Algemeen

1652-1930

Dié foto-album het hoofsaaklik ´n bewaringsfunksie wat terselfdertyd ook name en gesigte en publikasies bymekaar moet uitbring. Almal van ons hou van foto´s. Dit is sinoniem met stories. Die verhaal van die Afrikaanse skrywer word dus hier nageboots -

  • in die organisasie van die beskikbare beelde aan die hand van die periodes in die Afrikaanse letterkunde - dus van oud tot onlangs;
  • in die aanstip van die belangrikste werke wat elkeen gepubliseer het.

Inligting oor die betrokke skrywers sal eventueel uitgebrei word deur te skakel na ander beskikbare (indien enige) webinligting oor die betrokke kunstenaar.

Uit die aard van die saak word nie aanspraak op ´n volledige storie gemaak nie. Die storie groei saam met die foto´s wat in my besit kom en wat ek met die nodige toestemming kan publiseer. Indien u dus enige interessante materiaal in verband met Afrikaanse skrywers in u besit het en u voel dat u dit met ons wil deel, stuur dit asseblief aan die webmeester. Indien skrywers lus voel om meer resente foto´s te verskaf, word dit met graagte ontvang.

Die beeldmateriaal wat u hier vind kom uit die Letterkundige Argief en die versameling van die boekhandel Human & Rousseau, albei in Pretoria, Suid-Afrika. Waar foto´s van ander bronne afkomstig is, sal dit by die betrokke foto vermeld word.

 Die eerste Afrikaanse skrywers: 1652-1875

Louis Henri Meurant (1812-1893)

 

Henri Meurant (1812-1893)


Meurant was redakteur van die Grahamstadse Hollandse weekblad Het Kaapsche Grensblad waarin hy dikwels Afrikaans geskryf het.

Hy publiseer die eerste Afrikaanse boekie: Zamenspraak tussen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar (1861).
Die belang van dié werk is dat hy nie soos baie voor hom met Afrikaans of Afrikaanssprekendes spot nie. Hy gebruik die taal om´n ernstige politieke kwessie aan te spreek.

F.W. Reitz (1844-1934)
F.W. Reitz (1844-1934)

Francis William Reitz was die President van die Oranje-Vrystaat (1889-1895) en Senaatsekretaris van die Unie van Suid-Afrika (1910-1929). Hy word beskou as die eerste Afrikaanse digter.

Hy is die samesteller van die eerste bloemlesing in Afrikaans
Vyftig uitgesoekte Afrikaanse gedigte (1888).

Gedigte
Klaas Geswint en Zijn Paert (1870); Di steveltjiis van Sanni; Ter nagedagtenis van kommandant Louw Wepener. Oorlogs- en ander gedigte (1910).

Vir verdere inligting
Kannemeyer, J.C., Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987, Human & Rousseau, Kaapstad 1998, pp. 17-24.

 Die Eerste Taalbeweging

Lion Cachet (1838-1912)

Vir verdere inligting oor die literatuur van en rondom die Eerste Taalbeweging:

Kannemeyer, J.C., Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987, Human & Rousseau, Kaapstad 1998, pp. 32-38.

 

Lion Cachet (1838-1912)

Ds. Jan Lion Cachet het onder die skuilnaam, "Ou oom Jan" geskryf. Hy het hom veral beywer vir die vertaling van die Statebybel in Afrikaans. Hy vertel bv van De worstelstrijd der Transvalers (1882).

Bekendste gedig: Die Afrikaanse taal.

'n Nederlandse historiese roman: Het Huisgezin van den Hugenoot.

Novelle: Sewe duiwels en wat hulle gedoen het (1907) - verskyn aanvanklik in Die Patriot en Ons Klyntji (1882-1898).

Melt Brink (1842-1925)
Melt Brink (1842-1925)

Sommige skrywers het werke geskryf wat ´n oorbrugging was tussen Kaaps-Hollands en Afrikaans.

Melt Brink is van hierdie groep skrywers die bekendste.

Hy publiseer Grappige stories en ander versies (1893-1909) en talle toneelstukke.

C.P. Hoogenhout (1843-1922)

C.P. Hoogenhout (1843-1922)

C.P. Hoogenhout was ´n onderwyser en vriend van Arnoldus Pannevis, stigterslid van die GRA en redaksielid van die eerste Afrikaanse koerant, Patriot. Hy publiseer onder die skuilname van "Oom Jan" of "Oom Jan wat Versies maak" in dié koerant asook in die eerste Afrikaanse tydskrif, Ons Klyntji.

Gedigte: Hy is medeverantwoordelik vir die Afrikaanse Volkslied. In die gedig "Fooruitgang" gee hy sy misnoeë met verengelsing bekend. Die aanvangsreëls:

      Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy siet en hoor;
      In ons skole, in ons kerke, word ons moedertaal vermoor.
      Ag hoe word ons volk verbaster, daartoe werk ons leraars saam,
      Hollands nog in sekere skole: is bedrog, ´n blote naam!


Prosa: In 1873 verskyn sy boek oor die geskiedenis van Josef - die eerste omvangryke prosawerk.

Novelle: Catharina, die Dogter van die Advokaat (1879).


S.J. du Toit (1847-1911)

S.J. du Toit (1847-1911)

Reeds in 1874 pleit Ds. Stephanus Jacobus du Toit, ´n leerling van Arnoldus Pannevis, in ´n reeks briewe vir die erkenning van Afrikaans. Hy begin met die opstel van die eerste Afrikaanse spelreëls. Hy was redaksielid van die Patriot, redakteur van Ons Klyntji (1896-1905) asook van Ons Taal (1907-1909). Hy versorg ook Die geskiedenis van ons land (1877) en Die geskiedenis van die Eerste Taalbeweging (1880) redaksioneel. Verder speel hy ´n belangrike rol in die onderwys van die Zuid-Afrikaanse Republiek.

Enkele van sy gedigte: Transvaalse volkslied (1881); Transvaalse Vryheidslied (1890).

Prosawerke: Werklike geesverskynings: Europese en Afrikaanse (1892); Di koningin fan Skeba, ook bekend as Salomo syn oue goudfelde in Sambesia (1898).

 Die Tweede Beweging en vestiging van Afrikaans


Die skrywers van die derde letterkundige periode se werke verskil radikaal van dié in die vorige periodes. Die meeste skrywers publiseer poësie, prosa en dramas.

In dié tydperk vind ons die na-oorlogse sogenaamde Driemanskap, ook bekend as die eerste generasie/geslag digters. Vanaf ongeveer 1917 tree die tweede generasie digters op die voorgrond.

In die eerste twee dekades van die negentiende eeu volg prosaïste en dramaturge nog die didakties-romantiese tradisie van hulle voorgangers na. Algaande ontwikkel daar egter´n sterker indiwidualistiese asook realistiese aanslag onder skrywers wat bekendstaan as die Vroeë Indiwidualiste en die Twintigers.

Die skrywers ná 1900 dra daartoe by om Afrikaans tot kultuurtaal te ontwikkel wat lei tot amptelike erkenning van Afrikaans in 1925.