Letterkunde

Summary: Eugène N. Marais in the Boland

Eugène N. Marais (1871–1936), the famous Afrikaans poet, prose writer, journalist, lawyer, expert on animal behaviour and morphinist, spent three years in the Boland, a region in the Western Cape of South Africa, where he completed his schooling. The available information about this period introduces the reader to Marais’s Huguenot roots and crucial influences during his youth. A few of Marais’s short stories were also situated in the Boland or shows traces of this background. The fact that Marais was able to become a successful journalist at a very young age shortly after he left the Boland to settle in Pretoria in the former Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) also testifies that his formative years as a pupil of the current Hoër Jongenskool Paarl were very fruitful.

I

Oor Eugène N. Marais, die beroemde digter, prosaskrywer, joernalis, regsgeleerde, kenner van dieregedrag en morfiengebruiker, het C.J. Mieny (1984: 138) by geleentheid gesê dat hy in die ware sin van die woord “’n seun van die Transvaal” is. “Net soos daardie ander groot veelsydige Louis Leipoldt se hart gelê het in die Hantam en die Sederberge van Clanwilliam, so het Marais se hart gelê in die Bosveld van Transvaal, in die Waterberg en in Pretoria,” aldus Mieny.

In Marais se verhale, koerantartikels en werk oor die gedrag van diere word Mieny se uitspraak ongetwyfeld bevestig. Marais se geboortestad, Pretoria, was sy lewe lank die stad waarheen hy altyd weer teruggekeer het. Hierdie hunkering kon intens en selfs tragies wees. Die feit dat sy beoogde terugkeer na Pretoria op 28 Maart 1936 gefnuik is (kyk Mulder, 1980: 1; en Rousseau, 1984b: 513), het waarskynlik ’n groot aandeel in sy selfmoord op die daaropvolgende dag gehad. In die Bosveld en die Waterberg het hy opgegaan in die natuur en belangrike waarnemings gemaak waaroor van sy bekendste werke handel.

Ander plekke het ook ’n rol in Marais se lewe gespeel. Dink maar aan Londen, waarheen hy in Desember 1896 vertrek het en waar hy tot 1902 gebly het om hom in die regte te bekwaam. In hierdie tyd is hy ook intens blootgestel aan die Victoriaanse leefwêreld en Europese intellektuele en modestrominge soos die Darwinisme, wat vir sy wetenskaplike vorming van groot waarde sou wees. Sy “wetenskaplike onderdompeling” in hierdie tyd sou sterk op hom inwerk.

Oor Marais se lewe is reeds uitgebreid deur onder andere sy drie biograwe geskryf, sodat die leserspubliek ’n enigsins “volledige” voorstelling het van hom as skrywer, wetenskaplike en mens met ’n gebeurtenisvolle en waarskynlik gekwelde lewe. F.G.M. du Toit se Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde verskyn reeds in 1940 en het die grondslag vir alle toekomstige indringende navorsing oor Marais se lewe en werk gelê. In 1962 verskyn M. Nienaber-Luitingh se Eugène Marais, ’n werk van beperkte omvang, wat ’n oorsig van Marais se lewe en werk bied en vandag ongelukkig byna vergete is. ’n Derde, omvattende en invloedryke biografie of biografiese “verhaal”, Leon Rousseau se Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais, verskyn in 1974.

Oor Marais se Waterbergse verblyf gee sy geskrifte baie inligting, maar oor ander tydperke en ervarings weet ons helaas minder. Een hiervan is Marais se Londense verblyf (kyk Rousseau, 1977: 10), waaroor Rousseau desnieteenstaande in Die groot verlange altesaam 51 bladsye skryf. Op die skamele getuienis van enkele sketse wat Marais in sy sogenaamde Londense dagboek gemaak het, baseer Rousseau (1984b: 117–121) byvoorbeeld die gedeelte oor ene Susanne met wie Marais ’n verhouding in Londen sou gehad het.

’n Ander plek wat in Marais se lewe ’n rol gespeel het, is die Boland – meer spesifiek die Paarl – waar hy drie jaar as tiener deurgebring het. Marais het eweneens nie baie oor hierdie tydperk geskryf nie, hoewel daar tog meer is as wat mens sou verwag. As jy ’n verantwoordelike, wetenskaplike benadering nastreef en bereid is om jou verbeelding in toom te hou (skrywers hou nie altyd daarvan nie!), bied die ondersoek wel uitdagings. Dit bied ook verrassings, soos wat ek hopelik sal illustreer.

