Letterkunde

Krog se ster nog nie verskiet

DIE STERRE Sê ‘TSAU’: /Xam-gedigte van Diä!kwain, Kweiten-ta-//ken, /A!kúnta, /Han¹kassó en //Kabbo gekies en versorg deur Antjie Krog. Kwela Boeke, 2004. (Sagteband, 64 bladsye, R102).

die sterre doen dit op die volgende manier:
wanneer dit tyd word dat ons harte val
dan is dit die tyd dat ’n ster ook val
wanneer die ster voel dat jou hart begin kantel
dan val die ster
want die sterre weet wanneer ons gaan sterf
as `n ster verskiet
dan weet jy iemand wat jy liefhet se hart het geval

Hierdie aangrypende sitaat is afkomstig uit die gedig “dood” (18), een van die vele roerende gedigte met verrassende beelde wat die alledaagse op die eenvoudigste wyses oor te dra terwyl dit die kompleksiteite van die moderne Westerse mens subtiel suggereer.

Die sterre sê ‘tsau’ is `n versamelbundel van vertalings uit die /Xam-taal – `n dialek van die uitgestorwe San-tale – en kan gelees word as `n voortsetting van Met woorde soos met kerse (Kwela Boeke, 2002), waarin Krog vertalings uit verskeie Afrikatale na Afrikaans gepubliseer het. Een van die hoofdoelstellings agter hierdie projekte is om die tale van ons land wat aan die uitsterf is, of al uitgesterf het, te bewaar en om tale wat weinig status het, op te hef tot hoër aansien binne die literêre sisteem.

Vir die betrokke publikasie het Krog hoofsaaklik gebruik gemaak van die geskrifte van die filoloë dr. Wilhelm Bleek en sy skoonsuster, Lucy Lloyd. Bleek en Lloyd het teen die middel van die 19de eeu na Suid-Afrika gekom met die oog daarop om die grammatika van die Zulu-taal te kom vaslê. Met hul koms hier het hulle egter meer geleer van die Boesman-bevolking (die San) en hul bedreigde taal, en besluit om hulle toe te spits op die optekening van die Boesman-tale. Hierdie dokumentasie van Bleek en Lloyd word vandag nog as een van die wêreld se grootste etnografiese vondste beskou.

Ontwerper Jürgen Fomm is verantwoordelik vir die ontwerp van die omslag wat hy gebaseer het op `n skets gemaak deur !Nanni, “Kani – `n plant wat op die grond kruip, met wortel wat geëet word”, geplaas teenoor die titelblad van die bundel. Hierdie omslag met die rotskunsagtige grafika bied iets van die aardse eenvoud aanwesig in die bundel, maar ook iets van die kompleksiteite van die proses en inhoud deur die aanwesigheid van die inkpen-notas. Naas die skets staan die titel, Die sterre sê ‘tsau’, uit en daarnaas die naam Antjie Krog. Melding van die oorspronklike digters, of vertellers agter die gedigte, word in die subtitel gemaak, maar Krog se naam staan gepas uit as aansporing om die boek van die rak te haal.

Die historiese waarde van die werke – sketse en teks – en die belang van die konteks waaruit hulle kom, is baie belangrik by die lees en verstaan daarvan. In hierdie opsig dien die inleiding as deeglike toeligting om die leser te oriënteer, te lei en te prikkel. Verder word die tekste self ook aangevul deur kleursketse van die /Xam-mense – oorspronklik `n metode van Bleek en Lloyd om so volledig en deeglik moontlik alle kennis in te samel en weer te gee van die taal en sy mense.

Voor elke /Xam-verteller se afdeling is daar verder ook `n foto van die verteller met `n kort stukkie biografiese inligting om die leser te help om die teks met groter begrip te lees. Die meeste waarde in dié opsig is te vinde by //Kabbo, die vyfde verteller van die bundel, gevind, aangesien sy biografie geskakel word met sy gedigte wat in die afdeling volg. Die foto’s van Diä!kwain en !Kweiten-ta-//ken is veral interessant aangesien hulle in Westerse klere poseer – nog `n voorbeeld en bewusmaking van die Westerse invloed op die inheemse mense. Hierdie foto’s gee ook persoonlikheid aan andersins onbekende historiese figure met wie die moderne leser op weinige vlakke kan identifiseer.

