Letterkunde

Inhoud

Inleiding

1.     Geskiedenis

2.     Afrika

3.     Geweld

4.     Vroue- en manneverhale

5.     Identiteit

6.     Verpolitiseerde karakters in enkele Afrikaanse romans

        6.1     Die verdwyning van Mina Afrika

        6.2     Lem

        6.3     Die heidendogters jubel

7.     Ten slotte

 

Bibliografie

 

Samevatting

Die Afrikaanse prosa van die jare negentig word deur die volgende temas oorheers: geskiedenis (vir psigiese heling, 'n nuwe toekoms, ontginning van die hede, in terme van postmodernism, uitligting van onderdruktes se verlede en die herskrywing van die patriargie); Afrika (van geweld, in plaas van eng nasionalisme, die plaasroman); geweld (veral die grensoorlog) , vroue- en manneverhale (feminisme en 'n sterk manlike diskoers); en identiteit (identiteitskrisis en soeke na nuwe, moontlik hibride, identiteit). Selfs wanneer politiek doelbewus vermy word in romans soos Die verdwyning van Mina Afrika, Lem en Die heidendogters jubel, is politieke identiteit steeds 'n sentrale tema.

Summary

The following themes were central in Afrikaans novels of the 1990s: history (for psychic healing, a new future, understanding the present, postmodern attitudes, showing the history of the previously suppressed and rewriting the patriarchal past); Africa (a place of violence, a substitute of the restrictive nationalism of the past; the farm novel); violence (the border wars); feminist and masculine stories and identity (the crisis of identity and the search for a new, perhaps hybrid, identity). Even when politics is shunned in novels like Die verdwyning van Mina Afrika, Lem and Die heidendogters jubel, political identity can still be read as a central theme.

 

Inleiding

Identiteit is ook ‘n sentrale probleem in Afrikaanse prosa van die jare negentig, soos ek sal toon na ‘n oorsig van kritici se opsommings en veralgemenings oor die prosa van hierdie tydperk. Daarna sal ek drie roman se hantering van politieke identiteit uitlig. Die Afrikaanse prosa van die jare negentig word deur die volgende temas oorheers: geskiedenis, Afrika, geweld, vroue- en manneverhale en identiteit.

 

1.   Geskiedenis

Afrikaanse kritici gee uiteenlopende antwoorde op die vraag oor waarom daar ‘n “bykans obsessionele belangstelling in en bemoeienis met die persoonlike en historiese geskiedenis” (Van Coller 1996:251) in die Afrikaanse prosa van die jare negentig is. Die antwoorde is kortliks in die volgende tabel opgesom:

Redes vir obsessionele belangstelling in geskiedenis

Rede

Kritici

Romans

Psigiese heling

(Van Coller 1996:261); (Meintjes 2001:135); (Van der Merwe 2001:70); (Van Coller 1998:59); (Erasmus 1995:150); Van Heerden (Brinkel 1996:507)

Soos honde van die hemel

Susters van Eva

Die storie van Monica Peters

Vatmaar

Kikoejoe

Op soek na Generaal Mannetjies Mentz

Verliesfontein

Die verdwaalde land

Erfenis van die noodlot

Foxtrot van die vleiseters

Die dinge van ‘n kind

Ons is nie almal so nie

Die reuk van appels

Slegs blankes/Whites only

Swart sendelinge

Vir nuwe toekoms

Van Coller 1996:260)

Soos honde van die hemel

Susters van Eva

Hede

(Van Heerden 1999a:7); (Van der Merwe 2000:68); (Smuts 2000:10)

Vatmaar

Inteendeel

Erfenis van die noodlot

Kroniek uit die doofpot

Ons is nie almal so nie

Kikoejoe

Verkenning

Verliesfontein

Kikoejoe

Groot vyf

Diskoers van postmodernisme

(Van Coller 1998:51);

(Viljoen 1993:1); (Van Heerden 1999b:3); (Wasserman 2000:36)

Belemmering

Casspirs en Campari’s

Jakkalsjagter

Die stoetmeester

Herskryf van patriargale samelewing van Apartheid

(Swanepoel 1998:72); Van Heerden (Brinkel 1996:509)

