Die breë debat (1994-2005) oor die toekoms van Afrikaans (2007)

 

Abstract

The broader debate (1994-2005) on the future of Afrikaans : some themes and initiatives

This article focuses on some of the most prominent themes and initiatives on Afrikaans that have emerged during the period 1994‑2005. On the one hand, a short overview is given of the kind of pressure Afrikaans had to withstand during this period and on the other hand, pertinent themes are discussed. One of the most prominent initiatives that emerged from the Afrikaans Language Conference convened in August 2004, has been the effect on the Afrikaans debate since this conference. The heated debate regarding the importance of mother tongue education and the role it plays in current language discussions is highlighted as a central theme.

1. Inleiding

Hierdie artikel het ten doel om twee van die mees prominente temas wat in die tydperk 1994-2005 in die breë Afrikaanse debat na vore gekom het, uit te lig en die belang daarvan vir die debat as sodanig aan te dui. Die titel impliseer ook dat daar wel ’n ‘breë Afrikaanse debat’ is en gesien in die lig van die strewe na die behoud van Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika, maak dit sin om hierdie tendense en temas uit te pak en te evalueer. Dis vir die Afrikaanse debat baie belangrik dat dié taal en ander aspekte (soos meertaligheid, taalbevordering) wat met taal in die algemeen in SA te doen het, in die brandpunt bly ten einde klem te lê op die feit dat tale nie die aandag kry wat dit grondwetlik verdien nie.

Hierdie artikel word soos volg aangepak:

  • ’n Kort oorsig oor die rol wat Afrikaans in die tydperk 1925-1994 in Suid-Afrika gespeel het.
  • Die plaas van Afrikaans in die taledebat vir die tydperk 1994-2005.
  • Tema 1: ’n Belangrike inisiatief vir Afrikaans: die nasionale strategie vir Afrikaans.
  • Tema 2: Moedertaalonderrig en Afrikaans.


2. Die Afrikaanse debat 1925 - 2005

In die politieke bedeling voor 1994 was daar slegs twee tale wat kon aanspraak maak op ‘amptelike status’ in SA – dit was Afrikaans en Engels. Die geskiedenis hieroor is redelik goed bekend. Ter wille van agtergrond vir die opbou van die argumentasie word hooftrekke wel kortliks hieronder aangegee.

2.1 1925-1948: Engels en Afrikaans

Nederlands was in die kolonialiseringsperiode (1652-1806) van die Kaap en in wese die hele nuwe land die amptelike taal. In die tydperk 1806-1925 het Engels (ná die besetting van die Kaap in 1806 deur Brittanje) die dominante rol gespeel en mettertyd ook weer Nederlands in die fase na die afloop van die Anglo-Boere-oorlog (1902-1925). In hierdie tydperk was Afrikaans nog besig om as taal gevestig te word (vgl. o.m. Raidt, 1989 & 1991, Scholtz, 1980, Steyn, 1980, Van Rensburg (red.), 1997, Zietsman, 1992).

Vir die tydperk 1925-1948 was Engels en Afrikaans die hooftale in SA. Die staatsadministrasie, die weermag en die radio was hoofsaaklik Engels, met Afrikaans wel as amptelike taal en as ’n skooltaal, maar sonder enige werklike mag (Webb, 2001: 171). Die Afrikatale in SA “het geen openbare rol gehad nie” (Webb, 2001: 171) – dit was om die waarheid te sê, beskou as streekgebonde tale wat ’n beperkte kommunikatiewe rol gespeel het.

2.2 1948-1994: Afrikaans en Engels

In die tydperk 1948-1994 was Afrikaans en Engels steeds die hooftale in SA, maar ná die politieke bewindsoorname in 1948 deur die ‘wit Afrikaans­sprekende kieser’ (Webb, 2001: 171; vgl. ook Van Coller & Steyn, 2005: 9-14) het Afrikaans spoedig die dominante taal in die openbare lewe (die staatsdiens, weermag, media, kerk, onderwys) geword en die rolle ná die tweede Britse besetting van die Kaap in 1806 is in der waarheid omgeruil. Engels het as amptelike taal wel ’n groot rol bly speel in die openbare lewe, maar die politiek is grootliks bedryf in Afrikaans en Engels was in ’n groot mate ondergeskik aan Afrikaans.

Die Afrikatale in Suid-Afrika is in hierdie tydperk volgens Webb (2001: 171)

formeel erken in goed gereglementeerde ‘nasionale state’ en ‘selfregerende gebiede’ [die sg. tuislande], en [is] ’n netjies beheerde rol gegee in onderwysprogramme en die elektroniese media, met verdere erkenning deur die totstandbrenging van taalrade (vir die onderskeie Afrikatale).

Die gebeure rondom Soweto 1976 (16 Junie 1976 – wat in die nuwe politieke bedeling jaarliks herdenk word as ‘Vryheidsdag’) het ’n groot rol gespeel in die ontvouing van die politieke proses ná 1976. Dis ’n aanvaarde feit dat die wyse waarop Afrikaans as onderwystaal op skole in die swart gebiede afgedwing is, wel ’n invloed gehad het op die proses wat uiteindelik sou uitloop op die totstandkoming van die nuwe demokratiese Suid-Afrika aan die begin van die 1990’s. Dis belangrik om te besef dat Afrikaans slegs één van die redes was wat die opstande laat ontvlam het, maar Afrikaans was nie die primêre rede daarvoor nie, soos so dikwels in populêre kringe te kenne gegee word – dis van belang dat hierdie boodskap duidelik oor Afrikaans se rol in hierdie gebeure gesê word. (Vergelyk in hierdie verband ook Leyden, 2005a oor mites en persepsies oor Afrikaans, o.a. oor Afrikaans as taal van die onderdrukker.)

Dis ook belangrik om te besef dat Afrikaans as taal hier die slae vat vir foute wat sprekers van dié taal op politieke vlak gemaak het. Van Rensburg (1989), Steyn (2000b), Schmidt (2003), Pienaar (2004) het hierdie punt deeglik beklemtoon in terugskouings oor hierdie tydperk. Soli Philander, ’n bekende Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaar, druk sy gevoel hieroor soos volg uit: “Om ’n taal vir politieke foute te blameer, is vir my so verkeerd. Dit is nie reg dat apartheid voor die deur van Afrikaans gelê word nie. Dit is soos om te sê jy praat nie Duits nie omdat Hitler ’n Duitser was” (Leyden, 2005: 10.) Roup (2004), ‘n sg. ‘Boerejood’, som die houding in hierdie verband soos volg op – dis naamlik vir hom belangrik om te weet:

if a language is to be crucified because of its use by a former oppressor, what of English, of German, of Spanish? Do these, among so many others, not also have blood on their vowels? Should we justify the disappearance of a language because of what was done in its name?

2.3 Die debat oor Afrikaans as taal in Suid-Afrika

Die ernstige debat oor Afrikaans as taal in SA het reeds teen die laat sewentigerjare begin en bespiegelende publikasies hieroor, soos J.C. Steyn se bekroonde boek Tuiste in eie taal (1980) en die bundel opstelle in die boek Afrikaans: stand, taak en toekoms (Prinsloo & Van Rensburg (red.), 1984), het ook aangetoon dat daar veranderinge sou moes kom om Afrikaans se posisie in ’n verwagte nuwe politieke bedeling te handhaaf. In Prinsloo & Van Rensburg (reds.) (1984) het onderwerpe soos die volgende aan die bod gekom: “Die oorlewing van Afrikaans”, “Afrikaans binne meertalige verband”, “Afrikaans in Afrika”, “Stand van die Afrikaanse taal: tans en in die toekoms”, “Gesindhede t.o.v. taal in die onderwys in Suid-Afrika”, “’n Kultuurstrategie van Afrikaans”, “Die handhawing van Afrikaans”, “Afrikaans: die pad vorentoe”, “Die toekoms van Afrikaans”, “Afrikaans: ‘n toekomsblik”. Dis opskrifte wat tekenend is van ’n besef dat dinge nie dieselfde gaan bly nie.

Uit die titels van die genoemde hoofstukke blyk dit al duidelik dat daar bekommernis was oor die toekoms van Afrikaans in die verwagte nuwe politieke landskap. Steyn (1984: 19-20) sê bv. dat

Afrikaans dit nie (kan) bekostig dat dit (‘n deel van) sy blanke sprekers of (‘n deel van) sy bruin sprekers verloor omdat sy kultuurskeppings, as geheel genome, nie genoeg verskeidenheid vertoon nie. Afrikaans moet iets beteken vir sowel die konserwatiewe as liberale deel van sy gemeenskap; dit moet, sy dit in verskillende publikasies, draer bly van die ideale, belange en strewes van wit en bruin.

Steyn (1984: 27-28) gee selfs ook goeie raad oor watter bevorderingsaksies ingespan kan word om Afrikaans se pad vorentoe te bepaal: (a) Afrikaans moet ‘n taal van waarde in die ekonomiese lewe van SA gemaak word, (b) Afrikaans moet een van die tale van die land se bestuursapparaat gemaak word, (c) Afrikaanse universiteite moet aan gekleurdes oopgestel word, (d) Afrikaanse koerante en tydskrifte moet ook ‘n groot sirkulasie onder gekleurdes probeer opbou, (e) Afrikaanse kleuter- en bewaarskole moet aan die Rand opgerig word, en (f) die Afrikaanse rolprentbedryf moet uitgebou word.

Die debat oor Afrikaans in die voorsiene nuwe Suid-Afrika het dus reeds in die vroeë 1980’s begin en nie eers teen die vroeë 1990’s nie. Briefskrywers in koerante het daartoe bygedra om die debat oor Afrikaans lewendig te hou en bekommernis oor Afrikaans in die toekoms, in die verwagte nuwe politieke bedeling, was ’n deurlopende tema. Radiogesprekke het nie agterweë gebly nie – ’n voorbeeld hiervan is die saambundeling van ’n reeks radiogesprekke oor die stand en toekoms van Afrikaans (vgl. Carstens (red.), 1993).

2.4 Samevatting

Uit hierdie uiters kort oorsig kan gesien word dat Afrikaans as taal wel ‘n rol gespeel het in die ontwikkeling van Suid-Afrika sedert die vestigingsjare, maar dat politiek in die tydperk sedert 1948 wel daartoe bygedra het dat Afrikaans die (geregverdigde? of ongeregverdigde?) etiket van ‘taal van die onderdrukker’ om die nek gekry het. Dié ongelukkige stigma is iets waarvan Afrikaans vandag nog sukkel om ontslae te raak (vgl. Verhoef, 1999, Pienaar, 2004).

Die erg negatiewe gesindheid is skynbaar wel aan die verander geoordeel aan reaksies in die pers die afgelope tyd – vgl. hieroor o.a. Klopper, 2001, Hoeane, 2003, Moleko, 2003, Schmidt, 2003 en Roup, 2004. ‘n Tipiese voorbeeld in hierdie verband is Roup (2004) wat ná ‘n verblyf van 25 jaar in Engeland skielik gevind het “strangely, after almost 25 years living in England, I find myself treasuring my Afrikaans heritage, and am concerned that this eloquent language might be lost”. Dis daarom vir hom belangrik om te weet wie kan vandag werklik ten gunste van Afrikaans praat.

 

3. Die Afrikaanse debat 1994-2005: Afrikaans een van elf tale

Die tydperk 1994-2004 is aanduidend van ’n afskaling in die rol van Afrikaans in die openbare en private sektor. ’n Mens kan moeilik jou hande lê op voldoende konkrete bewyse hiervan (vgl. wel Johnson, 2006; Steyn, 1992, 1995, 2001 hieroor), maar die tekens is daar vir almal om te sien. Grut (2004: 6) sê bv. duidelik hieroor: “The Government of South Africa, in spite of much talk about cultural diversity and the ‘Rainbow nation’, is hostile to the use of Afrikaans, and would like to see all schools and universities teach wholly or mainly in English”. Dis moontlik ’n bietjie te sterk gestel, maar die feit dat dit ’n gevestigde persepsie is, is reeds rede tot kommer. Die rubriekskrywer Max du Preez (2005) beaam hierdie gedagterigting as hy wys op “... die onbetwisbare werklikheid dat die ANC-regering nie werklik die politieke wil het om meertaligheid of moedertaalonderwys te bevorder nie” – m.a.w. moet nie illusies koester oor die nakom van die grondwetlike bepalings oor tale nie. Prof. Jonathan Jansen, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria, het op 27 September 2005 tydens ’n besprekingsgeleentheid op Aardklop 2005 op Potchefstroom ook te kenne gegee dat die regering nie van plan is om die ooreengekome nasionale taalplan te implementeer nie. Die politieke wil daarvoor bestaan klaarblyklik nie.

