Letterkunde

Weerskante van die slot: semiosfere in Etienne van Heerden se In stede van die liefde (2005)

Heilna du Plooy is professor in Afrikaans en Nederlands in die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Sy is outeur van Verhaalteorie in die twintigste eeu (1986) en het bydraes geskryf vir verskeie literêre boekpublikasies. Sy het ’n hele aantal artikels in vaktydskrifte gepubliseer en tree gereeld op as referent by vakkongresse in Suid-Afrika en in die buiteland. Sy was gashoogleraar aan die Universiteit van Leiden in 2003. Sy het enkele kortverhale in vaktydskrifte en versamelings gepubliseer asook twee digbundels Die donker is nooit leeg nie (1997) en In die landskap ingelyf (2003).

 

Abstract

On either side of the ending: semiospheres in Etienne van Heerden´s In cities of love/instead of love (2005)

In this article the ending of In stede van die liefde by Etienne van Heerden is regarded as pivotal in the interpretation of the novel. It is argued that the main character, Christian, who is always travelling and crossing boundaries in a literal and figurative sense, is a postmodernist character who is at home in different worlds because he is able to assume different identities. Yuri Lotman’s concept of the semiosphere, which refers to spaces in which meaningful cultural communication can take place on account of shared codes and systems of meaning, is used to discuss the spaces which are occupied by the characters in the novel. The suggestion is put forward that there is a limit to Christian’s ability to keep up his “nomadic” lifestyle while trying to care for his family as well. He has to make a choice and this choice, determined by his love for his wife and son, is investigated as a turning point in the lives of the characters and also as a comment on the postmodern view of life. It is suggested that postmodernist textual strategies are used in the novel to undermine postmodernist assumptions.

 

1. Inleiding

2. Die slot van die roman

3. Yuri Lotmat, semiosfere en tekste

4. Die grens as skeiding en verbinding

5. ´n Postmodernistiese reisende karakter

6. Ruimtes en grense

7. Die grens as gevaarsone

8. Teks en wêreld

9. Slot

Aantekeninge

Bibliografie

 

1. Inleiding

Die roman In stede van die liefde, deur Etienne van Heerden, is gemoeid met sowel die Suid-Afrikaanse hede as die werklikhede van die postmoderne era. Hoewel bekende historiese gebeure op beide ’n persoonlike en kollektiewe vlak die dilemma van die karakters en die drama van die intrige beïnvloed en bepaal, speel die sentrale verhaallyn af in die Suid-Afrika wat tans in koerante en televisienuus gereflekteer word. Die trefkrag van die roman lê daarin dat die ontstellende onderliggende werklikheid van sake, wat al gewoon geword het in die daaglikse nuus, na die oppervlak gebring word. Die leser word gekonfronteer met karakters wie se lewens bepaal word deur kontemporêre vraagstukke soos die ondergrondse ekonomie, dwelmmisbruik, handeldrywing met mense (veral jong meisies), orgaanhandel, die groeipyne van die nuwe Suid-Afrika, die situasie in Zimbabwe en nog veel meer. In hierdie artikel word die stelling beredeneer dat dit in die roman egter ten diepste gaan om ’n uitbeelding van die lewensingesteldheid en die gerelativeerde waardesisteem van die postmoderne wêreld, asook om die karakters, veral die hoofkarakter Christian, se reaksie daarop.

 

2. Die slot van die roman

Die slot van die roman word in hierdie interpretasie van In stede van die liefde gebruik as toegang tot die romanwêreld en die betekenisse wat deur die teks geaktiveer word. Die roman het ’n treffende slot. Die slotsin in die teks lees soos volg:

‘My naam is Christian’, begin hy. (538)1

Die leser word met hierdie woorde teruggestuur na die begin van die verhaal, aangesien hierdie sin die verhaal inlui wat die leser nou net klaar gelees het. As ’n tekstuele strategie kan dit egter op veel meer dui as bloot ’n sirkelvormige narratiewe struktuur.

Die laaste woorde in die teks is “begin hy”. Die slot van die roman dui dus op ’n aanvang of ’n begin en spesifiek op die begin van ’n verhaal. Daar is nie net die voorneme om ’n verhaal te vertel nie; die verhaal is reeds vertel en die inhoud daarvan het in die voorafgaande verhaalwerklikheid bekend geword. Aangesien die selfondersoek, die selfopenbaring en die belydenis aan Christine inderdaad plaasgevind het, kan die slotgebeurtenis beskou word as ’n draaipunt in die lewe van die hoofkarakter. Hierdie draaipunt is ’n sentrale gegewe in die verhaal, omdat dit dui op die aanvang van ’n nuwe periode in die lewe van die hoofkarakters. Christian se voorneme om sy ware verhaal te vertel, sal onvermydelik sy verhouding met Christine beïnvloed en met nuwe inhoud vul, maar hoe die belydenis die verhouding tussen hulle verander, word nie vertel nie, sodat die roman op die vlak van die verhaal ’n oop einde het.

As sodanig is ’n sirkelvormige struktuur nie nuut nie. Daar kan verwys word na ’n roman soos 18-44 (Leroux, 1973 [1967]), waarin dieselfde strategie gebruik word en dit kom ook voor in baie ander metatekstuele romans. Die ingrypende ontwikkeling wat in die verhaal uitgebeeld word, maak dit in die geval van In stede van die liefde onmoontlik om te dink in terme van ’n geslote ring. Dit gaan eerder om ’n beweging wat as ’n spiraal beskryf kan word – daar word teruggegaan na die verlede om tot insig en openheid te kom, maar die toekoms sal gewis nie weer dieselfde patroon op dieselfde vlak kan voortsit nie. Die herbelewing van die verlede is nodig om die toekoms tegemoet te gaan, maar die toekoms word verander juis deur (kennis van en insig in) daardie verlede.

Afgesien van verhaalmatige interpretasie, sou daar ook gekyk kon word na die eindvisie vir die romanwêreld wat uit die strukturele en die semantiese implikasies van die slot afgelei kan word. Die eksplisiete vooropstelling van die slot is ’n aanduiding dat die roman op goeie grond vanuit die slot geïnterpreteer kan word. Maar waarop dui hierdie slot in ’n oorkoepelende interpretasie van die roman, spesifiek ten opsigte van die betekenis en ingesteldheid teenoor die lewe en die werklikheid wat uit die roman tot die leser spreek? Hierdie vraag is veral relevant waar die leser hom in ’n soortgelyke werklikheid bevind as die karakters en wanneer die teks binne sy postmodernistiese konteks gelees word.

 

3. Yuri Lotman, semiosfere en tekste

Daar is baie geskryf oor die slot as die grens van die teks, as die punt waarop die leser die tekswêreld verlaat en terugkeer na die werklikheid (Lotman, 1972:307, 311; Kermode, 1966; Du Plooy, 1995; Van Schalkwyk, 2003).2 Die voor die hand liggende implikasie is dat die slot ’n bepaalde toekomsvisie vir die romankarakters, trouens vir die som van die tematiese dilemmas in die roman, aandui. Phil van Schalkwyk (2003) het in sy proefskrif hierdie aspek van die slot van die teks, naamlik as ’n aanduiding van ’n onderliggende horisonmite, uitvoerig behandel.3

In aansluiting by hierdie argumentasie wil ek In stede van die liefde ondersoek deur gebruik te maak van die term semiosfeer soos dit uiteengesit is deur Yuri Lotman in sy boek Universe of the mind (2000 [1990]). Lotman se basiese uitgangspunt is dat kommunikasie deur middel van tekens net moontlik is as daar reeds ’n ruimte of omgewing bestaan waarin bepaalde betekenisse werksaam is (Lotman, 2000:123). Daar is tekste wat net daarop gerig is om inligting oor te dra, terwyl estetiese tekste poog om nuwe inligting te genereer; maar ’n teks of ’n semiotiese sisteem funksioneer noodwendig binne een of meer dinamiese kulturele ruimtes en in tekste word daar ook soortgelyke kulturele en semantiese ruimtes gerepresenteer (Lotman, 2000:12-13; 124). Anders as die dekonstruktiewe en postmodernistiese siening dat die teks net uit ’n oppervlak van tekens bestaan en dat betekenis ontwykend, uitgestel en verplaas is, is Lotman van mening dat die voorafgaande bestaan van betekenis en die moontlikheid van suksesvolle kommunikasie voorvereistes is om betekenis te kan representeer in ’n teks: “Outside the semiosphere there can be neither communication, nor language.” (Lotman, 2000:124) Bestaande semantiese kodes en strukture gaan semiose en kommunikasie dus vooraf.

