Letterkunde

Afrikaans en die prosa

Nadat Jan van Riebeeck op 6 April 1652 in sy Daghregister aangeteken het dat die reis tot in Tafelbaai veilig afgelê is, was een van die eerste take van die handjievol blanke vreemdelinge die verkenning van 'n nuwe wêrelddeel waarin hulle vir hulself 'n woonplek en 'n leefwyse moes vestig. Jan van Riebeeck self het in sy Daghregister voortdurend verslag gedoen van wat hy in die fisiese wêreId waargeneem het - nie net van dagtaak, opdragte en probleme nie. En na horn sou die skryf van register, dagboek en joernaal in dieselfde gees tot aan die einde van die agtiende eeu voortduur.

Pieter van Meerhoff (oorlede 1668), al gaan hy en ander saam met hom op soek na die droom van Monomotapa en Vigiti Magna, doen noukeurig verslag van die harde werklikheid van hul reise die binneland in; Oloff Bergh (1683) sal vertel van Namakwaland; die vryburgerseun van Constantia, Pieter Cloete (1776), hou 'n joernaal op reis saam met die goewerneurseun Hendrik Swellengrebel, waarin hy skryf met 'n merkbare liefde vir wat hy in die land waarneem; Hendrik Wikar {1779) maak 'n berig van "wat ik gehoord ende gezien hebbe" as hy vier jaar lank langs die Oranjerivier onder inboorlinge woon; ook Jacob van Reenen (1790) en sy broers sal op die manier dagboek hou, en telkens teken die litera- tuurgeskiedskrywer daarby aan hoe die vroeё prosaskrywers die nuwe wêrelddeel betrag het en gerapporteer het oor die stryd teen die klimaat, oor wilde diere en inboorlinge, oor die skilderagtige van die natuur - soos D. J. Opperman in Joernaal van Jorik sy Dias in gebed laat praat van "al dié wrede prag van krans en dier en wilde mens in stukke huid". Belangrik is hier prof. G. Dekker se mening dat juis die reisverhaIe, meer nog as enige ander letterkundige voortbrengsel in die agtiende eeu, literêre betekenis besit (Afrikaanse literatuurgeskiedenis, 1960, bl. 4).

Die taalvorm van dagregisters, joernale en reisbeskrywings was nog geen Arikaans nie. Wel wys dr. Edith Raidt daarop in haar boek Afrikaans en sy Europese verlede (1971) dat spore van Afrikaans al hier en daar in die geskrifte te vind is, en ons weet ook dat, waar 'n landskap gevul met onbekende plante en diere, mense met vreemde lewensgewoontes, beskryf moes word, die Nederlandse taal ontoereikend moes gewees het om aan al die nuwe sake name te gee - daarom moes hierdie skrywers vir hulle doel "taal-maak".

Die Afrikaanse taalgeskiedenis leer ons dat Nederlands reeds vroeg (waarskynlik reeds in die eerste kwart van die agtiende eeu) sy "Kaapse draai" gekry het. Nou is dit so dat die amptelike taal, en vir vele nog ook kultuurtaal, tot in die twintigste eeu Nederlands gebly het; en dit is in spreektaal, die omgangstaal dat die "Kaapse draai", die Afrikaans-in-die-kiem, hom getoon het. Daarom vind 'n mens die verskynsel dat vroeё geskrifte dikwels hul Afrikaansheid daar vertoon waar hulle die spreekwyse wil weergee van mense wat hulle op hul reise teёgekom het. Wikar, gebore Sweed, laat duidelik die tekens van Afrikaans sien wanneer hy sy, van landsmanne pratenderwys aangeleerde, "Nederlands" skryf. Ook die prosageskrifte van betekenis uit die neёntiende eeu vertoon die dagboekvorm; 'n mens kan die Trekkers noem - Louis Trichardt, Erasmus Smit en sy vrou, Susanna, Sarel Cilliers, Anna Elisabeth Steenkamp. Veral in Trigardt se Dagboek (31 Julie 1836 - 1 Mei 1838) is die strewe herkenbaar om Nederlands te skryf, maar prof. T. H. le Roux se slotsom is (in sy inleiding tot 'n nuwe uitgawe daarvan, Van Schaik, ): "die taal van Louis Trigardt se Dagboek is in wese Afrikaans". As ´n mens hierdie werk sien as een van die belangrikste prosawerke van ons neёntiende-eeuse literatuur, sal ons daaruit nog meer kan aflees wat ook in literêre opsig "in wese Afrikaans" is - of kan wees.