Gebeure soos die aankondiging (in 2005) dat beplan is om Engels die enigste doseertaal aan die Potchefstroomse Landboukollege te maak (vgl. Cloete, 2005, Jordaan, 2005), die hofsake rakende moedertaalonderrig by die Laerskool Mikro in Kuilsrivier (vgl. De Bruin, 2005, De Vries, 2005e, Joubert, 2005a, Rossouw, 2005a, Tancred, 2005, Van Wyk, 2005) en by skole in die Noord-Kaap (vgl. Rademeyer, 2005c en 2005e, SAPA, 2005), die tot niet gaan van die Dept. Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare met ingang Januarie 2006 (vgl. Van Vuuren, 2005, Yoyo, 2005), die feit dat lede van die SA Polisiediens al by geleentheid verbied is om Afrikaans te praat in die uitvoer van hulle pligte (vgl. Beeld, 2005, Van Coller & Steyn, 2005: 16) of die omstredenheid rakende die sogenaamde T-opsie (d.w.s. tweetaalopsie) aan die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van Stellenbosch (vgl. Bekker, 2005, Brand, 2005, De Vries, 2005, Du Plessis, 2005, Du Toit, 2005c, Giliomee, 2005a en 2005b, Joubert, 2005, Malan, 2005a en 2005b, O’Connor, 2005, Pretorius, 2005, Rossouw, 2005b, Vermeulen, 2005), help vanselfsprekend om hierdie persepsie te versterk. Ten opsigte van laasgenoemde sê Slabbert (2005: 10) byvoorbeeld dat daar “tog weggebly word van foefies om mekaar te uitoorlê, bv. om Afrikaans en Engels 50/50 te doseer in een lesinguur. Dis nou pedagogiese onsin en gaan waarborg dat Afrikaans as voertaal verdwyn.” Vermeulen (2005) voeg hierby as argument: die

sogenaamde T-opsie (bly) eenvoudig ’n dubbelmediumklas waarin daar probeer word om binne dieselfde klas sowel Afrikaans- as Engelssprekende studente te akkommodeer – niks anders nie as ’n versuikerde vorm van dubbelmediumonderrig en ’n linguistiese drogredenasie wat na ’n eentalige Engelse instelling streef.

Rademeyer 2005a gee verdere voorbeelde van taalkwyn in hierdie verband aan. Die opmerkings van Rantoa (2005), met as opskrif “Government should do away with Afrikaans medium schools”, is ook nie juis bevorderlik vir ’n ope debat nie:

So, what is special about Afrikaans? Why is this language being treated as something special and accorded a status higher than the other 10 official languages of this country? The truth is that there is nothing special about Afrikaans. It is a language like any other. The only ‘special’ thing about it is that it was the official language of a racist regime which tried, unsuccessfully, to ram it down the throats of all South Africans. Other than this infamous historical significance, Afrikaans is not special and should be treated as such.

Die nuwe grondwet (1993 en 1996) het dit duidelik uitgespel dat daar nie meer net twee amptelike tale in SA is nie, maar wel elf. Dit was die resultaat van ’n politieke kompromis in die Kemptonparkse onderhandelinge, alhoewel dit onprakties mag voorkom. Hierdie grondwetlike bedeling se implikasie vir Afrikaans (asook vir Engels) was groter as wat ’n mens sou kon dink, want skielik was Afrikaans (en Engels) één van elf en nie meer een van twee nie. Status-, funksie- en selfs getalsgewys was dit ’n terugslag vir Afrikaans, maar aan die ander kant weer ’n mosie van vertroue in die vermoë van die vroeër gemarginaliseerde tale (die ‘politiek korrekte’ term vir Afrikatale) om ’n eie status te ontwikkel. (Vergelyk Webb, 2004 vir ’n siening oor Afrikatale as medium van onderrig in Suid-Afrika.)

Volgens Webb (2001: 169-170) is die begrip ‘linguistiese pluraliteit’ (oftewel meertaligheid) in hierdie proses gevestig. Dit veronderstel naamlik dat ‘n kultuur van meertaligheid tot stand gebring sal word en dit hou o.m. die volgende in: (a) ‘n sterk sin vir linguistiese toleransie (d.w.s. verdraagsaam­heid teenoor ander se tale), (b) ‘n sterk sin vir respek vir ander se eiesoortig­heid en (c) ‘n aanvaarding van linguistiese diversiteit as ‘n konstruktiewe hulpbron. Webb (2001: 170) sê:

ideaal gesien, behoort die elf amptelike tale van SA in ‘volkome ewewig’ te bestaan, dit wil sê hulle moet werklik gelykwaardig wees, Suid-Afrikaanse burgers moet mekaar se tale ken en geen huiwering ondervind om van een oor te slaan na ‘n ander in ‘n gees van respek en erkenning nie, en die konflikpotensiaal wat daar dikwels in taalgemengde gemeenskappe voorkom, moet afwesig wees.” Dis inderdaad ‘n pragtige en uiters lofwaardige ideaal, maar iets wat in die praktyk van die Suid-Afrika van dag tot dag nog baie ver van verwesenliking is.

Hierdie artikel handel in wese oor die posisie van Afrikaans nadat tien jaar in die nuwe demokrasie verloop het en die bogenoemde uiteensetting was bedoel as agtergrond vir die gesprek. Die vraag is nou: hoe gaan dit met Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika ná tien jaar van ‘n nuwe politieke bedeling, van ‘n bedeling waar die Afrikaanssprekende nie meer ‘n politieke krag is nie (en waar die historiese apartheidsparty – die NNP – na afloop van die 2004-verkiesing in wese opgeneem is in die regerende ANC-party)? In die afgelope tien jaar is daar al besonder baie geskryf oor Afrikaans in die nuwe SA (vgl. bv. Alexander, 1994; Carstens, 1994; H du Plessis, 1996, 2003; T du Plessis, 2005a, 2005b, 2005c, 2005d; Du Plessis & Du Plessis (reds.), 1987; Giliomee & Schlemmer (reds.), 2001; Schmidt, 2003; Steyn, 1995b, 2001; Truter & Lubbe, 2002; MCJ van Rensburg (red.), 1997; FIJ van Rensburg (red.), 2004; Verhoef, 1996, 1997, 1998, 1999; Webb, 1997 – om maar slegs enkele publikasies te noem). Die briewe wat bykans daagliks in Afrikaanse koerante en tydskrifte asook op internet-gespreksforums verskyn, is tekenend van ‘n lewendige debat oor Afrikaans se rol in die toekoms.

Opskrifte soos die onderstaande in briewe en koerantberigte dui ook op bekommernis oor die pad vorentoe met as kernvraag: Sal Afrikaans op die lang termyn as taal van openbare kommunikasie in SA behoue bly? – “Herwin julle wortels”, “’Salami’-taktiek teen Afrikaans”, “Mooi bydraes oor Afrikaans in die vergeetboek”, “Engels, Engels, alles Engels”, “Die basis van voortbestaan lê tussen die ore”, “Engels ander tale se grootste bedreiging”, “Afrikaans sal leef! Nog ‘n taalbeweging is onnodig”, “Afrikaans: die brugbouer en versoenende taal”, “Hoe kry ons ‘n teenvoeter vir aftakeling van Afrikaans?”, “Toekoms van taal lê by sy sprekers”, “Afrikaanssprekendes se koopkrag formidabel”, “Afrikaans ‘n reus in sakewêreld”, “Hoe Afrikaanse koopkrag verskeie markte oorheers”, “Afrikaans het meeste koopkrag, sê verslag”, “Afrikaanssprekendes speel groot rol in die IT-bedryf”, “Vergewe tog dié wat Afrikaanse verbruikers ignoreer”, “Afrikaans kan behou word in onderrig van wetenskap”, “Die taalkwessie: onderhandel, beding, stry nóú”, “Hoe kry ons ‘n teenvoeter vir aftakeling van Afrikaans?”, Afrikaans word só mét ander geborg: Mbeki herinner Afrikaner hy word nou bevoordeel”, “Min optimisme vir Afrikaans – gesprek met Asmal ‘gespanne’”, “Dis hoekom Dan Roodt se dinge Afrikaanse jonges koud laat”, “Taal ‘reg vir toekoms’, sê Britse blad”, “Hou op om Afrikaans te begrawe – Taal het nog lank nie siek geword”, “Taalraad skop vas oor Engels in parlement”, “Die nuwe Afrikaans vir Afrika”, “Asmal dom oor taalonderrig”, “Afrikaans op laaste bene in sommige skole – hulpbronne gaan eerder aan ander vakke”, “Geskiedskrywers het ‘ereplig’ oor Afrikaans – Vaktydskrif in net Engels trek streep deur Grondwet”, “Engels is norm in bedryf”, “Betaal vir skooltaal”, “Departement gee ná 9 jaar toe oor taalbeleid” “Afrikaanse skole boer agteruit”, Swak uitslae aan taalbeleid gewyt”, “Kenners aanvaar nie regering se woorde oor moedertaal”, “Afrikaanse leerlinge ‘nie so erg minder’”, “Bring moedertaalonderrig terug!”, “Moenie Afrikaner-Afrikane uitsluit”, “Staat oortref Milner se aanslag op taal”, ens. Dit op sigself is tekenend van ’n besonder lewendige debat.

In die debat oor Afrikaans word daar voorts gewoonlik drie belangrike argumente gebruik om Afrikaans (en ook ander tale) se posisie te bepaal ten opsigte van ander taalgroepe in Suid-Afrika:

a) Die getalle-argument:  Afrikaans is die derde grootste moedertaalsprekers­groep in SA (t.w. ongeveer 14%), naas Zoeloe (ong. 22%) en Xhosa (ong. 18%) (vgl. Van Rensburg (red.), 1997: 78-83). Dit dui daarop dat Afrikaans getalsgewys bó Engels as taal gereken kan word. Die demografie van die Afrikaanse gemeenskap kom dan onder die soeklig en dit blyk uit beskikbare navorsing dat daar besliste demografiese verliese is, o.m. as gevolg van ‘n laer geboortesyfer en die effek van emigrasie op die Afrikaanse bevolking – die talle Suid-Afrikaners wat verhuis het na die VSA, Kanada, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland is tekenend hiervan. Sien in hierdie verband o.m. Giliomee & Schlemmer (reds.), 2001; Johnson, 2006; Sadie, 1996; Steyn, 1980; F.I.J. van Rensburg (red.), 2004; Webb, Dirven & Koch, 1992.

b) Die funksie-argument (soos uitgelig deur o.m. Combrink, 1991, Steyn, 1980, 1984). Steyn, (1980: 15-18) noem ‘n hele aantal funksies (hoë en lae funksies) wat ‘n taal moet hê of behou om nie die kreeftegang te gaan nie. As ‘n taal van hierdie funksies begin inboet, begin die probleme. Een hoë funksie wat verlore gaan (soos bv. ‘n media- of onderwys-taalfunksie), kan die begin aandui van ander funksies (soos taal van die staatsdiens, die howe, kerke, ens.) wat ook algaande kan afneem en mettertyd selfs kan verval. Jaap Steyn het heelwat geskryf oor die potensiële funksieverliese vir Afrikaans op die terrein van die ekonomie, die onderwys en die howe (vgl. Steyn, 1980, 1984, 1992, 1995b, 2001). In Giliomee & Schlemmer (reds.), 2001 (Kruispad. Die toekoms van Afrikaans as openbare taal) asook in Van Rensburg (red.), 2004 (Afrikaans – lewende taal van miljoene) kom bekommernisse na vore oor moontlike funksieverliese oor Afrikaans as taal van die hoër onderwys, as literêre taal, as teatertaal, as uitsaaitaal, as kultuurtaal, as onderwystaal, as regstaal, as taal van die teologie, as wetenskapstaal, as reklametaal, as werksplektaal, as publikasietaal, e.s.m. Scholtz (2001) wys daarop dat ‘n taal ten minste op vyf vlakke ‘n funksie moet hê (vgl. ook Steyn, 1980: 15-18), naamlik: (i) die taal moet tuis gepraat word, (ii) die taal moet ‘n letterkundige funksie hê en dan in die besonder ‘n skriftelike weergawe daarvan, (iii) die taal moet wetenskaplike en akademiese funksies hê (dus as taal van onderwys op ‘n verskeidenheid vlakke), (iv) die taal moet ekonomiese nut hê (mense moet dus die taal kan gebruik in die werksplek) en (v) die taal moet ‘n owerheidstaal wees (mense moet in hulle taal met die staat kan kommunikeer). Miskien maak die strewes van ‘taalstryders’ meer sin in die lig hiervan.

c) Die gesindheidsargument: Die houding wat baie nie-Afrikaanssprekendes teenoor Afrikaans het (wat of ons dit nou wil weet of nie, in ‘n groot mate in die hand gewerk is deur die stigma van Afrikaans as ‘taal van die onderdrukker’), is ook bepalend vir die pad vorentoe. Hoe voel mense oor Afrikaans en veral oor die sprekers van Afrikaans? (Vgl. hieroor o.m. Carstens, 1994, Steyn, 1995, Schlemmer, 2001.) Watter beeld projekteer politici en openbare figure (soos regse politici) oor Afrikaans na buite? Watter beeld kom na vore oor Afrikaanssprekendes in publikasies soos Giliomee se The Afrikaners (2003) en Die Afrikaners (2004)? Watter bydraes het Afrikaanssprekendes gemaak om van die ‘Nuwe Suid-Afrika’ ‘n sukses te maak? ‘n Ondersoek wat in 2001 uitgevoer is deur ‘n Ph.D.-student in KwaZulu-Natal (vgl. Klopper 2001) het bv. verrassende resultate gelewer – naamlik dat 75% van die swart leerders wat by die ondersoek betrek is, uiters positief is oor die aanbied van Afrikaans as tweede taal in primêre skole.

