Die taalstryder en skrywer C.L. Langenhoven is die primêre rede hoekom daar vandag ´n Afrikaanse Woordelys en Spelreëls is.
D.F. Malherbe wat gehelp het om die heel eerste Afrikaanse woordelijs en spelreëls (AWS) die lig te laat sien in 1917, was vir ´n hele 52 jaar lid van die Taalkommissie wat verantwoordelik is vir die samestelling en opdatering van die AWS.
Prof. Gerhard van Huyssteen is die huidige voorsittter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die 11de Afrikaanse Woordelys en Spelreëls is Donderdag bekend gestel. Willemien Brümmer het gaan kyk na heilige koeie, taaltameletjies en hoogtepunte uit die afgelope eeu.

Artikel gedeel vanaf Netwerk24 (oorweeg dit gerus om by die nuusblad in te skryf): 

http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/afrikaans-se-mes-en-vurk-word-100-jaar-oud-20170802

Vir die eerste keer in ’n 100 jaar het Afrikaans nou haar borstrok uitgetrek: Sy mag nou amptelik in al haar kleurryke en verleidelike variëteite in die bybel van Standaardafrikaans, die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), opgeneem word.

Sedert dié 11de AWS Donderdag bekend gestel is, mag jy nou in die klaskamer van dhaltjie (’n soort gereg), poenankies (oulik), antie en gangster praat. En nee, as jy skryf, hoef dié woorde nie meer gekursiveer te word nie.

Wat meer is: Die Taalkommissie erken nou vir die eerste keer dat Standaardafrikaans se susters, soos Namibiese Afrikaans en Oranjerivierafrikaans (en natuurlik Kaaps) ’n groot dam is waaruit almal mag drink.

“Ons moes 100 jaar wag tot hierdie besluit geneem is. Dis miskien die belangrikste besluit van die afgelope eeu,” sê prof. Christo van Rensburg, ’n voormalige lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dié kommissie is verantwoordelik vir die samestelling van die oudste taalhulpbron in Afrikaans.

En Van Rensburg sal wéét: Hy werk tans aan ’n geskiedenis oor die afgelope 100 jaar van die AWS – ’n eeu waarin veral die donkerder dialekte van Afrikaans vir ’n lang tyd in bannelingskap was.

Die stryd om verafrikaansing

 Die sneller vir die AWS was toe die skrywer en taalstryder C.J. Langenhoven in 1914 daarin geslaag het dat die Provinsiale Raad die eenparige besluit neem om Afrikaans as voertaal in laerskole in te voer.

Hy het die Akademie (toe nog die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns) oorreed om sy planne te ondersteun, asook om die Departement van Onderwys te help met leermiddele in Afrikaans. Nog ’n voorstel van Neelsie is aanvaar, naamlik dat ’n Akademiekommissie die bestaande stel spelreëls wat deur T.H. le Roux en ander opgestel is, moes verfyn.

“ ’n Woordelijs, bevattende die aangenome spelreëls en op grond daarvan”, was ná 1915 op die Akademie se agenda. Dié woordelys en spelreëls is in 1917 vir die eerste keer saam as die Afrikaanse woordelijs en spelreëls (AWS) gepubliseer.

Dié 1917-AWS het 196 bladsye beslaan, teenoor die 800 bladsye van die 2017-AWS. Dit is vir die eerste keer deur die Volksblad Drukkerij in Bloemfontein uitgegee. In ’n mate, sê van Rensburg, is Langenhoven egter gekierang en het die Hollanders die eerste AWS “gekaap”. Een van die grondbeginsels van die spellingkommissie was dat die Afrikaanse spelling behoort te berus op wat hulle genoem het die Vereenvoudigde Hollandse Spelling (VHS).

Die “y” in 1917 is nog dikwels as “ij” geskryf (“afwijs” in plaas van “afwys”) en woorde is dikwels met ’n slot-“w” geskryf (“blouw” in plaas van “blou”). Ander voorbeelde sluit in: bajang (baie), als (as), sie (sien), daadlik (dadelik) en solang (solank).

T.H. le Roux, wat die gesig was van die taalkommissie vir omtrent ’n halwe eeu lank, en die skrywer D.F. Malherbe, wat 51 jaar lank op die taalkommissie was, het hierna met ’n felle verafrikaansingsveldtog begin.

“Elke opeenvolgende woordelys is meer en meer verafrikaans. Hulle het in ’n stadium tussen 1920 en 1930 so ver gegaan dat die Akademie, wat toe nog Hollands was, gesê het ‘hokaai mense, ons gee ’n lys met korreksies uit vir al die woorde wat julle geskrap het’,” vertel van Rensburg met ’n grinnik.

Dié prof en navorsingsgenoot by die Noordwes-Universiteit, wat die AWS as ’n soort mes en vurk vir die gebruik van Afrikaans beskryf, meen ’n mens kan nie die waarde van dié stuk taalgereedskap onderskat nie. “Geskrewe Afrikaans sou hoegenaamd nie sonder die woordelys kon bestaan het nie. Sonder die AWS sou elke ou geskryf het soos hy wou. Ek dink die Taalkommissie is miskien die belangrikste komitee wat vir 100 jaar sy werk in Afrikaans gedoen het.”