Gustav Preller, in sy inleiding by die 1938-uitgawe van die Dagboek, vermeld etlike saaklike aanleidinge tot die skryf daarvan: Trigardt wou miskien later rapport van sy trek uitbring aan generaal Potgieter; hy wou „lopende rekening" hou van die beeste-getal, van die opbrengs van die jag. Maar hierdie verhaal van " 'n Verkenning van die Vryheid en die See“, soos Preller dit stel, vertoon ook 'n ander strewe. Algaande vestig Trigardt ook die aandag op die mense saam met hom, boots hy Albach, „die Napoleontiese Elsasser", se vreemde spraak na, laat hy die vroue in hul growwe geskinder aan die woord - laat hul hóór, vir wie sy Dagboek sou lees. Want inderdaad: só skryf een wat vir 'n leser skryf, en saam met Preller sou 'n mens wil sê: waarskynlik was die leser Trigardt se vrou. 'n Mens merk hoe Trigardt, soos die Dagboek vorder, hoe langer hoe vaardiger word; die inskrywings word langer, meer geskakeerd. Ten spyte van ontbering en afsondering, ten spyte van die uitdagings in die wildernis, skryf Trigardt voort, totdat hy ten slotte op 1 Mei 1838 moet neerpen: „Mijn liefste en Dierbaar Pand wierd van mijn voor eewig genomen! "

So is Trigardt se Dagboek getuienis van 'n verdieping, 'n verruiming wat gegroei het uit die vroeё verkenning van ons land; van 'n verowering wat plaasgevind het: dat die wilde wêreId sy gees nie afgetakel en sy waarnemingsvermoё nie afgestomp het nie, maar dat hy dwarsdeur alle nood bly verslag doen, besinnend, beeIdend teenoor die werklikheid bly staan. En - begin om die oog ook na binne te rig, ook homself "te kenne te gee“... in 'n taalvorm wat "in wese Afrikaans" is.

 

 

II

Dan, vanaf die middel van die neentiende eeu, word Afrikaans in toenemende mate as skryftaal aangewend. Die prosa van rondom 1850, 1860 - eintlik is 'n mens byna sku om van die geskrifte as "prosa" te praat! - staan in noue verband met die koerantwese en neem die vorm aan van briewe aan die redakteur. Soos dit met dergelike briewe gesteId is, het die skrywers die een of ander saak, merendeels van maatskaplike belang, op die hart. Maar lees ons weer die Afrikaanse briewe van die wat hul aangedien het as Platje Wysneus en Pouwel Grootschoen, as mej. Beuzemstok, as Onderzoeker en as Behrend Moddermannetje (om maar willekeurig op te noem), merk jy hoe die saaklike mededelings telkens aangevul word, soms oorgaan in bespiegeling, in uitbeelding van die ewenaaste ten bate van 'n sekere lewensbeskouing. So het ons die klein begin van 'n Afrikaanse essayistiese literatuur in hierdie jare.

Dan skep L. H. Meurant sy Klaas Waarzegger en laat horn Afrikaans tin sy samespraak met Jan Twyfelaar, om die "Engelse" saak van afskeiding tussen die Oostelike en Westelike Provinsie te dien (in boekvorm 1861). Hieruit groei Klaas se Brieve van 1861 (afgesien dan nog van stroom samesprake en briewe van navolgers), stukke waarin Klaas die die wêreld rondom hom, en by name die Kaapse Parlement, betrag om die interessante en indrukwekkende van die onbekende ervaring aan sy Cradockse lesers te bring, om verslag uit te bring oor die vordering van die saak van afskeiding, maar ook om uit 'n persoonlike standpunt, dié dinge die lig van 'n lewenshouding te vertolk.

Na hom het Samuel Zwaartman (H. W. A.. Cooper) ook in hierdie populêre soort joernalistiek voortgewerk met sy Boerenbrieven uit Fraseburg (1870), en aan die anekdotiese (en essayistiese) die uitdruklike leerrykheid toegevoeg -'n leerrykheid wat hoofsaaklik deur middel van die spot bereik is.

´n Mens kan sê dat die eerste doelstelling hier was: waarneming van die werklikheid, maar dat by dié waarneming, die vertolking gevoeg is; en die interessante daarby is hoe in hierdie neentiende-eeuse essayistiese ("koerant-)prosa die aandag ook steeds gevra word vir die skrywende mens, vir die menslike standpunt wat teenoor sake van die dag, aspekte die werklikheid, ingeneern is.

´n Mens kan sê dat die eerste doelstelling hier was: waarneming van die werklikheid, maar dat by dié waarneming, die vertolking gevoeg is; en die interessante daarby is hoe in hierdie neentiende-eeuse essayistiese ("koerant-)prosa die aandag ook steeds gevra word vir die skrywende mens, vir die menslike standpunt wat teenoor sake van die dag, aspekte die werklikheid, ingeneern is.

Dit is ook kenmerkend vir die koerantprosa dat die skrywers hulle van Afrikaans bedien om lesers te trek (soos dit by 'n massa-medium gebeur) en daarby korn die belangrike saak wat dr. Edith Raidt in haar reeds genoemde boek vermeld (bl. 147): dat die briefskrywers, gedring deur die erns van die saak, geskryf en hul eenvoudig bedien het van wat hul taal beskikbaar gehad het.

Tog doen die doel waarmee Afrikaans gebruik is as prosataal, aan die goeie uitkoms van hierdie skryfwerk nie af nie: dat die uitdrukkingsmoontlikhede van Afrikaans bewustelik hier verken is om die oorredingskrag, die spot, die betoog, die beskrywingslus, lering, besinning, selfs die ironie, van skrywer tot leser oor te dra.

