Professor Christo van Rensburg skryf verder ...

Kaart van die binnelandse grondgebied

 

A Waar Afrikaans toe vlam vat: Die omstandighede

1. Oogmerke

In hierdie hoofstuk val die klem op die afbakening van die gebied waar Afrikaans sy beslag gekry het, ʼn aanduiding van die lewensomstandighede en sosiale geskakeerdheid van die inwoners, en die taalkontaksituasie wat tussen hulle ontwikkel het.

2. Aanloop

Waar en hoe het dit gebeur dat Afrikaans werklik vlam gevat het? In 1803 gee 'n reisiger met die naam Lichtenstein  ons ʼn goeie idee. Hy skryf dat hy ʼn interessante taal gehoor in stories, wat drie jong veeboere van die Hantamstreek meer as twee honderd jaar gelede om 'n braaivleisvuur vir hom vertel het. Hy noem die taal van sy  braaivleisgenote 'n eie kolonistetaal.

Dié taal was kenmerkend kort en kragtig, skryf hy. Die Nederlands van die Kaapse hoëlui het hy gereeld gehoor. Hiér by die veeboere is 'n ander taal as Nederlands gepraat. Op grond van sy kennis van Nederlands kon hy genoeg daarvan verstaan. En die taal? Natuurlik was dit Afrikaans. Die kolonistetaal waaroor hy skryf, word hier Veeboerafrikaans genoem.

'n Ander optekening wat met Lichtenstein s’n verband hou , is in 1710, 'n negentig jaar vroeër, gemaak. Oor ʼn ander taal: Khoi-Afrikaans. Kommissaris Cnoll was op pad na die warmwaterbron by Caledon, toe hy ’n groep Khoi-Khoin tussen die Hottentots-Hollandsberge en Caledon aangetref het. Wat belangrik is, is dat hy ook hulle taal op grond van sy kennis van Nederlands kon verstaan (Nienaber 1953:188).

Twee tale is dus hier ter sprake. Eerstens die Veeboere se Veeboerafrikaans wat Lichtenstein gehoor het. En tweedens Khoi-Afrikaans, ´n eie soort Afrikaans wat die Khoi-Khoin gepraat het, ´n  aanleerdersafrikaans met baie Khoi-Khoin-kenmerke.

3. Die binnelandse grensgebied

Talle taalhistorici noem die 18de eeu tereg as die eeu van besondere betekenis vir die vorming van Afrikaans. Raidt praat byvoorbeeld van "die wordingstydperk van Afrikaans" (Raidt 1994:187), en Afrikaans se "mees kritieke periode", (Raidt 1994:256).

In die 18de eeu het die gebied waar verskillende soorte Afrikaans gehoor kon word, gestrek vanaf Kaapstad tot diep in die binneland. Binne hierdie groter afbakening kan ´n effens kleiner spraakgebied afgebaken word. Hierdie gebied (waar bv. Lichtenstein en Cnoll ander tale as Nederlands gehoor) kan die 'Binnelandse Grensgebied' genoem word (Van Rensburg 2013). In hierdie wêreld het Afrikaans tussen 1700 en 1800 sy beslag gekry.

3.1 Afbakening

Die Binnelandse Grensgebied, word:

  • aan die suid-westekant aangedui deur die Hottentots-Holland-berge, en die berge ten noorde daarvan - oor hierdie berge ry mens vandag gemaklik met vyf passe, soos die Sir Lawrys-pas. (Vgl. ook Nienaber (1953:154) en Groenewald (2002:159)). Hierdie berge vorm ook die grens van die Overberg-streek (vgl. Raper 2004:296), wat ook ingesluit was by die groter 18de eeuse afbakening;
  • Ooswaarts van die Hottentots-Holland-berge is die gebied begrens deur die Keirivier, nog oos van die latere Graaff-Reinet;
  • Noordwaarts is die ander grens ruweg deur die Oranjerivier gevorm;
  • Aan die suidekant is die gebied deur die Indiese Oseaan afgesluit

Hierdie gebied kan in twee dele verdeel word.

  • Van Stellenbosch af, ooswaarts, lê ´n gebied wat reeds vroeg as die Oosgrensdistrik bekend gestaan het. Visagie (2012:105–6) sê in dié verband: ‘Stellenbosch kon vir enkele jare tot voor … 1785 … ’n oosgrensdistrik genoem word, aangesien die Onder-Visrivier deel van sy oosgrens uitgemaak het’.
  • Penn en ander historici (o. a. Legassick 1989: 358 e.v.) onderskei naas hierdie deel 'n westelike gebied wat tot aan die weskus en die Oranjerivier in die noorde gestrek het.

Die relatiewe isolasie van die inwoners van die Binnelandse Grensgebied word deur Elphick en Malherbe (1989:8) onderstreep as hulle sê dat dié grens(gebied) maar min effek op die suidwestelike Kaap gehad het.

3.2 Identiteit

Daar kan van hierdie Binnelandse Grensgebied en die besondere taaldinamika van sy sprekers gepraat word op grond van die volgende onderskeidings:

3.2.1 Stigtingsgeskiedenis

Die stigtingsgeskiedenis van die inwoners was nie meer gerig op die belange wat in die Kaapse buitedistrikte van betekenis was nie. In die Binnelandse Grensgebied was daar ʼn nuwe selfbewussyn, wat anders gelyk het as in die geborge Kaapse omgewing. Hulle ervarings is nuut verwerf. Hulle was in ´n oorleweringstryd gegooi  en onderlinge verbondenheid was van groot belang. Ou ervarings is vergeet, of anders voorgestel (vgl. Van Eeden, 2012 en Du Plessis, 2013).