`n Laaste bron van toeligting wat gebied word, is die notas aan die einde van die bundel. Hoewel hierdie notas van groot waarde is en soms ook noodsaaklik by die lees van `n gedig, word daar nêrens in die teks melding gemaak wanneer `n nota gelees moet word nie. Gevolglik gaan die waarde en effek van die toeligting verlore. Myns insiens is dit sekerlik die grootste flater van die bundel en sou dit beter gewerk het as voetnote.

Een van die kwelpunte omtrent hierdie publikasie is die feit dat al die gedigte vertalings, of eerder herskrywings, van die Bleek- en Lloyd-geskrifte is. In watter mate is die werk dus Krog of die betrokke /Xam-vertellers s’n? In hierdie lig is dit belangrik om te besef dat die Bleek- en Lloyd-geskrifte reeds vertalings is van die /Xam-vertellers se verhale, wat beteken dat Krog eintlik besig is met `n vertaling van `n vertaling. Om nog verder te gaan, is die Afrikaanse vertalings in Die sterre sê ‘tsau’ weer oorvertaal na Engels vir die Engelse uitgawe, The Stars Say ‘tsau’. Sou `n mens die filosofie van die bekende Franse filosoof Derrida aanvaar, skyn dit geen probleem te wees nie, aangesien alles altyd `n interpretasie, en dus vertaling, van iets anders is. Indien nie, kan `n mens keer na Lawrence Venuti, ’n Engelse professor aan die Temple Universiteit in Philadelphia met literêre vertaling as een van sy spesialiteitsgebiede. Venuti is van mening dat daar by enige vertaling waardevolle eienskappe van die teks verlore gaan, maar dat daar ook waardevolle eienskappe behoue bly. Deur die vertaling kan mens dus `n teks laat oorleef of laat groei in gesag. Krog sê self in Met woorde soos met kerse dat om nié Neruda te kan lees omdat jy nie Spaans kan verstaan nie, sal lei tot `n verarming van jou literêre ervaring.

`n Belangrike aspek van die verhale wat grootliks deel is van die orale tradisie, is die klanke en bewegings wat lewe aan die storie gee – `n belangrike deel van die verhaal wat verlore gaan by die vertaling, veral wanneer dit kom by die verskillende klapgeluide van die /Xam-taal. Krog maak egter so ver moontlik voorsiening hiervoor deur van sekere skryftekens gebruik te maak en elkeen te koppel aan `n spesifieke klap wat in die inleiding en notas beskryf word. Voorbeelde is die dubbel-skuinsstreep (//) wat gelykstaande is aan die tongklap, wat gebruik word om `n perd aan te moedig, en die uitroepteken (!), wat `n harde klapgeluid agter in die mond aandui. Krog is egter ook bekend vir haar gebruik van klank en ritme in haar eie poësie wat haar die nodige aanvoeling gee om stem aan die lewelose skryftekens te gee. Een gedig wat uiters suksesvol die orale tradisie laat voortleef deur die leser te noop om dit hardop te lees is, “die kat se lied” (48).

die kat is die een van wie die rooikat praat
‘dis die kat wat nie vinnig kan hardloop nie’
dit moet die sluheid wees
want die rooikat is nie al wat werklik slu is nie

haggla sê hy met sy lang tong uit
haggla haggla
heggle heggle heggle
heggli
heggli heggli heggli
heggli n!

(sitaat uit “die kat se lied”)

Krog se bewustheid as vertaler oor al hierdie problematiese kwessies rakende die benutting van dié Boesman-geskrifte en die uiteensetting van haar werkswyse in die inleiding, laat die leser toe om met groter gerustheid die bundel te lees. Die hoofuitgangspunte by die seleksie van die materiaal was om te soek na sterk poëtiese moontlikhede in die geskrifte; die natuurlike manier waarop van die vertellings self in versreëls val; en “die Afrikaanse onderbou van materiaal”, dit wil sê, hoe natuurlik die vertaling na Afrikaans sou kon geskied. As dit kom by Krog se vertalings, is dit eerder herskrywings as vertalings – sy erken dat sy dele uitlaat of van die narratiewe elemente herrangskik om die estetika van die poësie te ontmoet.