III

Die bewuste strewe na die opbou van 'n eie Afrikaanse literatuur bring in die jare rondom die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners een van sy vrugte 'n vermeerdering van literere vorme in Afrikaans. Samesprake groei tot prosadrama, anekdotes groei tot vertellings, en die eerste omvangryker prosawerk verskyn as C. P. Hoogenhout sy Geskiedenis van Josef voor Afrikaanse kinders en huisvrouwens in hulle eige taal skrywe (1873).

Die beskrywing, die betoog, die wyse lering kry, dit merk ons, in die jare van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging 'n bondgenoot by om die waarheid uit die werklikheid te help vind - die verbeelding. Getuie daarvan is S. J. du Toit se "Historise Roman, met Prente", wat in 1898 verskyn het, Di Koningin fan Skeba, of Salomo syn oue goudfelde in Sambesia, wat by 'n herdruk daarvan in 1921 deur prof. J. J. Smith "die mees ambisieuse prosawerk van die Eerste Afrikaanse Beweging" genoem is.

Die roman laat blyk hoe die moontlikhede van die prosa as kunsvorm in die tyd ontgin is. Die vraag was na boeiende lektuur in Afrikaans; lesers moes aan die lees gemaak, aan die lees gehou word. Vir 'n leserspubliek wat as vernaamste lektuur die Bybel en Bybelverklarende werke gehad het, sou die immer-geheimsinnige tema van die koningin van Skeba, sy wat met Salomo kom spreek het "oor alles wat in haar hart was", dadelik aangespreek het. Nog is, in hierdie werk, fisiese verkenning van die binneland aan die orde: die raamvertelling vertoon spore van die reisver- laal (die verteller is op reis in die omgewing van Zimbabwe, en vertel onder andere van die swartes se gewoontes en gebruike); ook die les en die lering word nie verwaarloos nie - wat in die denkbeeIdige perkamentrol staan wat "bron" van die verhaal vorm, word gekontroleer, aangevul uit argeologiese bronne. Maar binne die raamwerk van leerryke waarskynlikheid is die, grotendeels verwerklikte, doel: "niet een geschiedenis, ook niet een algehele verdichting: maar een herleving" van die geskiedenis van die koningin van Skeba; en in dié herskepping is die verbeelding werksaam.

Die werk wat vroeg in die twintigste eeu 'n standaardwerk van die Afrikaanse prosa genoem is, is eintlik vroeër as Di Koningin fan Skeba gepubliseer. Dit is Sewe Duiwels en wat hulle gedoen het, deur Ou Oom Jan (ds. Jan Lion Cachet): 'n werk wat spruit uit die tyd van die Patriot en ons Klyntji, in verskillende aflewerings in dié tydskrifte verskyn het en dus volledig staan binne die tydperk van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. En tog, 'n werk wat geheel en al binne die verband van ons twintigste-eeuse prosa, tot in sy jongste verskyningsvorme toe, betrek moet word.

"Sketse uit die Afrikaanse buitelewe", so lui die ondertitel van die boek, wat in 1907 verskyn het, asof dit 'n beskrywing van 'n landstreek en sy mense sou wees. Maar hoewel ons tog in die verhaIe 'n beskrywing kry van menslike gedrag, is die aandag nie vir uiterlike besonderhede van die menselewe nie. Dit gaan om die beweegredes van mense, dit gaan om 'n uitbeelding van wat met 'n mens gebeur as hy, in die woorde van Paulus aan die Efesiërs, aan die duiwel 'n pIek gegee het. Dié uitbeelding geskied binne uitdruklik Christelike verband; dit merk ons ook wanneer die skrywer lerend en kommentarierend intree in sy vertelling.

Maar dit is nie net uit hierdie intredes dat ons die "strekking" van die verhale agterkom nie. 'n Mens kan van Ou Oom Jan reeds praat as 'n woordkunstenaar in dié sin dat hy dikwels deur fyn woordkeuse, deur 'n trefsekere hantering van die verskillende nuanses van woordbetekenis, die noulettende leser van 'n waarheid agter die in hoofsaak alledaagse gemeensaamheid van sy vertelling bewus maak. Dit leer 'n mens uit die openingsbladsy, inderdaad, die openingsin, van die derde storie in sy bundel, "Di praatduiwel". Die winkelier Telheim sê die eerste woorde: "What a splendid nakmaal! " en definieer daarmee die praatduiwel terstond. Want: met die sakrament het hierdie uitspraak niks te doen nie, net met die sosiale en goeie sakegevolge van die heilige geleentheid. Telheim praat hier oor iets wat met die wese van die nagmaal niks te doen het nie. Net so word die praatduiwel in hierdie eerste bladsy aan die werk getoon wanneer Ou Oom Jan laat hoor hoe die wrede werklikheid van 'n Basoeto-oorlog aanleiding vorm vir grootpratery en geklets - die ooms "beskik oor vrede en oorlog na hartelus" ...en dié ydele gepraat sal skril afsteek wanneer die oorlog later in die storie sy slagoffer eis.

