Letterkunde

Afrikaanse poësie sing - Elbie Adendorff

 

Abstract

In this article five Afrikaans cd's are reviewed to show how Afrikaans poetry also manifests inself in the music genre. A brief discussion on the position of poetry is given as well as the manifestation of putting poetry to music. The reviews also show the variety of Afrikaans cd's which are launched.


Inhoud

Waar is die jong Afrikaanse digterstemme?
Wat is dan die toekoms van die Afrikaanse poësie?
Wegkruip tussen lyne getuig van persoonlike reis deur André G Nel
Jacques Brel in Afrikaans
Die vloedbos sal weer vlug
Dagbreek beklemtoon individuele aanslag van Emile Minnie
Fisantekraal vir die stille ure

 

Waar is die jong Afrikaanse digterstemme?

By die jaarlikse NP van Wyk Louw-gedenklesing van 2004 het Antjie Krog die vraag gevra "Waar en wie is die nuwe, jong digters?". Die nuwe digters neem, volgens Krog, hulle toevlug tot rockmusiek. Krog verwys na digter-sanger Gert Vlok Nel wat as debuutdigter deel van die Afrikaanse letterkunde geword het, maar algaande uitgewyk het na die "rock-verhoë". Krog vra die vraag of dit nie is om staanplek te kry vir 'n ander soort tematiek, 'n ander soort van digter-wees nie. Krog beweer dat die afwesigheid van die jong stemme gevind kan word in jong mense se besluit om uit te wyk na area's waar hulle bestaansreg het – soos die kuberruimte LitNet, die Afrikaanse rocktoneel en die alternatiewe beeld- en woordwêrelde van Bitterkomix.

 

Wat is dan die toekoms van die Afrikaanse poësie?

Die vraag kan volgens Martjie Bosman (2003:103) gevra word of die sogenaamde herstel in die poësiesisteem nie in die musieksisteem lê nie. Dit wil voorkom of poësie teen die millenniumwending deel geword het van die musiek. Baie nuwe toonsettings van Afrikaanse gedigte kom in verskillende musiekgenres voor, soos rock, ballade en die kunslied. Voorbeelde is onder meer Anneliese Wiid en Helena Conradie se Boer¬neef- en Cussons-programme; Derek Fordyce se Leipoldt-toonsettings; Marimba se toonsettings van gedigte van Eugene Marais en Ingrid Jonker; die om te breyten-projek onder leiding van Anton Goosen en Albert du Plessis, die verhoogproduksie en cd van Hans du Plessis se bundel Innie skyltie vannie Jirre saam met sanger Randall Wicomb; Laurinda Hofmeyer se produksies en cd's van getoonsette gedigte; die vrystelling (en sukses) van Chris Chameleon se cd oor Ingrid Jonker-gedigte én die sukses van groepe soos Buckfever Underground en performance poet Gert Vlok Nel. Volgens Bosman het die wisselwerking tussen musiek en poësie tot gevolg dat sangers ook as digters gereken word. Daarom vind die leser lirieke van Koos du Plessis, Anton Goosen, Gert Vlok Nel en David Kramer in Groot verseboek en in Pos¬kaarte. Ook die toename in publikasies van boeke of liriekboeke deur sangers soos Amanda Strydom (Genugtig!), Anton Goosen (Protea Boekhuis), Jak de Priester (selfpublikasie), bevestig die gedagte dat die musiek en die poësie nader aan¬mekaar beweeg het.

Dit wil voorkom of die Afrikaanse digkuns in 'n nuwe gedaante voortleef. Vir baie mense is musiek en lirieke soos poësie en word na musiek geluister om dieselfde redes as wat mense poësie lees: hulle identifiseer met die inhoud daarvan. Poësie is vir baie mense ontoeganklik en daarom vind daar 'n verskuiwing na die meer toeganklike genres soos musiek plaas. Volgens Bosman wil dit voorkom of daar 'n intensivering tussen Afrikaanse poësie en Afrikaanse musiek is wat waarskynlik saamhang met die "geweldige opbloei in Afrikaanse ligte musiek" (2003:106). Die opbloei kan toegeskryf word aan verskeie faktore, soos die tegnologiese vooruitgang (cd's kan makliker en goedkoop vervaardig word), die instelling van gemeenskaps¬radiostasies, die instelling van kunstefeeste (soos die KKNK en Aardklop) en rockfeeste (soos Oppikoppi) (Bosman 2003:106).

