Letterkunde

Loraine Prinsloo, Universiteit van KwaZulu-Natal

Loraine Prinsloo het in 2007 haar MA-graad behaal aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (Durban) onder die studieleiding van Dr Andries Visagie. Die titel van die MA-verhandeling is Marlene van Niekerk se Agaat (2004) as ’n postkoloniale plaasroman.

In 2008 verskyn die artikel: Die representasie van die bruin werker as die ander in Marlene van Niekerk se postkoloniale plaasroman Agaat (2004), waarvan sy mede-outeur is, in STILET.

’n Tweede artikel: Grondbesit in ‘n postkoloniale plaasroman: Marlene van Niekerk se Agaat (2004), waarvan sy ook mede-outeur is, verskyn in 2009 in die TYDSKRIF VIR LITERATUURWETENSKAP.

Grondbesit in ’n postkoloniale plaasroman: Marlene van Niekerk se Agaat (2004)

[Landownership in a postcolonial farm novel: Agaat (2004) by Marlene van Niekerk]

Abstract
Marlene van Niekerk’s Agaat (2004) can be read as a postcolonial farm novel which pays particular attention to the role of women, the representation of coloured farm workers as well as issues relevant to landownership in South Africa. In Agaat the question of landownership is foregrounded when Agaat, a coloured woman, becomes the owner of the farm Grootmoedersdrift and when Jakkie, the only son of the white woman farmer Milla de Wet, returns to Canada to resume his work in ethnomusicology. Agaat presents a problematisation of the influence wielded by landownership on the identity of the farmer, as Milla, who dearly loves her farm, also claims the farm to achieve her emancipatory objectives as a woman. Furthermore, Jakkie’s willing relinquishment of his claim to landownership, contributes towards a problematisation of the identity formation of the Afrikaner farmer and his/her descendants in the farm novel. In contrast with the situation in the older farm novel, for Jakkie, landownership is no longer a defining identity marker. This article on landownership and, particularly, the relation between landownership and the identities of both Milla and Jakkie de Wet in Agaat, also assesses the contribution of Marlene van Niekerk’s novel to the development of the Afrikaans farm novel within a postcolonial context.

Opsomming
Marlene van Niekerk se Agaat (2004) kan as ’n postkoloniale plaasroman gelees word wat spesifiek aandag skenk aan die rol van vroue, die representasie van gekleurde plaaswerkers asook aan kwessies oor grondeienaarskap in Suid-Afrika. In Agaat staan grondeienaarskap in die brandpunt wanneer Agaat, ’n bruin vrou, die eienaar van die plaas Grootmoedersdrift word en Jakkie, die enigste seun van die wit vroulike boer Milla de Wet, na Kanada terugkeer om sy werk as etnomusikoloog te hervat. Agaat problematiseer die invloed wat grondbesit op die boer se identiteit het deurdat Milla, wat weliswaar ’n liefde vir die plaas koester, die plaas ook gebruik om haar emansiperende doelwitte as vrou te bereik. Ook die feit dat Jakkie die reg tot grondbesit prysgee, dra by tot ’n problematisering van identiteitsvorming by die Afrikanerboer en sy/haar nageslag in die plaasroman: anders as in die geval van die ouer plaasroman is grondverbondenheid by Jakkie nie meer ’n bepalende identiteitsmerker nie. Hierdie artikel oor grondeienaarskap, en spesifiek die verhouding tussen grondeienaarskap en die identiteite van sowel Milla as Jakkie de Wet in Agaat, neem ook die bydrae van Marlene van Niekerk se roman tot die ontwikkeling van die Afrikaanse plaasroman binne ’n postkoloniale konteks in oënskou.

1. Inleiding

Die belangrikste vernuwing wat Marlene van Niekerk se Agaat (2004) in die representasie van grond en grondbesit in die Afrikaanse plaasroman bring, vind veral op die gebied van erfopvolging en grondbesit plaas wanneer die karakter Jakkie de Wet die grond van sy voorgeslagte aan die subalterne bruin karakter, Agaat Lourier, oordra. In Agaat word ’n aantal situasies gerepresenteer wat tiperend is van die postkoloniale plaasroman in Suid-Afrika.

Ashcroft, Griffiths en Tiffin (1989: 2) se breë omskrywing van die postkoloniale literatuur as die letterkundes van al die kulture wat geaffekteer is deur die imperiale proses van die aanvang van kolonisasie tot vandag toe, is in 1996 deur Louise Viljoen verfyn in ’n artikel waarin sy besin oor die relevansie van hierdie omskrywing vir die Afrikaanse literatuur. Die Afrikaanse literatuur het naamlik in sy beginstadium gefunksioneer as medium waarin die politieke stryd van die Afrikaners gevoer is teen veral Engelse oorheersing, en dit kan dus as ’n vorm van opposionele postkolonialisme beskou word. Terselfdertyd is ander, spesifiek bruin en swart mense, egter uitgesluit en sodoende het die Afrikaanse literatuur ’n koloniserende uitwerking gehad (Viljoen, 1996: 163). Afrikaans was die taal van die politieke party (die Nasionale Party) wat vanaf 1948 tot 1994 aan bewind was en wat as onderdrukkers opgetree het teenoor mense van kleur, dit wil sê as voortsetters van die koloniale ideologieë. Institusioneel en inhoudelik beskou, het die Afrikaanse literatuur dus tot 1994 ’n ambivalente aard gehad wat sowel koloniale medepligtigheid as koloniale viktimisering veronderstel het. Streng gesproke is dit alleenlik die Afrikaanse literatuur wat sedert 1994 verskyn het wat op ’n minder problematiese manier as postkoloniaal bestempel kan word.

Een van die prominentste postkoloniale diskoerse in Agaat is grondbesit omdat Agaat as moontlike afstammeling van die Khoi, wat Grootmoedersdrift vóór Milla de Wet se voorsate besit het, die eienaarskap van die grond ontvang. Die plaasruimte wat in vroeë of normatiewe plaasromans as ’n patriargale ruimte uitgebeeld is, word in Agaat verder omskep in ’n matriargale ruimte. Op Grootmoedersdrift bring Milla en Agaat naamlik ’n intiem vroulike boerderygemeenskap op die been. Met die komplekse verhouding tussen Milla en Agaat word die feminisme in ’n postkoloniale verskyningsvorm betrek by die roman. Die globale konteks word ook betrek wanneer Jakkie homself vestig in Kanada, ’n verwysing na die feit dat Afrikaanssprekendes nie meer net ’n agrariese bevolkingsgroep is nie, maar ook wêreldburgers en stedelinge is.