’n Liefdestaak

Dié kommissie, wat nie kantore van sy eie het nie en as ’n reël ten minste twee keer per jaar vir ’n week by verskillende plekke bymekaarkom, doen sy werk sonder dat hy ’n sent daarvoor vergoed word. Die nege lede van die huidige Taalkommissie – akademici sowel as taalpraktisyns – het sedert 2009 meer as 700 uur slegs aan gesamentlike vergaderings bestee om die AWS by te werk. Vanaf 2011 vergader hulle boonop buiten die formele vergaderings op ’n digitale forum waar daar tussen 2011 en 2017 altesame 1 106 onderwerpe en 2 706 antwoorde en reaksies van Taalkommissielede was.”

Daar was toe sprake daarvan dat die Taalkommissie ingelyf moes word by die staat, maar een van die probleme was: Hoe maak jy met hierdie eienaardige werkswyse van die Taalkommissie?

Die enigste tyd toe daar sprake van amptelike kantore vir die Taalkommissie was, was in die 1940’s en 1950’s in die era van die terminoloë.

“Die regering van die dag het Afrikaanse terme nodig gehad vir alles wat gewoonlik uit Engels of selfs uit Frans moes kom, en dit het hulle dan by terminoloë gekry en nie by die AWS-mense nie. Dit het hul gesag ’n bietjie ondermyn,” sê Van Rensburg.

“Die terminoloë het in staatsdienskantore gesit of by groot maatskappye. Daar was toe sprake daarvan dat die Taalkommissie ingelyf moes word by die staat, maar een van die probleme was: Hoe maak jy met hierdie eienaardige werkswyse van die Taalkommissie? Dit pas nie by die staatsdiens se manier van werk nie. Wat gelukkig was, want as hy toe by die staatsdiens ingelyf was, sou die woordelys en spelreëls dalk nie 1994 oorleef het nie.”

Die AWS betree ’n nuwe era

’n Groot keerpunt in die geskiedenis van die AWS het in 1991 gekom met die onkeerbare vernuwing wat in Suid-Afrika en wêreldwyd voortgestu het.

Prof. Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die huidige taalkommissie, vertel mense het anders begin dink oor die AWS in dié tyd.

Nie alleen was daar ’n groter openheid oor die spelreëls nie, daar is vir die eerste keer meer woorde opgeneem uit ander variëteite van Afrikaans.

Met die wenteling van die eeu was daar ’n groter versugting na pragmatisme en “daarom is die 2002-AWS eintlik die eerste AWS wat ’n bietjie meer gebruikersvriendelik is. Die reëls word beter georganiseer en saamgegroepeer en die uitleg van die boek is vriendeliker,” sê Van Huyssteen.

Die achilleshiel van die AWS was dat dit baie jare lank die domein van die spreekwoordelike grysskoen- wit mans was en dat die eerste vroue en bruin lede eers tussen 1992 en 2002 aangestel is op die Taalkommissie wat die negende AWS saamgestel het.

Die ander slang in die klitsgras was natuurlik die woordjie “Standaardafrikaans” wat vir baie in ons wye en droewe land ’n vloekwoord geword het.

“Daar was baie gesprekke en twiste hier van die 1980’s af,” onthou Van Rensburg.

“Dit het gegaan oor die herstandaardisering van Afrikaans sodat Afrikaans se dialekte – die manier van praat in die Kaap, die manier van praat van die Griekwas, die manier van praat in die Karoo – ook in beginsel weerspieël word en nie vanweë politieke oorwegings uitgehou is nie.”

Die verandering het met stampe en stote gekom. Vir die 2002-uitgawe het die taalkommissie vir die eerste keer ’n lys woorde ingesluit wat hulle “Omgangsafrikaans” genoem het, onthou die taalpraktisyn en oud-Taalkommissievoorsitter Tom McLachlan.

“Dit het nogal ’n kommosie veroorsaak in baie opsigte. Dit het woorde ingesluit soos “pram” of jy “pose vir ’n foto” of “jy gaan vir ’n spin”. Die lys was apart van die hooflys en daardie lysie was vir sommige taalbulle ’n rooi vlag.

Hy noem vanjaar se eeufeesuitgawe van die AWS 'die volwassewording van Afrikaans in die digitale era'.

“Op die ou einde het ons toe vir die volgende AWS eintlik net ’n paar riglyne gegee van hoe ’n mens sulke goed hanteer, want omgangstaal is juis iets wat hom nie eintlik aan reëls laat bind nie. Om reëls te maak daarvoor is eintlik om die hele punt daarvan te ontken of ongedaan te maak. So in die 2009-uitgawe het ons eintlik net gesê jy hoef nie byvoorbeeld daai goed te kursiveer nie.”