Hier dis nou vervolgens vyf resensies oor Afrikaanse cd's wat die afgelope jaar verskyn het om te toon dat Afrikaanse poësie ook kan sing.

Wanneer 'n mooi-ontwerpte, nuwe cd verskyn met die titel Wegkruip tussen lyne en geen woorde soos "meisie", "sokkie", "pampoen" of "loslappie" in die titels of lirieke voor kom nie, moet 'n mens dalk 'n tweede maal kyk en luister na die cd. Wanneer die cd 10 nuutgeskrewe lirieke bevat, en slegs nog een "cover"-opname, moet 'n mens dit dalk begin ernstig opneem. En dit is waarskynlik waar hierdie cd se sterkpunt lê: in die lirieke: dit kombineer die poëtiese met musiek en interessante melodieë.

En wanneer daar na die lys name in die produksiespan gekyk word en name soos Jean (Floors) Oosthuizen as vervaardiger en verwerker van meeste van die lirieke, Vinnie Hendrico op dromme, Devereaux van der Hoven (wat ook al vir Jannie Moolman, Danielle Pascal en Rory Rootenberg begelei het) op klavier en ook verwerker van twee van die lirieke, dan weet jy jy het hier met iets besonders te doen. Die cd is opgeneem en gemeng deur Marius Bouwer by Pop Planet – hy was ook verantwoordelik vir Nianell en Heinz Winkler se cd's. Agt van die lirieke is deur André G Nel self geskryf en twee is verwerkings van gedigte van Henning Pieterse en Adolph van Coller.

Dit is nie doef-doef-sokkie-musiek nie en sal waarskynlik nie rondom die braaivleisvuur gespeel word nie, maar dat dit tot 'n sekere nismark sal spreek, is gewis.

Die snit "Hou my vas" speel tans op rsg en blyk die meer kommersiële snit te wees – daarom is dit waarskynlik op die spellys en is 'n video daarvan ook gemaak. Dit is 'n mooi verwerking met die dromme ondersteunend en die kitaarsolo daarin goed. Daar is ook 'n "house mix" van die snit gemaak en daarop sal lekker ge-"bump" kan word. Die video van die snit is ook op die cd beskikbaar.

"Wonderland" is een van min "vrolike", opgewekte snitte op die cd en weereens is die ondersteunende kitaarspel nie oordonderend nie.

Die snit "Jy't my naam vergeet" is rustig en melankolies wat opbou tot 'n sagte crescendo by die refrein. Die sagte klavier- en kitaarklanke ondersteun die lirieke.

"1000 kilo's" kan 'n gewilde snit raak met die lekker klavierklanke en die melodie wat sag op die oor is. Die lirieke sal spreek tot baie mense wat ver is van geliefdes en wat hoop die lang afstande is nie daar nie.

Die rustige, "laid back"-gevoel van "Joshua/I can't wait for the rain" ondersteun die lirieke en is ook 'n liriek waarna mens laat in die aand rondom koffie sal wil luister.

"Vertel niemand" het 'n jazzerige klank en laat mens dink aan donker, rookvervulde teaters. In hierdie snit werk die trompetspel goed om daardie jazzerige gevoel oor die dra.

Henning Pieterse kan trots voel op die verwerking wat Nel van sy gedig "Wat bly oor?" uit sy bundel Die burg van hertog Bloubaard gedoen het. Die "eggo" waarna in die gedig verwys word, vind neerslag in die verwerking van die gedig. Dit val lekker op die oor en kan gerus ook op die spellys van radiostasies geplaas word. Dit bewys dat (moeilike?) poësie tog toeganklik vir die publiek gemaak kan word deur musiek.

Die ander verwerkte gedig op die cd is 'n Engelse een deur Adolph van Coller, een van die jong opkomende digters. Die Engelse gedig "Darker shades of blues" is donker en sterk melankolies – amper depressief. Hier speel die klavier en die viole belangrike rolle om die donkerte te beklemtoon.

