Letterkunde

´n Resepsie-ondersoek na die ses debuutdigbundels van 1999-2000

 

Elbie Adendorff verwerf 'n BA-graad aan Unisa (1994), 'n BA Hons ook aan Unisa (1998), opgevolg met 'n MA cum laude (2003). Tans is sy besig met D. Litt oor Afrikaanse Taalverwerwing. Haar spesialiteitsvelde is Afrikaanse Taalverwerwing en Afrikaanse Letterkunde. Sy is ook sekretaris van die Afrikaanse Letterkunde-vereniging.

Dr P H Foster (Ronel) is 'n senior lektor aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch; sy is ook onder-voorsitter van die Departement. Sy het gepromoveer op 'n proefskrif oor die poësie van Wilma Stocken­ström. Sedert 2003 is sy saam met twee buitelandse vakgenote, proff Yves T'Sjoen van Gent en Thomas Vaessens van Amsterdam, betrokke by 'n navorsingsprojek: 'n vergelykende poësiestudie van Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse poësie. Onder haar nooiensvan, De Goede, debuteer sy in 1993 met die digbundel Skoop. 'n Woordverwerkingspeletjie vir die beginner. Hierdie bundel is genomineer vir die CNA Literêre Prys en bekroon met die Eugène Marais-prys vir debuutwerk. Saam met haar kollega Louise Viljoen was sy ook verantwoordelik vir die saamstel van die antologie Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960 (1997); hulle werk tans aan 'n tweede uitgawe. Ronel Foster is hooforganiseerder van die Dept. Afr. en Ndl. se Skrywerswerkswinkels, wat gereeld slypskole vir aspirant-skrywers reël. Sy bied ook self werkswinkels aan. Sy was mede-inisieerder van die Letterkunde-Ondersteuningskomitee (LOK), wat bestaan uit personeel van die Wes-Kaapse Onderwys-departement en dosente van Afrikaansdepartemente aan die drie suidelike universiteite. LOK bied jaarliks 'n simposium vir sowat 600 onderwysers aan oor die onderrig van Afrikaans. Sy was ook stigterslid van die Woord­feeskomitee en medewerker by die elektroniese tydskrif LitNet (PoësieNet).

 

Summary

This article examines the publication and reception of six début volumes of Afrikaans poetry at the end of the twentieth century, by means of Even-Zohar's polysystem theory (1990a, 1990b, 1997) and Bourdieu's field theory (Van Coller 2002). After a brief discussion of literary criticism as a mechanism for canonisation, cognisance is taken of enormous changes in the publishing industry after South Africa's transition to a democratic government in the nineties. Thirty-five documents were taken into account in our research into the dynamics of the canonisation possibilities of the six volumes of poetry – all of these volumes published by the poets themselves or by small publishing houses. Our empiric study was confined to newspapers, magazines and the electronic website LitNet. The reception documents consist of press releases, reviews, articles, interviews, letters to the press, etcetera. With the aid of Dijkstra's (1989) research, a number of quantitative canonisation indicators are discussed, such as the number, length and chronology of the reception documents; as well as the status and sex of the writers of these texts. The article concludes with an overview of Dijkstra's theory on the mentioning of celebrated authors as strategy of comparison; and a discussion of De Moor's (1993) model for the writing and evaluation of book reviews (1993). 

1. Inleiding

2. Die literêre kritiek as kanoniseringsmeganisme

3. 'n Resepsie-ondersoek na die 6 debuutdigbundels van 1999-2000

3.1. Inleiding
3.2. Die uitgewerswese as institusiemeganisme
3.3. Kwantitatiewe kanonaanduiders
3.4. Kwalitatiewe kanonaanduiders

4. Slot

Bronnelys

 

1. Inleding

 

Een van die opvallendste verskynsels in die Afrikaanse poësiesisteem teen die millen­nium­wending is die feit dat die ses digdebute wat in 1999-2000 gepubliseer is en in die jaar 2000 vir die Ingrid Jonker-prys in aanmerking gekom het, nie een by 'n hoofstroom­uitgewer soos Tafelberg of Human & Rousseau verskyn het nie. In hierdie artikel word daar kortliks verslag gedoen van 'n empiriese ondersoek na die resepsie van hierdie ses digbundels wat onderneem is ten einde hul kanoniseringspotensiaal na te gaan en bepaalde tendense in die poësiesisteem aan te dui.

Omdat die ses debute deur sekere kritici as minder belangrik, minder waardevol of minder formidabel beskou is, kan gevra word of hierdie bundels 'n wetenskaplike onder­soek regverdig. Binne 'n sistemiese raamwerk is so 'n vraag egter nie relevant nie; die polisisteemteorie stel die ondersoeker juis in staat om laaggeagte en periferale tekste te bestudeer, asook die interaksie tussen die marge en die sentrum. Gesien teen die agter­grond van groot omwentelinge in die uitgewersbedryf aan die einde van die twintigste eeu wil die artikel voorts 'n historiografiese funksie dien ter boekstawing van die dinamika en kompleksiteite van die poësiesisteem en van die literêre polisisteem in daardie tydvak.

Die teorieë van Itamar Even-Zohar en Pierre Bourdieu vorm die teoretiese raamwerk waarbinne die ondersoek plaasgevind het1.

Volgens die polisisteemteorie van Even-Zohar (1990a, 1990b en 1997) kan die poësie binne 'n ruimer konteks gesien word as 'n sisteem binne en tussen ander sisteme. Met ander woorde: die poësie kan in wisselwerking met ander sisteme beskou word - nie net literêre sisteme nie, maar ook die ekonomiese, politieke, sosiale en ander sisteme.

In Bourdieu se veldteorie word die veld of sisteem metafories as 'n mark beskryf "wat gekenmerk word deur 'n stryd om kapitaal of institusionele mag" (Van Coller 2002:70). Bourdieu stel volgens Van Rees en Dorleijn (1993:13) die literêre veld voor as 'n gedurig veranderende geheel van magsverhoudinge tussen die verskillende literêre institusies wat betrokke is by die produksie, verspreiding en verbruik van tekste wat as literêr waardevol beskou word.

Binne 'n sistemiese benadering kan die konsepte van kanon en kanonisiteit nie geïgnoreer word nie. Dit gaan in die literêre sisteem om 'n hiërargiese magspel aangesien daar 'n voortdurende stryd tussen die verskillende strata in die sisteem is. Die stryd tussen die strata is 'n stryd omkanonisering, om hiërargies die eerste of sentrale plek te beklee.

Die proses van kanonvorming, dit wil sê die vrae hoe en hoekom sekere tekste in die kanon opgeneem is, is nie 'n eenvoudige saak nie en baie meer faktore as wat op die oog af blyk, is daarby betrokke. Fokkema (1985/6:4) gee 'n verhelderende skematiese voorstelling van dié proses: die redakteurs van die literêre tydskrifte selekteer die nuwe tekste, die dag- en weekbladpers gee hulle eerste kritiek, daarna volg besprekings in die wetenskaplike pers wat verdere regverdiging gee vir die opname in die kanon, met vermeldings in skoolboeke en opname in bloemlesings as die volgende stap van kanonisering. Dit blyk verder dat tydskrif­redaksies, kunsredaksies en resensente van dag- en weekblaaie, beoor­delingspanele, uitgewers, wetenskaplike ondersoekers, samestellers van skoolboeke en nog vele meer die funksie van kanon­vorming vervul. Dijkstra (1989:160) meen dat die proses van kanon­vorming twee kompo­nente bevat: die aktiewe komponent betrek die samestelling en die oordrag van die kanon deur instansies soos die literêre kritiek, die literatuuronderwys en die akademiese studie, terwyl die passiewe komponent die leespubliek betrek wat op skool en by die lees van die boekebylaag van die koerant met die gekanoniseerde tekste te make kry.

Die vraag wat nou na vore kom, is of die kanon en kanonisering as verskynsel wetenskaplik ondersoek kan word. Moerbeek (1992:338) meen dat sekere van die reeds gepubliseerde kanonondersoeke nie deur empiriese gegewens gestaaf word nie. Die kanon kan wel empiries ondersoek word en vergelykings is moontlik, as die kanon as 'n relatiewe meeteenheid beskou word (Moerbeek 1992:344). Indien die dinamiese aard van kanonvorming bestudeer word, moet daar volgens Moerbeek (1992:344) 'n kwaliteits­ondersoek onderneem word.

Binne die kompleksiteite van die boekproduksiesisteem kan die rol en funksies van resensies en boekbesprekings as kanoniseringsmeganismes nie onderskat word nie, betoog Janssen (1994:21). Volgens Lourens (s.a.) is die resensie die primêre kontakpunt tussen die literêre kritiek en die leespubliek. Resensie-ondersoeke is baie nuttig om die oordele oor en resepsies van 'n werk na te gaan; vir letterkunde­dosente, -studente en ­navorsers is resensiestudies van kardinale belang. Afleidings en voorspellings kan gemaak word oor die kanoniserings­moontlikhede van debute en 'n beeld van die eietydse literêre veld kan gevorm word.

2. Die literêre kritiek as kanoniseringsmeganisme

Binne die literêre sisteem speel die kritiek2, en spesifiek resensies3, 'n belangrike rol, veral omdat dit as kanoniseringsmeganisme funksioneer.

