Letterkunde

“grootoogdriehoekgesighottentotsgot”

 

 

Carina van der Walt verwerf in 2004 haar meestersgraad in Kinder- en jeugliteratuur in ’n vergelykende studie tussen Afrikaanse en Nederlandstalige poësie vir adolessente aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelik Hoër Onderwys (PU vir CHO) in Suid-Afrika en die Universiteit van Tilburg (UvT) in Nederland. Sedert Januarie 2007 is sy woonagtig in Tilburg vanweë haar huwelik met Geno Spoormans, ook verbonde aan die Universiteit van Tilburg. Sy is tans ook jounaliste by die kunstydskrif BEELDEN (Nederland) & Media24 (Suid-Afrika).

 

 

Bidsprinkaan

T.T. Cloete het met sy digbundel Karnaval en Lent (2014) bevestig dat hy die grootoog bidsprinkaan van die Afrikaanse poësie is. Twee groot saamgestelde oë van die hotnotsgot soek altyd na kos en gevaar, terwyl drie kleiner ogies hulle op ander detail rig. Op dieselfde vyfogige manier kyk Cloete na sy hedendaagse werklikheid. Sy eerste groot, gesegmenteerde oog is op die lyflike met al sy genietinge en vergrype in die verbruikerssamelewing gerig. Karnaval dus. Sy tweede groot gesegmenteerde oog is op God gerig. Lent – oftewel Vas.

En die ander drie kleiner ogies verken op ’n esiklopediese wyse die ou, gekultiveerde wêrelde van Europa en die Bybel met hulle kuns, musiek en letterkunde, die diere- en planteryk, die wetenskap en die digter met sy woorde as instrumente in ’n skrywershand. Vir hierdie beskouing gaan ek my beperk tot Cloete se twee groot gesegmenteerde oë en één van die drie kleineres wat Europa verken.   

1.   Karnaval in Brabant

Vanaf die geografiese hoek waaruit hierdie essay aangepak is, was dit nie vanselfsprekend dat Cloete getipeer sou word met so ’n ongekunstelde insek soos die bidsprinkaan nie. Logieser sou wees as ek begin het met karnaval wat elke jaar hier in die Katolieke suide gevier word.

“Beneden de rivieren” is dit algemene kennis dat karnaval verband hou met die kerklike kalender (Paastyd) en dat karna- in karnaval na vleis verwys. Drie-en-veertig dae voor Paasnaweek bars in die suide van Nederland en die noorde van België ’n fees van vergrype los. Stede se name verander. Die Raad van Elf neem die stadsraad se funksies oor en die burgemeester word vervang deur Prins Karnaval. In die drie dae van Sondag tot Dinsdagaand om middernag wat karnaval duur, verklee oud en jonk hulle in fantasiekostuums vir die optog (leeus, Klaasvakies, lady Gagas – als is moontlik). Dan word daar soveel as moontlik geëet en gedrink, selfs gespuit en gesnuif, en is intensiewe seks van allerhande soorte “verpligtend”. Met Aswoensdag kry gelowiges ’n askruisie op die voorkop en breek die veertig dae van reiniging, onthouding, soberheid en vergeesteliking sonder vleis en seks tot Paasnaweek toe aan. Hoe wilder die karnaval was, hoe grote is die behoefte aan reiniging. Dit is wat karnaval ook min of meer in Brueghel se tyd beteken het en wat op sy skildery uitgebeeld word.

 

 

Brueghel se skildery Gevecht tussen Carnaval en Vasten (1569)
De tuin der Lusten (1503–1504) van Jheronimus Bosch

1.1 Twee skilderye – Twee gedigte

Brueghel se skildery Gevecht tussen Carnaval en Vasten (1569) staan tematies sentraal in Cloete se digbundel. Hierdie spesifieke skildery word as ’n vervolg gesien op die laat-Gotiese skildery De tuin der Lusten (1503–1504) van Jheronimus Bosch uit die buurstad ’s Hertogenbosch, tydens karnavaltyd bekend as Oeteldonk. Deur die titel Karnaval en Lent (Lent: Engels vir ‘om te vas’) plaas Cloete sy Afrikaanse digbundel midde-in die beskawing van die laat-middeleeue toe Brussel welvarender as vandag was en as die ekonomiese sentrum van die destydse Europa gedien het.

