Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns: Verlede, hede en toekoms (2007)

 

 

Prof van der Elst is sedert Mei 2005 hoof uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy was voorheen hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (nou Noordwes-Universiteit) en later dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan dieselfde universiteit.

 

 

Abstract

 

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SA Academy for Science and Arts) was founded in Bloemfontein in 1909, primarily as a language society for the promotion of the Dutch language in opposition to English. Shortly afterwards the focus shifted to Afrikaans, which was recognized as an official language in 1925 and after 1994 became one of eleven official languages of the country. The “Akademie” is still dealing with issues on language, especially Afrikaans. One of its prime publications is the standard publication on spelling and grammar of Afrikaans, entitled Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. The “Akademie” is deeply involved in issues and publications on language at universities and educational institutions, it publishes two accredited scientific journals in human sciences and natural sciences and faces a tough challenge to protect the status of Afrikaans within these fields. With the support of Afrikaans academics the Academy strongly believes in its future and survival well beyond its first centenary in 2009. One of its main activities is also its involvement with a number of awards to people who excel in science and arts. The highest award is the Hertzog prize for literature in Afrikaans. Though the Rand value of the prize is not the highest in the country, the Hertzog Prize for Literature is the most prestigious prize in that category in South Africa.


Inleiding

1. Die SA Akademie en die verlede

2. Die Akademie en sy statuut

3. Standaardisering van Afrikaans

4. Bekronings

5. Die Akademie: Nederland en Vlaandere

6. Bande met ander Akademies

7. Die Akademie vorentoe

Bibliografie

_________________________________________________

Inleiding

Quo Vadis? Dis die vraag wat oor die afgelope jare sedert Suid-Afrika sy “Wende” beleef het, aan baie Suid-Afrikaanse kulturele organisasies gestel word. Dit sluit die groter kultuurliggame soos die Afrikaanse Taal― en Kultuurvereniging (ATKV) en die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) in.

Die vraag word ook gestel aan een van die oudstes in Suid-Afrika―die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWEK) wat binnekort ’n volle eeu oud is.

Sedert die ou Suid-Afrika “nuut” geword het, is daar minder ruimte vir Afrikaans en vir organisasies vir wie Afrikaans hulle brood en botter is en wat dikwels saam met Afrikaans tot wasdom gekom en dalk saam met Afrikaans verwater en dalk in die niet vergly.

 

1. Die SA Akademie en die verlede

In die feesalbum van 1959, toe die SA Akademie 50 jaar oud was, het prof TWE Schumann ’n priemende vraag gestel wat ook in die jaar 2006, in die pylvak van die Akademie se feesvierings aktueel is (1959 67). Dit was duidelik dat die Akademie in sy tyd ten volle beweeg het binne die ideaal van ’n Afrikanervolk. Dit is so gesien dat die Akademie werklik slegs ’n taak het ten opsigte van die Afrikaner en dan die blanke Afrikaner. En dan vra hy: “. . . hoedanig [gaan] die taak van die Akademie in die toekoms . . . wees?” En: “Dis die vraag of daar hoegenaamd ’n toekoms is vir die Afrikaner . . .” (ibid).

Daar het sedert 1959 baie gebeur: Die internasionaal gehate beleid van afsonderlike ontwikkeling met die internasionale woord apartheid het ’n verwoestende uitwerking op die beeld van die Afrikaner gehad.

Vir baie mense van blanke Afrikaanse afkoms het Afrikanerskap ’n meulsteen om die nek geword en daarmee het ook die taal in die branding gekom.

Die Akademie het nie eintlik begin met ’n Afrikanervolksideaal nie, hoewel daar miskien ondertone van volksverbondenheid aanwesig was. Die primêre dryfkrag was ’n soort taalnasionalisme en ’n stryd tussen drie tale: Hollands, Engels en Kaaps-Hollands. Laasgenoemde was die voorloper van moderne Afrikaans.

Die voorstanders van Nederlands het die Kaaps-Hollands of dan Afrikaans heftig beveg en aldus P.J. Nienaber (1968 1) dit ’n dialek en Hotnotstaaltjie genoem. Prof PJG de Vos van Stellenbosch pleit daarvoor dat geen beweging op tou gesit word “. . . om ‘t Afrikaans-Hollands als zodanig tot onze schrijftaal verklaard te krijgen”, want het hy gesê dit verbreek die bande met Holland en maak die ryk Nederlandse literatuur ontoeganklik vir die Afrikaner (Ibid.).

