Nederlandstalige Suid-Afrikaanse Letterkunde, 1652-1925 - Huigen Siegfried

 

Nederlands in Suid-Afrika

Van 1652 tot 1925 was Nederlands in suidelike Afrika in gebruik as skryftaal en het dit hier een of ander vorm van offisiële erkenning geniet. Hiermee is Nederlands die oudste skryftaal in Suid-Afrika en is dit ook nog steeds die skryftaal wat die langste in gebruik was. In dié 273 jaar het ’n Nederlandstalige Suid-Afrikaanse letterkunde ontstaan wat vrywel vergete is.

 

Die VOC en die vestiging van Nederlands

Die rol van Nederlands in suidelike Afrika het in 1652 ’n aanvang geneem met die vestiging van ’n verversingspos aan die Kaap die Goeie Hoop vir skepe van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC), die Nederlandse handelsmaatskappy wat handel gedryf het met Oos-Asië. Die verversingspos het ’n vermindering van die groot getal sterftes aan boord van die VOC se seilskepe ten doel gehad. Daarom is daar aan die punt van Afrika ’n klein kolonie gestig, met ’n fort wat die ankerplek kon verdedig teen Europese mededingers en tuine wat vars voedsel vir die skepe moes produseer aan die voet van Tafelberg. Hierdie kolonie is in 1652 bevolk deur ’n paar honderd Europeërs en later aangevul met slawe. 

Indien die VOC sy sin sou gekry het, sou die kolonie beperk gebly het tot ’n fraksie van die Wes-Kaap, die gebied rondom Tafelbaai tot aan die gebergtes wat die binneland afgesluit het. Dit was die bedoeling om nie meer grond toe te eien as wat nodig was vir die produksie van lewensmiddele vir die skepe wat Tafelbaai besoek het nie. Die VOC het vir hierdie doel vanaf 1657 egter die dienste benodig van selfstandige koloniste (Vryburgers) wat vir eie rekening die benodigde lewensmiddele moes produseer omdat die nomadiese Koikoi geen landbou beoefen het nie en ook nie voldoende slagvee kon lewer nie. Hierdie koloniste was die oorsaak daarvan dat Nederlands (in een of ander vorm) in die volgende eeue kon uitbrei oor suidelike Afrika tot aan die huidige Zimbabwe en Angola. Op soek na weigronde vir hul skape en beeste het die koloniste hulle versprei oor die binneland. Tot aan die begin van die twintigste eeu het hul nakomelinge – Afrikaners, Griekwas en Basters – Nederlands gebruik as skryftaal. Naas dié groeperinge het ook ingevoerde slawe en die inheemse bewoners wat binne die kulturele invloedsfeer van die koloniste gekom het ’n vorm van Nederlands gebruik as skryftaal. Omdat goeie onderwys skaars was, kon die geskrewe Nederlands van mense met min opleiding egter vreemde vorme aanneem.

 

Nederlands as palimpses

Tussen 1652 en 1925 het ’n Nederlandstalige Suid-Afrikaanse letterkunde tot stand gekom wat nou skaars bekend is. Hierdie letterkunde is in die twintigste eeu so sterk oorskadu deur die Afrikaanse letterkunde dat dit ’n palimpses geword het. ’n Mens moet soek om nog spore daarvan terug te vind in argiewe en biblioteke en as inskripsies op grafstene. Deur baie Afrikaanstaliges word dit soms verkeerd verstaan as ’n eienaardige soort Afrikaans. Dié posisie van Nederlands in Suid-Afrika as ’n palimpses waarop Afrikaans geskryf is, word duidelik as ons die geskiedenis van die Taalmonument in Burgersdorp nagaan.

In 1893 is in Burgersdorp ’n taalmonument opgerig. Dit is gedoen ter herdenking van die feit dat dit die distrik Burgersdorp was wat daarop aangedring het dat Hollands (die term vir Nederlands in Suid-Afrika) gebruik sou word as ’n parlementêre taal in die Kaapse parlement naas Engels. Onder groot belangstelling is daarom ’n vrou van marmer as personifikasie van die “Hollandse Taal” op ’n voetstuk van graniet geplaas. Honderde berede boere het die onthulling van die standbeeld bygewoon en “Onze” Jan Hofmeyr en ds. S.J. du Toit, die leiers van die Kaapse Afrikaner-nasionalistiese beweging, het Hollands-nasionale toesprake gelewer waarin “ons” taal in sy Hoog- en Laag-Hollandse variasies geprys is.

Die bevallige standbeeld van die Hollandse Taal het egter reeds in 1901 die slagoffer geword van die Anglo-Boereoorlog. Engelse soldate het haar omgetrek en – volgens gerugte – die brokstukke in die see gegooi. As ’n gebaar van versoening het die Engelse owerhede in 1907 egter ’n kopie van die oorspronklike beeld aan Burgersdorp geskenk wat op die voetstuk van die vorige beeld geplaas is. Ongeveer vyf en twintig jaar later word die onthoofde en ontarmde oorspronklike beeld by toeval teruggevind op ’n ashoop in King William’s Town. Dié verminkte beeld is vervolgens op ’n nuwe voetstuk agter die kopie geplaas. Sedertdien staan die beelde gesusterlik agter mekaar in ’n stil parkie van Burgersdorp. Die parkie is in 1980, ter geleentheid van ’n herdenking van die petisie wat die Burgersdorpers opgestel het in 1880 om “Hollands” as parlementstaal erken te kry, verryk met ’n poortjie van donkerbruin baksteen met daarop die woorde: “Die Afrikaanse Taal”. Minstens vanaf 1980 het die Burgersdorpse taalmonument offisieel ’n gedenkteken geword van Afrikaans en sy oorspronklike meerduidige betekenis het vergete geraak (Huigen 1996: 1-2).

 

Bestudering van Nederlandstalige Suid-Afrikaanse literatuur

Die herinnering aan die tyd toe Nederlands in Suid-Afrika in gebruik was, het vir Suid-Afrikaners aan die einde van die twintigste eeu vervaag. Vanuit ’n Nederlandse perspektief was wat in Suid-Afrika gebeur het moeilik waarneembaar sedert die koloniale bande in 1806 deurgesny is. Suid-Afrika het agter die kulturele horison verdwyn en is slegs weer opgemerk op momente van heftige emosionele betrokkenheid: ten tyde van die Anglo-Boereoorlog en in die Apartheidsjare, vanaf 1960, na die bloedvergieting by Sharpeville. “Ons” Oos-Indië, die “Gordel van Smaragd” in die woorde van die anti-koloniale Nederlandse skrywer Multatuli, het die verbeelding van Nederlanders sterker vasgehou. Die belangstelling in Suid-Afrika was afhanklik van die aktualiteit. Sodra ’n skandaal opgelos is – of dit nou die onderdrukking was van Afrikaners of Swartmense –  het die belangstelling verminder. 

Die bestudering van die Nederlandstalige Suid-Afrikaanse literatuur het as gevolg hiervan gely onder verwaarlosing. Afrikaanstaliges het daarvan vergeet en Nederlanders en Vlaminge het nooit daarvan geweet nie. Die enigste uitsondering was die 1930’s toe wit Afrikaanstaliges probeer het om politieke en kulturele mag te verwerf in ’n Suid-Afrika gedomineer deur wit Engelstaliges. ’n Paar literatuurhistorici – Elisabeth Conradie (1934, 1949), Anna de Villiers (1934) en P.J. Nienaber (1936) – het toe die Nederlandstalige Suid-Afrikaanse letterkunde herontdek. Hulle het dit gelees as ’n uitdrukking van ’n vroeë Afrikaanse nasionale bewussyn. Dit was vir hulle ook ’n middel om te bewys dat Afrikaners oor ’n langer geskiedenis in Suid-Afrika beskik het as die Engelse wat eers in 1795 op die toneel verskyn. Die Nederlandstalige Suid-Afrikaanse literatuur kon selfs gebruik word vir ’n suiwering van die geangliseerde Afrikaanse kultuur van die 1930’s. Hoewel hierdie literatuur Nederlandstalig was, kon daar tog ’n Afrikaanse “volksgees” in teruggevind word wat nog nie besmet was deur Engelse invloede nie. Met behulp van hierdie literatuur sou dit selfs moontlik wees om die Afrikaanse kultuur na sy oorspronklike, “Dietse” toestand terug te bring. 

Na 1940 het hierdie redenasies minder oortuigingskrag gehad, omdat Afrikaners in 1948 die politieke mag in Suid-Afrika verwerf het en die Afrikaanse literatuur inmiddels aansienlik uitgebrei het. Literatuuropvattings het ook verander. Terwyl Elizabeth Conradie en haar kollegas in die dertigerjare voorstanders was van ’n kultuurhistoriese, esteties neutrale benadering van letterkunde, het Afrikaanse letterkundiges van die vyftigerjare aanhangers geword van die New Criticism met sy onhistoriese en uitsluitlik estetiese benadering van literatuur. Die Nederlandstalige Suid-Afrikaanse letterkunde was nou nie langer nodig vir kultuurpolitieke doeleindes nie en ook nie die moeite werd as letterkunde nie (Huigen 1996: 4-12). As gevolg hiervan het die getal publikasies oor dié letterkunde gedaal tot ’n paar per dekade. Eers na 1990 ontstaan daar ’n nuwe interesse. Die opkoms van postkoloniale teorie in Suid-Afrika bewerkstellig ’n hernude belangsteling in Nederlandstalige Suid-Afrikaanse geskrifte. Die verbeterde betrekkinge tussen Suid-Afrikaanse en Nederlandse letterkundiges wek ook van Nederlandse kant ’n interesse vir wat in Nederlands in Suid-Afrika geskryf is. 

Die gevolg van die jarelange verwaarlosing is egter dat die Nederlandstalige Suid-Afrikaanse literatuur swak nagevors is in vergelyking met die Afrikaanse en die Nederlands-Indiese letterkunde (die Nederlandse letterkunde oor Indonesië). Nie slegs die literatuur nie maar ook die kulturele infrastruktuur waarbinne Nederlands in Suid-Afrika gefunksioneer het ly onder ’n gebrek aan navorsing. Daar bestaan byvoorbeeld geen studies oor Nederlandstalige onderwys in Suid-Afrika of oor die eiesoortige Nederlands wat ter plaatse gebruik is nie. Hierdie Suid-Afrikaanse Nederlands het egter so laat soos 1908 nog sy eie woordeboek van 1352 bladsye gekry: Beknopt Nederlands woordenboek voor Zuid-Afrika, van Hubertus Elffers en W.J. Viljoen.

 

Nederlands as skryftaal

Suid-Afrikaanse Nederlands was tot aan die twintigste eeu in gebruik as ’n skryftaal van mense wat hulle nie van Engels, Duits of ’n inheemse taal bedien het nie. Om Nederlands goed te kon skryf in Suid-Afrika moes ’n mens egter ’n deeglike opleiding gehad het, iets wat byvoorbeeld nie die voorreg was van die oorgrote meerderheid van die gekleurde inwoners van suidelike Afrika nie. Slegs ’n klein gedeelte van die gekleurde bevolking in die Wes-Kaap het Nederlandstalige onderwys gehad, terwyl sendingonderwys in ander dele van Suid-Afrika meestal in Engels was. As gevolg hiervan was die kanse klein dat swart Suid-Afrikaners hulle sou bedien van Nederlands as publikasietaal. Die Nederlandstalige Suid-Afrikaanse literatuur is daarom – met enkele uitsonderings – oorwegend ’n literatuur van en vir wit mense. Gekleurde persone is meestal slegs ’n onderwerp van hierdie tekste; net by uitsondering is hulle self die skrywers daarvan. Dit was in die periode wat Nederlands in Suid-Afrika as ’n skryftaal gebruik is trouens nie veel anders met die literatuur in Afrikaans nie.

Die onderstaande aanhaling gee ’n indruk van versorgde, Suid-Afrikaanse Nederlands uit die negentiende eeu. Dit is geen “tussentaal” tussen Europese Nederlands en Afrikaans nie, maar goeie negentiende-eeuse Nederlands met hier en daar tipies (Suid-)Afrikaanse woorde en uitdrukkings (aangedui in skuinsdruk). Die outeur is S.J. du Toit (1847-1911), iemand wat al sy Nederlands in Suid-Afrika geleer het. Die aanhaling is uit Du Toit se verslag van ’n reis na Rhodesië (Zimbabwe) kort na die slagting onder die Matabeles wat aangerig is deur ’n kommando van Cecil Rhodes se Chartered Company.