Die sentrale konsep in Lotman se argumentasie is die semiosfeer4 wat hy definieer as die totale semiotiese ruimte van ’n bepaalde kultuur wat sowel die resultaat as die voorvereiste vir die ontwikkeling van ’n kultuur is (Lotman, 1990:125). Kennis en ervaring van hierdie semiotiese kompleks is, volgens Lotman, noodsaaklik voordat ’n betekenisaanduidende handeling kan plaasvind, met ander woorde ’n teks kan slegs betekenis genereer en oordra indien dit binne ’n semiotiese ruimte funksioneer. ’n Funksionele en funksionerende semiosfeer is dus noodsaaklik vir die bestaan en die funksionering van taal, waar taal gesien word as ontwikkelende en meerduidige kodesisteem, en waarvan alle variëteite taalkodes in artistieke tekste ingesluit is (Lotman, 1990:123,124). Semiotiese kennis en ervaring gaan dus die betekenisaanduidende handelinge (die semiotiese akt) vooraf.

Die interne ruimte van die semiosfeer is sowel ongelyk as ’n eenheid, en tegelykertyd asimmetries en samehangend. In die semiosfeer is baie konflikterende en teenstrydige strukture aan die werk en is daar ook sprake van indiwidualisasie. Binne die semiosfeer is die indiwidu bewus van ’n ruimte wat hy beskou as ‘myne’, ‘ons s’n’, die bekende, die veilige, waarvan die organisasie aan hom bekend is en wat hy onderskryf. Hierteenoor staan ruimtes wat behoort aan ‘die ander’, wat vyandig, gevaarlik en chaoties is. Vanselfsprekend is daar soortgelyke, maar sterker onderskeidinge en grense tussen verskillende semiosfere. Dit gaan dus om ’n onderskeid wat in verband gebring kan word met die konsepte van die self en die ander of ‘Ander’ uit die psigoanalise en ideologiekritiek, maar die onderskeid word hier gedefinieer in terme van kulturele strukture wat as semiotiese of semantiese ruimtes beskou word (Lotman, 1990:131).

Omdat ’n bepaalde semiosfeer uit tallose subruimtes en subgroeperings (sub-semiosfere) bestaan, is dit ook voortdurend aan die verander en ontwikkel of aan die transformeer. Betekenisvolle en betekenisbevestigende ruimtes, die ruimtes waarbinne die geldigheid en gesag van bepaalde waardes en betekenisse tot stand kom, ontwikkel en verander, en word deur grense geskei van die kontrasterende ruimtes, die ruimtes wat op grond van ’n bepaalde perspektief as vreemd en anders beskou word.

Volgens Lotman is representatiewe semiotiese sisteme modelle wat die wêreld waarin mense lewe, struktureer en verduidelik. Waar taal beskou word as ’n primêre modellerende sisteem, is tekste, veral estetiese tekste, komplekse sekondêre modellerende sisteme (Lotman, 2000: x). Lotman verduidelik verder dat, net soos in die kulturele semiotiese ruimtes, verskillende semantiese of kulturele ruimtes in die representasies in ’n teks teenoor mekaar gestel word, maar mekaar ook binnedring. Daar kom skeidingslyne of grense tot stand wat deur die semantiese ruimte van die teks sny sodat daar deurentyd sprake is van die oorskryding van grense in die totstandkoming van betekenis (Lotman, 2000:124-125). Dit is opvallend hoe sterk die ruimtelike figureer in die teoretiese metafore waarmee Lotman werk (Nöth, 2006:249) en hierdie ruimtelike denke is die aanknopingspunt met die analise van die roman In stede van die liefde in hierdie artikel.

 

4. Die grens as skeiding en verbinding

Lotman se gesofistikeerde teorie oor semiosfere, wat hier in ’n erg vereenvoudigde vorm weergegee is, is bruikbaar in die analise van ’n roman soos In stede van die liefde, enersyds omdat die klem sterk geplaas word op die estetiese teks as ’n sekondêre modellerende sisteem wat die werklikheid probeer deurgrond terwyl dit ook ’n gestruktureerde representasie van die werklikheid bevat, en andersyds omdat die duidelik ruimtelike aard van Lotman se teoretiese metafore aansluit by die sterk ruimtelike karakter van die roman. ’n Sentrale gegewe in die roman is, myns insiens, die manifestasie van grense tussen ruimtes of verskillende wêrelde waarin die karakters lewe en waardeur Christian reis. Hierdie wêrelde kan beskou word as onderskeibare semantiese of semiotiese ruimtes.

Wat vir my argumentasie bepalend is, is dat die grens nie net skei nie, maar ook verbind. Die raakvlak tussen twee ruimtes, sowel fisiese as kulturele ruimtes, behoort tot beide ruimtes en is juis die terrein van interaksie, waar meervoudigheid van kodes en tale werksaam is, en waar die meeste semiotiese aktiwiteit plaasvind. Die grens is dus, kultureel gesproke, die setel van intense kulturele en semantiese aktiwiteit, interaksie, groei en ontwikkeling (Lotman, 2000:136). Verder is die grens die filter tussen dit wat bekend is en dit wat vreemd of minstens vreemder is, ’n filter wat tekste en tekens deurlaat en transformeer in ’n proses wat die deurgelate kulturele materiaal verander om bruikbaar te word in die naasliggende ruimte, maar dit terselfdertyd toelaat om ’n eiesoortigheid, ’n stimulerende vreemdheid of ’n eksotiese allure te behou. Hierdie proses werk na weerskante en bewerkstellig ’n voortdurende groei, ontwikkeling en verryking van die semiosfere.

Afgesien van ander grense in die roman waarna later verwys sal word, is die slot van die roman die grens waar die tekstuele fiksionele werklikheid deur die leser verlaat word en hy of sy teruggaan na die werklikheid in die sin dat die slot beslag gee aan die tematiese ontwikkelinge wat daaraan voorafgaan en dat hierdie bevestiging die leser se “afskeid” van en terugwerkende nadenke oor die romanintrige en tematiek beïnvloed. Die slot plaas dus ’n finale stempel op die betekenisse wat in die loop van die leeservaring gegenereer word; dit is ’n aanduiding van die horisonmite, die bestemming van karakters en gebeure wat in die roman voorgehou of gesuggereer word. Die slot is die grens tussen teks en werklikheid en behoort dus aan beide teks en werklikheid: dit is enersyds die kulminasie van die voorafgaande plot en tekstuele ontwikkeling, maar andersyds ook die deurgang terug na die fisiese werklikheid van die leser.