1.2 Tuin

Dit is egter nie die eerste keer dat Cloete hierdie ou wêreld betrek nie. Reeds in sy debuutbundel, Angelliera (1980), gebruik hy in deel drie van sy reeksie Tuin (p. 9-11) die woorde Harba lori fa en verbind dit aan Ps. 128 met as opskrifte “seën in die huisgesin” (1953-Bybelvertaling) en “die vrug van jou arbeid sal jy geniet” (1983-Bybelvertaling).

In ons tuin staan vyf
jong bome jong olyf

in beddings blomme In ons huis altyd
gereed staan ’n stuifmeelmaaltyd

Daaromheen sit ek en my Kanna en kroos
vrolik ingebed

gewil deur die Here
Voëls sing sy Naam ter ere

Die woorde Harba lori fa kom voor in die minnelied Eens meienmorgens vroeg van Hertog Jan I van Brabant (1235-1294). Hy word as een van die eerste digters van die Dietse volkstaal beskou, maar hy was ook ’n egte Brabantse lewensgenieter wat gehou het van lekker eet en baie biertjies drink. Daar kom vandag se Hertog Jan-biermerk vandaan. Hertog Jan se grondgebied het gestrek vanaf die Nederlandse provinsie Noord-Brabant tot ten suide van Brussel in België, aangrensend aan Wallonië of Franstalige België. Die presiese betekenis van die middeleeus-Nederlandse woorde Harba lori fa is nie bekend nie, maar afgelei uit Frans beteken dit iets soos “die gras skiet vol blomme”. Dit het ’n sterk seksuele lading. Is dit toevallig dat Harba lori fa onderdeel uitmaak van Cloete se Tuin? Waarom roep ook deel twee, Stillewe, beelde op van sinnelike belustigheid soos in die skildery De tuin der Lusten?

Maak julle nou gereed
neem te keur en te kus
van die stil stillewe en eet eet
wat julle hartelus lus

So christelik, onskuldig en mooi as wat Cloete hierdie woorde aangebied het, was hulle waarskynlik nooit bedoel nie. Maar dit was sy een groot gesegmenteerde oog gerig op die lyflike en sy kleiner ogie gerig op die ou Europese kultuur wat in 1980 al aktief was. Om dit in te bed in Ps. 128 kon toe nog as omgewingsdruk of as die eis in die spesifieke tydsgewrig van die Afrikanerkultuur gesien word.

1.3  Brueghel bestry Descartes en Kant

Vier-en-dertig jaar later rig Cloete egter nog steeds sy een groot gesegmenteerde oog op alles lieflik en walglik lyflik en ’n kleiner ogie op die ou Europese kultuur in die tematiese gedig Brueghel bestry Descartes en Kant (p.23).

God kon ons nie sonder vleis klaarmaak nie
op die tafel van Rembrandt se stramien lê ons
binneste na buite omgedop

Tog het iets verander. Die digter kyk wyer as die kleiner kring van sy gesinslewe, sy kennis en insig het ensiklopedies gegroei en sy mooi, byna onskuldige blik het ’n vlymskerp maatskaplike ontleedmes geword. Binne die eerste agt reëls van Brueghel bestry Descartes en Kant wat na die skildery Gevecht tussen Carnaval en Vasten verwys, betrek Cloete ’n ander skildery, naamlik De anatomische les (1631) van Rembrandt met daarin dr. Nicolaas Tulp. Hy verhef Pieter Brueghel tot ‘wysgeer van die kwas’ en tree in gesprek met twee ander filosowe: die Duitse Kant en die Franse Descartes.