Vir hierdie bespreking oor Marais in die Boland gaan ek as ’t ware terug na sy Hugenote-wortels voordat ek aandag aan die verblyf self gee. Ek gee oorsigtelik aandag aan Marais se eerste skryfwerk en die invloede wat reeds op ’n vroeë ouderdom op hom ingewerk het. Voorts behandel ek twee verhale waarin die Boland figureer en wys ek op nog tekste met spore van Marais se Bolandse agtergrond. Hopelik bring hierdie klein speurtog leidrade wat verder opgevolg kan word.


II

Eugène Nielen Marais is op 9 Januarie 1871 op die plaas Les Marais by Daspoort, net buite die destydse Pretoria, gebore as die dertiende en jongste kind van Jan Christiaan Nielen Marais en Catharina Marais (gebore Van Niekerk).

Die stamvader van die Marais’s was Charles Marais van Le Plessis Marle naby Longvilliers, suid van Parys, Frankryk. Hy en sy vrou, Catherine Taboureaux, en hulle kinders het Frankryk in Oktober 1685, kort na die herroeping van die Edik van Nantes, verlaat om ’n heenkome in die Republiek van die Verenigde Provinsies van die Nederlande te gaan soek. Volgens C. Pama (1983: 216–217) het hulle die Rooms-Katolieke geloof op 14 September 1687 in die Waalse kerk in Den Haag afgesweer.

Danksy die feit dat die Here XVII emigrasie na die Kaap aangemoedig het, het nagenoeg 200 Franse vlugtelinge besluit om hulle in Afrika te kom vestig (kyk Böeseken, 1981: 50). Marais en sy gesin het Delftshaven op 31 Desember 1687 op die skip Voorschooten verlaat. Op 13 April 1688 het hulle in Saldanhabaai aangekom en van daar af met die Jupiter na Kaapstad gereis (kyk Pama, 1983: 217).

Die nageslag van Charles Marais, wat in April 1689 deur ’n Khoi-aanvaller in die Drakenstein vermoor is (kyk Bryer & Theron, 1988: 44), sou lank hoofsaaklik in die Kaap bly en primêr by die landbou betrokke wees. Eugène N. Marais se ouers sou eers elf jaar voor sy geboorte in 1871 van die plaas Nektar in Jonkershoek, Stellenbosch, wegtrek en daarna ’n aantal jare in Bloemfontein, in die Republiek van die Oranje-Vrijstaat, woon. Ongeveer drie jaar voor Marais se geboorte vestig sy ouers hulle in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) (kyk Rousseau, 1984b: 2), ofskoon heelparty van Marais se broers en susters in die Boland of in die Vrystaat agterbly. Tydens Marais se geboorte dien sy vader in Bloemfontein gevangenisstraf uit as gevolg van ernstige onreëlmatighede met die hou van openbare rekeninge (kyk Schoeman, 1980: 54; en Rousseau, 1984b: 2).

Gedurende die eerste tien jaar van sy lewe woon Marais in Pretoria by sy ouers: eers op sy geboorteplaas by Daspoort, en daarna in Lynnwood House aan die westelike oewer van die Apiesrivier. Op vyfjarige ouderdom begin hy sy skoolopleiding by ’n Nederlandstalige onderwyseres, mej. Anna Pottger, in die konsistorie van die ou grasdakkerkie op Kerkplein. Daarna ontvang hy onderrig van ’n Engelse predikant, aartsdeken A. Roberts (kyk Du Toit, 1940: 2). Sy eerste Nederlands-onderrig (“feitlik as ’n vreemde taal”, volgens Nienaber-Luitingh, 1962: 13) ontvang hy een keer per week van ds. A.J. Begemann.

