Letterkunde

Die Afrikaanse letterkunde 1909-1984

  • n Referaat gelewer tydens die 1984-jaarvergadering (27 tot 29 Junie) van die Suid-Arikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Bloemfontein. Die oorspronklike titel was "Die Afrikaanse letterkunde: 75 jaar".

  • Ek spreek graag my waardering en dank uit teenoor die lede van die Letterkundige Kommissie, met wie ek die ontwerp en aspekte van die opbou van hierdie referaat bespreek het, vir hul kritiese en konstruktiewe samewerking; en aan professor P.J. Nienaher, wie se boeke Wat doen die Akademie? en Die Hertzogprys 50 jaar onmishaar was in hierdie ondersoek.

Die stigting op 2 Julie 1909 van De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst, wal ons vandag ken as die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het plaasgevind binne 'n tydperk van groot onsekerheid in die politieke en kulturele geskiedenis van hierdie land. Maar binne hierdie situasie is die stigting van die Akademie gesien as deel van 'n klimaat van toenadering wat vir die blanke bevolking so noodsaaklik geword het - in hierdie geval dan, toenadering tussen die voorstanders van respektiewelik Hollands en Afrikaans as voertaal van die Hollands-Afrikaanse volksgroep. Die stigting van die "Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns", so sien dr. F.C.L. Bosman dit in sy "Geskiedkundige Oorsig" in die Feesalbum van 1959, was 'n "welbewuste poging om die stryd te beëindig".[1]

Kyk ons vandag terug, met die lig wat latere navorsing aan ons besorg het, besef ons dat, wat die letterkunde betref, die stryd tussen Afrikaans en Nederlands in Suid-Afrika juis in daardie tyd besleg is ten gunste van Afrikaans. Wanneer prof. Adriaan Moorrees sy digbundel Zevenjaartjes in 1908 publiseer, en ds. G.R. Keet volg met Pastoriebloemen en G.B.A. Gerdener met Uit mijn jonkheid in 1911, meen hulle volgens hul voorwoorde by die bundels dat hulle daarmee 'n nuwe Suid-Afrikaans - Nederlandse, nasionale literatuur inlui. Maar in 1908 debuteer Jan F.E. Celliers met Die vlakte e.a. gedigte; in dieselfde jaar verskyn van Totius, By die monument; in 1911, van Leipoldt, Oom Gert vertel e.a. gedigte. Die bundels van Moorrees, Keet en Gerdener was die laaste in hul soort; die van Celliers, Totius en Leipoldt dui die begin aan van die nuwe Afrikaanse poësie van die twintigste eeu: 'n Opspraakwekkende vernuwing na die poësie van die Patriottydperk.[2]

Kort voor 1920 dan, kom die realisme in die prosa beduidend na vore: In Jochem van Bruggen se Bywoners (1919) en, in die "boeregeselskap" van Die Nuwejaarsfees op Palmietfontein (1918) en Ou Malkop (1920), die bydrae van Leon Maré. Die aandag word weggedraai van groot historiese en morele kwessies na die mens, dikweIs die geringe, in die groter samelewing onopvallende - die bywoner, die houtryer, die putgrawer. Die realisme word in die twintigerjare 'n breër aandag vir die reatiteit van die Afrikaanse/Suid-Afrikaanse wêreId: die dierewêreId word literêre werklikheid deur Sangiro en die Hobsons; Eugene Marais skep in sy Dwaatstories, soos in sy "boesmangedigte", toegang tot 'n dink- en verbeeldingswêreld, en die Iitêrere strukturering daarvan, van die blankes se medebewoners van hierdie harde, vreemde kontinent; in die Iewens van die "burgemeester" van SIaplaagte en van Ampie is die sosio-ekonomiese werklikhede van die tyd lotsbestemmend; Die meutenaar kan ons eerste plaasroman genoem word, omdat die dikwels mislukte maatreëIs van die mens om op ordelike wyse uit die natuur sy Ieeftog te haal, in die boek die onderbou van die verhaaI vorm, en dit dus spreek van wat geslagte lank die "werk" van die Afrikaner was; M.E.R. herskep volksverhale en vervloë geskiedenis in haar vertellings.

Hierdie verskeidenheid word uitgebou in die dertigerjare (daar is geen sesuur tussen '20 en '30 in die Afrikaanse prosa nie) - in 1939 vind die plaasroman 'n hoogtepunt in C. M. van den Heever se Laat vrugte; die mensgerigtheid van die twintigerjare groei aan, sodat Dertig die dekade van die groot, veelkantige gestaltes in ons prosa is: Die sprinkaanbeampte, Oom Sybrand in Laat vrugte, die eerste verskyning van Bart NeI, "de opstandeling", maar ook die "ek" in Boerneef se BoplaaswêreId, gestrek tussen stad en land; en daarby, na die klein swart seuntjie Booia met sy verlange na 'n menswaardige bestaan, ook Toiings, pelgrim en vreemdeling op KareepIaas en in Blikkiesdorp. Vormverskeidenheid, na die talryke eksperimente van Langenhoven sedert 1914, word groter, genuanseerder: Dit lees 'n mens in Sy kom met die seketmaan en in Abr. H. Jonker en Holmer Johanssen se eksperimente met die "Nuwe saaklikheid", maar ook in die "gestroopte" vertelstyl van Jan van MeIle en Uys Krige.