René Descartes se bekende Latynse stelling op p. 23 “cogito ergo sum” (ek dink, dus ek is) eien Cloete gewysigd vir die bundel toe met:

ek éét
dáárom is ek

En dan trek hy los met frases wat dui op ’n sterk afkeur en selfs weersin in die oorvloed van de lewe se karnavalkant, wat vir die hele bundel geld: ‘ons vulgêre krop’, ‘hy skilder sy walg’, ‘van ons gulsigheid en vraatsug’, Van Gogh se uitgehongerde gulsige / aartappeleters’, ‘dit laat mense swig onder die gewig van hulle vet’. In kontras met die ‘vel om vleeslose skelette van eenvoudige / opregte armes’ betrek Cloete die verdorwe Franse Marie- Antoinette se uitspraak op p.24,

Qu’ils mangent de la broiche
laat hulle wat nie kos het nie dan maar koek eet

wat op dieselfde bladsy toegeskryf word aan ’n uitspraak van die Chinese keiser Hui uit die Jin Dinastie (265-420):

his subjects didn’t have enough rice to eat
why don’t the eat meat?

Die gedig eindig in ’n selfie met ’n konkretisering van die digter se ‘ontstoke’ denke as ’n ‘langsoorlewende / kokkerot wat sedert genesis skarrel vir kos’ (p.25). In die Lae Lande is ’n kokkerot of kakkerlak seker die walglikste onder alle walglike insekte. Mense skrik hulle boeglam vir enetjie. Dit het my die ruimte gegee om Cloete te vergelyk met ’n hottentotsgot. Twee maal in hierdie gedig word verwys na die stryd of ‘Geveg tussen Karnaval en Lent’ as die twee belangrikste komponente van die bundel. Brueghel bestry Descartes en Kant begin met God in die eerste reël en eindig op ‘genesis’ in die slotreël, terwyl die woord ‘genesis’ weer ‘om te begin’ beteken. Siklies. God is dus die Alfa en die Omega in Cloete se hottentotgotblik.

2.   Lent en ’n Godsbesef

Die verskillende soorte name waarmee Cloete sy God in hierdie bundel benoem, bevestig die gesegmenteerdheid van sy groot hotnotgotsoog. Meer as drie-en-dertig keer verwys hy na God as God, maar dan kom die verrassende afwykings:

die Heilige (p.17 e.a.), ook veilige Heilige (p.40);
die een daar-Buite (p.38,40) of van Buite (p.39);
die Aanwesige en die Afwesige (p.36. 139);
name beginnende met Alleen- soos Alleenwese, Beskermende Alleenwyse (p.46.47), alleenbewoner en alleenbesitter (p.115);
name wat begin met die voorvoegsel On- dikwels in kontras soos in die sigbare Ondeursigbare (p.58) of die benoembare Onbenoembare (p.160), maar ook die Ontoeganklike (p.53), die Onbemande Krag (p.64) en die Ontelbare Een (p.81);
die Andere of Gans Andere (p.73-75) en
die titel die Verlore Herder (p.69).

Nêrens is God die Digter te bespeur nie. Hy beperk God nie meer tot sy eie artistieke nis nie. En ten spyte daarvan dat Cloete baie aards ook na God verwys met ’n Naam Trapsuutjies (p.62), begin die leser die wydsheid van sy kosmiese Godsbesef vermoed. Cloete bevestig dit op p. 116 met:

Hy was die enigste kosmiese argitek.

Hierdie ‘kosmiese argitek’ wéét in Cloete se gedigte ten diepste van minderheids- en verdrukte groepe soos die Khoesaan en Khoekhaan, die mislukte Neanderthalers, die jode, ’n Sanjagter, Down-sindroomlyers, allogtone (verafrikaansing van allochtonen), plakkers, setlaars, bywoners, oudstes, die koerantjoggie, bedelaars en verminktes. Dit is die edele lydendes aan die sobere Lent-kant wat die ewige lewe moet erf. Cloete skryf homself in (as verteenwoordiger van die minderheidsgroep digter? Of Afrikaner? Of albei?) by hierdie groep in sy gedig Sarkofaag (p.126). Daarin keer hy in sy gedagtes terug na sy geliefde Vredefort-koepel. Hy sien homself weer op ’n lusernbaal in die skuur lê, sonder dat hy tóé as seuntjie geweet het van iets soos ’n doodskis van klip of graniet wat bo-op die grond staan soos in die ou wêrelde wat hy later leer ken het.