As die slot van In stede van die liefde vergelyk word met dié van ander tydgenootlike romans, is daar veel om te verreken. Agaat van Marlene van Niekerk gaan ten diepste oor die afsluiting van ’n era wat blootgelê word deur ’n representasie van die selfondersoek van die hoofkarakter met al die selfherkenning, erkenning en ontkenning wat daarmee gepaardgaan. Dit gaan om die uitspeel van die laaste tonele in die historiese drama van die kolonialisme en apartheid en die ideologiese erfenis daarvan soos wat dit in die lewens van die karakters en hulle omstandighede manifesteer, omstandighede waarin ideologiese en psigologiese laste onskeibaar en haas ononderskeibaar is. Die slot van die roman is ’n bevestiging van hierdie afsluiting, byna ’n soort afrekening met ’n historiese fase. Ingrid Winterbach se romans bevat ’n eiesoortige toekomsvisie. In Karolina Ferreira, Landskap met vroue en slang en Niggie is daar telkens in die slot ’n uitreik na die toekoms, nie ’n spesifieke toekoms nie, maar ’n toekoms. Veral in Niggie is die belangrikste suggestie dat dit nie gaan oor hoe mense oorleef of kan oorleef nie, maar eerder dat mense gewoon oorleef, dat die lewe aangaan. Die mens is psigologies in staat of bestem tot oorlewing, en hoewel die voortgaande lewe met die vermoë tot individuasie verband hou, is daar min waarborge en geen versekering nie.

Hoe kan die intensie van ’n belydenis en selfopenbaring van die hoofkarakter van In stede van die liefde gelees word?

 

5. ’n Postmodernistiese reisende karakter

Christian is ’n postmodernistiese5 karakter, ’n representasie van ’n postmoderne mens en die gebruik van ruimtelikheid is een van die prominente strategieë waarmee Van Heerden hierdie postmoderne lewensuitkyk en lewensstyl uitbeeld. Christian leef in verskillende wêrelde en hierdie wêrelde is ruimtelik duidelik onderskeibaar.

Die roman begin met ’n beskrywing van Christian wat op pad is huis toe. Sy gesin woon op Stellenbosch, wat ’n aangename plek is om in te woon en waar ’n kind veilig kan grootword. Christian se kantoor is egter in Johannesburg en hy kom slegs naweke huis toe. Afgesien van die huis op Stellenbosch en die kantoor in Johannesburg, reis Christian gereeld internasionaal om Afrikakuns te verkoop en te bemark. Daar is ook die woonstel in Seepunt, waar hy gereeld ontsnap na die onaantasbare wêreld van ’n dwelmdroom. Vier radikaal verskillende ruimtes, elk met ’n eie stel kodes wat betref gedrag, waardes en betekenis, elkeen ’n aparte semiosfeer.

Christian is tuis in al hierdie wêrelde en kan beskou word as ’n tipiese postmodernistiese reisende karakter. Hierdie stelling kan gemotiveer word deur aan te toon dat Christian nie net reis nie, maar inderdaad voluit lewe in elkeen van die ruimtes waarin hy hom bevind. Hy neem verskillende identiteite aan soos wat dit nodig is. Hy kan homself handhaaf in elkeen van hierdie wêrelde; hy is gemaklik, aantreklik en suksesvol, en in beheer, nie net van die verskillende wêrelde nie, maar ook van die verskillende identiteite wat van hom verwag word om aan te neem in elke omgewing. Die afleiding kan gemaak word dat Christian as postmoderne, geglobaliseerde mens ’n voorbeeld is van iemand wat nie ’n vaste identiteit het nie, wat identiteite ontwikkel en skep of konstrueer soos wat omstandighede dit vereis. As postmoderne mens is hy hiertoe in staat, met “verwaande argeloosheid” (18).

Hierdie uitbeelding kan direk in verband gebring word met die beskrywing van die postmodernistiese dominant soos wat dit beskryf word deur McHale (1986:53-80). Volgens McHale word postmodernistiese tekste gekenmerk daardeur dat hulle gemoeid is met die ontologie en nie meer soos modernistiese tekste met die epistemologie nie. Dit impliseer dat daar nie bespiegel sal word oor hoe mense die wêrelde waarin hulle lewe ken nie, ook nie oor die geldigheid van kennis of die wyse waarop die kennis verwerf word of gerepresenteer word nie. Die betroubaarheid van wat mens weet en die grense van kennis is nie meer die fokus van die postmodernistiese tekste nie, maar wel die vrae oor die ontologie of bestaan van wêrelde en die dinge in die wêrelde: “[W]hat is a world? what kinds of worlds are there, how are they constituted, and how do they differ? what happens when different kinds of worlds are placed in confrontation, or when boundaries between worlds are violated?” (McHale, 1986:60). Dit is duidelik dat die verhaalinhoud in In stede van die liefde met hierdie implisiete vraagstelling gemoeid is en die hoofkarakter word inderdaad ook uitgebeeld as iemand wat die grense relativeer deur herhaaldelik oor verskillende soorte grense heen te beweeg. Dit is ook opvallend dat McHale se omskrywing van die postmoderne denke op ’n sterk ruimtelike bewussyn dui en dat die metafoor van die grens in die ontologie en in die representasie in postmodernistiese tekste deurentyd sterk figureer terwyl In stede van die liefde ook intens met ruimtelikheid as verhaalgegewe en as tekstuele strategie gemoeid is.

Christian word byna ’n soort verhaalmatige vergestalting van postmodernistiese trekke, waarvan een van die sterkste sekerlik ook die metafoor van die risoom is (Hassan, 1987:92). Hy beweeg inderdaad risomaties deur en oor verskillende wêrelde; hy bly op die oppervlakte van die wêrelde en beproef uiteenlopende ‘wêrelde’ as ruimtes en as bestaanswerklikhede sonder om oor die betekenis van elk te bespiegel of om te probeer om daardie wêrelde epistemologies te deurgrond. Christine, aan die ander kant, is intens verkweld oor die verskillende agtergronde van haar lewe en waar Christian as ’t ware met spel en toeval die werklikheid benader, homself met die chaos and anargie konfronteer, soek sy doelgerig na haar herkoms (haar wortels), na die ontwerp van haar lewe, na die moeder en die vader, dus die simbole van gesag en struktuur (Hassan, 1987:92)6.

 

6 Ruimtes en grense

Wat belangrik is vir my argument en wat die benadering van die roman in terme van sfere en grense regverdig, is dat die ‘wêrelde’ waarin Christian funksioneer telkens gekoppel is aan spesifieke geografies aantoonbare plekke en dat die oorgang van een ruimte na ’n ander die oorsteek van ’n grens impliseer. Dit geld ook vir al die ander karakters wat telkens met bepaalde ruimtes verbind word: Miss Edelweiss word geassosieer met haar plasie buite Matjiesfontein, Eaglejohn Fieldhouse met die hotel, Piet Windvogel en sy dogter Snaartjie met Matjiesfontein.

In die lewens van die karakters kom daar verskillende wêrelde bymekaar. Lotman (2000:5) stel dit duidelik dat taal en tekste en semiosfere, afgesien van sinchroniese samehang, ook ’n historiese dimensie en ’n geheue het. Terwyl verskillende aaneenliggende wêrelde deurlopend in kontak is, moet die temporele dimensie van die wêrelde waarin karakters uitgebeeld word nie buite rekening gelaat word nie. In Miss Edelweiss se verlede lê die eiland Sylt en die koerierduiwe van die Tweede Wêreldoorlog, en Christine gaan uit die huis op Stellenbosch om te soek na haar verlede en haar herkoms op Matjiesfontein.

