Konflikterende berigte oor Afrikaans word die wêreld ingestuur

Klein oorsig (2005)

In sommige kringe word beweer dat Afrikaans van krag tot krag gaan - meer tydskirfte, meer feeste, sirkulasiesyfers van koerante styg en die Afrikaanse kreatiwiteit blom soos lank laas tevore.

Ander beweer weer die teenoorgestelde en sien geen toekoms nie.

Nog ander is jobstroosters by uitnemendheid en meen Afrikaans kry nou maar net wat hy verdien - ´n standpunt wat Etienne van Heerden laat gryp na sy pen om te skryf oor "Die kwaadgeit pak my beet oor sy ´dooie´ Afrikaners".

Net soos Frank Jansen (Hom of Kuit, Oktober 2005) beswaard uitroep "het Nederlands wordt elke dag opnieuw mishandeld ... omdat de hele Nederlandse taal in belangrijke taaldomeinen moet wijken voor het Engels", vind ons dieselfde invloed van Engels nie net op Afrikaans nie, maar op alle inheemse Suid-Afrikaanse tale.

Om nie te praat nie van dié wat reken if you can´t win ´em, join ´em - asof die taal van mens se hart hom laat gesê dat hy ´n joiner moet word sodat hy tog net nie met ´n I-am-a-donkey-bordjie om die nek gedisgrace sal word nie.

Daar is ´n taal-argeloosheid wat mooi saamgevat word in Bertie du Plessis se artikel, "Maak van Afrikaans ´n kombuistaal" in die tydskrif Insig (Augustus 2000). Hier meen hy mense moet nou maar aanvaar dat Afrikaans weer´n kombuistaal of op sy beste´n tuiskomtaal geword het. Tereg meen Malan, de Wet en Kriel in antwoord op dié uitlatings van du Plessis (Beeld, 29 Augustus 2000) "dis presies soos Milner met Afrikaans wou maak", dis nou destyds in sy Britse angliseringsbeleid.

En dan is daar dié wat die bul by die horings pak en Afrikaans adverteer asof dit´n blikkie kondensmelk is. Party wil met´n slagspreuk strate vat terwyl sekere broeders en susters weer net sit en kyk - door de donder getroffen.

Vanuit alle rigtings onbetwisbare druk op Afrikaans

In die onderwys, die uitsaaiwese, die reklamewese, die regswese, die navorsingsektor, die werkplek - ´n paar voorbeelde van waar Afrikaans dit deesdae hotagter kry.

In die boek, Kruispad - die toekoms van Afrikaans as openbare taal, lug skrywers soos Hermann Giliomee (red) Lawrence Schlemmer (red), Neville Alexander, Bertie du Plessis en Max Loubser hulle menings in´n reeks artikels en studies. Hulle dui op oningeligte taalbeleidsbesluite wat nie die huidige taalbestel kan help korrigeer nie maar eerder kontraproduktief is. Die politiese, ekonomiese en demografiese belang van Afrikaans word negeer. Ons vind onrusbarende uitsprake oor Afrikaans as tersiêre en regstaal:

"Die grootste slagoffer van verengelsing van die histories Afrikaanse universiteite sal die toekoms van Afrikaans wees."

"Afrikaans op universiteitsvlak is dalk by die kruispad verby en miskien reeds´n hele ent op die doodlooppad."

Die skrywers lewer egter´n positiewe bydrae deur praktiese voorstelle te maak waarin die feit dat die kontoere van tersiêre onderwys´n totale metamorfose ondergaan het in ag geneem word (sien resensie van genoemde boek deur Theo du Plessis, gepubliseer in Beeld, 04/04/2002).

Die debat word voortgesit in´n publikasie van 2004, Afrikaans - lewende taal van miljoene met FIJ van Rensburg as redakteur in ´n publikasie van die sg Vrydaggroep -´n landswye studiegroep wat hulle toelê op studies in verband met Afrikaans. In dié boek is 23 bydraes ingesluit waarin kenners diskusseer oor die invloed op Afrikaans soos dit in die laaste dekade op verskillende lewenssfere uitgekristaliseer het.