Die diskoers oor grond in Van Niekerk se roman gaan dus oor veel meer as net die grond self en betrek ook magsverhoudings, die bevordering van magsposisies en die konstruksie van identiteite. Kwessies oor grondbesit soos plaasaanvalle, grondhervorming en grondeise is deel van die omstrede realiteite van die postkoloniale era in Suider-Afrika en word dikwels in die media aangeraak. Grondhervorming en grondeise ontvang nie net in Suid-Afrika aandag nie maar ook elders in die wêreld soos in Suid-Amerika en Zimbabwe (sien Brown, 2006) om mense wat onregmatig van hulle grond af verdryf is, weer woonreg op daardie grond te gee.

Na aanleiding van die prominensie wat grond en grondbesit in die postkoloniale era geniet, sal hierdie artikel fokus op verskynsels soos grondbesit en identiteit; erfopvolging; die stad-plaas-konflik en globalisering soos gerepresenteer in Agaat as ’n postkoloniale plaasroman. Eerstens word daar gekyk na grondbesit en identiteit en hoe grondbesit die identiteit van Milla en haar seun Jakkie beïnvloed. Daarna sal die fokus verskuif na erfopvolging om ten slotte die mening te staaf dat Agaat as postkoloniale plaasroman belangrike vernuwing bring in die literêre representasie van grond en grondbesit.

2. Grondbesit in Agaat

Die debat oor grondbesit wat in eietydse postkoloniale gemeenskappe gevoer word, verskil van die diskoers oor grond wat tydens die skryf van die vroeë of dan normatiewe plaasromans geheers het. Een duidelike kwessie wat belangrik geword het in die postkoloniale era is dié van grondhervorming, asook die verhouding tussen stad en plaas (sien Van Coller 2006) wat nou wyer uitkring om ook die verhouding tussen die plaas en die globale gemeenskap in te sluit. Dit is van belang om te let op aspekte soos grondverbondenheid, erfopvolging, arbeid en inligting oor die boerdery en boerderymetodes, sowel as die invloed van grond en grondbesit op die boer se identiteit, wat deurlopend in die geskiedenis van die Afrikaanse plaasroman teenwoordig is en ook in Agaat neerslag vind. Sarah Nutall (1996) beskryf Afrikaners se verbondenheid met grond as ’n eienaarskapsverhouding en sê: “the majority [...] have asserted a sense of belonging in the land; more than an instrumentalist view of the land, they have asserted a relationship to the land for its own sake” (Nutall, 1996: 220). Hiermee sê Nutall dat die Afrikaner sedert die koloniale besitname van grond, ’n verhouding of band gevorm het met die grond. Hierdie aspek wat Nutall aanroer, is veral van belang in die normatiewe plaasromans waarin die boer se grondgebondenheid prominent is.

Tematiese verskynsels uit die ouer plaasliteratuur, soos byvoorbeeld grondverbondenheid, word by Agaat ingesluit om ’n andersoortige effek in die narratief te bewerkstellig as by die normatiewe plaasromans. Vervolgens sal grondbesit en identiteit in Agaat bespreek word deur veral twee karakters, naamlik Milla en Jakkie, se verhouding met die grond te ondersoek. Daar sal ook deurgaans verwys word na Ampie Coetzee (2000) se belangrike werk oor grond en die plaasnarratief; trouens Coetzee se werk kan beskou word as ’n interteks by die studie van Agaat.

2.1 Grondbesit en identiteit

Volgens Ampie Coetzee (2000: 118) is die kwessie van identiteit van belang in feitlik “elke moderne plaasroman” en ook in postkoloniale studies speel identiteit ’n belangrike rol. J.M. Coetzee (1988: 6) toon aan hoe die plaas uitgebeeld is as die natuurlike milieu van die Afrikaner en dat die persepsie geheers het dat die plaas die enigste plek is waar die Afrikaner se identiteit optimaal tot verwesenliking kon kom. Dit is as grondeienaars dat die Afrikaners selfverwesenliking en ware geluk kon ervaar en die illusie kon huldig dat hulle deel vorm van ’n bloedlyn wat teruggestrek na ’n mitiese gedeelde verlede – afstand is gedoen van individualiteit ten gunste van ’n transindividuele identiteit. In die vroeë Afrikaanse plaasromans is identiteit dus onlosmaaklik gekoppel aan grondbesit.

Hierdie “transindividualiteit” waarvan J.M. Coetzee praat, het te make met die geykte beeld wat van die boer gevorm is, waarvolgens die boer en sy grond sinoniem geword het met mekaar as ’n eenheid en as ’n simbool van Afrikanerskap. ’n Rede hiervoor is dat die boer se identiteit in die verlede gekoppel is aan die grond waarop hy boer omdat hy vir lank op sy grond geleef het, “en lank gestreef [het] om een met die grond te word, sodat die persepsie bestaan of bestaan het, dat grond en identiteit sinoniem is” (Coetzee, 2000: 14).

2.1.1 Milla

Volgens Wasserman (2000: 33) is die verband tussen grondbesit en identiteit alreeds in die vroeë plaasromans te siene en die vereenselwiging van identiteit met die plaasruimte dien in meer resente tekste as die grondslag vir die tekstuele herbesoek aan die plaasromantradisie. Oor die verband tussen grondbesit en die identiteit van die boer sê Wasserman dat die karakters in Marlene van Niekerk se vroeër werk, Triomf, hulle identiteit by hulle voorsate soek en ter illustrasie haal hy aan uit Triomf:

‘’n Boer bly maar ’n boer. The more things change, the more they stay the same’ (1994: 114). In hierdie tekstuele herbesoeke is daar dikwels ’n verbintenis tot die fragmentasie van die subjek wat in die vroeë plaasromans gekonstrueer is. Die herskrywings van die plaasroman is [...] eerder ’n versteuring van die veronderstelde eenheid van plaas en identiteit (Wasserman, 2000: 33).

In Agaat is daar ook ’n versteuring van die eenheid van die plaas en identiteit en word die idee van grondbesit wat aan identiteit gelykstaande is eerder geproblematiseer as onbetwis voortgesit.

In verskeie plaasromans word die verskillende fasette van identiteit en grond ondersoek. Coetzee let op hoe oom Sybrand, as patriarg in Laat vrugte van C.M. van den Heever, se obsessie met vooruitgang nie slegs beteken om suksesvol te boer nie, “maar om ook ‘iets’ te hê wat omgesit kan word in geld, as verteenwoordiger van waarde” (Coetzee, 2000: 60). Vir oom Sybrand konstrueer die sukses van die boerdery op sy grond ’n identiteit waardeur hy sy besittings en geld koppel aan sy eie menswaardigheid. By Milla is die strewe na ’n suksesvolle boerdery egter nie bloot gegrond op geldgierigheid nie, maar is dit dieper gewortel in die soeke na aanvaarding en terselfdertyd ’n hunkering om ’n soort vroulike onafhanklikheid te verkry en ’n boerderygemeenskap te vorm met haar en Agaat wat aan die stuur van sake is.