Belemmering

Die reise van Isobelle

Oranje Meraai

Vatmaar

Op soek na Generaal Mannetjies Mentz

Al hierdie antwoorde kan herlei word tot die problematiek van identiteit. Narratiewe identiteit behels die herskrywing van die verlede om sin te gee aan die hede en die toekoms. Die pyn van Apartheid en onderdrukking moet deel van ‘n sinvolle verhaal word om sodoende tot genesing by te dra. Die diskoers van postmodernisme is die intellektuele klimaat waarin die bevraagtekening van die verlede se mag oor identiteitsvorming plaasvind. Een hipotese sou wees dat hierdie historiese romans deel is van die skepping van ‘n nuwe identiteit vir ‘n nuwe nasie. Oboe (1994:181) se ondersoek na die Engelse Suid-Afrikaanse historiese roman kom inderdaad tot die volgende gevolgtrekking oor die nuwer historiese romans:

“In the unsettled South African present, the ‘digging’ operation of the historical novelist continues and ostensibly attempts to formulate a new national spirit that is actually international/racial/cultural. It seems that vast areas of the past that had been ‘eliminated’ can now begin to be explored for alternative ‘roots’, ‘seeds’, or usable myths, and that new narrative forms, aware and critical of the strategies and modes of the colonial historical novel, may project the complex, changing image of the Republic of South Africa.”

Hierdie stelling is myns insiens ewe-eens van toepassing op die Afrikaanse prosa.

Ek dra kennis van Philip John (2000) se kritiek op die idee van die terapeutiese waarde van verhale oor die verlede en stem saam dat die sprong vanaf die individuele terapeutiese waarde van die verwerking van die verlede na die gemeenskap se terapie deur geskiedenisverhale te lukraak en ongenuanseerd geskied by die meeste kritici. Soos hy (John 2000:47) tereg aandui, is die terapeutiese aard van verhaalgewing deel van die oorheersende diskoers van die Waarheids- en Versoeningskommissie. Dit is ook daarom te vinde in vele romans onder bespreking. Literêre teoretici en filosowe kan egter wys op die foutiewe aannames van so ‘n diskoers, soos John ook doen. Hoe die leser die roman en die vele diskoerse in die roman, insluitende die terapeutiese diskoers wat moontlik deur ‘n belangrike karakter aangehang word, in sy eie identiteitsnarratief verwerk, hang uiteindelik af van die ander diskoerse wat deel van die leser se lewenswêreld is. Uiteindelik kan die kritikus net spekuleer oor spesifieke lesers. Tog is die herhaling van sekere diskoerse in vele romans sekerlik beduidend van die belangrikheid van sulke diskoerse.

 

2.   Afrika

J.P. Smuts (2000:11) verwoord die verbintenis met Afrika in vae terme:

“Veral in die jare negentig kry jy egter in ‘n beduidende aantal werke ‘n sterker Afrikagerigtgheid; voel jy al hoe meer dit gaan nie langer om die witmens ín Afrika nie, maar wel die witmens ván Afrika.”

Hy verwys dan na Groot vyf, Draaijakkals, Die lang pad van Stoffel Mathysen en romans van Alexander Strachan, Piet van Rooyen en Chris Barnard. Godfrey Meintjes (1998:32) wys daarop dat postkoloniale Afrikaskrywers eerder by die begrip Afrika self betrokke wil wees as by ‘n spesifieke nasie. Hy verbind dan Afrika met ‘n ekologiese bewussyn in romans soos Die reise van Isobelle en Kikoejoe. Luc Renders (1997:60) verbind Afrika met ‘n gedeelde lotsbestemming met swart landsgenote as deel van ‘n nuwe identiteit by die jonger generasie, soos te sien in romans soos Casspirs en campari’s en Die reise van Isobelle. Etienne van Heerden (1999a:5) gee ‘n uitvoerige beskrywing van Afrika as ruimte wat in besit geneem word en maak die stelling dat Afrika die hoofkarakter van die plaasroman is. Van Heerden (1999a:6) verbind ook Afrika met geweld en die grensoorlog en sê die volgende:

“Belangrik, egter, is dat die ‘Afrika’ wat hier beskryf word, ‘n ruimte is wat deur geweld deurdrenk is; ‘n landskap wat die individu vasvat met ‘n krag wat groter is as dié van die mens.”

Hierdie stelling word ook geëggo in Heilna du Plooy (1995:55) se beskrywing van Afrika as ‘n plek van daadkrag en aktiwiteit in plaas van vae bespiegelinge in haar bespreking van die gewelddadige slot van Lem.