En soos die titel van laasgenoemde boek - ´n aanhaling  uit´n Britse koerant ná die verkiesing van 1994 - bewys, maak die taalkwessies in Suid-Afrika ook rimpelings in Europa.

  • In die Salzburger Nachrichten berig  Ralf Krüger op 13 April 2001 vanuit Johannesburg in sy artikel, 'Sprachbarrieren einreissen ... ein guter Südafrikaner sollte dreisprachig seìn', dat´n goeie Suid-Afrikaner in die toekoms dié een sal wees wat drie offisiële tale magtig is - sy moedertaal, Engels en nog ´n addisionele inheemse taal.
  • Vanuit Hasselt, België, vra my medewerker, Ghislain Duchâteau, die vraag: Een toekomst voor het Afrikaans? Dié vraag is opgeroep deur Arjan van der Ziel, die Johannesburgse korrespondent van die Vlaamse ekonomiese dagblad, De Tijd. Sy artikel van 30 Maart 2005,  'Besmette taal gedoemd te verdwijnen' is met ontsteltenis in Europa gelees.

Tussen al dié teenstrydige menings bevind Afrikaanssprekendes hulleself

Afrikaanses voel na slaansakke op´n slagveld van ideologiese en politieke toutrekkery. Kinders, gebore ná die doodsklokke van Apartheid, is nie seker van moedertaalonderrig nie - ly hulle vir die sondes van die vadere toe kortsigtige politici sedert 1948 van Afrikaans ´n speelbal gemaak het. Vandag moet miljoene Afrikaanses die toekoms van hulle moedertaal angstig dophou. Hoe kon politici so dom wees om Afrikaans in anderstaliges se kele af te druk terwyl die Afrikaner self in die 19de eeu die slagoffers was van die Britte se angliseringsbeleid? Het hulle vergeet hoe Engels as gedwonge taal in die Afrikanersiel opstand wakker gemaak het? En het die huidige regering vergeet hoe bloedig húlle reaksie in 1976 was toe´n taal op húlle afgedwing is?

Afrikaanses staan meestal eenvoudig stomgeslaan en verwonder hulle oor só´n omgang met hierdie mensereg. Hulle vra hulleself af of mens werklik saam met Matthews Phosa durf sê: "Daar wag´n blink toekoms op Afrikaans" (toespraak tydens die Nasionale Beraad van die Afrikaanse Skrywersvereniging, Huis der Nederlande, Pinetown, November 1999). Dit ís immers die lewende taal van miljoene ten spyte van die inkrimping van Afrikaans se gebruiksfeer oor die afgelope dekade.

Die noodsaak van´n aktiewe taalstrategie

´n Uiteenlopende aantal Afrikaanse instelling en groepe (waaronder die FAK, Taalsekretariat, Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), Praag en die Groep van 63) werk elk in sy eie idoom aan´n soeke na werkbare taalstrategië met die oog daarop om Afrikaans (en ook ander minderheidstale in die land) se openbare aanwending te bestendig. Hulle ondersoek die moontlikhede om konseptaalwetgewing en dus statutêre onderskraging te ontwerp en waar nodig te verbeter.

Meer oorkoepelende bewegings is:

  • PANSAT/PANSALB (Pan Suid-Afrikaanse Taalorganisasie/Pan South African Language Board, wet 59 van 1995) is die organisasie wat as waghond moet optree oor taalontwikkeling en die behoud van al 11 ampstale deur optimalisering van taalhulpbronne sodat diskriminasie en dominansie van een taal oor ´n ander nie kan plaasvind nie. Daar is provinsiale taalkommissies gevorm en nasionale taalliggame vir elke indiwiduele taal.
  • Die Nasionale Taaldiens van die Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie se subdirektorate is verantwoordelik vir statusbeplanning, taal- en onderwys, vertaling, tolkwerk, redigering, taalbeplanning, terminologie-ontwikkeling, letterkunde van benadeelde tale, taalregte, mediëring en administrasie.
  • Die Meertaligheidsgroep (i-MAG) is die breedste koalisie van tale wat nog in Suid-Afirka van stapel gestuur is. Onder hulle lede tel sprekers van verskeie amptlike en nie-amptlike tale en verteenwoordigers van 20 verskillende organisasies. Hulle oogmerk is in ooreenstemming die Suid-Afrikanse Grondwet: om veeltaligheid op alle lewensterreine te bevorder en om gemeenskappe vir daardie doel te mobiliseer. Dié organisasie geniet onder andere die ondersteuning van Nelson Mandela.