In Agaat word die komplekse verband tussen Milla se identiteit en grondbesit dus geproblematiseer. Eerstens wil Milla aan haar ma bewys dat sy die matriargale sukses van die boerdery kan voortsit en tweedens wil Milla aan die res van die gemeenskap bewys dat sy as vrou wel ’n sukses van haar plaas Grootmoedersdrift (soos Milla self sê op p. 154: “dit is my plaas. Dit is Grootmoedersdrift”) kan maak. Wanneer haar man Jak tot sterwe kom, werk Agaat en Milla hand-aan-hand om ’n matriargale boerderygemeenskap tot stand te bring. Grondbesit en identiteit is dus onlosmaaklik verbind in Agaat, maar hier beïnvloed die sukses van die boerdery die boer se opvatting van die self en word daar ’n vroulike boerdery geskep.

Vir Milla is die boerdery ’n uitdaging wat deur haar ma aan haar gestel is. In ’n vermaning aan Jak wys sy hom daarop dat boerdery in Milla se bloed is en indien hy nie daarmee kan saamleef nie, hy maar “gerus eenkant kan staan”, want dan is hy “net ’n oorlas vir ander” (31). Met hierdie woorde gee Milla se ma indirek aan haar dogter die opdrag om as vrou ’n sukses van die boerdery te maak.

Milla se ma laat haar ook as kind voor die portret van haar “oeroergrootjie” staan en sê dan aan haar dat dit die vrou was wat Grootmoedersdrift aanmekaargeboer het en dat dit eendag Milla se plaas sal wees (294). Die verwysings na Hendrik Swellengrebel, wat die Verenigde Oostindische Compagnie se goewerneur van die Kaapkolonie was tussen 1739 en 1750, en na Kamilla se oeroergrootjie beklemtoon dat Milla se voorgeslag ’n koloniale geskiedenis het. Coetzee (2000: 55-56) merk tereg op dat die besit van grond in die plaasroman deur die afstammelinge van die koloniseerders ’n sentrale realiteit geword het, “hoewel daar nie ’n direkte historiese kontinuïteit tussen die koloniale ruilhandel en die verkryging van grond” is nie. Daar word nie in Agaat direk verwys na die koloniale besitname van die grond nie, maar dit word gesuggereer deur die verwysing na die voorgeslagte.

Verder wil Milla haar nie net aan haar ma bewys nie maar ook aan haar neefs aan moederskant omdat hulle almal voorgegee het dat hulle nie Grootmoedersdrift wou gehad het nie. Hierdie poging om haarself te bewys, het egter niks daarmee te make om aanvaarding te kry by haar neefs nie, maar het eerder ’n feministiese motivering. Milla som die neefs se gevoel teenoor Grootmoedersdrift op wanneer sy sê dat sy die enigste kind en erfgenaam van haar ma was en dat haar plaas die meeste uitdagings inhou en dat ten spyte hiervan Milla se “grondhonger neefs” Grootmoedersdrift begeer het “soos niks anders op die wêreld nie” (35-36). Vir Milla beteken die plaas dus dat sy as vroulike boer haarself kan bewys as beter as haar manlike eweknieë en dat sy net soos haar ma ’n suksesvolle boerdery sal kan behartig. Haar man Jak vervul in ’n hoë mate ’n ornamentele funksie en moet verseker dat Milla se bloedlyn voortgesit word. Daar vind dus ’n feministiese omkering plaas: in die plek van die stereotipiese patriarg uit die normatiewe plaasliteratuur wat sy vrou bloot vir voortplanting aanhou, word Jak in Agaat die aanhangsel wat daarvoor moet sorg dat Milla deur haar nageslag ’n aanspraak op die grond kan behou. Soos Marlene van Niekerk (2008) egter in ’n lesing aandui, word Milla se aanspraak op die grond deur middel van ’n nageslag verder gekompliseer wanneer Agaat vir Jakkie by Milla “steel” en hy uiteindelik van sy familie, van Agaat en van sy erfgrond vervreem word.

Daar kan gesê word dat Milla nie net die grond besit nie, maar dat sy deur die grond besit word omdat sy so afhanklik is van die sukses van die plaas. Volgens Wasserman (2000: 40) en Ashcroft et al. (1998: 180) kan die siening dat ’n gebied nie besit word deur ’n mens nie, maar dat die mens besit word deur ’n gebied, ’n aspek wees waar postkoloniale benoemings van ’n plek kan verskil van koloniale diskoerse (Wasserman, 2000: 40). Wasserman (2000: 40-41) verduidelik dit soos volg: “In teenstelling tot die imperiale diskoers van eiendomsbesit, verkry ’n bepaalde plek in so ’n postkoloniale diskoers betekenis as ’n uitbreiding van die persoonlike bewussyn [...] Plek en die subjek is nou verweef met mekaar, in ’n voortdurende dialektiek”. In Agaat is die plek en die subjek nou verweef met mekaar en vorm Milla en Agaat deel van die plek, net soos wat die plek deel vorm van hulle persoonlike bewussyn. Soos die dubbelsinnige titel van Milla se plaas, Grootmoedersdrift, aandui, is sowel Milla as haar boerdery die produk van ’n oorgeërfde matriargale drif of begeerte vir voortbestaan. Hierdie voortbestaan verwys na die bestaan wat hulle op die grond maak en na die seksuele drif waarmee ’n nageslag verwek word om die grond in die toekoms te bewerk. Dit is met drif dat Milla vir Jak op die plaas tot seksuele oorgawe en voortplanting verlei, en wanneer Jak se funksie binne sy vrou se ambisies uitgedien is, verongeluk hy betekenisvol genoeg in die drif op Grootmoedersdrif.

Nuttall let daarop dat daar ’n verband is tussen “taking of the land” en “taking a woman”. Sy stel dit soos volg: “ ‘Taking of the land’, [...] borrows its phraseology from that other hallmark of masculine conquest, ‘taking a woman’” (Nutall, 1996: 220). In Agaat word hierdie manlike verowering van grond en daarby die verowering van ’n vrou omgekeer, omdat dit Milla is wat haar erfgrond in haar besit neem en daarby ook besit wil neem van Jak wanneer sy met hom trou. Jak se funksies word gereduseer tot dié van ’n soort “stoetbul” (361) en ’n handlanger met die boerdery.

Milla maak ook gebruik van metafore wat verband hou met die grond en die natuur om haarself uit te druk. Wanneer sy wil skryf, gebruik sy die verwysings na die natuur as aanknopingspunt:

Ek maak my op. Ek soek in my na aangrypingspunte. Raaigras, klaaslouwbos, watteltakke om my te anker teen die afgrond. Kanniedode. Ek voel in my. Daar is nog vegetasie, daar is water, daar is grond. Om te begin het ek ’n aanloop nodig. Die aanloop is net so belangrik soos die daad self (18-19).