Die parallel tussen betekenisvolle ruimtes waarin bepaalde kodes funksioneer – ruimtes wat as semiosfere beskou kan word – en fisiese plekke of ruimtes word in hierdie roman uitgebuit. Die huis is binne, die pad en die rotmotor is buite. Die woonstel is apart van die huis en die werk. Die strate in Johannesburg en Kaapstad en die pad deur Matjiesfontein is tussenruimtes, maar hierdie tussenruimtes is plekke vir die alternatiewes soos die smokkelhandelaars – hulle leef op die pad.

Volgens Lotman (2000:140) word ruimtes simbolies en metafories gemerk: die nag is ’n soort anti-ruimte, die teennormale, teennatuurlike waar dinge anders verloop, maar sulke simboliese en metaforiese assosiasies kan in bepaalde tekste gebruik word om onderskeid en eiesoortigheid aan te dui, om die differensie (difference) te versterk. Op dieselfde manier is chaos betekenisvol. Daar is dinge wat met chaos geassosieer word, plekke van chaos wat werklik buite is en bly. Die chaos word nooit heeltemal aanvaar nie, hoewel dit die stabiele ruimtes beïnvloed. Chaos het ook ’n temporele of ’n historiese dimensie en sekere gebeurtenisse en ervaringe word as chaoties onthou.

In In stede van die liefde is al die ruimtes met mekaar in verbinding – hulle raak aan mekaar, vloei oor in mekaar en word deurkruis deur allerlei onderverdelings sodat die stelling gemaak kan word dat die ontologie van die grens bevraagteken en ondermyn word tot die punt waar ontologiese meervoudigheid en onstabiliteit die norm word (McHale, 1986:60). Miss Edelweiss dra haar verlede van Sylt met haar saam en verberg dit saam met die geheim van haar verhouding met Felix Verhoef en haar kind deur op haar plasie ’n afgesonderde lewe te lei. Piet Windvogel begin sy duiwe beskikbaar stel vir ander doeleindes en tree so buite die raamwerk van sy bekende wêreld wanneer hy met die Nigeriërs begin sake doen. Snaartjie betree ’n ander wêreld wanneer sy by Miss Edelweiss leer viool speel. Later word sy in die wêreld van die dwelmhandel ingestuur of ontvoer/afgeskep om vir die duiwe viool te speel. Die grensoorskryding maak dit vir die karakters moontlik om hulle lewens te vergroot, om nuwe wêrelde te betree en oues selfs af te lê, soos ook blyk uit die gedaanteverwisselings van Eaglejohn Fieldhouse.

As die grens bekyk word as ’n gebied waar die mees intense semiotiese aktiwiteit, hetsy kultureel of esteties, plaasvind, is die omskrywing en uitbeelding van die plek Matjiesfontein besonder insiggewend. Op Matjiesfontein kom mense uit alle dele van die wêreld bymekaar, van Duitsland tot Nigerië, maar die dorpie is ook ’n kruispunt in tyd waar hede, verlede en toekoms bymekaar kom. Dié plek wat so klein is dat dit oënskynlik ’n soort nêrens is, ’n klein afgeslote plekkie vir ’n klein klompie mense wat mekaar almal ken, is terselfdertyd ’n deurgangspunt en ’n aandoenplek vir almal van oral af.

Daar word beskryf hoe die verskillende vlae opgehang word by die hotel om by elke bepaalde omstandigheid en geleentheid aan te sluit (23). Die Lord Milner Hotel is die perfekte herinnering aan die koloniale verlede, maar ook die setel van aanpasbaarheid wat deur die verskillende vlae aan sy vlagpaal aan rugbywedstryde, luukse treine of borge eweseer erkenning gee. Matjiesfontein se identiteit is naamlik veranderlik, dit pas aan by omstandighede, dis postmodern, onvas en gekonstrueer op grond van die eise van die oomblik. Daarom is Matjiesfontein op ironiese wyse die simbool van die geglobaliseerde wêreld: die plek kan alles wees vir almal soos wat Christian baie dinge vir baie mense wil wees.

Christian is as sentrale figuur egter die uiteindelike reisende karakter. Hy beweeg skynbaar moeiteloos deur uiteenlopende ruimtes. Hy doen dit reeds wanneer hy as jong seun oor die berg ry om die bruin seun wat vinniger kan hardloop as hy, te ontmoet (55-65). Hy is nie tevrede om binne die raamwerke te bly nie, om binne een sfeer van vasgegroefde betekenisse te bly lewe nie. Hy is die avonturier, die een met die verkennende gees – hy gaan soek sy opponent op. Hy moet weet wie werklik die beste is en kry ook daarvan bevestiging. Hy doen niks verder daaraan nie, maar hy weet voortaan dat sy bekers liegbekers is. Hy skuif hulle tot agter in die kas. Dieselfde avontuurlikheid, ’n soort vreesloosheid, kenmerk ook Christian se latere lewe – hy is bereid om te eksperimenteer, om te waag, om te reis, te beweeg, van gedaante te verander. Hy dink aan “idees en nuwe projekte wat soos aanloopbane voor ’n Boeing se neus strek en wink” (13). Hy word uitgebeeld in New York, België, Finland en Zimbabwe, en die beeld wat hy projekteer, is dié van ’n man met “’n mooi rug en netjiese skouers” wat “sy geil hare met ’n swaai van die kop die wind in” gooi (15). Christian is dus ’n boeiende karakter, miskien juis vanweë sy tekortkominge – die arrogansie, die ydelheid. Hy is die gearriveerde postmoderne mens, geglobaliseer omdat hy oral tuis is en nie gebonde aan ’n vaste identiteit nie – hy konstrueer homself na gelang van omstandighede: “Dis soos New York is. Van watter kant kom die nuutste verrassing? Sal ek op my hoede genoeg wees om nie eers ’n akseltjie uitgeboul voor te kom nie wanneer die nuwigheid, hoe banaal ook al, voor my opdoem?” (273)

 

7. Die grens as gevaarsone

Dit veelkantigheid van die betekenis van ruimtes is egter baie prominent in In stede van die liefde en word dit by ’n herlees van die roman des te meer.

In die aanvangstoneel van die roman is Christian op pad huis toe. In die vliegtuig dink hy onder meer aan sy herstel na die operasie, aan sy “leë hand, ’n hand aan ’n arm waaruit die arterie verwyder is” (15). Op pad na Stellenbosch in ’n gehuurde motor word hy eers gekonfronteer en uitgedaag en later agtervolg deur ’n geheimsinnige motor (18-22). Hy word bedreig en voel bedreig. Die tema van kwesbaarheid en bedreiging word dus reg aan die begin van die roman aan die orde gestel en dit neem verskillende vorme aan.

Dit is asof die bewustheid van gevaar en kwesbaarheid sigbaar word wanneer karakters hulle in die grensgebiede tussen die verskillende wêrelde bevind. Hiermee hang die toenemende besef saam dat daar dinge is wat nie beheer kan word nie. Christian se liggaam dreig om hom in die steek te laat. Die herinnering aan die hartchirurgie verlaat hom bykans nooit nie en hy kan nie Christine se swaarmoedigheid vir haar verlig nie. Hy wil sy gesin veilig laat woon op Stellenbosch, maar die veiligheid is relatief – hy kan nie interpersoonlike spanning of psigiese en liggaamlike kwesbaarheid en weerloosheid wegweer nie. Hy tob inderwaarheid oor Siebert se tipiese tienerrebelsheid en afgetrokkenheid, oor die verwydering tussen hom en Christine, en hy dink melankolies aan “die dood as vaste punt” (11).