3.2.2 Intrekkers

In die Binnelandse Grensgebied was daar teen die einde van die sewentiende en aan die begin van die agtiende eeu, nuwe intrekkers (vgl. Bergh, Visagie 1985). Hulle het uit twee hoofgroepe bestaan:

  • Die veeboere se geskiedenis gaan terug tot by die groep kleinboere wat verantwoordelik was vir die kweek van graan en groente op die vryburgerplasies wat Van Riebeeck 5 jaar na die koloniestigting (in 1657) begin het. Hulle was egter nie meer dieselfde mense was nie. Die ou Vryburgers is stelselmatig verplaas deur mense wat nie meer saaiboere nie maar veeboere wou wees, omdat veeboerdery meer belofte ingehou het. Daarvoor was daar meer grond nodig. Grond was in die Binnelandse Grensgebied te kry. Hierdie manier van boer het meer rondtrek en meer onderlinge verbondenheid meegebring om ʼn voortbestaan te beding. Oorsigtelik gesien het die verandering nie werklik beter lewensomstandighede meegebring nie. Die groot getalle wild in die binneland was aantreklik: dit het oorlewing vergemaklik en handeldryf gestimuleer.
  • Die Khoi-Khoin wat in die Kaap en die Kaapse binneland gemarginaliseer geraak het (vgl. Bredekamp 1982). Die redes daarvoor was velerlei:
    -  twee oorloë;
    -  onderlinge wantroue;
    -  verlies aan vee en daarmeegepaardgaande miskenning;
    -  verlies van grond (wat deur die VOC oorgeneem en ook aangekoop is);
    -  die daaropvolgende gebrek aan bestaansmoontlikhede.

Hulle het 'n ruk voordat die veeboere oor die berge getrek het, ongeveer in die laaste twee dekades van die sewentiende eeu, begin om in klein groepies na die binneland toe te trek. Hulle het óók oor die Hottentots-Holland-berge, ooswaarts en noordwaarts uitgebrei. Baie was verarm, maar daar was van hulle wat vee saamgeneem het. Dit was waarskynlik een van hierdie groepe wat Cnoll raakgeloop het.

In die Binnelandse Grensgebied het daar altyd ook nog enkele tradisionele Khoi-Khoin-groepe gewoon. Hulle was taamlik geïsoleer van die Kaapse Khoi-Khoin. Hulle tradisionele bestaan het egter gou tot ´n einde gekom. In 1797 het Barrow berig dat daar na die begin van die agtiende eeu in dié gebied geen onafhanklike Khoi-Khoin gemeenskappe meer oorgebly het nie (Barrow 1801, I:93).

3.2.3 Trekroete-geskiedenis

Die Veeboer-kontrakte met betrekking op lening- en ander plase (wat nie in alle gevalle wetlik aangegaan is nie), wys hoe hulle spore na die begin van die agtiende eeu geloop het. Teen 1760 was hulle reeds naby die Buffelsrivier in die noordweste, en in 1785 al verby Graaff-Reinet in die ooste.

En die Khoi-Khoin se trekroetes? Oorgelewerde plekname dui dit aan: Hogekraal by Knysna (Nienaber 1989:XXV), later Pacaltsdorp, was die woonplek van die Hoogstaanders, 'n skiereilandse stam (Elphick en Malherbe 1989:7). Dit was die Hollanders se naam vir die Goringhaikwa (Nienaber 1989:410-4), heelwaarskynlik 'n ongemaklike vertaling van ´n Khoi-naam wat "belangrike mense" beteken, dus mense wat 'n hoër stand  as ander gehad het. In die Knysna-omgewing hoor mens vandag nog die eienaam 'Koeries', ʼn ou stamnaam wat steeds met die Goringhaikwa verbind kan word.

3.2.4 Taalsituasie

Wat die vorming van Afrikaans betref, was die taalsituasie in die Binnelandse Grensgebied bevorderlik vir dinamiese taalprosesse wat in die taalkontaksituasie tussen die twee vestigingstale kon afspeel.

Die sprekers van Khoi-Afrikaans was meer as die Veeboere en almal het uitsluitlik hulle soorte Afrikaans gepraat. Dit was nie 'n eenvormige Afrikaans nie.´n Wye verskeidenheid van taalskakerings het Khoi-Afrikaans gekenmerk - 'n luuksheid wat in die geskiedenis van Afrikaans nog net vir daardie Afrikaanssprekers beskore was.

Op die een punt van dié wye taalspektrum kon die Afrikaans van die veeboere onderskei word; aan die ander kant die Aanleerafrikaans van die Khoi, met tussenin talle skakerings van elkeen van dié  twee variëteite.

Sprekers van 'n derde taal, Engels, het eers 100 jaar later teen die einde van die sewentiende eeu, in die oostekant van die streek, 'n rol begin speel.

Hoe het die Khoi-Khoin Afrikaans leer praat? Gedurende die tweede 50 jaar van die sewentiende eeu, ná die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap, het kontak tussen Nederlandssprekendes en Khoi-Khoin getaan. Dit kon egter die taalproses nie meer stop nie aangesie die aanleerdersproses toe alreeds vanaf 1595 goed op dreef was.

Khoi-Afrikaans het dus reeds 50 jaar vóór Van Riebeeck (Vgl. HOOFSTUK 1) ´n aanvang geneem. Toe besoekende Nederlandse seelui met die skiereilandse Khoi-Khoin-stamme kontak gemaak het, was (soos deur die seelui opgeteken) 'n soort van Khoi-Afrikaans reeds hulle kommunikasietaal.

In die stuk of twintig jaar voor die einde van die sewentiende eeu het die Khoi-Khoin begin wegtrek uit die Kaap uit. Aan die buitewyke, Stellenbosch, Tulbach en Franschoek, het baie van die Khoi-Khoin as werknemers op plase gewerk. Dit was nog ´n bydraende faktor in die ontwikkeling van Afrikaans.

Die Khoi-Khoin se Afrikaans kon gegradeer word op grond van minder of meer Khoi-elemente, en kon uitgeken word aan:

  • Aanleerdersvorme soos:
    -  die kenmerkende grammatika-aanleerdersvorme, waaronder 'ons' as onderwerp.
       Dis al in 1672 by  Khoi-Khoin-sprekers opgeteken (sien later).
    -  kenmerkende uitspraaksvorme waaronder die elisie van interkonsonante  en uitgange:
       'môre' en nie 'morge(n)' nie;  'hê' en nie 'hebben' nie; 'gee' en nie 'geven' nie - toe Lichtenstein geskryf het oor die taal wat so kort en kragtig was,
       kon dit nie dalk die    laasgenoemde korter vorme as Nederlands wees wat hy gehoor het nie?
  • Wat die gebruik van 'ons' as onderwerp betref: Aanleerders, ook elders, volg ʼn bekende strategie wanneer dieselfde woord in die doeltaal verskillende onderwerp- en voorwerpvorme het. Die wij/we van die onderwerp word anders as voorwerp gebruik: vgl. wij/ons (Nederlands) en we/us (Engels). Die tipiese strategie van aanleerders: moet nie daardie reëls volg nie.

