Toe Afrikaans begin het ...

Prof. Christo van Rensburg
Navorsingsgenoot: Navorsingseenheid Tale en literatuur in die SA konteks, NWU, Potchefstroom-Kampus

 

Wanneer is Afrikaans vir die eerste keer gehoor? As mens ‘n bietjie meer as vierhonderd jaar kon teruggaan, sou jy Afrikaans nêrens gehoor het nie. Maar sowat vierhonderd jaar gelede was die omstandighede vir die praat van die eerste Afrikaans al vir ‘n hele tydjie gunstig. Twee belangrike dinge het toe gebeur.

 

Toenemende seevaart
Een van die faktore wat die begin van Afrikaans moontlik gemaak het, het by die skippies gelê wat die vroeë inwoners aan die Kaap, die Kaapse Khoi-Khoin vanaf die Kaap op die see kon sien vaar. Dalk was daar ook verwondering in hulle waarneming van dié vreemde vaartuigies met hulle verskillende vlae wat so skielik op die see verskyn het en dan weer in die verte verdwyn het. Af en toe het hulle die land besoek. Dit was in die sestiende eeu.

Wat die skepe gesoek het? Eers later sou die Khoi-Khoin ‘n goeie antwoord op hierdie vraag kon gee. ‘n Goeie antwoord? Omdat hulle self deel van daardie antwoord geword het. Die ou handelsroetes waarmee hulle die ooste vroeër oorland bereik het, kon nie meer gebruik word nie. ‘n Nuwe plan moes gemaak word. Seelangs lê Suid-Afrika se suidpunt so halfpad tussen Europa en die ooste en dit het ´n belangrike roete geword waarlangs handelsware na Europa vervoer is.

In die Afrikaanse letterkunde kry ons die volgende beskrywing van hoe die inheemse bevolking die verskyning van die skepe en die landing met reddingsbootjies moontlik kon beleef het:

.... ‘n Ding kom uit die water op,
  Daar waar die son al aand gaan slaap,
    ‘n Wit ding nes ‘n skaap ...
    Hy kom op uit dieselfde gat,
  Waar saans die son steek weg sy kop;
Eers was hy klein en laag en plat;
  Ons kyk en kyk, hy rys sy kop
    En rys al hoër op  ....

... Toe vou die ding sy vlerke op ...

... En hy gee kleintjies af eenkant;
En ons hou toe vir hom maar dop:
  Hy gee meer kleintjies anderkant,
Hul sak af oor die rand ...

Uittreksel uit: Hoe die Hollanders die Kaap ingeneem, S.J. du Toit (Groot Verseboek, A.P. Brink)

Handelsbote in die 1500's in Tafelbaai

Verversingspos
Maar die seevaarders het ook ‘n rusplek gesoek. Êrens moes hulle reis onderbreek word. Die reis was anders te lank, en te uitputtend. Sonder om bietjie krag te herwin, nuwe moed bymekaar te maak, vaste grond onder die voete te voel, was die verliese vir die eienaars van die skepe, die Vereenigde Oostindiese Companje (VOC), te groot. Te veel mense kon nie die einde van die vaarte beleef nie. Hulle het siek geword en gesterf. Soms het daar te min mense oorgebly om die skip op see te hou. Hierdie seereise was ook te lank vir water en kos om eetbaar en drinkbaar tebly.

Die tweede deel van die antwoord begin dus hier. Die Khoi-Khoin word betrek by die skepe wat hulle eers net sien verbyvaar het. Hulle sou mettertyd selfs met sulke skepe saamseil.

‘n Goeie oplossing? ‘n Plan wat elke keer sou werk as so ‘n lang seereis na die ooste toe aangepak word? Kon die Kaap nie die rusplek wees waarna die reisigers soek, ‘n plek waar hulle versterk kon word nie? Vars vleis kon mos maklik by die Khoi-Khoin gekry word. Hulle het skape en beeste besit

Skildery van Charles Davidson Bell wat Jan van Riebeeck se eerste ontmoeting met die inheemse volke in 1652 voorstel.
(uit: Rob Marsch, Suid-Afrika Raar maar Waar, p. 28)

Water- en grondkwessies
Die mense op die skepe het egter nie net vars vleis gesoek nie. Hulle het ander behoeftes ook gehad. Water kon geskep word uit riviere wat van die Kaapse binneland af see toe loop. Tuine vir groente en vrugte kon teen die hange van Tafelberg aangelê word. Siek skeepvaarders kon aan land verpleeg word.

Maar water was skaars en nie sommer net vir skep nie. Die Kaap was baie anders as Europa. Vir die Khoi-Khoin was water daar vir hulle en vir hulle vee se gebruik. ‘n Belangrike lewensmiddel. Iets waaroor en waarvoor geveg is! Daar moes onderhandel word voordat iemand dit kon deel. Bartolomeus Dias, die Portugese seevaarder, het hom byvoorbeeld al vroeg so vasgeloop (1488). Hy wou leë vaatjies sommer gou-gou vol water laat maak en dan weer verder vaar. Die Khoi-Khoin was nie daarmee tevrede nie, en het die matrose van hulle waterplekke af verdryf.

Met grond het dit weer andersom gewerk. Om diere wyd te laat wei, was in die haak met die Khoi-Khoin. Bos en plante en weiding kon taamlik vry gebruik word. Na die reëns het die Khoi-Khoin met hulle veetroppe opgedaag. Daar was nuwe, vars weiding. Van ver af kon mens saans hulle wydverspreide vuurtjies sien.