Dan vonden we overal Kampplekken, nu eens van Kafferkommandos, met tijdelijke hutten en overal één eigenaardige lange hut, en verder de kampen van de vrijwilligersmacht, totdat wij tot de ontdekking kwamen dat wij op het spoor waren van Loben zooals hij vluchtte met zijn 2 wagens en zijn vervolgers onder Forbes en Wilson. Maar eindelijk werden de klipranten zoo ruw langs de rivier, dat we geen kans zagen verder voort te komen. In het eerst hakten we boomen om en rolden klippen uit het pad, maar dat konden we op laatst ook niet meer. En ja, nu werd het duidelijk dat we op een vluchtpad waren. Nu eens tilden we assegaaien op, dan weer vonden we geraamten van paarden en zelfs eenigen van menschen. Eindelijk hielden we halt. Nog altoos hoopten we dat ons pad door de Shangani zou gaan en overslaan naar de Gwelo goudvelden (het kamp van Roos); maar nu gaven we ook deze hoop op, want we waren al bijna bij den samenloop van de Shangani en Gwelo rivieren. We besloten met den wagen halt te maken. Dirksen rustte zich uit voor 3 dagen en ging te paard terug om naar het pad te informeeren (Du Toit 1895: 70).

 

Doelstelling

Hierdie opstel het ten doel om uit te wys hoe ’n Nederlandse skryftradisie oor en in Suid-Afrika ontwikkel het. Na ’n afdeling waarin ’n skets gegee word van die omstandighede waarin die Nederlandse literatuur in Suid-Afrika ontwikkel het, sal ek enkele genres en temas bespreek. Ek sal in die volgorde van die afdelings die chronologie enigsins in ag neem – ’n afdeling oor landbeskrywing (sewentiende en agtiende eeu) gaan byvoorbeeld vooraf aan dié oor historiese representasie (negentiende en twintigste eeu) – maar in die afsonderlike afdelings sal ek soms weer verder teruggaan in die tyd as in ’n voorafgaande onderdeel. 

Die term “literatuur” sal vervolgens steeds ’n esteties neutrale betekenis hê. Literatuur of letterkunde is in hierdie opstel in beginsel alles wat geskryf is (vgl. die Engelse begrip writing). In die algemeen is dit moeilik om ons opvattings oor letterkunde, wat afkomstig is uit die Europese letterkunde van die negentiende eeu, van toepassing te maak op geskrifte uit ander periodes en kulture. Die Suid-Afrikaanse geval bied nog ’n groter probleem. Enersyds sou ’n streng estetiese benadering die hele studie van Nederlandse geskrifte uit Suid-Afrika onmoontlik maak, omdat min hiervan lesers uit die een en twintigste eeu esteties sal bekoor. Andersyds is ’n dergelike benadering hier nog meer onvanpas as in Europa. Selfs tot in die twintigste eeu was dit in Suid-Afrika byvoorbeeld gangbaar om die hele gebied van die geesteswetenskappe tot die letterkunde te reken (Huigen 1996: 95-96).

 

Die vestiging van 'n Nederlandse kulturele infrastruktuur in Suid-Afrika

Oor die ontstaan en die einde van die Nederlandstalige Suid-Afrikaanse letterkunde is dit maklik om eenstemmigheid te bereik. Met die stigting van die Kaapse verversingstasie begin die geskiedenis van geskrewe Nederlands in Suid-Afrika. Dit eindig in 1925 wanneer die Grondwet van die Unie van Suid-Afrika aangepas word en Afrikaans de facto in die plek van Nederlands voortaan as ’n amptelike taal naas Engels erken word. Daarna is dit slegs immigrante soos die in Nederland invloedryke kritikus Jan Greshoff (1888-1971) wat nog in Nederlands publiseer. Hul werke verskyn egter meestal oorsee.

 

Periodisering

Vir ’n periodisering binne hierdie tydvak van 273 jaar waarin Nederlands in gebruik was as skryftaal, moet verskillende, en dikwels ten opsigte van die literatuur eksterne, faktore in ag geneem word. Rondom 1800 val ’n eerste sesuur. Die Nederlandse heerskappy aan die Kaap word in hierdie tyd beëindig, aanvanklik tydelik wanneer die Engelse in 1795 die Kaap beset as gevolg van die oorlog met Frankryk in Europa. Na ’n kort Franse besetting het ’n Fransgesinde regering in Nederland in 1795 die mag oorgeneem en die stadhouer (min of meer die staatshoof van Nederland), wat ’n bondgenoot was van Engeland, verjaag. As gevolg van dié magswisseling het Nederland haar in die Franse kamp bevind, wat vir die Engelse aanleiding was om onmiddellik die strategiese Kaap te beset. Na die vrede van Amiens in 1802 is die Kaapkolonie egter weer vir Nederland – toe die Bataafse Republiek genoem – teruggegee en tussen 1803 en 1806 het Nederlandse amptenare die bewind oor die Kaap gevoer. Wanneer die vyandelikhede weer opvlam in Europa, keer die Engelse in 1806 terug na die Kaap en bly hier tot in die twintigste eeu. Dié Engelse dominansie beteken dat Nederlands, met name as publikasietaal, in die loop van die negentiende eeu al hoe meer gemarginaliseer word. Eers met die opkoms van Afrikaner nasionalisme in die Kaapkolonie aan die einde van die negentiende eeu en ’n verbete Nederlandse kultuurpolitiek in die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal), beleef Nederlands in die laaste dekade van die negentiende eeu ’n kortstondige periode van oplewing. Naas die bekende Afrikaanse Taalbewegings het daar rondom 1900 ook ’n Hollandse Taalbeweging bestaan wat hom ingespan het vir ’n beter bedeling vir Nederlands in Suid-Afrika. Historici het deurgaans vergeet dat hierdie taalkundige arm van Afrikaner nasionalisme tot aan die begin van die twintigste eeu minstens gelykwaardig was aan die Afrikaanse taalbewegings.

Daar vind ook belangrike veranderinge in die kulturele infrastruktuur rondom 1800 plaas. Vanaf die einde van die agtiende eeu ontstaan langsaam ’n georganiseerde kulturele lewe aan die Kaap. Ek noem slegs ’n paar voorbeelde: in die NG Kerk in Kaapstad word in 1764 ’n openbare biblioteek gestig met boeke, manuskripte en skilderye uit die nalatenskap van die Kaapse vryburger Joachim von Dessin (1704-1761); die Vrymesselaars – vir ’n lang tyd ’n invloedryke genootskap – stig ’n losie in 1772; in 1801 open die eerste teater, die African Theatre/ Afrikaansche Schouwburg, sy deure in Kaapstad – ook die eerste Nederlandstalige drama word in 1803 hier opgevoer – en in 1802 vestig “swart” Vermaak (iemand van gemengde afkoms) in Kaapstad ’n tak van die (Nederlandse) Maatschappij tot Nut van ‘t Algemeen wat onder meer die bevordering van volksonderwys ten doel het. Baie belangrik is ook die koms van drukperse rondom 1800 wat dit vir die eerste keer moontlik maak om koerante, boeke en later ook tydskrifte plaaslik te produseer. Hierdie nuwe ontwikkelinge voltrek hulle aanvanklik in Kaapstad, maar word later uitgebrei na ander dele van Suid-Afrika, eers binne die grense van die Kaapkolonie, maar later ook daarbuite waar sendelinge of koloniste hulle in die binneland vestig (Huigen 1996: 14-18).

 

Rol van die drukperse

Die koms van drukperse was van groot belang vir die kulturele en politieke ontwikkelinge aan die Kaap. Soos wat Benedict Anderson (1983) aangetoon het, was die drukpers en dit wat daarmee geproduseer kan word, ’n voorwaarde vir die ontstaan van “imagined communities”, waarmee Anderson kortweg individue bedoel wat ver uit mekaar woon maar wat voel (of hulle verbeel) dat hulle tot dieselfde gemeenskap behoort omdat hulle byvoorbeeld dieselfde koerante lees. Die ontstaan van verbeelde gemeenskappe is volgens Anderson eers moontlik na die introduksie van die drukpers, in Suid-Afrika dus na 1800. En inderdaad ontwikkel ’n verbeelde gemeenskap van die Hollands-Afrikaanse koloniste eers in die loop van die negentiende eeu wanneer publisiste met behulp van koerante en tydskrifte probeer om onderling samehangende politieke en historiese voorstellings te versprei. Die belangrikste periodieke wat verskyn is Het Nederduytsch Zuid-Afrikaansche Tydschrift (1824-1843), ’n algemene kulturele tydskrif, en die koerant De Zuid-Afrikaan (1830-1894). Die doel van die Nederduytsch Zuid-Afrikaansche Tydschrift (NZAT) was om “nut met aangenaamheid te paren” (NZAT 1824: 7), “zedelyke verbetering en maatschappelyk geluk” te bevorder (NZAT 1825: vi) en “om ook by de Zuid-Afrikanen de fakkel van ware verlichting aan te steken” (NZAT 1825: vii). Selfs in de “afgelegendste distrikten dezer [van hierdie] wyduitgestrekte volkplanting” was die NZAT in staat “de fakkel der [van die] verlichting te ontsteken, om overal de gezegende uitwerkselen der drukpers, die ryke bron van waar volksgeluk, onder de ingezetenen rond te spreiden en voor hun den eersten barrier te openen op den weg welke regtstreeks naar onzen maatschappelyken welvaart henen leidt” (NZAT 1828: 464). Die doelstellings van die NZAT, soos hier aangehaal, is gewortel in die nuwe beskawingsideaal wat in die tweede helfte van die agtiende eeu in Nederland ingang gevind het. Volgens hierdie Nederlandse Verligtingsideaal sou kennis, godsdiens en deug bydra tot ’n gelukkiger samelewing, wat in die Suid-Afrikaanse geval in teorie bestaan het uit die hele kolonistegemeenskap tot aan die grense van die kolonie (Huigen 1996: 78).

 

Etienne Boniface

Na die koms van ’n drukpers kon individue ook ’n bestaan maak as kulturele entrepreneurs. Een van hulle uit die eerste helfte van die neëntiende eeu is Charles Etienne Boniface (1787-1853) ’n Fransman van geboorte wat by toeval aan die Kaap beland. Boniface was onder meer belangrik as een van die eerste dramaskrywers aan die Kaap, die allereerste ook wat ’n drama in Suid-Afrika gepubliseer het, De Nieuwe Ridderorde of Temperantisten (1832). Die blyspel in vier bedrywe is in die eerste plek ’n satire van die godsdienstig geïnspireerde “filantropiese” beskawingsoffensief van Engelse sendelinge en hul medestanders. Die direkte aanleiding vir die satire is die stigting van ’n sogenaamde Matigheidsgenootskap (Cape of Good Hope Temperance Society) wat matigheid propageer in die gebruik van alkohol (geen brandewyn en slegs matige gebruik van wyn). Boniface het van hierdie genootskap ’n hiperboliese ridderskap gemaak. Die stuk gee ’n voorstelling van die twis tussen die “Temperantisten” onder leiding van die sendeling Dominé Humbug Philipumpkin (John Philip) en die “Anti-temperantisten of Cognac-drinkers”. Die stuk is gevul met hoogdrawende bewerings oor die matige gebruik van drank en sarkastiese opmerkings hieroor van die Anti-temperantisten. Dit eindig met die dronkenskap van die deelnemers tydens die vergadering van die Matigheidsgenootskap. Die slot van die stuk moes die skynheiligheid (“humbug”) van die Temperantisten aantoon wat vir ’n tydgenootlike publiek onder hul oordadige skuilname herkenbaar was. Behalwe Philip (Dominé Humbug Philipumpkin) is van hulle nog John Fairbairn (Sir John Brute) vermeldenswaardig. Hy was die redakteur van die liberale Commercial Advertiser, die mededinger van die konserwatiewe De Zuid-Afrikaan, wat onder Boniface se leiding gestaan het.

In die tweede plek hekel die drama egter ook die pogings van sendelinge om ’n meer regverdige posisie vir die inheemse bevolking te beding. Prominent is naamlik ’n groepie van vier Afrikaanstalige (!) plattelandse Koikoin wat as “matigheidsridders” met verkeerde verwagtinge tot die genootskap toegelaat sal word. Terwyl hulle voorgestel word as alkoholiese niksnutse met kriminele loopbane, wek hulle nietemin die toomlose naasteliefde van die sendelinge se opperhoof ds. Humbug Philipumpkin en sy medestanders. Die stuk verwoord die belange van die “Hollandse” Afrikane. Aandrang op die matige gebruik van alkohol sou tot nadeel wees van die Kaapse wynboere, terwyl aandrang van sendelinge op wettelike gelykstelling van die Koi voorgestel word as aantasting van die voorregte van die burgers van die Kaapkolonie. In sy “Voorberigt” by die drama waarsku Boniface teen ’n diktatuur van die godsdienstige wêreldverbeteraars. Die uiteindelike gevaar wat skuil agter die aktiwiteite van die Temperantiste is volgens hom ’n teokrasie, wat individuele vryheid aan bande sal lê (Boniface 1954: 91). Hierdie angs vir godsdienstige onderdrukking was nie eens so vergesog nie, want hierdie godsdienstige groeperinge wat Boniface hekel het ’n paar jaar later, in 1838, gesorg het vir die sluiting van Kaapse teaters.