  • Naas die aanleerdersvorme is Khoi-Afrikaans ook onderskeibaar op grond van die Khoi-basis daarvan, soos byvoorbeeld:
    – gu aan die einde van woorde, soos in Pa-goed;
    – Khoi-leenwoorde soos Gariep (Grootrivier).

Teen die einde van die sewentiende eeu was die taalverplasing van Khoi na Khoi-Afrikaans toe al byna afgehandel (Lichtenstein). Die uitwissing van ʼn groot deel van die Khoi-Khoin-bevolking deur die pokke-epidemie van 1713 het die omskakeling verder versnel omdat familiestrukture waar tradisies soos moedertaal gekoester kon bly, ernstig aangetas is. Groot getalle Khoi-Khoin kon Khoi-Afrikaans teen die begin van die agtiende eeu al as 'n moedertaal praat.

3.2.5  ʼn Komplekse spraakgebied

In die Binnelandse Grensgebied het die inwoners dus binne 'n nuwe sosiale ruimte  volgens nuwe kodes en norme gefunksioneer. 'n Nuwe lewenswyse is gevestig, en nuwe ondersteunende mites het ook hulle rol gespeel. Hoe verder van die vertrekpunt af, hoe sterker. (Vgl. Du Plessis 2013:443, en Jordaan 2004 oor mites.)

In hulle verwysing na die inwoners van die Binnelandse Grensgebied maak VOC-amptenare, kerkadministrateurs, reisigers, sendelinge, ens. van sosiale geledinge melding waarvan nie aan die Kaapse kant van Hottentots-Holland-berge sprake was nie.

Hierdie nuwe sosiale onderskeidings het te make gehad met (Giliomee en Mbenga 2007:68; Giliomee 1989:457 en ook Penn 1995:11): ras, geloof (gedoop/Christen of nie), kultuur (huisbou, kosmaak), ongelyke toegang tot grond, en ongelyke toegang tot mag.

Op grond daarvan, is daar, oorsigtelik gesien (vgl. ook Du Plessis 2013:), gepraat van die volgende groepe:

  • veeboere (waaronder die met grond en die sonder grond, 'n basis waarop statusonderskeidings getref is);
  • basters;
  • oorlams;
  • slawe;
  • Khoi of Khoi-Khoin (Giliomee 1989:456, Burchell 1967);
  • Khoisan.

Onder die genoemde groepe kon subgroepe onderskei word:

  • 'n Groep wat uit sowel Basters en Khoi-Khoin bestaan het en wat in die Oranjerivieromgewing gaan woon het, is in 1813 deur die sendeling Campbell 'Griekwas' genoem. Die dorp Klaarwater het Griekwastad geword. Die Khoi-stamnaam 'Gri-', gebaseer op die naam van die Khoi-Khoin in hierdie groep, het die basis vir die naam, Griekwa, gevorm. Dié name word vandag nog gehoor in name soos dié wat in Elias Nel se werke voorkom: Gariqu en Anorrogri as stamkapteins, Grigomaqi as die kind van 'n stamkaptein en daar word ook gepraat van die Gariguriqua-stam (Hendricks 2013). Hulle Afrikaans is bekend as Griekwa-Afrikaans, ʼn onderverdeling van Oranjerivierafrikaans. Al die Griekwas het nie met Campbell se naamsverandering genoeë geneem nie. Hulle het dit beskou as ´n saamgooi onder een naam van geledinge waarvan die sosiale status verskil. Die Griekwas het 'n sterk groepsidentiteit gehandhaaf (vgl. Kriel oor die volk se identiteit, 2004). Teen die begin van die negentiende eeu was daar sprake van 'n afsonderlike Griekwastaat (Lichtenstein, aangehaal deur Legassick 1989:380).
  • Weswaarts daarvandaan is ook gepraat van 'n 'Oorlamstaat', onder leierskap van die Afrikanerfamilie.
  • In die suide van Namibië is die bevolkingsnaam 'Basters' behou.

Elkeen van hierdie groepe het die Khoi-variëteit van Binnelandse Grensafrikaans gepraat.

Die belangrikheid van die vae idee van Hollandsheid wat saamgebring is na die Binnelandse Grensgebied, is oor ʼn wye front as ideaal voorgehou. Penn skryf "the frontier was ... the sight of constant battle between different versions of what constitutes Dutch identity" (Penn 1995:XVIII).

3.2.6 Twee sosiale merkers

In samehang met die groepdiversiteit waarvan hierbo melding gemaak is, het daar in die Binnelandse Grensgebied 'n sosiale klassestruktuur gegeld waar twee merkers besonder beduidend was:

Veebesit

In die konstante mededinging om hoër posisies op die sosiale leer in die Binnelandse Grensgebied (Giliomee 1989:458) was veebesit 'n belangrike klasbepaler. Elke inwoner van die Binnelandse Grensgebied se lewe is daardeur geraak (vgl. ook Du Plessis 2013:446). Veebesit kon omgekeer word, en met veeverlies het statusverlies gepaard gegaan. Hierdie onsekerheid van status (Giliomee 1989:430) is besweer deur konstante en opportunistiese pogings om vee in die hande te kry, en te behou, in baie gevalle deur 'n komplekse intergroep-netwerkaktiwiteit (Giliomee 1989:430).

Die Khoi-Khoin het nooit burgerregte geniet nie (Giliomee 1989:431), en hulle het aan die onderpunt van die sosiale leer gestaan (Raidt 1994:256). Waar Khoi-Khoi wel vee-eienaars was, is die statusplafon waarvan hierbo melding gemaak is, deurbreek. Dit is opgeteken dat Khoi-eienaars in 1798 in die Graaff-Reinet-distrik 7500 beeste en 30500 skape besit het (Giliomee 1989:431). Die Kok-familie van die Bastergroep aan die Oranjerivier het meer as 5000 beeste gehad (vgl. ook Legassick 1989:379). San-groeperings, waar onderskeibaar, het nooit werklik deel van die binnelandse sosiale strukture gevorm nie.

Taalgebruik

Die verskillende soorte Afrikaans wat in die Binnelandse Grensgebied gepraat is se statuswaarde het in baie opsigte verskil.

Op die een punt van hierdie statusklien was die Afrikaans met Khoi-kenmerke en op die ander punt was daar die Afrikaans met Nederlandse merkers daarin. Tussen-in was daar, soos genoem, talle skakerings.