Dis moontlik dat ‘n mens uit hierdie oorsig die indruk kan wek dat daar nie hoop vir Afrikaans in die toekoms is nie, dat almal nou maar moet swig voor die openbare druk en die versoeking om maar toe te gee om Engels as primêre taal in SA – soos ook in talle ander wêrelddele – te begin omhels. (Vergelyk Smith, 2001 oor die bedreiging wat Engels vir ander tale asook vir die praktiese deurvoer van meertaligheid inhou; Du Plessis, 2003 verwys ook pertinent hierna in ‘n oorsig oor die wyse waarop Engels dit regkry om die Suid-Afrikaanse samelewing te domineer; Johnson, 2006) Dit sou egter nie die volle waarheid wees nie omdat daar reeds baie inisiatiewe en prosesse gevestig is wat juis kan bydra om hierdie negatiwiteit om te swaai.

Dit is so dat daar wel funksieverliese was: die SAUK is deesdae byvoorbeeld die SABC, die SAL het die SAA geword en Afrikaans word selde op hierdie lugredery se vlugte gehoor, Afrikaans kry nie die geld wat dit nodig het om funksies in stand te hou nie (die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het bv. sy staatsubsidie verloor), in die staatsdiens word Afrikaans in ’n groot mate genegeer, Afrikaanse skole word onder druk dubbelmedium (en mettertyd waarskynlik slegs eentalig Engels), Afrikaans is onder druk in die howe en in talle werksplekke, ens. Maar daar was ook winste wat die gevolg was van inisiatiewe van Afrikaanssprekendes se kant af. Die druk op Afrikaans het gehelp dat Afrikaans via die kunstefeeste bloei, Afrikaanse musiek word sonder skroom deur Afrikaanssprekende jongmense geluister, Afrikaanse sangers is gewilder ooit (Steve Hofmeyr is byvoorbeeld in 2005 aangewys as die SA musikant met die beste plateverkope in SA), ens. (Vergelyk hieroor o.m. Jackson, 2003.) Die vraag is nou: waarheen met Afrikaans?

Reeds in 1993 het prof. Hans du Plessis gesê dat Afrikaans vir sy eie voortbestaan verantwoordelik is en dat Afrikaanssprekendes iets moet begin dóén: “Die hele taalaksie moet ingestel wees op die behoud van die aantal mense wat Afrikaans gebruik, die behoud van die funksies van Afrikaans en die herstel van houdings oor Afrikaans. Hou op om Afrikaans uit ‘n toekoms uit te koop en te beskinder, hou op om Afrikaans uit ‘n voortbestaan te hensop en hou veral op om Afrikaans te begrawe nog lank voordat hy siek geword het” (Altern, 1993). Buys (2004) sê dat die tyd aangebreek het vir aksie:

Die Afrikaanse gemeenskap moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie toekoms en self aktief daaraan begin werk. Nie in isolasie nie, maar saam met geleentheidsvennote waar nodig en waar moontlik. Dit help nie om aan ‘n afhanklikheids- of onttrekkingsindroom te ly nie. Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie en die toekoms laat nie op hom wag nie.

Dit kom voor asof hierdie tyd (d.w.s. die tyd van self doen, van ‘aksie’) nou aangebreek het vir Afrikaans en dat daar rondom Afrikaans ‘n aantal taalaksies aan die gang gekom het.


4. 'n Nasionale strategie vir Afrikaans

Die strewe na ’n nasionale strategie vir Afrikaans is aanduidend van ’n behoefte om koördinerend te werk te gaan om Afrikaans se belange te bevorder. Die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA) het ’n besondere rol gespeel in hierdie verband.

Wie en wat is die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans? Hierdie liggaam kan teruggevoer word na die Grondwet (art. 6, in die 1993- en 1996- Grondwet) wat bepaal het dat daar elf amptelike tale in Suid-Afrika sal wees en dat afgesien van die plig op die staat om die status van veral die ‘inheemse tale’ ‘te verhoog en hulle gebruik te bevorder’ (art. 6 (2)), die staat moet besef dat alle amptelike tale ‘gelykheid van aansien’ moet geniet en ‘billik behandel’ moet word (art. 6 (4)). Verder moes daar ‘n Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) tot stand kom met as doel die volgende:

Art 6 (5) ‘n Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad deur wetgewing 

ingestel, moet -

(a) die ontwikkeling en gebruik bevorder en

omstandighede skep vir die ontwikkeling en gebruik van –

(i) alle amptelike tale;(ii) die Khoi-, Nama- en Santale; en(iii) gebaretaal; en

(b) respek bevorder en verseker vir –

(i) alle tale wat algemeen deur gemeenskappe

in Suid-Afrika gebruik word ...

PanSAT het hierdie taak aangepak deur ‘n aantal liggame tot stand te bring wat elkeen ‘n eie opdrag gehad het om hierdie grondwetlik opgelegde taak ten uitvoer te bring, t.w.

§ Provinsiale taalkomitees (PTK) (nege – een per provinsie en wat saamgestel is op grond van die taalsamestellings van elke besondere provinsie): die taak van hierdie komitee is om in elke provinsie taal te bereël vir die betrokke provinsie, en dit behoort te geskied in terme van ‘n eiesoortige provinsiale taalwet.

§ Nasionale taalliggame (NTL) (13 in totaal – een vir elke amptelike taal asook een vir gebaretaal en een vir die Khoi- en die Santale): die taak van hierdie liggame is om vir elke taal die nodige maatreëls te tref om daardie besondere taal optimaal te bevorder, o.m. deur die status van die betrokke taal in stand te hou of uit te bou (in die geval van die inheemse tale) en die struktuur van die betrokke taal te handhaaf.

§ Nasionale leksikografiese eenhede (NLE) (13 in totaal – een vir elke amptelike taal asook een vir gebaretaal en een vir die Khoe- en die Santale): hierdie liggame het ten doel om die woordeskat van elke taal op te teken en desnoods ook te bevorder.

Teoreties klink dit of alles goed behoort te gaan met hierdie strukture, maar in die praktyk is dit nie noodwendig so nie, soos blyk uit die talle briewe oor taalsake in koerante en op internetrubrieke. Die betrokke taalentiteite is nie almal so effektief as wat PanSAT seker sou wou hê nie. Selfs ná tien jaar is die provinsiale taalkomitees in min provinsies werklik funksioneel (met die Wes-Kaap en Noordwes-Provinsie as moontlike uitsonderings), hoofsaaklik weens gebrekkige politieke en infrastrukturele steun. Die meerderheid NTL’e vergader bloot gereeld en kom weens ‘n gebrek aan befondsing nie behoorlik van die grond af nie. Wat betref die NLE’e is daar ook nie te veel positief te rapporteer nie omdat daar met die uitsondering van die Afrikaanse NLE (die Buro van die WAT op Stellenbosch) en die Engelse NLE (in Grahamstad) nog nie besondere werk tot stand gekom het nie. Beteken dit dan dat PanSAT se strukture oneffektief is? Dis moeilik om die redes vir die skynbare gebrek aan effektiwiteit van die PanSAT-strukture te bepaal, maar volgens die oordeel van die outeur van hierdie artikel is dit tweeledig: (a) gebrekkige finansiële steun van sowel die nasionale as provinsiale regerings en (b) ‘n gebrek aan politieke wil om taal die staanplek te gee wat dit in die SA samelewing behoort te kry. Taal is lastig vir die regering – dit is duidelik vir almal wat in die taalstrukture werk. Taal is helaas nie vir politici ‘n dringende saak nie, maar taalverwante sake soos naamsveranderings en taalbeleide in skole wel.

In Augustus 2003 het daar ‘n berig (Olivier, 2003a) in koerante van Media24 verskyn oor die behoefte aan die totstandkoming van ‘n taalinstituut vir Afrikaans en opeenvolgende berigte hieroor (vgl. Olivier, 2003b, Zietsman, 2003) het sterk steun hiervoor uitgespreek. Die FAK het besluit om na aanleiding hiervan ‘n ope gesprek (met as tema: “’n Groter voetspoor vir Afrikaans”) oor die saak te reël en dié geleentheid het plaasgevind op Saterdag 13 September 2003 in Pretoria. Tydens hierdie gespreksgeleentheid is die vraag gestel oor wat so ‘n taalinstituut presies inhou (vgl. Carstens, 2003.): Is dit so dat hierdie instituut slegs onderrig aan niemoedertaalsprekers moet bied? Wat dan van moedertaalonderrig of van Standaardafrikaans? Watter beeld moet hierdie instituut hê? Wie gaan die instituut befonds? Dan ook die volgende vraag: Is daar nie dalk reeds die een of ander instansie wat al klaar so ‘n funksie verrig nie? Sal dit nie onnodige duplisering van aktiwiteite meebring nie? Wat van die persepsie dat ‘Afrikaners al weer laer trek rondom hulle taal’? Die gedagte is verder uitgespreek dat daar eers ‘n haalbaarheidstudie van so ‘n instituut gedoen moet word en dat dit in die vorm van ‘n taaloudit moet geskied. So ‘n oudit moet dan behels ‘n bestekopname van bestaande Afrikaanse kundigheid en bestaande Afrikaanse strukture en dat die resultaat hiervan gebruik moet word om behoorlik te beplan alvorens daar nóg ‘n struktuur vir Afrikaans tot stand gebring word. Sodoende kan daar ten minste bepaal word wie kan dóén en wie kan net práát oor Afrikaans (Carstens, 2003).

Tydens dieselfde geleentheid het dr. Christa van Louw, voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), gesê dat daar op ‘n breër vlak na ‘n taalinstituut gekyk moet en dat dit eerder in die raamwerk van ‘n nasionale strategie vir Afrikaans moet geskied. So ‘n strategie moes as doel hê die koördineer van Afrikaanse aktiwiteite sodat die Afrikaanse gemeenskap as ‘n eenheid vorentoe vir Afrikaans kan beplan en kan ophou om dit as los entiteite te doen. Dus: probeer ’n proses tot stand bring waaraan alle Afrikaanse organisasies en strukture kan meewerk ten einde ’n gemeenskaplike doel te bereik, te wete die behoud en bevordering van Afrikaans en die strewe om deur middel van groter onderlinge koördinasie saam daarby uit te kom. (Vergelyk hieroor ook Brand, 2004, Carstens, 2004; Ferreira, 2004: 120, Olivier, 2003a en 2003b, NTLA, 2003.) So ’n strategie kan egter net slaag indien dit toegeëien en gedryf word deur bestaande organisasies en individue wat hulle vir die bevordering van Afrikaans beywer. PanSAT stel in hierdie inisiatief van die Afrikaanse taalgemeenskap belang omdat dit beskou word as ’n model wat al die ander inheemse taalgroepe ook sal kan volg, tot voordeel van ’n gesonde veeltaligheidsopset in die land.

Ten einde hierdie proses aan die gang te sit, is daar ‘n sg. Voortsettings­komitee aangewys (met prof. W.A.M. Carstens, ondervoorsitter van die NTLA, as sameroeper). Die lede van hierdie komitee was verteenwoordigers van ‘n verskeidenheid Afrikaanse organisasies (soos die FAK, ATKV, Groep van 63, Vriende van Afrikaans, SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Vrydaggroep, Die Taalsekretariaat, Die Meertaligheidsaksiegroep, die NTLA, die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans). Dié komitee het in die tydperk Oktober 2003 tot Mei 2004 verskeie beplanningsvergaderings gehou en die uiteinde hiervan was die volgende:

a) Dat besluit is die NTLA sal as PanSAT-struktuur (wat nog geen bagasie dra nie) ingespan word om die nasionale strategie te verwesenlik. Volgens Brand (2004) is die NTLA die ideale liggaam om die proses vorentoe te dryf omdat dit sal kan meehelp om ‘n gesamentlike forum vir Afrikaans tot stand te bring. Brand (2004) se dokument oor “Op pad na ‘n Afrikaanse forum” dien inderdaad as rigtinggewende dokument oor die pad wat in hierdie verband in die belang van Afrikaans geloop (kan) word. Dis opvallend dat ‘n vorige poging om so ‘n Afrikaanse forum tot stand te bring – die sg. Oorlegplatform (vgl. Steyn, 1998 hieroor) – in werklikheid nie die konsoliderende en koördinerende rol kon vervul wat die plan daarmee was nie. Dat die NTLA dit kon regkry in ‘n taalomgewing wat aan Engels voorkeur gee, is aanduidend dat die klimaat vir so ‘n inisiatief waarskynlik ná tien jaar tog beter was.

b) Die NTLA as instrument is getaak om alle moontlike rolspelers te besoek en hulle in te lig oor planne vir die pad vorentoe. In hierdie verband is die voorsitter en ondervoorsitter van die NTLA tyd getaak om op verskeie plekke in die land van die rolspelers persoonlik op hoogte te bring van die proses. (Vgl. die NTLA-persverklaring wat op 09/12/2003 oor die planne en doelwitte met hierdie proses uitgereik is.)