Die gedurige preokkupasie met die spanning tussen stad en land wat al in ons vroegste realistiese prosa voorkom (en wat dan wesentlik 'n sosiale probleem is, en nie net "idee" nie) word gedurende die veertigerjare breër uitgewerk. Maar die Tweede Wêreldoorlog bring 'n sesuur in die geskiedenis van ons land, en omdat prosakunsvorme, veral die roman, steeds ten diepste verweef is met die aktualiteit, is die sesuur ook, en byna dadelik, merkbaar in die prosa. Die prosaskrywers reageer op veranderde sosio-ekonomiese toestande met nostalgie, en met verhaalmatige beredenering en gedramatiseerde illustrasie van die probleme. Wat die nostalgie betref: die herinneringskuns van C.G.S. de Villiers in sy Overbergse sketse en verhaIe, die Wes-Transvaal in Eitemal se Jaffie, Alba Bouwer se herskepping van Rivierplaas, die Overberg ook "in klein maat" in die werk van Audrey Blignault en M.E.R. En M.E.R. voeg haar ook met die maatskaplike bekommernis in haar romans Na vaste gange en Die eindelose waagstuk by Willem van der Berg (Reisigers na nêrens), W.A. de Klerk (Die grenslose) en F.A. Venter (Swart pelgrim). Die volle impak van die veranderinge se invloed op mens en letterkunde word in die laat vyftigerjare in ons prosa duideliker. Die Afrikaanse prosa was hier te lande van sy vroeë begin af met verkenning gemoeid, en in hierdie vernuwing rondom die sestigerjare is verkenning ook 'n sleutelwoord: Tegniese verkenning van die prosamedium - die erflatings van literêre vakmanskap uit die buiteland word inheems aangepas; die sonderlinge talent van Etienne Leroux - fantastikus/satirikus - verander die beeld van ons prosa ingrypend. Die mens word ontdek, "verken" met behulp van die winste van moderne wetenskap en moderne literêre vakmanskap. Daar is trouens 'n wil-tot-verandering merkbaar: nie net in die nuwe vorme van verhaal en roman nie, maar in die aanpak van landsprobleme in die prosakuns. Die dokumentere realisme, 'n stylvorm wat steeds by ons sy eksponente gevind het, van Gustav Preller af tot by die herlewing van "kontreikuns" in die sewentigerjare, blyk, in die hande van J.C. Steyn en EIsa Joubert, 'n meer integere wyse van omgang met die politieke realiteite van ons tyd moontlik te maak. (En mag ek hier, omdat die rassevraagstuk met toenemende dringendheid en klem in die kontemporêre prosa voorkom, vir 'n oomblik weer terugkyk oor ons afgelegde weg? Booia, en dit in 1931, was in sy verlange om te presteer, om "van geweet te wees", vir Van Bruggen 'n klein vreemdeling, 'n buitestaander tussen twee wêreIde; só het Mikro vir Toüngs gesien, as pelgrim en vreemdeling; so was ook Kolisile van F.A. Venter 'n pelgrim; so bevind Boerneef se Andries Harlekyn hom met wankelskrede "teen die helling"; so beleef ons in 1978 die Swerfjare van Poppie Nongena. Swerwers, pelgrims, vreemdelinge almal. Hierdie wêreld is ´n woestyn, sê Augustinus. Het die blanke Afrikaanse skrywers miskien, in hul deernisvolle inlewing in die lot van hul minderbevoorregte landgenote, met alle deur tyd en temperament opgelegde beperkinge in ag genome, eerder en duideliker die universeel-menslike tekort en tragiek van vreemdelingskap raakgesien by die anderskleurige "underdog" as in die betragting van hul blanke naastes?)

Die dokumentêre realisme van die sewentigerjare was 'n terugkeer, met vernuwing en verandering van klem, van 'n tradisioneel-Afrikaanse stylsoort. So 'n soort terugkeer, maar dan van tradisionele vertelkonvensies, is die spel met vertelinstansie, fiksionaliteit en intertekstualiteit wat in die jongste werk van Etienne Leroux en Henriette Grové opnuut en met vernuwende effek ons aandag daarop vestig dat roman en kortverhaal in eerste en laaste instansie, 'n kunsvorm met unieke bestaanswyse is.