Met die verloop van tyd is die taalverskille stadigaan deur onderlinge beïnvloeding gelykgeskraap. Omdat die taal van die Khoi-Khoin in hierdie maatskappy sterk gestigmatiseer was, het baie van die inwoners ontken dat hulle nog Khoi kon verstaan, wat miskien nie altyd so was nie.

 

B Die Afrikaans wat toe vlamgevat het: Taalvorming

Waarheen het die taalkontak gelei wat tussen die inwoners van die Binnelandse Grensgebied plaasgevind het? Die oogmerke van die onderstaande paragrawe is om duidelikheid te kry oor die verskeie skakerings van Afrikaans wat tussen 1700 en 1800 gepraat is en hoe  die verskillende soorte saamgesmelt het. Ook sal ons probeer vasstel hoe die nuwe taal toe in die Binnelandse Grensgebied vlamgevat het.

1. Die Afrikaans van die Khoi-Khoin en die Veeboere

1.1 Optekenings van Khoi-Afrikaans

In manuskripte waarin daar na die Afrikaans van die Griekwas, Basters en Oorlams verwys is, gee ondersoekers 'n gelukkig ´n goeie idee van die karakter van Khoi-Afrikaans en die skakerings daarvan binne die Binnelandse Grensafrikaans.

Tekste soos die vroeë toneelstukke waarin Khoi-Afrikaans nagemaak is, briewe wat in dié mense se mond gelê is en opmerkings daaroor, is baie interessant en vul ons waarnemings aan. Scholtz (1965:101) wys op die onmiskenbare Khoi-aard van die Afrikaans in Boniface se bydraes. Hy wys ook  op die ooreenkomste van dié Afrikaans met latere Afrikaans (a.w.:77-99).

Vertellings in die streekstaalidioom, soos dié van Elias P. Nel, bevat interessante gegewens oor die taalgebruik van die huidige inwoners van die vroeëre Binnelandse Grensgebied. Vgl. ook die gedigtereeks 'Klipwerk' in Van Wyk Louw se Nuwe Verse.

Die laaste en miskien belangrikste navorsingsbron oor dié soort Afrikaans is sekerlik die taal van nasate van mense wat al vir geslagte lank in hierdie gebied woon. Dis 'n onontginde bron van taalbesonderhede.

1.2 Optekenings van die Afrikaans van die Veeboere

Die Afrikaans, met minder Khoi-merkers, wat die Veeboere geskryf het, is betreklik goed gedokumenteer in 'n paar honderd briewe wat in die loop van die agtiende eeu geskryf is deur veldwagtersbriewe en adjunklandroste  (Van Oordt, L.C. 1947–1956).

Aanvullend gegewens is ook te kry in enkele dagboeke en briewe van onder andere die Voortrekker, Louis Tregardt. Hy het vanuit die Binnelandse Grensgebied met die Groot Trek die gebied verlaat. Sy dagboek is 'n waardevolle dokument oor die Afrikaans van daardie tyd. 'n Warboel woordeindes en woordgeslagte wat onsistematies gebruik word, skep nog ʼn Nederlandsagtige skynbeeld van die taal. Dit was destyds ʼn skerm om sy Praat-Afrikaans weg te steek. Die meeste ou dokumente het so gelyk.

Al hierdie skryfwerk wys dat die skrywers in werklikheid 'n baie swak kennis van Nederlands gehad het. Die veldwagters se verslae wys ook dat hulle geen Nederlands kon praat nie. Tussen skryftaal, wat min inwoners kon beheers (Giliomee en Mbenga 2007:68, Du Plessis 2013:445) en spreektaal het daar 'n diglossiegaping bestaan. Toe daar begin is om Afrikaans te skryf, meestal in ´n lighartige styl (wat in ʼn later hoofstuk bespreek word), het die wêrelde van skryf en praat mekaar stadig begin oorvleuel en het die gaping daartussen vernou. Die taal van die drie jong boere waarmee Lichtenstein gepraat het, en waarvan vroeër melding gemaak is, was juis ´n illustrasie van hierdie spreektaal, ´n taalvorm wat opvallend van Nederlands verskil het.

1.3 Onderlinge skakeling

Onderlinge kontak en beweeglikheid is 'n wesenskenmerk van 'n grensgebied (Giliomee 1989:458). Hierdie kontak bring taalskakeling in spel wat die grense van sosiale geledinge, en daarmee gepaardgaande taalskakerings steeds kleiner maak.

Rondtrekkende veeboere illustreer so ´n geleenthede vir taalkontak. Vroeg in die negentiende eeu het Stockenström opgemerk dat daar in die Graaff-Reinetdistrik tot 900 boere was wat voortdurend moes rondtrek om te oorlewe. Hulle was bywoners en grondlose boere wat oorstaanplek gesoek het vir hulle vee op ander plase of by familielede. Teen die einde van die agtiende eeu het sowat 150 boere van die Suurveld-gebied teen die Visrivier, weer daarvandaan teruggetrek na hulle oorspronklike tuistes(Giliomee 1989:440), maar nog steeds op soek na 'n heenkome.

Die onderlinge kontak tussen die verskillende groepe het op verskeie maniere gewys. Die Veeboere het byvoorbeeld, soos die Khoi-Khoin, die winterveld afgebrand en velskoene gedra. Die dra van hoede, hemde en langbroeke, die aanwending van waens en ryperde (en nie meer ryosse nie) is weer deur die Khoi-Khoin nagevolg is. Die Veeboere se manier van huisbou is deur die Oorlams en Basters nagevolg.

Die kommandostelsel waaraan inwoners oor die hele spektrum van die Binnelandse Grensgebied deelgeneem het, was belangrike kommunikasiesentra.

Verder het almal wat kon, met hulle vee getrek na beter seisoensweivelde toe, gejag en met ivoor en velle, ook onderling, handel gedryf.

Vóór die Veeboere volop was, was daar Trekboere met min besittings in die binneland. Hulle, en soms ook veeboere ná teëspoed, het soms deel van Khoi-groeperings geword om te oorleef. In sulke gevalle, word vermeld (Giliomee en Mbenga, 2007: 68), het die boere dieselfde klere as die Khoi gedra, melk in velsakke geberg en geassimileer aan die Khoi-Khoin se lewenswyse.