Met die verwysing na die aanwesigheid van vegetasie, water en grond, noodsaaklike elemente in boerdery, wil Milla sê dat daar nog lewe in haar is. Milla wil ook met die verwysing na plant- en boomsoorte soos die wattel, wat sterk gevestigde wortels het, sê dat sy gewortel is in haar plaas. Milla toon dus blyke van grondverbondenheid met die plaas en natuur wat deel vorm van haar. Grondbesit beïnvloed ook haar identiteit, maar terselfdertyd wend sy die grond aan in haar feministiese agenda om haarself as vroulike boer te bewys.

2.1.2 Jakkie

In teenstelling met sy ma wil Jakkie juis wegbreek van die invloed van die grond wat bande onderhou met die nasionale identiteit waarteen hy in opstand kom. In aansluiting by J.M. Coetzee wys Viljoen (1998: 75) daarop dat Afrikaanse skrywers in die verlede verbande gelê het tussen landskap en nasionale karakter of identiteit sodat die besitreg van “die volk op die grond as natuurlik voorgehou kan word”. In baie van die “moderne” plaasromans is daar volgens Ampie Coetzee (2000: 118) direkte verwysings na identiteit of dat kwessies van identiteit eksplisiet betrek word in die ontwikkeling van ’n karakter of volk. So wil Kobus, die hoofkarakter in ’n Lug vol helder wolke (Karel Schoeman, 1967), net soos Jakkie in Grootmoedersdrift hom distansieer van die eenvormige identiteit wat op die plaas geskep word. Kobus breek weg van die wette en die voorskriftelikheid “van ’n aanvaarding van ’n lewe sonder protes […]. Dit is dan sy identiteit. Om nie identies te wees nie. ’n Identiteit van anders-wees.” (Coetzee, 2000: 122).

Jakkie wil hom ook losmaak van die politieke eenvormigheid wat nie net op die plaas neerslag vind nie, maar wat deur die breë wit Suid-Afrikaanse gemeenskap ondersteun word. Svend Erik Larsen (1997: 284) voer aan dat landskap aanvanklik gesien is as deel van God se skepping en ook as ’n gebied wat binne die grense geval het wat deur wetgewing bepaal is. Vir Larsen het hierdie twee opvattings die oortuiging tot gevolg gehad dat ’n nasionale identiteit as ’t ware vanuit die grond ontspring het (Larsen, 1997: 284). Jakkie vind sy oplossing deur die land te verlaat – die stad-plaas-spanning kring uit as ’n spanningsverhouding tussen die plaas en die globale gemeenskap. Vir Jakkie is dit nie belangrik om suksesvol te boer sodat die De Wets se familienaam en identiteit verseker word nie. Net voor sy vertrek van Grootmoedersdrift om na Kanada uit te wyk, beskryf hy die boerderygemeenskap en die land soos volg:

Ek kots daarvan, van hierdie patetiese lot wat hulleself vertel hulle is met ’n doel hier aan die Suidpunt gesit en hulle stel iets groots voor in die stoet van nasies. O wye en droewe land bla bla bla met vlag en Skrif en trompet. Dis siek! Siek! Dis beter dat ek weggaan voor ek iets ergs doen. Hy is pateties, my pa. My ma ook, sy is ook pateties. Hulle hóú mekaar pateties die twee, met al hulle geleerdheid en rykdom. Die hele gemeenskap hier met hulle teelstoete en taalstoete en kerktorings en ystervuiste. Wie dink hulle is hulle? Blind en doof teen die hele wêreld? Hoe lank moet dit nog aangaan? (611).

Vir Jakkie is dit egter nie die landskap wat hom van Suid-Afrika af wegdryf nie, maar die manier hoe die land met ’n “ystervuis” bestuur word deur die Afrikaner-regering en hy lewer kommentaar oor die enggeestige lewens van Afrikaners wat volgens hom onbewus is van die res van die wêreld. Met die verwysings na “teelstoete”, “taalstoete”, “kerktorings” en “ystervuiste” lewer Jakkie kommentaar op die Afrikaners se oordrewe fokus om die voortbestaan van die Afrikanervolk te verseker; ’n volk wat volgens hom leef vir die behoud van die Afrikaanse taal en die kerk, maar wat nie bewus is dat daar ’n lewe buiten hulle eie Afrikaner-milieu is nie. Die verwysings na hierdie woorde van Jakkie herinner ook aan Ampie Coetzee (2000: 9-10) wat aanvoer dat met die

institusionalisering van apartheid deur ’n Afrikaner-regering [...] boer Boer geword [het] en ’n besliste ideologiese verbintenis gekry [het] met polisie, weermag, mag. Dit alles het op die plaas begin, daarom is dit ’n diskoers wat ’n mens ernstig moet opneem, veral sedert geskiedskrywers die idee gevestig het dat die begin van die plaas, die besit van grond, die begin van die Afrikaner was.

Dit is dus nie verregaande om te beweer dat die identiteit van die boer in normatiewe plaasromans, dit wil sê veral die vroeë plaasromans, gelykgestel is aan grondbesit nie (Ampie Coetzee, 1996: 136). Die identiteit van die boer as grondbesitter het ’n simboliese voedingsbron vir Afrikanernasionalisme geword en dit is onder meer teen hierdie simboliese voorstelling van die boer en sy grond dat Jakkie hom verset.

In Agaat word die invloed wat grondbesit op die boer se identiteit het, geproblematiseer omdat Milla weliswaar ’n liefde koester vir die plaas, maar ook die plaas gebruik om haar eie emansiperende doelwitte te bereik. Ook die feit dat Jakkie die reg tot grondbesit weggee, omdat hy voel dat hy nie in Suid-Afrika met sy ideologiese belasting kan woon nie, dra by tot die problematisering van identiteitsvorming in Agaat as postkoloniale plaasroman.

2.2 Erfopvolging: van wit besit na bruin besit

In Agaat word die voortsetting van die koloniale patroon van grondoordrag verbreek wanneer die grond oorgaan van wit besit na bruin besit. In die koloniale tye is grondeienaarskap toegestaan

ooreenkomstig die wette van die koloniseerders, met miskenning van die gebruike van die indigeen. Daarna, en in die oorerwing van geslag tot geslag, het ’n natuurlike reg die besit van die plaas verewig. Die patriarg het daarvoor betaal met bloed, nie met geld nie; dit is gekap uit bos, verdedig teen barbare, makgemaak vir bewoning […]. Die plaas het uiteindelik meer geword as net ’n materiële besitting (Ampie Coetzee, 2000: 13).

Omdat die persepsie daar was dat die boer iets uit die grond opgebou het, het die grond ’n kosbare besitting geword, ’n besitting wat die boer se menswees beïnvloed het en daarom in die familie of bloedlyn behoue moes bly.

