) en Portugees, die groot handelstaal van daardie tyd, minder aan die Kaap gehoor is as wat verwag sou wees.

Die rol van tolke
Groenewald (2002:98-113) het goed gekyk na die vroeë kontaksituasie tussen die besoekers en die Khoi-Khoin.  ‘n Algemene taalkontaksituasie waar groot getalle Khoi-Khoin en besoekers met mekaar gesprekke gevoer het? Daarvan was daar glad nie sprake nie. Daar was ‘n beperkte aantal deelnemers aan die Khoi-Khoin se kant. Kontak tussen Tafelbaaise besoekers en die Khoi-Khoin, was beperk tot die Strandlopers (Goringhaikona), wat van die strand af geleef het, en nie vee besit het nie.

Tolke het ‘n groot rol in kontaksituasies gespeel. Coree was toe goed  as ‘n tolk bekend. Hy het Engels in Engeland geleer en het tussen 1614-1626 die rol van tolk en veeruilentrepreneur vervul. Ander tolke het ook rukkies in die buiteland deurgebring. Autshumao was vir ‘n tydjie in die Bantam. Hy het Coree opgevolg. Isaac, wie se naam lateraan ook opduik, was waarskynlik ook ‘n ruk in Bantam.

Autshumao (ook bekend as Herrie) was ´n strandloper wat ´n poskantoor vir verbyvarende matrose vanaf Robbeneiland hanteer het. Vandag is een van die bote wat besoekers tussen die Kaap en Robbeneiland vervoer na Autshumao vernoem.

In Ronelda S. Kamfer se kritiese digbundel, grond/Santekraam (Kwela 2011) skryf Jan van Riebeeck (alias God) en Herrie (alias Autshumao) bittersnaakse briewe aan mekaar – Jan in Amptelike Afrikaans, Herrie in eietydse Kaap.

Die bekende Eva
(Khoi: Krotoa)

Die publikasie van Dalene Matthee se Pieternella van die Kaap en Dan Sleigh se Eilande het wye publisiteit verleen aan die lotgevalle van Petronella en haar ma Eva/Krotoa.

Sy was die broerskind van Herrie, die strandloper. Ook was sy Jan van Riebeeck se pleegdogter, die vrou van die kasteel se dokter en het ook tolkwerk gedoen.

Veetransaksies
Veeruil het om ‘n klein groepie afgevaardigdes van beide kante gewentel. Vóór 1614 was kommunikasie sonder ‘n tolk gebrekkig en gebaretaal het ‘n groot rol gespeel. Later het die Khoi-Khoin se handelsafvaardigings gewoonlik ‘n tolk ingesluit want daarsonder kon die veeruil nie goed vlot nie. Groenewald (2002:102) wys daarop dat veetransaksies na Coree se dood afgeneem het.

Veeruil het in elk geval nie sommer spontaan gebeur nie. Vee het vir die Khoi-Khoin te veel waarde gehad. In die ruilgesprekke moes bietjie oorreding gebruik word, wat nie moontlik is as die deelnemers niks van mekaar se tale verstaan nie. Anders moes geweld gebruik word wat niks goeds vir verdere onderhandelinge voorspel het nie.

Skep van vertrouensverhouding
Verbygaande skepe het meestal slegs vir ‘n kort tydjie aan die Kaap vertoef. Dan het daar weer nuwe skepe met nuwe gesigte en nuwe stemme verskyn. Daar moes telkens opnuut vertrouenssituasies geskep word.

Skipbreukelinge moes noodgedwonge langer aan land bly as die gewone besoekers. In 1644 het 340 skipbreukelinge van die Mauritius Eiland vanaf Februarie tot April aan die Kaap oorgebly. Met die stranding van die Nieuwe Haerlem, het sy bemanning wat die vrag moes oppas, in 1647 en 1648 vir meer as ‘n jaar aan die Kaap oorgebly.

Het dit toe makliker met taalkontak gegaan? Dit is nie seker hoe vlot die skipbreukelinge se verhoudings met die Khoi-Khoin verloop het nie. Gegewens is min en berigte oor bogenoemde twee strandings loop soms deurmekaar. Daar was ‘n onderonsie of wat tussen die Khoi-Khoin en die laaste groep skipbreukelinge, maar Janz en Proot se verslag daaroor smeer heelwat toe (Groenewald 2002:105-106, Elphick 1985:87-88) omdat hulle die stigting van ‘n permanente verversingspos wou propageer.