Onderlinge huwelike tussen lede van die onderskeie sosiale geledinge was nie ongewoon nie. Giliomee gee enkele voorbeelde in hierdie verband (Giliomee 1989:458). Verskillende waarnemers (Schoeman, Lichtenstein) het ook berig oor verbintenisse ― binne en buite die eg ― tussen boere en Khoi-vroue. Ongeveer 10% van die Veeboere het met Khoi-Khoin saamgewoon (Ponelis 1993:40 met verwysing na Giliomee en Elphick 1990, hoofstuk 2.)

Khoi-werknemers het met verloop van tyd ook nóu by boerehuishoudings ingeskakel en die huisgenote se lotgevalle gedeel. Daar was Khoi-Khoin werknemers wat Khoi in sommige gevalle swakker beheers het as die boerewerkgewers (Gert Nieuwoud, persoonlike mededeling, 2012).

1.4 Maatskaplike stabiliteit

'n Gebrek aan 'n oorkoepelende gesagstruktuur het maatskaplike stabiliteit ondermyn. Die visie dat die Binnelandse Grensgebied daardie verbeelde droomwêreld was waar elkeen tot 'n hoë mate eie besluite kon neem, het baie gedragspatrone onderlê. Dit is soms vryheid genoem. Landdros Wocke van Graaff-Reinet het in 1786 gekla dat almal daar willekeurig optree en presies gemaak het soos hulle wou (Giliomee 1989:429). Goewerneur Janssens het 'n aantekening gemaak (teen 1800) oor hoe elke inwoner sy eie kop gevolg het. Die gebrek aan eksterne gesag het die intensiteit van onderlinge mededinging versterk.

 

2. Beïnvloeding en taalgevolge

2.1 Die woordjie 'ons'

Gesien in die lig van die vloeiende soort van samelewing wat hierbo geskets is, kan mens 'n opmerking van nog 'n reisiger goed verstaan. Dit is ´n uitlating wat 'n klein geskiedenis, die geskiedenis van die woord, in fokus bring. Dis ʼn voorbeeld van wat destyds met baie woorde op die taalterrein van die Binnelandse Grensgebied gebeur het.

Otto Mentzel was 'n reisende onderwyser, en hy was gedurende 1733-1741 in die Kaapse binneland. Hy skryf oor die Afrikaans wat hy gehoor het by 'n boervrou, naby Caledon. Sy het gesê: 'Onz heeft geen Bijbel.' (Mentzel, ([1785-1787]; ook Raidt 1994:175 e.v.; Scholtz 1865:239; 1980:43; Nienaber 1953:163.) Nadat sy op haar gebruik van 'onz' gewys is, het sy glo rooi van skaamte geword.

Hoekom sou sy so gereageer het?

Om die boervrou se gebruik van 'ons' te verduidelik: Vverbeel u 'n sportman gee vandag sy gebruiklike nawedstrydse onderhoud in Engels en sê: 'Us will never loose again.' Wat sou luisteraars van sy Engels dink as hulle dit hoor?

Die sosiolinguiste Jim en Lesley Milroy (1989) het berig oor 'n episode wat aan Menzel se gesprek herinner in 'n onderhoud wat hulle gevoer het. Hulle het gehoor dat 'n seun met iemand buite sy sosiale groep gepraat het. Sy maat het hom met 'n stamp in die ribbes in die rede geval en gesê dat hy gewoonweg moet praat omdat hy nie besig is om op televisie te praat nie.

Hierdie boervrou het nie die “televisie” in gedagte gehou nie. Sy het gewoonweg gepraat en 'ons' gebruik, maar gou agtergekom sy praat met die “televisie” (in haar geval met die "meester", iemand met hoe aansien in die destydse gemeenskap). Mentzel sê dat haar taalgebruik haar sosiaal gemerk het en daarom sy het gebloos.

Die veldwagters wat vroeër sprake was, daarenteen, het die “televisie” wel in gedagte gehou, en deftig geskryf. Hulle het nie 'ons' in hulle veldverslae geskryf nie, alhoewel 'ons' deel van die spreektaal was. Bewyse daarvoor is gelewer deur Menzel en ander waarnemers (Scholtz 1965:80). Volgens hulle  moontlik alreeds teen die derde dekade van die agtiende eeu (Ponelis 1993:218). Hulle het egter 'wij' geskryf en daarmee die sosiale stigmas van die gemeenskap van die Binnelandse Grensgebied onderskryf.

Tregardt, wat ook uit die Binnelandse Grensgebied kom, het die woord 'ons' drie keer (per ongeluk?) in sy dagboek geskryf, en 'wij' veel meer as dit.

Hierdie berig oor die boervrou se mededeling sê heelwat oor taalstigmatisering in die Binnelandse Grensgebied:

  • Teen die begin van 1700 wys optekenings dat 'ons' normaal is in die Afrikaans van Khoi (Scholtz 1965:80).
  • In die slawe se kontaktaal kom hierdie gebruik van 'ons' ook voor.
  • Den Besten (1989:222) verklaar dit as ʼn neerslag van die Khoi-Khoin se kontak met die slawe bevestig.

Die boervrou was dus skaam omdat ʼn besoeker haar betrap het dat sy Afrikaans praat soos wat 'n spreker van Khoi-Afrikaans dit praat.

Die stigmatisering van 'ons' word ook in die 'letterkunde' van die tyd illustrasie:

  • Hoe maak mens as jou karakters in 'n toneelstuk Khoi-Afrikaans,´n hooftaal van die Binnelandse Grensgebied, moet praat? Boniface, die skrywer (1832) laat sy hoofkarakter, Kaatjie Kekkelbek, 'ons' as een van die merkers van dié variëteit gebruik (Scholtz 1965:62).
  • Die teenoorgestelde het ook gebeur. Waar die woorde van burgers andersins getrou weergegee is, is dit anders wanneer woordjie 'ons' benodig is. Selfs in hofverslae, is 'ons' deur 'wij' vervang, skryf Scholtz (1981:116) ... tot in die negentiende eeu.
  • Toe die skrywer van die taamlik bekende 'Lied ter ere van de Swellendamsche en diverse andere helden bij de bloedige actie aan Muisenburg in dato 7 Aug. 1795' (Scholtz 1981:9) met die Swellendammers spot omdat hulle nie soos beroepsoldate opgetree het nie, koppel hy hulle weermagonbeholpenheid aan die gebruik van die woordjie 'ons'. Dit bewys die persepsies van laer sosiale waardering wat aan die gebruik van 'ons' as onderwerp gekoppel is. Dié woordjie kom nie minder nie as 20 keer in die gedig voor.