c) Dat die Afrikaanse publiek ook ingelig is oor die planne en doelwitte met die nasionale strategie. Dit het geskied op ‘n verskeidenheid wyses: d.m.v. radiopraatjies in September 2003 tot Junie 2004 waaraan die voorsitter en ondervoorsitter van die NTLA asook mnr. Hennie de Wet as interim sekretariaat deelgeneem het, persverklarings (soos NTLA, 2003) terwyl daar ‘n hele aantal koerantberigte hieroor verskyn het (soos Olivier, 2003a, 2003b, 2003c, 2003d, 2004).

d) Dat die FAK ingewillig het om hulle administratiewe strukture beskikbaar te stel as interim sekretariaat vir hierdie proses, by gebrek aan ‘n behoorlike ondersteuningstruktuur van die kant van PanSAT vir die NTLA.

e) Dat daar begin is met die proses om die bestekopname (bekend as die taaloudit) te laat doen. Die projekleier hiervoor was dr. Karel Prinsloo en die doeldatum vir hierdie eerste oudit was einde Junie 2004. Die vraelys is via e-pos en gewone pos aan bykans 2 300 instansies uitgestuur en die reaksie daarop was flink. Daar is selfs ’n webadres, taaloudit@mweb.co.za, tot stand gebring vir hierdie doel. Die hoofdoel met die projek was om vas te stel in hoeverre die Afrikaanse gemeenskap taalverwante projekte en dienste onderneem ten einde die taalverwante behoeftes in die gemeenskap te bevredig. ’n Sekondêre doel was om, in die lig van bevindings uit die taaloudit, ’n strategie te bespreek vir die pad vorentoe sover dit Afrikaans in ’n veeltalige Suid-Afrika betref. Mikpunte met die oudit was in die besonder (a) om ’n katalogus van taalverwante projekte, dienste, kursusse, energieë en netwerke wat in die Afrikaanse gemeenskap beskikbaar is, saam te stel; en (b) om leemtes te bepaal in die lig van taalverwante behoeftes wat deur die Afrikaanse gemeenskap uitgespreek is. Die resultaat van so ‘n oudit sou dan gebruik kon word om as Afrikaanse gemeenskap op ‘n inklusiewe wyse sáám te beplan oor hoe om oplossings vir probleme t.o.v. van Afrikaans te vind. Die tyd vir dóén het dus duidelik vir Afrikaans aangebreek. Die oudit het getoon dat dit goed gaan met Afrikaans op sekere terreine, soos kunstefeeste (daar vind bv. jaarliks 14 Afrikaansgerigte kunstefeeste in SA en vyf in die buiteland plaas – vgl. Olivier, 2004), musiek, koerante, tydskrifte, organisasie- en kultuurlewe en ook ander terreine. Dit was egter ook duidelik dat daar probleme is op ander gebiede: alle vlakke in die onderwys, die regte, die media (veral televisie), staatsadministrasie (soos in die poskantoor, howe, die SA Polisiediens), die lugdiens (SAL wat slegs SAA geword het), ens. Dis hierdie soort sake wat aandag moes kry by ’n nasionale beraad.

f) Dat ‘n nasionale Afrikaanse taalberaad gehou sal word waar in samewerking met alle rolspelers gesamentlik ’n strategie vir Afrikaans in veeltalige verband beplan sal word. In hierdie proses behoort daar deur die bestekopname en taalstrategiebespreking ’n model daargestel te word wat ook deur ander inheemse taalgroepe in Suid-Afrika gevolg kan word indien hulle dieselfde sou wou doen. In hierdie opsig dien die Afrikaanse proses dan as voorbeeld vir ander tale in SA, en desnoods wêreldwyd (vgl. hieroor Carstens, 2004b).

Vanselfsprekend is so 'n proses moeilik om te verwesenlik en praktyk te maak in ’n gemeenskap wat gekenmerk word deur uiteenlopende etniese, politieke, sosiale en godsdiensgroepe. Dis ’n gemeenskap wat sterk langs etniese klowe loop – wit teenoor bruin teenoor swart. Daar is nog groot klowe wat tussen hierdie gemeenskappe oorbrug moet word omdat voldoende versoening nog nie plaasgevind het nie. Op hierdie punt word verderaan teruggekom.

 

5. Die Afrikaanse Taalberaad (Augustus 2004)

5.1 Aard en omvang van die beraad

Dit was inderdaad nie maklik om ’n Afrikaanse Taalberaad aan te bied nie, veral nie ’n beraad van die omvang wat die Voortsettingskomitee in gedagte gehad het nie. ’n Sogenaamde ‘volksberaad’ is beplan, maar prakties gesproke (logisties en kostegewys) was dit ’n onmoontlikheid.

Die beplande Afrikaanse Taalberaad het uiteindelik op 25-27 Augustus 2004 op Stellenbosch plaasgevind. ’n Komitee onder leiding van dr. Louise Combrink van die Vriende van Afrikaans se hoofkantoor op Stellenbosch het die organisasie van die beraad behartig. Die beplanning van die beraad as sodanig was reeds tekenend van ’n nuwe gees van samewerking en ondersteuning wat in die Afrikaanse gemeenskap losgemaak is – “’n Proses is begin waar mense en organisasies wat mekaar tradisioneel waarskynlik nie sou ondersteun nie, begin saamwerk het” (Carstens, aangehaal in Olivier, 2004a). (Sien ook Brand, 2004, Prinsloo, 2005.) Dr. Gerrit Brand (lid van die Voortsettingskomitee) sê in ’n onderhoud (vgl. Steinmar, 2004) dat dit met die beraad in wese gegaan het ... oor groter koördinasie en monstering van kragte, maar met behoud van elkeen se eie doelwitte en outonomie. Ons moet probeer om die groter prentjie te sien en ons elkeen se plek daarbinne te verstaan... Ons moet in die lig van die taaloudit ... probeer om die hele netwerk van kragte rondom Afrikaans te verstaan en dan strategies daarbinne te handel en, waar moontlik, saam te werk.

Fondse vir die beraad was skaars en lede van die Voortsettingskomitee moes besondere moeite doen om voldoende fondse te bekom om ’n beraad vir ongeveer 200 persone aan te bied. Van die begin af was dit die gedagte dat die beraad bekostigbaar en toeganklik vir enige deelnemer moes wees. Fondse en daadwerklike steun (soms selfs net van administratiewe aard) is verkry vanuit ’n verskeidenheid groepe wat bereid was om as borge op te tree. Hierdie eerste teken van samewerking het wel die tafel gedek vir die beraad as sodanig.

Die program van die beraad was gebaseer op die resultate van die bestekopname. Aan die hand van die uitkoms van die oudit is daar temas geïdentifiseer wat as vertrekpunte vir die gesprekke sou dien. Dit moes die gesprekke rig omdat die organiseerders van oordeel was dat daar gefokusde gesprekke moes wees wat hopelik konkrete uitkomste sou meebring. Vir elke tema is enkele gespreksinleiers aangewys en dan sou vooraf geïdentifiseerde persone ook kommentaar daarop lewer en sodoende die gesprek gefokus hou op die tema. Daar is doelbewus probeer om losse praatjies uit te skakel. Uiteenlopende standpunte oor ’n verskeidenheid sake is op die beraad geopper, maar veral twee opmerkings van prof. Chris Brink, openingspreker en Rektor van die Universiteit van Stellenbosch, verdien hier melding en beslis ook verdere besinning: (a) dat die gedagte agter die nasionale strategie ’n uitstekende een is, maar dit “... moet ’n landswye koalisie van vrywilligers wees” wat die proses dryf (dus: maak die proses so inklusief dat elke gewillige Afrikaanssprekende die vrymoedigheid sal hê om deel te neem daaraan), (b) “Afrikaans se saak sal ook in Engels gevoer moet word vir dié wat Afrikaans nie verstaan nie” (dus: moenie huiwer om Engels in te span om Afrikaans se saak op enige plek te stel nie). Die res van die standpunte sal volgens beplanning opgeneem word in ’n boek oor die taalberaad.

Op die laaste dag van die beraad het daar wel spanning ontstaan en hierdie spanning was verdeel langs rasselyne. Dit het ’n gespanne atmosfeer meegebring en talle beraadgangers met swaarmoedigheid laat weggaan. Die rede vir die onmin was eenvoudig: hoe moes die proses vorentoe gaan? Moes die bestaande komitee (die Voortsettingskomitee met koöptering van ander kundige persone) die inisiatief vorentoe neem of moes dit ’n nuut-saamgestelde komitee wees? Dit was ’n toevalligheid dat die voorstel vir die eerste opsie vanuit blanke geledere gekom het. Dr. Christa van Louw, voorsitter van die NTLA, het die ander opsie gesteun en haar sterk daaroor uitgespreek. Daar is uiteindelik wel ’n kompromis bereik, naamlik dat die huidige komitee sy taak afhandel en ook ander kundige persone wat verteenwoordigend is van die Afrikaanse taalgemeenskap daarby betrek.

Die opskrif van Vosloo (2004: 18) se berig in Rapport (29/08/2004) is dalk ’n goeie weerspieëling van wat die oordeel oor die beraad was: “Dis nog ’n wonder van Afrikaans. Maar dalk is die ‘stryders’ ook net betyds uitmekaar.” Die Voortsettingskomitee het die middag na afloop van die beraad ’n besinningsvergadering gehad, maar daar is gou ooreengekom dat die gesprek op daardie punt eerder gestaak moet word as om voort te gaan terwyl emosies hoog geloop het.

Reaksie op die beraad was uiters positief en etlike verslae, berigte en kommentaar op aspekte van die beraad het in die media verskyn. Die beraad is in die algemeen beskou as ’n sukses en ’n groot stap vorentoe vir Afrikaans. Dr. Neville Alexander, die voorsitter tydens die afsluitingsessie, het die beraad beskou “as ’n besinning oor Afrikaans as taal in ’n veelrassige post-Suid-Afrika” (Rapport, 29/08/2004, bl. 18). Dr. Alexander het ook gemaan teen ’n te haastige spoed om die proses verder te voer: “... ek waarsku teen oorhaastigheid. Ons moet stadig oor die klippertjies en nie te haastig wees om mekaar om die hals te val nie.”

Ten spyte van kritiek oor ’n gebrek aan behoorlike verteenwoordiging van alle groepe Afrikaanssprekendes (deur o.m. mnr. Elias Nel en prof. Jonathan Jansen), en van ander berigte oor ’n moontlike ‘laertrekmentaliteit’ van Afrikaanssprekendes, was dit uit mediaberigte duidelik dat die beraad as ’n gekwalifiseerde sukses beskou kan word. Jansen (2004) se bekommernis in ’n reflekterende koerantberig oor die beraad is wel rede tot kommer: vir hom was die beraad aanvanklik ’n aangename verrassing omdat daar die “mees diverse groep Afrikaanssprekendes – ten opsigte van ras en godsdiens – bymekaargetrek (was) wat ek nóg bymekaar gesien het.” Hy beklemtoon die belang van Afrikaans as toenaderingstaal en voeg by dat hy sy bydrae op die beraad afgesluit het “deur dit te stel dat die toekoms van Afrikaans afhang van die oopstel van hierdie taal en sy sprekers vir diskoerse met ander tale en sprekers”. Die beraad het vir hom in ’n sekere opsig ontspoor toe ’n “klein minderheid Afrikaner­nasionaliste” daartoe bygedra het dat “Afrikaans opnuut etniese en rasse-etikette” gekry het deur die optrede van hierdie persone.

Die feit dat Afrikaanssprekendes – gesien teen die lig van die geskiedenis van versplintering in Afrikaanse geledere – wel drie dae lank bymekaar kon bly en kon volhou om saam te praat (ten spyte van groot meningsverskille), word as van groot belang vir die toekoms beskou. Dawie (Die Burger, 28/08/2004. bl. 22) sê die uitdaging vir die beraadgangers en die organiseerders is om die geesdrif tydens die beraad nou te kanaliseer na die praktyk: “Alles in ag genome, was die beraad ’n positiewe ervaring. Nou moet die geesdrif en kundigheid wat hier uitgekom het, net in praktiese bane gekanaliseer word. As dit kan gebeur, lyk Afrikaans se toekoms blink.”

Dat daar nog werk voorlê om die proses vorentoe te neem, is dus nie te betwyfel nie. Steyn (2004) sê ook duidelik dat meer as “feeste en songs” nodig is om Afrikaans te red. Hy wys ook op die gevare van regstellende aksie, transformasie en swart bemagtiging vir die ontwikkeling van tale anders as Engels, byvoorbeeld: “Volgens mnr. Flip Buys van Solidariteit versnel regstellende aksie die verengelsing van die werkplek.”

Opsommend: Die beraad kan sonder twyfel beskou word as een van die pilare in ’n nuwe inisiatief om Afrikaans se posisie in die jare vorentoe te verstewig. Dat alles nie voorspoedig verloop het nie, was waarskynlik nie ’n verrassing nie, maar dis duidelik dat die proses om ’n nasionale strategie vir Afrikaans hiermee ’n eerste groot tree gegee het op ’n lang pad.