Volgens Ampie Coetzee het die konsep van grond verander sedert die vroeër plaasromans waarin kwessies soos onteiening en ekspropriasie nie in die tekste neerslag gevind het nie en dus nie aangeraak is nie (Coetzee, 2000: 14). Die diskoers oor grond en grondbesit “en die plaasroman kring dan uit tot ’n veel groter diskoers: van politieke mag, van tekste as deel van die konstruksie van ’n hegemonie van Afrikaner-nasionalistiese heerskappy” (Coetzee, 2000: 14).

In die postkoloniale terugskrywing oor die plaas word daar baie aandag geskenk aan kwessies oor grondbesit, soos byvoorbeeld grondhervorming. In beide Agaat en Disgrace van J.M. Coetzee, ’n voorbeeld van ’n Engelstalige postkoloniale plaasroman, word die plaas uiteindelik aan die werker gegee . Ook in Horrelpoot van Eben Venter (2006) word die familieplaas aan die swart plaaswerkers wat vroeër vir die wit eienaars gewerk het, oorhandig . Daar kan dus gesê word dat die kwessie van grond en grondhervorming tans baie aandag geniet in die Suid-Afrikaanse letterkunde, veral sedert die implementering van Die Wet op die Herstel van Grondregte, Wet nommer 22 van 1994 ingevolge die grondwet. Hierdie wet is ontwerp om diegene wat op die basis van die diskriminerende wette van die Naturellegrond-wet van 19 Junie 1913 onregmatig van grond ontneem is, te vergoed en poog om met behulp van grondhervestiging rasseongelykhede uit te skakel. Verder verduidelik die wet wat met “herstel” bedoel word, wie kwalifiseer asook hoe eise ingedien moet word, maar is egter nie sonder omstredenheid soos in die media aangetoon word nie (Ampie Coetzee, 2000: xiii). In postkoloniale plaasromans is erfreg problematies en word daar gevra wat die aard van die plaaswerker se aanspraak op grondbesit is aangesien die werker net soveel, en selfs meer arbeid as die boer verrig.

Oor grondbesit vra J.M. Coetzee in die inleiding tot sy boek White Writing (1988: 11): “Was there no time before the time of the forefathers, and whose was the land then? Do white hands truly pick the fruit, reap the grain, milk the cows, shear the sheep in these bucolic retreats? Who truly creates wealth?” Hierdie vraag kom ook by die leser van Agaat op wanneer daar gesuggereer word dat Grootmoedersdrift oorgaan in bruin besit. Aan die einde van die verhaal kan daar gevra word: “verdien Jakkie die plaas of Agaat?” en arbeid kan dan as maatstaf gebruik word om te bepaal wie ’n meer legitieme reg op die grond het.

Voordat daar gesuggereer word dat Jakkie Grootmoedersdrift aan Agaat sal bemaak, is dit al duidelik dat Agaat besit geneem het van die plaas in terme van beide die arbeid wat op die plaas verrig word en haar gesag oor die werkers. Daar is verskeie voorbeelde van hoe Agaat beheer neem van situasies soos die rampe waarna vroeër verwys is. Wanneer Agaat die werkers se samewerking op die plaas wil hê ter voorbereiding van Jakkie se verjaarsdagfees op die plaas, soos om byvoorbeeld die tuin op te knap, preek sy vir hulle saans by die strooise. Milla beskou Agaat se preke as:

’n Soort opwekkingspreek [...] op die trant van die uitgesaaide dienste op die radio, vol vaderlandse spelings en beswerings van die vyand. ’n Set was dit, het jy geweet, sy wou hulle samewerking kry vir die voorbereidings vir die fees. [...] Bedags het sy hulle gedryf, saam met die ekstra arbeiders, mans en vrouens wat Jak aan haar toegestaan het en betaal het om die tuin op te tooi vir die fees. [...] Soos haar voorman het hy [Jak] homself opgestel (563).

Agaat se nabootsing van die uitgesaaide dienste en daarby ook die vrygewigheid met drank (’n verwysing na die stereotiperende opvatting dat bruin plaaswerkers van drank hou en hulleself daaraan sal vergryp) word aangewend om die werkers te manipuleer sodat daar ekstra hard gewerk sal word op die plaas om die plaas te omskep as ’n lus vir die oog.

Andries Wessels (2006) toon verder aan dat Agaat die logiese erfgenaam is omdat Jakkie nie wil boer nie en ook omdat sy die vroulike dinastie sal voortsit. Wessels (2006: 42) stel dit soos volg:

Jakkie, die wettige erfgenaam van Grootmoedersdrift, maar uit die aard van die saak buite die verband van die ‘weg van die vroue’, verlaat Suid-Afrika om hom in Kanada te vestig en die plaas gaan oor in die hande van Agaat. Op die persoonlike, intieme vlak is sy die logiese erfgenaam in die vrouedinastie van die plaas, maar op die breër polities-nasionale vlak dui haar besitneming noodwendig en gepas op die aanbreek van ’n nuwe bedeling.

Agaat bring dus vernuwing in die tradisie van die plaasroman deurdat grondbesit verskuif uit die hande van die wit en voorheen koloniale grondeienaars na die hande van die voorheen subalterne bruin werker. Sodoende word die diskoers oor grondbesit binne ’n postkolonialistiese raamwerk geplaas.

Met betrekking tot die oorgang van koloniaal na postkoloniaal wat neerslag vind in die diskoers oor grondbesit wys H.P. Van Coller (2003: 65) op die teenwoordigheid van bepaalde koloniale magsverhoudinge in tradisionele plaasromans, onder meer die hiërargiese posisie van die wit plaaseienaar bo al die ander karakters (sy vrou, kinders, bywoners, knegte en arbeiders) wat ’n ondergeskikte plek beklee. Oor die arbeider Petrus in Disgrace, waarin J.M. Coetzee die oorgang van koloniaal na postkoloniaal dramatiseer, sê Van Coller (2003: 65) verder dat Petrus ontwikkel van arbeider tot bywoner, buurman en uiteindelik eienaar van die kleinhoewe. In Agaat problematiseer Van Niekerk die ontwikkeling van Agaat tot grondeienaar omdat Agaat aanvanklik die rol as dogter vervul waarna sy gereduseer is tot huishoudster en verpleegster wat ook namens Milla boer en eers na laasgenoemde se dood die plaaseienaar word. Deur die voortbestaan van besliste kontinuïteite tussen Milla en Agaat as matriargboere word die indruk geskep dat die borde nie bloot verhang word wanneer die werker die baas word nie.