Ook wanneer 'n mens die vertelkuns in Sewe duiwels loof, praat jy van woordkunstenaarskap. En so word Ou Oom Jan se boek 'n toonbeeld van verkenning op verskeie gebiede: sy "sketse uit die Afrikaanse buitelewe" stel naas sekere fisiese aspekte van die buitelewe "streke van die gees" aan die orde - van die Afrikaanse, van elke mens. Sy Praatville kan wel vaagweg geografies geplaas word, maar is tog in hoofsaak sinnebeeldig van aard. Hierdie sketse word 'n verkenning van mens en maatskappy, maar op die wyse van die woordkuns, wat 'n boeiende vertelling maak deur goed en kwaad, humor en patos in die bou van die verhaal teen mekaar te laat opweeg, deur betekenis te laat spreek uit tiperende beeld en kenmerkende handeling.

So verken Ou Oom Jan vir ons reeds voor die twintigste eeu begin, die uitdrukkingsmoontlikhede van die taal, die moontlikhede van betekenisvolle vormgewing in die taalkunswerk, en toon hy vir die hedendaagse leser hoe ver die begaafde skrywer al met die hantering van die taal en taalkunsvorm gevorder bet in die vroeë jare van die bewuste gebruik van Afrikaans as kultuurtaal.

IV

Dit is dus moontlik om Sewe duiwels te beskou as die drumpel waaroor 'n mens moet heen as jy die twintigste-eeuse Afrikaanse verbeeldingsprosa wil binnegaan. Ook S. J. du Toit sou sy erfgename hê in die twintigste eeu, en die ligtende voorbeeld in die Tweede Taalbeweging is J. H. H. de Waal, met Johannes van Wyk in 1906. Met 'n kundige inagneming van leserbelangstelling in avontuur en intrige, in nuttige feitlike informasie, in 'n eenvoudige verdeling tussen held (mooi, goed) en skurk (Ielik, sIeg) sou hy steeds populêre romans skryf tot in die dertigerjare toe. Tog is dit asof 'n mens eintlik vanuit die moontlikhede wat in Sewe duiwels gestel word (hoe naïef ook soms), die verskillende rigtinge van ons prosa in die twintigste eeu kan sien vertak.

Die verkenning van aspekte van die mens, onder meer in sy verhouding tot goed en kwaad, as enkeling en as deel van 'n gemeenskap, word in die vroeë jare van die twintigste eeu opgeneem in J. Lub se nog Hollands-Afrikaanse bundel Eenvoudige mense (1908), wat onder meer die versukkelde verstedelikte kryger-boer in aftakeling laat sien, en in Leon Mare se kortverhale in Die Nuwejaarsfees (1918), met die uitbundige Klaas Rensburg en sy joelende makkers en die sielige putgrawer Toot. Maar veral vanaf die twintigerjare kry ons die groot bekendes in die galery van Afrikaanse mense-in-die-Iiteratuur soos deur die prosakuns gevorm: in 1924, Ampie van Jochem van Bruggen, grensgestalte tussen maatskaplike chaos en orde, soms komies, dikwels deerniswekkend, dikwels brutaal in sy strewe na ordentlikheid; in 1926, van D. F. Malherbe, Faans Meulenaar, eenvoudige van gees, met sy onverwerklikbare droom van die liefde vir 'n onbereikbare en van 'n ganse lewe se onverstoorde arbeid in sy meul. D. F. Malherbe se ruie ou visser Hans-die-Skipper (1929) herhaal hierdie tema (miskien soms te sierlik) van hartstogtelike liefde vir die arbeid wat tegelyk leeftog is. Ook in die jare twintig neem die sproetgesigseun Patrys (E. B. Grosskopt), sprekende van 'n seunslewe binne 'n en- hele kleindorpse lewensbestel, sy pIek in.

Talryker nog word die gestaltes in die jare dertig: van C. M. van den die Heever die simpele ou-Datie, wat in Droogte (1930) die brandpunt vorm vir die dubbelbeeld van droogte in die natuur en droogte in die mens se gees; van die skrywer ook in Laat vntgte (1939), die dramaties teenoor mekaar gesteIde oom Sybrand en sy seun Henning, onverbiddelike gesagsfiguur van wie die kragte begin afneem, teenoor die toenemende krag en gesag van die jong man. Daar is Jan van MeIle se Dawid Booysen (1933) "wat almelewe 'n pure man was", in sy strewe getoon om 'n ordelike en voorspoedige klein gemeenskap in sy plaaswereld te stig as getuienis van Christelike deug - 'n strewe wat groei uit verlies en 'n somber verval; van Van MeIle ook, oom Daan, oom Diederik en oom Karel uit sy kortverhaIe: patriargaal, fors, maar met 'n hunkering na helderheid oor die tydelike en die ewige; daar is boweal Bart Nel (wat vir die eerste keer in1936 aan die Afrikaanse leser bekend geraak het in die Hollands- van Afrikaanse roman Bart Nel, de opstandeling), die man wat "loop met sy eie oë by die lig wat hy het", wat alles wat horn lief was, kon verloor en nog weet van "sy siel in horn". Met Booia (1931) van Jochern van Bruggen verskyn die swartmens-in-die-Iiteratuur; Mikro sal met sy Toiings (1934) die bruinmens laat leef: hier nog onder die goedige en vergoelikende hand van die baas, Fanie Naude, en nog as tipe, dikwels komieklik, hoofsaaklik simpatiek.