Wat beteken dit om met Afrika te identifiseer? Wat is Afrika? Is die Afrikaner van Afrika of Europa? Moet ‘n Afrikaan noodwendig swart wees?

 

3.   Geweld

H.P. van Coller (1999b:23) noem verskeie romans (ondere andere Die stoetmeester en Slegs Blankes/Whites only) waar die grensoorlog van die jare sewentig en tagtig verbind word met die algemene klimaat van geweld wat in Suid-Afrika heers en waar Weermagervaringe die hoofrede vir “‘n getraumatiseerde bestaan” is, soos in Die werfbobbejaan en Die jakkalsjagter (Van Coller 1999b:25). Mabel Erasmus (1995:149) identifiseer ook die getraumatiseerde individu as tema in Afrikaanse romans (Swart sendelinge en Die reuk van appels) oor die grensoorlog. Dit is dikwels geweld wat van ‘n karakter ‘n verpolitiseerde karakter maak. Geweld is politiek op sy kruuste.

 

4.   Vroueverhale en manneverhale

H.P. van Coller (1999a:37) sê dat alhoewel “ ‘vrouevertellers’ (en vroueskrywers) inderwaarheid dominant begin raak het in die Afrikaanse prosa”, daar ook opbloei is van tekste met “‘n duidelike manlike diskoers.” Jag en oorlogvoering is dan die belangrikste kenmerke van manlikheid in werke soos Die spoorsnyer en Die olifantjagters (Van Coller 1999a:38). Henriëtte Roos (1998:104) noem verskeie skrywers wat ‘n vroulike perspektief weergee:

“In baie van die tekste geskryf deur die huidige generasie vroue is dit ‘n gees van onafhanklikheid en die vanselfsprekende afwysing van dominansie van enige aard, eerder as ‘n suiwer vorm van feministiese denke wat deur die vertellings weergegee word.”

Sy gee veral aandag aan Griet skryf ‘n sprokie, maar noem ook Abjater wat so lag, Wolftyd, Die afdraand van die dag is kil en Juffrou Sophia vlug vorentoe. Alhoewel die feministiese cliché van die persoonlike as politiek, geldig is, wil ek in hierdie proefskrif sake rondom manlike en vroulike identiteit vermy, behalwe waar dit spesifiek met ander politieke sake verbind word.

 

5.   Identiteit

Volgens Luc Renders (1997:51) is “die tipies postkoloniale fokus op identiteit alomteenwoordig” in die Afrikaanse letterkunde. Die generasiekonflik waar die jonges die waardes van die ouer Afrikaners oorboord gooi, lui “‘n identiteitskrisis in waardeur die hele toekoms van die Afrikanervolk op die spel geplaas word” (Renders 1997:53-54). Hy wys dan hoe seksuele kontak oor die rassegrense heen, homoseksuele relasies, die ontmaskering van skynheiligheid van die ouers en ‘n duidelike, selfs gewelddadige, aanval op die patriargale orde almal tekens is van die identiteitskrisis van die ouer orde van Apartheid. ‘n Nuwe identiteit word gesoek in ‘n verbondenheid met Afrika en ‘n gedeelde lotsbestemming met swart landgenote (Renders 1997:60). Godfrey Meintjes (1998:30) gebruik die term “hibriditeit” in plaas van identiteit. Hy benader ook identiteit vanuit ‘n postkoloniale perspektief:

“Die koloniale proses berus juis daarop dat ‘n onderskeid getref word tussen kolonis en gekoloniseerde en dat ‘n spesifieke beeld van die geheel-andersheid van die gekoloniseerde (bewustelik) gekonstrueer word.”

Hy noem voorbeelde uit Vatmaar waar daar van etniese homogeniteit geen sprake is nie, aangesien die sogenaamde kleurlinge van Vatmaar uit die nageslag van Griekwas, Maleiers, blankes ensovoorts, bestaan.

Dit is egter Michael Chapman (1997:213) wat die sentrale vraag oor identiteit in die Nuwe Suid-Afrika van na 1994, die beste formuleer:

“… my point of departure concerns questions that a few years after our first democratic elections, a few years after our return to the global neighbourhood of the 1990’s, remain insistent and largely unanswered: what – after apartheid – is it to be a South African, what is it to live in a new South Africa, is South Africa a nation and if so, what is its mythos, what requires to be forgotten and what remembered as we scour the past in order to understand the present and seek a path forward into an unknown future?”