Die voorstanders van die nuwe taal het weer gesê dat Nederlands ’n kunsmatige taal is wat deur geleerde mense gebruik is as hulle “spreek of preek” (Ibid.).

Die strydende faksies het oor en weer toesprake gehou om aan te toon wat ’n taal is en hoe volwasse Afrikaans sou wees. Die bekende DF Malherbe het in 1906 ’n lesing gehou onder die opskrif “Is Afrikaans een dialekt” en aangetoon dat die taal inderdaad die reg het om as skryftaal gebruik te word. Die voorvegter van Nederlands, dr WJ Viljoen, het met die nodige teengif weer gepleit vir die handhawing van die status van Nederlands.

Die stigting van die Akademie het die gemoedere bedaar en vrede gebring. Op 5 Januarie 1909 is naamlik in Kaapstad by ’n vergadering besluit “dat een lichaam in ‘t leven worde geroepen ter bevordering van de Hollandse taal en letteren in Zuid-Afrika” (Ibid). Die voorstellers van die mosie was die Nederlandsgesinde dr WJ Viljoen aan die een kant en die “Afrikaans”-gesinde genl JBM Hertzog.

Die genooides by die konferensie was “almal wat in die Hollandse taal belangstel . . .”

Die belangrikste uitvloeisel van die Kaapstad-konferensie was die totstandkoming van die Akademie op 2 Julie 1909 in Bloemfontein met as doelstelling:

  • “De handhaving en bevordering van de Hollandse Taal en Letteren en van de Zuid-Afrikaanse Geschiedenis, Oudheidkunde en Kunst”―Daar was die verlossende toevoeging: “Onder ‘t woord ‘Hollands’ wordt verstaan: de beide taalvormen gebruikelijk in Zuid-Afrika.”

Daarmee is die konflik tussen die twee taalpartye besleg. “Die voorstanders van Nederlands het “hulle bereid verklaar . . . om met die ander saam te werk en sodoende die werk van die voorstanders van Afrikaans erken as gedaan in belang van die Hollandse taal in Suid-Afrika” (Ibid).

Met die “vyandelikhede” uitgeskakel, is die ander lid van die aanvanklike driehoeksgeveg geteiken: Engels! Met Uniewording in 1910 is ingevolge art 137 van die Grondwet sowel Hollands as Engels as die twee amptelike landstale erken. Vir die Akademie het die Nederlands of Hollands, “de beide taalvormen . . .” ingesluit. Dit is welbekend dat Afrikaans uiteindelik gevestig is en die oorhand oor Nederlands gekry het.

Maar wat in 1910 by die Akademie begin het, het tot 2006 nooit geëindig nie: daar was steeds die Akademie se nooit aflatende stryd teen Engels. Die Unie se grondwet van 1910 (art 137) het voorsiening vir gelykberegtiging van Engels en Afrikaans gemaak. Mag ’n mens dit ’n stryd noem? Dit was eerder ’n standpuntinname teen die bevoorregting van Engels in alle lewensvorme: skool, kerk, staatsdiens. Daar is beswaar gemaak teen “Afrikaners” wat hulleself liewer van Engels bedien. Die Akademie beywer hom vir gelyke taalregte op skool en op universiteit.

Laasgenoemde eggo tot in 2006―die verskil is dat die opsie van Hollands by Afrikaans sedert 1910 verval het; dat met regeringswisselinge die simpatie vir Afrikaans toegeneem het met ’n Afrikaansgesinde regering wat in 1948 toegetree het.

Die simpatie het afgeneem, byna verander in antipatie met die toetrede van ’n ANC-regering wat naas Engels en Afrikaans grondwetlik nog nege ander tale amptelik erken het. Die verswarende faktor is dus dat Afrikaans deur sommmiges as muishondtaal gesien word―’n swaar besmette apartheidstaal en die skinderstorie oor die taal woeker voort asof ’n taal moet pa staan vir die dade van ’n persentasie van sy sprekers!

 

2. Die Akademie en sy Statuut

Die Akademie wil meer as ooit ’n wetenskapsorganisasie wees soos Akademies oor die hele wêreld funksioneer. Dit staan vandag in sy Statuut geskryf onaanvegbaar:

  • Die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die kunste asook die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans, binne die Republiek van Suid-Afrika.