Die jare dertig bring ook twee "ek"-figure wat tot boeiende gestaltes groei in die boeke waarin hulle aan die woord is: die tevergeefsliefhebbende Maria-Marie in Sy kom met die sekelmaan (1937) van Hettie Srnit; die verteller in Boerneef se sketse en vertellings uit sy kontrei, die verdeeIde tussen stad en land, banneling uit 'n Boplaaswereld.

Die vroue van M.E.R. val veral in die veertigerjare op: uit Drie vertellings (1944), die susters Hettie en Helena, in die verwikkelde verbondenheid wat, teen wil en dank, groei tussen ongelyke geaardhede; Kató, triomferend in die daaglikse stryd-in-besonderhede in 'n huis deur armoed geknel. By Booia en Toiings word ook nou moeder Poulin gevoeg (G. H. Franz, 1946), waar die swart moeder aan die woord gestel is om uit haar oogpunt na die lotgevalle van die blanke te kyk en sodoende haarself in haar adel en fynheid van sin en waarneming laat ken; asook Kolisile, F. A. Venter se swart pelgrim(1952). En uit die selfkant van die samelewing laat Holmer Johanssen in Die onterfdes (1944) vir vader Portjee na vore tree met sy vae, nog aanwesige familietrots, sy liefdevolle geknutsel vir kinders en kleines, sy wil tot ordentlikheid in die stadsarmoed wat om hom toerank.

In 1955 sluit Alie, die dogtertjie van die Vrystaatse Rivierplaas, by Patrys aan (A1ba Bouwer, Stories van Rivierplaas) en met haar, die Basoeto-vrou, ou-Melitie; en in die deurlopende tweegesprek tussen die wysheid van 'n primitiewe mens en die gevoelige onbevangenheid van die kind, is 'n vir Afrikaans klassiekgeworde menslike verhouding opgebou. Anders belig is die kinders wat telkens middelpunt vorm van Henriette Grove se verhale wat vanaf die jare vyftig reëlmatig begin verskyn maar eers in 1966 gebundel is (Jaarringe). Hierdie kinders word getoon in 'n krisis-oomblik van ontnugtering -Liesbeth ("Liesbeth slaap uit"), wat iets van die onversoenbare verskyningsvorme van die liefde leer ken; Lena ("Die Betlehem-ster"), wat gevang is tussen waarheid en leuen; Lida ("Venesie agter 'n bruin gordyn"), wat moet leer hoe jammerlik broos die mens se droom van geluk is.

Groter groei die soekende figure van vroue in haar latere omvangryker verhale: Frieda Martyn ("Dood van 'n maagd"), wat op haar sterfbed die paaie moet herneem wat altyd van haar af weggelei het, in 'n poging om die sin van haar lewe en haar dood te agterhaal; Anna Amehlia ("Winterreis" - 1971), wat deur 'n eie lewe en 'n familie-verlede heen terugreis om die stroom van die tyd te stuit en so die vervloë gebeure vir ondersoek oop te stel.

Dolf van Niekerk het die klein stoet van buitestaanders, eenlinge, sonderlinge van die sestigerjare ingelui met Diederik (Die son struikel, 1960), die rebel ten spyte van homself, vir wie nie die saak waarvoor hy veg, "saak maak " nie, maar die gekwelde soeke om êrens te hoort. Henry van Eeden volg horn (in Etienne Leroux, Sewe dae by die Silbersteins, 1962), paradyslike onskuldige, wat, soos in 'n allegorie van weleer, op 'n pelgrimstog deur Welgevonden, beeld van ons wêreldbestel, gelei word om die wêreld en die bose te leer ken, en eindig in die bekentenis: "Jy moet natuurlik geloof hê. Dit is eenvoudig so. Jy moet jou toegewing aan die onsienlike maak." Daar is Lukas, gejaag deur stadsgeweId en stelsels; deur opstand en onluste steeds verhinder om "mens-aIleen" in sy geluk met tuiste, vrou en kind te wees (in ]an Rabie, Mens-aIleen, 1963). Dit is asof 'n mens van die romans van Andre P. Brink kan sê dat sy vrouekarakters pogings is tot die verwerking van een idee: 'n aanpassing, 'n modernisering en romantisering van die Middeleeuse Beatrysfiguur, wat deur al haar dwalinge heilig gebly het (veral Nicolette in Die ambassadeur, 1963). So kan 'n mens van die hoofkarakters in Karel Schoeman se boeke ook praat as verskillende gestaltes van een tipe: die dadelose, besluitelose, weemoedige enkeling (bv. By fakkeIlig, 1966, en Spiraal, 1968).

In die sestigerjare word omlysbare karakters skaarser; Henry van Eeden staan eintlik al in die teken daarvan - hy is geen "mens" in die sin waarin die karakters van die dertiger- en veertigerjare dit was nie, hy is geen beeld van 'n menslike persoonlikheid nie, maar 'n instrument tot ondersoek van die werklikheid. En dit is toenemend waar, ook van die mense-in-die-boeke-van-sewentig.