Volgens Du Toit (1940: 5–7) gaan woon Marais in 1881 by sy oudste broer, Charles Gerard Marais, op Boshof in die Vrystaat. Marais het aan Du Toit (1940: 5) vertel dat hy ná die Eerste Vryheidsoorlog (1880–1881) nie langer in Pretoria skoolgegaan het nie omdat “alles in Pretoria nog in wanorde was”. In sy artikel “’n Paradys van weleer” in ’n Paradys van weleer en ander geskrifte het Marais (1965) ’n een en ander oor die reis saam met ’n handelaar, ene Van Heerden, geskryf “om in die verre Vrystaat skool toe te gaan”. Van Heerden was “’n Vrystater, ’n man van sowat vyftig jaar” wat per ossewa handelstogte (met onder meer Magaliesbergse lemoene) onderneem het. Met al die ompaaie wat hy tydens die reis na Boshof gery het, het die reis egter maande geduur. Op Boshof het Marais tot aan die einde van 1884 skoolgegaan voordat hy na ’n nuwe skool in die Boland gestuur is.

Volgens Du Toit (1940: 7) was dit die roem van mnr. Bernard le Roux wat “tot in die Vrystaat deurgedring” het wat bygedra het tot die besluit dat Marais verder in die Boland skool sou gaan. Volgens Tom Engela (s.a.: 9) in In die Paarl groei ’n boom was Le Roux van Julie 1882 tot April 1887 hoof van die First Class Public School. Marais het die reis na die Paarl saam met sy oudste suster, Lizzie Niemeyer, en haar kinders onderneem. Eers het hulle “per ossewa gereis […] tot op Potfontein, 115 myl ten suide van Kimberley, en daarvandaan per trein na die Paarl” (Du Toit, 1940: 7; kyk ook Rousseau, 1984b: 19).

In die Paarl het Marais saam met sy suster ’n ou strooidakhuis aan die Zeederbergplein betrek (kyk Du Toit, 1940: 7; en Rousseau, 1984b: 19). Van “Rozenfontein”, die eiendom in Lawaaimaakstraat in die suide van die Paarl wat van mev. Louw gekoop is (kyk Van Breda in Oberholster, 1987: 133), en die First Class Public School wat Marais bygewoon het, verskyn ’n foto in Engela (s.a.: 8) se boek. Daar is ook ’n foto van Lawaaimaakstraat met die skooltjie aan die bopunt wat uit hierdie tyd dateer. Die First Class Public School is op 15 Julie 1868 gestig (kyk Engela, s.a.: 7), die medium van onderrig was Engels, en Hollands is “alleen as vreemde taal doseer” (Marais, soos aangehaal deur Du Toit, 1940: 7). Volgens Engela (s.a.: 8) was die typerk van 1868 tot 1901 “redelik rustig en sonder enige noemenswaardige sensasie”. Die huidige Hoër Jongenskool Paarl het uit die First Class Public School ontwikkel en in 1900 tot stand gekom (kyk Engela, s.a.: 5).

Benewens die hoof was die onderwysers in Marais se tyd drs. B. Haarhoff en Zahn, mnr. Inglis, en mej. White, wat uit Amerika gekom het (Du Toit, 1940: 7) en vir die “Kinder Departement” verantwoordelik was (kyk Engela, s.a.: 9). Mnr. John (Oubaas) Inglis sou egter legendariese status kry. Hy is in 1881 aangestel en het in Junie 1915 afgetree. Inglis het uit Skotland gekom en was deeglik in die Klassieke tale geskool. Hy het naamlik ’n M.A.-graad in hierdie rigting aan die Universiteit van St. Andrews verwerf. Gedurende die 31 jaar wat hy aan die skool verbonde was (en daar jaarliks minder as 100 leerlinge in die skool was), het hy Engels, Latyn en Grieks gedoseer. Engela (s.a.: 10) skryf soos volg:

As gerespekteerde en beminde onderwyser het hy ’n besonder inspirerende invloed op sy leerlinge gehad. Hiervan getuig die kennis van die klassieke en liefde vir die letterkunde wat een van sy beroemdste leerlinge, Eugéne Marais (matriek 1887) geopenbaar het.

Engela (s.a.: 12) bring hulde aan Inglis en sê dat hy “maar net ’n eenvoudige Skot [was] wat met ’n Afrikanermeisie getroud was en besluit het om sy toekoms op die altaar te lê van die Klein Begin van hierdie besondere volkie”.