Die institusie van die literatuurkritiek word deur Susanne Janssen (1994:10) gedefinieer as segmente van die joernalistieke, die essayistiese en die akademiese kritiek wat mekaar aanvul. Volgens Janssen (1994:21) word die joernalistieke kritiek veral in koerante en tydskrifte beoefen, terwyl die essayistiese en akademiese kritiek in literêre tydskrifte en wetenskaplike blaaie beoefen word. Janssen (1994:11) sien die joernalistieke kritiek as 'n belangrike seleksiemoment in die vorming van 'n literêre kanon en ken daarom aan die joernalistieke kritiek 'n belangrike plek toe. Eers ná die joernalistieke kritiek se seleksie, word literêre werke deur essayiste en akademici bespreek. Van Gorp et al. (1998:242) onderskei ook hierdie drie tipes kritiek en meen dat dit nie slegs verskil ten opsigte van die lengte en moeilikheidsgraad nie, maar ook die intensie van die kritikus en die beoogde leserspubliek. Janssen (1994:10) beweer verder dat die geïnstitusiona­liseerde literatuurkritiek die aard en kwaliteit van literêre tekste beskryf.

Die literatuur­­­kritiek plaas dus tekste in 'n rangorde van literêr waardevol geagte werke - derhalwe vervul dit 'n hiërargiseringsfunksie en speel dit 'n kanoniseringsrol.

3. 'n Resepsie-ondersoek na die ses debuutdigbundels van 1999-2000

3.1 Inleiding

Teoretiese uitgangspunte wat in die empiriese ondersoek benut is, is dié van Katinka Dijkstra (1989) oor kwantitatiewe en kwalitatiewe kanonaanduiders; Susanne Janssen (1994) oor die rol van die resensent in die literêre sisteem en beeldvorming in die literatuur; en dié van Wam de Moor (1993) oor die strategieë by die skryf van resensies en kriteria vir die beoordeling daarvan4. Janssen (1994) se studie is ruimer as De Moor se gids, omdat sy ook die kanoniseringsfunksie van die resensent betrek.

Die ses debuutdigbundels wat in die tydperk 1999-2000 verskyn het, is die volgende (in alfabetiese volgorde volgens die outeur):

Dimensie – Christine Barkhuizen le Roux – Suider Kollege Uitgewers (2000)

Dansmusieke – Zandra Bezuidenhout – Suider Kollege Uitgewers (2000)

Spoorsny – René Bohnen – Gnomic Press (2000)

Transverse – Elza Lorenz – Gnomic Press (2000)

Verskillende vensters – Wilna Meyer – Tintinkie Uitgewers (2000)

Vuurtong – Cas Vos – Benedic Boeke (1999)

In die resepsie-ondersoek is die 35 resepsie-dokumente wat oor die ses digdebute verskyn het, gebruik. Die tekste wat vir die ondersoek gebruik is, is resensies, rubrieke en berigte in dag- en weekblaaie; leesverslae van gewone lesers, soos uit die briefkolomme blyk; reaksies in internasionale tydskrifte; en media-onderhoude met die digters5.

Inligting oor die 35 resepsiedokumente van die ondersoek is opgeneem in Tabel 1.

Tabel 1

 

Digter

 

 

Verskynings­datum

 

Publikasie

 

Mediateksskrywers

 

Genre

Reëls

Woorde

Christine Barkhuizen le Roux

27 Oktober 2000

13 November 2000

12 Maart 2001

20 Maart 2001

23 Maart 2001

27 Maart 2001

28 Mei 2001

26 Junie 2001

Die Burger

Die Volks­blad

 

Die Burger

Die Burger

Die Burger

Die Burger

Beeld

Beeld

Annette Slabber

Bernard Odendaal en Sulette Bruwer

Joan Hambidge

Lucas Malan

Danie Venter

Joan Hambidge

Fanie Olivier

Joan Hambidge

Artikel

Resensie

Resensie

Brief

Brief

Brief

Resensie

Brief

41

133

41

24

70

56

155

45

347

558

280

122

359

277

792

476

3 211

Zandra Bezuidenhout

Maart 2000

20 November 2000

21 November 2000

6 Desember 2000

April 2001

1 Mei 2001

6 Mei 2001

Mei 2001

19 Mei 2001

11 Julie 2001

11 Augustus 2001

13 Augustus 2001

27 Augustus 2001

30 Augustus 2001

Insig

Die Volksblad

Beeld

Die Burger

De Kat

Die Burger

Meander

Zuid-Afrika

Die Burger

 

Sarie

Beeld

Rapport

Beeld

LitNet

Louise Viljoen

Bernard Odendaal

Joan Hambidge

Francois Smith

Ampie Coetzee

Boekeredakteur

Joop Leibbrand

Hans Ester

Ronel de Goede en MM Walters

Elize Parker

Joan Hambidge

AP Grové

TT Cloete

Jac Kritzinger

Artikel

Resensie

Resensie

Resensie

Resensie

Berig

Resensie

Resensie

Commendatio

Onderhoud

Rubriek

Resensie

Resensie

Onderhoud

4

37

57

36

53

44

82

28

30

37

120

145

88

363

20

418

641

437

304

311

583

428

386

236

766

734

874

3 614

9 752

René Bohnen

20 Desember 2000

26 Februarie 2001

28 Februarie 2001

26 Maart 2001

Die Burger

Die Volksblad

Beeld

Beeld

Joan Hambidge

Bernard Odendaal

Stephanie Nieuwoudt

AP Grové

Resensie

Resensie

Artikel

Resensie

29

69

58

146

144

327

728

717

1 916

Elza Lorenz

20 Desember 2000

26 Februarie 2001

7 Januarie 2002

Die Burger

Die Volksblad

Beeld

Joan Hambidge

Bernard Odendaal

Jo Nel

Resensie

Resensie

Resensie

43

15

56

234

73

321

628

Wilna Meyer

16 Desmber 2000

Die Burger

Cynthia Zietsman

Artikel

29

345

345

Cas Vos

23 April 1999

15 Mei 1999

5 Julie 1999

12 Julie 1999

16 Julie 1999

Beeld

 

Die Volksblad

Beeld

Beeld

Beeld

Neels Jackson

Mariëtte Cloete-Hofer

AP Grové

Poësieliefhebber

Joan Hambidge

Onderhoud-resensie

Artikel

Resensie

Brief

Brief

133

146

134

13

24

800

872

763

125

122

2 682

3.2 Die uitgewerswese as institusiemeganisme

Dat die ses digdebute almal selfpublikasies was of by niehoofstroomuitgewers verskyn het, noodsaak 'n kort uiteensetting van die stand van sake in die uitgewerswese teen 20006. Die belangrikste ontwikkelinge sedert 1994 was die sluiting of samesmelting van uitgewers, oornames en die herskikking van spesifiek die Naspers-groep, wat feitlik die hele Afrikaanse koerantwese en tydskrifmark beheer het. Ná omvattende herstruk­turering is die verskillende uitgewerye van hierdie groep teen 1 April 2001 saamgesnoer onder die oorkoepelende naam van NB-uitgewers, hoewel hulle steeds hul individuele handelsmerk­name behou het, soos Tafel­berg en Human & Rousseau. Hierdie rasionalisasieproses en die daarmee gepaard­gaande ekonomiese oorweginge het 'n groot impak op die literêre polisisteem en 'n beduidende rimpeleffek op die poësiesisteem gehad. Die uitgewer Riana Barnard (2002) erken dat daar beleggingsbesluite oor digbundels geneem word aangesien hulle "laag" op die prioriteitelys is. Die feit dat daar in die jare 1998 tot 2000 slegs een digdebuut by Naspers/­NB verskyn het, naamlik dié van Loit Sôls, bevestig Barnard se uitspraak. Eers in 2001 word die stilte verbreek met Allan Boesak en Riana Scheepers se debuutbundels: Tot sterwens toe en Met die taal van karmosyn. Sedertdien het nog drie debuutbundels by NB-uitgewers verskyn, naamlik Watervlerk deur Ilse van Staden (2003), Boomplaats deurGilbert Gibson (2005) en In die oog van stilte van Willie Kühn (2005)7.

'n Chronologiese lys van digdebute8 (Adendorff 2003:190-198) laat duidelik blyk hoe aktief kleiner uitgewers (ook randuitgewerye of niehoofstroomuitgewers genoem) soos Bent, Gnomic, Fenomeen en Suider Kollege Uitgewers in hierdie jare is9. Ook Lapa Uitgewers publiseer Afrikaanse belletrie, soos die Afrikaanse Skrywersvereniging se versamelbundel Metafore van herlewing (2002), terwyl selfpublikasies 'n opvallende tendens is.

Teenoor NB-uitgewers se versigtigheid, begin Protea Boekhuis om die poësiemark met mening te betree. Twee pryswenner-debute verskyn onder meer by Protea, naamlik Martjie Bosman se Landelik (2002) en Marius Crous se Brief uit die kolonies (2003). Volgens die stigter en hoofbestuurder van Protea, Nicol Stassen (2002), behoort uitgewerye daardie literatuur te publiseer waarin hulle glo óf wat nodig is, ongeag 'n klein aanvraag. Die sogenaamde verlies op 'n digbundel in reële terme is gering as gevolg van die lae produksiekoste, verklaar hy.

In 8 van die 35 resepsiedokumente oor die ses digdebute van 1999-2000 word kommentaar gelewer op die stand van sake in die uitgewersbedryf - soms heel uitgebreid. So wy Fanie Olivier (2001:4) ongeveer 'n derde van sy resensie van 155 reëls oor Bark­huizen le Roux se Dimensie aan 'n bespreking van die uitgewersisteem. Hy begin as volg:

Terwyl die groot kanonne huiwerig is om sonder meer nog poësie te publiseer, skep dit ruimte vir jong en kleiner uitgewerye om nuwe bundels en nuwe stemme bekend te stel. Niks is beter vir die letterkunde nie!