Wat die poësie betref: Vanaf die vernuwende intrede van Celliers, Totius en Leipoldt in 1908 en 1911 met hul poësie van oorlogsmart en natuurvreugde, tot by die bekende groot vernuwing van Dertig in 1934, kan 'n mens as 't ware twee "golfslae" onderskei - hierdie eerste digtergenerasie se vroeë werk, en dan dié van Eugene Marais, Toon van den Heever en A.G. Visser, wat weliswaar ook poësie maak van vaderlandsliefde en oorlogsmart, maar reeds begin afstand neem in wêreld- en kunsbeskouing. Uit die fatalistiese lewensiening van Marais; by Van den Heever wat iets van die ontgogeling van die Groot Oorlog in sy vers uitspreek, wat die landelike, die skone natuur reeds in die lig van afskeid en verlies betrag; uit Visser se spot en hekeling, spreek ook die afstandname; en dit beteken nie net kritiese distansiëring van die heersende instellings van die samelewing waarbinne hulle hul bevind nie, maar ook isolasie ten opsigte van die medemens, in Van den Heever veral, om in te keer tot eie innerlike - die opkoms van die individualisme.

Die verskuiwing van klem word egter steil opgevoer na die groter intellektuele en artistieke selfbewustheid van Dertig, die wysgerige en fyn sintuiglike inslag van die Dertigerpoësie, die intense geloof in die woord as "geslote kamer vir die skoonheid klaar" en in die profetiese rol van die digter binne sy samelewing. Natuurlik: nie hul "geloof" nie, maar hul uitsonderlike talent (wat vir dekades later in die werk van Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, W.E.G. Louw, Uys Krige nog lewenskragtig is) waarborg die opbloei van die digkuns van Dertig, en die waarde van hul denkbeelde oor 'n groot, inklusiewe kuns- en kultuurlewe vir die Afrikaner.

Maar van hierdie "hoër, kouer paaie" wend die opkomende digters van die veertigerjare - Opperman, S.J. Pretorius, Ernst van Heerden - hul af, met "harte wat broei oor die stad: glas, sink, beton". Hulle soek die konkrete, aardse woord, die "objective correlative"; die dwingende probleme in die eietydse maatskappy en politieke bestel boei hulle; die smarte van 'n ander oorlog, die Tweede Wêereldoorlog, sal die digters beroer: ook die ideologiese "oorlog" - en Uys Krige se Oorlogsgedigte, maar ook Raka en Joernaal van Jorik groei uit die werklikhede van uur en feit. (En mag ons hier aanteken: Is dit nie asof die epiese digwerke die "taak" van die prosa hier oorgeneem het, wat, wat kwaliteit en inklusiwiteit betref, niks van vergelykbare formaat in die tydperk bied nie?)

Opperman bly hooffiguur van hierdie "ander" soort poësie (ook ten opsigte van die Dertigers se later ryper werk - vergelyk BIom en baaierd); tot 1955. Intussen kom met " Klipwerk " in Van Wyk Louw se Nuwe verse van 1954 die voorspel tot 'n belangrike bestanddeel van die poësie wat 'n nuwe tydvak inlui: Streek-, volks- en spesifiek Kleurlingtaal in die werk van Peter Blum, Boerneef en Adam Small -werktuie tot vervreemding ten einde die self, die medemens en "die vasteland waarop ons boer" skerper in die visier te kry, soos ook die bedrieglik-eenvoudige liedvorme van Ingrid Jonker.

Die opspraakwekkendste digterskap van Sestig is dié van Breyten Breytenbach, gekenmerk deur gedurfde taalspel, 'n tuimelende beeldevloed, 'n woede van betrokkenheid by die enkeling in die klemme van politieke stelsels, 'n esoteriese speI met getransponeerde Zen-Boeddhisme; maar die ryk verskeidenheid van ryp digterlike meesterskap in die poësie van Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Opperman en Ernst van Heerden bepaal nog in hierdie periode in hoë mate die peil van die poësie in Sestig.

Gedurende die sewentigerjare bring die bydrae van 'n beduidende aantal nuwe digters langsamerhand die besef dat daar 'n nuwe "klimaattipe" in ons poësie gekorn het, soos Van Wyk Louw in 1963 van die prosa kon sê. Die belangrike nuwe stemme van die jongste tyd - Wilma Stockenström, Sheila Cussons, J.C. Steyn, Lina Spies, Antjie Krog, Marlene van Niekerk, T.T. Cloete - het elk 'n herkenbare eie stern. 'n Mens kan, wat temas en lewenshouding en ook vormgewing betref, "geesgenote" uit vroeër tydperke aanmerk ('n letterkunde het per slot van sake 'n eie soort bloedsomloop) - Peter Blum by Wilma Stockenström, byvoorbeeld; Cussons, Cloete, I.L. de Villiers en Lina Spies in die ry van religieuse digters plaas met Totius en W.E.G. Louw; Eybers se optiek herken in die verse van Lina Spies en Antjie Krog; J.C. Steyn en T.T. Cloete se woordafleidings en vormspeI miskien kon knoop aan die laat Van Wyk Louw (soos 'n mens trouens Breytenbach en Leipoldt ook sou kon saamsien). Maar navolgers in die strikte sin van die woord, selfs herkenbare nasate van Breytenbach is hulle nie. En daarom mag ons praat van 'n vernuwing in die poesie van Sewentig na Tagtig.