Hierdie vraag word nie genoegsaam deur Afrikaanse literatore aangespreek nie, maar is wel ‘n sentrale vraag in die Afrikaanse romans van die 1990’s. Ek wil vervolgens die identiteitsproblematiek in ‘n aantal romans kortliks opsom om aan te toon hoe sentraal politieke identiteit in Afrikaanse romans van die jare negentig is, selfs in romans waar die karakters nie veel belangstelling in politiek toon nie.

 

6.   Verpolitiseerde karakters in enkele Afrikaanse romans

 

6.1   Die verdwyning van Mina Afrika

Zuretha Roos se roman Die verdwyning van Mina Afrika is ligte ontspanningsleesstof in ‘n bekende patroon: die verkragting van ‘n vrou, haar swangerskap, hoe sy die baba ‘n goeie lewe gegee het deur die kind weg te gee en hoe sy uiteindelik haar verkragter vergewe het. Mina Afrika is egter bruin en haar verkragter wit en dit, binne die Suid-Afrikaanse situasie, bring politiek in die prentjie. Tog is dit ‘n boek wat hard probeer om nie polities te wees nie, soos ook dikwels die geval is met Engelse Suid-Afrikaanse fiksie. Die simpatieke hoofkarakter het belangriker dinge om aan te dink en politiek word verbind met ‘n skollie (Dylan) of dronkmanspraatjies (Roos 1995:205):

“Party van die jongeres wil politiek praat; vra Mina uit na die Kaapse denke. Maar Mina was so behep met haar eie werk en haar eie probleme dat sy skaars van Sharpeville en Langa kan onthou.
Later begin die wyn mooi saampraat sodat die regering energiek uitgeskel en sleggesê word, en die boere goed bygekom word.”

Mina word gedeeltelik deur ‘n wit egpaar grootgemaak en geniet al die finansiële voordele van ‘n blanke kind, maar is as kind onseker waar sy inpas (27). Later is sy egter trots om bruin te wees (60), hoofsaaklik as gevolg van die voorbeeld van Tietser, wat haar leer dat alhoewel veel kleurlinge dronkaards is, daar ook goeie kleurlinge is. Schoeman, die blanke man wat haar verkrag, beskou haar egter as niks (71):

“Jy’s bruin, jy’s ‘n hotnot, jy’s niks! Nie eens in ‘n hof sal ‘n magistraat jou woord bo myne vat nie!”

Schoeman neem figuurlik haar identiteit weg. Haar toegeskrewe identiteit as kleurling word deur hom volgens ‘n stereotipe (‘n diskoers oor kleurlinge) tot niks gereduseer. Mina verander haar naam na Julie Columbus wanneer sy na Kaapstad vlug om ‘n aborsie te kry om sodoende die skande van die swangerskap te ontvlug en weer ‘n trotse Mina Afrika te wees (121). Haar geld word geroof en na die geboorte van die baba wil sy selfmoord pleeg en sodoende sowel Julie Columbus as Mina Afrika vernietig. Die titel van die laaste hoofstuk van die roman is “En ek is nog sy” (225), ‘n eggo van Bart Nel. Sy besef dat Schoeman seker nie veel verskil aan haar lewe gemaak het nie en dat sy hom kan vergewe (232). Sy kan nog die goeie, Christelike Mina Afrika bly. Sy is nie meer “niks” nie, maar iemand: ‘n persoon met die naam Mina Afrika met ‘n ingewikkelde persoonlike geskiedenis waarin sy sowel deur blankes as kleurlinge diep beïnvloed is. Mina stabiliseer haar identiteitsnarratief rondom die hoofdiskoers in haar lewe, naamlik Christelikheid.

Mina Afrika hang ‘n individualistiese ideologie aan en sy blameer nie blankes of Apartheid vir haar probleme nie, soos duidelik blyk uit haar gesprek met Dylan (Roos 1995:147):

“ ‘Dis die dônerse whiteys se skuld!’ …

‘Ag nee, man …!’ protesteer sy. ‘ ‘n Mens besluit self wat jy wil wees; ‘n mens kies self tussen goed en sleg.’”

