Ontwikkeling van Afrikaans

In dié huis in die Paarl word besluit om Afrikaans tot skryftaal te verhef.
  • Meeste foto´s op hierdie bladsy is  van die Afrikaanse Argief via die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans ontvang.
  • Índien u enige interessante inligting, foto´s of stories in verband met die ontwikkeling van die Afrikaanse taal met ons sou wou deel, kan u dit stuur aan catharina.e.loader@univie.ac.at

 

1652-1800: Die ontstaanstydperk van Afrikaans

Met die besluit van die Vereenigde Oos-Indiese Kompanjie in 1652 om´n verversingspos aan die Kaap van Goeie Hoop te stig, lui die geboorteklokke van Afrikaans.

Jan van Riebeeck en sy bemanning vestig nie alleen´n heenkome vir seemanne aan die Suidpunt van Afrika nie, maar bring ook 17de eeuse Nederlands (Hollands, Seeus, Utrechts, Vlaams, Brabants) met hulle saam - maak ook die Nederlandse taal ´n "Kaapse draai".

Baie gou ná die Nederlanders se inburgering in Afrika begin´n taalkundige ontwikkelingsproses wat sou aanleiding gee tot die ontstaan van´n nuwe Germaanse taal in Afrika, naamlik Afrikaans.

Ontstaansteorieë en eerste geskrewe Afrikaans

In die loop van die 18de eeu ontwikkel Afrikaans in die huistaal, die omgangstaal van die nuwe nedersetters.´n Natuurlike proses van defleksie (vereenvoudiging en reduksie van nominale en verbale paradigma) veroorsaak dat Afrikaans vroeg reeds sterk afwyk van die Nederlands van die V.O.C. se amptenary.

Teen ongeveer 1700 kan mens reeds die volgende variante in die ontwikkeling van Afrikaans erken:

  1. Kaapse-Afrikaans of Kaaps-Hollands (Cape Dutch, Kaapsch) gepraat in die burgerkringe van die Kaap.
  2. Boere-Afrikaans of Oosgrensafrikaans gepraat deur die Vryburgers, Trekboere en Oosgrensboere.
  3. Vreemdelinge-Afrikaans van Europese immigrante (Portugese, Duitsers, Franse, Dene).
  4. Aangeleerde Afrikaans van die werkersklas:
    Oranjerivier-Afrikaans (Khoikhoi, Griekwas, Khoisan)
    Slawe-Afrikaans (slawe afkomstig uit Maleisië, Indonesië, Mauritius, Angola, Mosambiek, Guinië)

Hierdie ontwikkelingsproses is die bron van talle taalontwikkelingstudies en ontstaansteorieë wat saamhang met die ontwikkeling van die taalkunde. As gevolg van volgehoue wetenskaplike ondersoeke word steeds nuwe insigte gepresenteer. Studies oor die invloed van aanleerders Afrikaans op die Oosgrense Setlaarskinders laat byvoorbeeld vermoed dat die werkersklas veel bygedra het om die oorspronklike Nederlandse vorme te verander. Daar is ook studies oor die invloed van Nederlandse dialekte en kreolisering op die uiteindelike vorm van Afrikaans. Daarbenewens het politieke ideologie onontkenbare invloed op die ontwikkelingsproses van Afrikaans uitgeoefen.

Teen 1750 is Afrikaans algemeen in die Kaapkolonie en sy distrikte gepraat.

In´n Slamse godsdienstige teks van 1769 is die eerste geskrewe Afrikaans in Arabiese letters te vinde.

Teen 1770 is die vorm van Afrikaans soos ons dit vandag ken, reeds grotendeels vasgelê.

Nederlands was egter nog steeds as die kultuurtaal en Afrikaans as ongeskik vir gebruik in die regering, howe en kerke beskou. Afrikaans was slegs´n kombuistaal (" kitchen dutch"), ´n praat-taal, die taal van die onderontwikkeldes.

1800 - 1900: Die eerste Afrikaanse Taalbeweging

Ná´n ping-pong-spelery met die Kaapkolonie deur die Nederlanders en die Britte vanaf 1795 - 1806, beland die Kaap vanaf 1806 onder die Britse Kroon. Dit is die begin van sterk Engelse invloed in dié gebied en dit het voortgeduur tot met die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika in 1961.

Op taalgebied beteken dit die aanvang van´n angliseringsbeleid en die ontmoediging van die gebruik van Nederlands en Afrikaans as openbare tale.

