Afrikaans Grammatika

Toe ek agterkom ‘n Nederlander begryp nie my bedoeling toe ek sy nuwe sportmotor as “windgat” bestempel nie (hulle het my geleer reguit praat), het ek besef hoeveel van die “gat”-woorde besonder eie aan Afrikaans is. En of dit nou “netjies” klink of nie, ons gebruik hulle almal, en nie sodanig spaarsaam nie.

Dink maar aan “ougat” – nog ‘n woord waarvan ‘n Nederlander by my die betekenis wou weet. Hy snap dit waarskynlik nou nog nie presies nie. Probeer maar self om “ougat” op Afrikaans, wat nog te sê van Nederlands, te verduidelik: “oulik” is dit nie – veels te slap. “Ouderwets” ook nie heeltemal nie – klink te veel na wat hulle as “outyds” of “oudmodies” beskou, en dit is “ougat” tog nie. Nog minder kon my gespreksgenoot verstaan dat “ougat” eintlik positief bedoel word, maar nie in sogenaamde goeie geselskap hoort nie.

‘n Ander een is “bakgat” – ewe onvertaalbaar, en ewe wyd in sy betekenis. So ook is “ingat” amper nog moeiliker om uit te lê; en tog weet ons presies wat die ander een bedoel as hy iets op dié manier beskryf. En wat van “gomgat”, wat boonop as “gomgatterig” vervorm kan word? Of “dronkgat”, al weet ek nie van “dronkgatterig” nie.

“Blinkgat” is baie soos “windgat”, maar tog nie sinoniem nie. Mens kan “windgat” wees sonder dat jy “blinkgat” is. Terselfdertyd kan “ingat” maklik as die teenoorgestelde van “bakgat”, “windgat” en “blinkgat” gebruik word. Maar “ingat” en “gomgat” is weer twee verskillende sake, al is dit moeilik om te sê hoekom. Soos ons in die Kaap sê, dit gat my verstand te bowe hoe mens dit moet explain.

Hoe meer eiesoortig ‘n woord in sy betekenis is, hoe glibberiger raak hy om te omskryf. Mens verduidelik gewoonlik ‘n woord by wyse van iets soortgelyks, en dis net daar waar jy vasval. Soms is dit selfs moeilik om ‘n Engelse ekwivalent te vind – jy kry dit net nie so op sy kop gesê in ‘n ander taal nie. Hoe weet ons dan self wat dié woorde beteken? Skynbaar leer ons dit aan bloot aan deur die herhaaldelike aanhoor en gebruik daarvan in verskillende kontekste of situasies.

‘n Ander manier om ‘n woord se betekenis te verduidelik is deur dit in ‘n sin te gebruik. En tog werk dit nie met hierdie klompie trefseker woorde nie. As iemand byvoorbeeld sou sê: “Jan se partytjie was maar ingat”, kan dit een van baie dinge beteken, maar jy kry nietemin die idee dat jy niks gemis het nie. As jy sê: “Die tuin lyk maar ingat”, slaan dit weer op ander aspekte. Dit kan met die droogte te doen hê, of met die tuinkabouters. “Ingat” is dus ‘n woord met vele gebruikstoepassings, waar jy slegs uit die konteks onmiddellik kan aflei wat die spreker bedoel.

“Slapgat” is miskien ‘n bietjie meer spesifiek in sy betekenis, en tog kan dit dui op ‘n mens of ‘n houding wat as “lui”, “nalatig”, “onentoesiasties” of ‘n menigte ander dinge bestempel kan word. Nietemin weet ons presies wanneer “slapgat” die meeste gepaste woord is, en binne watter tipe taalregister mens dit kan gebruik. Binne ‘n formele konteks sal hierdie “gatterige” woorde nie deug nie; en sou jy dit wel daar gebruik, is dit ‘n aanduiding dat jy nou hartlik gatvol is van die slapgatgeit. “Slapgat” sou byvoorbeeld ‘n nommerpas woord wees om op ‘n skoolrapport te skryf, maar dit sal vir menige ouer sy of haar gat se deksel wees as ‘n onderwyser dit sou durf waag.

Verder staan “gat” dikwels op sy eie, soos in “Jan het sy gat gesien”, “Piet het sy naam gat gemaak”, of “Koos het sy gat gewip”. (Toegegee, dit sou ook An, Miem of San kon wees.) Mens kan selfs “gat” voel, of “‘n gat” , of “gatterig”, maar dit beteken telkens iets anders. Ek daag die lesers uit om te kyk of hulle keuriger taal diesefde gevoel en houding kan uitdruk. Heel waarskynlik sal woorde uit ‘n nog laer register daarvoor nodig wees! Laat ons maar sê dit sal uit die gatkant van die taal kom – of bestaan so-iets nie in ons woordeskat nie?

Miskien voel sommige lesers dat ek vandag buite die taalregister van die koerant tree, maar verdra dit tog maar ter wille van die taalverskeidenheid wat in hierdie rubriek bekyk word. Dis “suiwer” Afrikaans, en ook deel van ons skatkis, of hoe?

November 2005; ook in Taalskatkis (afgestuur op 17 April 2005)

© Catharina Loader 2001