En die opvallendste, miskien selfs in sekere sin oorkoepelende vernuwing kom met D.J. Opperman se Komas uit 'n bamboesstok in 1979. En die vernuwing is hier, soos by die prosa, geleë in die wyse waarop die konvensies van literêre aanbiedingswyses weer "versaak1ik" word; die poësieboek word, van stofomslag tot titelblad tot gedigte, letterlik van hoek tot kant saamgestel tot één groot litêrere artefak. Vers na vers is afsonderlike eenheid maar ook ingebou in die groot geheel; al die onderdele van die boek is kennelik bedoel om mekaar op te roep, aan te vul.

Volg ons die ontwikkelingsgang van die drama op dieselfde wyse kan 'n mens Ou' Daniel met sy sosiale bekommernis in 1906 wel as 'n vernuwing sien teen die agtergrond van historiese tafereelspele en romantiekerige speelstukke wat indertyd die toneelmode was. In 1922 vang Jan F.E. Celliers die kern van die vernuwing in woorde as hy in die Voorwoord van sy eie "menslike" drama Reg bo reg as vereiste stel: "Die mens op sigself as onderwerp"; en dit bly geldig dwarsdeur die periode van die opkoms van die realistiese drama, met J.F.W. Grosskopf, H.A. Fagan en Leipoldt as die vernaamste eksponente, tot ongeveer 1935.

Die dertigerjare bring groter verdienste ten opsigte van die versdrama en die eenbedryf; die hoorspel maak sy intrede, met die groei van uitsaaidienste. Die toneel en drama voeg natuurlikerwyse in by groot geleenthede; met die Voortrekker-eeufeesjaar van 1938 verskyn Die dieper reg van Van Wyk Louw en Magdalena Retieif van Uys Krige. Die voorrang van die historiese in die Afrikaanse dramaliteratuur blyk uit die groot toevoegings van die vyftigerjare: van Van Wyk Louw, Dias (1952) en Germanicus (1956); van Opperman Periandros van Korinthe (1954) en Vergelegen (1956).

Vir sover as wat die drama dikwels geleentheidsgebonde is - dus vir opvoering onder bepaalde omstandighede bestem is, en vir sover as die hoorspel byvoorbeeld met al die tegniese moontlikhede van sy realiseerbaarheid moet rekening hou, was hierdie genre nog altyd ingestem op "die ontginning van die medium". Maar in die sestigerjare word die medium al hoe sterker ter sake: In Henriette Grové se hoorspele, sedert 1959, soos ook later by Chris Barnard in Die rebellie van Laifas Verwey (1971). Wat die verhoogdrama betref: met Bartho Smit se Moeder Hanna (1959, vir die eerste keer opgevoer in 1956) begin die oorgang na 'n hernieude besef van teater duidelik word; Smit se allegoriese drama Putsonderwater (1962), wat die Middeleeuse moraliteitspel as voorsaat het, beklemtoon die vernuwing nog sterker; met Die pluimsaad waai ver van Van Wyk Louw (opgevoer 1966, gepubliseer 1972) en met Henriette Grové se Toe hulle die Vierkleur op Rooigrond gehys het (1975) het die Epiese Teater hom ook binne die tradisioneel vrugbaarste dramasoort in Afrikaans, die historiese, gevestig. Karel Schoeman is een van die eerstes om die moontlikhede van TV in die sewentigerjare te ontgin met Besoek en Die somerpaleis (1975), en met Ontmoeting hy Dwaaldrif (1980) bring Henriette Grove 'n hoogtepunt in die Afrikaanse hoorspel, met vele winste van die nuwe benadering tot die teater en die literatuur in breër sin daarin verenig.

Die drama gaan toenemend "sy eie gang" omdat sy bemoeienis met die realiseerbaarheid van die teks hom sterk differensieer van die ander twee genres - al die vryhede en voorregte wat die verhoog die dramaturg gun, word onvervreembaar deel van die teksaanbod.

Het die Akademie deur middel van sy Letterkundige Kommissies in sy Hertzogprysbekronings vernuwing en groei in die Afrikaanse letterkunde, dit waartoe ons van meet af aan verbind was, herken, en erken?