Die instelling van persvryheid in 1828 stimuleer egter die belangstelling om in Afrikaans te skryf. Al hoe meer persone publiseer in Afrikaans, maar om veilig te speel, onder skuilname. Die Fransman C.E. Boniface (1830), die Skot A.G. Bain (1838) en L.H. Meurant (1844-1850) van half Franse-Switserse-Engelse afkoms, lewer waardevolle bydraes.

Dit is opvallend dat Afrikaanse woorde meestal in die monde van die naïwes, van nie-blankes, van komiese karakters geplaas is.

Toenemend verskyn in nuusblaaie en tydskrifte Afrikaanse briewe, samesprake en gediggies.

Stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA)

Politieke ontevredenheid en toenemende verengelsing skud die Afrikaners langsamerhand wakker en stemme begin opgaan ten gunste van Afrikaans. Die regstreekse oorsaak van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners was te danke aan Arnoldus Pannevis - taalkenner, leermeester, primêre grondlegger van Afrikaans as kultuurtaal. Op 14 Augustus 1875 organiseer hy die stigtingsvergadering wat bygewoon is deur Gideon Malherbe, C.P. Hoogenhout, D.F. du Toit (bynaam "Dokter"), D.F. du Toit (oom Lokomotief), sy broer S.J. du Toit, August Ahrbeck, Petrus Malherbe en S.G. du Toit.

Ds. S.J. du Toit word die dryfveer agter die werksaamhede van hierdie groep wat sou staan vir hulle taal, hulle nasie en hulle land en sou aandring daarop dat Afrikaans oral deur "regte Afrikaners" gepraat word. Hulle sou hulle beywer vir die bevordering van Afrikaans as skryftaal deur middel van publikasies waarin mens "skryf soos jy praat". Hulle sou mense aanmoedig om letterkunde te produseer en hulle sou werk om die Bybel in Afrikaans te vertaal.

Die samestellers van die eerste eksemplaar van die Afrikaanse Patriot
Pannevis word beskou as die grondlegger van formele Afrikaans
Buiteblad van die boekie met die eerste begisels van die GRA
Notule van eerste vergadering van die GRA
Eerste uitgawe van die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaans Patriot, Saterdag 15 Januarie 1976

Die gevolge van hulle doelstellings was publikasies met onmiskenbare didaktiek en propaganda:

  • ´n eerste maandelikse koerant, Die Afrikaanse Patriot (15 Januarie 1876)
  • ´n eerste Afrikaanse woordeboek, spelreëls en grammatika
  • ´n eerste tydskrif, Ons Klijntji (1896)

 

Vanselewe en Te´enswoordig

Uit: Die Afrikaanse Patriot, Desember 1876

 

1776

Boer ploeg hom moe;
Dogter melk die koe;
Vrou is an `t spinne;
Seun ry gerwe binne;
Geld in die kas!

Wapen van die GRA

Die GRA se werk is deur die staat geïgnoreer en deur´n groot deel van die gemeenskap met minagting bejeën.

Die GRA besluit dus om´n eie Christelik-Nasionale skool te stig met Afrikaans as voertaal. Die Gedenkschool der Hugenoten is in Maart 1883 op Kleinbos, die familieplaas van die Du Toits en die Malherbes, in gebruik geneem. Na vele jare in onbruik is dié skooltjie in 2001 weer gerestoreer en word tans gebruik as´n slypskool vir Afrikaans.

Ook uit ander sektore van die gemeenskap word steun vir Afrikaans gewerf. Die nuutgestigte Boere-Beskermingsvereniging en die Afrikanerbond verenig in 1883 om ´n beduidende drukgroep vir die belange van Afrikaans te vorm. Dié groep se hande word in 1890 versterk deur die totstandkoming van die Zuid-Afrikaansche Taalbond.

Du Toit se entoesiasme neem algaande af, hy beleef ´n politieke omswaai ten gunste van Cecil John Rhodes en die GRA kwyn. Die finale spyker in dié beweging se doodskis is die uitbreek van die Tweede Anglo-Boere Oorlog in 1899.

1900 - 1925: Die Tweede Afrikaanse taalbeweging - konfrontasie met Engels

Die oorlog met Brittanje (1899-1902) laat´n verslane en verarmde volk agter. In 1903 voer die veroweraars Engelse onderwysers in en gedurende 1820 arriveer duisende Britse setlaars om die angliseringsproses ´n hupstoot te gee.

Die ontberinge van die oorlog bring egter´n verdieping in die skryfkuns van die Afrikaners mee asook ´n hernude vasberadenheid om die ideale van die GRA-lede weer op te tel en deur te voer. Vanuit al vier windrigtings en uit alle lewenssfere gaan daar stemme ten gunste van Afrikaans op - mense soos D.F. Malherbe, Jan Hofmeyer (Onze Jan), Gustav Preller, C.P. Hoogenhout, J.S.M. Rabie en J.G. Jansen.