5.2 Reaksies en inisiatiewe uit die beraad: ’n Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA)

Reaksie op die beraad was uiteenlopend soos hierbo aangedui is, maar daar is wel ’n paar aspekte wat hier kortliks melding verdien.

Die eerste punt van belang is die saak van versoening: Die versoenings­proses tussen wit en bruin is nog lank nie afgehandel nie en daar sal as ’n saak van dringendheid hieraan aandag gegee moet word. Dawie (Die Burger, 28/08/2004, bl. 22) druk hom soos volg hieroor uit: “Die beraad het opnuut die klemverskil tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes blootgelê. Die wittes neig om die taalkwessie as ’n saak van identiteit en regte te sien; die bruines as ’n saak van bemagtiging.” Annie Olivier (2004b) het ook besondere klem op hierdie aspek gelê in haar oorsigberig oor die beraad: Versoening gaan tyd neem en is iets wat gekoester moet word alvorens daar werklik ’n volwaardige Afrikaanse gesprek onder alle Afrikaanssprekendes sal kan plaasvind. Die beraadorganiseerders se idee van ’n sessie oor “Die toekoms van Afrikaans se verlede” was agterna beskou opportunisties. Daar is heelwat meer hieraan verbonde as ’n blote gesprek.

Lloyd (2005) sê duidelik “wit, bruin Afrikaanses is nog maar apart”. Volgens hom is daar nog baie kwessies wat ... in die pad (staan) van die realisering van die ideaal van een Afrikaanse taalgemeenskap . Op die oomblik is daar twee Afrikaanse gemeenskappe: die een wit en meestal ryk, die ander bruin en oorwegend arm. Voordat ons dus praat van een Afrikaanse gemeenskap, moet wit en bruin onderling begin praat oor hoe om gestalte te gee aan dit waarvan Du Plessis skryf. [Verwysende na ’n berig wat Tim du Plessis, redakteur van Rapport (02/01/2005a, bl. 20) geskryf het oor die strewe om ’n hegter binding onder die Afrikaanse taalgemeenskap te kry.] Want een Afrikaanse gemeenskap bestaan tans eenvoudig nie.

Slabbert (2005:10) voeg hierby: “Daar is meer mense wat Afrikaans praat wat nie sogenaamd ‘wit’ is nie as wat daar is wat wit is. Vir hulle is Afrikaans nie ’n luukse nie, dis ’n daaglikse noodsaaklikheid.” (Vgl. ook Van Rheede, 2005 in hierdie verband.) Die betrokke Afrikaanse gemeenskappe moet dus nader aan mekaar beweeg.

ZB du Toit (2005) tree hieroor in gesprek met twee prominente akademici, t.w. prof. Jaap Steyn en dr. Neville Alexander, en dit blyk hieruit dat die saak van Afrikaanswees en die identiteit wat wit en bruin daaraan koppel nog ver van deurgepraat is. Alexander sê byvoorbeeld oor die kwessie van Afrikaanse skole ‘die meeste eertydse bruin skole glo nie in enkelmediumskole soos baie wit Afrikaanstaliges nie’. “Parallel- en dubbelmediumskole is ons ideaal, juis omdat Engels só beter aangeleer word.” In ’n berig getitel “Afrikaners moet weer vóórtrekkers word” (2005) wys prof. Willie Esterhuyse daarop dat “die liefde vir Afrikaans by voorheen-onderdruktes een van die wonders van Afrikaans (is). Dit maak Afrikaans inderdaad ’n pêrel van groot waarde.” Hy voeg hierby: “Die normalisering van verhoudinge het op mikrovlak reeds ver gevorder. Maar dit moet verder gevoer word.” Willemse (2005b: 9-10) is van oordeel dat die grootste bedreiging vir Afrikaans lê in die voortgesette pogings om Afrikaans so nou te koppel aan Afrikaner etniese identiteit [sic] (of dan ten minste Afrikanerbelange). Vir so lank as wat Afrikaans slegs ’n kodewoord vir die Afrikaner sal bly en daar nie daadwerklike pogings is om die taal in sy Suid-Afrikaanse diversiteit uit te bou en te koester nie, sal daardie pogings minder suksesvol wees.” Hy voeg dan verder by as oplossing: ... ons [sal] nuwe, gedeelde simbole, helde, rituele, waardes en praktyke [...] moet vestig om die ideaal van ’n ruim Afrikaans te bewerkstellig. [Vgl. ook Alant 2005, De Vries 2005a en 2005b, T du Plessis 2005c en 2005d, Gerwel 2005, Jansen 2005a en 2005b, Jeffreys 2005, C Malan 2005, Van Louw 2005, Van Rheede 2005, Willemse 2005a, Wyngaard 2005.]

Hierdie saak, d.w.s. versoening tussen die uiteenlopende Afrikaanse gemeenskappe, behoort inderdaad méér as terloopse aandag te kry en behoort in ’n belangrike opsig nommer een op die Afrikaanse prestasie-agenda vir die onmiddellike toekoms te wees. Dr. Christa van Louw, voorsitter van die NTLA, sê dat ons [...] daarom eintlik nie ’n keuse [het] nie. Ons sal die grawe moet opneem en die huis gaan versterk, herrangskik, herorden. Ons sal ons huis in orde moet kry sodat ander graag daar wil aandoen, maar dit ook kan evalueer as ’n modeltuiste waarop voortgebou kan word. Wat is die alternatief? Dit is amper te vreeslik om te artikuleer; dit is: gesinsmoord!

Die tweede saak wat van belang is, is dit wat na afloop van die beraad gebeur het en in wese die proses rakende die totstandkoming van ’n Nasionale Forum vir Afrikaans aan die gang gesit het. Die beraadgangers van die 2004-beraad het naamlik die bestaande Voortsettingskomitee die opdrag gegee om die volgende te doen: (a) brei die bestaande komitee uit deur ander persone te betrek om sodoende die proses verder te dryf en (b) rapporteer oor ’n jaar terug by beraad 2 oor vordering wat gemaak is (Vosloo 2004: 18).

Watter vordering het hier plaasgevind? Die gesanksioneerde aangepaste Voortsettingskomitee het op ’n strategie besluit ten einde die momentum vol te hou. Hierdie strategie het die volgende ingehou: organiseer ’n opvolgberaad in die noordelike deel van die land en lê dan ’n konseptaalplan aan die aanwesiges voor. Die mini-beraad is op Saterdag 5 Februarie 2005 in Johannesburg aangebied en dis bygewoon deur ongeveer 80 beraadgangers. Die konseptaalplan – wat ontwikkel is onder leiding van dr. Karel Prinsloo met volle samewerking deur twee kundiges op die terrein van taalbeplanning, t.w. proff. Vic Webb van UP en Neville Alexander van UK – het gepoog om aan die hand van geïdentifiseerde waardes (soos inklusiwiteit, versoening wat tussen Afrikaanse gemeenskappe nagestreef word, dat meertaligheid ’n bate is) en die ooreenkom van voorwaardes waaraan die plan moet voldoen (soos dat dit ’n langtermynproses is wat met geduld aangepak moet word, dat taalpolitieke feite en markkragte in ag geneem moet word, dat ’n taalregte-benadering nie gevolg moet word nie, dat die taalgemeenskap ingelig moet bly en betrokke moet bly by die proses) leiding te gee oor die aanpak van die pad vorentoe met die nasionale strategie vir Afrikaans. Dit het o.a. behels dat die eerste bestekopname voortgesit en verfyn moes word, dat ’n visie en missie ontwikkel moes word as kompas, dat ’n bestuurstruktuur (met as uiteindelike doel die totstandkoming van ’n Nasionale Forum vir Afrikaans) gevestig word om die dag tot dag aktiwiteite te bestuur, dat duidelike doelwitte nagestreef moet word, dat ooreengekom moet word op implementeringstrategieë, dat daar kontrolemeganismes moes kom om die vordering te meet, dat fondse gewerf sou moes word uit die burgerlike gemeenskap, en dat duidelike korttermyndoelwitte gestel moes word om vordering te kan toon. Van hierdie korttermynmylpale was die volgende:

§ Die publiseer van ’n boek (met dr. Karel Prinsloo as redakteur) oor die aanloop tot die beraad en die verloop daarvan. Dit sal ook die eerste bestekopname en die interpretasie van die gegewens bevat. Hierdie boek met as titel Op pad na ’n taalplan vir Afrikaans – perspektiewe en standpunte uitgespreek tydens die Afrikaanse Taalberaad van Augustus 2004 sal na verwagting in 2006 gepubliseer word.

§ Die aanbied van die mini-beraad op 5 Febr. 2005 in Johannesburg.

§ ’n Moontlike tweede nasionale taalberaad in ongeveer Augustus / September 2005.

§ ’n Interimsekretariaat moes ook gevestig word omdat daar praktiese sake is wat daagliks aandag moet kry. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in April 2005 die sekretariaat oorgeneem vir die volgende fase van die proses nadat mnr. Hennie de Wet van die FAK die proses van die begin af gestuur het.

§ Daar is sedertdien ook ’n interimbestuur vir die te stigte NFA aangewys en hiermee het die taak van die aanvanklike Voortsettingskomitee in wese afgeloop. Prof. Wannie Carstens is aangewys as sameroeper van hierdie komitee. Die interimbestuur se korttermynstrategie behels die voortsit van die proses aan die hand van die werk van geïdentifiseerde fokusgroepe, soos die FAK wat in 2005 die leiding geneem het met die moedertaaldebat. Ander fokusgroepe is ook reeds geïdentifiseer. Die idee onderliggend aan hierdie manier van doen, is heel eenvoudig: identifiseer die organisasies wat reeds bewese kundigheid op ’n besondere terrein het (soos die FAK t.o.v. onderwys, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns t.o.v. Afrikaans se hoëfunksiestrewes, die Vereniging vir Regslui oor Afrikaans in die howe, die ATKV oor kultuurbevordering, Solidariteit t.o.v. Afrikaans in die vakbondwese, e.s.m. Die doel is dus om die momentum wat reeds sedert September 2003 opgebou is, vol te hou deur die voortsit van projekte en aksies en die mobiliseer van groepe rondom besondere terreine. Hier sal die ‘koalisie van vrywilligers’ beslis ’n rol moet speel.

Dus: die nasionale strategie vir Afrikaans het in die loop van bykans twee jaar beduidende vordering getoon – van ’n aanvanklike idee tot ’n gevestigde struktuur met nuwe dryfkragte en energie. Die Afrikaanse gemeenskap sal in Buys (2004) se woorde moet besef dat die tyd inderdaad aangebreek het vir aksie: Die Afrikaanse gemeenskap moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie toekoms en self aktief daaraan begin werk. Nie in isolasie nie, maar saam met geleentheidsvennote waar nodig en waar moontlik. Dit help nie om aan ‘n afhanklikheids- of onttrekkingsindroom te ly nie. Dieverlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie en die toekoms laat nie op hom wag nie.


6. Die moedertaalonderrigdebat

Die kwessie van moedertaalonderrig was sedert 2003 opnuut in die brandpunt. Dit raak nie net bloot die kwessie van Afrikaans in die klaskamer nie, maar dis tegelykertyd ook ’n terrein vir emosionele stryd en politieke woelinge (vgl. Truter, 2004). Jansen (2005c) maak dit byvoorbeeld eenvoudig ’n rassekwessie as Afrikaanssprekende ouers aandring op moedertaalonderrig vir hulle kinders –

Dis nogal eienaardig dat dit net ’n spesifieke groep Suid-Afrikaners is wat op moedertaalonderrig aandring. Hulle is meestal wit, Afrikaanssprekende ouers wat sterk voel dat hulle kinders die reg het om in hulle moedertaal skool te gaan. Ek weet van geen enkele swart ouer wat dieselfde voel nie; om die waarheid te sê, dring die meeste swart ouers om ’n belangrike en praktiese rede eerder op Engels aan: Dit is die medium wat hulle kinders voorberei op deelname aan ’n globale ekonomie en waardeur hulle beroepsgeleenthede in Suid-Afrika ingrypend toeneem. Waarom is Afrikaanse ouers dus die grootste voorstanders van moedertaalonderrig? ... As ’n mens op Afrikaansmediumskole aandring, is jou kans groter om seker te maak die skool bly wit.

Dr. Pallo Jordan, Minister van Kuns en Kultuur, sê selfs in die Parlement dat bekommernisse oor Afrikaans se toekoms “te make het met die beskerming van wit mense se gevestigde belange” (vgl. Jordan, 2005). Hy sê selfs hy “hoor nie bruin mense wat kla oor die verwoesting van Afrikaans nie – dis net die wittes wat kla. Wat is die oorsaak hiervan?” (Vgl. Ook Du Toit, 2005c.) Tim du Plessis, die redakteur van Rapport, reageer hierop soos volg:

... volgens Jordan het alle bekommernisse oor Afrikaans te doen met die ‘beskerming van wit mense se belange’. Asof enigiets outomaties besmet word as wit mense daarvoor vra. Watter siek mentaliteit. En dit van Jordan, ’n man wat ek altyd geglo het veel ruimer van gees is as dit. Ten minste weet die moedige stryders van Stellenbosch nou rassedweepsug wag op hulle wanneer hulle in Tuynhuys of die Uniegebou moet gaan praat vir hulle Afrikaanse universiteit. (Vgl. Du Plessis, 2005c, ook Prince, 2005.)