"Ek weet" is weereens rustig en sal eerder laatnag rondom die koffietafel gespeel word.

Die enigste werklike vrolike, opgewekte snit met 'n "catching tune" is "In my bloed". Tog is daar die gevoel dat dit nie heeltemal slaag nie en Nel se stem kom nie tot sy reg nie. Mens mis volume hier by Nel.

Die "cover"-opname van Louis van Rensburg se "Voshaarnooi" uit die televisiereeks Ballade vir 'n enkeling is besonders en getuig van goeie besluitneming en fyn aanvoeling vir die lirieke. Dis altyd moeilik om 'n liriek wat amper volksbesit geraak het, weer op te neem en te verwerk en iets unieks daarmee te maak, maar in hierdie geval is dit geslaagd. Die klavierspel en meesleurende tjello-spel dra by tot die melankoliese klank van die lirieke en gee die gevoel van 'n laatnag-koffie-drink-sessie-op-die-rusbank.

Nie almal sal ewe opgewonde wees oor die cd nie en daar sal waarskynlik gevoel word dat die cd te monotoon is en dat verskeidenheid ontbreek. Dit is wel so, maar dit kan ook van ander cd's gesê word. Dit is 'n cd vir die stil oomblikke van oordenke en nadenke en rustig sit en luister. Die cd vra na diep luister en nadink. Kritiek kan ook uitgespreek word teen die laaste akkoorde van die snitte wat te dieselfde is en almal eindig amper op dieselfde wyse. Maar die musikale verwerkings van die snitte getuig van harde werk en 'n fyn aanvoeling vir die poëtiese.

Die musiek kan beskryf word as folk-pop en André G Nel kan (gelukkig?!) nie met 'n ander Afrikaanse kunstenaar vergelyk word nie. Dit is 'n cd wat eerder vertel van die persoonlike reis van die sanger-skrywer en van die sanger en sy musiek. Dit is 'n cd wat getuig van 'n kunstenaar wat dinge op sy manier wil doen en nie noodwendig hoe die massa daar buite of die oorgrote populêre pop-kunstenaars dit doen nie.

Nog 'n pluspunt van die cd is die mooi verpakking waarin dit verskyn. Lanklaas het daar in Afrikaans so 'n besonders mooi verpakte cd verskyn. Dit verskyn in boekievorm en is keurig versorg. Dit is besonders en toon die kreatiewe gees van die sanger-skrywer, wat 'n grafiese ontwerper is. Die verpakking getuig van fyn detail en moeite wat daarin gegaan het.

Die cd van André G Nel kan seker die maklikste saamgevat word in sy eie woorde op die snit "Wonderland": "Ek is 'n skrywer wat wegraak in my woorde; wegkruip tussen lyne van dit wat ek wil sê".

Jacques Brel in Afrikaans

Om Jacques Brel as 'n vertalingsprojek aan te pak en daarvan 'n verhoogproduksie te maak; en nog later 'n cd daarvan te maak, sit nie in elkeen nie. Dit is 'n waagstuk omdat so baie kunstenaars hier plaaslik, asook internasionaal, Brel se musiek vertaal en vertolk het. Die meeste van die vertolkings op Suid-Afrikaanse verhoë, geskied egter in Engels, Nederlands en Frans. En nou is Jacques Brel in Afrikaans vertaal!

Om Jacques Brel as 'n vertalingsprojek aan te pak en daarvan 'n verhoogproduksie te maak; en nog later 'n cd daarvan te maak, sit nie in elkeen nie. Dit is 'n waagstuk omdat so baie kunstenaars hier plaaslik, asook internasionaal, Brel se musiek vertaal en vertolk het. Die meeste van die vertolkings op Suid-Afrikaanse verhoë, geskied egter in Engels, Nederlands en Frans. En nou is Jacques Brel in Afrikaans vertaal!