Deur net Met woorde soos met kerse te vergelyk met Die sterre sê ‘tsau’, kom die element van herskrywing en interpretasie versus blote vertaling aan bod. Uit die 37 gedigte opgeneem in Die sterre sê ‘tsau’ is 22 oorgeneem uit Met woorde soos met kerse, met baie van die gedigvariante wat byna onherkenbaar van mekaar verskil. `n Voorbeeld hiervan is “die oorsprong van die dood; voorafgegaan deur `n gebed vir die nuwe maan” (41), soos dit verskyn in Met woorde soos met kerse:

o nuwe maan daar bo
neem my gesig en ruil dit daarbo met joune
hou my gesig daar bo
en alles wat my ontstel
en gee my jou gesig wat altyd nuut terugkom
nadat jy gesterf het
want die vreugde daar bo
omdat jy nuut is
is altyd sigbaar van hier

In Die sterre sê ‘tsau’ staan die gedig onder die titel “gebed aan die nuwe maan” (14):

o nuwe maan daar bo gunter
neem my gesig derwaarts en ruil dit met uwe
hou my gesig daar gunter
en alles wat my ontstel

om u naams ontwil gee ek my gesig, maan
die gesig wat altyd lewend wederkeer
nadat u gesterf het

gee my u gesig, maan
en die vreugde van gunter
wat u altyd nuut laat wederkeer
nuwe maan sigbaar van herwaarts

Al staan hierdie sitate as twee verskillende gedigte voor die leser, is die een, myns insiens, nie noodwendig beter of slegter as die ander nie, maar dien hulle beslis die een of ander doel binne die diskoerse van die bepaalde digbundels. In hierdie opsig is dit belangrik om te besef dat die vertaler altyd `n doel het met `n teks en in die geval van Krog is die belangrikste doel om `n uitgestorwe taal te laat voortleef en op so veel moontlik maniere die rykheid daarvan uit te beeld – al is dit deur twee weergawes van dieselfde verhaal.

Buiten vir die feit dat al die gedigte /Xam-vertalings is, is die een goue draad wat die bundel as eenheid bind, die beskrywing van natuurverskynsels en die invloed daarvan op die mens. Soos ook blyk uit die titel, is die ster `n belangrike verskynsel in die bundel. Ander natuurheersers wat naas die ster ook sentraal staan is die son, maan en die weer.

Deur hierdie temas word feitlik alle aspekte van die mens se natuur en aard aangeraak deur die mens in verband te bring met die natuur, hetsy deur die natuur menslike eienskappe te gee soos in die treffende gedig “die slapende son se oksel” (40), óf deur die heerskappy wat die natuur oor die mens voer en die gevolglike respek wat die mens daarvoor moet hê (“moenie na die maan kyk nie”, 15).

Die bundel self bestaan uit sewe dele: die inleiding, gedigte van vyf /Xam-vertellers en die notas. Die vertellers wat in hierdie bundel figureer, is eerstens Diä!kwain, oftewel Dawid Hoesaar, een van die beste vertellers wat by die Bleek-familie aangekom het en wat sekerlik ook van die beste materiaal vir poësie opgelewer het. Twee van sy werke wat myns insiens tydloos is weens die verrassende beelde, die poëtiese naratologiese elemente en universele klank is “die wind, maan, wolke en die dood” (17) en “dood” (18). Gedigte soos dié maak van die bundel nie net ’n historiese vonds nie, maar ook goeie poësie wat enige liefhebber van die digkuns sal stimuleer.

Volgende is dit !Kweiten-ta-//ken, oftewel Rachel, suster van Diä!kwain en die enigste vroue-verteller. Haar gedigte is met die grootste skokelemente belaai en staan in skerp kontras met die teer, moederlike figure wat in die mans se gedigte figureer. `n Gedig soos “die skerm” (26), waar die vrou die man wat vir haar skuiling bied verwerp deur hom in die koue te laat sterf, staan in skerp kontras met die vroue in die ander gedigte wat die oordraers van wysheid aan die kinders is.