Oor hoe Marais die skool ervaar het, is daar min inligting. Volgens Du Toit (1940: 7) was sy maats “almal seuns van wynboere en Eugène het dikwels saam met hulle by die parskuipe gespeel. Aanvanklik het die uitspraak van die Bolandertjies vir hom moeilikheid opgelewer, maar mettertyd het hulle mekaar baie goed leer verstaan.” Die maats wat saam met hom die wêreld verken het, was veral sy susterskinders John en Gustav Niemeyer en Dawie Mostert. “Daar is bv. ’n grot teen die hang van die Paarlklip waar hulle Saterdae die rus van die duisende vlermuise gaan verstoor het,” aldus Du Toit (1940: 8). Marais was klaarblyklik ’n besonder skrander kind. Du Toit (1940: 8) skryf:

Hy het vinnig vooruitgegaan, veral wat die letterkundige vakke betref. Sy Latynse kennis was buitengewoon, deels omdat hy dikwels Sondae uit die Bybel en veral uit die Psalms oorsettings van die Vulgaat in Engels sit en doen het. Hy het veel gelees en was bekend met baie van die Engelse gedigte en met die mitologiese beelde, soos blyk uit die gedigte wat van 1885 tot 1887 in die Paarl District Advertentieblad, ‛n tweetalige koerant, in Engels verskyn het.

Marais was sestien jaar oud toe hy matriek in die tweede klas afgelê het. Die hoof het waarskynlik toestemming van die Onderwysdepartement gekry dat hy die eksamen kon aflê omdat hy te jonk was (Du Toit, 1940: 9; en Rousseau, 1984b: 25). Marais se onderrig was hoofsaaklik deur medium van Engels en sy eerste gedigte, wat in hierdie tyd geskryf is en in die Paarl District Advertentieblad (of Paarl District Advertiser) verskyn het (’n bietjie meer hieroor later), is dan ook in Engels geskryf.

Tien jaar voordat Marais in die Boland begin skoolgaan het, is die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl gestig (kyk o.a. Nienaber-Luitingh, 1962: 19). Daar is aanduidings dat hy nie net goed in tale gevaar het nie, maar ook geraak is deur “die verregaande verengelsing wat hy in die Kaapse huisgesinne aangetref het” (Du Toit, 1940: 104; kyk ook Rousseau, 1984b: 19 en 24). Afrikaans het vir hom ongetwyfeld ’n kosbaarheid geword waarmee hy hom enkele jare later in Transvaal positief begin bemoei het. In die Boland was hy egter nog nie gereed nie (Nienaber-Luitingh, 1962: 19) en het hy as tiener nie oor die taalvaardigheid en selfvertroue beskik om van hom te laat hoor nie. Die kennismaking met die taal van sy Bolandse speelmaats en die bruinmense (waaroor hy ook in “Die vliegende Hollander” in Die huis van die vier winde (1933) skryf) het hom ’n wyer taalperspektief gegee. Dit was in elk geval belangrike oorgangsjare vir Afrikaans waaraan hy blootgestel is.

Na afloop van sy skoolopleiding keer Marais na die ZAR terug, waar hy in Pretoria as klerk in ’n prokureurskantoor begin werk. Op grond van sy skryftalent, wat reeds op skool as joernalis van die Union Debating Society geblyk het, begin hy bydraes vir die Transvaal Advertiser skryf (kyk Du Toit, 1940: 9). In 1890, op negentienjarige ouderdom, word hy redakteur en ’n jaar later mede-eienaar van die Nederlandstalige weekblad Land en Volk. Marais se koerantwerk betrek hom by heelwat omstredenheid met hooggeplaastes, wat meermale op lastereise uitloop. Om so gou ná die voltooiing van sy skoolopleiding in die joernalistiek te kon presteer, moes hy ‛n deeglike akademiese grondslag in die Paarl ontvang het.


III

As leerling aan die First Class Public School sedert 1885 het Marais – soos vroeër in Pretoria en op Boshof – sy onderrig deur medium van Engels ontvang en Nederlands net as ’n gewone vak geneem. In dié tyd het sy skryftalent aan die lig gekom aangesien sy eerste publikasies begin verskyn het. Volgens Du Toit (1940: 103) het die woorde “uncoffin’d and unknown” uit Lord Byron se Childe Harold’s pilgrimage Marais reeds op twaalfjarige ouderdom op Boshof geïnspireer om sy eerste gedig, “A soldier’s grave”, te skryf. Die eintlike aanleiding tot die skryf van die gedig was ’n voorval wat Marais self meegemaak het. Du Toit (1840: 103) skryf soos volg: “Kort nadat Transvaal aan die Boere teruggegee is, het ‛n jaggeselskap die geraamte van ‛n Engelse soldaat naby ‛n spruit gekry en dit toe daar op die plek begrawe. Eugène was daarby”. Later het Marais “in talle prosaverhale die tema verwerk van mense wat eensaam in die veld gesterf of daar sommer spoorloos verdwyn het” (Nienaber-Luitingh, 1962: 19).