Om met die prosa te begin: die bekroning van Ou Malkap van Leon Maré in 1920 kan geld as 'n erkenning van die "nuwe" realisme in Afrikaans, nog voor die opbloei daarvan in die twintigerjare. Die verskeidenheid wat die bloei van die prosa van Twintig en Dertig kenmerk, word opgevang in die bekroning van Ampie I en II, Die meulenaar, Langenhoven se Skaduwees van Nasaret, Sangiro se Diamantkoors en Twee fortuinsoekers, die Hobsons se Kees van die Kalahari. Die groter "mensge- rigtheid " van die dekade '30 na' 40, die groter welslae met prosavorme wat vroeër beproef is, vind erkenning in die bekroning van Toiings en Pelgrims, en van Die Sprinkaanbeampte van Sluis en Laat vrugte. Die bekroning van M.E.R. in 1953 vir al haar werk (dus ook vir die maatskaplike probleemromans) erken die heersende romanmode, maar registreer terselfdertyd 'n nuwe sensitiwiteit in die voorkeur vir die eenvoudige, helder vertelstyl van hierdie skryfster: Die soort styl wat enkele jare later deur Van Wyk Louw in Vemuwing in die prosa geprys sou word.

In 1964 word Sewe dae by die Silbersteins bekroon, hoogtepunt van die eerste fase van die vernuwing rondom Sestig (en in 'n verslag van die Letterkundige Kommissie van 1957 is al genoem dat Leroux in aanmerking kan kom vir die prys); in 1979 Magersfontein, O Magersfontein! wat 'n nuwe wending in die oeuvre van Etienne Leroux markeer het (en die Letterkundige Kommissie het hulle van die feit dat die roman indertyd verbode was, niks aangetrek nie); in 1984 word met die bekroning van Die kêrel van die Pêrel erkenning gegee aan die nuwe selfbewuste soort narratiewe konstruksie van ons tyd.

Veral die vroeëre poësiebekronings, voordat die Eugene Marais-prys vir debuutwerk ingestel is, kan vertolk word as gevoeligheid vir vernuwing. C.M. van den Heever, oorgangsfiguur uit Twintig na Dertig, word kort na sy debuut in 1926 bekroon vir Die nuwe boord in 1928. W.E.G. Louw se debuutbundel van 1934, Die ryke dwaas, word in 1934 bekroon. Alleenspraak, Van Wyk Louw se debuut uit 1935, word in 1937 bekroon (die volgende Hertzogprys vir poësie, in 1940, gaan aan Die halwe kring, 1937). D.J. Opperman ontvang in 1947 die Hertzogprys vir sy debuut in 1945, Heilige beeste. Tristia, 'n vernuwing in Van Wyk Louw se poësie en een van die dominante digbundels van die sestigerjare, word bekroon in 1965. Uit die jongste generasie digters ontvang Wilma Stockenström die prys vir haar sterkste bundel Van vergetelheid en van glans (1976) in 1977; sy debuteer in 1970. Die digterskap van Sheila Cussons, wat geweldig vinnig ontplooi in 6 digbundels nadat sy vir haar debuutbundel Plektrum in 1971 die Eugene Marais-prys ontvang het, word bekroon in 1983. Belangriker nog: Komas uit 'n bamboesstok, die radikaal nuwe en vernuwende bundel van D.J. Opperman, word kort na sy verskyning in 1979 met die Hertzogprys van 1980 bekroon. U sal merk dat ek in hierdie klein oorsig spesifiek aangedui het hoe gou na die manifestasie van vernuwing die bekroning gevolg het.

Hoe het dit ten opsigte van die drama verloop? Grosskopf is onmiddellik, in 1926, bekroon vir As die tuig skawe; Fagan in 1935 vir Die ouderling e.a. toneelstukke van 1934, wat Ousus, die hoogtepunt van sy werk, insluit. W.A. de Klerk se poging tot vernuwing van die sosiaal-realistiese pro- bleemdrama, Die jaar van die vuur-os (1952), word in 1952 bekroon. Die nuwe bloei van die historiese drama in die vyftigerjare word erken met die bekroning van Periandros van Korinthe in 1956, Germanicus in 1960. P.G. du Plessis, in sommige opsigte nakomeling in die sosiaal-realistiese tradisie, maar daarby 'n besonder teaterbewuste dramaturg in die nuwe idioom, is in 1972 bekroon vir Siener in die suburbs (1971) en sy debuutstuk Die nag van legio (1969 ). En, wat ek vroeër kon noem 'n vernuwing in die Afrikaanse hoorspel, Ontmoeting by Dwaaldrif (1980), word bekroon in 1981.

In breë trekke, maar sekerlik soms van baken tot baken, volg die Hertzogprystoekennings die weg van vernuwing en groei in die Afrikaanse letterkunde, die afgelope sewentig jaar.