/A!kúnta is die derde verteller, met slegs een gedig. /Han¹kassó, oftewel Klein Jantjie, is die skoonseun van //Kabbo en die vierde verteller. Uit sy versameling kom die gedig wat lewe gegee het aan die bundeltitel, “wat die sterre sê” (31):

die sterre vat jou hart
want die sterre is vir jou nie bietjie honger nie!
die sterre verruil jou hart vir `n ster se hart
die sterre vat jou hart en voer jou `n ster se hart
dan word jy nooit weer honger nie

want die sterre sê: ‘tsau! tsau!’
en die boesmans sê die sterre vervloek die springbok se oë
die sterre sê: ‘tsau!’ hulle sê ‘tsau! tsau!’
hulle vloek die springbok se oë
ek het grootgeword luisterend na die sterre
die sterre sê: ‘tsau! tsau!’

en dis altyd somer wanneer jy die sterre hoor ‘tsau’ sê

Die kruisverwysings na ander gedigte wat oor sterre handel, soos “dood” (18), bied verdere eenheid ten opsigte van die bundelgeheel.

//Kabbo, oftewel Ou Jantjie Tooren, is die laaste verteller in die bundel, asook een van die beste en deeglikste vertellers. Volgens die Bleek-geskrifte was hy ook een van die enigste Boesman-vertellers wat self `n poëtiese kwaliteit aan sy verhale gegee het. Al die gedigte in sy afdeling is van groot poëtiese en narratologiese waarde. Verder dra sy gedigte ook `n teerheid oor wat ongeëwenaar bly tussen die ander vertellers. `n Goeie voorbeeld van hierdie teerheid en emosie kom deur in die gedig “//Kabbo wil teruggaan huis toe” (50), waar die verlange van die Boesman na sy vaderland aan bod kom. ’n Verdere element van sy gedigte is die vervlegting van verlede met die destydse hede om perspektief te bied op die invloed wat die Westerse kolonisering en grondhervorming op die inheemse bevolking gehad het.

Nog `n onmiskenbare element in die bundel is Krog se teenwoordigheid – haar eie stem en styl kom telkens deur, wat vir die Krog-aanhanger baie genot sal verskaf, maar die historikus dalk mag hinder. Myns insiens kry Krog dit reg om haar stempel af te druk op plekke waar dit die gedig tot voordeel strek, veral as dit kom by haar goeie klankgebruik en ritme wat so belangrik is in die orale tradisie. `n Voorbeeld van die gebruik van klank en ritme skemer deur in gedigte soos “liedere van die bloukraanvoël” (39) en “die kat se lied” (48). Verwysings na tematiese elemente wat uit ander bundels na vore kom, is byvoorbeeld in die gedigte “dood” (18) waar sy praat van die Gariep en die leser laat dink aan haar bundel Kleur kom nooit alleen nie, en “/Xam voorgevoelens” (42), wat skakel met die tema van hoe `n gedig uit jou lyf gebore word. Verder is haar erkenning aan haar soms persoonlike omgang met die herskrywing en haar sorgvuldige agtergrond tot feitlik al die gedigte van groot waarde, veral wanneer `n vraagstuk soos plagiaat mag opduik.

Die bundel bevat egter ook minder sterk gedigte, dikwels weens die verwyderdheid van die hedendaagse leser se verwysingsraamwerk, maar ook hier lê die waarde daarin om die leser met moeite te probeer nader trek aan dit wat nie meer geken word nie.

Oor die algemeen is Die sterre se ‘tsau’ `n geslaagde bundel wat aan beide die geskiedkundige en die poësie-liefhebber genot sal verskaf. `n Weldeurdagte projek wat esteties mooi, histories ingelig en kultureel verrykend is. Net nog `n bewys dat Krog `n skrywer is met vele talente en, anders as die sterre van Diä!kwain, Kweiten-ta-//ken, /A!kúnta, /Han¹kassó en //Kabbo wat reeds verskiet het en nou net in die fluisterings van ander sterre voortleef, is Krog `n ster wat nog lank nie verskiet het nie.

Mia Oosthuizen is tans `n honneursstudent aan die Universiteit van Stellenbosch in die vakgebied Afrikaans en Nederlandse literatuur.


Gepubliseer: 22 Junie 2006

© Catharina Loader 2001