’n Aparte groep vorm die Koikoin-karakters, wat van die sendingstasie Bethelsdorp (“Bedeldorp” by Boniface) na die vergadering genooi is om ingewy te word tot ridders van die Temperantisten. Hulle word weliswaar stereotipies uitgebeeld, maar is in sekere opsigte minder karikaturaal as die blanke karakters. Al is hulle besope of kriminele boemelaars met name soos Klaas Galgevogel, Piet Dronkelap en Griet Drilbouten (elke naam gee ’n aanduiding van ’n stereotiepe eienskap), gebruik hulle tog ook nie die hoogdrawende taal van die Temperantisten nie. Hulle staan buite die skynwêreld van die Temperantiste. Miskien is dit onder meer daarom dat hulle by Bosman (1928: 316) die indruk gewek het dat hulle realisties uitgebeeld word. Die rede hiervan is miskien ook dat die stereotiepe uitbeelding van die “Hottentot” tot in die twintigste eeu onveranderd gebly het. Uitbeeldings wat daaraan voldoen, skep ’n “realistiese” indruk.

Hoewel De Temperantisten uit en uit rassisties en reaksionêr is (pogings tot “gelykstelling” word belaglik gemaak), is dit tog ’n besondere teks en nie slegs omdat dit die eerste gedrukte drama in Suid-Afrika is nie. Uniek vir die negentiende-eeuse Suid-Afrikaanse literatuur is die kompleksiteit van die teks en die feit dat dit heeltemal opgebou is uit plaaslike gebeurtenisse en karakters. Dié gebondenheid aan verwikkelinge in Kaapstad in 1832 is vir die hedendaagse leser egter ook ’n probleem. Sonder uitgebreide toeligting is die stuk onbegryplik.

 

'n Opbloei

Die produksie van Nederlandse letterkunde ly verder maar ’n sukkelende bestaan in die negentiende eeu. Eers aan die einde van die eeu is daar sprake van ’n opbloei. Twee faktore speel hierby ’n rol. In die Kaapkolonie word die opbloei veroorsaak deur die opkoms van Afrikaner nasionalisme. Behalwe dat Afrikaner nasionalisme aanleiding gegee het tot ’n Afrikaanse Taalbeweging, waaroor baie geskryf is, het dit ook in 1890 ’n Hollandse Taalbeweging voortgebring, wat vrywel vergete is. Dit is selfs so dat baie geskrifte van persone wat betrokke was by die Afrikaanse Taalbeweging nog steeds in Nederlands was. Behalwe bekende tekste in Afrikaans het S.J. du Toit byvoorbeeld nog meer in Nederlands gepubliseer as hy pleidooie gelewer het wat vir erkenning van Afrikaans. Die Paarlse uitgewery D.F. du Toit & Co. wat die meeste werk van die Genootskap van Regte Afrikaners gepubliseer het, het bo en behalwe 81.000 Afrikaanstalige kopieë ook 93.650 Nederlandstalige gedruk (Steyn 1980: 139).

In die Zuid-Afrikaansche Republiek (Z.A.R.) is na 1890 onder leiding van Nicolaas Mansvelt ’n aggressiewe Nederlandse kultuurpolitiek gevoer. Kruger, sy “eerste minister” Leyds en die hoof van die onderwys, Mansfelt, het probeer om die Z.A.R. se selfstandigheid teenoor die Britse Kaapkolonie ook op ’n kulturele vlak te bevorder en ’n belangrike middel tot dié doel was Nederlandstalige onderwys. Dié politiek was tot voordeel van die produksie en verkoop van Nederlandstalige boeke. As gevolg van hierdie ontwikkelinge het Nederlandse boekhandelaars en uitgewerye hulle in Suid-Afrika kom vestig – Juta, Van Schaik en De Bussy (later Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers Maatschappij) – wat weer die literêre infrastruktuur van Nederlands hier versterk het. 

Nederlands se rol as literêre taal in Suid-Afrika word uiteindelik aan die begin van die twintigste eeu beëindig deur Afrikaans, nadat Nederlands reeds deur die Engelse besettingsoutoriteite in die voormalige Boererepublieke aan bande gelê is. Hierdie verhaal is bekend. Minder bekend is egter dat Afrikaans daarby in ’n belangrike mate gebruik gemaak het van die kulturele infrastruktuur wat in die voorafgaande jare vir Nederlands tot stand gebring is. Die uitgewerye, koerante, onderwysinstellings en die personeel wat hulle voor 1910 hoofsaaklik van Nederlands bedien het, skakel tussen 1910 en 1925 oor na Afrikaans (Huigen 1996: 16-18).

 

Landbeskrywings

Die oudste tekste oor Suid-Afrika is reisbeskrywings. Vanaf die eerste kontak rondom 1500 is die Kaap beskryf deur “Callers at the Cape”, soos Raven-Hart (1971) die Europese reisigers van verskillende nasionaliteite waaronder ook Nederlanders, noem, wat vir ’n kort tyd by die Kaap aangedoen het om water te haal en vleis te kry van die Koi. Hierdie kort besoeke was aanleiding vir stereotiepe beskrywings van die Kaap, die Koi en wilde diere, met Tafelberg in die agtergrond. In Europese oë was dit ’n onaanloklike ruimte. Die landskap was onherbergsaam en die inwoners onbeskaafd. Anders as byvoorbeeld Asiate het die Koi nie voldoen aan Europese norme nie: geen keurige kleredrag of ’n tegnologies ontwikkelde materiële kultuur was te bespeur nie.

 

Reise na die binneland

Die vestiging van ’n kolonie het gedeeltelik vir ’n verandering van die diskoers gesorg. Gedeeltelik, want ook na 1652 bly die Kaap ’n vaste onderdeel van reisbeskrywings oor reise van en na Asië en die meeste skrywers het in hul beskrywings die voorbeeld van voorgangers gevolg. Die besoekers bly daarom voortgaan met stereotiepe beskrywings, wat egter uitgebrei word met (al spoedig ewe) vaste voorstellings van die nuwe ontwikkelinge wat die gevolg was van die vestiging van ’n kolonie: die tuine van die VOC rondom Tafelberg, die “Vlek” (die nedersetting wat na 1800 Kaapstad genoem sou word) en die nedersettinge in die binneland, met name Stellenbosch. Werklik nuwe voorstellings is aanvanklik slegs te vinde in geskrifte van dienaars van die VOC wat in opdrag van hul bevelvoerders ekspedisies onderneem na die binneland. Slegs by uitsondering is hierdie beskrywings van “landreise” gepubliseer in die sewentiende en agtiende eeu, soos in François Valentyn se veeldelige werk Oud en Nieuw Oost-Indiën (1724-6).

In die sewentiende eeu is daar ’n hele aantal ontdekkingsreise vanuit die Kaap onderneem. Die mees ambisieuse van hierdie ekspedisies het die assessering van die ekonomiese potensiaal van die binneland as oogmerk gehad. ’n Leidraad hierby was aanvanklik die hoogs twyfelagtige inligting in Jan Huygen van Linschoten se Itinerario (1596).

Van Linschoten was ’n Nederlandse reisiger wat in Portugese diens aan die einde van die sestiende eeu na Asië gevaar het. In sy Itinerario publiseer hy die kennis wat hy versamel het oor die geheime handelsnetwerke van die Portugese in Asië. Vir die Nederlanders was Van Linschoten se Itinerario aanvanklik ’n nuttige handleiding om vas te stel met wie daar voordelige handelsbetrekkinge aangeknoop kon word in Asië en vanuit welke strategiese plekke die handel in die Indiese Oseaan-gebied beheers kon word. Van Linschoten wy ook ’n paar bladsye aan suidelike Afrika waarin hy onder meer vertel dat die Portugese goud in Monomotapa gevind het.

Op grond van Van Linschoten se berigte oor goud word al spoedig na die vestiging van ’n kolonie aan die Kaap planne beraam om ekspedisies na Monomotapa te stuur. Van Linschoten se boek is bowendien vergesel van ’n kaart waarop aangedui is waar die “keiserryk” Monomotapa geleë is. Vanaf 1660 is daar ekspedisies na die binneland gestuur met Van Linschoten se kaart ter hand. Die eerste ekspedisie het selfs geen inheemse gids saamgeneem nie, omdat daarvan uitgegaan is dat die binnelanders gereelde handelsbetrekkinge met die Portugese gehad het, terwyl een van die reisigers Latyn geleer het en in Italië gereis het, wat hom natuurlik in staat sou stel om die handels-Portugees van die Afrikane in die binneland te verstaan. Ongelukkig het Monomotapa toe al langer as ’n eeu nie meer bestaan nie en bowendien was Van Linschoten se kaartbeeld grotendeels fiktief. Die eerste ekspedisie keer daarom ontredderd terug nadat hy hom vasgeloop het teen die Sederberge.

Tog word daar in die sewentiende eeu tien ekspedisies uitgestuur in ’n noordelike rigting. Daar is voortdurende aandrang van die kant van die VOC-owerhede om die Kaap ekonomies rendabel te maak en tegelykertyd bevestig inheemse informante die voorstellings wat die Nederlanders op grond van Van Linschoten gevorm het van die binneland. Die binneland van suidelike Afrika sou bewoon word deur tegnologies ontwikkelde volke wat in allerlei opsigte – kleding, haardrag en selfs kerkgang – ooreenkomste vertoon het met die Nederlanders. Aanvanklik is hulle geïdentifiseer met die inwoners van Van Linschoten se Monomotapa, later met die Namakwas aan die weskus. Terwyl die maklik bekombare goud van Monomotapa die doel was van die eerste ekspedisies, het latere ekspedisies die meer realistiese doel om die ontginningsmoontlikhede van koper in Namakwaland te ondersoek.

 

Reisjoernale

Die ekspedisies was verplig om ’n reisjoernaal by te hou wat antwoorde moes verskaf op ’n lysie met vrae (“memorie”) wat aan die ekspedisies saamgegee is – watter delfstowwe gevind is, wat die handelsmoontlikhede is, hoe die mense lyk, wat die politiek is wat hulle voer, ens. Hierdie vraelysies het ontstaan in navolging van die ars apodemica, die tegniek (ars) van reis (apodèmeo), wat in die sestiende eeu in Duitsland en Nederland ontwikkel is om die opvoedkundige profyt van reise na Italië te verhoog (Stagl 1979, 1995). ’n Belangrike instrument by die versameling van nuttige inligting was ’n vraelys wat aan die reisiger gegee is om as ’n leidraad te dien vir sy observasies en uiteindelik kon lei tot die opstelling van ’n sistematies ingedeelde reisverslag. Die VOC het hierdie tegniek vanaf die begin van die sewentiende eeu van toepassing gemaak op togte wat die kommersiële potensiaal van vreemde lande moes vasstel. As ’n verlengstuk hiervan het Van Riebeeck ’n lys met vrae opgestel wat toepaslik was op die Suid-Afrikaanse situasie, wat onder meer blyk uit die insluiting van tipies Afrikaanse produkte in die memories: goud, amber en ivoor.

Die opeenvolgende memories en joernale lees in sekere sin soos ’n vervolgverhaal waarin geleidelik ’n diskoers oor die binneland ontwikkel. Opmerklik in die diskoers oor die Suid-Afrikaanse binneland is ’n kombinasie van goedgelowigheid en empirisme. Enersyds lei nuwe inligting tot korreksies van die imaginêre kaartbeeld van Van Linschoten. Die ekspedisies maak onderweg roetebeskrywings wat verwerk word tot empiries meer betroubare kaarte. Andersyds word die imaginêre beeld van die binneland tog nie heeltemal verwerp nie. Dit verskuif eerder, dieper na die binneland. Aan die bekende kant van die grens is die negatief getipeerde gebied met onbeskaafde Hottentotte. Anderkant die grens kan die moontlikheid van hoogontwikkelde kulture nie uitgesluit word nie. Aan die einde van die sewentiende eeu sluit die uitdyende area met onbeskaafde volke egter al die Namakwas in, omdat die ooreenkomste tussen die Namakwas en die kusbewoners rondom Tafelberg onmiskenbaar was en die Namakwas nie so vriendelik blyk te wees teenoor die Nederlanders as wat aanvanklik die geval was (vyandbeelde is van invloed) (Huigen 1996: 23-60) nie.