Maria, in Berta Smit se roman Die vrou en die bees (1964), en dominee Karel, in haar tweede roman Een plus een (1961), is, onder meer, samegesteIde beeIde waardeur verskillende aspekte van die moderne Christelike ervaring belig word; die anonieme "knolskrywer" van Etienne Leroux se 18-44 (1967) en Isis ...Isis. ..Isis (1969) is boweal ondersoeker: van bepalende kragte in 'n moderne gemeenskap, van eietydse geskiedenis, van die aard van die skrywerskap self.

So keer die verkenning in "sketse uit die Afrikaanse buitelewe" eers al meer na binne ten opsigte van mens en maatskappy, om dan weer deur 'n mens heen, maar vanuit sy standpunt, na buite te kyk.

V

In die vertelkuns, wat as woordkunstenaarskap bestempel moet word, kry Ou Oom ]an vroeg in die twintigste eeu 'n meesterlike opvolger. Wanneer 'n mens vandag weer die omvangryke werk van C. ]. Langenhoven lees, besef jy: ook Langenhoven wou "sy volk leer lees" en volgens tradisie moet ons heelwat van sy werk indeel by die didaktiek wat so kenmerkend vir sy tyd was. Maar jy besef ook: na baie van sy werk kan 'n mens vandag kyk as louter "taalspel", taalontginning in die beste sin van die woord. Só kan 'n mens die groot verskeidenheid kunsvorme wat hy beoefen het, sien: poësie, drama, spreuk en essay; kinderstories en spookstories; satiriese vertelling en roerende belydenisskrif; toekomsverhaal en Bybelverhaal - ´n menigte vorme het hy beproef, met ´n verbysterende vitaliteit, om sy "sê te sê" en sy doel as volkskunstenaar te verwesenlik. Selfs waar dit gaan om sy skepping-deur-sel(f)-verdeling van die klassiek geworde figure, Stoffel Gieljam en Sagmoedige Neelsie, sien die hedendaagse leser daarin die handgreep van die woordkunstenaar. Hulle is nie in die gewone sin van die woord "karakters" nie, maar twee gesigspunte, vanwaar Langenhoven sy leser na hul (en sy) wêreId wou laat kyk. Taalontginning is die spreuke en die algemene spreukrykheid van sy langer geskrifte ook: 'n speI, 'n "eksperiment", sy dit dan in 'n lerende opset, met die uitdrukkingsmoontlikhede van die taal. Op die manier gesien, is Langenhoven deel van 'n reeks verkenners van die taal en die literêre kunsvorm wat steeds weer, deur al die dekades van die twintigste eeu heen, in die Afrikaanse prosakuns opval. "Opval" is hier die sleutelwoord - dit is natuurlik waar dat alle woordkunstenaars letterlik met hul medium "te kampe" het en in dié sin steeds die moontlikhede daarvan moet beproef en verfyn en diensbaar maak. Maar in die deurkyk van 'n taal se literatuurgeskiedenis korn 'n mens diegene teë by wie die strewe na 'n eie vormgewing, na 'n sinvolle patroon, duideliker as by ander te sien is.

D. F. Malherbe verkry in Die meulenaar (1926) 'n verwikkelder vorm vir sy roman as hy die verhaal se verloop dwingend verbind aan die gang van vier jaargetye, as hy die liefdes- en arbeidstema in die lewensloop van die hoofpersone, soos 'n bevestiging van lewensfeite laat weerspieel in die lotgevalle van die plaasarbeiders. Jochem van Bruggen skep 'n boeiende patroon in Die sprinkaanbeampte van Sluis (1933) met die twee teenoorgesteIde "rigtings" in die lotgevalle van Lambertus Bredenhand, van droef na bly, van bly na droef, wat soos twee wysies in 'n musikale komposisie, horisontaal, tegelyk harmonies en tog konstrasterend voortbeweeg.

Willern van der Berg probeer in sy stadsroman Reisigers na nêrens (1946) 'n beeld te gee van geestelik verdorrende stadsmense deur hulle hoofsaaklik in gesprekke hul lewenshoudings te laat uiteensit. Anna M. Louw toon in Die onverdeelde uur (1956) die gelyktydige beIewenis van een en dieselfde gebeure by die sterfbed van 'n man, beurtelings (en verskillend) by elk van die wat daar aanwesig is.

Andre P. Brink laat die liefdesgeskiedenis in Lobola vir die lewe (1962) klink teen die groot liefdesverhale uit vervloë tye, vertel die verhaal telkens op ander trant, ten einde 'n nuwe en wyer betekenis aan die tema te gee. Etienne Leroux, van Hilaria (1957) af tot nog in Isis ...Isis ... Isis (1969), bou 'n mitologiese "kragveld" in sy romans in, wat sekere aksente en betekenisse aan die verloop van die (eietydse) verhaIe gee, maar wat die wesentlike sin het dat dit voortdurend, in steeds vindingryke verskyningsvorme, op die gemis aan 'n lewegewende mite in ons eie tyd wys.

"Vertelkuns" soek 'n mens egter ook in die besonder in die korter verhaal, wat sedert die anekdotes van die vroeë jare van Afrikaansskryf in joernaal en brief met ons is.