Al word daar nie aan Jakkie, soos wat daar aan Kobus in Karel Schoeman se ’n Lug vol helder wolke gesê word, dat hy ’n plig het teenoor sy hele familie, nageslag en sy pa om die grond in die familie te hou nie, word die kwessie van erfopvolging tog aangeraak in Agaat. Die plaasroman, wat meestal ’n familieroman van die Afrikaner is, is gesentreer rondom die optrede van die patriarg soos te sien is in Kroniek van Perdepoort (Anna M. Louw, 1975), Toorberg (Etienne van Heerden, 1986), Die stoetmeester (Etienne van Heerden, 1986) en Foxtrot van die vleiseters (Eben Venter, 1993), waarin erfopvolging besondere aandag ontvang (Ampie Coetzee, 2000: 115). ’n Moontlike rede hoekom Jakkie nie gedwing word om die plaas te behou vir sy nageslag nie, kan wees omdat die verhaalgegewens in Agaat nie gesentreer is rondom die patriarg nie. Jak se vroeë dood kan ’n rede wees hoekom die kwessie van erfopvolging geen prominensie in die roman verkry nie. Jakkie word dus nie deur sy pa gedwing om te verseker dat die plaas in die hande van die Redelinghuys-De Wet-familie bly nie, wat wel die geval is in normatiewe plaasromans sowel as in party van die kontesterende plaasromans. Daar is wel sprake van Milla wat, sodra sy trou, haar plaas afkomstig van moederskant ontvang. Grondbesit in dié roman is dus nie net die voorreg van mans nie maar ook van vrouens, soos Milla, haar ma en Agaat.

Jakkie as man sou ook die vroulike opvolgingsdinastie versteur het, indien hy die grond in sy besit sou gehou het, soos wat Andries Wessels aantoon (2006). Alreeds vroeg in die roman word Milla se erfreg ook beklemtoon. Wanneer Milla en Jak by haar ouers gaan eet, net voor hulle die eienaars van Grootmoedersdrift word, onthou sy die volgende:

Dit was haar [die moeder van Milla se] erfgrond van geslagte terug aan moederskant, van die Steyns en die Spiese se kant. Dit was hulle wat volgens haar die wildevyeboomlaning daar geplant het en die opstal se fondamente met rooikatrieme uitgelê het. Mens gooi nie jou lewensreg weg nie, het jou ma vir Jak gesê, dit is wat jou voorsate tot stand gebring het met bloedsweet, dit pas jy op en dit leef jy na. [...] ‘Dit was mense wat bosse moes plat kap en klipmure moes stawel. Daar was nie tyd vir bog en soetsappighede nie’ [...] Dit was jou ma se geliefde uitdrukking (30-31).

Die uitdaging wat daar aan Milla gestel is om ’n sukses van Grootmoedersdrift te maak, is klaarblyklik nooit aan Jakkie gestel nie. Hier is Ampie Coetzee (2000) se ’n Hele os vir ’n ou broodmes. Grond en die plaasnarratief sedert 1595 ’n opvallende interteks, spesifiek waar hy Laat vrugte van C.M. van den Heever bespreek. In Coetzee se werk verwys hy na ouma Willa in Laat vrugte wat lewensreg op haar seun Sybrand se plaas het. Volgens Coetzee (2000: 58) is sy meedoënloos teenoor haar kinders omdat sy wil hê dat hulle die plaas wat hulle sou erf, moet oppas. Coetzee skryf verder die volgende:

Humorloos en onsentimenteel is sy, want:
Vir mense wat stukke bosse moes plat kap, eindelose kraalmure moes stawel [...] was daar nie tyd vir bog, vir soetsappigheid nie. As mens nie kon vasvat, hou vir hou raakslaan nie, dan moes jy maar gerus eenkant toe staan, want dan deug jy nie meer nie, dan is jy net ’n oorlas vir ander ... (C.M. van der Heever, 1958: 35).

Omdat daar gestry is vir die grond het dit besit geword, en moet dit van geslag tot geslag binne die familie bly. Dit gee identiteit en betekenis aan die geslag (Coetzee, 2000: 58-59).

Die eggo van ouma Willa se sentimente word feitlik woordeliks herhaal in Milla se ma se woorde waarna hierbo verwys is (dit wil sê: “Dit was mense wat bosse moes plat kap en klipmure moes stawel”, 31). Vir Milla se ma gaan die besit van grond juis hieroor dat dit bewaar en opgepas moet word. Hierdie opvatting stem grootliks ooreen met die strekking van normatiewe plaasromans soos Laat vrugte. Die sterk vrouekarakters in Agaat is duidelik die nakomelinge van sterk vroulike figure soos ouma Willa as ’n voorbeeld van ’n matriarg-boer in die ouer plaasliteratuur, met die belangrike verskil dat hulle nie meer soos ouma Willa randfigure in die narratief is nie.

Dit is egter interessant dat Milla en haar ma die feit verswyg dat Grootmoedersdrift waarskynlik eers in Khoi besit was voordat hulle oeroergrootjie die grond “makgemaak” het en in haar besit geneem het. Agaat se Lourier-familie, wat moontlik afstammelinge is van die Khoi, se woonomstandighede wanneer die grondbesit in wit hande is, is taamlik haglik. Wanneer Milla Agaat (toe nog Asgat) by die Louriers gaan haal, beskryf sy hoe daar ’n “babelaasstilte” en “’n stank van uitwerpsels” was wat oor die volkshuise gehang het, met maer honde wat rondlê met vlieë in hulle oë (680). Milla se beskrywing hieronder dui verder ook aan hoe vuil en verarm die Louriers se woning was:

Die agterdeur was halfoop maar jy het voorom geloop om in te gaan, jy het geklop en gewag en toe die knop gedraai en die deur oopgestoot, jou asem ingetrek en opgehou toe die walm jou slaan, van vrot pis, van opgooi, van ou soet drank, van ongewaste menselywe […]. Eers kon jy niks sien nie, so donker was dit in die voorhuis, toe deur ’n halfoop deur in ’n ander kamer, ’n matras op die grond en ’n wrong van vuil beddegoed waarin jy ’n man se onderlyf kon uitmaak (680).

Die Louriers vorm deel van ’n klas wie se voorsate tydens die kolonisering van Suid-Afrika hulle grond verloor het en in armoede leef terwyl die grond van hulle voorsate in wit besit is. Dit is daarom nog meer betekenisvol dat Agaat grondbesit ontvang, want hierdeur vind grondrestitusie (as deel van die postkoloniale diskoers oor grondbesit) plaas deur Grootmoedersdrift wat weer terugbesorg word aan Agaat wat ’n moontlike afstammeling is van die Khoi.