In terme van sy Statuut neem die Akademie onverpoos―in Afrikaans―nog deel aan die wetenskapstoneel in die land. Sy twee wetenskaplike tydskrifte, geakkrediteer deur die Staat bied steeds ’n tuiste aan wetenskaplikes wat nog in Afrikaans wil skryf en daar is ’n waglys.

Onderwerpe in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe het ’n verskeidenheid onderwerpe onder die loep geneem: Van Adolf Hitler se siektegeskiedenis tot die brose aard van demokrasie; van serebrale gestremdheid by voorskoolse leerders tot demokratiese waardes in die Suid-Afrikaanse grondwetlike regspraak.

Die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie het eweneens ’n wye reeks onderwerpe gedek: Van kwantumberekenings tot meting van wiskundeprestasies en van standpunte oor kernenergie tot selektiewe subtrate vir voordelige mikroflora.

 

3. Standaardisering van Afrikaans

Die SA Akademie het vir homself ’n pluim in die hoed verwerf met sy insette tot die standaardisering van Afrikaans. Die meningsverskil oor wie standaarde kan stel, is wel besig om te verdiep. Is die Suid-Afrikaanse Akademie wel geregtig om die standaarde te stel. Is dit die tradisie wat dikteer? Moet die Kaapse Afrikaans waarin poësie en prosa geskryf word en wat die algemene omgangstaal in die Kaapse gebied (Kaapstad en omgewing) maar nie die standaardtaal wees nie? Dis geregverdigde vrae wat ook gerugsteun word deur politieke agendas. Wie is die blankes (die Akademie?) dan om die standaard te kan stel? Wat gebeur in enige land in die wêreld waar taalsake aan die orde is?

Tog het die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns deur die jare baanbrekerswerk verrig met die vestiging van Afrikaans as skryftaal.

Tydens die jaarvergadering van 1914 is al besluit dat ’n Taalkommissie aan die werk moet spring en dat spellingsreëls opgestel moet word en op 15 September 1915, ’n belangrike datum in die geskiedenis van die Akademie “. . . het die langverwagte, algemeen erkende spelreëls vir Afrikaans ’n werklikheid geword. Die Akademie is toe reeds erken as die hoogste taalliggaam van die land. Dit sou daartoe lei dat die Taalkommissie (soos dit later genoem is) vandag nog beskou word as die belangrikste kommissie van die Akademie. Die jaar 1915 het ’n einde gebring aan die spellings-ongelykheid, die spellingverwarring van voorheen. Die spelling is dadelik in skoolboeke, Afrikaanse tydskrifte en ander publikasies toegepas” (Nienaber 1968 8).

In 2002 het die negende, verbeterde en omvattend herbewerkte uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls by Pharos in Kaapstad verskyn. Die boek beslaan 592 bladsye. Vandag werk die Taalkommissie aan ’n volgende uitgawe van die werk wat gelykvormig aan die Nederlandse Groene Boekje, ’n Bybel vir die taal is. Uit sekere oorde kom voorbehoude: Daar is byvoorbeeld kritiek teen die plasing van omgangsafrikaans in ’n afsonderlike kategorie asof dit nie deel van die standaardtaal kan wees nie. Wie besluit wat standaardtaal is en wat nie, word gevra.

Die Taalkommissie (TK), by monde van sy huidige voorsitter prof. Ernst Kotzé, verduidelik dat dit ’n sentrale funksie van die TK is om te normeer en te standaardiseer. Dit is soms ’n ondankbare plig om besluite te neem oor wat in die standaardregister van die Afrikaanse leksikon moet voorkom en wat nie. Soms word sommige (nuwe) niestandaardvorme mettertyd wel deel van die standaardleksikon en dan word so ’n item in die standaardlys opgeneem. Dit het gebeur in die geval van “boks” [Eng. box] met die betekenis van doos. Die lys van niestandaardterme word opgeneem om spelling- en skryfwyseleiding te gee aan taalgebruikers wat sulke items doelbewus wil gebruik.