Naòmi Morgan en Bernard Odendaal van die Universiteit van die Vrystaat het die vertaalprojek aangepak. Die uiteindelik resultaat is 'n kabaretvertoning "My man, Jacques Brel" wat in 2005 by die Volksbladfees in Bloemfontein en in 2006 by die Woordfees op Stellenbosch op die planke gebring is. Dit is ook in 2006 in Gent opgevoer. Herman van den Berg het die liedere vertolk en Naòmi Morgan het die rol van Brel se vrou, Mische, gespeel.

Die vertaalprojek het nog verder uitgeloop op die cd Herman van den Berg sing Brel in Afrikaans. En watter sukses is dit nie - die gestroopte klank van die cd beklemtoon die nostalgiese klank van Brel - en dit is soos Brel moet klink. Met net klavier en kitaar en enkele ander musiekinstrumente, voel mens dit is al wat nodig is vir Brel. Dit is altyd moeilik om te kies watter lirieke op 'n cd moet kom – en in die geval van Brel waarskynlik nog moeiliker. Die keuse van die cd is goed aangesien mens die gevoel kry dat daar deeglik besin is oor watter liedere van Brel in die verhoogproduksie, maar ook op die cd moet kom. Die cd bevat 'n redelike goeie verspreiding van Brel se musiek en van die belangrikste temas van Brel, naamlik die liefde, die lewe, vriendskap en oudword – en dit is temas waarmee die meeste van ons kan identifiseer. Brel is natuurlik bekend vir sy "chanson" en veral vir die poëtiese klank daarin; daarom kry mens in die geslaagde vertalings baie poëtiese elemente soos rympatrone, alliterasies en 'n beeldrykheid.

Herman van den Berg is ook geen onbekende as dit by die poësie kom nie – hy het gedigte soos "Die beiteltjie" van NP van Wyk Louw, "Windliedjie" van Ingrid Jonker en "Hoe ver is eendag" van Antjie Krog getoonset. Sy sensitiewe benadering tot musiek kom waarskynlik die beste na vore in Brel se musiek en komplementeer sy stem en Brel se musiek mekaar. Van den Berg boots nie vir Brel na nie en gee 'n oorspronklikheid aan Brel. Die atmosfeer van Brel se musiek kom sterk na vore en Van den Berg moet geluk gewens word dat hy nie Brel probeer naboots het nie.

Die cd begin met "Die sterwendes" (Le moribond) wat 'n goeie begin tot die cd is aangesien dit belangrike temas van Brel, soos ontrouheid, vriendskap, Brel se afkeer aan die kerk en die dood, bevat – dit is temas wat ook in die ander liedere op die cd voorkom. Die klavierbegeleiding en kitaarklank in hierdie lied ondersteun die donker onder¬toon van die lied. In kontras daarmee is die tweede lied "Drinklied" (La bière) wat vrolik is met 'n lekker vinnige tempo – dit is dan natuurlik 'n verheerliking van wyn en bier! Daarna wissel die tempo weer in die derde lied "Die grysaards" (Les vieux) wat hartseer en emotief die tema van die naderende ouderdom en die verganklikheid van die lewe eggo. Die bekende "My lae land" (Le plat pays) is daarna op die cd en dit is 'n interessante verwerking van die lied. Die kitaarspel is goed hier en beklemtoon die liefde van Brel vir sy land. Net soos in die vorige lied kom in "Jojo" die nostalgiese klank na vore wat deur die kitaarspel gedra word. By hierdie lied is die akkordeonklank ook ondersteunend en gee ietsie van 'n Franse chanson-gevoel aan die lied. Die lied wat oor die dood van 'n vriend handel, word gelukkig nie sentimenteel nie en slegs die bittere leed oor die dood van 'n vriend kom na vore. In "Amsterdam" speel die akkordeon ook 'n ondersteunende rol en word daar aan die einde van die lied opgewerk na 'n crescendo. Die mooi "My kinderdae" (Mon enfance) is weereens nostalgies en die musiek eggo die gestroopte klank van die kinderherinneringe waaroor die lied gaan. In die klavierspel hoor mens die Nokturne in E-mol deur Franz Schubert, wat blykbaar een van Brel se gunsteling komponiste was. "Om met liefde alleen" (Quand on n'a que l'amour) roep die beeld van verlore liefde op. Om die tipiese somber klank van Brel op die cd te onderbreek, volg hierna die vrolike "Vlamingvrou" (Les Flamandes). Dit het 'n lekker vinnige tempo en die ondersteunende tuba-klank gee 'n interessante effek aan die lied. Ook hier word opgebou na 'n lekker crescendo aan die einde. Die kitaar-spel in "Sneeu oor Luik" (Il neige sur Liège) is rustig en dra by tot die stemmingevolle tema van herinneringe; terwyl "Die bedeesdes" (Les timides) se melodie interessant is. Die hortende ritme beklemtoon die tema van die lied – van dié wat sukkel in die lewe. In "Die lied van die ou minnaars" (La chanson des vieux amants) beklemtoon die rustige melodie die verlange na 'n geliefde. Die laaste lied, wat 'n goeie afsluitng van die cd is, is die bekende "Die goeie god" (Le bon dieu). Dit is veral die instrumentespel wat hier uitstaan en die walsmelodie word baie subtiel wegge¬steek in die lied.