In die slot doen Olivier 'n beroep op die groot uitgewers om klein uitgewers te help deur vir hulle 'n uitstalplek in te rig in hulle groot boekwinkels, om sodoende die verkoop van boeke aan te moedig. Daar moet meer aandag aan "klein" publikasies soos Dimensie gegee word, voel hy, aangesien daar tog verse in die bundel is wat vir sekere lesers iets sal kan beteken en "bowendien die sê-krag van Afrikaans bevestig". Hoewel Dimensie nie een van daardie debuutbundels is wat die "wêreld aan die praat gaan kry nie", omdat die individuele gedigte oor die algemeen net nie dig of sterk genoeg is nie, meen Olivier dat dit "jammer" sal wees indien die gedigte nie die blootstelling kry wat hulle verdien nie. Ook Viljoen (2000:67) is van mening dat bundels wat nie by gevestigde uitgewers verskyn nie, 'n bydrae lewer tot die "gesprek" van die Afrikaanse poësie, alhoewel daar soms in die kritiek "gemor word oor die gehalte van sommige bundels buite die hoofstroom". Dat mense hul werk self uitgee, skryf Smith (2002), kan op 'n "dankbare leespubliek" dui.

Teenoor hierdie waardering is Joan Hambidge in feitlik al haar resensies, rubrieke en briewe veel meer krities oor die nuwe verwikkelinge in die poësiesisteem en oordeel sy negatief oor die gehalte van die bundels wat by randuitgewerye verskyn het. Die grootste vyand van die letterkunde is "'n kritieklose ophemeling van middelmatige bundels", skryf Hambidge (1999:10) in 'n brief aan Beeld na aanleiding van Vos se Vuurtong; 'n mens hoef nie "elke eendagvliegie of sielige boekie" aan te prys nie. In 'n bespreking van Bezuidenhout se Dansmusieke in haar rubriek "Kopstukke", getitel "Dans vergaan, maar digkuns bly staan", bestee Hambidge (2000a:4) meer as die helfte van die 57 reëls aan die situering van die bundel binne die literêre sisteem. Hierdie situering het grootliks te make met die debat rondom kleiner uitgewershuise. 'n Maand later skryf sy in 'n resensie oor onder andere Bohnen en Lorenz se bundels: "Daar is 'n stortvloed van swak bundels wat op alle fronte aan die uitpeul is." (Hambidge 2000b). Sy is ook een van die min resensente wat eksplisiet na die kanon verwys wanneer sy Lorenz se bundel waardeverkleinend oordeel: "Om 'n goeie digter te wees, beteken dat jy goeie verse moet ken. En ook jou plek in die kanon." In dieselfde resensie oor Bohnen se bundel verwys sy na die "konvensies" van die digkuns en meen dat dié digbundels nie juis die konvensies nakom nie.

In haar resensie oor Barkhuizen le Roux se Dimensie, "Soetheid is die woord" (Die Burger 12 Maart 2001), bestee Hambidge (2001a:9) meer as die helfte van die ruimte aan 'n bespreking van "alternatiewe uitgewers" soos Gnomic Press, Ancor en Suider Kollege Uitgewers wat "afgekeurde digters" se werk publiseer. Hoewel die bundel van Barkhuizen le Roux “keurig uitgegee" is, vra Hambidge: "Waarom is hierdie bundel gepubliseer?". Sy voel dat daar "geen blyke van enige kennis van die (huidige) poëtikale diskoers" in die bundel is nie; dit bevat die "sewentigerjare se vrye verspogings op sy ergste"; daar is 'n "pretensie van ek-is-'n-digter" aanwesig in die bundel, asook "studentikose" samestellings soos "bloekomboomgroengrys". Die resensent se oordeel blyk uit 'n uitspraak soos "Ja, hoor my kritiese lied! Want soetheid is die woord om hierdie bundel te beskryf." Hambidge se slotoordeel is dat hierdie alternatiewe bundels die Afrikaanse digbundels ernstige skade berokken: "Kan daar nie asseblief van ingeligte keurders gebruik gemaak word nie?”. Ook Olivier (2001:4) voel dat die bundel Dimensie strenger gekeur moes word. Hambidge (2000a:4) mis in sulke gevalle die "suinige, streng hand van die uitgewershuis" wat die digter teen homself of haarself beskerm, terwyl Smith (2000:15) meen dat snoeiwerk die tipe bundels soos Dansmusieke sou bevoordeel.

Naas die behoefte aan behoorlike keuring, word selfpublikasies en publikasies by randuitgewerye dikwels gebrandmerk deur swak redaksionele versorging, meen kritici. Hans Ester (2001) neem dié saak op in sy resensie van Dansmusieke en sê dat die bundel ontsier word deur "storende tikfouten" en dat toekomstige bundels met die "nodige zorg gedrukt" sal moet word. Hambidge (2000b) verwys selfs na korreksies wat met 'n koki in 'n bundel aangebring is.

3.3 Kwantitatiewe kanonaanduiders

Teen hierdie agtergrond word daar vervolgens verslag gedoen van die empiriese ondersoek wat na die 35 resepsiedokumente oor die debuutbundels van 1999-2000 onderneem is ten einde afleidings te maak oor die kanoniseringspotensiaal en -status daarvan. Daar word gebruik gemaak van Katinka Dijkstra (1989) se ondersoek na die literêr-kritiese kanon soos dit in resensies voorkom, spesifiek wat kwantitatiewe en kwalitatiewe kanonaanduiders betref. Volgens Dijkstra (1989:162-163) behels kwanti­tatiewe kanonaanduiders sake soos die aantal bladsye wat aan 'n outeur afgestaan word in byvoorbeeld naslaanwerke of skoolboeke; die aandag wat die outeur in die literêre kritiek ontvang en die keuse wat die literêre kritici maak uit die totale aanbod van debuut­werke.

'n Goeie voorbeeld van 'n kwantitatiewe kanonondersoek is te vind in Janssen se doktorale proefskrif, In het licht van de kritiek. Variaties en patronen in de aandacht van de literatuurkritiek voor auteurs en hun werken. Janssen (1994:34-77) benut Bourdieu se veldteorie en poneer dat die ongeskrewe reëls van die literêre kritiek die praktyk van resensente beïnvloed, derhalwe beïnvloed die institusie die resensie. Sy betrek resensies oor prosawerke en poësiebundels wat tussen 1978 en 1991 verskyn het en lê klem op aspekte soos die lengte van die resensies, die tipe resensie, die tipe uitgewery en ander kwantitatiewe aspekte. Janssen (1994:35) bevestig die hipotese dat dag- en weekbladkritici by hul keuse van werke wat geresenseer gaan word en ten opsigte van die lengte van hul resensies, sterk rekening hou met die menings van hul kollegas. Sy kom tot die gevolgtrekking dat die kritici hul keuse deur kwaliteitskriteria laat bepaal, asook deur die aktualiteits- en literêre waarde van die teks en deur persoonlike belangstelling. Die literêre institusie speel volgens Janssen (1994:19) verder 'n rol in die vorming en skepping van opvattinge oor tekste, met ander woorde beeldvorming. Janssen (1994:78-99) kyk in haar ondersoek ook na die rol van die outeur in die kanoniseringsproses deur onder meer te fokus op die betrokkenheid van die outeur in die literêre sisteem. Sy ondersoek die volgende aspekte (1994:88-90): die outeur se kreatiewe bydraes in literêre tydskrifte; literatuurbeskoulike aktiwiteite in dag- en weekblaaie en literêre tydskrifte; literêre newefunksies wat onder meer insluit lidmaatskap van literêre advieskomitees en organisasies; en laastens die aantal newe-aktiwiteite in die literêre sisteem. Hierdie aspekte dra by tot die profiel van die outeur.

Nog 'n empiriese kanonstudie is te vind in 'n artikel deur Kees van Rees (1997:90-101): "Modelling the Literary Fields. From System-Theoretical Speculation to Empirical Testing". Van Rees (1997:92) gebruik, net soos Janssen, Bourdieu se veldteorie en gee erkenning aan Janssen se navorsing (1997:96). Hy ondersoek resensies oor agtien debuutwerke wat in Nederland verskyn het, na aanleiding van die debuutjaar (1975-1977) en die debuutgenre. As aanduiders benut hy die volgende: die chronologie van die outeur se oeuvre, die totale aantal resensies, die aantal resensies in hoofstroom­koerante, die algehele en die gemidddelde aantal woorde oor elke werk en laastens drie maniere waarop die gemiddelde waarde-oordele geïnterpreteer kan word (Van Rees 1997: 96). Volgens sy artikel het veertien van die agtien debute by groot uitgewershuise verskyn. Van daardie veertien is vyf in hoofstroomkoerante of -tydskrifte geresenseer; hulle het gemiddeld 'n groter aantal woorde en positiewer oordele ontvang as die ander debute. Vier van die vyf debuut­skrywers het later na kleiner uitgewershuise oorgegaan, terwyl die oorbly­wende een opgehou het met skryf. Die ander nege debutante het algaande aandag getrek deur die toename in nuwe titels wat hulle by groot uitgewershuise gepubliseer het.

In ons empiriese ondersoek na die resepsies van die digdebute van 1999-2000 is die volgende kwantitatiewe kanonaanduiders nagegaan: die aantal, lengte, genre en chronologie van die mediatekste wat elke outeur ontvang het en in watter publikasie dit verskyn het, asook die status en gender van die mediateksskrywers.