En tog is sommige bakens langs die pad van die letterkunde, soos ons dit vandag in terugblik sien, opvallend afwesig of opvallend misplaas in die kaart wat die Hertzogprysbekronings daarvan teken. Oor die jare heen tart die woorde waarmee Van Wyk Louw in 1937 die prys vir Alleenspraak geweier het (wat hy moes deel met I.D. du Plessis se Vreemde liefde en Ballades) ons nog steeds: "Die Akademie was weer magteloos om te besluit oor die sake waarin hy hom juis die reg van 'n beslissing toe-eien."

Maar as dit moontlik was vir die toeskouer om self daardie lewe te leef ...?

Vreemde liefde en Ballades was ryp werk van 'n gevestigde digter (vergelyk Antonissen hieroor in sy Schets van den ontwikkelingsgang der Zuid-Afrikaansche letterkunde, 1946: 283, 284).[8] Alleenspraak was 'n debuut; dieselfde verklaarbare aarseling - net nog baie duideliker uitgedruk in 'n driedelige bekroning! - het in 1934 voorgekom, toe Die ryke dwaas saam met Totius se Passieblomme en Leipoldt se Skoonheidstroos bekroon is: 'n Erkenning van 'n hoogtepunt in die oeuvre van Totius, Leipoldt se "laaste groot werk" (Antonissen, 1946: 142), en 'n onmiskenbare nuwe talent. En dit alles geskied binne 'n tydperk van oorgang tot die volle bloei van vernuwing.

In 1968 word Boerneef postuum bekroon, vir al sy digbundels, wat van 1958 tot 1967 verskyn het. Einde 1967 het van Breytenbach reeds verskyn Die ysterkoei moet sweet (1964) en Die huis van die dowe (1967). Boerneef is op 2 Julie 1967 oorlede; die voorskrifte by bekroning insake die Hertzog- prys lui: " 'n Postume bekroning ... is geoorloof indien die skrywer oorlede is in die tydperk onder behandeling". Die Letterkundige Kommissie het dus hierdie enigste, laaste kans gehad om 'n digterskap te bekroon waarvan Antonissen (1965: 312,313) sê dat dit "'n unieke variant skep op een van die modernste verskynsels in die Afrikaanse poësie" - "poësie wat in Afrikaans die naaste staan aan wat 'n 'absolute liriek' heet"[9].

Die bekroning van Saul die worstelheld en Die profeet in 1939 (veral waar Saul alreeds 'n vorige keer, volgens die notules, geweeg en te lig bevind is!) lyk onverstaanbaar in die tyd van die prosa-"eksperimente" van Hettie Smit, Abr. H. Jonker en Holmer Johanssen, en van die eerste kortver- haalbundels van Jan van Melle, Uys Krige en Boerneef. P.J. Nienaber vertel egter die verhaal in Die Hertzogprys 50 jaar (1965: 125 en volgende). Indertyd was die prosedure insake bekronings so, dat die aanbeveling van die Keurkomitee deur 'n Breë Kommissie van 15 lede, deur die Akademieraad aangestel, en nie almal letterkundiges nie, oorweeg moes word voordat die Raad 'n finale beslissing neem. "Die Keurkomitee (soos die Letterkundige Kommissie indertyd geheet het) het Sy kom met die sekelmaan eerste gestel," skryf prof. Nienaber, "maar die Breë Komitee het Malherbe se twee romans verkies" (wat derde op die ranglys, na Kromburg en Kruispad van C.M. van den Heever in die tweede plek, verskyn het). Die Breë Kommissie het met hulle aanbeveling beslis die "breë" smaak van hul tyd gevolg.

Die afwesigheid van Van MeIle in die lys bekroondes skep steeds 'n probleem. Hy is nie onvermeld in die verslae van die Letterkundige Keurkomitees nie; reeds in 1929, toe die genre drama aan die beurt was (daar is geen toekenning gedoen nie) en manuskripte nog voorgelê kon word deur skrywers, was daar ook 'n manuskrip van Van MeIle: Drie treurspele genoem: "Loutering", "Die huwelik van Pop" en "Bart Nel". In 1936, toe Toiings en Pelgrims bekroon is, is die kortverhaalbundel Oom Freek le Grange se derde vrou in die verslag as verdienstelike werk vermeld. In 1945, net na die verskyning van Simba in 1944, word Sangiro in hierdie laat stadium weer bekroon vir "al sy werk", en Van MeIle word na 'n derde pIek op die ranglys teruggedring. Sy belangrikste werk lewer Van Melle tussen 1933 en 1943. Hierna, lyk dit, was sy kans op bekroning verby.

Maar hoe was dit indertyd gesteId met die waardering vir Van Melle se werk? In F.E.J. Malherbe se "beskouing oor die nuwere Afrikaanse letterkunde", Wending en inkeer van 1948, word Van Melle nie eens vermeld nie. Antonissen wy in sy Schets van 1946 skaars 'n bladsy en 'n half aan Van Melle (ses aan Abr. Jonker); Bart Nel, de opstandeling word in enkele reëls as "historiese roman" behandel. Die begrip en waardering vir Van Melle, soos vir M.E.R., het later eers gekorn: M.E.R., wat 'n nuwe begin as skrywer maak in die veertigerjare, met 'n stygende lyn na Die gewers (1950) toe, word in 1953 bekroon; Bart Nel word in 1960 herdruk, en dan kry sy "leeftyd" as klassieke roman in Afrikaans nuwe impetus.