Preller formuleer die doelstellings van die Tweede Taalbeweging en dinamiese kultuurorganisasies (soos die Afrikaanse Taalgenootskap en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Letttere en Kuns, die Federasie van Afrikaanse Kultuurorganisasies, FAK) word gestig om te help sorg dat dié mikpunte van die taalpatriotte in die praktyk realiteite word. Die Hertzogprys word ingestel en die letterkunde groei met rasse skrede. Afrikaans word eers skool- en toe universiteitstaal. In 1925 word die ideale van die Afrikaanse taalvegters bereik as Afrikaans naas Engels en Nederlands as amptelike taal erken word.

Hieronder is ´n waardevolle foto van ´n plakkaat ongeveer 100 jaar oud. Dit het deel gevorm van ´n aksie teen verengelsing deur die politieke leiersfigure van dié tyd. Links bo is President M.T. Steyn (Vrystaat); regs bo President S.J.P. Kruger (Transvaal); links onder is Genl. J.B.M. Hertzog (Vrystaat) en regs onder is Genl. Koos de la Rey (Transvaal).

Die foto is aangestuur deur Annatjie Louw van Windhoek

1925-1994: Standardisering en verpolitisering

Skielik was Afrikaans´n kultuurtaal en dit het onvermydelik meegebring dat´n Afrikaanse vaktaal, spelreëls en grammatika teen die spoed van lig moes ontwikkel. Die kersie op die koek was die verskyning van die eerste Afrikaanse Bybelvertaling in 1933. Vanaf ´n kombuistaal het Afrikaans ontwikkel tot´n volwaardige kommunikasiemiddel wat sy man op alle lewensterreine kan staan. Dié vaardighede word nêrens anders so goed geïllustreer as in die Afrikaanse letterkunde nie. In´n paar dekades het letterkundige werke die lig gesien wat internasionale status bereik het. Uitgewers skiet soos paddastoele op (sien Youtube vir die 50-jarige feesvierings van die Uitgewers Human en Rousseau).

Met die bewindsoorname van die Nasionale Party (NP) in 1948 word Afrikaans met groot simpatie behandel en ongekende groei kenmerkend dié tydperk van sy ontwikkeling. Die teendeel word ongelukkig ook deur onoordeelkundige politieke besluite bewaarheid. Afrikaans word al hoe meer die simbool van die kortsigtige NP-beleid. Langsamerhand kry dit die etiket van "die taal van die onderdrukker" omdat die meerderheid van die beamptes wat Apartheid moes implimenteer, Afrikaans gepraat het. Verder word Afrikaans uiters onsimpatiek in Swart skole as verpligte onderrigmedium ingevoer.

Dié negatiewe persepsie van Afrikaans word gelukkig ondergrawe (maar helaas nie totaal begrawe nie) deur gebeure vanaf 1990 toe die NP die futiliteit van sy beleid besef het en´n hervormingstyd aanbreek waarna vele Afrikaners weer hulle taal met trots kan praat.

Afrikaans ná 1994

Met die omskakeling na´n demokratiese bestel en die bewindsoorname van´n meerderheidsregering in Suid-Afrika moes Afrikaans veel prestige inboet. Op feitlik elke podium van die openbare sektor het Afrikaans teruggeval. Funksieverliese is dus onontkenbaar aangesien Afrikaans tans slegs een van 11 offisiële tale in die land is.

Lewendige kultuuraktiwiteite (letterkunde, feeste, ens.) laat vele doemprofete (sien "Toekoms van Afrikaans") egter op hulle neuse kyk. Afrikaanses, veral die Afrikaanse skrywer, erken nuwe uitdagings in´n nuwe bestel.

´n Groot voordeel van al die merkwaardige gebeure in Suid-Afrika is dat Afrikaans losgemaak is uit die greep van die NP-ideologie en die gepaardgaande apartheidstigma. Afrikaanses kan tereg klem lê op die feit dat Afrikaans ook deel was van die bevrydingsstryd - dat dit ook die "taal van die bevryder" was soos bewys deur die letterkunde vanaf die Sestigers tot vandag.