Ideale omstandighede vir taalkontak en taalverwerwing tussen die Khoi-Khoin en die skipbreukelinge het in elk geval nie ontstaan nie. Die deelnemers was nie aan hulleself oorgelaat nie. ‘n Tolk was meestal teenwoordig.

Verslae oor taalkontak
In die verslag oor hierdie verblyf word die indruk gelaat dat die Khoi-Khoin daarin geslaag het om die Nederlandse taal aan te leer (waarna De Villiers (2012:40) ook verwys). Taalkundiges soos Den Besten (1989:219) is verder beïnvloed deur hierdie verwysing in die verslag oor die stranding. Iets van Nederlands kon wel deur ondernemende Khoi-Khoin handelaars aangeleer gewees het. Maar op ‘n groot skaal? Beduidende taalaanleer deur die Khoi-Khoin kon in alle waarskynlikheid, anders as wat mens sou verwag, nie plaasvind nie. Die uitgebreide kontak wat daarvoor nodig was, het nie tussen die Khoi-Khoin en die skipbreukelinge bestaan nie.

Opgetekende woordelyste wys kenmerke eie aan Kaaps
Hoe het die Khoi-Khoin se eerste Afrikaanse woorde geklink? Ons kan baie daaroor agterkom deur te kyk na die optekenings daarvan in woordelyste deur verbygaande seelui (Nienaber 1963:139). Dié woorde was glad nie Nederlands gewees nie!

De Flaucourt het in 1655 sowat 200 Khoi-woorde van die Saldanhabaai-omgewing neergeskryf (Den Besten 1989:218 e. v., Nienaber 1963:105 e. v.). Sy woordelys is die bekendste van die vroeëre woordelyste. Daarin kom woorde en verskynsels voor wat vandag nog in Afrikaans gebruik word, en in Afrikaanse woordeboeke staan.

In De Flaucourt se woordelys is daar duidelike aanduidings van hoe die Khoi-Khoin afvaardigings tydens hulle ontmoetings met Nederlandse matrose die Nederlandse taal probeer napraat het. Daar kom byvoorbeeld inskrywings voor van woorde waar  -

  • ‘n [r] nie aan woordeindes en aan die einde van die voorfinale klankgrepe gebruik is nie;
  • ´n [a] gebruik word waar Nederlands ‘n [Ə] het;
  • ‘n konsonant nie tussen vokale voorkom nie.

Dit was anders as Nederlands.

- Elisie van die Nederlandse intervokaliese -g-
De Flaucourt, wat Franssprekend was, het byvoorbeeld marai (more) opgeteken vir morgen (Den Besten (1989:221) en Nienaber (1963:404)). Hierdie optekening illustreer ‘n verskynsel wat Afrikaans kenmerk:die Nederlandse -g- tussen vokale word in ooreenstemmende Afrikaanse woorde nie tussen vokale gehoor nie, soos in dae (Nederlands dagen).

Wat hierdie optekening so besonder maak is dat hierdie verskynsel slegs 4 keer opgeteken is in die 150 jaar ná 1652, in stukke wat deur die vryburgers en veeboere in die binneland geskryf is (Ponelis 1993:390). Hulle het die –g- in alle waarskynlikheid nie geskryf nie, al het hulle dalk so gepraat, omdat sulke woorde nie genoeg na Nederlands geklink het nie. Den Besten (2012: 86 e.v.) wys ook daarop dat hierdie X-elisie en X-versterking in Afrikaans met mekaar verband hou, en dat Khoi in die bestaan van die verskynsel ‘n rol kon speel (a.w. 92)).

- Die Khoi-kollektiefsuffikse
Die gebruik van die Khoi-kollektiefsuffiks –gu/-ku, met die akkusatief-a, (wat ook die meervoud aandui) is soms neergeskryf as -kwa, en is goed bekend in woorde soos Nama-kwa, Grie-kwa, ens.