Hierdie boervrou sê verder dat hulle nie 'n Bybel het nie. Die Nederlandse Bybel was 'n stut wat die arm van die skyn-Nederlandsvaardigheid van die boonste sosiale klas moes help omhoog hou. Dit het ´n kleim van Nederlandsheid afgesteek. Was dié aksie onsuksesvol is die posisie aan die bopunt van die sosiale leer prysgegee.

Dit was met hierdie vrou die geval. Ons kan dus hieruit aflei dat alle boere nie vanselfsprekend tot die hoër sosiale orde van die Binnelandse Grensgebied behoort het nie.

Sosiale stand is ook deur ander merkers bepaal, soos die verkryging van burgerregte. In hierdie verband: Dit word uit berig dat 'n lid van die Bastergroep wie se vrou in dié tyd deur 'n veeboer beledig is, hom in sy aanklag op sy burgerregte beroep het.

 

3. Wat het van die binnelandse Grensafrikaans geword?

Die latere lotgevalle van 'ons' illustreer die hoofpad van Binnelandse Grensafrikaans goed. Toenemend was daar 'n normverskuiwing in die Grensgebied aan die gang waardeur groot dele van die Afrikaans van die sprekers uit die onderste sosiale lae algemeen aanvaarbaar geword het ― 'n normverskuiwing van Nederlands (wij) na meer Afrikaans (ons) toe.

In die onderwerpvorm is 'ons' na die eerste dekades van 1700 meer en meer as deel van die spreektaal van die Veeboere opgeteken (Raidt (1995:134)). Daar was min sprekers wat dit nie so gebruik het nie. Die stigma wat aan die gebruik van 'ons' gekleef het, het verklein en mettertyd verdwyn. Vandag dink niemand meer oor die aanvanklike  stigmatisering wanneer 'ons' gebruik word nie. Baie mense weet nie eers dat dit die geval was nie!

Hoe meer Afrikaans gegroei het, hoe meer het dit sy omgewing ingetrek: die Afrika-elemente, die Khoi-invloed, wat aan die binnelandse Afrikaans van daardie tyd die vonk verskaf vir die maak van 'n nuwe unieke taal in die nuwe landstreek.

3.1 Enkele gevalle wat in gesprekke oor beïnvloedings na vore kom:
  • die herhalingsontkenning (met taatse (=nooit) + tite/tama (=nie); vgl. Den Besten 2012, Ponelis 1993:470 e.v.);
  • die herhaling van voorsetsels (ry in die dorp in);
  • nasalering, soos by 'ons' (maar nie by kuns nie, omdat die woorde se geskiedenisse verskil);
  • die herhaling van verkleinwoorde, soos musiekietjie (Elias. P. Nel);
  • klapklanke wat algemeen gebruik is om emosie uit druk, maar moeilik is om te skryf;
  • name soos Garies, Karoo, Knysna, Okiep, en ander wat 'n baie lang lys uitmaak;
  • uitdrukkings soos groot troppe bees;
  • skakelwerkwoordreekse (soos salf wat aan my gestane smeer moet word (Elias P. Nel 1998:29);
  • saamgestelde werkwoordkonstruksies - Khoi-Khoin is opvallend ryk aan werkwoordsamestellings (Ponelis 1993:330);
  • die parafrastiese se-konstruksie (daar is mense se tande, gehoor in 1776 by 'n Khoi as 'daar is volk zijn tand'. (Ponelis 1993:231 e.v.);
  • indirekte vokatiewe soos 'wil oom Hennie nie sit nie'? Dis 'n genre wat in die negentiende-eeuse koerantdialoë uiters populêr was en wat gekompenseer het vir die relatiewe onbekendheid van –u- as hoflikheidsvorm (Ponelis 1993:253, 254);
  • d/r-wisseling soos in starag, en hourie ding vas (in Khoi word –d- binne in woorde vervang deur –r-);
  • woordvolgorde (vgl. Den Besten 1989), soos in staanmaak/stamaak in byvoorbeeld, (die) boere (het) bome in die modder regop probeer staanmaak (WAT);
  • klemtoon van woorde, soos grawáter en langklóóf wat ook 'n Khoi-geskiedenis vertoon.
3.2 Opmerkings
3.2.1 Gebruiksfrekwensie

Dit is interessant om te sien dat vertalings van Khoi-Afrikaans tans oor ʼn wyer front gebruik word as   ontleende Khoi-vorme.

Twee voorbeelde:

  • Vir die Oranjerivier is die Khoi-naam Gariep enigsins bekend. Die direkte vertaling daarvan, Grootrivier, is meer gebruiklik.
  • 'Pa-goed', met –goed 'n aanpassing van die Khoi-uitspraak, is minder bekend as die vertaling daarvan, 'Pa-hulle'. Die woorddeel '–goed' (die woord 'toorgoed' is by 'n Khoi-spreker teen die begin van die agtiende eeu opgeteken deur Kolbe), is nie meer so herkenbaar as ʼn leenelement nie en is daarom waarskynlik beter ingeburger as Pa-goed.
3.2.2 Onvoltooide prosesse

Die uitbreiding van die Khoi se 'se'-konstruksie is in die agtiende eeu opgeteken (vgl. ook Ponelis 1993:246). Dit is  opmerklik dat hierdie verskynsel (soos 'hulle se wapens') asook ander soortgelyke gevalle, toe die Binnelandse Grensgebied begin verkrummel het teen die einde van die agtiende eeu, nog nie volledig in Binnelandse Grensafrikaans deurgesuurdeeg het nie. Dié Khoi-Afrikaanse konstruksie het destyds naas ander strukture in Binnelandse Grensafrikaans bestaan (soos 'hulle wapens'). Hierdie onafgehandelde prosesse hoor mens vandag nog in streektale in die ou Binnelandse Grensgebied. Sulke streektaalverskynsels in die Noord-Kaap is byvoorbeeld:

  • woon in die dorp in / ry in die dorp in;
  • hom se vriende (sy vriende);
  • Pa-goed teenoor Japie-goed, trein-goed en Kjemmel-goed (Campbell);
  • uitings soos teenoor, ten opsigte van;
  • die spreker se oom;
  • Ag, foeitog, dit was darem nie ʼn lekker ding wat my ma se broer oorgekom hettie (Elias P. Nel).
3.2.3 Reste van Binnelandse Grensafrikaans

Talle elemente van in die Transgariep se praattaal word nog deur oupas en oumas onthou omdat dit destyds nog deel was van Transvaalse en Vrystaatse Afrikaans. Dit het egter nie deel van Standaardafrikaans geword nie maar het grootliks daaruit verdwyn. Dit leef egter nog voort in Binnelandse Afrikaans se streeksvariëteite:

  • gemeinte;
  • ek kan hom nie;
  • hy ken dit sekerlik regkry;
  • hunning;
  • kjent;
  • jaste; ens.