In dieselfde uitgawe het die taalkommissie ook baie moeite gedoen om byvoorbeeld ’n hele klomp woorde uit die Moslemgemeenskap op te neem, “en dis absoluut beskou as standaardtaal, want dit word byvoorbeeld vir godsdiensbeoefening gebruik en so aan,” sê McLachlan.

Berig ingestuur deur prof. Wannie Carstens

Gepubliseer: Augustus 2017


© Catharina Loader 2001

 

 

Grafika: Jaco Grobbelaar

Die volwassewording van Afrikaans

Dié voorlaaste AWS het ook met reusespronge in die rekenaartegnologie saamgeval.

“Tegnologie is gebruik om taal beter te beskryf en beter te organiseer en die taalkommissie het toenemend met soektogte in groot versamelings korpusse (tekste) begin werk en die woordelys was vir die eerste keer aanlyn beskikbaar,” sê Van Huyssteen.

Hy noem vanjaar se eeufeesuitgawe van die AWS “die volwassewording van Afrikaans in die digitale era”.

“Die hele AWS is vir dié uitgawe omgeskakel na XML – ’n digitale formaat wat die taalkommissie in staat stel om twee dinge te doen: Die volledige AWS is nou vir die eerste keer in die geskiedenis aanlyn beskikbaar en toekomstige taalkommissies kan baie makliker aan die AWS werk.

“In die voorwoord maak ons ook nou vir die eerste keer daarvan melding dat Standaardafrikaans gevoed word deur al sy variëteite,” sê Van Huyssteen.

“Baie woorde uit die variëteite word dan ook in die AWS as deel van Standaardafrikaans opgeneem. Deur die loop van die afgelope 100 jaar was die AWS maar altyd ’n weerspieëling van die tydsgees en ek dink die twee groot oorkoepelende etikette wat oor die jongste uitgawe geplak kan word is ‘digitaal’ en ‘inklusief’.”

Die onderwys van Afrikaans is onder druk, maar die AWS is ’n besondere dokument en dít gee hom ook bestaansreg.

Maar sal daar in die toekoms hoegenaamd nog plek vir die woordjie “Standaardafrikaans” wees?

Die prof aarsel.

“Vroeër jare was daar die term ‘Algemeen Beschaafd Nederlands’ en toe was daar ’n tydjie wat hulle gepraat het van ‘Algemeen Beskaafde Afrikaans’. Mense het dikwels gedink daai ‘beskaafd’ verwys na beskawing, maar dit het eintlik niks daarmee te make nie. Nietemin, daar’s weggedoen met die term ‘Algemeen Beskaafde Afrikaans’ en dit het toe later ‘Standaardafrikaans’ geword.”

Hy meen ’n standaardtaal is eintlik maar die taal wat algemeen verstaan word bo alle dialekte en groepe heen. “Persoonlik sou ek graag wou hê ons moet die term ‘Standaardafrikaans’ wegdoen en liewer praat van ‘Algemene Afrikaans’. Algemene Afrikaans is wat jy hoor op die radio en wat jy lees in koerante en so aan. Dis ’n minder hiërargiese term,” sê Van Huyssteen, “en makliker om te verstaan.”

Die vraag is natuurlik of daar ’n toekoms is vir die AWS in ’n era waarin Afrikaans al minder as onderrigtaal gebruik word.

Van Rensburg knik.

“Die AWS se toekoms is verbind met die onderrig van Afrikaans. Die twee loop saam. Die onderwys van Afrikaans is onder druk, maar die AWS is ’n besondere dokument en dít gee hom ook bestaansreg. Al hierdie ander funksies wat hy uitvoer soos die spelling van plekke en plekname, gee hom ook lewe. Die feit dat daar van die buiteland af op taalkundige gronde belangstelling in Afrikaans is en dat die AWS nou ook op die internet beskikbaar is, gee hom natuurlik ook ’n langer rakleeftyd.

“Daar is geweldig baie energie en inisiatief in hierdie eeu se AWS’e. Ek dink dit maak hulle in ’n sekere sin interessant genoeg om nog vir baie lank te oorleef,” sê hy.

In ’n eeu van verandering teen die spoed van lig is daar egter heilige koeie wat geslag word en heilige koeie wat bly bulk. Een wat op bykans magiese wyse die toets van die tyd deurstaan het, is die woord “opopanaks”.

“Met elke uitgawe word die woordelys hersien en iewers het een van die taalkommissielede die woord ‘opopanaks’ ontdek en nugter het geweet wat dit beteken,” vertel van Huyssteen.

“Al kom die woord nêrens in enige korpora (groot versamelings tekste) of so voor nie, is dit vir ons as kommissie sommer daai klein heilige woordjie wat nie uit die AWS geskrap mag word nie.”

Hy glimlag.

“Dis ’n soort harpuis, maar omdat dit so ’n onbekende woord is, het dit nou grappenderwys ’n vloekwoord geword en so grappenderwys bly die woord nou maar staan in die AWS.”

 

http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/afrikaans-se-mes-en-vurk-word-100-jaar-oud-20170802