Daar is groot waardering vir die TK se inisiatief om erkenning te gee aan die woorde wat algemeen by belangrike geledinge van die Afrikaanse taalgemeenskap voorkom. Dit sluit aan by ’n vorige besluit om erkenning te gee aan die kulturele verskeidenhede van Suid-Afrika. So is ’n opname gemaak van religieuse items uit die verskillende Christelike genootskappe en die Islam. Uitnodigings is aan erkende verteenwoordigers van die gemeenskappe gestuur om voorstelle van items vir die standaardlys voor te lê. So is daar tans ’n lys van Maleierafrikaanse terme in sirkulasie en die items word tans getoets.

Baanbrekerswerk is oor dekades deur die Taalkommissie onderneem. Afrikaans sonder die Taalkommissie sou nie wees waar hy vandag is nie. Die Taalkommissie werk tans aan die tiende uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls.

 

4. Bekronings

Soos dit wêreldwyd by alle Akademies die geval is, en soos dit ook in sy Statuut beskryf word, is die SA Akademie daarop ingestel om uitnemendheid in ’n verskeidenheid dissiplines te bekroon. Ongetwyfeld toring die Hertzogprys uit as die prestigeprys van die Akademie. Hoewel die prysgeld van die Hertzogtoekenning vandag nie die hoogste in die land is nie, is die Hertzogprys vir enige skeppende literator in Suid-Afrika ’n gesogte “trofee”, gelykstaande aan die PC Hooftprys in Nederland. ’n Opspraakwekkende Hertzogpryswenner was die skrywer Etienne Leroux wie se werk Sewe dae by die Silbersteins in 1964 bekroon is. In ’n onlangse uitgawe van die opinietydskrif Insig (Maart 2006) word die drama deur Piet Muller beskryf. In die hoogkonjunktuur van sensuur het die Letterkundekommissie van die SA Akademie besluit om die boek wat deur die antigroepe as ’n “vuil boek” bestempel is, te bekroon met die Hertzogprys. Prof PFD Weiss en sy vrou Hymne, ’n suster van dr Beyers Naudé het, aldus Muller, deur die land gereis en toesprake gehou teen Expertenkrankheit, die siekte van kenners wat gemors as kuns aan die publiek probeer voorhou.

Dr HF Verwoerd wat hoofspreker was met die Akademie se toekenningsplegtigheid wou klaarblyklik nie geassosieer word met die omstrede Hertzogprys nie. Muller weet te vertel dat Verwoerd eers by die geleentheid opgedaag het nadat die prys aan Leroux oorhandig is.

Die eerste ontvanger van die Hertzogprys was in 1915 die digter Totius vir sy bundel Trekkerswee. Petra Müller het byna 90 jaar later dieselfde prys ontvang vir haar digbundel Die aandag van jou oë. In 2006 word die Hertzogprys vir drama toegeken aan Deon Opperman. [Sien ook prof Elize Botha se bespreking van die toekennings van die SA Akademie vir prosa, 1925 tot 1984 - Red]

Met sy bekronings poog die Akademie deur al die jare uitnemendheid te bevorder, binne die Afrikaanse taalgemeenskap en daarbuite. Benewens die Hertzogprys is daar onder andere nog die volgende pryse:

  • Die Eugène Maraisprys: Hierdie prys word toegeken aan ’n eerste of vroeë letterkundige werk en is bedoel om jong skrywers aan te moedig;
  • Die Scheepersprys: Die prys word uit die Scheepersfonds toegeken vir jeugliteratuur;
  • Die Tienie Hollowaymedalje vir kinder- en kleuterliteratuur;
  • Die Akademieprys vir Vertaalde Werk (prosa, poësie en drama);
  • Die Akademie se Erepenning: Erepennings word toegeken vir voordrag en toneel, musiek, skilderkuns en beeldhoukuns, argitektuur, maatskaplike welsynswerk en geskiedenisbevordering;
  • Die Havengaprys: Hierdie prys word toegeken uit die Havengaprysfonds. Die volgende vakgebiede word in aanmerking geneem: Wiskunde, Fisika, Geneeskunde, Chemie, Biologie, Ingenieurswese, Geologie, Boukunde en Landbou;
  • Die Stalsprys: Die Stalsprys word in die volgende vakgebiede toegeken: Musiekwetenskap, Teaterwetenskap, Kunsgeskiedenis, Staatswetenskap, Ekonomie, Geskiedenis, Wysbegeerte, Aardrykskunde, Afrikanistiek, Sosiologie, Kriminologie, Opvoedkunde en Sielkunde;
  • Goue Akademiemedalje vir natuurwetenskaplike prestasie;
  • D.F. Malanmedalje vir buitengewone volksdiens;
  • Frans du Toitmedalje vir bedryfsleiding;
  • Erepenning vir Afrikaanse Radiohoorspele en Erepenning vir Afrikaanse Radio-hoorbeelde;
  • Erepenning vir Afrikaanse Televisiedramas en Erepenning vir Afrikaanse Dokumentêre Televisieprogramme;
  • MT Steynmedalje: Die prys word toegeken vir buitengewone natuurwetenskaplike en tegniese prestasie;
  • Toon van den Heeverprys: Die prys word toegeken in die regswetenskap;
  • CJ Langenhovenprys vir taalwetenskap;
  • Gustav Prellerprys vir literatuurwetenskap en letterkundige kritiek;
  • Markus Viljoenmedalje vir joernalistieke prestasie;
  • Die Totiusprys vir Teologie en die studie van die grondtale van die Bybel;
  • Die Ds Pieter van Drimmelenmedalje vir die bevordering van Afrikaans op die gebied van die Godsdiens;
  • Die DF du Toit-Malherbeprys vir genealogiese navorsing;
  • NP van Wyk Louwmedalje vir die bevordering van die geesteswetenskappe;
  • Elizabeth C Steijnmedalje vir prestasie in die onderwys;
  • Elisabeth Eybersbeurs vir gevorderde studie (letterkunde/taalkunde);
  • Albert Stratingprys vir Voorkomende Geneeskunde;
  • FARMOVS-prys vir Farmakologie en Geneesmiddelontwikkeling;
  • Christo Wiesemedalje vir ’n Opkomende Entrepreneur.

 

5. Die Akademie: Nederland en Vlaandere

Die waarskuwing van ’n doemprofeet dat die selfstandigwording van Afrikaans die blik op die ryk skat van die Nederlandse taal, literatuur en kultuur sou vertroebel, is nie heeltemal bewaarheid nie.

Vir ’n lang tyd was Nederlands nog ’n belangrike faktor in Suid-Afrika, selfs lank nadat Afrikaans eintlik die enigste amptelike taal geword het. Die Akademie het hom beywer vir die status van die Nederlandse boek in Suid-Afrikaanse skole. Die Akademie het op ’n tydstip in prof G Besselaar ’n ywerig propagandis vir Suid-Afrika in Nederland en Vlaandere gehad. In die loop van die jare is met bemiddeling van die Akademie manifestasies gehou vir Joost van den Vondel, Nicolaas Beets. Trouens in 2006, die Rembrandtjaar, is die Akademie weer betrokke by die feesviering rondom die herdenking van die groot skilder se 400ste geboortejaar.

In 1911 word prof H. Reinink van Pretoria afgevaardig om die ZA Akademie by die Vlaamse Akademie se 25-jarige feesvieringe in Gent, België te verteenwoordig. By sy terugkoms skryf prof Reinink 'n verslag oor sy besoek en oor die Vlaamse Akademie. Hy raai die ZA Akademie aan om hom op hoogte te stel van wat deur die Vlaamse Akademie gedoen word in verband met hulle regte op taalgebied en ten opsigte van die beoefening van die Noord-, sowel as die Suid-Nederlandse taal- en letterkunde, wat hulle doen ten opsigte van die bevordering van die Vlaamse geskiedenis en kuns, en ten aansien van die aanmoediging van wetenskaplike navorsing deur jong Vlaamse geleerdes. Die ZA Akademie moes ook kennis neem dat, ten spyte van talle moeilikhede en besware wat op die Vlaamse Akademie se weg staan, hy met volhardende en benydenswaardige ywer werk aan die geestelike opbou van Vlaandere. Een van daardie Akademie se grootste ideale was op daardie tydstip dat die Universiteit van Gent 'n Vlaamse universiteit moes word (Jaarboek 3 1913 19, 20).

In 1911 is die ZA Akademie ook uitgenooi na die 32ste 'Nederlandsch Taal- en Letterkundig Kongres ' in Antwerpen, België. Ds HS van Broekhuizen van Pretoria het namens die Akademie die verrigtinge bygewoon. In dieselfde jaar het die 'Nederlandsche ZA Vereniging' in Amsterdam hom bereid verklaar om elke jaar 'n som van £1 tot die fonds van die ZA Akademie by te dra (Ibid).