Die ambivalensie van grensgebiede en geleenthede waar grense oorgesteek word, maak die leser toenemend daarvan bewus dat grenservarings nie net te make het met opwindende tussenruimtes waar die grense van die self uitgestoot kan word nie, maar ook met gevaar en uiteindelik met die moontlikheid dat daar inderdaad onoorskrybare grense is.7 Dit is wanneer Christian saam met Stanley die wêreld van die dwelmbase betree dat hy regtig skrik vir waarby hy betrokke raak (407-408). In die rustige klein dorpie Matjiesfontein skep die Nigeriërs vir Snaartjie af en dit is waar Eaglejohn Fieldhouse onder verskillende vermommings onheilighede bedryf. As ’n deurgang word die dorp ’n grens met al die gevaarlike aspekte van kom en gaan.

Snaartjie word vernietig deur die grensoorskryding wat op haar afgedwing word; sy betaal die prys vir haar pa en die Nigeriërs. Die klein skelet in die proloog van die roman is nie Snaartjie s’n nie, maar simbolies is die jong meisie, net soos Christine, slagoffer van die deurkruising van onversoenbare wêrelde. Snaartjie raak weg in die tussengebied, sy verdwyn in die raakvlak, want sy kan nie deel word van die nuwe wêreld nie en kan ook nie terugkeer nie.

Die grensoorskryding eis onvermydelik slagoffers, maar die grenservaring is ook ’n indiwiduasieproses waar die kenmerkende van ’n karakter na vore kom. Lotman (2000:131) sê van die grens: “[C]omposed as it is of conflicting structures, it none the less is also marked by individuation.”

Wanneer Christian met die rotmotor kompeteer in terme van uithouvermoë en durf en vaardigheid, wanneer hy weier om in te gee of oor te gee, dink hy aan die hartoperasie: “Hande tel jou hart uit; maar jy het krag. Daar’s ’n sug in jou buik, die sug van oorgawe; maar iets anders klop weerbarstig in jou. Iets durender, sterker as bloed: jy, jou ek” (21). Hy word hom ook bewus van iets wat in sy binneste fladder: “Dis ook nie sy hart nie. Dis iets anders wat daar vasgekeer sit; wat moet uit./ Iets met vlerke.” (22) ’n Ander insiggewende detail is dat wanneer Christian saam met Stanley by Okapi aankom, nadat hy ingelyf is by die dwelmkultuur, sy eerste woorde aan haar gaan oor ’n praktiese saak: “Het jy onthou om die bonsai nat te maak?” (409)

Om naby die dood te kom of te sterf, is natuurlik die uiteindelike grenservaring en dit is asof die roman wil suggereer dat Christian se operasie vir hom so ’n grenservaring is wat hom bewus maak van die bestaan van ’n limiet. Grense kan oorskry word, dit is goed, dit is opwindend, dit bevorder geestelike en kulturele groei, maar daar is ook risiko’s aan verbonde en daar is ’n limiet. Die liggaam se sterflikheid is die uiteindelike limiet (“die dood as vaste punt” – 11), maar daar is vir Christian ook ander limiete: hy sien nie kans om sy kind te verloor nie en hy sien veral nie kans om Christine se liefde te verloor nie. Hy besef die dwelmgewoonte gaan hom vernietig, hy besef sy onderhandelinge met die dwelmwêreld is buite sy beheer.

Daar kan dan in die roman ’n lyn nagetrek word van Christian se toenemende bewustheid van kwesbaarheid en ’n onrus oor die verglydende aard van sy (die?) lewe. Tydens ’n té lang verblyf in Seepunt dink hy: “Die driehoek Johannesburg/Seepunt/Stellenbosch: my Bermuda-driehoek … waarin ek verdwyn, ek sal myself later moet soek.” (234) Die reise raak vermoeiend: “Hy reis te veel. Hy moet meer tuis bly. Dit stoot hom af: die lughawens; die stasies; die hotelle.” (296) Hy voel dat hy sy greep verloor: “Ek dobber, dink hy. Uitgegooi uit ’n stormwatersloot in ’n klotssee … Ek is ’n boei daar, losgedryf van sy boot. Ek het my funksie verloor.” (358)

Die ontgogeling wat Christian ervaar, het te make met sowel die aard en inhoud van die postmoderne era in die lande waarheen hy reis as met die kwellende kontemporêre omstandighede in Afrika en Suid-Afrika. Christian sien die tyd waarin hy lewe toenemend met ’n helderheid wat moeilik te verdra is:

Die woord verglyding kom so dikwels by my op. Dis wat hierdie tyd is. ’n Tyd waarin dinge gewoon aan die beweeg gegaan het. Die magma-lae van die geskiedenis, gesmelte lawa onder die oppervlak. Dit prut en stadig skuif die vastrapplek. Later is daar net enkele eilande in die molm. Holtes vir ons voete. Ons vergly. Vir my ’n situasie nie sonder opwinding nie. (100)

Tydens ’n nagrit in Johannesburg saam met ’n Zimbabwiese skilder word Christian getref deur die verval in die stad:

“Ons probeer glo,” vertel Salisbury. “Ons probeer glo.” Hy praat teen die donkerte in. Dit hang oor die plein. ’n Verglyding. Daar is ’n Oos-Berlynse gestrooptheid. Die verrukking van vuil mure, vervalle geboue, roessinkplate in lang gras en vuurrook laat Christian dink aan reise wat hy nie helder kan onthou nie. Dit roep herinneringe by hom op wat nêrens inpas nie. Beelde van plekke wat dalk met ander plekke vervloei. Hy is nie seker nie. Dis stede, stede van die liefde. Dis pleine van verslingering. Verglyding. (195)

Op sy besoek aan Harare kom Christian in aanraking met die handel in kinders met die oog op prostitusie en die verhandeling van organe. As hy later die aand na buite gaan, is die toneel ’n weerspieëling van sy gevoel:

Die straat is donker en verwese. Daar is niemand nie. Geen motor beweeg nie. ’n Stuk koerantpapier skuifel in die wind.

Die skreeu wat sy nekspiere laat span en die are op sy voorhoof laat bult, is geluidloos. (525)

Hierdie besoek laat hom inderdaad oor ’n grens beweeg. By sy terugkeer weet hy dat hy iets moet doen: “Ek moet met Christine praat, besluit hy. Hy ’t dit eintlik daar in die Hotel Elzenveldt al besluit.” (527) Hy besef dat hy nie op dieselfde wyse wil voortgaan nie en is gedetermineerd om met Christine ’n openhartige gesprek te voer. Die slotsin van die roman dui aan dat hierdie gesprek inderdaad plaasvind. Christian neem Christine na “’n nuwe plek” en verduidelik dit soos volg:

“Ek het jou na ’n totaal nuwe plek gebring, want ons het geheime om uit te ruil” … Sy wil haar een hand onttrek. “Nee.” Hy trek haar hande nader aan hom. “Ek wil jou daarvan vertel, want ek het jou baie lief.” (538)

 

8. Teks en wêreld

Watter afleidings kan die leser maak oor hierdie slottoneel as die sluitsteen vir ’n komplekse en veelfassettige roman soos In stede van die liefde? Daar sou geredeneer kon word dat die boeiendste aspek van die teks lê in die verhouding tussen die postmoderne wêreld wat in die roman uitgebeeld word en die postmodernistiese en ondermynende teksstrategieë wat gebruik word in die uitbeelding.