Ten spyte van die feit dat ´n taal nie benadeel kan word as mense wat die taal praat onoordeelkundig optree nie, gebeur dit tog onwillekeurig. Om dié rede is die ATR pas in Augustus 2009 gestig en stewig op koers om die taak te verrig wat deur meer as 40 Afrikaanse organisasies aan hom opgedra is, naamlik: word ’n liggaam wat die volle Afrikaanse sprekersgemeenskap verteenwoordig en praat dan namens die versoende Afrikaanse gemeenskap.

Lees meer hieroor in die artikel van prof Wannie Carsens: Die ontpolitisering van Afrikaans deur ’n Nasionale Strategie vir Afrikaans

Die wonder van Afrikaans

Die wonder van Afrikaans is dat dit nie gestagneer het as´n mengsel van´n klomp verskillende tale nie. Dit het ontwikkel tot´n selfstandige taal met´n eie dinamiese karakter. Nuwe woorde word nog daagliks geskep om die alledaagse op´n eerlike, naïwe en aardse manier uit te druk. Dit is dié skeppende eienskap van Afrikaans wat in´n rekordtyd´n nuwe taal met´n internasionaal bekende letterkunde moontlik gemaak het.

Honderd jaar ná die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners word die Taalmonument op 10 Oktober 1975 onthul om saam te val met die herdenking van die 100jarige bestaan van Afrikaans as selfstandige taal. Die woorde van die twee prominente Afrikaanse skrywers, NP van Wyk Louw en CJ Langenhoven, het as inspirasie gedien.

Die monument is ontwerp deur Jan van Wijk en stel die groei en ontwikkeling van Afrikaans voor. Erkennig word gegee aan die taal se uiteenlopende wortels uit die drie kontinente van Afrika, Europa en Asië  (sien foto's van Alet Steyn onder aan die bladsy).

  • Nederlands, Duits, Frans en Engels (dus Europese tale) word deur die linkerkantste regop pilare gesimboliseer.
  • Maleis, Maleis-Portugees en Arabies (uit Asië) is deur die pilaar op die middel van die trappies voorgestel.
  • Die ronde vorms simboliseer die rol wat die Khoi-tale en ander Afrika-tale in Afrikaans speel.
  • “Die brug” is dié gedeelte bo die trappies waar mens onder die gebou kan instap.
  • Die groei van Afrikaans word deur die langste pilaar gesimboliseer.
  • Die Republiek van Suid-Afrika, die geboortegrond en tuiste van Afrikaans, word gedui deur die korter pilaar heel regs.

Huidige taalkwessies in Suid-Afrika is dus nog in´n eksperimentele fase en veel kan nog gedoen word om die posisie en die groei van inheemse tale te verseker. Dit sal´n tragedie wees as die baie besondere tale van Suid-Afrika moet verskrompel onder die gewig van die Britse koloniale erfenis.

Op 9 Desember 2013 skryf Dr. Jaap Steyn, een cultuurhistoricus en oud-professor aan de Universiteit van de Oranje-Vrystaat, Zuid-Afrika (die volledige berig vind u deur hier te kliek).

"Hoe zit het intussen met het Afrikaans, de taal die uit het Nederlands ontstond in Zuid-Afrika?

Een belangrijke reden voor onvrede en ongenoegen onder Afrikaanstaligen in Zuid-Afrika, is de behandeling van de Afrikaanse taal door het huidige bewind onder het African National Congress (ANC). Tegenwoordig is Engels de officiële taal terwijl Afrikaans, wat voorheen dezelfde status genoot, voortdurend wordt benadeeld.

Dit dwingt Afrikaners tot een nieuwe taalstrijd (taalactivisme) ...

... Waar de overheid geen zeggenschap heeft, floreert de Afrikaanse cultuur: in de schrijfkunst, muziek en andere vormen van vermaak, zoals kunstfestivals. De afgelopen decennia heeft ook saamhorigheid met zich mee gebracht tussen blanke en niet-blanke Afrikaanstaligen."

In 2015 word Afrikaans weer opnuut druk op Afrikaans, veral op universitêre kampusse, uitgevoer en word die publieke rol van Afrikaans bemoeilik.



Afrikaans is die enigste taal ter wêreld wat kan spog met´n monument tot sy eer (foto's: Alet Steyn).

--------------------------------------------------------

Bibliografie


Kannemeyer, J.C., Die Afrikaanse literatuur 1652-1897, Human & Rosseau, Kaapstad 1998 (tweede druk).
Renders, L., Afrikaanse taal en letteren: een inleidend overzicht, ilze.org/derijger/010125.txt
Scholtz, J.P., Wording en ontwikkeling van Afrikaans, Tafelberg Uitgewers, Kaapstad 1980.
LitNet, Taaldebatte.

 

Hersien 2015

© Catharina Loader 2001