Presies hoeveel gedigte Marais in die Paarl geskryf het, weet ons nie. In die Paarl District Advertentieblad is ten minste nege gedigte gepubliseer, wat aanvanklik nie in Marais se Versamelde gedigte of Versamelde werke verskyn het nie; dit is eers in 2005 in Die volledige versamelde gedigte opgeneem.

Dit word dus as “poems written in early youth” en minderwaardig beskou. Mens kan nietemin enkele waarnemings maak by die lees van hierdie gedigte. Eerstens is almal van hulle in Engels geskryf. Tematies is dit opvallend dat die gedigte “nasionaal in uiting” (Du Toit, 1940 104) was en dat hy vroeg reeds oor binnelandse temas geskryf het. Voorbeelde hiervan is die gedigte “Majuba”, “Ode to the Paarl composed on the Paarl mountain” en “South Africa”. Verder is Marais se eerste gedigte betreklik lank, het hy van rym en klankbinding gebruik gemaak en was hy vroeg reeds in staat om ’n gestruktureerde gedig te skryf.

Sy gedigte word in die Paarl District Advertentieblad gepubliseer, terwyl hy ook joernalistieke bydraes oor die Union Debating Society begin lewer. Met verwysing na die invloed van skrywers op Marais gedurende sy tienerjare maak Du Toit (1940: 110) melding van sy “noukeurige lees van bekende Engelse meesterdigters soos Milton, Byron, Longfellow en Coleridge”. Volgens Rousseau (1984b: 18) moet by Lord Byron “al die ander bekende negentiende-eeuse name as leesstof bygevoeg word: Coleridge, Keats, Wordsworth, Browning, Poe, Scott, Dickens – baie moontlik hier ook reeds De Quincy, want sestig jaar ná publikasie word The Confessions of an English Opium Eater as ’n klassieke werk beskou”.

Marais se belangstelling in die skryf van prosa, wat later die grootste deel van sy oeuvre uitgemaak het, dateer ook uit sy skooldae in die Paarl. Op skool het hy uitgeblink in stelwerk en benewens die Engelse gedigte wat hy in die Paarl District Advertentieblad gepubliseer het, word hy “joernalis van die Union Debating Society, ’n erepos wat hy meer as ’n jaar lank met groot bekwaamheid en spitsvondigheid beklee het” (Du Toit, 1940: 8; kyk ook Rousseau, 1984b: 24). Vandat Marais die skool verlaat het tot en met sy vertrek na die buiteland aan die einde van 1896 sou hy by die joernalistiek betrokke bly.

Marais se eerste gepubliseerde bundel verhale, Margriet van Laastelust en Die wegraak van Sannie (1922), was sy prosadebuut in boekvorm – op 51-jarige ouderdom. Hierdie bundel bevat twee verhale uit Die Boerevrou waarin die leser kennis maak met fasette wat kenmerkend van Marais se prosa is. Die langste verhaal, “Margriet van Laastelust”, speel gedurende die Bataafse Bewind (1803–1806) in die Boland af, en is een van ’n aantal verhale waarin Marais ’n historiese tema gekies het. Nog ’n lang verhaal, “Die vliegende Hollander” in Die huis van die vier winde (1933), is in die Kaap, en meer spesifiek “Silwersand, op die uiterste suidelike punt van Afrika” (p. 147), gesitueer. Daarenteen speel die ander verhaal in die bundel, “Die wegraak van Sannie”, in die Waterberg af, wat die geografiese ruimte is waarin baie van Marais se verhale afspeel én die streek is waar hy die meeste van sy wetenskaplike waarnemings gemaak het.