Sy besef sy word sleg behandel omdat sy bruin is, maar sy voel sy kan met die las saamleef. Haar kind moet egter wit grootgemaak word. Haar kind se toegeskrewe identiteit mag nie die van ‘n kleurling wees nie.

 

6.2   Lem

Xamca, ‘n swart vegter, se anonimiteit is in kontras tot die van die witman wat deur Xamca dadelik geïdentifiseer word as ‘n Boer, ‘n agent van die regering en ‘n soldaat (Haasbroek 1993:6). Hy besef dat hy vir die witman net nog ‘n ander anonieme student is en hy haat die witman daarvoor. Sy identiteit in terme van sy verlede en sy status binne sy organisasie is dan minder belangrik as sy wens dat die witman hom sal herken en dus sy identiteit raaksien (7):

“My herkoms en die belangrikheid van my sending troos my nie; ek wil hê die witman moet van my weet. Magteloos sien ek hom om die hoek van die lesingsaal verdwyn.”

Xamca se wens is irrasioneel. Die sukses van sy missie hang juis daarvan af dat die vyand hom nie sal herken en vang nie. Maar tog is die wens verstaanbaar in die lig van ‘n sekere ideologiese verhouding van blankes en swartes waar die blanke die swartman nie raakgesien het nie, waar die swartman se identiteit in terme van herkoms en trots misken is. In sommige blankes se diskoers is swartes niemand en niks. Xamca wil iemand wees. Xamca se smagting na erkenning is ‘n belangriker en dieper wens as die oorlewing van die oomblik.

Koch se studente is onseker oor wie hy eintlik is (118):

"'Beteken dit meneer Koch wys nooit in sy klasse dat hy self 'n Afrikaner is nie?'
'Hy praat die taal. Sy vriende is Afrikaners,’ sê Vezi. 'Maar dis al. Hy kan net sowel iemand anders gewees het. ‘n Zoeloe byvoorbeeld. Hy praat ook Zoeloe.'"

Al wat Koch ‘n Boer maak vir sommige mense, is sy sterk manlike voorkoms. Sy toegeskrewe identiteit is Boer en Afrikaner, gebaseer op ‘n stereotipe wat Boer en Afrikaner assosieer met manlike rugbyspelers. Koch wil apolities wees (120), maar sy onbetrokkenheid is ‘n steen des aanstoots vir Xamca, wat glo dat `n mens maar altyd na een of ander kant toe oorhel (136). Op Francine se vraag oor wie hy regtig is teen die einde van die vertelling, antwoord Koch, die dosent in geskiedenis, dat hy maar ‘n produk van sy geskiedenis is (234). Hy reduseer sy geskiedenis tot sy familie-geskiedenis, ‘n hele familie wat boere en Afrikaners (Boere) was. Koch vervolg (235):

“Dis moeilik om Boer te bly in ‘n ander land. Jy weet later nie meer wie jy is nie.”

Dit is insiggewend dat Francine dan by implikasie aanvaar dat hy na Afrika teruggekeer het en dat Koch haar nie weerspreek nie. Koch identifiseer homself dus as ‘n Afrikaner van Afrika. Wat die ander land is, is nie duidelik nie. As bloot ‘n produk van sy geskiedenis, van die diskoers van sy voorouers en sy samelewing, hoef Koch nie verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar nie (kyk 4.6).

Koch en Xamca praat ook oor Afrika wanneer Koch sy geweer op Xamca rig (249):

"‘Jy gaan my skiet,’ sê Xamca.
Xamca het vir Koch vreemd tevrede geklink. ‘Verwag jy van my genade?’ vra
hy.
‘Afrika ken nie genade nie. Koch, jy het nie ‘n keuse nie. Dis ek of jy, maar
jy’t die geweer.’ "

Xamca is bly dat hy Koch uiteindelik kan definieer as sy vyand. Koch tree dan in ‘n vir Xamca bekende diskoers (die Afrikaner wat hom wil doodmaak) op en Xamca kan Koch dan sonder weifeling doodmaak. Koch is deur die Suid-Afrikaanse magte gedwing om by die Weermag aan te sluit, juis om Xamca vas te trek. Sy gebrek aan individuele vryheid binne die burgeroorlog maak Koch bitter en hy oorweeg dit om nie ‘n gewillige loodsoldaatjie te wees nie (232). Koch voel vasgevang deur die toegeskrewe identiteit van sowel die Weermag as die swart vegters.