Van die vroegstes is Leon Mare in sy weergawe van die bonte, jolige oenigheid op Die Nuwejaarsfees; Gustav Preller, wat met sy groot stylvermoe vanaf Piet Retief (1906) die Afrikaanse kunsprosa gevorm het, en tog met dié instrument fyner en eenvoudiger kon werk om sketse en verhale te maak soos die wat staan in Oorlogsoonnag {1923); M.E.R. in haar sobere en sorgvuldige relaas van mens, dier, plant, landstreek, geskiedenis, sal vanaf Onweershoogte {1927) toon hoe die storieverteller ook lewensondersoeker kan wees; Eugene Marais, met Dwaalstories {1927), n voorloper van volgehoue pogings om die nabygeleë fantasiewêreId en gedagtewêreld van die primitiewe mens {fantaserend!) binne te tree. 'n Mens kan naamlik Dwaalstories sien, nie as blote naboots van 'n "outa Hendrik" wat as bron genoem word nie, maar as ontginning, ómvorming van min of meer tipiese Boesmanfantasie, sodat daar in Afrikaans, en tewens onvervreembaar van die Afrikaanse idioom, die nuwe klein "wêreldjies" geskep is van Klein Riet-alleen, van Krom Joggom Konterdans, van Nampti.

Jan van Melle skryf in die dertigerjare sy kortverhale eenlynig, eenvoudig-weg, selfs sierloos, maar dikwels in 'n enkele insident skerp en verhelderend van die mens se aard en lot. Ook Elise Muller, soos in Die vrou op die skuit {1956), vertel haar verhaIe (in hoofsaak eenlynig, direk) met toespitsing op die onthulling van 'n mens in sy eie aard. Audrey Blignault, vanaf In klein maat {1955), laat dikwels die beskrywende, bespiegelende, ek-gebonde essay met aldagsdoenigheid as uitgangspunt, kristalliseer tot die verwikkelder, beeld-geworde verhaal.

Henriette Grove se verhale gee getuienis van 'n strewe om só veelduidig en verwikkeld as wat die lewe self is, te vertel; gebruik in haar vroeër verhale 'n eenvoudige mens as verteller om die verwikkeldheid ironies aan te bied; in haar later verhale word die proses van vertel die middel om deur 'n ondersoek van woorde, dinge wat as wegwysers in die menslike lewe moet dien, die betekenis van lewensfeite te agterhaal. Hennie Aucamp, onder meer in Spitsuur {1961), ontgin jeugherinnering, anekdote, eietydse uitsonderingsverskynsel - soms in 'n byna genadelose aftakeling van droom en romantiek, soms in 'n sensitiewe oopstel van 'n binnewerklikheid deur middel van noulettend-waargenome uiterlike besonderhede. Van die surrealistiese vertelwyse maak hy soms gebruik, en toon daarin verwantskap met die opspraakwekkende eksperimente van Ian Rabie (21,1956). In die prosas word 'n verhaal vertel, soms net 'n verhaal- in-die-kiem, onder die aspek van die absurde -'n lyn word deurgetrek, vanaf 'n bepaalde waarskynlike vertrekpunt wat nog volgens ons alledaagse aanvoeling "gewoon" is, om dan 'n koers te volg met 'n onverbiddelike logika wat teen ons ervaringswerklikheid is, en tog (al is dit 'n aweregse) verband met ons ervaring hou. Die doodgewone en die ver- skriklike word naas mekaar geplaas asof dit doodgewoon sou wees; al klink dit soms na waansin, is daar tog "sin" in, word die verhaal sinnebeeldig van die een of ander kenmerk van die mens se bestaan.

In die naasmekaarstel van die gewone (draaglike) en die verskriklike, is die skakel hier met die "vertellers-van-wrede-verhale" geleë: Breyten Breytenbach (Katastrotes, 1964), Abraham H. de Vries (onder meer Vlieg-oog, 1965), John Miles (Liefs nie op straat nie, 1970), wat in die vorm van mededeling wat hulle beproef, dikwels gebeurlenis gee sonder enige versagtende omstandighede. Selfs die keuse van "gebeurtenisse" (ook uit die ryk van die fantasie) wys op 'n wil om, kliniesskokkend, die leser tot nog onvermoede herkenning van die menslike kondisie te ruk. Daarvoor word die taal gestroop van alle ornamente, sodat dit selfs soms sonderling verarm voorkom, en die kyk-op-die-werklikheid word kwellend vernou, al is die wins van die vertelwyse: spoed, 'n byna filmies-presiese weergawe van handeling en (veral in die geval van Breytenbach) virtuose improvisasies op 'n grondgegewe.