 

Wetenskaplike studie

In die agtiende eeu word Suid-Afrika vir die eerste keer die objek van wetenskaplike studie. Baanbrekend in hierdie opsig was die publikasie in 1719 van Caput Bonae Spei Hodiernum (Die huidige toestand van die Kaap die Goeie Hoop) van die Duitse wetenskaplike Peter Kolb(e) (1675-1726). Kolb, wat tussen 1706 en 1713 in Kaapstad en Stellenbosch gewoon het, skryf ’n sistematies ingedeelde ensiklopedie van 850 foliobladsye waarin hy land en natuur, die inheemse bevolking en die koloniale nedersetting aan die Kaap beskryf. Tot diep in die agtiende eeu is dit die mees gesaghebbende boek oor suidelike Afrika en ook die enigste boek wat uitsluitlik aandag gee aan die Kaap. Hierdie eksklusiewe en omvattende aandag vir die Kaap was nuut, want vir die besoekers was die Kaap nooit meer as ’n uitstappie van ’n paar bladsye nie. Kolb se boek was ook baie invloedryk. Dit is byvoorbeeld gebruik deur Kant en Rousseau vir hul spekulasies oor die primitiewe voorgeskiedenis van die moderne (Europese) mens. Die veronderstelling van Kant en Rousseau was dat hierdie prehistorie by benadering onder meer bestudeer kon word in die lewenswyse van die Koi (Hottentotte) soos wat Kolb hulle beskryf het. Kolb is ook in die opsig invloedryk dat hy die eerste was wat ’n omvattende apologie gepubliseer het ten gunste van die Koi, wat in die literatuur van besoekers gestigmatiseer is as stinkende barbare. Onder invloed van Kolb se gunstige beeld van die intelligente, troue, behendige en atletiese “Hottentot”, het Rousseau sy beeld gevorm van die “bon sauvage” (edele wilde) in sy Discours sur l’inégalité (Verhandeling oor die ongelykheid, 1755) (Huigen 2004).

 

Monografieë oor Suid-Afrika

In die tweede helfte van die agtiende eeu verskyn daar nog meer monografieë oor Suid-Afrika. Die betekenis van hierdie boeke van Anders Sparrman, William Paterson en François le Vaillant en die lang artikel van Francis Mason in die Transactions van die Royal Society vir die beeld van Afrika in sy geheel, is groot. Tot aan die einde van die agtiende eeu was sub-Sahara Afrika ontoeganklik vir Europeërs. As gevolg daarvan was die beeld uit ’n handvol agtiende-eeuse beskrywings van Suid-Afrika metonimies vir Afrika in sy geheel (Huigen 2001/2002). Die Nederlandse aandeel in die wetenskaplike beskrywing was egter beperk. Weliswaar het reisbeskrywings van VOC-dienaars vergesel van wetenskaplike voetnotas so nou en dan die lig gesien in Europa, maar Nederlandse wetenskaplikes het nie self die binneland besoek nie (Huigen 2001). Die enigste uitsondering is Robert Jacob Gordon (Doesburg, 1743 – Kaapstad, 1795). Gordon (uitgespreek met ’n gutturale g) was ’n beroepsoldaat wat hom in 1777 in Kaapstad gevestig het, nadat hy reeds vroeër vir ’n korter tyd na Suid-Afrika gereis het. Aanvanklik was hy kaptein en later kolonel en bevelvoerder oor die troepemag van die VOC aan die Kaap. Blykens uitlatings in ’n brief gerig aan sy hooggeplaaste Nederlandse beskermer, griffier Fagel, was Gordon se dryfveer om hom aan die Kaap te vestig in ’n belangrike mate wetenskaplik van aard. In dié opsig was hy tiperend vir ’n nuwe groep wetenskaplike reisigers uit die tydperk van die Verligting wat bereid was om soms groot persoonlike risiko’s te aanvaar ten einde wetenskaplike kennis te versamel. Tydens sy verblyf aan die Kaap het Gordon vyf reise na die binneland onderneem, tot in die huidige Transkei en Namibië. Die reisjoernale van vier van sy reise het bewaar gebly (Huigen 1998, 2003).

Die Nederlandse aandeel in landbeskrywing verloor grotendeels sy belang met die einde van die Nederlandse heerskappy oor die Kaap. Engelse reisigers domineer vanaf daardie moment.

 

Gedigte

Die Nederlandse poësie in Suid-Afrika begin met ’n ongebruiklike imperialistiese gebaar. Toe in 1666 die eerste steen gelê is vir die nuwe kasteel – dié met vyf bastions wat nog steeds in Kaapstad staan – het ’n onbekende digter (“seker lieffhebber”) ’n onbeholpe gedig geskryf oor hierdie gebeurtenis. Die Kaapse Dagregister introduseer die gedig met die grappig bedoelde opmerking dat daar tydens die graafwerksaamhede vir die nuwe kasteel ook “poëten” uitgegrawe is (Böeseken 1973: 238). Die nuutgevonde digter het sy gedig aangebied aan kommandeur Wagenaar, die opvolger van Jan van Riebeeck.

Die gedig bestaan uit ’n distigon, waarin die eerste steenlegging deur kommandeur Wagenaar vermeld word, gevolg deur ’n uitbreiding en vooruitloping op gebeurtenisse (“Ampliatie” – ampliatio), wat in hiperboliese bewoording die historiese betekenis van die Kaapse kasteel uiteensit as ’n voortgaande magsontplooiing oor swart en geel volkere. Terwyl die klein, ou fort van Van Riebeeck met sy walle wat van grond gemaak was, goed genoeg was om die “Hottentoos” (Koi) op’n afstand te hou, kon die nuwe kasteel met sy klipmure al die volkere op aarde skrik op die lyf jaag. Die kasteel is ’n teken van die mag van die Christendom wat te midde van die woeste heidene ’n vaste blyplek gekry het. Omdat die kasteel gebou is “op ‘t eijnde van de Aard” oortref die Christendom die legendariese heersers uit die Klassieke Oudheid – Augustus, Alexander en Caesar – want hulle het nooit sover gekom nie:

Den eersten steen van ‘t nieuwe Casteel Goede Hoop
heefft Wagenaer gelegt met Hoop van Goede Hope.
Ampliatie.
Soo worden voort en voort de rijcken uijtgespreijt
Soo worden al de swart en geluwen gepreijt
Soo doet men uijtter aerd een steene wal oprechten
daer ‘t donderend metael seer weijnigh can op hechten.
Voor Hottentoos waren ‘t eerteijts aerde wallen
Nu comt men hier met steen voor anderen oock brallen
dus maeckt men dan een schricq soo wel d’Europiaen
als voor den Aes’ Amer. en wilden Africaen.
Dus wort beroemt gemaekt ‘t geheijlicht Christendom
Die setels stellen in het woeste heijdendom.
Wij loven ‘t groot bestier en seggen met malkander
Augustus heerschappij noch winnet Alexander
Noch Cesars groot beleijt zijn noyt daermee gewaerd
met leggen van een steen op ‘t eijnde van de Aard.

(Böeseken 1973: 238)

Dié christelik geïnspireerde imperialisme is, soos reeds gesê, eerder ’n uitsondering in die Nederlandstalige Suid-Afrikaanse poësie. Geleentheidsgedigte na aanleiding van huwelike, sterftes en verjaarsdae, en godsdienstige poësie, oorheers. In die negentiende eeu kom hier nog gedigte oor nasionale kwessies by wat egter veral uiting gee aan gevoelens van onderdrukking en miskenning deur die Engelse bewind.

 

Passanten

Aanvanklik skryf slegs “passanten”, persone wat tydelik aan die Kaap gebly het, poësie oor Suid-Afrika. Hulle behoort in die Nederlandse literatuurgeskiedenis tot die digters van die tweede of derde rang. Aernout van Overbeke (1632-1674), op een reis admiraal van die na Europa terugkerende “retourvloot”, was in 1668 en 1672 ’n paar weke aan die Kaap en het ’n paar gedigte, ’n deel van ’n reisbrief en een anekdote geskryf na aanleiding sy kort besoeke aan die Kaap. Pieter de Neyn (1650-ong. 1697) was selfs vir ’n paar jaar hier as fiskaal, tussen 1672 en 1674. Hy het in dié tyd ’n handvol gedigte geskryf waarvan die een oor ’n offisiële besoek aan die strafkolonie op Robbeneiland die opmerklikste is, vanweë sy lokale inhoud. De Neyn bekla daarin die aaklige lewensomstandighede op Robbeneiland en wens homself ’n ander plek toe waar hy in beskutting ’n drankie kan drink en ’n pyp kan rook in aangename geselskap (Huigen 1992).

Die enigste digter van naam – ten minste in die agtiende eeu – wat die Kaap besoek het, was Jan de Marre (1696-1763). De Marre was ’n skeepskaptein in diens van die VOC wat soos Van Overbeke voor hom op sy reise tussen Europa en Indonesië in 1728 en in 1731-1732 die Kaap besoek het. Na sy jare op see het De Marre onder meer ’n bestuurder van die Amsterdamse skouburg geword en ’n paar dramas geskryf wat in die agtiende eeu ewe seer bewonder is as dié van Joost van den Vondel, wat vandag gesien word as die belangrikste Nederlandse dramaskrywer uit die vroegmoderne tyd.

De Marre het ’n lofgedig van byna duisend versreëls geskryf oor die Kaap, die Eerkroon voor de Caab de Goede Hoop (De Marre 1746). De Marre se lofgedig is kultuurhistories interessant omdat dit ’n momentopname bied van die agtiende-eeuse, Nederlandse visie van die Kaapkolonie. Die gedig behoort volgens die agtiende-eeuse poëtika en retorika as ’n lofgedig tot die epideiktiese genre (die retorika van die lofprysing). Hierdie retoriese genre het gewoonlik die gangbare ideologie gevolg in die beskrywing van wat prysenswaardig of verwerplik is aan ’n onderwerp. Mooi is wat volgens heersende opinies mooi gevind word, nie wat die individuele waarnemer daarvan dink nie. Teen hierdie agtergrond is die gedig ’n uitdrukking van die koloniale ideologie van omstreeks 1750. Elemente van ’n regverdiging ontbreek hierin egter. Regverdiging vir koloniale besitneming sou eers later, aan die begin van die negentiende eeu ’n rol speel, wanneer sendelinge kritiek uitoefen op die koloniale bestel aan die Kaap. Die koloniale diskoers in die Eerkroon sou ’n mens eerder as “esteties” kon tipeer. Dit werk in die verhouding tussen inheems en koloniaal met kategorieë van wat mooi of lelik, wild of beskaafd is. Verwerplik is die lelike, oorspronklike wilde natuur en die afstootlike, wilde inboorlinge; prysenswaardig is die bewerkte akkerlande, die pragtige tuine en die tevrede koloniste. Morele en politieke faktore speel wel ’n rol, maar hulle is uitsluitend binne die koloniale bestel van toepassing in die verhouding tussen koloniale owerheid en die koloniste (Huigen 1996: 61-74).

 

Digters gevestig in Suid-Afrika

Tot dusver was die digkuns van besoekers ter sprake. In Suid-Afrika was daar naamlik tot aan die negentiende eeu nouliks digters wat hulle hier gevestig het. Die eerste gepubliseerde digter wat haar in Suid-Afrika gevestig het, was Aletta Beck (1678/9-ong. 1735) van Stellenbosch. Beck was oorspronklik afkomstig uit Arnhem in die ooste van Nederland. Sy was daar lid van ’n informele groep manlike en vroulike digters wat veral pastorale poësie geskryf het. Sy het in 1705 na Suid-Afrika verhuis. In 1750 verskyn daar postuum’n bundel Mengel-digten in Amsterdam. Hierdie bundel bevat 64 gedigte waarvan 56 deur Aletta Beck geskryf is. Veertien van hierdie gedigte het Beck vermoedelik ná 1720 in Suid-Afrika geskryf. Haar gedigte is konvensioneel. Hulle is in ’n belangrike mate gekonstrueer uit klassieke en christelike gemeenplase. Die Suid-Afrikaanse werklikheid kom nie ter sprake nie (Pieters en Schutte 1999).

Ook in baie Nederlandstalige Suid-Afrikaanse gedigte uit die negentiende eeu ontbreek die Afrikaanse werklikheid trouens, omdat religieuse gevoelens en familieaangeleenthede die oorheersende onderwerpe vorm. So nou en dan, en meer intensief aan die einde van die negentiende eeu met die opkoms van Afrikaner nasionalisme – byvoorbeeld in Melt Brink se Nationale en Afrikaanse gedigte – is tydgenootlike politieke onderwerpe (by verskillende digters byvoorbeeld die agterstelling van “De Hollandsche Taal”) of onderwerpe uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis, waaroor in die volgende afdeling meer gesê sal word, ontgin. Twee groepe digters staan uit in die poësie van die negentiende eeu: predikante en vroue.