Bande is ook gesmee met die 'Boeke Kommissie van het Algemeen Nederlandsch Verbond' te Rotterdam, Nederland.

Wat betref Nederlands op skool het die Akademie hom op ’n tydstip deeglik laat geld. Departemente Afrikaans en Nederlands is op ’n tydstip gemobiliseer om mee te werk aan ’n doeltreffende onderrigprogram vir Nederlands. In Mei 1952 is by ’n deur die Akademie georganiseerde konferensie kennis geneem van die feit dat “. . . in die afgelope jare toenemende aandag aan die studie van moderne Nederlands as taal gewy is; die konferensie beveel aan dat die studie van Nederlands as taal sover moontlik op die grondslag van ’n vergelyking met Afrikaans plaasvind, sodat studente meer bewus gemaak word van die sistematiese verskille tussen die Nederlandse en Afrikaanse taalstrukture; die konferensie sou graag sien dat die intensiewer studie van Nederlands in vergelyking met Afrikaans aan ons universiteite so ingerig sal word dat studente aan die einde van die eerste kursus die moderne geskrewe Nederlands sonder moeite kan verstaan, en aan die einde van die tweede of derde kursus ’n redelik goeie kennis van die grammatikale struktuur van Nederlands kan hê.

Vir die bereiking van bogenoemde doelstellings het die konferensie aanbeveel dat ’n bevoegde persoon ’n beknopte handleiding vir die studie van Nederlands opstel waarin nadruk gelê word op die punte waar die Nederlandse taalstruktuur van die Afrikaanse afwyk.

Die Akademieraad het prof Meyer de Villiers van die Universiteit van Stellenbosch versoek om so ’n boek te skryf. In 1956 het dit verskyn onder die titel: Nederlands vir Suid-Afrika. Die aanvraag vir die boek was verrassend hoog; dit word aan die meeste universiteite gebruik. Dit is uitgegee deur die Nasionale Boekhandel onder beskerming van die Akademie. Later het prof De Villiers die boek effens verwerk, en twee hoofstukke bygevoeg waarin die ontwikkeling van Afrikaans uit Nederlands geskets word. In 1960 verskyn die boek onder die nuwe titel: Nederlands en Afrikaans. Die Akademie beskou hierdie boek, in sekere sin, as die kroon op sy doelbewuste beywering sedert 1948 om die plek van Nederlands in die Afrikaanse onderwys te vestig en te verstewig (Nienaber 1968 18).

Sedertdien het die aanbod van Nederlands by universiteite en skole geleidelik begin afneem―eers by die skole en later jare by die universiteite.

Daar is ’n paar faktore wat tot vandag (2006) hiertoe bygedra het. Wat die Nederlandse boek betref, het daar kompetisie ontstaan met die Afrikaanse letterkunde wat in omvang tot groter wasdom en rypheid gekom het. Dit geld vir die poësie, prosa en drama.

’n Volgende faktor was die geleidelike verwydering wat tussen Nederland en Suid-Afrika as politieke entiteite ontstaan het. Nederland het meegesing in die koor van internasionale vyandigheid en onder andere die bestaande kultuurverdrag wat tussen die twee lande bestaan het eensydig opgeskort en daarmee ook die projek Nederlands wat deur die Akademie geïnisieer is, gekelder. Die politieke vyandigheid tussen Nederland en Suid-Afrika het uitgekring na departemente Afrikaans en Nederlands by universiteite in Suid-Afrika en op die lang duur Nederlands se plek―die taal―én letterkunde―daar ondermyn. Vandag neem Nederlands by sekere universiteite se taaldepartemente ’n mindere (of geen) plek in.

Ook die “nuwe” Suid-Afrika en die nuwe politieke omstandighede waar Afrikaans onder ernstige druk staan en moet wedywer met tien ander tale, is Nederlands ’n verwyderde faktor. ’n Herlewing van ’n kulturele verdrag behoort tot die ryk van die onmoontlikhede. Diplomate wat Suid-Afrika nou in Nederland en België verteenwoordig, koester heel waarskynlik weinig sentimente vir faktore soos taal- en kultuurverbondenheid.