Toe die eerste koloniste hier kom bly het, was dit juis oor grond dat sienings drasties moes verander. Grond het nou aan grense onderhewig geraak. Eiendomsreg (´n onbekende begrip vir die Khoi-Khoin) en oortreding van die eiendomsreg het ter sprake gekom. Die nuwe aankomelinge het vir hulle afgebakende plekke gekry, en permanent daar begin woon. Hulle het nie belanggestel om agter weiding aan te trek nie. Hulle het ook nie vee gehad nie. Hulle het daar gaan woon waar die Khoi-Khoin gewoond was om hulle kuddes na die eerste reëns te laat wei ...

Na mate die koloniste meer grond nodig gehad het, baie jare later, het hulle plase geregistreer en dorpe aangelê. Boonop het die VOC nie toegelaat dat die Khoi-Khoin grond besit nie.

Taalkwessies
Toe die Khoi-Khoin die skepe dopgehou het, kon hulle dalk ook gewonder het hoe die mense op die skepe met mekaar gepraat het, hoe hulle mekaar verstaan het.

Partykeer het die verbyvaarders hulle reise onderbreek en land toe gekom om voorrade aan te vul of hulle kragte te herwin. Soms kón die skepe nie verder vaar nie. Die bemanning moes dan maar op land sien hoe hulle oor die weg kom totdat ander skepe wat gesien het wat gebeur, hulle later weer opgelaai het.

Die Khoi-Khoin het gehoor dat die mense heeltemal anders as hulle praat. Totaal onverstaanbaar. Andersom was dit ook die geval. Hulle kon mekaar nie verstaan nie.

Hierdie skipbreukelinge het af en toe vir lank in groepe aan land gebly. Dit het gebeur dat party van die Khoi-Khoin sommige van hulle leer ken het. Maar die kennismaking was nie permanent nie. As die Khoi-Khoin vee gehad het, moes hulle weer na nuwe weivelde gaan soek. Of daar het weer skepe verbygekom wat die skipbreukelinge opgelaai het. Ondertussen is daar oor en weer gepraat en beduie.

‘n Paar tolke kon hulle mettergaan goed verstaanbaar maak. Oor kos en water, met nuwe name vir nuwe sake. ‘n Hele klompie woorde is op hierdie manier geskep en aangeleer. Party skeepslui en ander besoekers het van hierdie woorde opgeskryf. Hulle het nie geweet hoe belangrik hierdie optekenings was nie. Hierdie dokumente bevat woorde van die eerste Afrikaans.

Dié dokumentering het vanaf die einde van 1500 ´n aanvang geneem toe die Khoi-Khoin met die skepe van die Nederlanders kennis gemaak het -  Van Linschoten in 1592, De Houtman en Lodewycksz in 1595 (Nienaber 1963:59; Nienaber 1994:139).

Alle Khoi-Khoin het egter nie met die Hollanders kontak gemaak nie. Die groepe wat die meeste met die seelui van die verbyvarende skepe in aanraking gekom het, was diegene wat op die Skiereiland teenaan die strand gewoon het omdat hulle nie meer vee gehad het nie, of andere wat die weiding van die Skiereiland gereeld besoek het (vgl. Bredekamp (1982:13-21), Elphick en Malherbe (1989:7) en Groenewald (2002:102-112)).

Al hoe meer Nederlandse skepe het vanaf 1616 begin om Tafelbaai te gebruik, in opdrag van hulle eienaars (Raven-Hart 1967:86).

Die gevolge van hierdie taalkontaksituasie tussen die vroeë Skiereilandse Khoi-Khoin en Nederlanders kan vandag nog op verskillende maniere in Afrikaans gehoor en gesien word (Roberge 2012).

 

In hierdie reeks ons kyk na wat in daardie eerste tyd met die nuwe taal gebeur het. Daarna word gekyk na die omstandighede wat tot vandag toe meegewerk het om verskillende soorte Afrikaans te ontwikkel, en laastens kyk ons hoe dié soorte Afrikaans gedurig moes aanpas.

 

Verwysings

Bredekamp, H. C. 1982. Van veerverskaffers tot veewagters.

Belville: Die Wes Kaaplandse Instituut vir Historiese Navorsing.

Elphick, R. en V. C. Malherbe. 19892. The Khoisan to 1828. In Elphick, R. en H. Giliomee (reds.) The shaping of the South African Society, 1652-1840. Kaapstad: Maskew Miller Longman. p. 3-65.

Groenewald, Gerald. 2002. Slawe, Khoekoen en Nederlandse pidgins aan die Kaap, ca. 1590 – 1720. ‘n kritiese ondersoek na die sosio-historiese grondslae van die konvergensieteorie oor die ontstaan van Afrikaans. MA Universiteit van Kaapstad.

Nienaber, G.S. 1963.Hottentots. Pretoria: Van Schaik.

Raven-Hart, R. 1967. Before van Riebeeck. Callers at South Africa. 1488-1652. Cape Town: Struik Ltd.

Roberge, P. T. 2012. Afrikaans. “Might it be a little more ‘South Africa’?” (In Van der Wouden, T. (red.). 2012. Roots of Afrikaans. Selected writings of Hans den Besten. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins publishing company. p. 389-398.)

 

Desember 2012

 © Catharina Loader 2009