Le Roux (2005) druk haar in nog sterker taal hieroor uit: “Wanneer gaan ons leer dat alles wat Afrikaans is en alles wat wit is vir die swart regering ’n doring in die vlees is?” Met verwysing na die instel van die moontlike T-opsie aan die fakulteit Lettere en Wysbegeerte van die Universiteit van Stellenbosch voeg sy by: “Die US word geteiken omdat hy Afrikaans en wit is. Soos ook met ander Afrikaanse universiteite en ons skole.” Steyn (2004a) verwys ook na ’n lid van die Menseregtekommissie wat op besoek aan Nieu-Seeland te kenne gegee het “dat Afrikaanse enkelmediumskole taal en kultuur gebruik om swart leerlinge die reg op onderrig te ontsê.” Hy verwys ook na talle skole wat sedert 2000 onderhewig is aan druk om van enkelmedium- Afrikaanse skole oor te skakel na dubbel- of parallelmediumonderrig – die bekendste onlangse voorbeeld hiervan is waarskynlik die Laerskool Mikro-debakel in Kuilsrivier (vgl. o.a. Rademeyer 2005a oor hierdie skool asook ander skole wat onder druk is).

’n Belangwekkende onderwysberaad het op 4-5 Junie 2004 op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland in Bellville plaasgevind en dit het die toon vir die debat in 2004 en 2005 aangegee. Teen Junie 2004 het die NTLA onder druk van die Voortsettingskomitee van die nasionale strategie vir Afrikaans ’n persverklaring uitgereik oor die waarde van onderrig op alle onderwysvlakke in die moedertaal van die betrokke leerlinge of studente. Die aanleiding hiertoe was ’n opmerking wat die Minister van Onderwys, me. Naledi Pandor, in haar 2004-begrotingstoespraak in die Parlement gemaak het:

We will also be looking very closely at the teaching of indigenous languages in our schools. One of the intentions of our language policy is to encourage the use of home languages as media of instruction in the first three years of schooling. This intention is based on the well-established fact that home language, if correctly used, can be a powerful vehicle for developing foundational concepts for future learning. We have to balance the educational imperatives of using indigenous languages as media of instruction in the foundation phase and the political and economic imperatives of developing competence in English. Our approach in this regard is to strengthen the teaching of English as a second language in all levels of schooling. The aim of this approach is to enable pupils to use English as a language of teaching and learning beyond the first three years of schooling.

Hieruit blyk duidelik dat die Minister die waarde van moedertaalonderrig erken, maar dat die beleid skyn te wees om leerders eerder in Engels op te lei sodat hulle ná die eerste drie jaar met Engels as medium van onderrig kan voortgaan. Die reaksie van die kant van die NTLA was die volgende:

Ons as Afrikaanssprekendes geniet, saam met Engelssprekendes, die geleentheid om deur ons eerste taal onderrig te word. Ons vind dit onaanvaarbaar dat hierdie basiese reg steeds weerhou word van die meerderheid Suid-Afrikaners op grond van die feit dat hulle 'n Afrikataal as moedertaal het. Dit kom neer op diskriminasie op grond van taal en is daarom in meer as een opsig ongrondwetlik. Dit beteken ook dat die meerderheid steeds, soos in die verlede, as tweedeklasburgers behandel word: dié wat voorheen bevoordeel is, word steeds bevoordeel; dié wat voorheen benadeel is, word steeds benadeel. By die onlangse konferensie by UWK het die man van die nasionale onderwysdepartement in reaksie op Kathleen Heugh [verbonde aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing – WAMC] se opmerkings uitdruklik ontken dat dit die departement se beleid is om 'n ‘two-tiered’-stelsel in stand te hou, waar Afrikaans- en Engelssprekendes huistaalonderrig kry, terwyl Afrikataalsprekers na graad 3 eensklaps na Engels as enigste onderrigmedium moet oorskakel. Nou kom die minister skaars twee weke later en stel dit uitdruklik dat dit inderdaad haar departement se beleid is. Die minister weet van beter – sy het immers 'n M-graad in algemene linguistiek van die Universiteit van Stellenbosch en het verlede jaar help reël aan en gepraat en voorgesit by die parlementêre konferensie oor veeltaligheid waar al die argumente deur 'n verskeidenheid kundige sprekers opgedis is. (In die woorde van dr. Gerrit Brand van die Meertaligheidsaksiegroep, en ook lid van die Voortsettingskomitee).

Die NTLA se reaksie is nie as baie positief ervaar nie.

Die bg. onderwysberaad van 4-5 Junie 2004 in Bellville se omvattende samevattende verslag (vgl. Giliomee, Heese & Schlemmer, 2005) is teen die einde van Januarie 2005 beskikbaar gestel. In hierdie verslag is o.a. terugvoer gegee oor die probleme wat ’n gebrek aan moedertaalonderrig in skole meebring. Die FAK, onder leiding van prof. Danie Goosen, die voorsitter van die FAK, het kort hierna ’n persverklaring – op 10 Februarie 2005 – uitgereik waarin “... met ontsteltenis kennis (geneem word) van die klaarblyklik georkestreerde druk wat op Afrikaanse skole landswyd geplaas word”. En verder:

Deur die Afrikaanse skole en hulle gesag rondom die kwessie van taalbeleid onder druk te plaas, word die indruk gewek dat die regering nie ’n egte verbintenis tot moedertaalonderrig en die grondwetlike bepalings in hierdie verband het nie. Daar is eenstemmigheid in onderwyskringe dat indien die Afrikaanse skole nie oor die vermoë beskik om die beginsel van moedertaalonderrig toe te pas nie, die ander tale dit ook nie sal kan doen nie. Om dus die Afrikaanse skole onder druk te plaas, is om te verseker dat ’n kettingreaksie sal volg en dat eenvoudig niks van die ander tale se poging tot moedertaalonderrig tot sy reg sal kom nie. Druk op Afrikaans is ’n voorspraak vir eentaligheid en nie veeltaligheid nie.

Die FAK reik op 25 Februarie 2005 ’n verdere persverklaring uit waarin hulle dit duidelik stel dat die “... SA regering se verwaarlosing van die Grondwet se oproep om moedertaalonderrig (...) lei tot ’n situasie waar Engels die de facto-taal van onderwys word, terwyl meer as 70% van Suid-Afrikaners nie voldoende vaardig in Engels is nie.” Volgens die FAK is dit “... ’n ernstige hindernis onderweg na die demokratisering van SA, omdat dit lei tot die uitsluiting van die meerderheid van ons mense van gehalte-onderrig.” ’n Dokument getitel “Enkele voorwaardes vir ’n geloofwaardige antwoord op die onderwysvraagstuk” word saam met die persverklaring uitgereik. Hierin word bv. verwys na die feit dat rassisme nie gelees moet word in die strewe na moedertaalonderrig vir Afrikaanse skoolkinders nie. Daar word ook gestel dat dit belangrik is om met die Afrikaanse ouergemeenskap oor die saak te konsulteer – “Die georganiseerde Afrikaanse wêreld sal die saak van die Afrikaanse onderwys na ons mense moet neem.

Hiermee word duidelik aangesluit by die strewe van die NTLA/Voortsettingskomitee dat die proses rakende ’n Nasionale Strategie nie ’n proses is wat los van die taalgemeenskap bedryf word nie, maar dat dit in samewerking met die Afrikaanse taalgemeenskap in die wydste moontlike sin geskied. Johann Rossouw (aangehaal in Rademeyer, 2005a) wys ook daarop dat daar nie verwag moet word dat die regering alleen die verantwoordelikheid moet dra vir Afrikaanse onderwys nie, maar dat die Afrikaanse taal- en ouergemeenskap betrokke sal moet wees by Afrikaanse aksies. Regte moet m.a.w. opgeëis word.

’n Verdere verklaring word op 30 Maart 2005 uitgereik n.a.v. ’n gesprek wat die FAK met die Minister van Onderwys gevoer het. In hierdie verklaring word enkele prinsipiële standpunte ten gunste van moedertaalonderrig gestel, nl. dat moedertaalonderrig bemagtigend in ’n demokratiese samelewing is, dat dit bydra tot die sosiale geborgenheid van sprekers van ’n taalgemeenskap, en dat die ontwikkeling van ’n moedertaal tot op die hoogste vlak verband hou met die ekonomiese selfstandigheid van die sprekers van daardie taal. Daar word ook verwys na die druk op Afrikaanse skole in die Wes- en Noord-Kaap om van Afrikaanse enkelmediumskole oor te beweeg na dubbelmediumskole of skole met parallelmediumonderrig. Selfs nadat die Laerskool Mikro ’n hofsaak oor hierdie kwessie gewen het, het die Wes-Kaapse Onderwys­minister geappelleer teen die besluit van die hof (vgl. o.m. Rademeyer, 2005a, Rossouw, 2005, Van Wyk, 2005).

’n Ope brief is op 10 Mei 2005 aan pres. Mbeki gerig en in hierdie brief word gewys op die gevaar van verengelsing en die neiging om toegang tot die onderwysstelsel gelyk te stel met onderrig in Engels. Die gevolg hiervan is “... dat die staat besig is om die meerderheid van SA se kinders die reg op toegang tot gehalteonderrig (te) ontneem.” Volgens ’n koerantberig van 17 Mei 2005 erken die direkteur-generaal van die Departement Onderwys dat “... die verband tussen prestasie en onderrig in leerlinge se huistaal (...) so sterk (is) dat dit nie geïgnoreer kan word nie” (aangehaal in Rademeyer, 2005b: 2). ’n Verslag deur die onderwyskundige Kathleen Heugh (vgl. De Vries, 2005c, Rademeyer, 2005f) dui daarop dat ’n onderwysstelsel met ’n tweede of derde taal as onderrigmedium afstuur op ’n ramp, want “dit strem leerlinge se vordering” (De Vries, 2005c) op vlakke anders as blote taalaanleer vir kommunikasiedoeleindes. Volgens Heugh “is die meeste leerlinge wat in hulle tweede taal onderrig word nie vaardig genoeg om wiskunde, wetenskap, aardrykskunde of geskiedenis in dié taal te leer nie” (De Vries, 2005c). Heugh sê daar “bestaan onweerlegbare bewyse dat leerlinge wat in gr. 4 na onderrig in hulle tweede taal oorskakel slegter vaar as leerlinge wat hulle onderrig in hulle moedertaal voortsit” (De Vries, 2005c). Die Onderwyskommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns wys ook op die gevaar van gedwonge vreemdetaalonderrig deur niemoedertaalsprekende onderwysers en leerlinge wat ”uiteindelik tot grootskaalse ongeletterdheid (kan) lei” (Rademeyer, 2005g). Volgens hierdie kommissie het “talle nasionale en internasionale navorsingsprojekte bevind (...) moedertaalonderrig is onderwyskundig die beste vir doeltreffende onderrig.” (Vgl. ook Lewis, 2004 in hierdie verband.) Die onderwyskundige en taalkenner, dr. Neville Alexander, sê reguit “moedertaal­onderrig is een van die beste maniere om kinders op te lei” en voeg hierby “as daar enkelmediumskole met Engels as onderrigtaal kan wees, kan daar ook dié met Afrikaans wees” (Rademeyer, 2005h). Hierby voeg Van Coller & Steyn (2004: 16) die volgende:

Hoewel die Grondwet [...] enkelmediumskole erken, plaas amptenare in verskeie provinsies druk op alle Afrikaanse enkelmediumskole om dubbel- of parallelmedium te word, terwyl die Engelse enkelmediumskole met rus gelaat word. Dus: die strewe is na amptelike Engelseentaligheid, en lippediens word bewys aan veeltaligheid, hoewel dit ’n wesenlike aspek is van wat ná die apartheidstyd so optimisties ‘die reënboognasie’ genoem is.

Yoyo (2005) vat hierdie saak só saam:

Laastens, moedertaalonderrig, meertaligheid of multitaligheid? Ek weet net dat eentaligheid nie die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners sal bemagtig nie – hierdie meerderheid sal beslis daardeur ontmagtig word. Dit sal dus daartoe lei dat die reënboognasie ’n eenboognasie word (wie weet, later nog ’n eenoognasie?) – met al die negatiewe gevolge wat daarmee gepaardgaan in ons Suid-Afrikaanse opset. Dit wil dus voorkom asof daar uit onderwysgeledere nie juis aanmoediging is om vir Afrikaans ’n atmosfeer te skep wat dit moontlik kan maak vir ons jongmense om die taal ’n tuiste te maak nie. Wat ook verder kommerwekkend is, is die feit dat dieselfde geld vir al die ander gemarginaliseerde Afrikatale.