Die Akademie se vroeëre pogings tot bevordering van Nederlands in Suid-Afrika is ongelukkig deur politieke faktore in die wiele gery. Die Akademie is tans nie betrokke by die lofwaardige pogings van die Nederlandse Taalunie om ’n kern van Nederlands by universiteite staande te hou nie, hoewel die Akademie hoegenaamd nie afsydig teenoor Nederlands staan nie. Die teendeel is waar. Dit is daarby interessant om te weet dat die Akademie se hoofkantoor gevestig is in die Engelenburghuis, die eertydse woning van dr FV Engelenburg, ’n Nederlander wat stigterslid van die Akademie was en by geleenthede later ook voorsitter.

By die jaarvergadering van 2006 (Junie) in Bloemfontein het die SA Akademie in die besonder aandag bestee aan die tema van die verhouding tussen die Nederlandse taal- en letterkunde en die Afrikaanse taal- en letterkunde, ook in die lig van die 125-jarige bestaan van die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV) te Amsterdam. Die Akademieraad het trouens ook besluit om ’n oorkonde van waardering aan die NZAV te oorhandig.

 

6. Bande met ander akademies

Soos reeds elders aangetoon, was daar bande met akademies elders in die wêreld. In die gedenkboek van die Akademie van 1959 is gelukwense opgeneem van die Koninklijke Nederlandse Akademie van Wetenschappen, die Koninklijke Vlaamse Academie, die Académie Francaise en die Deutsche Forschungsgemeinschaft. Die laasgenoemde organisasie wens die Akademie sukses toe in diens van die wetenskap en navorsing “. . . zum Segen der Menschheit” (1959 23).

In die jongste tyd is bande verstewig met die Koninklijke Vlaamse Academie voor Wetenschappen en Kunsten, terwyl die Akademie ook aangesluit het by die International Union of Academies/Union Académique Internationale.

Vir Junie 2007 word ’n gesamentlike konferensie in Pretoria oor minderheidstale beplan waarby ook die Fryske Akademy betrek sal word.

 

7. Die Akademie vorentoe

Soos reeds aangedui, vier die SA Akademie oor enkele jare sy eeufees. Hy het voortbeweeg op die golfbewegings van die tyd. Ongelukkig het die politiek die Akademie nie onberoerd gelaat nie. Die beleid van afsonderlike ontwikkeling―reeds hierbo vermeld het ook in sy ledebestand ingesypel en vandag (2006) kom die merendeel van sy lede uit blanke Afrikanergeledere. Ongeag ’n baie oop beleid word uitnodiging tot lidmaatskap soms nog met argwaan bejeën. Pogings om Afrikaanses uit alle geledinge van die Suid-Afrikaanse bevolking te betrek, verloop moeisaam. Tog is daar tekens van verandering en tegemoetkomendheid.

Die SA Akademie was in sekere opsigte die troetelkind van die eertydse regering. Dr. H.F. Verwoerd skryf in die halfeeufeesjaar lofprysend oor die werk van die Akademie: “Mag die Akademie onvermoeid voortgaan om die Afrikaanse taal, die Afrikaanse kuns en die Afrikaanse geestes- en natuurwetenskappe te bevorder en uit te bou . . .” (Feesalbum 1959 17).

Nienaber (1968 111) maak melding van die Regering se welwillendheid teenoor die Akademie en beklemtoon die Staat se gewilligheid “. . . om die Akademie se leiding op taalgebied te aanvaar.”

Vandag, soveel jare later met ’n nuwe Regering aan die bewind, is die omgekeerde die geval. Die Akademie het sy statutêr-wetlike status verloor en die Staat gee tans slegs erkenning en finansiële steun aan die nuutgestigte Academy of Science of South Africa (ASSAf) wat steeds meer op die voorgrond tree en eintlik daarop aandring dat die Akademie sy Suid-Afrikaanse kleed aflê en homself voortaan die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns noem.

Daarby opereer die Akademie wat sy Afrikaanse vaandel hoog wil hou in ’n taalomgewing waarin Afrikaans maar vir die Staat een van die elf tale is. Pres Thabo Mbeki het al by ’n paar geleenthede gunstig uitgelaat oor Afrikaans, maar dit was eerder woorde as dade. Die Staat en/of die Departement van Kuns en Kultuur verroer geen vinger om Afrikaans te bevorder nie.