Koch se keuse om Xamca nie dood te skiet nie, is moontlik ‘n keuse vir genade in Afrika, sowel as teen ‘n eng toegeskrewe definisie van sy identiteit. Die diskoers van genade is ‘n tweede diskoers wat Koch se diskoers van homself as produk van sy geskiedenis kompliseer. Koch is dus ‘n interseksie van ten minste hierdie twee diskoerse. Koch weet egter dat hy vir Xamca ‘n vyand is en die geveg gaan voort sonder wapens, maar volgens Koch op gelyke voet. Sy keuse vir ‘n genadige Afrika waar vyande op ‘n gelyke voet veg, is ‘n herskrywing van die hele geskiedenis van blank/swart-konflik waar blankes gewoonlik superieure tegnologie besit het. Dit is ook ‘n keuse vir die individu wat keuses kan maak en teen die natuur wat wetmatig is. So word ‘n teenstelling opgebou tussen individu/kultuur/blank teenoor groep/natuur/swart.

Tog het die idealisme van die slottoneel dieselfde illusionêre kwaliteit as die toeskouers se waanbeeld dat die geveg om ‘n mooi jong vrou gaan. Die Suid-Afrikaanse soldate is nog op die eiland en Koch kan uiteindelik nie hulle eie-ning van hom ontsnap nie. Net soos Koch ‘n karakter is wat deur die verteller gerig word, is hy ook ‘n karakter in die diskoers van die Suid-Afrikaanse Weermag. Vroeër het Koch inderdaad die Suid-Afrikaanse situasie vergelyk met ‘n verhaal (94):

“Dit voel vir my al meer asof ons hier in ‘n verhaal vasgevang sit. Die karakters weet nie wat kom nie.”

Net so is iedereen se identiteit in Lem vasgepen deur hulle posisie in die groot ideologiese diskoers van ‘n swart/wit-konflik in die Suid-Afrikaanse samelewing. Ook Richardson se poging om as blanke te identifiseer met die swartes misluk. Hy word wreed gekruisig nadat hy in opstand kom teen die moord en verkragting van sy kleurlingminnares en hulle dogter. Xamca se rede hiervoor is dat die vrou en kind nie een van “ons” was nie (156). Die mense van die saagmeuldorp, Bukavo, word wreed vermoor, omdat hulle toegeskrewe identiteit beperk was tot hulle velkleur en omdat hulle velkleur nie aanvaarbaar was vir Xamca nie.

Juis hierdie verstarring tot ‘n konflik van swart en wit aan die kant van die swart vegters, maak dat die roman ‘n regse ideologiese boodskap kry ten spyte van Koch se genade aan die einde en sy verhouding met ‘n mulattovrou, waarskynlik ‘n simbool van die integrering van swart en wit in Afrika. Binne die roman word slegs vertel van die booshede van die swart vegters. Koch se genade teenoor Xamca wys ook nie op geregtigheid nie. Xamca is ‘n bose moordenaar en verdien straf vir sy vergrype teen menseregte. Koch se genade is eerder ‘n individualistiese opstand teen ander se beheer van sy lewe.

 

6.3   Die heidendogters jubel

Nina is die heidendogter in Die heidendogters jubel van Riana Scheepers. Wanneer sy in die spieël kyk, wonder sy of sy ‘n heidin of ‘n Christin sien (Scheepers 1995:83):

“Sy kyk my aan.
Heidin of christin?
Heidinne, lag ek en sy.”

Teenoor haar identiteit as heidin, stel sy die Sionsdogters wat gehoorsame Christinne is. Heidin beteken ook dat sy met die vyand identifiseer (31) en dat haar swart bloedbroer nou (in 1988) vir die ANC veg (132). Heidin beteken ook dat sy haarself seksuele vryheid gun. Tog lei juis haar seksuele avontuurlus daartoe dat sy ‘n week lank as die wip van ‘n Weermagluitenant opgesluit moet bly in sy kwartiere. Hierdie opsluiting word metafories van Suid-Afrikaanse vroue wat hulle mans ondersteun deur bediende te wees bedags en dienares snags (24) en van vrouens se “willose verslaafdheid aan hulle kêrels en mans”(68). Nina besef dat sy kan gaan en begryp nie hoekom sy verkies om te bly nie. As sy dan uiteindelik uitstap, is daar die wete dat die kamp nie werklikheid was nie. Die Weermagkamp was dus ‘n selfopgelegde tronk.