Hierdie saak is nog lank nie besleg nie en die debat is steeds aan die gang in akademiese en populêre kringe (soos in briewe in koerante en artikels in koerante en tydskrifte, bv. S Carstens 2005, De Vries 2005c en 2005d, Du Plessis 2005b, Rademeyer 2005b-2005i, A Rossouw 2005, Steyn 2004a, Truter & Lubbe 2002, Versluis 2005, e.a.). Dis een van die belangrikste debatte in jare in taal- en onderwyskringe in Suid-Afrika en dis nog lank nie die einde daarvan nie. Voeg hierby die volgende opmerking van prof. Cynthia Marivate, hoof uitvoerende beampte van PanSAT, en dis duidelik dat die debat nog lank sal voortduur: “Net 22% van alle Suid-Afrikaners kan Engels goed genoeg verstaan om hulself byvoorbeeld by ’n kitsbank te help. Dit beteken 78% van die bevolking het nie die vermoë om dié taal behoorlik te begryp nie” (aangehaal in S Carstens 2005). Dis volgens prof. Marivate duidelik dat die swak prestasie van swart leerlinge beslis taalverwant is. Du Preez (2005) voeg hierby ook die volgende as hy praat van “... die onbetwisbare werklikheid dat die ANC-regering nie werklik die politieke wil het om meertaligheid of moedertaalonderwys te bevorder nie” – m.a.w. moet nie illusies koester oor die nakom van die grondwetlike bepalings oor meertaligheid nie. Dus: ’n tameletjie wat slegs deur oopkopdenke en ’n wegbeweeg van politieke agendas opgelos sal kan word.


7. Samevatting

Hierdie artikel het ten doel gehad ’n oorsig oor enkele verwikkelinge wat die Afrikaanse debat sedert 1994 gekenmerk het. Dis duidelik dat daar heelwat gebeur het – die konseptualiseer van ’n nasionale strategie vir Afrikaans, die beraad op Stellenbosch, reaksie op die afloop van die beraad, die uitwerk van ’n konseptaalplan vir Afrikaans, die mini-beraad in Februarie 2005, die aanwys van ’n interimbestuur vir die te stigte Nasionale Forum vir Afrikaans. Voeg hierby die debat oor moedertaalonderrig, die meertaligheids­­debat, die kwessie van wie en wat die Afrikaanssprekende is en ander taalverwante kwessies. Dis inderdaad tekenend van ’n aktiewe debat.

Onlangs het pres. Mbeki ’n kompliment na die kant van Afrikaans gegooi toe hy kommentaar gelewer het oor die gebrekkige poging van sprekers van Afrikatale ter bevordering van hulle eie tale. Hy het gesê dat dit “miskien belangrik (is) om te kyk na wat ons Afrikaanssprekende landgenote doen in die verdediging van hulle taal” (Gwatyu 2005: 2). Afrikaanssprekendes doen dus wel iets reg. Pres. Mbeki het ook tydens ’n ANC-beraad toegegee dat die “ANC-regering Afrikaans nie gehanteer het in ooreenstemming met die visie in die Vryheidsmanifes nie” (Du Toit 2005b). ’n Hele aantal Afrikaanse organisasies (die FAK, die ATKV, Solidariteit, die Afrikanerbond) het onmiddellik gereageer op hierdie uitspraak en dadelik versoek om “’n proses van oorleg met die regering (te) begin”. Ons lewe dus in ’n dinamiese tyd, ’n tyd waarin dinge vinnig gebeur.



Bibliografie

Alant, J 2005. Afrikaans en Afrikaner-nasionalisme is nie dieselfde as Afrikaans en apartheid nie.” Beskikbaar op www.litnet.co.za/taaldebat/alanty.asp. Gebruik op 11/10/2005.

Alexander, N 1994. “Die toekoms van Afrikaans in ‘n demokratiese Suid-Afrika”, in: February, V (red.) 1994. Taal en Identiteit: Afrikaans en Nederlands. Kaapstad: Tafelberg. (bl. 18-28)

Altern, J 1993. “Hou op om Afrikaans te begrawe.” Beeld, 27/04/1994, bl. 13.

Beeld 2005. “Polisie verbied om verklarings in Afrikaans af te neem. ‘Sorrie, but what is jor kraaim?’” Beeld, 16/09.2005, bl. 8.

Bekker, K 2005. “Angelina, wat’s jou ringtone?” Beeld, 27/10/2005, bl. 28.

Brand, G 2004a. “Op pad na ‘n Afrikaanse forum.” Plasingsdatum 26/04/2004. Beskikbaar op www.litnet.co.za/taaldebat/forum.asp. Gebruik op 27/05/2004.

Brand, G 2004b. “From racial to linguistic capitalism.” Plasingsdatum 04/03/2004. Beskikbaar op www.litnet.co.za/taaldebat/lingcap.asp. Gebruik op 27/05/2004.

Brand, G 2005. “Kyk na gevare én eise van dubbelmedium.” Saterdag-Bylaag by Die Burger, 08/10/2005, bl. 8.

Buys, F 2004. “Afrikaners moet hul toekoms help vorm.” Rapport, 20/06/2004, bl. II (Perspektief).

Carstens, S 2005. “Swak prestasie by swart leerlinge taalverwant.” Rapport, 22/05/2005, bl. 8.

Carstens, WAM (red.) 1993. Radioprogramme oor die stand van die gesprek oor Afrikaans. LVSA Nuus, Februarie 1993.

Carstens, WAM 1994. “Om ou koeie uit die sloot te grawe: is daar lesse te leer uit die verlede? Enkele kantaantekeninge.” Literator 15(2): 16-33.

Carstens, WAM 2003. “’n Afrikaanse taalinstituut – Ja of nee?” Teks van referaat tydens FAK se ope gespreksforum oor “’n Groter voetspoor vir Afrikaans”, op 13/09/2003, Pretoria.

Carstens, WAM 2004a. “Afrikaans – tien jaar later (1994-2004).” Referaat gelewer tydens simposium van SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, 25/06/2004 te Potchefstroom.

Carstens, WAM 2004b. “Die ontwikkel van ’n nasionale strategie vir Afrikaans – enkele gedagtes en wenke”. Referaat gelewer tydens simposium van PanSAT met as tema “Innovation, good practice and relevance in language research”, 29/09/2004 te Pretoria.

Carstens, WAM 2005a. “Meertaligheid kom nie mas op nie.” Beeld, 26/05/2005, bl. 18.

Carstens, WAM 2005b. “En nou Afrikaans? Resente verwikkelinge in die Afrikaanse debat.” Referaat gelewer tydens simposium van SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, 24/06/2005 te Pretoria.

Cloete, C 2005. “Protest against Afrikaans at Agricultural College.” Potchefstroom Herald, 16/09/2005, bl. 16.

Combrink, JGH 1991. “Die toekomstige status en funksies van Afrikaans.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe 31(2): 101-112.

Dawie 2005. “Dra nou geesdrif oor na praktyk.” Die Burger, 28/08/2004. bl. 22.

De Vries, AH 2005. “’n Poolse les oor Stellenbosch – en oor trots.” Plus, Bylaag by Beeld, 11/11/2005, bl. 8.

De Vries, A 2005a. “’Dis tyd om te dóén vir taal’”. Rapport, 18/09/2005, bl. 2.

De Vries, A 2005b. “’Ons is maar net Afrikaanse Afrikane’”. Perspektief-byblad, Rapport, 30/10/2005.

De Vries, A 2005c. “Onderwys in tweede taal ‘resep vir ’n ramp’”. Rapport, 9/10/2005, bl. 6.

De Vries, A 2005d. “’Maak moedertaal verpligtend’.” Rapport, 10/07/2005, bl. 20.

De Vries, A 2005e. “Planne bednk oor skooltaal.” Rapport, 03/07/2005, bl. 16.

Du Plessis, H 1992. En nou, Afrikaans? Pretoria: JL van Schaik.

Du Plessis, H 1996. “Afrikaans: ‘n toekomsperspektief.” Aambeeld 24(1): 47-49. Junie 1996.

Du Plessis, H 2003. “Engels, Engels, alles Engels!” Die Taalgenoot, Februarie 2003: 58.

Du Plessis, H & LT du Plessis (reds.) 1987. Afrikaans en Taalpolitiek: 15 Opstelle. Pretoria: HAUM.

Du Plessis, T. 2005a. “Sal Afrikaans se wolk vorm in ’05? Hegter binding nodig vir taalgemeenskap.” Rapport, 02/01/2005, bl. 20.

Du Plessis, T. 2005b. “Fyn trap en mooi dink oor onderrig.” Rapport, 10/04/2005, bl. 16.

Du Plessis, T 2005c. “Historiese kans vir soetste taal.” Rapport, 30/10/2005, bl. 18.

Du Plessis, T 2005d. Dis hoekom SA so voortploeter.” Rapport, 13/11/2005, bl. 18.

Du Preez, M 2005. “Hoe val die dice regtig?” Insig, April 2005, bl. 14.

Du Toit, ZB 2005a. “’Ons soek aksie vir Afrikaans’.” Rapport, 03/07/2005, bl. 1.

Du Toit, ZB 2005b. “Bruin en wit verskil oor Afrikaans.” Perspektief, Rapport, 24/07/2005, bl. 2.

Du Toit, ZB 2005c. “Afrikaans-stryd net ’n magspel.” Rapport, 30/10/2005, bl. 8.

Esterhuyse, W 2005. “Afrikaners moet weer vóórtrekkers word.” Perspektief, Rapport, 10/07/2005, bl. 2.

Ferreira, OJO 2004. FAK 75. FAK: Pretoria.

Gerwel, J 2005. “Dít kan help in gesprekke oor bruines.” Rapport, 13/11/2005, bl. 18.

Giliomee, HB 2003. The Afrikaners. Biography of a People. Kaapstad: Tafelberg/ University of Virginia Press.

Giliomee, HB 2004. Die Afrikaners. ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.

Giliomee, HB 2005a. “US dan net nóg ’n Engelse kampus.” Beeld, 25/10/2005, bl. 12.

Giliomee, HB & L Schlemmer (reds.) 2001. Kruispad: Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg.

Giliomee, HB, C Heese & L Schlemmer 2005. Finale Verslag: Afrikaansmediumonderrig op skool en van die menings van ouers in alle gemeenskappe oor die huidige stand van skoolonderwys. Stellenbosch, 2005.

Goosen, DP 2005. “Die FAK-spitsberaad oor Afrikaanse onderwys, Pretoria, 25/02/2005: Enkele voorwaardes vir ’n geloofwaardige antwoord op die onderwysvraagstuk.” http//www.vryeafrikaans.co.za/lees.php?id=150. Gebruik op 04/04/2005.

Grut, M 2004. “Afrikaans under threat.” Concensus, Vol 1 (3), bl. 6-7.

Gwatyu, MM 2005. “’Kyk hoe veg Afrikaanses vir hul taal’. Pas inheemse tale op, sê Mbeki.” Beeld, 08/04/2005, bl. 2.

Hoeane, T. 2003. “Let us reclaim Afrikaans.” Sunday Times, 02/11/2003, bl. 19.

Jackson, N 2003. “Afrikaans se wins en verlies – Die taal se kleurryke gemeenskap is nog vol lewe.” Beeld, 10/09/2003, bl. 10.

Jansen. J 2004. “Vyande van Afrikaans doem op by Taalberaad.” Die Burger, 21/09/2004, bl. 10.

Jansen, J 2005a. Die probleem met die Afrikaner. Beskikbaar op www.litnet.co.za/taaldebat/jansen.asp. Gebruik op 13/09/2005.

Jansen, J 2005b. “Dis die probleem met sommige Afrikaners.” Perspektief-byblad, Rapport, 25/09/2005.

Jansen, J 2005c. “’n Kabaal oor skooltaal.” Insig, Oktober 2005, bl. 10.

Jeffreys, H 2005. “Toets ANC oor sy erns met ‘ons’ taal.” Beeld, 23/09/2005, bl. 18.

Johnson, RW 2006. “”Goodbye isiXhosa.” Prospect Magazine, Nommer 122, Mei 2006.

Jordaan, W 2005. “Net wittes reken taal is bedreig, sê minister aan DA-LP.” Beeld, 18/10/2005, bl. 6.

Joubert, JJ 2005a. “Dankie aan skole wat dié stryd stry.” Beeld, 01/07/2005, bl. 16.

Joubert, JJ 2005b. “Tot LP’s spraak sprook oor Maties-taalkwessie.” Beeld, 12/11/2005, bl. 6.

Klopper, R 2001. “Thumbs up for Afrikaans analysis.” Mail & Guardian, 03/08/2001.

Le Roux, H 2005. “Die US en Afrikaans...” www.litnet.co.za/senet/senet.asp Gebruik op 08/11/2005.

Leyden, M 2005a. “Viva die taal.” Taalgenoot, Februarie 2005, bl. 21-24.

Leyden, M 2005b. “Soli(ed) oor die lewe.” Taalgenoot, Oktober 2005, bl. 9-11.

Lewis, J 2004. “Die ononderhandelbare waardes van moedertaalonderrig”, in: Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaans – lewende taal van miljoene. Pretoria: JL van Schaik. Bl. 183-190.

Lloyd, J 2005. “Wit, bruin Afrikaanses is nog maar apart.” Rapport, 16/01/2005.

Louw, PE 2004. “Anglicising Postapartheid South Africa.” Journal of Multilingual and Multicultural Development 25 (4): 318-332.

Malan, C 2005. “Skrywers moet mites uitroei oor rasverdeling.” Beeld, 28/10/2005, bl. 18.