Die cd toon die rou emosie wat so tipies van Brel is en deur die Afrikaanse vertalings word die tydlose musiek van Brel toeganklik vir die Afrikaanse musiekmark. Vir dié wat hou van Brel se musiek, is die cd 'n moet – veral aangesien die mooi vertalings iets van die misterie van Brel ontsluit. Die cd behoort binekort by die naaste musiekwinkels beskikbaar te wees. Bestellings kan ook geplaas word by Herman van den Berg se webwerf: www.hermanvdb.co.za

Die vloedbos sal weer vlug

In 2006 verskyn die debuutdigbundel van Carina Stander, die vloedbos sal weer vlieg. In verskeie resensies oor die bundel word die digter se woordrykheid en klank- en beeldvaardighede geprys. Die gedigte spreek van 'n musikaliteit wat spruit uit die refreine, rympatrone, allitererende en assonerende klanke. Nie net is die woorde op papier musikaal nie, maar dit is ook musikaal op die oor – en daarom is dit seker geen wonder dat die digter, in samewerking met Francois le Roux, 'n cd saamgestel het met verse uit die bundel nie.

Francois le Roux, meer bekend as die HA! Man, is geen onbekende in musiekkringe nie. Kenmerke van sy musiek is waarskynlik die spontane ontstaan daarvan en die speelse element daarin. En daarom is dit dan ook nie vreemd dat die twee kunstenaarstemme van Carina en Francois by mekaar uitgekom het nie en dat hulle mekaar so goed ondersteun en komplementeer nie.

Die cd bevat vyftien van Carina se gedigte (die titel van die cd vyftien musiekverse omskryf waarskynlik die gedigte van Carina die beste – dit is verse wat vir almal toeganklik is om na te luister en nie noodwendig gedigte in die literêre sin van die woord nie) wat deur haar self voorgelees word; met agtergrondmusiek en -klanke deur Francois. Dié agtergrondmusiek en -klanke, voortgebring deur 'n verskeidenheid musiekinstrumente en die stem van Francois, ondersteun die stemming en gevoel wat Carina in die gedigte probeer oordra. Dit is nooit oorheersend-dominerend nie, maar subtiel op die agtergrond, soos reeds blyk uit die eerste gedig "waar jy ook al is". In die gedig "As Jy weer hierlangs kom" beklemtoon die gebruik van die aardse Afrika-tromme die uitgroei van die gedig tot meer as net die naïewe kind-perspektief op geloof. Nog goeie voorbeelde waar die musiek die woorde pragtig ondersteun, is in "Voorlaaste maand" en "In die nag het ek Jou naam geroep"; waar veral in die laaste gedig die melankoliese klank van die musiek die geweldstema verironiseer. In "Gloeikrag" kom daar weer 'n speelse element na vore met die byna Franse mineur-klank; terwyl in "Blindelings" die sterk dramatiese aspek na vore kom in die gebruik van die onheilspellende tromme op die agtergrond.