Die grootste leemtes vind 'n mens egter in die lys van dramabekronings. Van Wyk Louw is wel vir Germanicus bekroon, maar dit weerspieël skaars die groot verskeidenheid van vernuwing wat hy op die gebied van die drama gebring het: Versdrama, hoorspel, moraliteitspel, Die pluimsaad waai ver as wegbereider vir die Epiese Teater hier te lande. En Uys Krige wie se bydrae op die gebied allerbelangriks was: Meester van die eenbedryf, wat ook in sy langer werk die vernuwende terugkeer na die Middeleeuse drama, voedingsbron van die Westerse drama, bewerkstellig, is nooit bekroon nie[10]. In 1941, byvoorbeeld, word hy aanbeveel deur die Letterkundige Kommissie, maar die Breë Kommissie stel dit ter syde - die prosedure (inmiddels, soos bekend, grondig verander) was die sondebok.

Maar miskien is daar, wat die drama betref, ook die probleem: Dat die hibridiese aard van die drama - leesstuk en speelstuk, waardeur die lees "op die woord af" alleen, ontoereikend is, en dit veral in die jonger verskyningsvorme in die Afrikaanse drama - dikwels vir letterkundige beoordelaars tot struikeling is.

 

Ons het die Hertzogprysbekronings gebruik as verteenwoordigende voorbeeld om die rol van die Akademie ten opsigte van die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse letterkunde te belig. Met die volwassewording van ons letterkunde het egter veel groter genuanseerdheid gekom, en afsonderlike pryse het ontstaan. Die instelling van die Akademieprys vir vertaalde werk in 1948 het 'n belangrike aktiwiteit in ons jong letterkunde erken: 'n Mens sien, veral in die vroeë jare, hoe jong, ontwikke- lende talent oefening en voorbeeld soek in die vertaling van groot buitelandse modelle. "Die van zijnen geest naar het Parnas gedreven, in den school der Zanggodinnen nedergezet, en Apollo toegeheiligd wordt, dient zijne genegenheid en ijver door hulp van de kunst en leeringe te laten breidelen," skryf Vondel in sy Aenleiding ter Nederduitsche dichtkunst in 1650; Preller vertaal Zola reeds in 1914; Grosskopf, Freytag in 1919.

Sedert 1961 word "eerste of vroeë bellettristiese publikasies" vir die Eugene Marais-prys oorweeg, waardeur belangwekkende debute uit die deesdae so oorvloedig "belowende" publikasies uitgesonder kan word. Waar, in die jeugjare van ons letterkunde, jeuglektuur moes meeding om die Hertzogprys (in 1929: Patrys-hulle) is daar sedert 1956 die Scheepers-prys vir Jeuglektuur. "´n Mens moet by die kinders begin," het M.E.R. op 'n keer gesê, en in 1969 kon die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterlektuur ingestel word. M.E.R. was die eerste ontvanger daarvan, in 1970, vir 'n heruitgawe van Karlien en Kandas. Uit die Hertzogprys, via die Stalsprys vir Geesteswetenskappe, het ook die Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap en Letterkundige Kritiek gegroei.

Wat beloof al hierdie maatreëls tot "wetenskaplike en artistieke leiding" vir die toekoms?

Die werkwyse van die Letterkundige Kommissie, gegrond op die "indaba", die oop, indringende gesprek, waarin oordele getoets word, is 'n hoogs menslike en daarom gewenste wyse om met die so menslike verskynsel, die literatuur, om te gaan. Daar is kontinuiteit in die Kommissie, maar telkens bring wisseling in die samestelling mee dat nuwe benaderings, koersverandering in die literer-kritiese waardebepaling die gesprek binnekom. Die vakkundige status van die Letterkundige Kommissie, al hou hy hom besig met die letterkunde, wat in prinsipe vir elke geletterde toeganklik kan wees, moet jaloers gehandhaaf word, binne groter Akademiese verband - die geskiedenis het te dikwels getoon dat versuim om die oordeel van die Letterkundige Kommissies te handhaaf, tot versuim teenoor die gang van die letterkunde self gelei het.

Die Akademie sal ook daarop moet let dat ons 'n verpligting het vir die toekoms teenoor die werke wat in die verlede bekroon is: 'n Onlangse opname het getoon dat van die prosawerke wat tot 1933 bekroon is, 7 nie meer in die handel verkrygbaar is nie - en dit sluit Ampie I en II in en Die sprinkaanbeampte van Sluis. "Al haar werk ", waarvoor M.E.R. in 1953 bekroon is, is lank nie meer beskikbaar nie. Moet ons nie hier met 'n bewaringsaksie begin nie, en sorg dat daar 'n nuwe publikasiereeks van deur die Akademie bekroonde werke ingestel word?