Volgens Lotman is daar basies twee beginsels waarop tekste geskoei kan word en op grond daarvan onderskei hy tussen sogenaamde mitiese en lineêre tekste. Mitiese tekste is tekste waarin ’n wêreldbeeld geskep word. Hulle is dus siklies van aard, omdat sowel die patrone as die karakters daarin herhaaldelik in ander gedaantes in tekste voorkom en gebruik kan word terwyl dieselfde wêreldbeeld onderliggend aan die representasie is (Lotman, 2000:152). Lineêre tekste, daarenteen, is tekste wat ’n buitengewone gebeurtenis beskryf, ’n “event”, iets wat as ’n anomalie beskou word, wat die gevestigde orde ontwrig of geweld aandoen (Lotman, 2000:153). Die plotstruktuur van moderne verhalende tekste is ’n mengsel van hierdie twee soorte tekste terwyl een van die twee beginsels gewoonlik sterker figureer as die ander (Lotman, 2000:153). In alle historiese periodes is daar egter tekste wat by die heersende wêreldbeeld aansluit of inskakel terwyl ander tekste daarteen inskryf.

In stede van die liefde is oënskynlik ’n postmodernistiese roman wat ’n postmoderne wêreldbeeld representeer. In die verhaal word sterk klem geplaas op die veranderlikheid en onvastheid van die geskiedenis, op die relatiwiteit van wat mense weet en van hulleself glo. Eaglejohn Fieldhouse bewys met sy gedaanteverwisselings dat ’n mens kan wees wat jy wil en Christian reis deur verskillende wêrelde met ’n soort aanpasbare identikit. Soos hierbo aangetoon, word die verhaal op vele maniere tematies ingebed in die kaleidoskopiese postmoderne wêreldhede.8

Tekstueel is die roman byna ikonies postmodernisties met ’n verbrokkelde tydstruktuur, die vervlegting van uiteenlopende verhaallyne en die bymekaarbring van bykans onwaarskynlike en toevallige insidente en karakters. Die teks verbrokkel ook toenemend na die einde toe soos wat die hoofkarakter se selfbeeld en wêreldbeeld verbrokkel. Generies is die roman moeilik te beskryf: dit het ’n duidelike politieke asook ’n historiese dimensie; dit kan as ’n psigologiese roman beskou word; daar is selfs elemente van ’n speurverhaal of avontuurverhaal daarin en verder kan eienskappe van bykans alle genres in die roman gevind word. Die boek het selfs ’n bibliografie waardeur die grens tussen fiksie en werklikheid, tussen roman en navorsingverslag, ondermyn word.

Oënskynlik het ’n mens dus te make met ’n postmodernistiese roman oor ’n postmoderne wêreld wat grense bevraagteken, wat identiteit as veranderlik en gekonstrueerd beskou, wat die mens as ’n veranderlike reisende wese uitbeeld, wat die geldigheid van semiosfere en semanties samehangende wêrelde ondermyn en die grense as opwindende en aksiebelaaide ruimtes voorhou. Hierteenoor word die grense, die strate, die paaie, die tussenruimtes toenemend as gevaarlike plekke gemerk. Die bewustheid van bedreiging en onheil bewerkstellig nie net spanning in die roman as teks nie, maar aktiveer by die leser ook ’n bewustheid van ’n subtiel gesuggereerde bevraagtekening van juis dit waaroor die roman oënskynlik handel.

Die slot van die roman impliseer ’n bepaalde keuse: daar word ’n voorneme uitgespreek en die voorneme is uitgevoer, omdat die verhaal inderdaad vertel is. Dit kom voor asof daar ’n suggestie is dat daaronder en agter die wêrelde waarbinne mense lewe, kommunikeer en in interaksie tree op grond van die konvensies en betekenisvolle gedragspatrone van ’n bepaalde historiese tydvak en ’n bepaalde kontemporêre lewensvisie – ’n dieper vlak van menslikheid lê. In hierdie geval gaan dit om die postmodernistiese uitbeelding van die postmoderne mens en die suggestie dat daar ten spyte van die nonchalante deurkruising van al die stede van die liefde, ’n bewustheid is van limiete, van onoorskrybare grense, van die besef dat in die eerste en laaste instansie die liefde nie verloor mag word nie. As ander dinge in stede van die liefde gekoester word, word die limiet genader.9

Die slot van die roman laat die leser teruggaan na wat gelees is en aktiveer frases soos die verwysing na die volhardende “ek” at die dood teenstaan, die “iets met vlerke” wat sigself aanmeld in Christian se binneste.10 Die leser onthou hoe die man wat die dwelmwêreld wil betree, die gewoonste vraag vra, naamlik of die bonsaiboompie water gekry het. Daar is die deurlopende verwysings na die kommer oor die kind en die geliefde. Die spanningslyn in die roman dui op ’n intensivering van stres in die hoofkarakter soos wat daar by hierdie nonchalante en selfversekerde reisende figuur ’n soort oorlading intree, ’n oorversadiging wat manifesteer in die vorm van fisiese weerloosheid, psigologiese dreinering en apatie, en ideologiese uitputting.11 Daar is duidelik ’n vrees vir die verlies van die self terwyl die gebrek aan ’n samehangende self en ’n duursame waardesisteem juis postmodernisties (in die roman en daarbuite) gerepresenteer word.12

By Christian kom daar ’n behoefte aan bestek en vernuwing, maar dit word meer as ’n behoefte. Dit word ’n noodwendigheid, iets onafwendbaars, iets noodsaakliks. Die poging tot vernuwing kan egter net aangepak word ter wille van en met behoud van die liefde vir die allernaaste. Dit moet geskied vir en saam met die geliefde.

Dit gaan dus om ’n keuse en dit kom voor asof daar hier sprake is van ’n bepaalde soort “lewensaanvoeling” wat ’n keuse afdwing, hoewel die keuse nie inpas by die kontemporêre wêreldbeeld of die selfgekonstrueerde postmoderne identiteit van die hoofkarakter nie. Terwyl hy beweeg deur wêrelde wat soos semiosfere telkens volgens bepaalde kodes en prosesse funksioneer, word Christian gekonfronteer met dieperliggende gedagtes en aanvoelings. Ek vind in die roman ’n herontdekking van die argetipiese dimensie van menswees en dit sluit aan by wat Phil van Schalkwyk ondersoek en beskryf het as die mites en die horisonmites wat die denke van ’n gemeenskap onderlê13. Daar is ’n onderliggende argetipiese reaksiepatroon wat in die geval van ’n radikale grenservaring in werking tree en wat nie bepaal of beperk word deur die kontemporêre kulturele semiosfeer se inhoude en denkstyl nie.

 

9. Slot

Hoewel hierdie roman dus postmodernisties is in inhoud en styl, verbreek dit ook die postmodernistiese “mites”, omdat dit terugverwys na oerhandelingspatrone en argetipiese waardes wat juis deur die postmoderne wêreld beskou word as relatief en leeg en sonder universele of blywende waarde.14 Daar word gesuggereer dat daar inderdaad (hoe ironies ook al) limiete is aan veranderlikheid en relatiwiteit. Die suggestie is dat daar wel ononderhandelbare dinge is, dinge wat te kosbaar is om risiko’s mee te loop, wat nie prysgegee kan word sonder onnoembare skade nie. In die instinktiewe keuses is die identiteit van selfs die postmoderne mens nie volledig volgens eietydse patrone gekonstrueer nie, is sy optrede nie suiwer en volledig kontemporêr en pragmaties bepaal nie. Christian kies vir sy liefde vir Christine en vir die behoud van die gesinsbande – die in-die-vooruitsiggestelde verhaal begin en eindig nie by die wêreld van die internasionale kunshandel nie, nie by die dwelmgebruik nie, nie by selfhandhawing en uitdagendheid nie, maar by die kwesbaarheid en in weerloosheid, in liefde en selfbehoud en ’n strewe na herstel.