In 1623 het Oláfsson, van ‘n besoekende Deense skip, hierdie uitgang neergeskryf en dit –cka gespel. Die Khoi-Khoin het dié woord gebruik om verskillende soorte brode aan te dui (brood en skeepsbeskuit = broodgoed, wat etlike kere opgeteken is).

Nienaber (1963:234) toon aan dat die eerste lid váru-, na fonologiese aanpassings, die bro- van die Nederlandse of Engelse woord vir brood kan wees (brood/bread), wat klop met o.a. Valentijn se latere optekening (1705) daarvan as bro-kwa. Só doen ook Den Besten (1989:219).

Die Khoi se woordvormingstrategie om die Khoi-suffiks –gu/-ku agteraan ‘n leenwoord te voeg, soos Oláfsson (hierbo) in 1623 aangeteken het, is later in Standaardafrikaans erken as: pa-goed. As die fokus op die kollektiefsuffiks se betekenis val, is die woordkonstruksies, pa-hulle, die resultaat.

Die Khoi-Khoin se aanleerderstaal was dus nie suiwer Nederlands nie. Soos te verwagte het dit al die eienskappe gehad van ‘n aanleerderstaal wat die Nederlandse teikentaal gekenmerk het en is dit sonder lidwoorde, lidwoordonderskeidings, vervoegings, verbuigings, ens. gebruik. (Vgl. Markey (1982) asook Muysken en Smith (1995) vir die kenmerke van aanleerderstale).

Reeds kan mens in die Khoi-Khoin se vroeë aanleerderstaal die spesifieke kenmerke wat eie aan Kaaps is, opmerk. Enkele voorbeelde is deur De Flaucourt in 1655 opgeteken.

Vandag nog word wate onder bepaalde omstandighede in Kaaps gehoor (vir die veranderlikes wat die voorkoms daarvan bepaal, vgl. Klopper 1983: 88 e.v.).Volgens dieselfde patroon hoor ons ook in die Kaap: menee, wee, plesie, (meneer, weer, plesier), asook vagiet (vergeet).

By skrywers van Kaaps, soos onder andere Adam Small , kom hierdie voorbeelde en verskynsels dikwels voor: vi’ (vir), ma’ (maar), allahoegste (allerhoogste), gahad (gehad), skielak (skielik). (Small 19753:11)

In Piet Uithaalder se taalgebruik, wanneer hy Kaaps gebruik in sy Straatpraatjie-rubriek teen die begin van 1900 (Adhikari (red.) 1996; Pheiffer 1996), vind mens weereens hierdie woorde en taalverskynsels.

 

3. Die eerste fase in die Afrikaanse taalgeskiedenis: 1559-1658

Waar begin Afrikaans se taalgeskiedenis? Op grond van hierdie vroeë optekenings van die taal wat die Khoi-Khoin by Nederlanders aangeleer het, en die ooreenkoms daarvan met Afrikaans, kan die begin van Afrikaans gedateer word as 1595. Hierdie datum is die begin van die eerste fase in die geskiedenis van Afrikaans, die periode wat gekenmerk is deur ‘n taalkontak wat hoofsaaklik beperk is tot twee deelnemers, die Khoi-Khoin en die Nederlanders.

Hierdie eerste periode eindig in 1658, toe die slawe die samestelling van die aanleerdersgroep begin verbreed het. Nienaber (1994:139) voer ook aan dat die Afrikaanse taalgeskiedenis na regte eerder in 1595 moet begin as in 1652.

 

4. Die vroegste Afrikaanse teks

Behalwe die inskrywings in verskillende vroeë woordelyste, het daar ook ‘n teks uit 1673 (saam met ‘n klompie soortgelyke materiaal),in die vroeë variëteit van Kaaps bewaar gebly. Van Rensburg (Van Rensburg (red.) 1997:25) wys elders daarop dat hierdie teks Afrikaans is, en Kaaps:

Dat is doet: Was makom? Duytsman altyt kallom: Icke Hottentots doot makom. Mashy doot, Icke strack nae onse groote Kapiteyn toe, die man my soon witte Boeba geme.