Die eerste kwantitatiewe kanonaanduider is die aantal bekendstellings, resensies, artikels, profiele en perspektiewe wat oor die bundels en outeurs verskyn het (Dijkstra:1989:162-163, Ohlhoff: 1993:64 en Lourens:1997:38). Uit Tabel 1 blyk duidelik dat Bezuidenhout se bundel meer dikwels koerante en tydskrifte gehaal het as die vyf ander bundels - byna twee keer meer as dié van haar naaste 'teenstander', Barkhuizen le Roux. Bezuidenhout ontvang 14 resepsies, Barkhuizen le Roux 8 resepsies, Vos 5, Bohnen 4, Lorenz 3 en Meyer slegs 1. Indien 'n debuut nie veelvuldige resensies uitlok nie, sal dit waarskynlik uit die literêre gesigsveld verdwyn, meen Janssen (1994:76).

'n Verdere kwantitatiewe kanonaanduider is die totale lengte van die mediatekste10: Bezuidenhout ontvang 9 752 woorde, Barkhuizen le Roux 3 211, Vos 2 682, Bohnen 1916, Lorenz 628 en Meyer 345 woorde. Uit die tabel blyk dat Grové oorwegend lang resensies skryf ('n interessant verskynsel gesien in die lig van die ruimtebeperkinge wat gewoonlik aan resensente opgelê word): oor Vos 763 woorde, Bezuidenhout 734 woorde en Bohnen 717 woorde; terwyl Hambidge se resensies meestal korter is: oor Barkhuizen le Roux 280 woorde, Lorenz 234 woorde, Bohnen 144 woorde en Vos 122 woorde. Hambidge se mediatekste oor Bezuidenhout se bundel is egter langer: 641 woorde en 766 woorde. As gekyk word na die resensies oor Barkhuizen le Roux se bundel, blyk dit dat sy twee redelik lang resensies ontvang het: Olivier 792 woorde en Odendaal en Bruwer 558 woorde. Behalwe die twee lang resensies van Cloete (874 woorde) en Grové (734 woorde) oor Bezuidenhout se bundel is die ander van 'n kleiner omvang: Leibbrand 583 woorde (50 van die 82 reëls van die resensie bestaan uit aanhalings uit gedigte), Smith 437 woorde, Ester 428 woorde, Odendaal 418 woorde en Coetzee 304 woorde. Alhoewel Bezuidenhout se bundel meer resepsiedokumente uitgelok het as die ander bundels, is die individuele resepsies nie noodwendig lengtegewys of woordgewys so uitgebreid nie.

Die tabel gee ook 'n aanduiding van die verskillende genres wat die resepsies behels. Dit is in sommige gevalle moeilik om tussen die genres te onderskei. Bezuiden­hout ontvang onderskeidelik 8 resensies, 1 artikel, 2 onderhoude (wat hoofsaaklik biografiese inligting oor die digter gee, asook die intensies van die digter met die digbundel), 1 berig, 1 rubriek en 1 commendatio; Barkhuizen le Roux ontvang 3 resensies, 1 bekendstellingsartikel en 4 reaksies in die briefkolomme van die koerante; Vos ontvang 1 resensie, 1 artikel (Cloete-Hofer se artikel is bloot inligtend van aard en is eerder 'n bekendstelling van die digter), 1 onderhoud-artikel en 2 briewe; Bohnen ontvang 3 resensies en 1 artikel; terwyl Lorenz 3 resensies ontvang, met Meyer slegs 1 artikel, wat 'n bekendstelling van die digter is. Die generiese verskeidenheid van die resepsies van 'n spesifieke bundel lewer 'n bydrae tot die blootstelling en dus kanonisering daarvan.

Wat die koerante of publikasies betref, kom dit voor of Beeld met 12 en Die Burger met 11 die meeste mediatekste gepubliseer het. Hierdie koerante gebruik ook 'n verskei­denheid mediateks­skrywers: Beeld 8 en Die Burger 9. Vos word 4 keer in Beeld bespreek, Bezuidenhout 3 keer, Bohnen en Barkhuizen le Roux 2 keer elk en Lorenz net 1 keer. Die Burger toon die volgende verspreiding: Barkhuizen le Roux 5 besprekings, Bezuidenhout 3 en Meyer, Bohnen en Lorenz 1 bespreking elk. Hambidge is die enigste resensent wat vir albei publikasies skryf, terwyl Die Volksblad veral van Odendaal gebruik maak. Die rede hiervoor is moontlik dat Die Volksblad hoofsaaklik in die Vrystaat versprei word, terwyl Beeld en Die Burger 'susterkoerante' is wat hoofsaaklik in die Kaap en Gauteng versprei word. Geen resensie is in meer as een publikasie gebruik nie. As daar na die digterverspreiding gekyk word, word Bezuidenhout se bundel die meeste deur al die koerante en tydskrifte bespreek, ook deur twee buitelandse publikasies, naamlik Meander en Zuid-Afrika - die enigste bundel wat buitelandse resensies ontvang het. Die twee buitelandse resensente oordeel beide positief oor die bundel, met Leibbrand (2002) wat die bundel aanbeveel as 'n geskikte een om mee kennis te neem van die hedendaagse Afrikaanse digkuns.

'n Ander tendens wat na vore kom, is die reaksie wat resensies uitlok, veral in die geval van die kritiek oor Vos se besprekings. Die resensie van Grové (1999:12) oor Vos se bundel lei tot teenkanting deur Poësieliefhebber van Gauteng (1999:8) in 125 woorde, wat Grové van onder meer "misreading" beskuldig. Hierdie anonieme briefskrywer bestempel onder meer Grové se negatiewe oordeel as "oppervlakkig" en "argaïes". Uit die taalgebruik van die brief wil dit voorkom of die briefskrywer 'n akademikus is of ten minste 'n sekere kennis van literêre terme het. Op dié brief reageer Hambidge (1999:10) vier dae later in 122 woorde; sy verdedig Grové as "'n gesiene kritikus wat in sy vele sobere resensies beslis nie outyds of uit voeling met moderne strominge in die digkuns is nie". Hambidge (2001a:9) se resensie van Barkhuizen le Roux se bundel lok ook korrespondensie uit. Malan (2001) kritiseer in 122 woorde Hambidge se negatiewe kommentaar op die bundel en meen dat Hambidge se "metafisiese vraag" of Dimensie hoegenaamd gepubliseer moes word, ook op haar eie bundels toegepas kan word. Venter (2001:10) beskuldig in 359 woorde Hambidge van elitisme. Op dié kritiek van Malan en Venter reageer Hambidge (2001b:10) in 277 woorde. Sy kritiseer Malan oor "sy parodiese resensie van Lina Spies" en onthou "sy uitsprake oor die digkuns". Vir Venter sê sy dat daar "steeds hiërargiese uitsprake" bestaan "al wil ons dit wegwens". Hierdie tipe korrespondensie hou - ironies genoeg - die spesifieke bundels langer in die literêre oog.

As daar na die mediateksskrywers gekyk word, kan die volgende afleidings gemaak word: Hambidge is die aktiefste van die kritici met 8 mediatekste oor die onderhawige bundels; slegs oor Meyer skryf sy nie. Odendaal en Grové blyk ook aktiewe deelnemers aan die proses te wees. Grové resenseer nie vir Barkhuizen le Roux, Lorenz en Meyer nie en Odendaal nie vir Meyer en Vos nie. 'n Verskeidenheid stemme resenseer en reageer ook: 25 persone het oor die 6 bundels geskryf, van akademici tot gewone lesers. Die verskeidenheid mediatekste en -skrywers kan as positief gesien word, aangesien verskil­lende menings die letterkunde lewendig hou en die gesprek binne die literêre sisteem aan die gang hou.

Die status van die resensent in enige literêre sisteem speel volgens Janssen (1994:27) 'n belangrike rol by die kanoniseringsmoontlikhede van debute. Hierdie status blyk onder meer uit die aanduidings wat by die resensies verskyn oor die identiteit van die resensent. Hambidge word beskryf as "digter" en "romansier" (2001a:9); "medeprofessor" (2000b:20); en "prof." (2001b:10). Ander aanduidings word gevind in terme soos "emeritusprofessor van die Universiteit van Pretoria" (Grové 2001b:13) en "buitengewone professor in die departement Afrikaans en Nederlands, Potchefstroomse Universiteit" (Cloete 2001). Sulke aanduidings, dikwels onderaan resensies, skep ook sekere verwagtinge by die leser en meer akademiese ingestelde resensies sal waarskynlik verwag word van resensente soos byvoorbeeld Grové en Cloete.