Die bewustheid van ’n limiet word sterk beklemtoon in die slotgedeelte van die roman: Christian besef by sy terugkeer uit Harare dat hy nie op dieselfde manier kan aangaan nie – sy liggaam en gees sal breek – en hy weet waarmee en hoe hy verder wil gaan. Daar word nie beweer dat die roman ’n finale of radikale terugkeer na ’n bepaalde lewenspatroon, byvoorbeeld ’n meer tradisionele of veilige burgerlike lewe, suggereer nie. Dit gaan eerder om ’n spiraalvormige proses waar die sikliese patroon van voortdurende herbesinning en bestekopname die voortgang van die saambestaan telkens op ’n ander vlak plaas. Die keuse om in die lig van die gevaar die huidige patroon van geheimhouding en indiwidualistiese verheerliking van vryheid te verbreek, impliseer nie noodwendig die vermoë om aan die gevolge daarvan te ontkom nie, maar wel dat ’n poging aangewend word om die volgende fase van die lewensproses saam met die geliefde aan te pak. Eerlikheid en openheid teenoor mekaar sal die verhouding op ’n ander grondslag plaas, maar die keuse vir hierdie oorgang impliseer wel ’n duidelik veranderde ingesteldheid teenoor die eie lewenspatroon en die tydsgees.

Op ironiese wyse het ’n mens dus hier te make met ’n postmodernistiese teks wat die postmodernistiese aannames uitdaag en verbreek. Die roman deurbreek juis lineêr en esteties die aanvaarbare norme van die dag. Die postmodernistiese werkwyse word gebruik teen en nie in instemming nie met die postmodernistiese mites. Die slot van die teks maak die leser dus daarop attent dat hy moet teruglees, nie net op die verhaalvlak nie, maar juis om al die fyn ingeboude suggesties op te vang wat daarop wys dat die roman in verhouding tot die postmoderne konteks en ten spyte van die postmodernistiese tegniek en styl geskryf is volgens ’n estetiek van opposisie en nie volgens ’n estetiek van identiteit nie.

Volgens Lotman (2000:15-19;153) is die uiteindelike eienskap van die estetiese teks dat dit verskillende kodes en kodesisteme meng en teen mekaar afspeel, op mekaar laat inspeel sodat die teks se vermoë om betekenisse te genereer optimaal ontgin word.

Of In stede van die liefde van Etienne van Heerden as ’n postmodernistiese teks of ’n post-postmodernistiese teks bestempel kan word, of nie – dit is gewis ’n boeiende en ryk estetiese teks.

 

Aantekeninge

1. Bladsynommers in hakies verwys na Van Heerden, Etienne. 2005. In stede van die liefde. Kaapstad: Tafelberg.

2. Die siening van die slot van die teks as ’n grens moet nie gelees word in die sin van die “teks teenoor wêreld” as twee pole of twee geskeide kategorieë in betekenisgenerering nie. Die interpretasie van die tekselemente is immers voortdurend tydens die leesproses afhanklik van die interaksie met gegewens en kennis uit die werklikheid. Dit gaan vir Lotman in Die Struktur literarischer Texte (1972) – en die ander skrywers waarna verwys word, gebruik dit op dieselfde manier – om die kunswerk as ’n ruimte of gebied wat op die een of ander manier afgebaken word om dit te onderskei van die werklikheid (Lotman, 1972: 314), aangesien die teks as gestruktureerde meervoudig gekodeerde artefak/estetiese objek beskou word. Dit wil dus voorkom asof Lotman die begin en die einde van die verhalende teks sien as ’n raam wat die konkrete artefak omsluit, maar omdat die aanvang en die slot die aanvanklike kennismaking met die teks en die finale afronding van die teksgegewens behels, is hierdie twee aspekte van die teks vir hom besonder belangrik. Vandaar sy samevattende opmerking: “Trotz allem ist aber im heutigen Erzählungstext die kodierende Funktion dem Anfang und die sujetmässige ‘mythologisierende’ dem Ende zugeordnet.” (Lotman, 1972: 311) Waar die aanvang van die teks vir Lotman (1972:307) in meerdere of mindere mate met “oorsake” gemoeid is, aktiveer die einde van die teks aspekte van die uiteindelike doel van die tematiese ontwikkelinge in die teks.

3. Volgens Van Schalkwyk (2003:129-130) is ’n mite “’n breë, intensionele, koherensieskeppende narratiewe gebaar” en die horisonmite omskryf hy as “’n tipe mite, of ’n aspek van mite ’n breë, narratiewe gebaar, wat op ’n produktiewe wyse na (toekoms-)moontlikhede en spesifiek moontlike wêrelde van alternatiewe en vryheid refereer”.

4. Lotman skep die term semiosfeer na analogie van die term biosfeer waarmee Vernadsky die totaliteit en die organiese geheel van lewende materie en die voortgang van lewe aandui. In die biosfeer “all life-clusters are intimately bound to each other. One cannot exist without the other.” Die biosfeer “has a quite definite structure which determines everything without exception that happens in it” (Lotman, 2000:125). Hierdie eienskappe, die organiese geheel en die interafhanklikheid van die onderdele van die geheel, word deur Lotman op taal en ander semiotiese strukture in die semiosfeer oorgedra.

5. Ek gebruik deurgaans so noukeurig moontlik Linda Hutcheon (1989:23) se onderskeid tussen die term postmodern wat verwys na die sosiale en filosofiese historiese periode of situasie en die term postmodernisties wat verbind word met die kulturele representasies waarin die postmoderne ervaring tot uitdrukking kom, hetsy in die vorm van literatuur, argitektuur, fotografie, film, skilderye, video, dans en musiek.

6. Hoewel Hassan (1987:92) se gebruik van opposisies – om die verskille tussen modernisme en postmodernisme te beskryf – inderwaarheid ’n modernistiese werkwyse is om die nie-binêre aard van postmodernisme te verduidelik, bly die eienskappe wat hy aandui wel deeglik beskrywend van postmodernistiese tekste en van die postmoderne denkwyse. Eienskappe soos spel, chaos, anargie, afwesigheid, desentrering (disseminasie), risomatiese beweging en oppervlakkigheid, begeerte en onbepaaldheid figureer sterk in In stede van die liefde; en wat ook boeiend is, is dat Christine telkens die ander pool verteenwoordig, naamlik gerigtheid op ’n doel, hiërargie (spesifiek ten opsigte van haar herkoms), soeke na aanwesigheid en ’n kern, soeke na wortels en betekenis, simptome van spanning en geestelike stres juis as gevolg ’n gebrek aan vastigheid en kennis van die waarheid aangaande haarself. Die volledige verkenning van hierdie aspek van die teks val egter buite die skopus van hierdie artikel.

7. ’n Baie interessante aspek van die grens is die spanning tussen die periferie, die gebied na aan die grens, en die sentrum van die semiosfeer. Die periferie is kleurvol, eksoties en boeiend, teenoor die “normale”, geykte en aanvaarde inhoude en prosesse van die sentrum. Wanneer elemente van die periferie na die sentrum gebring word, verleen dit kleur aan die sentrum, maar met verloop van tyd sal hierdie elemente noodwendig normaliseer en gedemp raak soos wat hulle deel word van normale patrone (Lotman, 2000:141). In die interafhanklikheid van die periferie en die sentrum, van die interne en eksterne ruimtes van die semiosfeer, setel ’n noodsaaklike dinamiek van kulturele lewenskragtigheid wat die noodsaak van die bestaan van beide pole aantoon. Dit is ook so dat die sentrum ’n bepaalde trekkrag het, dat hierdie stabiliserende werking noodsaaklik is in kulturele prosesse en dat middelpuntvliedende kragte wat ekstreem word, skadelik kan wees. Hierdie aspekte word egter nie in hierdie artikel verder ontgin nie.