Die eerste digter wat sy gedigte in Suid-Afrika kon publiseer was die Stellenbosse predikant Meent Borcherds (1762-1832). Hy het in 1801 ’n gedig gepubliseer oor ’n landboukundige genootskap, wat nie bewaar gebly het nie. Sy tweede gepubliseerde gedig, die lang leerdig De Maan, is wel oorgelewer. Dit is in 1802 en 1803 in twee aflewerings gepubliseer. Soos by ander predikantdigters is godsdiens en moraal by Borcherds met mekaar verstrengel. In De Maan word “religie” “de grondslag der maatschappy” genoem en “de nutte deugd / Der matigheid […] eenen godsdienstpligt”. Alhoewel De Maan die tweede digwerk was wat in Suid-Afrika gepubliseer is, was dit allermins ’n groot sukses. Meent Borcherds se seun, die meer bekende Petrus, skryf in sy outobiografie dat daar so weinig kopieë verkoop is van De Maan, dat nie eens die papierkoste betaal kon word nie (Huigen 1996: 79-80). Gedenkwaardige poësie het ook die ander predikante nie geskryf nie. Veel daarvan is volgens huidige begrippe selfs kitsch. Die verduideliking van Adriaan Moorrees by die titel van sy bundel Zevenjaartjes (1908) bied ’n ekstreme voorbeeld hiervan: “Dit bundeltje draagt dien naam [Zevenjaartjes], omdat de meeste stukjes hun ontstaan te danken hebben aan de begeerte een nederig kransje te leggen op het graf van ontslapenen” (Moorrees 1908: “Aan den Lezer”).

Binne sy subgenre is die poësie van godsdienstige vroue iets interessanter, hoewel die gedigte meestal nie gepubliseer is nie. Slegs Catharina Allegonda van Lier (1768-1801) se “Troost in Twijfelmoedigheid” is as gesang 28 opgeneem in die Evangelische Gezangen van die Nederlandse Hervormde Kerk (1806). Catharina van Lier se Dagboek, gemeenzame brieven en overdenkingen is ook in 1804 gepubliseer deur die predikant J.J. Kicherer. Ongetwyfeld het Van Lier se familieband met ’n vooraanstaande Kaapse predikant (haar broer, H.R. van Lier) gehelp dat haar werk vir publikasie geselekteer is. Nog steeds ongepubliseer is die werk van Susanna Smit (gebore Maritz, 1799-1863), die eggenote van die (in sy tyd onbekende) sendeling, Voortrekkerpredikant en dagboekskrywer Erasmus Smit. Susanna Smit het ’n omvangryke dagboek nagelaat waarin sy ook haar gedigte opgeteken het. Karel Schoeman noem haar die belangrikste Hollands-Afrikaanse vroulike digter voor Elisabeth Eybers (Schoeman 1995: 167).

 

Geskiedenis

Pogings vir die ontwikkeling van ’n Suid-Afrikaanse historiese bewussyn is vanaf 1824 al gedoen in die Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift (NZAT). Dit moes volgens die tydskrif ’n historiese bewussyn word wat al die koloniste van die Kaapkolonie sou insluit. Met die oog hierop het die NZAT die Dagregister van Jan van Riebeeck in aflewerings gepubliseer om “met er tyd alle de bouwstoffen tot eene volledige geschiedenis dezer Volkplanting” by mekaar te bring (NZAT 1825: xi). Van Riebeeck is aangegryp as ’n fokuspunt vir die ontwikkeling van ’n nuwe vaderlandse gevoel.

 

'n Lokale historiese bewussyn: Meent Borcherds

’n Belangrike bydrae tot die ontwikkeling van hierdie lokale historiese bewussyn is gelewer deur die Stellenbosse predikant Meent Borcherds. Hy was die eerste digter wie se werk in Suid-Afrika verskyn het en ’n vaste medewerker van die NZAT vanaf die ontstaan van die tydskrif in 1824 tot na sy dood in 1832 met die postume publikasie in die NZAT van sy “Gedicht over de volksplanting” (Borcherds 1832). Hierdie gedig van 528 versreëls neem ’n besondere plek in tussen Suid-Afrikaanse historiese representasies in die negentiende eeu, omdat dit een van die weinige tekste is wat handel oor die voorkoloniale geskiedenis, terwyl die koloniale geskiedenis van na 1652 gewoonlik die onderwerp was.

Die gedig is gekonsipieer as ’n reaksie op Researches in South Africa (1828) van die Skotse sendeling John Philip. Philip het sy boek oor die onderdrukking en eksploitasie van die Koisan ingelei met ’n enigsins idealiserende beskrywing van die toestand van die inheemse bevolking van voor die koms van die Europeërs. Terwyl die inheemse bevolking volgens Philip voor 1652 eienskappe vertoon het wat in sommige opsigte voorbeeldig is vir Europeërs, het hulle aan die begin van die negentiende eeu ’n vertrapte Lumpenproletariat gevorm. Die koloniste was volgens hom skuldig aan hierdie ellendige posisie.

Borcherds bied ’n poëtiese weerlegging van Philip. As ’n digter het Borcherds ’n sterker epistemologiese posisie vir homself opgeëis as Philip in ooreenstemming met die Europese poëtika van die laat-agtiende en vroeë negentiende eeu. Digters sou volgens die poëtika met hul verbeelding kon deurdring in gebiede wat vir gewone sterwelinge geslote was. Hier volgens kon Borcherds toegang kry tot die Kaapse voorgeskiedenis waaroor daar voor die ontstaan van die moderne argeologie niks bekend was nie. Met die krag van sy verbeelding, maar in die praktyk met behulp van gesaghebbende beskrywings van die Koi, soos in die Nederlandse vertaling van Peter Kolb se Caput bonae Spei hodiernum (1719), skets Borcherds ’n neerhalende beeld van die Koi as ’n klomp smerige, wellustige en wilde nomade wat onmoontlik bederf kon word deur die koloniste omdat hulle reeds so totaal bedorwe was. Inteendeel, danksy die koloniste is daar nou hoop op redding uit die moreel vervalle toestand waarin die inheemse bevolking voor 1652 geleef het omdat hulle van die christene godsdiens en goeie sedes kon leer.

Borcherds se argumentasie is bedoel as ’n regverdiging van koloniale verhoudinge in die negentiende eeu. Teenoor Philip se aanklag teen kolonialisme in Suid-Afrika en die primitiviste se verheerliking van die natuurlike lewe “bewys” Borcherds dat die koloniale bewind die onsedelike lewenswyse van die inheemse bevolking verbeter het deur van hulle christene te probeer maak. Sover ek kon nagaan is dit die vroegste voorbeeld in Suid-Afrika van ’n poging om bestaande wanpraktyke te verbloem deur gebruik te maak van historiese argumente.

 

Nasionalistiese geskiedbeelde

In die tweede helfte van die negentiende eeu is daar getrag om nuwe nasionalistiese geskiedbeelde te ontwikkel. Daar is in die eerste plek pogings om staatgebonde nasionalismes te skep deur middel van geskiedskrywing. H. J. Hofstede skryf in opdrag van die Vrystaatse Volksraad die Geschiedenis van den Oranje-Vrijstaat (1876) en J.D. Weilbach en C.N.J. du Plessis het met Geschiedenis van de Emigranten-Boeren en van den Vrijheids-oorlog (1882) probeer om aan ’n embrionale Transvaalse nasionalisme vorm te gee na die Eerste Vryheidsoorlog. Belangriker is egter na 1880 die groei van wat later bekend sal word as Afrikaner nasionalisme, wat taal (Nederlands en/of Afrikaans) en geskiedenis aangryp om die Hollandse Afrikane (Afrikaners) in al die dele van suidelike Afrika saam te snoer tot een nasie.

Dié etnies-nasionalistiese uitgangspunt word ook sigbaar in beskouings oor literatuur en geskiedskrywing, diskoerse wat tot in die twintigste eeu in Suid-Afrika nou met mekaar verbonde bly. In 1897 verskyn in Ons Tijdschrift. Geïllustreerd Familieblad voor Zuid-Afrika ’n artikel oor die Suid-Afrikaanse letterkunde, “De Zuid-Afrikaanse Litteratuur en hare opkomst”. Volgens die artikel kon slegs werke in Nederlands of Afrikaans van na 1806 gereken word tot die Suid-Afrikaanse letterkunde. Nederlandse literatuur van voor 1806 en Engelstalige literatuur uit Suid-Afrika het behoort tot die Engelse of Nederlandse letterkunde, nie tot die Suid-Afrikaanse nie. Volgens hierdie streng kriteria was die Suid-Afrikaanse letterkunde maar klein. Eers na 1880 merk die anonieme outeur van die artikel meer publikasies op, maar die literêre vlam sou eers hoër kon brand nadat die Suid-Afrikaners ’n oorwinning sou behaal oor die Engelse, soos wat dit in Nederland die geval was na die oorwinning van die Nederlandse opstandelinge teen die Spanjaarde.

 

Letterkundige geskiedskrywing: D'Arbez

In die letterkundige onderafdeling geskiedskrywing was die produksie volgens die artikel nog beperk. Die een wat die meeste lof geoes het was die Kanadees-Suid-Afrikaanse geskiedskrywer George McCall Theal ondanks die feit dat hy sy werke in Engels geskryf het. In Nederlands was daar nog niks wat aan Theal se werk gelykgestaan het nie. Daar was egter hoopgewende tekens dat die toestand binnekort sou verbeter, want die uitgewery Jacques Dusseau & Co. het die eerste deel laat verskyn van die “Historie Bibliotheek”. Tot sover die artikel in Ons Tijdschrift (Huigen 1996: 95-96). 

Inderdaad was hierdie “Zuid-Afrikaansche Historie-Bibliotheek” (ZAHB), ’n reeks met didaktiese historiese romans, geskryf deur J.F. van Oordt (1856-1918) onder die pseudoniem D’Arbez, ’n groot sukses. Van 1896 tot 1921 het D’Arbez negentien titels in die ZAHB gepubliseer waarvan sewe tot in die veertiger jare nog in Afrikaanse vertalings herdruk is. Bowendien publiseer hy in 1898 ’n ernstige geskiedwerk onder sy eie naam, Paul Kruger en de opkomst van de Zuid-Afrikaansche Republiek

Vir die tyd (einde negentiende tot begin twintigste eeu) het die boeke uit die ZAHB ongekend hoë oplaes bereik. Van die mees populêre titel uit die reeks, Mooi Annie (1896), is 8000 kopieë in agt oplaes in Nederlands gedruk, waarna die boek nog nege oplaes (24.000 kopieë tot 1936) behaal het in Afrikaanse vertaling en ook nog deur Léon Fourie verwerk is tot ’n drama. Volgens Nienaber (1936) is daar tot 1936 (dus voordat die Afrikaanse vertalings van die ZAHB opgehou het om te verskyn) 58.000 Nederlandse kopië uit die reeks verkoop en 66.000 van die Afrikaanse vertalings. Ter vergelyking: die bekende Die geskiedenis van ons land, in die taal van ons volk van die Genootskap van Regte Afrikaners het slegs in twee oplaes verskyn waarvan die eerste oplaag bestaan het uit 500 kopieë. 

D’Arbez was die eerste wat in ’n literêre verpakking die hele Suid-Afrikaanse geskiedenis in episodes, van Van Riebeeck (1652) tot die Jameson Raid (1895), aan ’n breë publiek en vanuit ’n Hollands-Afrikaanse perspektief vertel het. In die oorkoepelende geskiedbeeld van die reeks het dit gelei tot ’n historiese rolleverdeling wat later ook in ander Afrikaner geskiedskrywing gevind word. Die konfrontasie tussen Afrikaners en Engelse is daarin volgens een van die titels die van Macht en Recht (1899). Die Engelse Mag probeer steeds weer die Afrikaners se Reg tot selfbeskikking onderdruk. Afrikaners is slegs in staat om dit teen te staan as hulle eendragtig optree. Ongelukkig slaag hulle slegs selde daarin. Die geskiedenis bied daarom sedert 1795 die beeld van ’n “treurspel” wat hom uitstrek tot aan die Vrede van Vereeniging (1902). ’n Konstante in die Engelse optrede teen die Afrikaners is die verwerplike gedagte dat al die mense gelyk is. Ten onregte dink die Engelse dat die “Kaffer” gelyk is aan die “Blanke”. Daarom is dit dat die Engelse, met name die sendelinge van die London Missionary Society, steeds die kant van die gekleurde bevolking gekies het. Hoewel die inheemse bevolking in D’Arbez se voorstelling ook lastig is – Dingaan is natuurlik verraderlik – is hulle tog ’n geringer probleem as die Engelse, miskien ook omdat hulle in die tyd dat die ZAHB verskyn het vanuit ‘n Afrikaner perspektief ‘n minder ernstige politiese bedreiging gevorm het nie as die Engelse.