Duidelik is dat alle minderheidstale in Suid-Afrika, Afrikaans ingesluit, die gevaar loop om soos miljoene ander minderheidstale dwarsdeur die wêreld te verswak of selfs in vergetelheid te raak.

´n Tale-Renaissance

Dié Afrika-Renaissance waarvan oral sprake is, lyk my soveel kleurvoller met ´n mengelmoes van tale en kulture wat elkeen bydra tot diversiteit op persoonlike sowel as kollektiewe vlak.

Met al die sosiale brandpunte soos armoede, werkloosheid, dakloosheid en´n HIV-VIGS-epidemie wat in Suid-Afrika aandag moet kry, lyk dit my´n verkwisting van tyd én geld om die land se inheemse tale op die altaar van´n wêreldtaal-argument te offer. Swak kommunikasie met die res van die wêreld was nog dikwels as gevolg van swak politiek en nie as gevolg van gebrekkige taalvaardighede nie.

Het die tyd nie aangebreek om Suid-Afrika se inheemse tale as kosbare uitvoerprodukte van die land te bemark nie? Vir die res van die wêreld is die swart tale van Afrika eksoties. Afrikaans is iets wat fassineer omdat dié taal karaktertrekke van vele kontinente het. Afrikaans is´n unieke produk wat wel deur die Europeër in Afrika geplant is, maar deur die Afrika-mens self natgelei is, in Afrika gegroei het en vrugte dra - taai soos´n Karoo-bossie wat te diep in Afrika se klipperige grond wortel geskiet het vir sommer net uittrek en uitdroog.

Dis nog altyd waar dat soveel tale as wat mens kan praat, soveel keer is jy man (of vrou!). Laat elkeen praat soos hy gebek is. ´n Zoeloekind wil net so graag soos´n Vendatjie of´n watter-taal-ook-al kindjie in sy of haar moedertaal leer praat en leer bid en leer grappies maak. Grootmense in´n land met ´n seermaak-geskiedenis moet leer om weer deur die oog van ´n kind na basiese menslike behoeftes te kyk en sonder verskuilde agendas vir die toekoms te beplan.

Suid-Afrikaners kan mos demokraties én liefdevol onder mekaar in tale spreek - tensy die filosoof Gustav Droysen tog reg was toe hy beweer het dat die mens nie gebore in staat is om uit die verlede te leer nie ...

Catharina Loader
2005

 

Bibliografie

Du Plessis, T., Kruispad - Die toekoms van Afrikaans as openbare taal, resensie in "Beeld", 04/03/2002.

Krüger, Ralf, Salzburger Nachrichten, 'Sprachbarrieren einreissen ... ein guter Südafrikaner sollte dreisprachig seìn', 13 April 2001

Malan, K., De Wet, H., Kriel, K., Dís presies soos Milner met Afrikaans wou maak, brief in "Beeld", 29/08/2000.

Giliomee, J. & Schlemmer, L., Kruispad - Die toekoms van Afrikaans as openbare taal, Tafelberg, Kaapstad 2002.

Van der Ziel, A., De Tijd, 'Besmette taal gedoemd te verdwijnen', 30 Maart 2005.

Van Rensburg, F.I.J. (red.), Afrikaans - lewende taal van miljoene, Van Schaiks Uitgewers, Pretoria 2004.