Met die vernederlandsing van die boonste sosiale laag se Afrikaans, teen die begin van die twintigste eeu, het ravier gesneuwel; asook waarskou; lou; Nicou, têre; ens.

3.2.4 Skaars voorbeeld van Khoi-Afrikaans

Daar is gevalle van Khoi-Afrikaans wat nie heeltemal onbekend is nie, maar wat tog nie algemene spreektaal geword het nie. Hulle leef nog steeds in streekstale, veral in die ou Binnelandse Grensgebied.

  • 'Maskie' is 'n baie vroeë optekening van Khoi-Afrikaans, met die betekenis 'maak nie saak nie': Maskie (maak nie saak nie), maak jy my dood, ek gaan reguit na ons groot kaptein toe ....
  • Dieselfde is die geval met die Khoi-woord 'ou', in die betekenis van 'gee': Ou my dan so 'n bietjie meel. Hierdie woord is al in 1626 by Tafelbaai opgeteken, en is vandag nog lewenskragtig in die Oranjerivier-omgewing.
3.3 Oorsigtelik

Franken het oor die aandeel van Khoi-Afrikaans in Standaardafrikaans geskryf, maar dit oorbeklemtoon. Op grond van die toenemende gebruik van Khoi-Afrikaans deur die veldwagters, skryf hy (Franken 1953:189, 193, 194, 204), terugskouend in 1953, dat Khoi-Afrikaans na verloop van ʼn paar eeue die spreek- en skryftaal van die Afrikaanse Volk geword het.

  • Die Afrikaanse spreek- en skryftale kon nog nooit oor een boeg gegooi word nie. Verskille tussen die Afrikaans van verskillende sprekersgroeperings was teen die einde van die Binnelandse Grensafrikaans-tydperk steeds daar, en kan vandag nog raakgesien word. In die skryftaal het ander invloede ook ʼn rol gespeel (vgl. die volgende hoofstuk). 
  • Verder sien Franken nie Binnelandse Afrikaans as die gevolg van die langdurige beïnvloeding tussen die twee hooftale van die Binnelandse Grensgebied soos dit hierbo voorgestel is nie. Met die totnietgaan van dié afgegrensde dialekgebied het die Veeboerafrikaans van die Grensgebied nie geheel en al uit Khoi-Afrikaans bestaan nie. Ná die Groot Trek het die Veeboerafrikaans 'n beduidende kleim in Standaardafrikaans afgesteek. Dit was dié sosiale taallaag wat ontvanklik was vir die latere vernederlandsings, en daarnaas nóg ander taalinvloede ook.

Van die Binnelandse Grensgebied af het Afrikaans ver en wyd uitgebrei. Verskeie ander trekke het Grensafrikaans ook versprei, soos:

  • die Griekwa-trek na Griekwaland-Oos toe;
  • die Basters en Oorlams se trekke na die huidige Namibië toe (Stals en Ponelis 2001);
  • en talle kleiner trekke (soos Coenraad Buys s'n).

 

Hoe werk taalverandering?

Ons kon in die bostaande ondersoek mooi waarneem, aan die hand van die geskiedenis van 'ons', hoe taalverandering werk. Ook is aangedui hoe die twee prosesse van taalnormverskuiwing en taalvervanging aan die hart van die vorming van latere Afrikaans gelê het.

 

Hoe lyk Afrikaans na hierdie eeu se vorming?

Die naam 'Afrikaans' lê nog vorentoe in die toekoms. Die taal self? Die onderskeidende kenmerke wat vandag se Afrikaans van ander tale onderskei, is in dié eeu eers gedeel tussen die sprekers van die variëteite van Binnelandse Grensafrikaans en toe ook stewig vasgelê. In dié honderd jaar het die sprekers van die groot Binnelandse Grensgebied  ʼn taal gedeel wat almal van hulle, oor en weer, saam gemaak of gebou het. ʼn Taal wat meer beteken het as iets waarmee net onderling gekommunikeer is. Dit was ook ʼn taal waardeur mense mekaar onderling goed leer ken en verstaan het.

Die Binnelandse Grensgebied het tot ʼn einde gekom. Die onderlinge beïnvloedingsprosesse om Afrikaans te maak, kon nie in dié tydperk heeltemal afgehandel word nie. Onvoltooide taalkontakreste het saam met sprekersskakerings bly voortleef. Met die daaropvolgende verbreiding van Afrikaans het groter afstande tussen sprekers deel van dié taal se mondering geword.

__________________

Bibliografie

Barrow, J. 1801. An account of travels into the interior of southern Africa between the years 1770 and 1779. London.

Bergh, J.S. & Visagie, J.C., 1985. The eastern Cape frontier zone. 1660–1785, Butterworth, Durban.

Bredekamp, H.C., 1982. Van veerverskaffers tot veewagters, Die Wes-Kaaplandse Instituut vir Historiese Navorsing, Bellville.

Burchell, W.J. 1967 (faksimileeherdruk). Travels in the Interior of Southern Africa. Kaapstad: Struik. (Met ʼn inleiding deur A. Gordon-Brown.)

Den Besten, H. 2012. ‘Double negation and the genesis of Afrikaans’, in T. van der Wouden, (ed.), Roots of Afrikaans, pp. 221–256, John Benjamins, Amsterdam.

Du Plessis, H. 2013. Die groot Trek 175: Storie of historie? Tydskrif vir Geesteswetenskappe 53 (3) pp. 437-451.

Elphick, R. en Giliomee, H. 19892. ‘The origins and entrenchement of European dominance at the Cape, 1652– c.1840’, in R. Elphick en H. Giliomee, (reds.), The shaping of South African Society, 1652–1840, pp. 521–566, Maskew Miller Longman, Kaapstad.