 

Geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog

Die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog bly by D’Arbez buite beskouing en is veral vertel in nie-fiksionele outobiografiese boeke met die doel om ’n outentieke beeld te gee van die oorlog. Christiaan de Wet se verklaring in die “Voorwoord” van De strijd tusschen Boer en Brit (1902) is kenmerkend vir al die boeke:

Ik had met het uitgeven van mijn boek […] slechts één doel: de wereld eene geschiedenis te geven, die, hoewel zij niet al de waarheid van dezen wonderen oorlog, toch niets dan de waarheid bevat.

Die waarheidsgehalte van die boeke word in baie gevalle nog verhoog deur die toevoeging van foto’s wat rondom 1900 algemeen gesien is as objektiewe afbeeldings van die werklikheid (vgl. Tagg 1988).

Die meeste van hierdie boeke is in teenstelling tot D’Arbez se werk in Nederland gepubliseer en soms ook in Engels of Duits vertaal. Die publikasie oorsee het die volgende oorsake, sover ek kan sien. Buitelandse uitgewers gretig om boeke oor die Anglo-Boereoorlog te publiseer vanweë die geweldige simpatie met die Boere, met name in Nederland. Die algemene publiek in Nederland het in ’n hoë mate geïdentifiseer met “onze neven in Zuid-Afrika”, die “stamverwante” Boeren. Hulle is gesien as Nederlandse helde uit die sestiende en sewentiende eeu, die glorietyd uit die Nederlandse geskiedenis. Soos die Nederlanders destyds in opstand gekom het teen die eertydse supermag Spanje, so het die boere geveg teen die oppermagtige Engeland. Via die bande van “stamverwantschap” het ’n sprankie van hierdie heroïese stryd van die Boere oorgespring na die Nederlanders en het so ’n hupstoot verleen aan die Nederlandse nasionalisme (Schutte 1986; Bossenbroek 1996). Die heftige Boereliefde het in Nederland letterkundig onder meer neerslag gevind in die werk van die uiters populêre skrywer Louwrens Penning wie se avontuurromans oor die Anglo-Boereoorlog geliefde lektuur was van generasies Nederlandse skoolseuns in die eerste helfte van die twintigste eeu en soms ook nog later (Jonckheere 1999: 41-54, 83-96).

Die Nederlandstalige herinneringsboeke oor die Anglo-Boereoorlog reflekteer die verskillende ervaringswêrelde van mans en van vroue. Die mans – De Wet, Viljoen, Kestell, Van Warmelo – skryf oor die krygsbedryf en die vredesonderhandelinge aan die einde van die oorlog. Die vroue – Riem Vis, Hellemans, Van Helsdingen, Brandt, De la Rey – konsentreer op die leed van die oorlogslagoffers: die gewondes, ontheemdes en veral die gevangenes in die konsentrasiekampe. Lyding is in die boeke van vroue ’n prominente onderwerp, reeds in die titels: Van Helsdingen, Vrouwenleed (1904); Riem Vis, Tien maanden in een vrouwenkamp. Het leven en lijden van een Boerengezin [...] (1902); De la Rey, Mijne omzwervingen en beproevingen […] (1903). Die verhaalpatroon van baie van die outobiografiese geskrifte van vroue fokus ook op lyding: vertrek van die mans, die verskrikkinge van die vernietiging van plaashuise deur die Britte, die tog na die konsentrasiekamp, die verblyf daar, aanbreek van die vrede en die terugkeer na die verwoeste plaas (Jansen 1999: 174). Daarteenoor kan mans soms lakoniek skryf oor oorlogsellende.

 

Jan Celliers

Die beste werk oor die oorlog, Jan Celliers (1865-1940) se oorlogsdagboek (Oberholster 1978), is egter nie reeds vroeg na die oorlog gepubliseer nie. Die gesaghebbende historikus oor die Anglo-Boereoorlog Fransjohan Pretorius noem hierdie dagboek, wat eers in 1978 verskyn het, die belangrikste dagboek uit die oorlog (Pretorius 1991: 19). Inderdaad bied Celliers, wat as “voetganger” (Boerevegter sonder perd) die Boere se strydmag vergesel het, binne die vroeë literatuur oor die Boereoorlog ’n ongebruiklike blik van onder af. Terwyl die meeste ander manlike herinneringskrywers hoog op ’n perd en in dikwels prominente posisies aan die stryd deelgeneem het, het die halfdowe bibliotekaris van die Staatsbibliotheek in Pretoria hoofsaaklik in die agterhoede die oorlog beleef, gepla deur pyn aan sy voete. Celliers voer sy belangrikste gevegte nie teen die Engelse nie, maar teen honger, koue en ongediertes. Hy het egter wel oorgenoeg tyd om homself en sy omgewing te observeer en soms selfs ’n gedig te skryf. Op 4 Julie 1901 skryf hy byvoorbeeld die eerste, Nederlandse versie, van “Die Murasie” (Obersholster 1978: 257-8). Tog was daar geen belangstelling van die kant van uitgewers vir Celliers se dagboek nie, hoewel hy probeer het om sy dagboek in Nederlands gepubliseer te kry onder die titel “Het oorlogs-dagboekje van een Transvaler 1899-1902 door Jan F.E. Celliers” (Oberholster 1978: 10-11). Ek vermoed dat die weiering van die uitgewer miskien iets te make gehad het met die onheroïese beeld van die oorlog wat Celliers bied, met sy miserabele protagonis wat worstel om banale ontberinge te oorleef in plaas daarvan om trots krygsdade langs sy naam te skryf. Die diminutief in die titel was in hierdie opsig ook geen aanbeveling nie.

 

Die Ander

In die historiese representasies wat tot nou toe ter sprake was, is daar weinig aandag vir die rampsalige gevolge van die koloniale ekspansie vir groot groepe mense in Suid-Afrika. Eers nadat sendelinge klagtes ingedien het oor die koloniale beleid teenoor die inheemse bevolking en slawe, word die Ander (die slaaf, die Koi of die “Naturel”) buite etnografiese beskrywings ’n meer prominente onderwerp in Nederlandstalige Suid-Afrikaanse geskrifte. Oor die algemeen bevestig dié publikasies die opvatting van Hollands-Afrikaanse koloniste dat pogings om ’n beter posisie vir die Koi of slawe te beding – “gelijkstelling” – verwerpelik is (Bank 1995; Giliomee 2003: 88-89). Boniface maak ’n bespotting van sulke pogings in De Temperantisten en Borcherds wil die ongerymdheid daarvan aantoon in sy historiese “Gedicht over de Volksplanting”. D’Arbez se siening in die “Zuid-Afrikaansche Historie-Bibliotheek” aan die einde van die negentiende eeu, sluit hierby aan. Hy gaan selfs so ver dat hy die volkeremoord op die San in die agtiende eeu verdedig (Huigen 1996: 112-113). Individue binne die Afrikaans-Hollandse koloniale gemeenskap het egter meer of minder afwykende standpunte ingeneem. Die predikant Michiel Christiaan Vos (1759-1825) was een van die eerstes wat in Merkwaardig verhaal aangaande het leven en de lotgevallen van Michiel Christiaan Vos (manuskrip voltooi in 1819) aan die begin van die negentiende eeu sending bepleit het onder slawe (Vos 1824, Huigen 1997) en Pierre (Piet) Huet was ’n pleitbesorger van sending onder die inheemse bevolking en ’n kampvegter teen die uitbuiting van swartmense in die Boererepublieke. Met name Huet het hom hiermee ongewild gemaak.

 

D.P.M. Huet

D.P.M. (Piet) Huet (1827-1895) was ’n Nederlandse predikant wat van 1854 tot 1867 op verskillende plekke in Suid-Afrika gewoon het. Huet het na Suid-Afrika gekom om die funksie van redakteur van die algemeen-kulturele tydskrif Elpis te vervul, waarvan egter uiteindelik niks gekom het nie (Praamstra 1999: 98-9). Hy was veral op kerklike terrein aktief, onder meer as pleitbesorger van sending. In Suid-Afrika het hy ook begin met ’n omvangryke oeuvre van gedigtebundels en traktate oor ’n verskeidenheid van onderwerpe. Sy Afrikaansche Gedichten (1868), wat grotendeels religieuse poësie bevat, het tot 1930 selfs agt drukke beleef. Belangwekkender is egter sy publikasies oor sending en sy aanklagte oor die mishandeling van die inheemse bevolking, met name in die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal).

Reeds aan die begin van sy verblyf publiseer hy in 1857 in Elpis ’n verslag van ’n reis na die Oranje-Vrijstaat en Basutoland, “Verhaal van een uitstapje uit Aliwal naar de Fransche zendelingstatien in het Basutooland” (Huet 1987). In hierdie reisverslag het Huet oor die algemeen heelwat meer simpatie vir “kafferkinderen” – “ik houd van kafferkinderen” – as vir die blanke bevolking van die Oranje-Vrijstaat. Die reisverslag het heftige verontwaardiging onder lesers van Elpis gewek (Praamstra 1999: 107).

Na die sinodale besluit van die NG Kerk in 1857, waartydens afsonderlike kerkdienste vir blanke en gekleurde lidmate goedgekeur is weens besware uit blanke geledere teen gemeenskaplike dienste, “de zwakheid van sommigen” (volgens die sinodale bewoording aangehaal in Huet 1860: 49), publiseer Huet in 1860 Ééne kudde en één herder. Verhandeling over de toebrenging van heidenen tot de christelijke kerkgemeenschap. Hy het alle Bybelse argumente versamel wat “gelykstelling” van blanke en gekleurde lidmate ondersteun en wat besware daarteen ontkrag. Die derde hoofstuk (Huet 1860: 35-52) bied ’n versameling van die belangrikste vooroordele wat onder blankes in omloop was. Huet sluit sy katalogus van besware af met ’n aanval teen die sinodale besluit om “de zwakheid van sommigen” tegemoet te kom en mense met ‘n donker velkleur uit te sluit van kerkdienste.

Na sy terugkeer na Nederland in 1867 bly Huet betrokke by Suid-Afrika. Hy publiseer onder meer twee pamflette met “mededeelingen” oor Suid-Afrika, versamelings met belevenisse, koerantartikels en ander inligting: Eenvoudige mededeelingen over Zuid-Afrika (1868) wat ’n beskrywing bevat van die verskillende gebiedsdele van Suid-Afrika en die meer omvattende Het lot der zwarten in Transvaal (1869) wat veral ’n aanklag is teen die mishandeling van die swart bevolking in die Zuid-Afrikaansche Republiek. Aan die hand van koerantartikels en ’n verslag van ’n “Reis van Lijdenburg naar Zoutpansberg en verblyf aldaar” beskryf Huet in Het lot der zwarten in Transvaal die mishandeling van die inheemse bevolking wat as gevolg van die anargistiese toestande in Transvaal straffeloos gedoen kon word. Die pamflet was bedoel om druk van buite af uit te oefen op die koloniste in Transvaal en ook geskryf met die hoop dat die Engelse regering daartoe beweeg kon word om ’n einde te maak aan die wetteloosheid deur die vestiging van Engelse gesag in Transvaal. Veral die manier waarop swart kinders – die sogenaamde inboekelinge (vgl. Giliomee 2003: 184-186) – deur hul “eienaars” mishandel is, gebruik hy om die leser se verontwaardiging gaande te maak.

Aan die einde van sy reisverslag herhaal Huet hierdie aanklag ook nog eens in die gedig “Klachte van het kafferkind in Overvaal” (Huet 1869: 55-7) wat hy geskryf het “vervuld van deernis met het lot der Kafferkinderen” (Huet 1869: 54). Die gedig handel oor ’n mishandelde swart kind van nege jaar oud wat ook die spreker van die gedig is. Die hieronder aangehaalde fragment uit die gedig is ’n verwerking van observasies wat hy op ’n ander plek in sy pamflet ook in prosa beskryf:

’s Nachts leg ’k in d’open lucht van koude rillend neder,
Tot deksel heb ’k een vel dat noô [nouliks] mijn rug bedekt.
De kindren [van die baas] liggen zacht in warme wol en veder [vere].
Voor mij geen ander dek in ’t felste winterweder,
Schoon [hoewel] vaak de witte sneeuw ligt over ’t veld gestrekt.
Dan kruip ’k, door koû, om ’t bevend lijf te warmen,
In d’asch van ’t nachtlijk vuur, als schuilplaats voor de rijp.
En, ’s morgens als ’k ontwaak, verbrand aan been en armen,
Dan word ik tot mijn straf – een wolf heeft geen erbarmen! –
Ach, sloegen zij mij dood! – geslagen voor ’t vergrijp.