Wat maak jy? Duusman sê altyd: Ek maak Hottentotte dood. Maskie (Watwou/maak nie saak nie) dood! As ek sterf, gaan ek reguit na ons Groot Kaptein toe. Die man sal my mooi wit osse gee. (Ten Rhyne, V.R.V.14, p. 140)

 

5. Vroeë Khoi-Nederlands: beperkte taalaanleeromstandighede

Kaaps is gemodelleer op Nederlands, eers as teikentaal, en later, vir enkelinge wat Nederlands beter kon praat, as die hoëstatustaal.

As ‘n groep het die Khoi-Khoin Nederlands nooit gebruik nie. Hulle het op verskillende plekke, en onder verskillende omstandighede, verskillende soorte Khoi-Nederlands gepraat. Toe hulle dit as ‘n moedertaal begin praat het, het hulle baie invloed op ander tale uitgeoefen.

Individue kon Nederlands moontlik goed gepraat het. Baie van hulle het hierdie kennis gebruik om as tolke op te tree (Groenewald 2002:120).

Daar was ook geen  inisiatief van die Nederlandse amptenary wat as voorbeeld kon dien nie. Die VOC-personeel het steeds gewissel en buitendien nie persoonlike verhoudings, wat nodig is vir goeie taalverwerwing, met die Khoi-Khoin aangegaan nie. Die ontwikkelde amptenary wat die Nederlands van hulle tyd goed kon praat, het boonop net ‘n klein groepie uitgemaak - die VOC-groep het uit 70% soldate bestaan, waarby nog die ambagslui en hulle helpers getel moet word (Ponelis 1993:11).

Nomadiese lewensstyl
Die Khoi-Khoi het nie konstant in die skiereiland gebly nie, behalwe die Strandlopers (die Goringhaikonas). Die Strandlopers het vroeg in 1600 nie meer vee gehad nie, en het nie nodig gehad om agter weiding aan te trek nie. Omdat hulle nie vee gehad het nie, het die Nederlanders ook nie regtig daarin belanggestel om met hulle kontak te maak nie. Autshumao het buitendien as tolk en middelman vir hulle opgetree. Kontak met die skiereilandse Khoi-Khoin het deur hom geskied.

Langsamerhand het daar Khoi-Khoin om die fort en in die nabyheid daarvan begin woon. Hierdie Fort-Khoi-Khoin (Groenewald 2002:134) kon mettertyd wel ‘n bietjie Nederlands praat (Schreyer, volgens Raven-Hart 1971:118, (in Groenewald 2002:136)). Hierdie groepie het in 1666 tussen 70 en 80 mense bestaan (Elphick 1985:176).

‘n Groep Khoi-Khoin het die nedersetters op gereelde basis van hout voorsien, en het deur hierdie kontak en groter blootstelling bietjie Nederlands aangeleer (Groenewald 2002:111, 198, 202). Taalkontaksituasies was verder maar beperk.

Besoekers wys op die gebrekkige tot karige kennis wat die Khoi-Khoi in die eerste dekades na 1652 van Nederlands gehad het. Vergelyk Schapera oor die situasie by die fort in 1662; Dapper se opmerkings in 1668; Schreyer se aantekeninge van tussen 1669-1677 en Ten Rhyne se indruk in 1673, volgens Nienaber (1953: 112-113). Sprekers wat al so lank taalkontak met Nederlands gehad het, moes na verwagting ten tye van hierdie besoekers se kommentaar, Nederlands al beter kon praat.

In der waarheid was hierdie verwagtings hoogstens  op die geval van die historiese kontak met die nabye Goringhaikona (Strandlopers) asook die Goringhaikwa (Kaapmans) en Gorachoukwa (Tabakdiewe) gegrond. In laasgenoemde twee gevalle was die kontak maar beperk. Die laasgenoemde twee stamme was veebesitters, en hulle het met hulle vee agter weiding aangetrek. Groenewald (202:157) vestig die aandag op Fryke se onsuksesvolle poging tot kommunikasie met die Khoi-Khoin wat hy teëgekom het nadat sy skip in 1681 naby Valsbaai gestrand het. Hulle moes eers ander Khoi-Khoin gaan haal het, wat hom wel kon verstaan.