Elphick, R. en Shell, R. 19892. ‘Intergroup relations: Khoikhoi, settlers, slaves and free blacks, 1652–1795’, in R. Elphick en H. Giliomee, (reds.), The shaping of South African Society, 1652–1840, pp. 184–242, Maskew Miller Longman, Cape Town

Elphick, R., en Malherbe, V.C. 19892 ‘The Khoisan to 1828’, in R. Elphick en H. Giliomee, (reds.), The shaping of South African Society, 1652–1840, pp. 3–65, Maskew Miller, Longman, Cape Town.

Elphick, R. 1985. Khoikhoi and the founding of white South Africa, Ravan Press, Johannesburg.

Franken, J. L. M. 1953. Taalhistoriese Bydraes. Amsterdam: A. A. Balkema.

Giliomee, H. 1989. The eastern frontier; 1770-1812. In R. Elphick en H. Giliomee, (reds.). The Shaping of South African Society 1652-1840, pp.420-471. Kaapstad, Maskew Miller Longman.

Giliomee, H. en B. Mbenga. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika, Tafelberg, 2007.

Groenewald, G. 2002. ‘Slawe, Khoekoen en Nederlandse pidgins aan die Kaap, ca. 1590–1720. ’n Kritiese ondersoek na die sosio-historiese grondslae van die konvergensieteorie oor die ontstaan van Afrikaans’, MA-verhandeling, Dept. Suider-Afrikaanse tale, Universiteit van Kaapstad.

Hendricks, F. 2013. Die verrekening van taalvariasie in die prosawerk van Elias P. Nel. LitNet Akademies. Jaargang 11(2).

Jordaan, A.M. 2004. Mites rondom Afrikaans. DLitt-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Kriel, L. 2004. Negotiating identity in contested space: African Christians, white missionaries and the Boer conquest of the Blouberg in the late nineteenth century Transvaal. African Historical Review 30, pp. 148-169.

Legassick, M. 1989. The northertn frontier to c. 1840: The rise and decline of the Griqua people. In R. Elphick & H. Giliomee (Reds.), The Shaping of South African Society 1652-1840, pp.348-420, Kaapstad, Maskew Miller Longman.

Lichtenstein, H. Travels in Southern Africa in the years 1803, 1804, 1805, and 1806, Kaapstad, Van Riebeeck Society, 1928-1930, Van Riebeeck Society (Series), 10-11

Mentzel, O. F. (1921/25, 1944 [1785-1787]). A Geographical and Topographical Description of the Cape of Good Hope. Twee volumes (in drie dele). Vertaal deur H. J. Mandelbrote. Kaapstad: Van Riebeeck-Vereniging.

Nienaber, G. S. 1971. Afrikaans in die vroeër jare, Voortrekkerpers, Johannesburg.

Nienaber, G.S., en Raper, P.E. 1980. Topnymica Hottentotica B. A-Z. Naamkundereeks nr. 10, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Pretoria.

Nienaber, G.S. 1934. Oor die Afrikaanse taal, Swets & Zeitlinger, Amsterdam.

Nienaber, G.S. 1953. Oor Afrikaans. Deel 2, Afrikaanse Pers Beperk, Johannesburg.

Nienaber, G.S. 1963. Hottentots, Van Schaik, Pretoria.

Nienaber, G.S. 1964. ‘Raakpunte met Hottentots’, in H.J.J.M. van der Merwe, (red.), Studierigtings in die taalkunde, pp. 192–207, Van Schaik, Pretoria.

Nienaber, G.S. 1989. Khoekhoense stamname, Academica, Pretoria.

Nel, E. P. 1998. Iets goeds uit Verneukpan? Kaapstad: Tafelberg.

Penn, N.G. 1995. The northern Cape frontier zone, 1700–1815, PhD tesis, Dept. Geskiedenis, Universiteit van Kaapstad.

Ponelis, F.A., 1993. The development of Afrikaans, Peter Lang, Frankfurt am Main.

Raidt, E., 19762. Afrikaans en sy Europese verlede, Nasou, Kaapstad.

Raidt, E., 1994. Historiese taalkunde, Witwatersrand University Press, Johannesburg.

Raper, P. E., 2004, South african place names, Kaapstad, Jonathan Ball.

Roberge, P.T. 2009. ‘Afrikaans and creolization’, in H. Den Besten, F. Hinskens, en J. Koch, (red.). Afrikaans: Een drieluik, (Uitgaven Stichting Neerlandistiek VU, 58.), pp. 209–33, Nodus Publikationen, Münster.

Roberge, P.T. 2012. ‘Afrikaans. Might it be a little more “South Africa”?’, in T. van der Wouden, (ed.), Roots of Afrikaans. Selected writings of Hans den Besten. pp. 389– 398, John Benjamins Publishing Company, Amsterdam/Philadelphia.

Schoeman, K. 2002. Die Suidhoek van Afrika, Protea, Pretoria.

Scholtz, J. du P. 1965. Afrikaans uit die vroeë tyd. Studies oor die Afrikaanse taal en literêre volkskultuur van voor 1875, Nasou, Kaapstad.

Scholtz, J. du P. 1972. Afrikaans-Hollands in die agtiende eeu, Nasou, Kaapstad.

Scholtz, J. du P. 1980. Wording en ontwikkeling van Afrikaans, Tafelberg, Kaapstad.

Scholtz, J. du P. 1981. Taalhistoriese opstelle, Tafelberg, Kaapstad.

Stals, E.L.P. en Ponelis, F.A. 2001. So het Afrikaans na Namibië gekom, Gamsberg Macmillan, Windhoek.

Van Eeden, E. S. 2012. Geskiedenis, grondstudies en grondeisenavorsing ― 'n oop gesprek. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 52(4), pp.503-520.

Van Oordt, L.C. 1947–1956. Die Kaapse taalargief. (Deel I – IV self uitgegee, Kaapstad, 1947– 48; deel V–X in die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, 1950–56.)

Van Rensburg, C. 2013. ’n Perspektief op ’n periode van kontak tussen Khoi en Afrikaans, Literator 34(2), http:// dx.doi.org/10.4102/lit. v34i2.413

Visagie, J. C. Visagie, J. 2012. Migrasie en die gemeenskappe noord van die Oranjerivier. In Pretorius, F. (red.). Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, pp. 97-116.

 

Gepubliseer: Augustus 2014


© Catharina Loader 2001