(Huet 1869: 56)

 

Religieuse lektuur

Gewoonlik is daar oor die inheemse bevolking of slawe vir blanke lesers geskryf. In ’n beperkte mate het sendelinge egter ook religieuse lektuur vir hul bekeerlinge geskep. Met name die Morawiese Kerk, wat van al die sendingorganisasies in Suid-Afrika die langste geskiedenis het, was op hierdie gebied aktief. In Genadendal is reeds in 1834 ’n drukkery opgerig wat onder meer ’n kerkblad (De Bode, vanaf 1859) en later die eerste kindertydskrif van Suid-Afrika uitgee, die Maandblaadje voor Kinderen (vanaf 1861) (Balie 1988: 139-143). ’n Morawiese sendeling het ook Benigna van Groenekloof of Mamre gepubliseer in 1873, ’n boek wat ten onregte dikwels genoem word as die eerste Afrikaanse roman. Die boek is egter geen roman nie en dit is ook nie in Afrikaans geskryf nie. Die verhaal is ’n bekeringsgeskiedenis in Nederlands, geskryf deur ’n anonieme Morawiese sendeling (“een hunner leeraars”- Benigna: titelblad) en bedoel as “eenvoudige en aantrekkelijke lektuur voor de christen kleurlingen van ons landje” (Benigna 1873: “Voorwoord”). Volgens die voorwoord het hierdie mense weliswaar geleer om te lees, maar is daar onvoldoende aantreklike oefenmateriaal om die leeskuns op ’n hoër vlak te bring. Met die oog hierop is ’n verhaal wat gebaseer is op ’n werklike lewensverhaal die geskikste (Benigna 1873: “Voorwoord”). Die verhaal beskryf onder meer die lewe van ’n Koi-vrou, Rosetta, wat gebore is in 1752 en na ’n moeisame lewe haar tot die christendom bekeer en dan die naam Benigna (Latyn vir “liefderyk”, “vriendelik”) aanneem.

 

Jacob Lub

Die Ander speel na 1900 ’n onrusbarende rol in die blanke Suid-Afrikaanse literatuur rondom verstedeliking. In 1908 publiseer die Natalse joernalis Douglas Blackburn Leaven, die eerste boek oor ’n swartman wat na Johannesburg trek en in die immorele stad ten gronde gaan. Hierdie verhaalgegewe het in die twintigste eeu amper tot ’n argetipiese onderwerp uitgegroei in die wit Suid-Afrikaanse literatuur. Die tweede verhaal wat oor hierdie onderwerp verskyn is “Het zwarte gevaar” van Jacob Lub (Lub 1913).

Lub (1868-1928) was ’n Nederlander wat as ’n onderwyser, een van “Kruger se Hollanders”, na Transvaal gekom het. In die sosiaal-realistiese tradisie van die destyds populêre Nederlandse skrywer Justus van Maurik skryf hy kortverhale oor mense aan die Witwatersrand, aanvanklik meestal in Nederlands, maar later uitsluitlik in Afrikaans. “Het zwarte gevaar” is die langste verhaal – ’n novelle – wat hy geskryf het. Die verhaal van die verwestersing van ’n swart man begin by sy kindertyd op ’n plaas en eindig met sy dood nadat hy geskiet is deur die polisie. Die novelle handel oor die probleme wat swartes veroorsaak vir die blanke samelewing wanneer hulle ’n westerse identiteit aanneem en as min of meer gelykwaardig behandel word deur blankes. Die hooffiguur word groot in die patriargale wêreld op ’n Afrikaanse plaas, maar neem in ’n Engelse omgewing ’n christelike, Engelse identiteit aan. Hy verander sy naam van Jakhals na die (christelike) Daniel. Die gevolg hiervan is dat hy nie langer sy plek in die sosiale hiërargie ken nie, wat nog vererger word as hy in diens tree by ’n “negrofiele” Engelse werkgewer wat hom bederf asof hy ’n onskuldige kind is. Dit lei daartoe dat Daniel, die hooffiguur, oorrompel deur sy gevoelens vir haar, sy hand op die skouer van sy “Missus” sit en so die woede wek van haar eggenoot, wat hom wegjaag. Die gevolg hiervan is dat Daniel beland in ’n bende wat gelei word deur ’n hipokritiese leier wat voorgee dat hy roof om aan die arm swartmense die goed wat die blankes van hulle geroof het terug te gee, maar wat in werklikheid alles self hou.

Met sy titel en inhoud sluit die verhaal aan by kontemporêre debatte oor die “naturellevraagstuk”. In koerante en parlementsverslae worstel die blanke gemeenskap met die vraagstuk oor groeiende swart verstedeliking. Toe “Het zwarte gevaar” geskryf en gepubliseer is (1912/1913) het die besorgdheid histeriese afmetings aangeneem weens die angs dat swart mans ’n seksuele bedreiging inhou vir wit vrouens. Die talryke koerantartikels hieroor het steeds die opskrif “black peril”/“zwart gevaar” gekry.

Lub se verhaal is met simpatie vir die hooffiguur geskryf. Hy word voorgestel as ’n slagoffer van omstandighede. Dit is volgens Lub veral die skuld van die negrofiele Engelse immigrante wat geen kennis het van die omgangskode tussen bevolkingsgroepe in Suid-Afrika nie, dat swartmense in verwarring gebring word en misdade pleeg, dade van “zwart gevaar” of erger, pogings om die blanke bestel omver te werp soos wat die bende wil doen waarby Daniel hom aansluit. Lub se oplossing is tegelyk nostalgies en reaksionêr. Anders as tydgenootlike blanke ideoloë wat “moderne” oplossings soek in die rigting van segregasie en verhoogde kontrole, sien Lub die patriargale plaas as die plek waar die rasse harmonieus in ’n hierargiese verband kan saambestaan. Prakties uitvoerbaar is dit nie. Selfs binne Lub se eie verhaal is die plaaswêreld gelokaliseer voor die Anglo-Boereoorlog en ver van Johannesburg (Huigen 1996: 125-136).

 

Oorgange na Afrikaans

’n Paar jaar na die verskyning van Lub se verhaal is Afrikaans in 1925 vir byna al die praktiese doeleindes in die plek gestel van Nederlands. In die jare wat hieraan voorafgaan sien ’n mens ’n verskuiwing van Nederlands na Afrikaans in die Suid-Afrikaanse letterkunde. Skrywers, soos Lub wat aanvanklik nog tekste in Nederlands die lig laat sien, publiseer uiteindelik slegs in Afrikaans. Minstens vir ’n halwe eeu, tussen 1875 en 1925, is Nederlands en variante van Afrikaans egter naas mekaar gebruik. Selfs S.J. du Toit het hom afwisselend van Afrikaans en Nederlands bedien. ’n Afwyking van hierdie patroon is Van Melle (1887-1953) wat so laat soos 1936 nog onder meer Bart Nel, de Opstandeling in Nederlands publiseer wat hy in 1942 eers verwerk in Afrikaans.

Die oorgang van Nederlands na Afrikaans was nie so skerp soos wat dit terugskouend voorkom nie. Daar was in die eerste plek ’n groot mate van institusionele kontinuïteit tussen Nederlands en Afrikaans. Uitgewerye soos die Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers Maatschappij (H.A.U.M.), Juta en Van Schaik – almal uitgewers met wortels in Nederland – wat aanvanklik Nederlandse boeke uitgegee het, publiseer in die loop van die twintigste eeu al hoe meer in Afrikaans. Dieselfde sien ’n mens met periodieke: De Burger word Die Burger en De Kerkbode (NG Kerk) word Die Kerkbode.

Daar was bowendien vir ’n lang tyd ’n grys gebied tussen Nederlands en die variant wat in die twintigste eeu uitgegroei het tot Standaardafrikaans. Die belangwekkende proefskrif van Andrea Deumert, Variation and standardisation. The case of Afrikaans (1880-1922) (Deumert 1999) toon aan dat tot in die jare 1910, variasies van Afrikaans wat naby aan Nederlands was algemeen in gebruik gebly het. Deumert werp daarmee die gebruiklike siening omver dat Afrikaans reeds rondom 1800 ’n gevestigde taal was en dat daar sedertdien in Suid-Afrika sprake was van diglossie, die gebruik van twee verskillende tale: Afrikaans as ’n spreektaal en Nederlands as skryftaal. Deumert bewys egter aan die hand van ’n groot korpus egodokumente van opgeleide, hoofsaaklik wit skrywers uit die periode 1880-1922 uit die Wes-Kaap dat wat na 1910 Standaardafrikaans geword het, in hierdie kringe nog nouliks in gebruik was. In plaas daarvan is daar variasies gebruik wat naby aan Nederlands was en waarvan die sprekers geweet het dat hulle sterk afwyk van die taal wat die Genootskap van Regte Afrikaners gepropageer het as Afrikaans. Nederlands was ook nog algemeen in gebruik, met name in formele situasies. Eers nadat Afrikaner Nasionalisme gekies het vir Afrikaans en dit in onderwys as die nuwe standaard aanvaar is, word Standaardafrikaans na 1910 dominant.

 

"Kaaps-Hollandse" tussenvorme

Hierdie insigte werp ’n heel nuwe lig op die geskiedenis van die Nederlandstalige Suid-Afrikaanse letterkunde. Die belangrikste implikasie is dat Nederlands tot in die twintigste eeu in Suid-Afrika nie so vreemd was soos altyd beweer word nie. Vanuit die perspektief van ’n opgeleide Kapenaar was dit ’n variant van die taal wat hy daagliks gepraat het, nie ’n totaal ander taal nie. Hierdie taalvariante het ook heelwat minder van mekaar afgewyk as dialekte en standaard Nederlands in Vlaandere en sommige dele van Nederland. Die digotomie tussen Afrikaans en Nederlands in die Afrikaanse taal- en literatuurgeskiedenis is daarom in ’n hoë mate ’n konstruksie van taal- en literatuurhistorici wat weinig aandag gegee het aan die grysvariasies.

Hierdie “Kaaps-Hollandse” tussenvorme was ook algemeen in gebruik, in die letterkunde, soos in die werk van die Kaapse digter en dramaskrywer Melt Brink (1842-1925) en die “Kaapse Maakloon”, die lokaal vervaardigde “Hollandse” liedere van Kaapse Moslims (Du Plessis 1935: 73). Brink was een van die mees produktiewe Suid-Afrikaanse skrywers van rondom 1900. Brink se werk pas goed by Deumert se teorie oor taalvariasie aan die Kaap, hoewel sy hom nie in haar proefskrif noem nie. Wanneer Brink oor ernstige onderwerpe moet skryf, gebruik hy Nederlands en vir informele onderwerpe gebruik hy “Kaaps-Hollands, zoals wij het gewoonlik spreken” (Brink 1920: “Voorwoord”). Hy het dit egter onmoonlik gevind om die Afrikaans (“Patriots”) van die Genootskap van Regte Afrikaners te gebruik. Dit was nie sy taal nie: “omdat ik het Patriots overdreven acht; wij spreken zoo niet onder ons. Ik heb het Kaapsch Hollands, zoo als wij het gewoonlijk spreken, gevolgd” (Brink 1920: “Voorwoord”). Selfs wanneer die nuwe Standaardafrikaans reeds ’n gevestigde taal is gaan Brink hiermee voort. Melt Brink, wat gebore is in 1842, kon hom nie meer aanpas by Standaardafrikaans in die twintigste eeu nie. Deumert bied voorbeelde van jonger briefskrywers wat selfs nog sukkel in die jare 1930. Die gevolg van Brink se hardnekkige gebruik van Nederlands en Kaaps-Hollands was egter onder meer dat hy volgens die gebroeders Nienaber (1941: 232) “maar half tot die Afrikaanse letterkunde gereken kan word”.

 

Ná die oorgang

Nadat die oorgang voltrek is, word daar in Afrikaanse kringe oor die algemeen met ’n sekere afkeer teruggekyk na die Nederlandse periode. Nadat Afrikaner nasionalisme hom eers laat vereenselwig het met Afrikaans as taal van “gans die volk”, lyk dit agterna beskou na ’n anomalie dat Nederlands ooit in gebruik was omdat dit vanuit die nuwe Afrikaner Nasionalistiese perspektief volksvreemd geword het. Bepaalde tekste was nog nie in Afrikaans nie, sê literatuurgeskiedskrywers dan en as gevolg daarvan vanselfsprekend heelwat minder interessant, minder die moete werd om byvoorbeeld opnuut uitgegee of bespreek te word as Afrikaanse tekste. Dit lei byvoorbeeld daartoe dat in literatuurgeskiedenisse buiteproporsionele aandag geskenk word aan vroeë fragmente van Afrikaans uit die negentiende eeu, terwyl die Nederlandse literatuur uit die periode buite beskouing bly. So kom uit Boniface se De Temperantisten meestal slegs die gedeeltes in Afrikaans ter sprake.

