Letterkunde

Samewerking tussen Litnet
die grootste webblad oor Afrikaanse sake in Suid-Afrika en

Afrikaans in Europa, Universiteit van Wenen, Oostenryk,
die grootste Afrikaanse webblad in Europa

 

Op hierdie bladsye word enkele artikels wat die bydraes van akademici in die konteks van Afrikaanse digwerk in Suid-Afrika illustreer, uit die geakkreditterde joernaal Litnet Akademies opgeneem om dit weer 'nuut' onder die aandag van lesers te bring.

If you follow the links you can read the english abstract as well as the complete article.

D.J. Opperman se laatwerk - Helize van Vuuren (2014-04-15)

Onderhoud met Helize (Henning Snyman)

Opsomming

Dié artikel handel oor die invloed van faktore soos ouderdom, gesondheid, psigiese toestand en sosiaal-politieke omstandighede op digters se werk. In die gerontologiestudies (gefokus op bejaardheid) is daar in die letterkunde ’n klein bietjie navorsing deur enkele mense oor die laatfase van ouerwordende skrywers en ander kunstenaars, en hoe dit hul werk beïnvloed, gedoen. Op beeldendekunsterrein is dit veral Kenneth Clarke, vir klassieke musiek Theodor Adorno, en meer onlangs oor skrywers en musiek Edward Said wat oor die verskynsel geskryf en geteoretiseer het. Said se postuum-gepubliseerde On late style. Music and literature against the grain (2006) is die belangrikste raamwerk, naas Adorno en Clarke se essays.

Die teoretisering is egter nog yl, met baie ruimte vir verbetering, gebaseer op nuwe “toetsgevalle” in die vorm van ander oeuvres as dié waaroor Adorno, Said en Clarke dit had. Elke individuele digter en skrywer se situasie en konteks is anders, en die werk wat voortkom uit hul latere lewe sien daar dus anders uit. Die laatwerke van Breyten Breytenbach, Antjie Krog, J.M. Coetzee en D.J. Opperman is almal verskillend van aard, omdat hul kontekste anders is, en hul skrywerskap anders is. Dié navorsing oor D.J. Opperman fokus op Celan, Dolosse van 1963 (spesifiek gefokus op “Vuurbees”), Opperman en N.P. Van Wyk Louw se digterlike mededinging, en op Opperman se twee soorte laatwerk wat nie inpas in enige bekende patroon van laatwerk soos beskryf deur teoretici nie: die eerste fase van sy laatwerk bevat die digterlike neerslag van ’n psigologiese hellevaart (katabasis), terwyl die tweede laatwerkfase merkwaardig genoeg ’n nuwe lewe, ’n herrysenis uit die doodsgrot (anabasis) beskryf – anders gestel, die ondergangsfase (1963–1970) en die nuwe begin (1979). Soos die geval is met enige kunswerk, word laatwerk bepaal deur sowel konteks as lewensloop. In die artikel word dus ook op hierdie twee aspekte gekonsentreer en nie net op literêre tekste nie. In aansluiting by die psigoanalise van Jung (getoets aan kunswerke van Picasso) en Changeux se neurowetenskaplike navorsing (oor breinpatrone wat skeppende vormgewing beïnvloed) fokus die navorsing op ’n ontleding van “Vuurbees” vanuit intertekstuele perspektief, met sterk klem op rotskuns. In die fokus is dus die ontstaan van menslike taal, bewussyn en gewete in die eerste grot.

Ekokritiek en die nuwe materialisme. ’n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012)
Susan Smith
2014-04-02

Elzette Steenkamp in gesprek met Susan Smith oor Ekokritiek

Opsomming

Internasionaal word daar interdissiplinêr opnuut klem gelê op materialiteit en materialisme, algemeen beskryf as die nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie/OO. Tereg praat Serenella Iovino van ’n ontploffing in navorsing oor hierdie onderwerp (Iovino 2012a:134) en teoretici beskryf die oplewing as “the material turn” (Iovino 2012b:3; Alaimo 2010:7). Hierdie materiële draai word gesien as reaksie op die abstrakte tekstuele teorieë van onder andere Jacques Derrida, Julia Kristeva en Michel Foucault wat die afgelope aantal dekades die botoon gevoer het.

Dat die nuwe materialisme ’n uitwerking op die ekokritiek en ekopoësie sou hê, was onafwendbaar. Die skeiding tussen teorie en materie word lank reeds deur die ekokritici bevraagteken, veral teen die agtergrond van die inherent samehangende en interaktiewe aard van ekokritiek. Ekokritici bepleit ’n herevaluasie van materie en materialiteit; hulle vra dat die skeiding tussen materie en teorie, tussen objek en subjek, tussen natuur en kultuur en tussen lewende en nielewende opnuut aandag verdien. Sulke ondersoeke lei tot nuwe perspektiewe wat veral lig werp op die aard van materie, inter- en intra-aksie met materialiteit en die wyse waarop materie narratologies optree. Daar word ook ondersoek ingestel na hiperobjekte en die invloed daarvan, nie net op die mens en sy onmiddellike omgewing nie, maar op die voortbestaan van die planeet. ’n Ekologiese ondersoek na materie en materialiteit brei ons konsepte van plek, ruimte, tyd en materie sodanig uit dat dit ons dwing om nuwe wyses te vind waarop ons met alle objekte kan saambestaan. Ekokrities en ekopoëties lei die ondersoek ons na die teks en die wyse waarop materialiteit daarin neerslag vind. In hierdie artikel word daar nagegaan wat die teoretiese agtergrond van die nuwe materialisme en objekgeoriënteerde ontologie is en hoe aspekte daarvan as ekokritiese leesstrategieë aangewend kan word. Hierdie leesstrategieë word toegepas op geselekteerde gedigte van Johann Lodewyk Marais uit sy bundel In die bloute (2012).