Die amptenary van die Suid-Afrikaanse staatsmasjien is Engels-georiënteerd, die bedryfslewe is georiënteerd en wat voorheen duidelik gedefinieerde Afrikaanse universiteite was, is stadig besig om te verengels. Wat die bedryfslewe betref, is daar niks nuuts onder die son nie. Dan klink Eitemal (Feesalbum 1909―1959 26) nie vreemd op die ore vir vandag nie:

Dan leef die Afrikaanse beroepsmens . . . in twee afsonderlike wêrelde: in die koue, kultuurlose yskelder van sy beroepslewe waar hy Engels praat, en in die warmer kringetjie van sy huislike lewe waar dinge soos taal en kultuur en godsdiens ’n al hoe meer verkommerde bestaan voer.

Dan is daar ook soms die opflikkeringe van openlike Afrikaans-vyandigheid. ’n Militêre regter met die rang van Luitenant-kolonel het dit walglik gevind dat verklarings van getuies in Afrikaans aan hom voorgelê word. ’n Engelse glanstydskrif het onlangs verwys na Afrikaans as die lelikste (“ugliest”) taal in die wêreld.

Die SA Akademie kan terugkyk op ’n lang geskiedenis van diens aan die wetenskap en kultuur wat nie geïgnoreer kan word nie. Soos hierbo aangedui, het die Akademie by Afrikaans se wieg gestaan en deur sy kommissies ’n leeueaandeel in die grootmaakproses gehad.

In ’n veranderde taalopset beskou die Akademie dit as sy taak om sy ekspertise in woordeboekontwikkeling, ook in diens van ander tale, aan te wend. ’n Voorbeeld is die Kunstewoordeboek wat in elf tale uitgegee gaan word. Dis ’n reusetaak wat sal meewerk aan die ontwikkeling van die kunsteterminologie in die land.

Tans word begin met die werk aan ’n nuwe geskiedenisboek waarin probeer word om die balanse in die geskiedskrywing te herstel en wat hopelik nie net in Afrikaans en Engels sal verskyn nie.

Die SA Akademie het ook ’n aandeel in die totstandkoming van ’n Nasionale Forum vir Afrikaans wat as ’n interimliggaam tans besig is met ’n nasionale oudit van Afrikaans in Suid-Afrika.

Vooraanstaande navorsers, proff H Giliomee en L Schlemmer, het pas onder die vaandel van die Akademie ’n verslag voltooi, na indringende ondersoek, oor die werklike stand van Afrikaans in die tersiêre onderwys. Die Akademie wil vanuit hierdie verslag leiding neem ten opsigte van remediëring en strategie. Die verslag verskyn eersdaags (Junie/Julie 2006) in boekvorm onder die titel ’n Vaste plek vir Afrikaans.

’n Spesiale aflewering van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Junie/Julie) sal aandag bestee aan die belang van Moedertaalonderrig in die land, terwyl die jaarvergadering van die Akademie hom sal besig hou met die uitwerking van transformasie op sosiale strukture in die samelewing.

Die SA Akademie is vasbeslote om aktueel te wees en op wetenskaplike wyse betrokke te bly by die sake wat Suid-Afrika en al sy mense raak, ook al het hy staatkundig ’n mindere posisie begin beklee. Die Akademie is dit tradisiegetrou aan sy lede verskuldig om ’n saakmakende en meningvormende organisasie in Suid-Afrika te bly.

 

Bibliografie

Akademie 75. Uitgegee in Opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en

Kuns. Kaapstad: Nasionale Boekdrukkery.

Feesalbum. 1909-1959. Uitgegee in Opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir

Wetenskap en Kuns. Pretoria: Van Schaik.

Jaarboek 3. 1913. Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst. Pretoria.

Muller, Piet. Maart 2006. “Maart 1990.” Insig 21-22.

Nienaber, P.J. 1968. Wat Doen die Akademie?. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.

Willemse, Hein. Feb. 2006. “Mense Kan Walglik Wees, ’n Taal nie.” Beeld 14.

 

Prof. Jacques van der Elst
Hoof Uitvoerende Beampte, SA Akademe
Privaatsak X 11
Arcadia 0007
Pretoria
Suid-Afrika
e-pos: jvde@akademie.co.za
Url: akademie.org.za


Gepubliseer op Afrikaans in Europa, Maart 2007.
Ook gepubliseer in Werkwinkel 1 (1) 2006, p 1-12 wat in Pole, Pozna/Wroclaw onder die redaksie van Jerzy Koch staan.

 © Catharina Loader 2001