Na die oorskakeling van Nederlands na Afrikaans begin ook vinnig die proses van verlies van herinnering aan die tyd dat Nederlands en Kaaps-Hollandse variante in gebruik was. Dit het versnel na 1980 toe die afsonderlikheid van Afrikaans ten opsigte van Nederlands om politiese redes benadruk is. Die geskiedenis van Afrikaans is die laaste dekades selfs retrospektief uitgebrei deur vertalings van oorspronklik Nederlandse tekste in Afrikaans. Dit is momenteel ’n algemene gebruik om Nederlandse tekste uit Suid-Afrika sonder enige verantwoording in Afrikaanse vertaling aan te bied, wat by die leser die indruk skep dat die tekste ook inderdaad oorspronklik in Afrikaans geskryf is (Van Beek 2000: 17, voetnoot 36). Daar is nou al Afrikaans skrywende vrouevertellers vanaf 1843 (vgl. Van Niekerk 1994: 35-45) en ook die Burgersdorpse Taalmonument het ’n gedenkteken vir Afrikaans geword.

Die resultaat van hierdie ontwikkeling is dat daar ’n eienaardige diskrepansie ontstaan het tussen die onmiskenbare historiese belang van die Nederlandstalige Suid-Afrikaanse letterkunde en die geringe aandag daarvoor in die publieke herinnering. ’n Letterkunde wat vir langer as ’n eeu, van 1652 tot 1795, vrywel die enigste geskrewe letterkunde in Suid-Afrika was en ook daarna ‘n rol van betekenis gespeel het, kry byvoorbeeld by Michael Chapman in Southern African Literatures slegs twee bladsye (Chapman 1996: 77-78). Tot nou toe is die wat belangstelling toon vir die Nederlandse literatuur van Suid-Afrika hoofsaaklik letterkundiges met ’n Nederlandse of in elk geval Europese agtergrond. Die merkwaardigste publikasie vanuit hierdie groep is wel Komrij se De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten (Komrij 1999) wat met die gedig op die Kaapse kasteel begin en verder ’n groot aantal Nederlandse gedigte insluit. Vanuit ’n veeltalige perspektief op die Suid-Afrikaanse letterkunde behoort ander egter ook opmerksaam te word oor wat in Suid-Afrika in Nederlands geskryf is.

 

Bronne

Anderson, B. 1983. Imagined communities: reflections on the origin and spread of nationalism. London: Verso.

Bank, A. 1995. Liberals and their enemies. Racial ideology at the Cape of Good Hope, 1820 to 1850. Ongepubliseerde proefskrif. Cambridge: Cambridge University.

Balie, I. 1988. Die geskiedenis van Genadendal 1738-1988. Kaapstad en Johannesbrug: Perskor.

Benigna van Groenekloof of Mamre: een verhaal voor de Christen kleurlingen van Zuid-Afrika door een hunner leeraars. 1873. [Kaapstad]: [Van de Sandt de Villiers].

Böeseken, A.J. 1973. Dagregister en briewe van Zacharias Wagenaer, 1662-1666. Pretoria: Die Staatsdrukker.

Boniface, C. E. 1954. De nieuwe ridderorde, of, De temperantisten. Uitgegee met inleiding en verklarende aantekeninge deur F.C.L. Bosman. Johannesburg: Voortrekkerpers.

Borcherds, M. 1832. Gedicht over de volkplanting van de Kaap de Goede Hoop. Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift 9:296-303, 347-355.

Bosman, F.C.L. 1928. Drama en toneel in Suid-Afrika. Deel I: 1652-1855. Amsterdam: J.H. de Bussy.

Bosman, F.C.L. en Dreyer, A. 1930. Hollandse joernalistiek in Suid-Afrika gedurende die 19de eeu. Kaapstad: Federale Pers.

Bossenbroek, M. P. 1996. Holland op zijn breedst: Indië en Zuid-Afrika in de Nederlandse cultuur omstreeks 1900. Amsterdam: Bert Bakker.

Brandt-van Warmelo, J. 1905. Het concentratiekamp van Iréne. Amsterdam/Kaapstad: H.A.U.M.

Brink, M.J. 1920. Grappige stories en andere versies. Eerste bundel. Pretoria/Amsterdam: De Bussy; Kaapstad: H.A.U.M.

Chapman, M. 1996. Southern African Literatures. London: Longman.

Conradie, E. 1934. Hollandse skrywers uit Suid-Afrika: ’n kultuur-historiese studie. Deel I (1652-1875). Pretoria: De Bussy.

Conradie, E. 1949. Hollandse skrywers uit Suid-Afrika: ’n kultuur-historiese studie. Deel II (1875-1905). Kaapstad/Pretoria: H.A.U.M.

De Marre, J. 1746. Bespiegelingen over Gods wysheid in het bestier der schepselen, en Eerkroon voor de Caab de Goede Hoop. Amsterdam: Wor en Onder de Linden.

De Villiers, A. 1934. Die Hollandse taalbeweging in Suid-Afrika. Kaapstad: Nasionale Pers.

De Wet, C.R. 1902. De strijd tusschen Boer en Brit: de herinnering van den Boeren-generaal C.R. de Wet. Amsterdam: Höveker & Wormser.

Deumert, A. 1999. Variation and standardisation. The case of Afrikaans (1880-1922). Ongepubliseerde proefskrif. Kaapstad: Universiteit van Kaapstad.

Du Plessis, I.D. 1935. Die bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse volkslied. Kaapstad: Nasionale Pers.

Du Toit, S.J. 1895. Sambesia, of Salomo’s goudmijnen bezocht in 1894. Paarl: D.F. du Toit.

Early Cape printing, 1796-1802 / Vroeë Kaapse drukwerk, 1796-1802. 1971. Cape Town: South African Library.

Giliomee, H.B. 2003. The Afrikaners: biography of a people. Cape Town: Tafelberg.

Glorie, I. 1996. ’n Klein alleenstaande koppie op ’n kaal vlakte? Melt Brink en zijn venster op de wereld. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 3: 122-145.

Huet, D.P.M. 1860. Ééne kudde en één herder. Verhandeling over de toebrenging van heidenen tot de christelijke kerkgemeenschap. Kaapstad: N.H. Marais.

Huet, D.P.M. 1869. Het lot der zwarten in Transvaal: mededelingen omtrent de slavernij en wreedheden in de Zuid-Afrikaansche Republiek. Utrecht: Van Peursen.

Huet, D.P.M. 1987. Reisjoernaal: verhaal van een uitstapje uit Aliwal naar de Fransche zendelingstatien in het Basutooland (geredigeer deur Karel Schoeman). Kaapstad: Suid-Afrikaanse Biblioteek.

Huigen, S. 1992. Jarige meisjes, Hottentotten en het zand van Robbeneiland: Pieter de Neyn aan de Kaap (1672-1674). De zeventiende eeuw 7(2):149-158.

Huigen, S. 1996. De weg naar Monomotapa: Nederlandstalige representaties van geografische, historische en sociale werkelijkheden in Zuid-Afrika. Amsterdam: Amsterdam University Press.

Huigen, S. 1997. De eerste zwarte schrijver in Zuid-Afrika. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 4:203-209.

Huigen, S. 1998. Natural history and the representation of Southern Africa in the eighteenth century. Journal of Literary Studies 14(1/2):66-78.

Huigen, S. 2001. Expedities vanuit Fort Lijdzaamheijd: representaties van het binnenland van zuidelijk Afrika door VOC-reizigers in de achttiende eeuw. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 8(1):35-57.

Huigen, S. 2001/2002. Beschaafde en onbeschaafde wilden. Wetenschappelijke reisverslagen over Zuid-Afrika rond 1800. Feit en Fictie; Tijdschrift voor de geschiedenis van representatie 5 (winter):82-95.

Huigen, S. 2003. Huishoudingen van “Caffers” en “Hottentotten”: voorstellingen van inwoners van zuidelijk Afrika in de Gordon Atlas. In: Roodenburg, H., et. al. (reds.). The exotic imagined: Netherlandish images of peasants and non-European peoples, 1500-1900 (Nederlands Kunsthistorisch Jaarboek 53). Zutphen: Waanders:185-207.

Huigen, S. 2004. “Erroneous and completely false assertions on the Hottentots”: Peter Kolb’s reassessment of the early modern discourse on the “Hottentots”. In: Huigen, S. en Kommers, J. (reds.). The Dutch East India Company, language and writing. Saarbrücken: Verlag für Entwicklungspolitik.

Jansen, E. 1999. “Ek ook het besluit om van my bittere lydingskelk te vertel.” Het meervoudige (post)koloniale vertoog in autobiografische vrouwenteksten over de Zuid-Afrikaanse Oorlog (1899-1902). Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 6: 162-186.

Jonckheere, W.F. 1999. Van Mafeking tot Robbeneiland: Zuid-Afrika in de Nederlandse literatuur, 1896-1996. Nijmegen: Vantilt.

Kannemeyer, J.C. 1983-1984. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, Deel I en II. Pretoria/Kaapstad/Johannesburg: Academica.

Komrij, G. 1999. De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten. Amsterdam: Bert Bakker.

Lub, J. 1913. Het zwarte gevaar. 2de bundel Hollands-Afrikaanse schetsen. Pretoria: De Bussy; Kaapstad: H.A.U.M.

Moorrees, A. 1908. Zevenjaartjes. Gedichten. Amsterdam/Kaapstad: H.A.U.M.

Nienaber, P.J. 1936. D’Arbez as skrywer. Pretoria: De Bussy.

Nienaber, P.J. en Nienaber G.S. 1941. Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde vanaf die begin tot aan die einde van die 19de eeu. Pretoria: J.L. van Schaik.

Oberholster, A.G. 1978. Oorlogsdagboek van Jan F.E. Celliers, 1899-1902. Pretoria : Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

Philip, J. 1828. Researches in South Africa. London: Duncan.

Pieters, V. en Schutte, G.J. 1999. Een vergeten Kaapse dichteres: Aletta Beck. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 39(1): 67-84.

Praamstra, O. 1999. Een ‘algemeen tijdschrift voor Zuid-Afrika’, Elpis (1857-1861). Voortgang, Jaarboek voor Neerlandistiek, 18: 95-112.

Pratt, M.L. 1992. Imperial eyes: travel writing and transculturation. London: Routledge.

Preller, G.S. 1961, Eerstelinge. Eerste kritiese beskouings oor ons eerste kunswerke versorg deur D.J. Opperman. Kaapstad: Human & Rousseau.

Pretorius, F. 1991. Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. Kaapstad: Human & Rousseau.

Raven-Hart, R. 1971. Cape Good Hope, 1652-1702: the first fifty years of Dutch colonisation as seen by callers. 2 vols. Cape Town: Balkema.

Schoeman, K. 1995. Die wêreld van Susanna Smit, 1799-1863. Kaapstad: Human & Rousseau.

Schutte, G.J. 1986. Nederland en de Afrikaners: adhesie en aversie. Franeker: Wever.

Stagl. J. 1979. Vom Dialog zum Fragebogen. Miszellen zur Geschichte der Umfrage. Kölner Zeitschrift für Soziologie und Sozialpsychologie, 31: 611-638.

Stagl J. 1995. A history of curiosity: the theory of travel, 1550-1800. Chur: Harwood Academic.

Tagg, J. 1988. The burden of representation: essays on photographies and histories. Amherst: University of Massachusetts Press.

Valentyn, F. 1971-1973. Beschryvinge van de Kaap der Goede Hoope met de zaaken daar toe behoorende. 2 vols. Kaapstad: Van Riebeeck Vereniging.

Van Beek, P. 2000. Een vergeten Kaaps meisje: de vrouwenschrijver Petronella Camijn en haar vergeten zusters in Zuid-Afrika. Neerlandica extra muros 27(2): 6-20.

Van Niekerk, A. 1994. Vroue-vertellers, 1843-1993. Kaapstad: Tafelberg.

Van Schoor, M.C.E. 1999. John Daniel Kestell as historikus. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 39(3/4): 382-403.

Vos, M.C. 1824. Merkwaardig verhaal aangaande het leven en lotgevallen van Michiel Christiaan Vos, Als predikant der hervormde christelijke gemeente op onderscheidene plaatsen in Nederland, Afrika en Azië; van zijne Jeugd af tot den tijd van zijn Emeritusschap: door hem zelven in den jare 1819 briefsgewijze aan eenen vriend medegedeeld. Amsterdam: A.B. Saakes