Wat die geslag van die kritici betref, die volgende: 13 van die kritici is mans en 9 is vroue. Hierteenoor is 5 van die digdebute deur vroue en een deur 'n man. Drie mediateksskrywers se geslag kan nie uit die tekste afgelei word nie: Boekeredakteur (2001), Poësieliefhebber van Gauteng (1999:8) en Jo Nel (2002:9) (Nel is mede­professor in Engels aan die Universiteit van die Noorde, meld die resensie). As daar na die individuele bundels gekyk word, word Barkhuizen le Roux deur 4 mans en 3 vroue bespreek, Bezuidenhout deur 9 mans en 4 vroue, Bohnen en Vos deur onderskeidelik 2 mans en 2 vroue, Lorenz deur 1 man en 1 vrou en Meyer deur 'n vrou. Die totaal van 13 mans en 9 vroue bevestig die kritiek wat deur etlike belanghebbendes soos Brink (2003) in die Afrikaanse literêre sisteem uitgespreek word, naamlik dat die gesagsposisie nog steeds oorwegend wit en manlik is. Dat daar steeds 'n gender-ongelykheid bestaan, ondersteun die bevindinge van die groep Women in Publishing soos blyk uit hul publikasie, Reviewing the Reviews. A Woman's Place on the Book Page (1987). In 'n empiriese studie wat hulle in 1985 in die Verenigde Koninkryk onderneem het, is die resensies van 28 uiteenlopende soorte publikasies gemonitor. Slegs meetbare kriteria is gebruik; die inhoud en toon van die resensies het buite die ondersoek geval. Uit 'n tabel wat 'n vereenvoudigde samevatting van die gegewens van die ondersoek bied, kan die afleiding gemaak word dat manlike outeurs verkies dat hulle deur manlike resensente beoordeel word. Die ondersoek (1987:90) bevind verder dat daar boekebladredakteurs is wat poog om vroulike outeurs met vroulike resensente te pas en ander wat weer dié tipe stereotipering probeer verbreek. Wat die toneel in Nederland betref, bevind Marianne Vogel (2001) deur middel van kwantitatiewe en kwalitatiewe ondersoeke in haar beskeie publikasie Recensies! Waar onze literatuur vandaan komt dat gender­opvattinge op velerlei wyses in die kritiek van resensente insypel. In 'n kwantitatiewe ondersoek wat in tabelvorm op p. 38 van haar publikasie verskyn, vergelyk Vogel (2001:36-42) die aantal vergelykings (vergelyk Dijkstra (1989:162) se begrip van vermeldings – sien hieronder) van tien vroulike outeurs en tien manlike outeurs met ander outeurs. Deur middel van 'n ondersoek na die aantal vergelykings, die onderskeid tussen die geslagte en die aantal verwysings na binnelandse en buitelandse outeurs in resensies, kom Vogel (2001:42) tot die gevolgtrekking dat literêre kritici manlike outeurs met die hoogste literêre referensiekader verbind en sodoende dan beweer dat hulle die "belangrijkste en maatgevend" is. Uit 'n ondersoek na die aantal vergelykings en die geslagte van die digters na wie verwys word in ons empiriese ondersoek, was dit nie moontlik om af te lei of dieselfde tendens hier in Suid-Afrika voor kom nie.

'n Laaste kwantitatiewe ondersoekwyse wat ten opsigte van die resepsie van die debuutbundels van 1999-2000 onderneem is, was volgens die chronologie van die verskyningsdatums van die bundels. Die enkele bekendstellingsartikel oor Meyer se bundel op 16 Desember 2000 in Die Burger het waarskynlik net ná publikasie verskyn en is bloot inligtend van aard. Ten opsigte van Lorenz se bundel is daar 'n gaping van bykans 11 maande tussen die eerste twee resepsiedokumente en die laaste een, naamlik dié van Nel op 7 Januarie 2002; die rede vir dié tydsverloop kan nie uit die resensie afgelei word nie. Vos se bundel word binne 'n kort tydjie bespreek - omtrent vier maande, terwyl Bohnen se bundel drie maande lank aandag geniet. Die bundel van Barkhuizen le Roux is oor omtrent ses maande lank in die literêre gesigsveld gehou. Die vrystelling van die eerste twee resensies vind binne 'n maand van mekaar plaas, waarskynlik net na die bekendstelling van die bundel. Malan en Venter se reaksie op Hambidge (2001a:9) se resensie oor laasgenoemde digter se Dimensie geskied binne 'n paar dae in die briewekolom van Die Burger en dan verloop daar sowat twee maande voordat Olivier (2001) se oorwegend positiewe resensie op 28 Mei 2001 in Beeld verskyn – omtrent twee maande ná Hambidge se resensie en 'n week ná die aankondiging van die Ingrid Jonker-prys aan Zandra Bezuidenhout se Dansmusieke op 1 Mei. (Dit is interessant dat Olivier nie die bundel van die wenner van die prys, Bezuidenhout, geresenseer het nie.) Die laaste mediateks oor Dimensie is Hambidge s'n, wat eintlik 'n reaksie is op 'n 'ope brief' aan haar deur die Nederlands-Persiese skrywer Kader Abdolah11; dit handel nie soseer oor die bundel of die outeur nie. Bezuidenhout se bundel word oor 'n langer tydperk bespreek - die eerste 'aankondiging' daaroor verskyn in Maart 2000 in 'n artikel in Insig, maar die eerste resensie verskyn eers op 20 November 2000 – dié van Odendaal (2000:8). 'n Eerste resensie oor 'n werk is baie belangrik aangesien dit kan bepaal of daar verdere resensies gaan verskyn (Janssen 1994:22). Tussen Desember 2000 en April 2001 is daar 'n stilte, waarna die bundel redelik sterk in die literêre gesigsveld gehou word, waarskynlik as gevolg van die feit dat die Ingrid Jonker-prys daaraan toegeken is. Twee lang resensies (734 en 874 woorde onderskeidelik) deur 'n gekanoniseerde digter, Cloete, en 'n vername literator, Grové, verskyn na die toekenning van die prys aan Bezuidenhout. Interessant is dat beide die twee resensente nie die korrekte titel van die bundel verstrek nie, maar dit ongekursiveerd in die enkelvoudvorm as "Dansmusiek" aangee.

Die mate van kritiese aandag wat 'n tweede of derde titel kry, hang in 'n groot mate af van die resepsie van die debuutbundel van die betrokke outeur. Nuwe publikasies van outeurs wie se debuutwerk deur heelwat kritici bespreek is, geniet voorkeur by boekeblad-redakteurs en resensente, terwyl werke wat weinig kritiek ontvang het, later min belang­stelling uitlok. Hierdie reproduksiemeganisme, soos deur Janssen (1994:76) omskryf, vir die keuse van kritici is verbonde aan die institusionele sisteem waarin dit werksaam is. Die reproduksiemeganisme lei daartoe dat die besluit om 'n sekere werk te resenseer, 'n legitieme keuse verteenwoordig. Hiervolgens kan die afleiding gemaak word dat wanneer Bezuidenhout se tweede bundel verskyn (waarskynlik in 2006), dit meer resensies en besprekings sal uitlok as byvoorbeeld Lorenz se tweede bundel.

Op grond van hierdie kwantitatiewe kanonondersoek blyk duidelik dat Bezuidenhout se Dansmusieke die meeste mediatekste in meer koerante en publikasies en in verskillende genres deur die meeste kritici oor 'n langer tydperk ontvang het, as wat die geval was met die ander vyf debute. Volgens dié eenvoudige formule blyk dit dat die bundel reeds kanoniseringstatus12 bereik het, soos Lourens (1997:9-10) dit beskryf in haar tesis.

3.4 Kwalitatiewe kanonaanduiders

Kwalitatiewe kanonondersoeke behels 'n analise van die uitsprake van kritici en van die argumentasiestruktuur van hul kritiek. Dit bied insae in die dinamiese proses van kanonisering. Adendorff (2003) bied 'n omvangryke kwalitatiewe kanonondersoek na die ses bespreekte debuutdigbundels13. 'n Voorbeeld van kwalitatiewe kanonaanduiders is die assosiasie van die bespreekte outeurs met ander outeurs deur verwysings (Dijkstra 1989:163). Voordat hierna gekyk word, word stilgestaan by die ondersoeke van Vogel (2001) oor gender­opvattinge en dié van Pieterse (1992) oor die hoofopskrifte of koppe van resensies.

Daar is reeds in afdeling 3.3 na die studie van Marianne Vogel (2001) verwys, wat 'n kwantitatiewe ondersoek na die ongelyke behandeling van vroulike outeurs loods deur middel van die aantal vergelykings van vroulike outeurs en manlike outeurs met ander outeurs. Aangesien sy ook die argumentasies in die resensies analiseer (Vogel 2001:8), dien haar studie terselfdertyd as voorbeeld van 'n kwalitatiewe ondersoek. Sy koppel haar ondersoek aan genderopvattinge ten einde na te gaan hoe dit bygedra het tot stereoti­pering en vooroordele teenoor mans en vroue in die vyftigerjare (Vogel 2001:8). Volgens Vogel (2001:21) kom twee tipes redenering in resensies voor: die een berus op die genderopvatting van die resensent en die ander berus op sy of haar literatuuropvatting. Sy kom tot die gevolgtrekking dat die genderopvatting van resensente en ander literatore nie "meer onopgemerkt" is nie (Vogel 2001:56). Hier kan 'n verband gelê word met 'n bevinding van die reeds genoemde groep Women in Publishing (1987:90): "Male reviewers sometimes appear defensive about reviewing women's books". Die ondersoeke van Vogel en Women in Publishing skakel met Van Niekerk (1994:5) se bewerings oor die gebrek aan feministiese kritiek in Suid-Afrika. Van Niekerk (1994:6) kom tot die gevolgtrekking dat uitgewers nie die wanverteenwoordiging van vroueskrywers in versamelbundels daad­werklik probeer regstel nie.