8. Die uitbeelding van die pragmatiese postmoderne wêreld waarin maatstawwe vir die beoordeling van die geldigheid van kennis en insig ontbreek, sluit aan by Lyotard se analise van postmoderniteit in The Postmodern Condition: A Report on Knowledge (1984[1979]).

9. Die volgende opmerking van McHale (1986:60) in verband met die verhouding tussen die epistemologiese en die ontologiese stem ook tot nadenke, spesifiek met betrekking tot die ommekeer in In stede van die liefde: “Intractable epistemological uncertainty [...] becomes at a certain point ontological plurality or instability: push epistemological questions far enough and they ‘tip over’ into ontological questions. By the same token, push ontological questions far enough and they tip over into epistemological questions – the progression is not linear and one- way, but circular and reversible.”

10. Hierdie ontdekking van ’n hardnekkige selfbewussyn staan direk teenoor die redenasie van Stuart Hall (1996:3) wat identiteit as ’n suiwer strategiese en posisionele konstruksie sien. Vir Lyotard (1984:41-47) is dit ook nie aanvaarbaar nie dat die geldigheid van kennis en van ’n bestaan wat binne relatiwiteit nogtans sinvol moet wees vir die indiwidu, bloot berus op ’n onderhandelde en pragmatiese skikking. Vir Lyotard veroorsaak so ’n posisie ’n etiese dilemma wat net deur voortdurende soeke en toetsing opgelos kan word. Christian beoog en beoefen ’n postmodernistiese lewenstyl, maar word deur grenservarings tot nadenke gebring. Waar Hall (1996:6) die stelling maak dat “identities are thus points of temporary attachment to the subject positions which discursive practices construct for us”, is die liefde en die verbintenisse wat op liefde berus en uit liefde groei vir Christian nie onderhandelbaar nie.

11. Die oorversadiging wat die postmoderne era kenmerk, word uitvoerig bespreek deur Kenneth J. Gergen (1991) in ’n boek met die titel The Saturated Self – Dilemmas of Identity in Contemporary Life.

12. Christian se soeke na geldige betekenis onder die bolae van die postmoderne wêreld en die poging om homself in ’n verhaal te (re)konstrueer, kan ook beskryf word in terme van Lyotard se term paralogie. Paralogie (Lyotard, 1984:43,60-63) kan omskryf word as die individualistiese soeke na nuwe betekenis deur middel van taal en taaltekste. Paralogie dui nie op vernuwing ter wille van vernuwing as sodanig nie, maar is ’n kreatiewe en produktiewe weerstand teen enige vorm van die verabsolutering van metaverhale (Lyotard, 1984:65-66). Hierdie verset kan dus ook teen die geykte postmodernistiese aannames gerig word.

13. Vergelyk Van Schalkwyk (2003).

14. Die vraag of hierdie patroon – naamlik die soeke na vastighede of ononderhandelbare aspekte van ’n lewe, of selfs die terugkeer na argetipiese waardes – wyer resonansie het, hetsy in ander estetiese tekste of in teoretiese geskrifte, sou tot ’n boeiende en belangrike ondersoek kon lei. Daar is wel al geskryf oor psigologiese behoeftes en risiko’s wat saamhang met die ongeborgenheid van postmoderne vryheid, byvoorbeeld deur Gergen (1991) in die boek The Saturated Self, maar daar is ook reeds aanduidings van die kompleksiteite van die postmoderne belewenis in Charles Taylor se The Malaise of Modernity (1991). Taylor verwys na die noodsaak om sowel dit wat groots is as dit wat oppervlakkig is, raak te sien in ’n bepaalde tydvak. Slegs as mense sowel die grandeur as die misère van hul tyd begryp, sal hulle die insig kry wat die era van hulle verg om sinvol te lewe (Taylor, 1991:121). Zygmunt Bauman (1992) skryf ook oor die risiko van onbeteuelde vryheid teen die agtergrond van die gebrek aan die sekerhede wat die moderniteit belowe het as hy verwys na die etiese paradoks van die postmoderne kondisie: “Ethical tasks of the individual grow while the socially produced resources to fulfil them shrink. Moral responsibility comes together with the loneliness of moral choice.” (Bauman, 1992:xxii) Hoe hierdie insigte in verband gebring kan word met ontwikkelinge in die eerste dekade van die 21ste eeu, sal ’n deeglike ondersoek verg. Dit val egter buite die bestek en skopus van hierdie artikel.

 

 

 

Bibliografie

Bauman, Zygmunt. 1992. Intimations of Postmodernity. London: Routledge.

Du Plooy, Heilna. 1995. Die mitologiserende slot van die roman. Stilet, VII(2). September.

Gergen, Kenneth J. 1991. The Saturated Self. Dilemmas of Identity in Contemporary Life. USA: Basic Books / Harper Collins Publishers.

Hall, Stuart & Du Gay, Paul (reds.). 1996. Questions of cultural identity. London: SAGE Publications.

Hassan, Ihab. 1987. The Postmodern turn: Essays in Postmodern Theory and Culture. Columbus: Ohio State University Press.

Hutchen, Linda. 1989. The Politics of Postmodernism. London / NewYork: Routledge.

Kermode, Frank. 1966. The Sense of an Ending. New York: Oxford University Press.

Leroux, Etienne. 1973 (1967). 18-44. Kaapstad: Human & Rousseau.

Lotman, J.M. 1972. Die Struktur literarischer Texte. (Übersetzt von Rolf-Dietrich Keil.)

München: Wilhelm Fink Verlag.

Lotman, Yuri M. 2000 (1990). Universe of the Mind. A Semiotic Theory of Culture. (Translated by Ann Shukman.) Bloomington and Indianapolis: Indiana University Press.

Lyotard, Jean-Francois. 1984 (1979). The Postmodern Condition: A Report on Knowledge. (Translation from the French by Geoff Bennington and Brian Massumi.) Manchester: Manchester University Press.

Mchale, Brain. 1986. Change of dominant from Modernist to Postmodernist Writing. In: Fokkema, Douwe & Bertens, Hans (reds.). Approaching Postmodernism. Amsterdam: John Benjamins Publishing Company.

Nöth, Winfried. 2006. Yuri Lotman on metaphors and culture as self-referential semiospheres. Semiotica, 161(1/4):249-263.

Taylor, Charles. 1991. The Malaise of Modernity. Ontario: Anansi.

Van Heerden, Etienne. 2005. In stede van die liefde. Kaapstad: Tafelberg.

Van Niekerk, Marlene. 2004. Agaat. Kaapstad: Tafelberg.

Van Schalkwyk, P.L. 2003. Horisonne: Mites oor die moontlike in kontemporêre verhalende tekste van Suid-Afrika en die Nederlandse taalgebied. Ongepubliseerde proefskrif. Potchefstroom: PU vir CHO.

Viljoen Lettie. 1993. Karolina Ferreira. Kaapstad: Human & Rousseau.

Viljoen Lettie. 1996. Landskap met vroue en slang. Kaapstad: Human & Rousseau.

Winterbach, Ingrid. 2002. Niggie. Kaapstad: Human & Rousseau.

Prof. Heilna du Plooy
Skool vir Tale, Afrikaans en Nederlands
Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)
Potchefstroom 2520
Suid-Afrika

e-pos: Heilna.duPlooy@nwu.ac.za


Gepubliseer op Afrikaans in Europa, Augustus 2007
Ook in 2007 gepubliseer in Stilet, XIX (2).


© Catharina Loader 2001