Carina se voorlesings is op sigself musiek en daaruit spreek haar kunstenaarstalent. Nie net is sy 'n beeldende kunstenaar en woordskepper nie, maar sy is ook 'n stem-kunstenaar – en kan self as 'n performance-kunstenaar beskou word. Die gedig "Nomvula, Nomvula, kom speel met My" is een so 'n voorbeeld waar die performance-aspek van Carina sterk na vore kom. Die "speel" van die titel kom nie net na vore in die speelse klavierspel van Francois nie, maar ook in die speelse klank in en van Carina se stem.

Die cd is vir diegene wat Carina en Francois se werk ken en nie net Carina se verse wil lees nie, maar dit ook wil hoor – dit is 'n dankbare bydrae tot die popularisering van poësie deur gedigte op cd te sit. Dit behoort op elke poësieliefhebber, wat reeds 'n cd van Laurinda Hofmeyr of selfs Breyten Breytenbach se Mondmusiek besit, se rak. Enige navrae oor die cd, kan gerig word aan Carina by carinastander@btopenworld.com of by Francois by francois@hamanworld.com.

Dagbreek beklemtoon individuele aanslag van Emile Minnie

Emile Minnie is nie 'n onbekende op die musiektoneel nie en het as deel van Vlam reeds sy merk gemaak op die musiektoneel – en meer spesifiek die kabaret-toneel. Sy nuwe cd, Dagbreek, is reeds op die rakke in musiekwinkels en Minnie is besig met 'n landwye toer om die cd te bemark.

Dit is 'n cd wat getuig dat hier 'n musiek- en woordkenner aan die woord is. Daar is 'n verskeidenheid musiekstyle wat vars op die oor is. Dit is alles oorspronklike musiek, geskryf deur Minnie self, maar tog so universeel dat elkeen wat daarna luister met die woorde en gevoel sal kan identifiseer.

Die musiek is alles oorspronklik en  geskryf deur Minnie self -  só universeel dat elkeen wat daarna luister met die woorde en gevoel sal kan identifiseer. Dit is 'n kabaret-cd en nie jou gewone popliedjie cd nie. Minnie se klavierspel beïndruk in byna in elke snit op die cd. Die cd skop af met die energieke "Kry my", gevolg deur "Susterliefde" en "Gaan ek ooit?" In al drie hierdie snitte is die klavierspel opvallend en kan mens praat van 'n klaviergedrewe poplied. Die ritme is lekker vinnig en mens wikkel die tone op die ritmiese herhalende ondertone. In "Kaatjie van die baan" word die wals-ritme telkens interessant afgewissel en 'n duidelik kabaret-gevoel is merkbaar in die snit. Weer eens kom die goeie klavierspel van Minnie in hierdie snit na vore. In "Hang ek halflyf" is die jazzerige gevoel deur die klavier en stem opvallend. "Saartjie" (wat saam met Beneke de Wet geskryf is) verwoord die rustelose soeke van elke mens, wat ook sterk nostalgie opwek. "Sien jy nou?" herinner hierdie luisteraar aan die skerp ironiese kommentaar van Johannes Kerkorrel. Die herhalende frases (wat in sommige snitte op die cd erg kan pla) gee hier iets van 'n protes-oraliteit weer. Die weerklank van die frase "sien jy nou" bly mens bly wanneer die snit tot 'n einde gekom het. Die pop-klank kom weer na vore in die liefdesliedjie "My geliefde"; terwyl die jazzerige "Jy is die een" mooi op die oor val. "Huisie" is weer tone-wikkelend en die lekker vrolike ritme veroorsaak – ironies - dat mens die naaste persoon wil gryp om 'n paar danspassies uit te voer – terwyl die lirieke spreek van erge eensaamheid en alleenheid. In "Jy verlaat my" beklemtoon die tjello die hartseer, blueserige gevoel wat uit die lirieke, van iemand wat deur sy of haar geliefde verlaat is, spreek. Dit het ook 'n jazzerige aanslag. "Voor jou" is 'n mooi rustige liefdeslied. "City of joy" is die enigste Engelse snit op die cd en hier beklemtoon die klavierspel die rustige trant van die snit. Die titelsnit "Dagbreek" gee die gevoel van verlange en lomerigheid weer en die klavier is ook hier ondersteunend tot die lirieke. Die cd word afgesluit met die rustige "Sê dit".