Nina ontsnap uit hierdie tronk deur selfkennis op te doen. Die spieëlmotief funksioneer hier, soos in vele romans, as ‘n tegniek om besinning oor die self aan te dui. Daar is ‘n duidelike progressie ten opsigte van die spieëlbeeld vanaf die self met leë oë (38); die self wat skuldig wegdraai (38); die verwytende spieëlbeeld wat vir die self sê sy lyk soos ‘n Maandagoggendhoer (45); die erotiese spieëlbeeld wat gesoen word en die begeerde koelte verskaf (78), tot die spieëlself met ‘n tong-penissie wat op selfbevrediging dui (84). Juis in die volgende paragraaf word Clarissa, die vrou met wie Nina seks het, bekendgestel. Soos die spieëlbeeld, het Clarissa ook metafories nie “arms” wat die geliefde kan vashou teen haar wil nie. Dit laat die vermoede ontstaan dat Clarissa ‘n soort self is en dat Nina se uitbreek uit die “armykamp” afhanklik is van haar selfliefde. Waar die spieëlbeeld aan die begin van die roman vermy is, is daar nou die besef dat daar tog “iemand” in die spieël is, iemand wat Nina beter wil leer ken (90).

Teenoor Nina as “iemand”, is daar luitenant Petrus Steyn as “niemand” of “nie ‘n man”, soos in die vele variasies van sy naam aangedui word: Petrus Niemann (4), Petrus Niemann Steyn (25) en Niemann Petrus Steyn (86). In ‘n roman met vele Bybelse verwysings, is die naam Petrus, die stigter van die kerk, nie lukraak gekies nie. Nina as heidendogter kom meer in opstand teen die kerk as teen God. Aanvanklik weier Nina om Niemann te leer ken (27):

“Hy is in elk geval nie ‘n man nie. Hy is iemand met ‘n lyf en oë en ‘n vaardige penis.”

Wanneer hy egter sy weerloosheid blootstel in die vele verhale wat hy haar in die nag vertel, begin sy begrip vir hom kry en besef sy dat hy nie so afgryslik is nie (109). Die manlike niemand word ook ‘n iemand.

In Die heidendogters jubel word die identiteitsproblematiek tot “wie is ek?” beperk, maar die “ek” is gevorm deur diskoerse soos die verskille tussen goeie vroue (Sionsdogters) en slegte vroue (heidendogters). Uiteindelik is die tronk waarbinne die vrou haar bevind, ‘n illusionêre tronk, ‘n tronk van diskoerse waar vrouens afhanklik is van mans en wanneer Nina dit besef, is sy vry. Nina is ‘n verpolitiseerde karakter omdat sy in haar opstand teen mans, identifiseer met die mans se politieke vyand, die ANC. Haar politieke opstand is ‘n onderdeel van haar feministiese opstand.

 

7.   Ten slotte

Soos uit die die voorafgaande drie voorbeelde blyk, is verpolitiseerde karakters meer as net karakters met ‘n politieke obsessie. Dikwels is dit karakters wat juis toegeskrewe politieke identifiserings wil ontvlug en ‘n self-gedefinieerde identiteit wil uitleef. ‘n Verpolitiseerde karakter is ‘n karakter waar politiek in die vorm van een of ander vorm van magspel een van die diskoerse is wat die karakter in ‘n narratief integreer. Lesers identifiseer met die karakter as storie en so word die diskoers van die karakter deel van die vele diskoerse wat die identiteitsnarratief van die leser help vorm. Die oorheersende temas van Afrikaanse romans van die jare negentig, naamlik geskiedenis, Afrika, vroue- en manneverhale en geweld, kan almal vanuit die perspektief van identiteit en verpolitiseerde karakters sinvol benader word.

 

Bibliografie

Brinkel, Theo (1996). 'Zuid-Afrikaans proza Waarheidscommissie van de literatuur'. Christen Demokratische Verkenningen: 503-513.

Burger, Willie (1994). "Postmodernisme: doelgerig of vrolike fuif? 'n Polisieroman en 'n moorddroom." Literator 15(1): 59-71.

Chapman, Michael (1997). "The South African story: identities at the crossroads." Journal of literary studies / Tydskrif vir literatuurwetenskap 13(1/2): 210-222.