Malan, M 2005a. “Taalverset by Maties beplan.” Rapport, 09/10/2005, bl. 6.

Malan, M 2005b. “Engelse onderrig hiérom ‘sleg’.” Rapport, 09/10/2005, bl. 6.

Moleko, M T. 2003. “Let us reclaim Afrikaans.” Sunday Times, 02/11/2003, bl. 19.

NTLA 2003. Mediaverklaring deur die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans op 21 November 2003 – “’n Nasionale strategie vir Afrikaans in wording”. Plasingsdatum 09/12/2004. Beskikbaar op www.litnet.co.za/taaldebat/nta.asp. Gebruik op 27/05/2004.

O’Connor, M 2005 “Elsa Joubert sê hoekom US Afrikaans moet bly.” Die Burger, 18/11/2005, bl. 4.

Olivier, A 2003a. “Skep ‘n manier vir kinders, nuwe praters om Afrikaans te leer, sê taalmense. Plant nou, oes later.” Beeld, 12/08/2003, bl. 11.

Olivier, A 2003b. “Taalinstituut vir Afrikaans kry wye steun.” Beeld, 18/08/2003, bl. 9.

Olivier, A 2003c. “Afrikaans los kokon. Organisasies span saam om taal te bou en te bevorder.” Beeld, 05/12/2003, bl. 17.

Olivier, A 2003d. “Praat uit een mond. Pansat vra roetekaart vir Afrikaans.” Die Burger, 09/12/2003, bl. 17.

Olivier, A 2004a. “Beraad gaan Afrikaans help.” Beeld, 21/06/2004, bl. 4.

Olivier, A 2004b. “Saam deur pyn – wit en bruin moet eers harte oopmaak.” Beeld, 03/09/2004.

Olivier, R 2004. “Afrikaans ná tien jaar van demokrasie.” Plasingsdatum 26/04/2004. Beskikbaar op www.litnet.co.za/taaldebat/olivier10.asp. Gebruik op 27/05/2004.

Pienaar, L 2004. “Die Soweto-onluste van 16 Junie 1976 en die gevolge daarvan vir Afrikaans”, in: Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaans – lewende taal van miljoene. Pretoria: JL van Schaik.

Pretorius, C 2005. “’Ek kla nie,’ sê Brink.” Beeld, 09/11/2005, bl. 20.

Prince, I 2005. “Beste dr. Jordan – ek het tóé my mond gehou.” Beeld, 15/11/2005, bl. 16.

Prinsloo, KP 2005. “Towards a language strategy for Afrikaans: the process before, during and after the Afrikaans Language Indaba of 2004 in Stellenbosch.” Referaat gelewer tydens jaarkongres van Linguiste­vereniging van Suider-Afrika (LVSA), 8 Julie 2005, Dikhololo.

Prinsloo, KP & MCJ van Rensburg (reds.) 1984. Afrikaans: stand, taak, toekoms. Pretoria: HAUM Opvoedkundige Uitgewery.

Rademeyer, A 2005a. “Aksie vir Afrikaans!” Beeld, 04/03/2005, bl. 17.

Rademeyer, A 2005b. “Huistaal = presteer, sê DG.” Beeld, 17/05/2005, bl.2.

Rademeyer, A 2005c. “Skole kyk na gronde vir appèl ná uitspraak.” Beeld, 26/10/2005, bl. 12.

Rademeyer, A 2005d. “Afrikaans as vaktaal ly.” Beeld, 13/09/2005. bl. 7.

Rademeyer, A 2005e. “Appèl kom oor uitspraak teen Afrikaanse skole.” Beeld, 12/11/2005, bl. 9.

Rademeyer, A 2005f. “”3 jaar te min om 2de taal te leer – RGN.” Beeld, 5/10/2005, bl. 7.

Rademeyer, A 2005g. “’Moedertaal óf ongeletterdheid’.” Beeld, 27/10/2005, bl. 24.

Rademeyer, A 2005h. “Grondwet ‘voorsien wel vir enkelmedium-skole’.” Beeld, 19/09/2005, bl. 8.

Rademeyer, A 2005i. "Taal van die skoolbanke." Die Taalgenoot , September 2005, bl. 22-24.

Raidt, EH 1989. “Ontwikkeling van vroeë Afrikaans”, in: Botha, TJR e.a. (reds.) 1989. Inleiding tot die Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: JL van Schaik. (bl. 96-125)

Raidt, EH 19913. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou.

Rantoa, J 2005. “Government should do away with Afrikaans medium schools.” Cape Argus, 23/02/2005.

Rossouw, A 2005. “Volksmond – of volksvreemd?” Rooi Rose, Mei 2005, bl. 90-93.

Rossouw, J 2005. “Onderwys: Die staat teen die gemeenskap: Die geval van Laerskool Mikro.” http//www.vryeafrikaans.co.za/lees.php?id=148. Gebruik op 04/04/2005.

Roup, J 2004. “Lost for words.” Plasingsdatum 24/05/2004. www.litnet.co.za/seminarroom/jroup.asp. Gebruik op 27/05/2004.

Sadie, J 1996. “Die demografie van Afrikaans”. Afrikaans Vandag 4(1): 6-7. Desember 1996.

SAPA 2005. “Afrikaanse skole verloor saak.” Beeld, 25/10/2005, bl. 4.

Schlemmer, L. 2001. “Taaloorlewing en die glybaan van goeie gesindhede: ‘n meningsopname en ontleding”, in: Giliomee, HB & L Schlemmer (reds.) 2001: 94-114.

Schmidt, M 2003. “The rediscovery of Afrikaans.” Sunday Times, 26/10/2003.

Scholtz, J du P 1980. Wording en ontwikkeling van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.

Scholtz, L 2001. “Omvang van taalsterfte is totaal sonder weerga.” Die Burger, 01/06/2002, bl. 10.

Slabbert, Van Zyl 2005. “Kô lat ôs dink!” Insig, November 2005, bl. 10.

Smith, C. 2001. “Engels ander tale se grootste bedreiging.” Beeld, 05/07/2001, bl. 15.

Steinmar, D 2004. “Vrae aan rolspelers in die Taalberaad.” htpp:/www.litnet.co.za/heupvuur/taalberaad.asp Gebruik op 04/10/2004.

Steyn, JC. 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.

Steyn, JC 1992a. “Drie soorte dreigende funksieverliese vir Afrikaans.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe 32(2): 155-163. Junie 1992.

Steyn, JC 1992b. “Die behoud van Afrikaans as ampstaal”, in: Webb, VN (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. (bl. 201-225)

Steyn, JC 1995a. Die taalstryd in die oorgangstyd. Gesindhede teenoor Afrikaans 1990-1994. Stilet, Supplement 1, April 1995.

Steyn, JC 1995b. “Afrikaans in 'n nuwe bedeling: terugslae, groei en reaksies op bedreigings.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe 35(4): 280-292.

Steyn, JC 1998. “Nuwe aktiwiteite rondom Afrikaans: die totstandkoming van ‘n ‘Afrikaanse Oorlegplatform’.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe 38(4): 253-264.

Steyn, JC 2000a. “Stryd moreel reg. ‘Salami’-taktiek teen Afrikaans.” Beeld, 25/04/2000, bl. 11.

Steyn, JC 2000b. “As jy op my liddoring trap, gaan ek jou slaat, vir ou goete ook”. Beeld, 16/06/2000, bl. 11.

Steyn, JC 2001. “Afrikaans 2000: Nuwe suksesverhale en terugslae.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe 41(2): 118-132.

Steyn, JC 2004a. “Skoolkrisis kan Afrikaans uitbou. Asmal-era dalk rampspoedigste ooit in onderwys.” Beeld, 17/02/2004, bl. 10.

Steyn, JC 2004b. “Feeste en songs red Afrikaans nie.” Beeld, 30/08/2004, bl. 12.

Tancred, EM 2005. “Staat ‘verskaf sélf ammunisie.” Rapport, 03/07/2005, bl. 16.

Truter, EJ & HJ Lubbe 2002. “Die polemiek in die oorgangstyd (1994-1996) rondom die taalbesluite van die SABC rakende Afrikaans.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe 43(3): 197-214.

Truter, E.J.J. 2004. "Die ontplooiing van die taalbeleid in die Suid-Afrikaanse onderwys 1652-1961 in besonder gedurende die Unietydperk." Acta Academica, Supplementum 2: 1-173.

Van Coller, HP & JC Steyn 2005. Taal en taalaktivisme in ’n tyd van transformasie. Acta Varia 2005 (1).

Van Louw, C 2005. “Afrikaans: ’n tuiste vir almal.” www.litnet.co.za/seminaar/afrikaans_van_louw.asp Gebruik op 01/11/2005.

Van Rensburg, FIJ (red.) 2004. Afrikaans – lewende taal van miljoene. Pretoria: JL van Schaik.

Van Rensburg, MCJ 1989. “Oor die depolitisering van Afrikaans: vertrek-punte vir 'n gesprek. Tydskrif vir Letterkunde XXVII (2): 42-47. Mei 1989.

Van Rensburg, C (red.) 1997. Afrikaans in Afrika. Pretoria: JL van Schaik Akademies.

Van Rheede, C 2005. “Afrikaans ’n brug tussen ryk en arm.” Rapport, 30/10/2005, bl. IV Nuus.

Van Vuuren, H 2005. “Afrikaans sneuwel as departement by Universiteit van Fort Hare.” www.litnet.co.za/senet/senet.asp Afgetrek 08/11/2005.

Van Wyk, A 2005. “Skole en die Grondwet. Hof kap Wes-Kaapse optrede.” Sake-Beeld, 08/08/2005, bl. 43.

Verhoef, MM 1996. “Politieke determinante in die hedendaagse gesprek oor Afrikaans.” Literator 17(3): 29-44. November 1996.

Verhoef, MM 1997. “Die transformasie van Afrikaans - die afgelope dekade se mediadebat in oënskou.” Literator 18(1): 1-20.

Verhoef, MM 1998. “Funksionele meertaligheid in Suid-Afrika: ‘n onbereikbare ideaal?” Literator 19(1): 35-50.

Verhoef, MM 1999. “Die mites oor Afrikaans: ‘n inleidende beskouing oor die persepsie van Afrikaans as onderdrukkerstaal.” Literator 20(2): 123-135.

Vermeulen, W 2005. “Stellenbosch se mites en strooipoppe.” Rapport, 13/112005, bl. 16.

Versluis, JM 2005. “Moedertaal ‘bly turksvy’.” Volksblad, 13/08/2005, bl. 1.

Vorster, J 2004. “Indrukke en gedagtes rondom die Afrikaanse taalberaad – 24 Augustus 2004, Stellenbosch.” Verslag per e-pos van skrywer ontvang.

Vosloo, J 2004. “Taalberaad: Dis nog ’n wonder van Afrikaans.” Rapport 29/08/2004, bl. 18.

Webb, VN (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. Pretoria: JL van Schaik.

Webb, VN 1997. “Afrikaans in een democratiserend Zuid-Afrika.” Ons Erfdeel 40(2): 225-236.

Webb, V 2001. “Die bevordering van Afrikaans”, in: Carstens, A & H Grebe (reds.) 2001. Taallandskap. Huldigingsbundel vir Christo Verhoef. Pretoria: JL van Schaik. (bl. 164-178)

Webb, VN 2004. “African languages as media of instruction in South Africa.” Language Problems and Language Planning 28 (2): 147-174.

Webb, VN; R Dirven & E Koch 1992. “Afrikaans: feite en interpretasies”, in: Webb, VN (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. Pretoria: JL van Schaik. (bl. 25-67)

Willemse, H 2005a. “Afrikaans-stryd bly etniese stryd.” Beeld, 11/10/2005. Bl. 10.

Willemse, H 2005b. “ Taal, identiteit en Suid-Afrika: Op soek na ’n ruim belewing van Afrikaans.” Voordrag gelewer tydens 3de Swart Afrikaanse Skrywersimposium, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville, 20-22 Oktober 2005. http:// www. litnet.co.za/seminaar/afrikaans_hein_willemse.asp Afgetrek 01/11/2005.

Wyngaardt, H 2005. “Bruines moet nou voor loop oor taal.” Rapport, 06/11/2005, bl. 18.

Yoyo, M 2005. “Ons kom van ver – maar, waarheen?” www.litnet.co.za/taaldebat/yoyo.asp Gebruik 15/11/2005.

Zietsman, PH 1992. Die taal is gans die volk. Pretoria: UNISA.

Zietsman, PH 2003. “Taalinstituut kan ‘n belangrike rol speel.” Rapport, 24/08/2003, bl. 21.

Prof. W.A.M. Carstens
Skool vir Tale
Noordwes-Universiteit
Potchefstroom­­kampus
Suid-Afrika
e-pos: sktwamc@puk.ac.za

Gepubliseer op Afrikaans in Europa, Januarie 2007.

Toestemming vir publikasie verleen deur Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die oorspronklike artikel is in Afrikaans gepubliseer in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Supplement: Moedertaalonderrig), Jaargang 46 no. 2 van Junie 2006, ook beskikbaar by www.sabinet.co.za

 

 © Catharina Loader 2001