Die twee verhale in Margriet van Laastelust en Die wegraak van Sannie vertoon ook ander fasette wat kenmerkend van Marais as prosaskrywer is. Volgens M.J. Prins (1973: 54) word die gebeure in Marais se vertellings “dikwels binne die verhaalwêreld gestel teenoor die bonatuurlike, die droom, die verbeeldingsvlug of die verdigsel”. Die verhaal speel op die wingerdplaas Laastelust af en word soos volg beskryf:

Laastelust, die ou woonplaas van die Du Roubaixs, was een van die hoogste Hugenote-bergplase destyds aangelê. Bo teen Drakenstein geleë was daar van die stoep ’n heerlike uitsig oor die groot en vrugbare vallei van Bergrivier en van die honderde plase en wingerde, wat toe alreeds so dig opmekaar was dat die streek vir beeste ongeskik was. Die wynboere moes hul poste gedurig verder en verder van Franshoek en Drakenstein versit.

Die Du Roubaixs, ’n Hugenoot-familie, het ’n uitsoekplaas in Laastelust gehad. Net kort onder die waterval aangelê het die eiendom die ongehinderde gebruik gehad van net soveel water as die grond nodig het. Dit, gepaard met die uiterste geilheid van die aarde, het die familie van die begin af voorspoedig en ryk gemaak, ofskoon hulle nooit groot soos ander Franse families uitgebrei het nie.

Die huis was ’n pragtige ou Franse woning, met ’n stoep byna so hoog as ’n gewone huis self en fraai uitgewerkte gewels, wat van oral uit die vallei sigbaar was. Aan die een kant van die huis was ’n ontsaglike kruisvormige kelder, die grootheid waarvan alleen bewys was van die voorspoed en rykdom van Laastelust. Eweredig groot was die slawehuis – ’n lang reguit gebou met grasdak en ystertralies voor die vensters. Bo teen die berg was die meulhuis (want Laastelust was ook ’n beroemde koringplaas) met ’n meulvoor bo in die berg uitgekeer, wat weer ’n myl ondertoe in die rivier loop. Voor die huis strek ’n reuse-eikelaan af na die laagte, een van die bekende versiersels in die omgewing (pp. 430–431).

As Margriet, die hoofpersonasie in “Margriet van Laastelust”, een aand gaan stap, voel sy “’n ligte rilling deur haar lyf gaan, en onwillekeurig kom die herinnering op aan al die ou spookstories van Laastelust, en die kindervrees wat die bergpad dikwels veroorsaak het” (p. 36). Kort hierna sien sy onder die eikeboom waar sy staan ’n “gedaante”: “’n Man te perd ongetwyfeld, in swart geklee” (p. 39). Later in die verhaal sou dit blyk dat die “gedaante” ’n natuurlike verklaring gehad het. In hierdie verhaal maak Margriet en die leser ook terloops met ’n bobbejaantrop (“ou en bekende vriende”, p. 35) kennis – ’n onderwerp wat in Marais se later gepubliseerde wetenskaplike geskrifte ’n prominente rol gespeel het.

In Marais se bellettristiese prosa is daar duidelike eggo’s van sy Hugenote- en Kaapse verlede. Die verhale “Margriet van Laastelust” en “Die vliegende Hollander” (uit Die huis van die vier winde, 1933) is in die Kaap gesitueer, terwyl Marais ook Franse name aan twee van die bekendste en mees terugkerende karakters in sy werk gee, naamlik dr. Paul de Roubaix en kol. Francois (“Sois”) de Ville. Na aanleiding van “Die huis van die vier winde” maak Rousseau (1984a: 1277) die volgende stelling oor dr. De Roubaix:

“Die versoeking is sterk om te vermoed dat Marais met dr. Paul de Roubaix ’n karakter geskep het met wie hy kon identifiseer, in wie hy miskien ’n ideale self gesien het.” In Rousseau (1984a: 1277) se aantekening by “Die spookbul van Farellone” bespiegel hy verder: “Indien […] Marais hom as Paul de Roubaix gesien het, op wie is die karakter van Sois de Ville dan gebaseer? Die kombinasie herinner ewenwel aan Sherlock Holmes en dr. Watson.”


IV

Eugène N. Marais is een van die figure uit die vroeë (Suid-)Afrikaanse literatuur waarin daar ’n durende belangstelling is. Hy was slegs tussen 1885 en 1887 op skool in die Boland. Daar het min getuienis van hierdie verblyf bewaar gebly. Ons het bloot die breë besonderhede van hierdie tydperk, enkele foto’s van die skool, ’n foto of wat van die onderwysers, ten minste een verhaal teen ’n Bolandse agtergond en die handvol eerste gedigte wat hy geskryf het. In Tom Engela se In die Paarl groei ’n boom, die geskiedenis van die Hoër Jongenskool Paarl, word ’n enkele sin aan Marais gewy en verskyn ’n foto van hom. As die Paarl een van die plekke in Marais se lewe was, ken dié plek hom waarskynlik nie meer nie. Marais was desnieteenstaande een van die beroemdste leerlinge wat die skool opgelewer het. En al is daar min agterhaalbare inligting, kan die instandhouding van die geskiedenis van hierdie era ’n waardige hulde aan Marais wees. Die Paarl in die algemeen en die Hoër Jongenskool Paarl in die besonder kan trots wees op die band met Marais.