Pieterse (1992:140) se ondersoek behels die analise van hoofopskrifte van resensies as 'n metode om die "gewildheid" van tekste te meet. Hy beweer dat drie tipes koppe onderskei kan word: positief (wat die teks aanprys), negatief (wat die teks onwenslik in een of ander sin beskou) en informatief (wat algemene inligting oor die teksinhoud of outeur in die vooruitsig stel). 'n Analise volgens dié werkswyse is nie noodwendig geslaagd nie, aangesien die hoofopskrifte van resensies en ander mediatekste misleidend kan wees, soos uit ons ondersoek blyk:

Tabel 2

 

Digter

 

 

Mediateksskrywer

 

Hoofopskrif

 

Posi­tief

 

Nega­-tief

 

Infor­matief

Christine Barkhuizen le Roux

Slabber

Odendaal & Bruwer

Hambidge

Venter

Malan

Hambidge

Olivier

Hambidge

Debuutbundel van Barrydaler verskyn

Meer as een dimensie van dié mensie

Soetheid is die woord

Hambidge skep nuwe apartheid

Hambidge self deel van parodie

Hambidge 'g'n pretbederwer'

Brokke van 'n geleefde lewe

Ope brief aan 'n Nederlandse skrywer

X

X

X

X

X

X

X

X

X

Zandra Bezuidenhout

Viljoen

Odendaal

Hambidge

Smith

A.C.

Ester

Leibbrand

Boekeredakteur

De Goede & Walters

Parker

Kritzinger

Hambidge

Grové

Cloete

'n Batige saldo vir Afrikaanse digkuns

Digdebutant flankeer met die lasso van liefde

Dans vergaan, maar digkuns bly staan

Bekoring nog te selde in dié musiek aangetref

Dansmusieke deur Zandra Bezuidenhout

Verrassende gedichten van Zandra Bezuidenhout

Zandra Bezuidenhout – dansmusieke

Bezuidenhout wen Jonkerprys

Zandra Bezuidenhout - Dansmusieke

Boekvrae aan Zandra Bezuidenhout

'n Vis kry 'n ekstra paar vinne

Die mond is nie geheim

Volwasse bundel met baie brille op die werklikheid

Dansmusiek - deur Zandra Bezuidenhout (gedigte)

X

X

X

X

X

X

X

X

X

X

X

X

X

X

X

X

René Bohnen

Hambidge

Odendaal

Nieuwoudt

Grové

Swak digbundels peul nou orals uit

Op die spoor van digterskap

Daar ís 'n weg uit die labirint

René Bohnen se 'Spoorsny' 'n belangwekkende debuut

X

X

X

X

X

Elza Lorenz

Hambidge

Odendaal

Nel

Swak digbundels peul nou orals uit

Op die spoor van digterskap

Leser kan aan dié spel meedoen

X

X

X

X

Wilna Meyer

Zietsman

Dwangskryfster gee op 66 eerste digbundel uit

X

X

Cas Vos

Jackson

Cloete-Hofer

Grové

Poësieliefhebber

Hambidge

Cas Vos 'dig wyer as ander dominee-digters'

Digter-ds wen skryfprys

Ryk gedagte-inhoud, maar te veel taaldwang

Dood van digkuns sal só kom

Hoef nie eendagvliegie te prys

X

X

X

X

X

X

X

X

As na Tabel 2 gekyk word, blyk dit dat sommige hoofopskrifte as beide positief en negatief geïnterpreteer kan word; byvoorbeeld "Dans vergaan, maar digkuns bly staan" en "Bekoring nog te selde in dié musiek aangetref" (oor Bezuidenhout se Dansmusieke) en "Ryk in gedagte-inhoud, maar te veel taaldwang" (oor Vos se Vuurtong). Dit wil voorkom of die meeste van die hoofopskrifte positief is (18) met die informatiewe hoof­opskrifte daarna (15); slegs 11 van die hoofopskrifte is negatief. Die informatiewe koppe gee bloot belangrike inligting. So suggereer 'n kop van 'n resensie oor Barkhuizen le Roux se Dimensie, naamlik "Debuutbundel van Barrydaler verskyn", watter tipe bundel dit is en waar die digter woonagtig is. Informatiewe hoofopskrifte blyk ook neutraal te wees, soos wat die kop van Cloete se resensie, "Dansmusiek - Zandra Bezuidenhout", getuig. Die twee informatiewe hoof­opskrifte by Vos se bundel kan positief geïnterpreteer word: dat Vos 'n pryswenner is (alhoewel die betrokke prys nie betrekking het op Vos se digbundel nie, maar op sy teologiese skryfwerk) en "wyer" dig as ander dominee-digters. Odendaal (2001:6) se titel oor Bohnen se bundel, "Op die spoor van digterskap", kan as positief en informatief gesien word, veral as die subtitel van die resensie ook betrek word: "Nuweling lewer belofteryke debuut"14. Die hoofopskrif by Meyer sou ook positief geïnterpreteer kan word, naamlik dat die digter op ses-en-sestig jarige ouderdom 'n bundel uitgee. Lorenz se bundel ontvang twee positiewe en een negatiewe opskrif. Die titel van Nel se resensie oor Transverse, "Leser kan aan die spel meedoen", lê klem op die rol van die leser by die aflei en generering van betekenisse. Die titel van Grové se resensie oor Dansmusieke, "Volwasse bundel met baie brille op die werklikheid", sinspeel op 'n reël in die gedig "Die middag van die ooms": "Ons luister met ons brille en ons vlegsels".

Dit lyk of Bezuidenhout se bundel meer positiewe koppe uitgelok het as die ander bundels. Bezuidenhout se bundel lok slegs een onomwonde negatiewe kop uit, naamlik "Bekoring nog te selde in dié musiek aangetref", aangesien die ander twee negatiewe koppe ook positief geïnterpreteer kan word.

Die poging om Pieterse se model toe te pas, het ons bewus gemaak van die belangrikheid van die koppe van resensies en ander mediatekste - 'n taak wat dikwels aan die subredakteur oorgelaat word aangesien ruimte-oorwegings by die bladopmaak van die koerant 'n rol speel. Die gevaar om nét van hoofopskrifte kennis te neem, is dat dit die koerant- of tydskriflesers kan mislei en 'n verkeerde indruk by hulle kan laat. So sal hulle dalk nie die resensie of mediateks verder wil lees nie. Vir die wetenskaplike kan hoofopskrifte as kwalitatiewe merkers funksioneer omdat sterk positiewe en/of negatiewe uitsprake 'n aanduiding van die kanoniseringsmoontlikhede van tekste kan wees. Wanneer die aantal positiewe, negatiewe of neutrale (informatiewe) koppe getel en as persentasie van die totaal per outeur bereken word, dien die koppe as kwantitatiewe kanonaanduiders.

Naas die ondersoeke van Vogel (2001) en Pieterse (1992) was dit veral Dijkstra (1989) se uiteensetting van verskillende soorte vermeldings15 wat besonder nuttig was in ons onder­­soek. Dijkstra onderskei vier groepe vermeldings wat almal herlei kan word na die basiese vorm van outeur x – (met vergelykingselement) – outeur y (Dijkstra 1989:163; vgl. Lourens 1997:40):

Waardetoekennend Outeur x is so goed soos outeur y

(albei outeurs is gekanoniseerd)

Waardevergrotend Outeur x is beter as outeur y

(kanoniserend t.o.v. een outeur)

Waardeverkleinend Outeur x is nie so goed soos outeur y nie

(dekanoniserend t.o.v. een outeur)

Eksplisiet kanoniserend Outeur x pas in die tradisie van outeur y en z

('n groep gekanoniseerde outeurs word veronderstel en daar word gesê x pas by hulle)

Die eerste drie groepe is voorbeelde van implisiete vermeldings aangesien die outeur se posisionering binne die literêre hiërargie óf positief, óf negatief, óf neutraal gestel word. Die posisionering word nie duidelik en eksplisiet gestel soos in die laaste geval nie. Smith (2000:15) verwys in sy resensie "Bekoring nog te selde in dié musiek aangetref" oor Dansmusieke onder meer na gekanoniseerde digters en beweer dat Bezuidenhout se bundel nie die "grotes" sal bedreig nie. In 'n poging om 'n aanduiding te gee van "die drumpel wat nog betree moet word" tref Smith 'n vergelyking met bundels van Krog en Pieterse. Waardetoekennende vermeldings kom onder meer voor in die artikel van Jackson (1999:13) oor Vos se bundel: Henning Pieterse, 'n gekanoniseerde digter en Hertzogpryswenner, etiketteer Vos as die "coolste dominee wat ek ken" en Jackson vergelyk Vos met ander "dominee-digters" soos Totius, I.L. de Villiers en Bonaventure Hinwood. Vos verwys verder in die artikel van Jackson na gekanoniseerde digters wat hom beïnvloed het, naamlik Breytenbach, Cloete, Opperman, Eybers en Van Wyk Louw. In Hambidge (2000b:20) se resensie oor Spoorsny kom twee vermeldings na Ingrid Jonker en Ted Hughes voor, maar hulle word nie waardevergrotend gebruik nie, eerder waarde­verkleinend.

Volgens Dijkstra (1989:163-164) kan drie soorte vermeldings onderskei word. Inligtende of informatiewe vermeldings fokus op die inhoud van die teks en gee inligting oor die skrywer en die teks; interpreterende vermeldings tref vergelykings tussen die stilistiese, tematiese en formele kenmerke van die teks, terwyl evaluerende vermeldings die outeur binne die literêre hiërargie situeer. In Zietsman (2000:10) se bekendstellings­artikel oor Meyer se bundel is die vermeldings van Gilliland, Krog en Müller wat gebruik word, almal informatief van aard en nie interpreterend of evaluerend nie. In Odendaal (2001:6) se resensie oor Bohnen se bundel kom interpreterende vermeldings van Ingrid Jonker en Sylvia Plath voor wat dan 'n intertekstualiteitsdimensie (De Moor 1993:52) tot die resensie toevoeg, aangesien die tema van selfmoord betrek word. Smith (2000:15) se resensie van Bezuidenhout se bundel kan as 'n voorbeeld van 'n evaluerende vermelding gesien word, aangesien hy in sy inleidingsparagraaf beweer dat Bezuidenhout se bundel nie die groteres sal bedreig nie. Hy tref 'n waardebepaling met ander digters wat min of meer in dieselfde tyd verskyn het deur Bezuidenhout se bundel met Antjie Krog en Henning Pieterse se bundels te vergelyk.