Deppe, Susann (1999). " 'n Reis waarvan die einde nie voorsien kan word nie" - die surrealis Paul Delvaux en die hooffiguur Koch in P.J. Haasbroek se roman Lem". Stilet 11(2): 22-37.

Du Plooy, Heilna (1995). "Die mitologiserende slot van die roman." Stilet vii(2): 46-61.

Erasmus, Mabel (1995). "Die verlede en versoening: Afrikaans oorlogsliteratuur as (alternatiewe) bron van geskiedskrywing oor die indiwidu." Literator 16(2): 135-155.

Haasbroek, P.J. (1993). Lem. Kaapstad, Human & Rousseau

John, Philip (2000). "Versoening, aufarbeitung, renaissance, verligting: wat eis die Suid-Afrikaanse verlede van ons?" Stilet 12(1): 43-61.

Massyn, Peter-John (1993). "Hy veg soos Kaptein Caprivi." Die Suid-Afrikaan (46): 52-53.

Meintjes, Godfrey (1998). "Postkoloniale (Afrikaanse) kantaantekeninge." Karring 14(Winter): 28-34.

Meintjes, Godfrey (2001). "Literature of a newly ascendant spirit": postcolonial historiographical aspects of three Afrikaans prose texts on the threshold of the new millennium." Stilet 13(2): 123-139.

Oboe, Annalisa (1994). Fiction, history and nation in South Africa. Venezia, Supernova

Renders, Luc (1997). "Die verlore vaders. Ideologiese breuklyne binne Afrikanerfamilies." Dubbelfluit 3(2): 51-63.

Roos, Henriette (1998). Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu. Perspektief en profiel: 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 1. H. P. Van Coller. Pretoria, J.L. van Schaik: 21-117.

Roos, Zuretha (1995). Die verdwyning van Mina Afrika. Kaapstad, Tafelberg

Scheepers, Riana (1995). Die heidendogters jubel. Kaapstad, Tafelberg

Smuts, J.P. (2000). "Die einde van die millennium: vier jaar Afrikaanse prosa." Stilet 12(1): 1-26.

Swanepoel, Eduan (1998). "Waarheid en versoening: representasies van die Suid-Afrikaans oorlog (1899 - 1902) in Afrikaanse, Engelse en Nederlandse fiksie." Stilet 10(2): 63-75.

Van Coller, H.P. (1996). Die waarheidskommissie in die Afrikaanse letterkunde: die Afrikaanse prosa in die jare negentig. Afrikaanse Letterkundevereninging.

Van Coller, H.P. (1998). "Between nostalgia and parody: the representation of childhood and youth in Afrikaans literature of the nineties." Literator 19(2): 47-60.

Van Coller, H.P. (1999). " 'n Eietydse Afrikaanse prosaterugblik op die Grensoorlog (Deel I)." Tydskrif vir Letterkunde 37(2): 31-39.

Van Coller, H.P. (1999). " 'n Eietydse Afrikaanse prosaterugblik op die Grensoorlog (Deel II)." Tydskrif vir Letterkunde 37(3/4): 22-30.

Van der Merwe, Chris (2000). Die GAR. 'n Dapper literator steek sy nek vér uit ... Insig: 68-69.

Van der Merwe, Chris N (2001). "Presentations of war in Afrikaans fiction." Stilet 13(2): 65-78.

Van Heerden, Etienne (1999). ""Afrika" as onvoorspelbare naam - enkele aspekte van die Afrikaanse skrywer se verhouding met die landskap." Tydskrif vir Letterkunde 37(2): 1-11.

Van Heerden, Etienne (1999). "Die geding met die geheue: kontemporêre fiksie se bydrae tot teoretiese besinnings oor die historiografie." Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 6(1): 2-18.

Viljoen, Louise (1993). "Re-presenting history: reflections on two recent Afrikaans novels." Current Writing 5(1): 1-24.

Wasserman, Herman (2000). "Terug na die plaas - postkoloniale herskrywing in Etienne van Heerden se Die Stoetmeester." Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 7(1): 29-55.

 

 


Dr. Lianne Barnard
Palacky Universiteit in Olomouc
Tsjeggiese Republiek

e-pos: barnardlianne@gmail.com


Gepubliseer op Afrikaans in Europa, Augustus 2011


© Catharina Loader 2001