Bibliografie

Böeseken, A.J. 1981. Onder suidersterre: Tussen die Ooste en die Weste 1652–1795. Kaapstad: Tafelberg.
Bryer, Lynne & Theron, Francois. 1988. Die Hugenote en hul erfenis. Dieprivier:
Cameleon.
Du Toit, François Guillaume Marais. 1940. Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Amsterdam: N.V. Swets & Zeitlinger.
Engela, Tom. s.a. In die Paarl groei ’n boom: Geskiedenis van die Hoër Jongenskool Paarl van 1868 tot 1989. (Geen verdere bibiografiese inligting beskikaar nie.)
Marais, Eugène N. 1932 (1922). Margriet van Laastelust en Die wegraak van Sannie. Kaapstad, Stellenbosch en Bloemfontein: Nasionale Pers.
Marais, Eugène N. 1946 (1933). Die huis van die vier winde. Sewende druk, hersien en verbeter. Pretoria: J.L. van Schaik.
Marais, Eugène N. 1965. ’n Paradys van weleer en ander geskrifte. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.
Marais, Eugène N. 1984. Versamelde werke 1 en 2. Pretoria: J.L. van Schaik. (Onder redaksie van Leon Rousseau.)
Marais, Eugène N. 2005. Die volledige versamelde gedigte. Pretoria: Protea Boekhuis. (Geredigeer deur Marissa Baard, J.C. Kannemeyer, Kistèl Roets, Nicol Stassen en Marni Viviers.)
Mieny, C.J. 1984. Eugène Nielen Marais – Feit en fabel. Die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 3(3), September: 138–146.
Mulder, G.R. 1980. Eugène Marais sterf in ons omgewing. (Ongepubliseerde dokument van 2 pp.) Nienaber-Luitingh, M. 1962. Eugène Marais. Kaapstad: Human & Rousseau.
Nienaber-Luitingh, Willemina. 1976. Eugène Nielen Marais. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Deel I. Tweede druk. Kaapstad: Tafelberg.
Oberholster, A.G. (red.). 1987. Paarlvallei 1687–1987. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing vir die Munisipaliteit Paarl. (Met die medewerking van Pieter van Breda.)
Pama, C. 1983. Die groot Afrikaanse familienaamboek. Kaapstad, Pretoria en Johannesburg: Human & Rousseau.
Prins, M.J. 1973. Geloofwaardigheid as epiese beginsel in die prosa van Eugène N. Marais. Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir CHO. (Ongepubliseerde M.A.-verhandeling.)
Rousseau, Leon. 1977. Die agtergrond van Die groot verlange. Standpunte 30(6), Desember: 5–19.
Rousseau, Leon. 1984a. Aantekeninge deur die redakteur. In: Marais, Eugène N. Versamelde werke 1 en 2. Pretoria: J.L. van Schaik. (Onder redaksie van Leon Rousseau.)
Rousseau, Leon. 1984b (1974). Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais. Derde uitgawe. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.
Schoeman, Karel. 1980. Bloemfontein: Die ontstaan van ’n stad 1846–1946. Kaapstad, Pretoria en Johannesburg: Human & Rousseau.
Van Breda, Pieter. 1987. Onderwys. In: Oberholster, A.G. (red.). 1987. Paarlvallei 1687–1987. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing vir die Munisipaliteit Paarl. (Met die medewerking van Pieter
van Breda.)

 

Die bostaande artikel is ook as ´n lesing gelewer op 8 September 2005 voor die Oud-Studente-Unie van die Hoёr Jongenskool Paarl. Die artikel het op 17 en 24 September en 1 Oktober 2005 in drie verkorte aflewerings in KultuurKroniek , ’n bylae by Die Burger, verskyn.

Gepubliseer: 2009

 

© Catharina Loader 2001