Dijkstra (1989:161) verwys ook na die rol van die resensent as "opinion leader" (meningsvormer) deur sy of haar oordeel aan die leespubliek oor te dra. Die leespubliek reageer dan op die betrokke resensie deur óf die teks te koop, óf nie. Grové (2001a:15) tree onder meer as meningsvormer op wanneer hy oordeel dat die gedig "Sandloper" in Spoorsny "[e]en van die beste gedigte" is. In die aanwys van die gedig "Indeks" in Bezuidenhout se bundel as 'n hoogtepunt, tree Odendaal (200:8) ook op as menings­vormer as hy beweer dat die beste gedigte van afdeling drie ("bloeddans") dié is "waarin 'n soberder sin vir die betreklike oorheers". Wanneer Smith die gedig "Die middag van die ooms" van Bezuidenhout (wat in Groot verseboek 2000 opgeneem is) as die "bekoorlikste vers" tipeer, tree hy dus ook as meningsvormer op.

4. Slot

'n Resepsie-ondersoek soos wat ons onderneem het, bied insae in die proses van kanonisering en van al die meganismes en entiteite wat hierin 'n rol speel. Uit die kwantitatiewe ondersoek en uit die analise van hoofopskrifte (wat sowel kwantitatief as kwalitatief funksioneer) wil dit voorkom of Zandra Bezuidenhout se Dansmusieke reeds kanoniseringstatus bereik het. Sy ontvang meer mediatekste as die ander debute en is in meer publikasies bespreek. Die bundels word ook oorwegend positief ontvang, veral deur gekanoniseerde digters soos De Goede en Walters (2001) en Cloete (2001), wat die moontlikheid versterk dat Bezuidenhout se werk beskou kan word as sou dit die kanon binnegedring het. Die Nederlandse resensies van Ester (2001) en Leibbrand (2001) dui ook op 'n positiewe internasionale ontvangs, al is dit op geringe skaal. Die resepsiestudie toon dat Bezuidenhout waarskynlik die beste kans op kanoniseringsmoontlikede geniet. Die feit dat sy so spoedig na haar debuut in Groot verseboek 2000 opgeneem is, kan as bevestiging van dié afleiding gesien word, aangesien hierdie antologie as kanon­bevestigend beskou kan word.

Hoewel dit verleidelik (en gevaarlik) is om voorspellings oor die kanoniserings­potensiaal van digbundels te maak, moet in gedagte gehou word dat kanonisering 'n dinamiese, voortdurende proses is. Ons ondersoek is dus nog nie 'afgehandel' nie en sal voortgesit word ná verdere publikasies deur die betrokke outeurs (van Vos het reeds 'n tweede en derde bundel verskyn, naamlik Gode van papier (2001) en Enkeldiep (2003); Bezuidenhout se tweede bundel, Aardling, verskyn in 2006 by Protea).

Twee literatuurgeskiedenisse, JC Kannemeyer se Die Afrikaanse literatuur 1652 – 2004 (2005) en Van Coller se Perspektief en profiel. Deel 3 (2006) kan ook as kanonaanduiders gebruik word. Van die ses digters wat in 1999-2000 gedebuteer het, bespreek Kannemeyer (2005) Bezuidenhout (54 reëls), Barkhuizen le Roux (35 reëls) en Vos (11 reëls). Op hierdie manier identifiseer Kannemeyer belowende digters in sy litera­tuur­geskiedenis en bring hulle sodoende onder die leser se aandag. Odendaal in Van Coller (2006: 134) noem ook dieselfde drie digters as Kannemeyer en bestempel hul solo­digbundels as van "redelike tot goeie gehalte".

Ten slotte: 'n artikel oor die resepsie van digdebute - soos ons artikel - staan uiter­aard nie buite die kanoniseringsproses nie.

 

Aantekeninge

1. Omdat hierdie teorieë hier te lande al veelvuldig in akademiese studies en artikels uiteengesit is, volstaan ons met ´n verwysing na Viljoen (1985), Galloway (1990), Snyman (1992), Ohlhoff (1993 en 1995), De Wet (1994) Lourens (s.a. en 1997), Van der Westhuizen (1999), Van Jaarsveld (1999), Van Coller (2002) en Adendorff (2003).

2. Van Gorp et al. (1998:242) voer die Griekse herkoms van die woord kritiek terug na krinein, wat beoordeel beteken. Die Griekse woord krino het baie betekenisse wat die taak van die resensent omvat, naamlik skei, onderskei, uitkies, beslis, vonnis, oordeel, beoordeel, veroordeel, meet, betwis en verklaar.

3. Volgens De Moor (1993:22) is die term resenseer etimologies afkomstig van die Latynse woord recensio, wat beteken: een vir een ondersoek, deurlopend nagaan, tel. Van Gorp et al. (1998:366) koppel die betekenis van die woord aan keuring en skatting. Oorkoepelend beteken recensio deurgaan, in die besonder in die gedagte nagaan en oordink.

4. De Moor (1993) se gids is gemik op gebruik deur studente in sy resensiekundekursus aan die Katholieke Universiteit van Nijmegen en handel nie net oor die skryf van resensies oor boeke nie, maar ook ander kunsvorme.

5. Die oorkoepelende terme mediatekste, resepsieverslae of resepsiedokumente word afwisselend in hierdie artikel gebruik vir die verskillende soorte genres.

6. Tendense in die Afrikaanse literêre veld teen die millenniumwending word elders in groter besonderhede bespreek (Adendorff 2003 en Venter en Galloway 2003:7).

7. NB-uitgewers het die Nuwe stemme-reeks (1999, 2001 en 2005) geloods waarin die jonger stemme kan debuteer. Dit kan gesien word as 'n oplossing vir die vermindering van publikasies van enkel­debuutdigbundels.

8. Die lys bevat die titels van digdebute tussen 1944 en 2002.

9. Dié tendens is egter nie 'n nuwe verskynsel nie, soos gesien kan word in die ondersoek deur Adendorff (2003:190-198).

10. In sommige gevalle is van die koerantartikels gebruik gemaak en in ander gevalle van die internet-weergawes van die teks. Die breedte van kolomme verskil dus van teks tot teks. Daarom is die woorde in die tekste getel.

11. Gedigte van Barkhuizen le Roux word as vertalings aangebied in die roman Portretten en een oude droom van Kader Abdolah (2003).

12. Lourens (1997:4) onderskei tussen kanonstatus as die status wat die outeur of teks reeds binne die kanon beklee, teenoor kanoniseringstatus as die status wat 'n outeur of teks as kandidaat het vir opname in die kanon.

13. Adendorff (2003) maak hoofsaaklik gebruik van De Moor (1993) se model, asook 'n kritiese eksposisie van Mooij (1973) se argumentasietipologie.

14. Die subtitel is nie van toepassing op Lorenz se bundel wat saam met Bohnen se bundel in die resensie bespreek word nie.

15. Die woord vermeldings word deur navorsers soos Ohlhoff (1993:64) en Lourens (1997:40) ingespan vir die woord mentions, wat deur Dijkstra (1989:162) gebruik is. Vermeldings is die verbandlegging tussen die bespreekte outeur en ander outeurs.

Elbie Adendorf

Ronel Foster

Universiteit van Stellenbosch

 

Bibliografie

A.C. 2001. Dansmusieke deur Zandra Bezuidenhout. De Kat. April.

Abdolah, Kader. 2003. Portretten en een oude droom. Breda: Uitgeverij De Geus.

Adendorff, E.M. 2003. Digdebute teen die millenniumwending. 'n Polisistemiese ondersoek. Ongepubliseerde M-tesis. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.

Afrikaanse Skrywersvereniging. 2002. Metafore van herlewing. Pretoria: Lapa.

Barkhuizen le Roux, Christine. 2000. Dimensie. Stellenbosch: Suider Kollege.

Barnard, Riana. 2002. Ongepubliseerde lesing. Skrywerswerkswinkel. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch. 23 Augustus.

Bezuidenhout, Zandra. 2000. Dansmusieke. Stellenbosch: Suider Kollege.

Boekeredakteur. 2001. Bezuidenhout wen Jonkerprys. Die Burger, 1 Mei.

Boesak, Allan. 2001. Tot sterwens toe. Kaapstad: Human & Rousseau.

Bohnen, René. 2000. Spoorsny. Northcliff: Gnomic.

Bosman, Martjie. 2002. Landelik. Pretoria: Protea Boekhuis.

Brink, A.P. (samest.). 2000. Groot verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.

Brink, André P. 2003. Resensies. Woordfees-lesingreeks. Stellenbosch. 8 Maart.

Cloete, T.T. 2001. Dansmusiek – deur Zandra Bezuidenhout (gedigte). Beeld, 27 Augustus.

Cloete-Hofer, Mariette. 1999. Digter-ds wen skryfprys. Die Volksblad, 15 Mei.

Crous, Marius. 2003. Brief uit die kolonies. Pretoria: Protea Boekhuis.

De Goede, Ronel en M.M. Walters. 2001. Ingrid Jonker-prys 1999-2000 (commendatio). 19 Mei.