Tolkkultuur
‘n Rede vir die swak Nederlandse kennis van die Khoi-Khoin in die eerste paar dekades na die stigting van die verversingspos in die Kaap lê daarby dat daar nie tussen die Nederlanders en Khoi-Khoin normale kontaksituasies vir die aanleer van mekaar se tale bestaan het nie, soos Hesseling (1899:19-28) beklemtoon. Die skiereilandse Khoi-Khoin (drie stamme) het deur die tussenkoms van tolke (ook Eva, wat in die fort grootgeword het) nie direkte kontak met Nederlanders gehad nie.

Die teenwoordigheid van tolke op die binnelandse togte waar daar met ander Khoi-Khoin-stamme in aanraking gekom is, verklaar ook die gebrek aan die kennis van Khoi by die Nederlanders (Groenewald 2002:118).

Gebrek aan sosiale integrasie
In die Kaap is die Fort-Khoi-Khoin buitendien nie in die Kaapse sosiale samelewing en kerk geassimileer nie (Ponelis 1993:13, 33-34). ‘n Klompie Khoi-Khoi-eiename (Groenewald 2002: 115) soos Claes Das, Doman (Dominee), Pieter en Cleyn Jan wys slegs op ´n beperkte inburgering in die Kaapse gemeenskap. Die inhiberende taalaanleeromstandighede het omgekeerd ook meegebring dat die sg. krom-Nederlands (Nienaber (1935:79) van die Khoi-Khoin in die beginjare nie deur die koloniste aangeleer is nie.

Omstandighede met negatiewe invloed
Groenewald (2002:136) voer drie redes aan waarom daar in die eerste dekades na 1652 so min kontak tussen die Nederlanders en die Khoi-Khoin was:

  • die klein geografiese gebied waar Nederlands gehoor is;
  • die feit dat die Khoi-Khoin nog vir lank aan hulle tradisionele lewenswyse vasgeklou het, al was dit net in familieverband;
  • daar was slegs ‘n beperkte aantal werkers by die koloniste in diens.

Nog twee redes kan aangevoer word vir die gebrek aan stabiele kontak tussen Khoi en Nederlands:

  • Taal- en kultuurverskille
    Die taal- en die kultuurverskille tussen die Nederlanders en die Khoi-Khoin het vervreemding aan die hand gewerk – ‘n situasie wat nie bemoedigend was vir taalverwerwing op groot skaal nie. Dit is nie net die Khoi-Khoin se kleredrag en sosiale gewoontes wat ‘n gaping geskep het wat die Europeërs nie kon oorbrug nie, dit was ook hulle taal wat ‘n skans teen kontak gevorm het. Khoi was baie vreemd vir die Europeërs. Khoi-keelklanke, die suigaksie vir die verskillende klapklanke, en die vinnige opeenvolging daarvan, wat gepaard gaan met die vrylating van die lug deur die neus, en toonhoogteverskille, was vir hulle totaal onbekend. Waarnemers wat verward was omdat hulle niks van Khoi-Khoin begryp het nie, het ongunstige opmerkings daaroor gemaak (Nienaber 1963:76 e. v.). ‘n Paar eeue later het Daleen Matthee ‘n ander kant van Khoi belig, en waarderend geskryf oor die taal wat klink soos klippertjies wat diep in ‘n kleipot skud, met stukkies voëltaal tussenin.In die loop van die eerste 50 jaar na 1652 is daar min getuienis oor Nederlanders wat Khoi magtig was. Party kon dit darem in ruiltransaksies  gebruik (Groenewald 2002: 136―137). Wrede het genoeg van Khoi geweet om ‘n woordelys op te stel (wat verlore geraak het), maar dit is nie duidelik of hy dit kon praat nie. Na 1700 het die situasie verander, soos in ‘n verdere hoofstuk aangedui sal word.Die Khoi-Khoin daarenteen het westerse kleredrag, veral later in die gebied oos van die Hottentots-Hollandberge, as ‘n statussimbool beskou. Die groepe wat gekompeteer het vir die boonste sport op die sosiale leer, was kenmerkend westers geklee. In alle waarskynlikheid het die mate van verwestering wat mettertyd plaasgevind het, en verder as kleredrag gegaan het, ook die aanvanklike kultuurgaping vernou, gesien van die kant van die nedersetters af. Desnieteenstaande bostaande opmerking, kan die gevolgtrekking gemaak word dat die meeste kenmerke waaraan die Khoi-Khoin uitgeken kon word, van vroeg af gestigmatiseer is (Bredekamp 1982:88).
  • Vyandigheid
    ‘n Tweede rede vir die min kontak met die VOC-amptenare was die wedersydse vyandigheid tussen die Khoi-Khoin en die VOC-personeel. Hierdie spanning het van vroeg af net onder die oppervlakte gelê. Daar was baie redes daarvoor: Van Riebeeck se uitweg om orde te probeer handhaaf deur by tye Khoi-Khoin as gyselaars aan te hou, was een daarvan (Elphick en Giliomee 1989:11). Die slegte verhouding tussen die VOC en die Khoi-Khoi-ruilmakelaars was nog een (Elphick en Giliomee 1989:15). Die VOC wou die Khoi-Khoin-ruilmakelaars se eie winsneming ten alle koste beperk. Vrees vir ‘n grootskaalse aanval deur die Khoi-Khoin was tot en met die tweede Khoi-Khoin-oorlog (1673-1677) miskien die belangrikste rede. Die Khoi-Khoin moes liewer op ‘n afstand gehou word. Hulle het hierdie reputasie ‘n honderd en vyftig jaar tevore gekry toe Francisco de Almeida en 64 van sy manskappe in 1510 in ‘n skermutseling by Tafelbaai omgekom het. Portugese skepe het die Kaap daarna vermy. Hierdeur is die Portugese seemanstaalinvloed op die vroeë Kaaps beperk. In 1579 borduur Thomas Stevens, ‘n matroos op ‘n Engelse skip, voort op hierdie mite wat ontstaan het na die dood van De Almeida. Die skip waarop hy was het naby die Kaap in ‘n storm beland en hy skryf in ‘n brief aan sy pa dat hy bang is hy beland op die ou einde in die hande van die Khoi-Khoin, people that are savage, and killers of all strangers (Nienaber 1963:6). Dit moet nie aangeneem word dat die Khoi-Khoin-leiers graag kontak met die koloniste wou hê nie. Cochokwa (van die Saldanhars) het hulle na een vroeë besoek so ver as moontlik vermy (Elphick en Giliomee 1989:13). Die koloniste se uitbreiding in gebiede wat die Khoi-Khoin as hulle s’n beskou het, is nie deur die Khoi-Khoin sommer aanvaar nie. Hulle was baie ongelukkig daaroor, en het die gladde funksionering van die VOC op talle maniere in die wiele gery om hulle ongelukkigheid te illustreer (Groenewald 2002:165).

Sporadiese buitelandse en binnelandse kontak
Tydens die gereelde besoeke van verbygaande vlote het die gasvryheidsindustrie aan die Kaap letterlik ontplof. Desnieteenstaande die stramheid in die onderlinge verhoudings, was baie van die Skiereilandse Khoi-Khoin, die sprekers van Kaaps, betrokke by geleentheidswerk wat deur die toeloop van mense ontstaan het. Byna ‘n miljoen seemanne het die Kaap gedurende die VOC-tydperk besoek (De Ruyter en Kotze 2002). Daar was ‘n behoefte aan hulp met die op- en aflaai van goedere, boodskappers was in aanvraag, asook wassers en skoonmakers.

Die sprekers van Kaaps was om die besigheidsgebied van die vroeë Kaap gesentreer. Daar kon hulle hulle aangeleerde kennis van Nederlands (en ander tale) goed gebruik. In die onmiddellike binneland was Kaaps toe skaars bekend. Tot het sprekers van Kaaps die Skiereilandse binneland wel by geleentheid besoek, en hulle kon iets van hulle taal daar bekendgestel het. Dit is opgeteken dat Eva asook die tolk en vryheidsvegter Doman, vir rukke in die Skiereilandse binneland gaan bly het om later dan weer terug te keer (Schoeman 2009:16-23). Dié sporadiese kontak van die Kaapse Khoi-Khoin met die binnelandse sprekers, kan ook geïllustreer word aan die hand van die gesprekke waaroor Ten Rhyne in 1673 berig (Schapera 1933: 140). Hy het naby die kasteel gesprekke met Khoi-vegters opgeteken wat aan die tweede Khoi-Khoin-oorlog deelgeneem het. Die oudste oorgelewerde Afrikaanse teks (hierbo) gaan oor een van hulle se oorlogservarings.