Dagbreek beklemtoon die individualiteit van Minnie. Koop die cd en luister na oorspronklike kabaretmusiek en -lirieke.

Fisantekraal vir die stille ure

Niël Rademan het na sy Drama-studie en die voltooiing van sy M-graad as vryskut-musikant begin naam maak. Hy het veral sukses behaal vir sy verwerking van Riana Scheepers se kinderverhaal Die avonture van Wilde Willemientjie waarvoor hy in 2006 die Kanna-prys vir Beste Kinderproduksie verower het by die KKNK. Hy het ook Scheepers se kortverhaalbundel Die melkweg het 'n ster laat val verwerk na 'n woordkunsprogram. Rademan het ook al saam met ander kunstenaars soos Petronel Baard en Charlene Truter opgetree. Hy het ook 'n teaterhuis (waar kunstenaars soos Jan Blom, Randal Wicomb, Rory Rootenberg al opgetree het) op die familieplaas, Dasjesdrift, naby Heidelberg oopgemaak.

Die splinternuwe cd van dié kunstenaar is 'n kombinasie van oorspronklike lirieke deur Rademan self en Minda Gildenhuys; en verwerkings van tradisionele Afrikaanse treffers, soos Danie Bosman se "Net 'n stille uurtjie" en "Boereseun".

Fisantekraal is 'n cd wat getuig van eenvoud en gestroop van alle pretensie om 'n nostalgiese klank uit te bring. Rademan se stem is waarskynlik sy beste wapen en hy gebruik sy stem goed op die cd om die verskillende stemminge en nuanses op die snitte na vore te bring. Die luisteraar kan agterkom hier is 'n stem wat geoefen is en musiekopleiding ondergaan het. Ook Rademan se klavierspel is 'n pluspunt op die cd. Dit is goed om in die tyd van elektroniese musiek en cd's wat die rakke oorrompel met elektroniese klanke, een te kry wat net van klavier en stem en enkele ander musiekinstrumente gebruik maak.

Die cd (bestel by nielrademan@webmail.co.za) skop af met 'n interessante en opgewekte verwerking deur Rademan self van die tradisionele volkslied "Suikerbos". Dit word gevolg deur Jan Pohl se "Sawends" wat die gevoel van verlange goed weergee. Koos du Plessis se treffer "As jy my kan volg" kry ook 'n nuwe blaadjie en die trekklavier en klavier werk goed saam op die verwerking. Daarna volg Christa Steyn se "Ek wil vir jou" en dan die eerste nuwe lied, "Fisantekraal" wat iets van die plattelandse nostalgie suggereer. Rademan bewys sy goeie klavierspel met "Rondo nostalgie" - 'n eie komposisie. Die tradisionele lied "Mooi rooi blom" kry 'n lekker jazzerige aanslag. Rademan herskryf deur digterlike vryheid en 'n intertekstuele gesprek 'n Stef Bos-nommer tot "Ek het jou lief" – wat 'n treffer kan word. Ook die tradisionele nommer "Al lê die berge nog so blou" kry 'n lekker jazzerige deuntjie en aanslag. Die ritme- en tempowisseling toon die musiekagtergrond van Rademan en wys op talent wat nog meer ontgin kan word. "Ver van hier" is een van Rademan se eie komposisies en die verlange na die platteland word gesuggereer deur veral die sagte fluitspel en lirieke. Die cd word afgesluit met twee Danie Bosman treffers, "Net 'n stille uurtjie" en "Boereseun". Rademan is 'n goeie verwerker van tradisionele treffers en wys op 'n vernuwende wyse van luister na ou liedere.

Dalk kan die cd die beste saamgevat word deur te verwys na die Danie Bosman-lied "Net 'n stille uurtjie". Hierdie is 'n cd vir die stille ure van die dag en nag; dit is 'n cd vir dié wat in die stadsgewoel terugverlang na die platteland en die rustige leefwyse van die platteland. Dit is 'n teruggryp én 'n huldeblyk na 'n tyd en 'n era wat verby is.

Publiseer: Desember 2008

 

Catharina Loader 2001