De Moor, Wam. 1993. De kunst van het recenseren van kunst. Bassum: Dick Coutinho.

DeWet,Karen.1994.Eiendomsonbeperk.Dieonvoltooidegrootgesprek metD.J.Opperman in die Afrikaanse poësie.Ongepubliseerde D. Litt.-proefskrif. Mmabatho: Universiteit van Bophuthatswana.

Dijkstra, K. 1989. Canonvorming in de literaire communicatie. Spectator 18(3):159-168.

Ester, Hans. 2001. Verrassende gedichten van Zandra Bezuidenhout. Zuid-Afrika. Mei.

Even-Zohar, Itamar. 1990a. Polysystem Theory. Poetics Today 11(1):9-26.

Even-Zohar, Itamar.1990b. The "Literary System". Poetics Today 11(1):27-44.

Even-Zohar, Itamar.1997. Factors and Dependencies in Culture. A Revised Outline for Polysystem Culture Research. Canadian Review of Comparative Literature 24(1):15-33.

Fokkema, D.W. 1985/6. De canon als kritisch en didactisch instrument. Een historische analyse. Spectator 15(1):3-15.

Galloway, Francis. 1990. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM-Literêr.

Gibson, Gilbert. 2005. Boomplaats. Kaapstad: Tafelberg.

 

Grové, A.P. 1999. Ryk gedagte-inhoud, maar te veel taaldwang. Beeld, 5 Julie.

Grové,A.P.2001a.RenéBohnense'Spoorsny''nbelangwekkendedebuut.Beeld,26 Maart.

Grové,A.P.2001b.Volwassebundelmetbaiebrilleopdiewerklikheid.Rapport,13 Augustus.

Hambidge, Joan. 1999. Hoef nie eendagvliegie te prys. Beeld, 16 Julie.

Hambidge, Joan. 2000a. Dans vergaan, maar digkuns bly staan. Beeld, 21 November.

Hambidge, Joan. 2000b. Swak digbundels peul nou orals uit. Die Burger, 20 Desember.

Hambidge, Joan. 2001a. Soetheid is die woord. Die Burger, 12 Maart.

Hambidge, Joan. 2001b. Hambidge 'g'n pretbederwer'. Die Burger, 27 Maart.

Hambidge, Joan. 2001c. Ope brief aan 'n Nederlandse skrywer. Beeld, 26 Junie.

Hambidge, Joan. 2001d. Die mond is nie geheim. Beeld, 11 Augustus.

Jackson, Neels. 1999. Cas Vos 'dig wyer as ander dominee-digters'. Beeld, 23 April.

Janssen, Susanne. 1994. In het licht van de kritiek. Variaties en patronen in de aandacht van de literatuurkritiek voor auteurs en hun werken. Hilversum: Uitgewerij Verloren.

Kannemeyer, J.C. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652 - 2004. Kaapstad: Human & Rousseau.

Kritzinger, Jac. 2001. 'n Vis kry 'n ekstra paar vinne. Onderhoud: Zandra Bezuiden­hout. LitNet. Die mond is nie geheim nie. 30 Augustus.

Kühn, Willie. 2005. In die oog van stilte. Kaapstad: Human & Rousseau.

Leibbrand, Joop. 2001. Zandra Bezuidenhout – Dansmusieke. Meander, 6 Mei.

Lorenz, Elza. 2000. Transverse. Northcliff: Gnomic.

Lourens, Amanda. 1997. Polemiek en kanon. Kanonisering van die vroulike outeur in die Afrikaanse prosa van die dertiger- tot die negentigerjare. Ongepubliseerde D. Litt.-proefskrif. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

Lourens, Amanda. (s.a.). Resensering as instrument tot kanonisering. Ongepubliseerde klaslesing. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.

Malan, Lucas. 2001. Hambidge self deel van parodie. Die Burger, 20 Maart.

Meyer, Wilna. 2000. Verskillende vensters. Mosselbaai: Tintinkie.

Moerbeek, J. 1992. Hoe elastisch is de canon? Spiegel der Letteren 34(3-2):333-357.

Mooij, J.J.A. 1973. Problemen rondom literaire waardeoordelen. De Gids 136:461-473.

Nel, Jo. 2002. Leser kan aan dié spel meedoen. Beeld, 7 Januarie.

Nieuwoudt, Stephanie. 2001. Daar ís 'n weg uit die labirint. Beeld, 28 Februarie.

Odendaal, Bernard. 2000. Digdebutant flankeer met die lasso van liefde. Die Volksblad, 20 November.

Odendaal, Bernard. 2001. Op die spoor van digterskap. Die Volksblad, 26 Februarie.

Odendaal, Bernard en Sulette Bruwer. 2000. Meer as een dimensie van dié mensie. Die Volksblad, 13 November.

Ohlhoff, Heinrich. 1993. Kanon en kanonvorming. Tydskrif vir Letterkunde 31(4):58-65.

Ohlhoff,Heinrich.1995.Kanoneninstansies.'nAfrikaanseperspektief.TydskrifvirLetter-kunde 33(2):39-46.

Olivier, Fanie. 2001. Brokke van 'n geleefde lewe. Beeld, 28 Mei.

Parker, Elize. 2001. Boekvrae aan Zandra Bezuidenhout. Sarie, 11 Julie.

Pieterse, Henning. 1992. 'n Pot vol winter. Resepsieverslag. Tydskrif vir Letterkunde 30(2): 133-146.

Poësieliefhebber. 1999. Dood van digkuns sal só kom. Beeld, 12 Julie.

Scheepers, Riana. 2001. Met die taal van karmosyn. Kaapstad: Human & Rousseau.

Slabber, Annette. 2000. Debuutbundel van Barrydaler verskyn. Die Burger, 27 Oktober.

Smith,Francois.2000.Bekoringnogteseldeindiémusiekaangetref.DieBurger,6 Desember.

Smith, Francois.2002. Nuwe versetverse toon verskille. Die Burger, 31 Augustus.

Snyman, Linda. 1992. Die poësie van Dertig. 'n Polisisteembenadering. Onge­pub­li­seer­de D. Litt.-proefskrif. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

Sôls, Loit. 1998. My straat en anne praat-poems. Kaapstad: Kwela.

Stassen, Nicol. 2002. Persoonlike korrespondensie. Pretoria. 15 April.

VanColler, H.P.2002.Die saamstel van bloemlesings as kanoniserende handeling.Deel 1. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 42(1):66-78.

Van Coller, H.P. (red.). 2006. Perspektief en profiel. Deel 3. Pretoria: Van Schaik.

Van der Westhhuizen, Betsie. 1999. 'n Polisistemiese benadering tot die bevordering van kleuter-, kinder- en jeugliteratuur. Stilet 11(1):125-139.

Van Gorp, H.R., R. Ghesquiere, D. Delabastita en J. Flamend (red.). 1998. Lexicon van literaire termen. Gronigen:Walters-Noordhoff.

Van Jaarsveld, Anthea. 1999. Kruiskulturele verwysings in die letterkunde. 'n Politieke magspel. Stilet 11(1):1-8.

Van Niekerk, Annemarie. 1994. Vroue-vertellers 1843-1993. Kaapstad: Tafelberg.

Van Rees, C.J. en G.J. Dorleijn. 1993. De impact van literatuuropvattingen in het literaire veld. 's-Gravenhage: Stichting Literatuurwetenschap.

VanRees,Kees.1997. Modelling the Literary Fields. From System-Theoretical Speculation to Empirical Testing. Canadian Review of Comparative Literature 24(1):91-101.

Van Staden, Ilse. 2003. Watervlerk. Kaapstad: Tafelberg.

Venter, Danie. 2001. Hambidge skep nuwe apartheid. Die Burger, 23 Maart.

Venter, Rudi en Francis Galloway. 2003. Boekkultuur kort dringend 'n inspuiting. Die Burger, 6 Januarie.

Viljoen, Hein.1985. Die Suid-Afrikaanse romansisteem anno 1981. 'n Vergelykende studie. Ongepubliseerde D. Litt-proefskrif. Potchefstroom: Universiteit van Potchefstroom vir C.H.O.

Viljoen, Louise. 2000. 'n Batige saldo vir Afrikaanse digkuns. Insig, Maart. 66-67.

Vogel, Marianne. 2001. Recensies! Waar onze literatuur vandaan komt. Amsterdam / Antwerpen: Uitgeverij L.J.

Vos, Cas. 1999. Vuurtong. Clubview: Benedic Boeke.

Vos, Cas. 2001. Gode van papier. Pretoria: Protea Boekhuis.

Vos, Cas. 2003. Enkeldiep. Pretoria: Protea Boekhuis.

Women in Publishing. 1987. Reviewing the Reviews. A Woman's Place on the Book Page. London: Journeyman.

Zietsman, Cynthia. 2000. Dwangskryfster gee op 66 eerste digbundel uit. Die Burger, 16 Desember.

Elbie Adendorff
Universiteit van Stellenbosch
Privaatsak X1
7602 Matieland
Suid-Afrika

e-pos: elbie@sun.ac.za

Dr PH (Ronel) Foster
Kamer 625
Departement Afrikaans en Nederlands
Universiteit van Stellenbosch
7602 Matieland
Suid-Afrika

Telefoon (021) 8082174
Telefoon (021) 8082158 (sekretaresse)
Faks (021) 8083815

Gepubliseer op Afrikaans in Europa, Oktober 2007
Ook gepubliseer in Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 12de Jaargang (2005) 1:1-24

 

Catharina Loader 2001