Met hierdie beperkte taalkontakmoontlikhede, sou die grootste invloed op die Khoi moontlik van die groot getalle besoekende seemanne gekom het (De Ruyter en Kotzé 2002). In werksituasies waarby die Khoi-Khoin periferaal betrokke was as onder andere huiswerkers in woonhuise en helpers by die bou van die fort, het kontak tussen Nederlands en Khoi ook plaasgevind. Dié soort Nederlands sê Schoeman van die laaste voorbeeld, “would have been of a dubious quality” (Schoeman 2009:44), ‘n kensketsing wat veralgemenend ook op die Nederlands van die besoekende seemanne van toepassing gemaak kan word.

 

6. Die einde van die eerste tydperk in die geskiedenis van Afrikaans

Hoe en wanneer eindig die eerste tydperk in die geskiedenis van Afrikaans? Die tydperk wat gekenmerk is deur die begin van die praat van Afrikaans? Dit het in 1658 geëindig met die koms van die slawe.

Die Kaap het aan die VOC behoort, ‘n reusagtige handelsonderneming. Orals moes alles vlot verloop om sy winsgrens hoog te hou. Aan die Kaap het die amptenare gou gekla oor te min werkers en te veel werk. Dit het implikasies vir die winsvooruitsigte van die maatskappy gehad. In 1658 het die VOC besluit om ‘n plan te maak. Die Khoi-Khoin het met die bou van die eerste fort al gewys: hulle gaan nie die Kompanjie se werk vir hulle doen nie. Dit was vir hulle onnodig. Hulle was tevrede met hulle manier van lewe. Die probleem van te min werkers kon opgelos word met die antwoord wat die VOC in die ooste gevind het. Soos in die ooste, het die bewindhebbers besluit om slawearbeid te gebruik. Die uitvoering van hierdie beleid het geweldige taal- en sosiale gevolge gehad.

Die slawe wat vanaf 1658 aangekom het, het die Kaapse taleprentjie weereens verander. Permanent. Nuwe sprekers het in die Kaap arriveer. Nog nuwe tale is gehoor. Ook die arbeidsprentjie het heeltemal verander.

Na die koms van die slawe was Khoi en Nederlands nooit weer die enigste hooftale in die Kaap nie. Nuwe tale en ander soorte Afrikaans is van toe af gehoor...

 

Verwysings

Adhikari, M.(red.). 1996. Straatpraatjies. Language, politics and popular culture in Cape Town, 1909-1922. Pretoria: J. L. Van Schaik.

Bredekamp, H. C. 1982. Van veerverskaffers tot veewagters.

Belville: Die Wes Kaaplandse Instituut vir Historiese Navorsing.

Den Besten, H. 1987. Het Afrikaans: Mag het ietsje meer Zuid-Afrika zijn/ Onze Taal 56(2/3):24-25.

Den Besten, H. 1989. From Khoekhoe Foreignertalk via Hottentot Dutch to Afrikaans: The Creation of a Novel Grammar. (In: M. Pütz and R. Dirven (reds.) Wheels within Wheels. Papers of the Duisburg Symposium on Pidgin and Creole Languages. Duisburger Arbeiten zur Sprach- und Kulturwissenschaft. Frankfurt am Main: Peter Lang. p. 207-249.)

Den Besten 2012. Speculations on [X]-elision and intersonorantic [v] in Afrikaans. (In Rudolf P. Botha (red.). Language genesis. Stellenbosch papers in linguistics (SPIL 32):45-66.)

De Ruyter, C. en E. F. Kotzé. 2002. Oor Austro-Nederlands en die oorsprong van Afrikaans. Literator 23(3) Nov. 2002:139-160.

 

Desember 2012

 © Catharina Loader 2001