Die grondaansprake van Khoi-afstammelinge word meer eksplisiet aangeroer in Helena Gunter se Op ’n plaas in Afrika, ’n kortverhaalbundel wat sy onder die mentorskap van Marlene van Niekerk voltooi het en wat heelwat ooreenkomste met Agaat vertoon. Die bruin plaaswerker Karel beweer in die titelverhaal van die bundel dat sy voorgeslagte lank voor die koms van die wit mense reeds op die plaas Drie Brugge gewoon het: “Ek kan die skaapwagtersboom op hierdie plaas uitwys waar mý mense huis gemaak het, lank voor die witman geweet het van ’n plek soos Akoerabis!” (Gunter 2007: 93). Uiteindelik sweer Karel saam met ’n bende plaasaanvallers en ’n aanslag op die lewens van die wit plaaseienaars volg.

In Agaat is daar ’n verwysing na en ’n bevestiging van die tradisionele opvattings oor erfopvolging, maar hierdie tradisionele opvattings word ondermyn deur Jakkie wat uiteindelik die grond aan Agaat, wat in sekere opsigte as die bruin dogter van Milla beskou kan word, gee. Hiermee stel Marlene van Niekerk nie bloot die tradisionele gebruike rondom erfopvolging ter diskussie nie, maar lewer sy ook kommentaar op die Afrikaners wat vandag nie meer primêr ’n agrariese bevolkingsgroep is nie maar soos Jakkie eerder stedelinge en wêreldburgers. Alhoewel daar ’n verbintenis is met die normatiewe plaasroman sluit Agaat aan by die kontesterende plaasroman en kan daar gesê word dat met Agaat vernuwing gebring word in die literêre diskoers oor erfopvolging. In Van Niekerk se roman kom Jakkie se losse verbintenis met sy geboortegrond ooreen met die nuwe ruimtelike konfigurasies in eietydse romans oor die Afrikanerdiaspora soos Horrelpoot van Eben Venter (2006) en Verblyf van Erika Murray-Theron (2007) waarin Afrikaners afstand doen van sowel plaasbesit as stedelike eiendom in Suid-Afrika.

2.3 Die stad-plaas-spanningsverhouding en globalisering

In normatiewe plaasromans soos Somer (C.M. van den Heever, 1935), in terme van grondbesit en die behoud van die grond, kan die skuif na die stad gesien word as ’n afskeid en verlies van die grond (Ampie Coetzee, 2000: 96). Nog aspekte van die stad-plaas-spanningsverhouding wat aanwesig is in normatiewe plaasromans is dat die Afrikaner wat uitgeboer het in die stad gemarginaliseer word en ’n minderwaardige gevoel ontwikkel omdat hy nie aanpas by die lewenswyse van die stad nie (Coetzee, 2000: 96). Hierdie aspekte geniet nie baie aandag in Agaat nie.

Jakkie se afwesigheid van sy erfgrond geskied nie om die plaas-stad-ruimte te problematiseer nie, maar die globale konteks word hier betrek omdat Jakkie hom in Kanada vestig. Net soos Jakkie het baie dissidente Afrikaners wat krities gestaan het teenoor die Nasionale Party se regering van Suid-Afrika die land verlaat om hulle in Angel-Saksiese lande te vestig. Die fokus in Agaat is nie, soos wat wel die geval was in vroeë plaasromans, op die onversoenbaarheid tussen die stad en die plaas nie. Daar is wel verwysings na die dorp en die stad, soos wanneer Agaat en Milla dorp toe gaan om besoek af te lê by die poskantoor, die dokter en om kerk toe te gaan. Milla gaan ook as jong vrou weg universiteit toe en Jakkie word na Stellenbosch gestuur om skool te gaan. Die stad is dus nie meer ’n bedreiging nie, maar daar word eerder gefokus op dít wat die stad of dorp bied wat nie op die plaas verkrygbaar is nie. Die stad en die plaas word egter nie teenoor mekaar afgespeel om aan te toon dat die een ruimte beter is as die ander nie. Agaat sluit dus aan by plaasromans wat sedert 1962 verskyn het deurdat die isolasie van die plaas verbreek word met die verwysings wat daar gemaak word na nabygeleë dorpe en stede (Coetzee, 2000: 112). Die plaas en stad word nie uitgebeeld as twee onversoenbare pole soos in die normatiewe plaasromans Langs die grootpad (1928) en Groei (1933) deur C.M van den Heever nie (sien Wasserman, 1997: 17).

Volgens Johan Rossouw (2005: 6) kom Jakkie se keuse om Suid-Afrika te verlaat en homself in Kanada te vestig egter neer op kulturele selfopheffing en meen hy dat Marlene van Niekerk se Agaat as geheel neerkom op ’n pleidooi vir die selfopheffing van ’n Afrikaanse identiteit. Rossouw (2005: 6) skryf dat Jakkie die produk is van sy verlede: “Uit hierdie verlede – en dit is die verlede waarmee alle toekomstige Afrikaners per implikasie dan moet saamleef – moet hy sy keuses maak”. Hierdie keuses sluit in Jakkie se “beroepskeuse, sy keuse om die plaas aan Agaat te bemaak, en sy keuse om hom in Kanada te vestig” (2005: 6). Rossouw (2005: 6) meen dat Jakkie se besluit om Grootmoedersdrift aan Agaat te gee, aantoon dat Jakkie aan ’n groep behoort wat oproepe op Afrikaners maak om te aanvaar dat hulle as volk besig is om te disintegreer en “dat dit nou ander se beurt is”. Terselfdertyd behoort Jakkie, aldus Rossouw (2005: 6), ook tot ’n groep wat “verklaar dat Afrikaners bloot koloniste is wat nie ’n plek in Afrika het nie” en hulle daarom elders moet vestig. Die feit dat Jakkie die plaasruimte vir die welvarende Kanada verruil wat deel vorm van die Engelstalige hegemonie en die enjinkamer van globalisering, is na ons mening nie genoeg rede om te kan beweer dat Van Niekerk met haar roman ’n pleidooi lewer vir die opheffing van ’n Afrikaanse identiteit nie. Rossouw se interpretasie van Van Niekerk se Agaat berus te sterk op Jakkie se perspektief terwyl Van Niekerk juis haar lesers stuur in die rigting van ’n onsimpatieke beoordeling van Jakkie se perspektief van sy mense (Visagie, 2005: 4); daarom sou dit onwaarskynlik wees dat sy dan Jakkie as haar politieke spreekbuis gebruik. Rossouw neem ook nie in ag dat Jakkie wel ’n verbondenheid toon met die Suid-Afrikaanse landskap en kultuur waarvan musiek deel vorm nie.