Die Akademie sal ook weer moet besin oor die feit dat in die Wet op die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns no. 54 van 1959 nog steeds ingeskryf staan: "Die oogmerke van die Akademie is die handhawing en bevordering van die Afrikaanse taal, letterkunde en kultuur en van die Hollandse taal en letterkunde...." Hoe kort gelede nog, bereken in terme van ons bestaan as Afrikaanse volk, was ons "Hollands"! Deur die feit te negeer, vervreem ons ons van ons geskiedenis. Moet die Akademie nie toetree, byvoorbeeld, tot die debat oor die behoud al dan nie van die komponent Nederlands in die vak Afrikaans-Nederlands aan ons universiteite, en aan ons skole nie?

En wat die lewende Afrikaanse letterkunde self betref, die oorlewing van Afrikaans is vandag so 'n brandende vraagstuk as wat dit vyf-en-sewentig jaar gelede was: "Die geeste in die lug" wat ons teëpartye vorm, neem net heel ander gedaantes aan. Teen die lokstem van verleiding van TV en van buitelandse verstrooiingslektuur word 'n veldtog gevoer vir goeie, gewilde prosa, orn - ons moet dit maar nog op die ouderwetse manier sê - die volk te leer lees, in Afrikaans. Met die somber dreiging teen Afrikaans as "taal van die onderdrukker" in ons ore, verbly ons ons in die verskynsel dat Afrikaans ook taal van die protesteerders, van die Grens en van die Vlakte, geword het. "Alles, maar ook alles wat die moderne mens roer, wat sy vreugde of smart maak, moet in ons literatuur sy neerslag kry", staan geskryf in Berigte te velde, 1939. Maar reeds toe Gustav Preller ons letterkundige kritiek ingelui het, in die tyd van eerstelinge in die nuwe Afrikaanse letterkunde, het hy gewaarsku dat ons ywer en ons sorg vir Afrikaans nooit ons "idee van groot kuns" mag verdring nie. Werk wat "nie voldoen aan die hoogste eise nie, (doen) afbreuk aan die middele waarvan hy horn bedien -ons taal", skryf hy in Mei 1906.[11]

Die Akademie het beloof om die Afrikaanse letterkunde te handhaaf en te bevorder. Ons moet betaal wat ons belowe. En dit vra 'n besondere ingesteldheid - dié waarvan Van Wyk Louw geskryf het in "Die idee van groot kuns": "Ons moet in die geloof leef (bIý leef, sou ek wou sê - E.B.) dat ook by ons groot literatuur gemaak kan word."

[1] F.C L. Bosman: "Geskiedkundige oorsig van die Akademie" in Feesalbum 1909-1959 in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, I.L. van Schaik, Pretoria, 1959.

[2] Vergelyk Elize Botha: "Einde van 'n tradisie: Drie Nederlandse digbundels in Suid- Afrika, 1908 -1911" in Oor die Afrikaanse prosa e.a. opstelle, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad, 1980.

[3] Hennie Aucamp: "Preller se kort prosa: Proewe van 'n herwaardering", Tydskrif vir Geesteswetenskappe (15) 4, bl. 251-264, 1975.

[4] Besselaar: Zuid-Afrika in de letterkunde, I.H. de Bussy, Amsterdam, Pretoria, Johannesburg, 1914.

[5] Feesalbum, bl. 83.

[6] Vergelyk, naas die Feesalbum, P.I. Nienaber: Wat doen die Akademie?, Nasionale Boekhandel, Kaapstad, 1968, die inligtingsbrosjure Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Welenskap en Kuns, 1981, en I. Moll en ander: Akademie 75, 1984.

[7] Nienaber, in die aangehaalde werk, bl. 20.

[8] Rob Antonissen: Schets van den ontwikkelingsgang der Zuidafrikaansche letterkunde, Eerste deel: Diest: "Pro Arte", 1946. - Ek gebruik met opset die vroeë 'Antonissen", as naastenby tydgenootlike kommentaar by die tydperk in die bekroningsgeskiedenis .

[9] Rob. Antonissen: Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede, Nasou, Kaapstad, i 1965. Ook hier gebruik ek 'n tydgenootlike mening, van 'n onafhanklike (dit wil sê wat die Akademie betref, onverbonde) getuie.

[10] Uys Krige word in 1985 vir al sy dramas bekroon.

 

[11] Vergelyk Gustav S. Preller: Eerstelinge: Eerste kritiese beskouings oor ons eerste kunswerke (versorg deur D.J. Opperman), Human en Rousseau, Kaapstad, 1961.

© Catharina Loader 2001