VI

Die verkenning van die land en van die bewoners van wildernis, woestyn en oerwoud, wat van die eerste voortbrengsels in die prosa hier te lande gelewer het, het in die Afrikaanse prosageskiedenis 'n besondere literêre soort laat ontstaan: die dierverhaal. In hierdie genre het dan ook van die hoogtepunte in die Afrikaanse prosa verskyn: Sangiro se Uit oerwoud en vlakte (1921), die Hobson-broers se Kees (1929) en Buks (1933). Maar Dwaalstories van Eugene Marais moet ook daarby gesien word, in die sin dat dit 'n inlewing in en omskepping van bestanddele van 'n BoesmanwêreId is, al is dit hier die primitiewe mens wat middelpunt van die stories vorm. P. I. Schoeman het, in Die swerwerjagter (1933) en daarna, ook die aksent op die primitiewe mens geplaas; hoewel sy werk ontstaan uit 'n romantiese weg-Ieef van die beskawingskwellings in die ongerepte natuur, uit 'n drang om ontoereikende beskawingswysheid aan te vul met die spontane, "suiwerder" insig van die natuurmens, is dit aantoonbaar ook verkenningstogte in die gemoedslewe van die mense in. Ook M.E.R. se gebundelde sketse en essays, Uit en tuis (1946), bet dikwels die beskrywing en bekendstelling van aspekte van die fisiese wêreld tot doel, maar dan dikwels as omgewing vir menslike lewenspatrone. Daarom gaan sy ook terug in die tyd, laat herleef deur noukeurige beskrywing, sekere uiterlike aspekte van 'n ou dorpskultuur.

En so gaan die beskrywingskuns gemaklik oor in die prosasoort wat reeds die voorloper van S. J. du Toit se Di koningin fan Skeba was: Sambesia, of Salomo's goudmynen bezocht in 1894 -'n reisverhaal.

Dit bet gewoonte geword om van 'n "reisverhaal" te praat wanneer die bereisde terrein buite ons landsgrense lê. Die verslag van die oorsese reis het vroeg reeds 'n eksponent gehad in die lywige twee boekdele van "Tannie": Daar ver oor die see en Andermaal ver oor die see. Uys Krige het met sy Spaanse sketse, Sol y sombra (1948), egter die reisverhaal as kunssoort gevestig: waar hy sy waarnemings deur 'n skeppende, vertolkende, beeldende inlewing in die wêreld waar by reisiger is, laat vorm aanneem. So bly dit, deur die reisbeskrywings been van Elsa Joubert, Anna M. Louw, Andre P. Brink, Ernst van Heerden, Abrabam H. de Vries: deur die landstreke-buite-die-grens in die eie taal vertolkend, omvormend te beskryf, dit met die beeldende moontlikhede aan die literêre werk eie tot lewe te wek, word dit deel van ons taalgemeenskap se ervaring.

Ook feitlik in die lig van die reisverhaal, as verkenning van die fisiese wêreld dus, moet die "herinneringskuns" gesien word waaraan die Afrikaanse prosa ryk is. Boerneef laat leef 'n landstreek, die "seressekaro", in die sketse en anekdotes van sy kontrei in die dertigerjare, maar veral in die vroeë vyftigerjare vorm die speurtog terug na die verlede van landstreek en leefwyse die grondpatroon van C. G. S. de Villiers se Overbergse sketse, onder meer Snel dan jare, van Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas, en van die nog sterker deur die verbeelding omgevormde Jaffie, Eitemal se eselromannetjie, en G. J. Joubert se Oupa Landman se viool.

'n Mens kan dus sê dat die verkenningsdrang, grondmotief in joernaal en reisbeskrywing, in dierverhaal en reisverbaal, aantoonbaar die verbeelding as metgesel bykry. Dit kan veral duidelik gesien word in die werk van Elsa Joubert. Haar reisverbale, Water en woestyn, Die verste reis, Die staf van Monomotapa, Suid van die wind, bevat bestanddele van landskap en lewensbouding, wat teruggevind word in baar novelle Ons wag op die kaptein (1963) en in Bonga (1971); Swerwer in die herfsland vorm voorloper vir die roman Die Wahlerbrug. Die stof van Ons wag op die kapein en van Bonga is van Afrika, soos ook die van Chris Barnard se roman Mahala (1970) - Angola is die toneel van die eerste, Mosambiek van die ander. Dit is lewensproblerne wat uit die aard van die gebied en uit die aard van sy bewoners voortkom, wat beeIdend, dramaties hier in oënskou geneern word -die landstreek wat wreed is teenoor die nog onwennige Europeër; die inboorling wat hom tuis voel in sy wêreId en tog kwellend beheer word deur bygeloof, tog onrustig gestem word deur die beskawing van sy blanke medebewoner; die halfbloed, smartlik verskeur tussen twee wêreIde; die uitbarsting van geweId wanneer blank en swart, blank en gekleurd, in openlike botsing korn. Met hierdie "Afrika-romans" is daar dus weer, al is dit op 'n geheel nuwe manier, pogings aangewend om die donker, raaiselagtige Afrika te begryp, soos ]an van Riebeeck en Pieter van Meerhoff, Cloete en die Van Reenens dit op hulle manier wou probeer doen.

En dit, ten slotte, is die betekenis van wat daar bereik is in die verskillende verskyningsvorme van die Afrikaanse prosakuns: op die wyse van die taal, binne die moontlikhede van die kunsvorm en met die verbeelding as hulpmiddel, is die land en sy bewoners verken tot groter begrip, tot fyner belewenis, orn die Afrikaanse mens tuis te help maak in sy wêreId, hom sy bestemming beter te leer begryp.

(1972)

Uit: B. Kok (red.): Afrikaans – ons pêrel van groot waarde, F.A.K., 1974

 

© Catharina Loader 2001