3. Slot

In Agaat blyk dit duidelik dat daar ’n paradoksale verhouding is tussen die karakters wat ’n mate van grondverbondenheid weerspieël en die karakters wat in opstand kom teen die mense wat Suid-Afrika en sy landbougrond bewoon. Daar word bevestig dat grond en grondbesit gekoppel is aan identiteit, maar ondermyning vind ook plaas deur grondbesit wat opgesê word en deurdat Jakkie, ten spyte daarvan dat hy hom in Kanada vestig (“’n Boer wat asiel soek sover dit die Kanadese amptenary betref”, 1), nog steeds geïnteresseerd is in die Suid-Afrikaanse landskap en Suid-Afrikaanse volksmusiek bestudeer. Jakkie word in sy beroep as etnomusikoloog steeds gedryf deur die “noodsaak van vertel” en “onderhuidse refreine” (8) aangesien hy gevoed is met die “fantastische erotiserende kunstwerken van zang, vuur, schaduwen en verhalen” in Agaat se buitekamer (Van Niekerk 2008). Wanneer hy Grootmoederdrift na die dood van Milla verlaat, neem hy ook die blaasbalk en ramshoring, twee van Agaat se attribute, met hom mee as ’n voortdurende herinnering aan Agaat as sy tweede moeder (sien Van Niekerk 2008).

Die diskoers oor grond in Agaat sluit dus aan by die normatiewe plaasroman deurdat aandag geskenk word aan onder meer erfopvolging en die verbintenis tussen grondbesit en identiteit. In Agaat word die bogenoemde aspekte uiteindelik egter deurtastend geproblematiseer wanneer die erfgrond aan die bruin plaaswerker oorhandig word, asook deur die vroulike boerderygemeenskap wat op die plaas gevorm word deur Milla en Agaat. Hiermee verskuif Agaat die grense van die postkoloniale diskoers oor grond in die literatuur en kan stellig beweer word dat Van Niekerk se roman betenisvolle vernuwing bring in die Afrikaanse plaasroman.

Bronnelys

Ashcroft, Bill; Gareth Griffiths & Helen Tiffin. 1989. The Empire Writes Back. Theory and Practice in Post-colonial Literatures. London & New York: Routledge.

Ashcroft, Bill; Gareth Griffiths & Helen Tiffin. 1998. Key Concepts in Post-Colonial Studies. London: Routledge.
Bonnici, Thomas. 2001. Coetzee’s Disgrace (1999) and postcolonial power. In: Acta Scientiarum Maringá 23(1): 87-92.

Brown, Duncan. 2006. To Speak of This Land. Identity and Belonging in South Africa and Beyond. Pietermaritzburg (Scottsville): University of KwaZulu-Natal.

Coetzee, J.M. 1988. White Writing. On the Culture of Letters in South Africa. Johannesburg (Sandton): Radix.

Coetzee, Ampie. 1996. My birthright gives me servitude on this land: the farm novel within the discourse on land. In: Tydskrif vir Literatuurwetenskap 12 (1/2): 124-144.

Coetzee, Ampie. 2000. ’n Hele os vir ’n ou broodmes. Grond en die plaasnarratief sedert 1595. Pretoria; Kaapstad: Van Schaik; Human & Rousseau.

Gunter, Helena. 2007. Op ’n plaas in Afrika. Kaapstad & Pretoria: Human & Rousseau.

Larsen, Svend Erik. 1997. Lanscape, Identity and Literature. In: Journal of Literary Studies 13 (3/4): 284-302.

Leroux, Etienne. 1962. Sewe dae by die Silbersteins. Kaapstad: Human & Rousseau.

Louw, Anna M. 1975. Kroniek van Perdepoort. Kaapstad: Tafelberg.

Murray-Theron, Erika. 2007. Verblyf. Pretoria: Protea Boekhuis.

Nutall, Sarah. 1996. The Land in South African Novels. In: Darian-Smith, Kate; Elizabeth Gunnen & Sarah Nuttall. Text, Teory and Space: Land, Literature and History in South Africa and Australia. London: Routledge, pp. 219-230.

Prinsloo, Loraine. 2006. Agaat (2004) van Marlene van Niekerk as ’n postkoloniale plaasroman. Durban: Ongepubliseerde M.A.-skripsie, Universiteit van KwaZulu-Natal.

Rossouw, Johann. 2005. ‘O moenie huil nie, o moenie treur nie, die jollie bobbejaan kom weer’: Oor Marlene van Niekerk se Agaat. In: Die Vrye Afrikaan, www.vryeafrikaan.zo.za/lees.php.

Schoeman, Karel. 1967. ’n Lug vol helder wolke. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van Coller, H. P. 2003. Die gesprek tussen C.M. van den Heever se werk en enkele moderne Suid-Afrikaanse romans. In: Literator 24 (1): 49-68.

Van Coller, H.P. 2006. Die representasie van plaas, dorp en stad in die Afrikaanse prosa. In: Stilet XVIII (1): 90-121.

Van Heerden, Etienne. 1986. Toorberg. Kaapstad: Tafelberg.

Van Heerden, Etienne. 1993. Die stoetmeester. Kaapstad: Tafelberg.

Van Niekerk, Marlene. 2004. Agaat. Kaapstad: Tafelberg.

Van Niekerk, Marlene. 2008. Marlene van Niekerk over de schepping van Agaat. Ongepubliseerde lesing gehou op 22 Februarie 2008 by Felix Meritis, Amsterdam.

Venter, Eben. 1993. Foxtrot van die Vleiseters. Kaapstad: Tafelberg.

Venter, Eben. 2006. Horrelpoot. Kaapstad: Tafelberg.

Viljoen, Louise. 1996. Postkolonialisme en die Afrikaanse letterkunde: ’n verkenning van die rol van enkele gemarginaliseerde diskoerse. In: Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 3(2): 158-175.

Viljoen, Louise. 1998. Plek, landskap en die postkolonialisme in twee Afrikaanse romans. In: Stilet 10(1): 73-92.

Visagie, Andries. 2005. Agaat as kultuurdokumentasie vir die toekoms: ’n reaksie op Johann Rossouw se politieke lesing van Marlene van Niekerk se Agaat in die Vrye Afrikaan. In: Litnet Seminaarkamer, 1 Oktober, www.litnet.co.za/seminaar/agaat_visagie.asp.

Visagie, Andries. 2006. Venter se stem sterk in nuwe betrokke literatuur. In: Rapport (Perspektief), 10 Desember: 4.

Wasserman, Herman. 1997. Die stoetmeester van Etienne van Heerden binne die plaasromantradisie in Afrikaans. Stellenbosch: Ongepubliseerde M.A-dissertasie.

Wasserman, Herman. 2000. Terug na die plaas: Postkoloniale herskrywing in Etienne van Heerden se Die stoetmeester. In: Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans. 7(1): 29-55, academic.sun.ac.za/afrndl/tna/wasserman00.html.

Wessels, Andries. 2006. Marlene van Niekerk se Agaat as inheemse Big House-roman. In: Tydskrif vir Letterkunde 43(2): 31-45.

Gepubliseer met toestemming van ....

Op Afrikaans in Europa gepubliseer op 2 Januarie 2009

© Catharina Loader 2001