tot in my hart deur my ondig
uitduiende en invouende ribbekas
steek die skerp spies van die sonlig
wat netjies deur ’n roesgatjie
in die sinkdak pas

Omgewingsdruk? God as ’n soet Lent-sousie oor ’n gedig (contradictio in ternimis om myself so duidelik moontlik uit te druk), omdat die bekrompe tydsgees destyds nie al die blatante liggaamlikheid of soveel Karnaval kon verduur nie? NEE. Die driehoek in die grootoogdriehoekgesighottentotsgot (p.120) is die digter met sy twee groot hotnotsgotoë wat wawyd oop kyk en ’n hand wat skryf: …lyf is God is lyf is God is lyf… terug tot by die Griekse vis Ichthus, vooruit tot in die suidelike hemisfeer Piscus Australis.

3.   Kultuur van die ou wêreld

Dit is meer die kultuuruitinge van die ou wêreld wat Cloete boei, as die konkrete Europese ruimte. Hoe die skraal, hoë bome hier hemel toe bid met hulle vlak wortels onseker in die vogtige aarde; judaspennings, paddastoele en flambojante rododendrons in tuine en bosse; grys dae, dae aaneen – dáároor kan Cloete nie skryf nie. Sy tweede klein ogie wat die natuur, plant- en diereryk bekyk, funksioneer hoofsaaklik in Suid-Afrika. Maar die musiek van Mozart en Beethoven; die kuns van Breughel, Rembrandt, Van Gogh, Michelangelo en Vermeer; Vondel as die belangrikste Nederlandse digter van die sewentiede eeu, die filosowe Sofokles, Descartes en Kant; Minerva, die Romeinse godin van Wysheid en Demeter, die Griekse godin van die Oes – húlle almal en dít alles trek Cloete by sy oeuvre in met sy eerste klein ogie. Hy verruim daarmee die Afrikaanse poësie- en leeswêreld.

4.   Verligting

Die ensiklopediese kennis waarmee Cloete skryf in Karnaval en Lent, kan egter ’n struikelblok wees by die waardering van die digbundel. Nie almal swymel nie. Wat presies is hinderlik vir sommige lesers? Om ’n antwoord daarop te probeer gee, moes ek ver gaan soek.

Die Verligting in Nederland (ook genoem die Eeu van die Rede in Frankryk) was ’n kultuur-filosofiese en intellektuele stroming van die agttiende eeu. In die agttiende eeu het daar vir die eerste keer werklik ’n nasionale kulturele gemeenskap onder invloed van die verligtingsdenke in Nederland ontstaan. Hierdie kulturele gemeenskap het in tydskrifte en in tallose nuwe genootskappe gemanifesteer. Hulle het mekaar se geselskap op georganiseerde byeenkomste opgesoek. Die deelnemers was veral wetenskaplikes, digters en skrywers, toneelspelers, musici en beeldende kunstenaars. Dié verligte kultuurdraers het ’n koherente visie op die mees wesenlike inrigting van die samelewing ontwikkel. Hulle het opgetree as die argitekte van die 'modern moreel burgerschap van typisch Nederlandse snit'. En hierdie 'moreel burgerlijk universum' was in die verligte begrippe deugsaamheid, menslike vervolmaakbaarheid en geselligheid gewortel. Elke lid van die Nederlandse bevolking moes deur middel van onderwys, armsorg en gesondheidsorg die moontlikheid tot volwaardige deelname aan die samelewing gebied word. Dit het ’n maakbare wêreld geword. In die bloudruk van die Verligting het God heeltemal ontbreek.

Die verligtingsdenke is vandag nog verbasend stewig gewortel in die suid-Nederlandse samelewing. Miskien hou dit ook verband met die groot getalle Katolieke wat die kerk verlaat het, al vier hulle nog karnaval sonder die veertig dae Vasten-kant. Niemand rek hier sy oë vir ’n belydende ateïs nie en die woord agnostikus roep subtiele waardering op.

Die intellektuele van destyds het die rede as ’n plaasvervanger vir godsdiens beskou. Kennis was die bevrydende antwoord op bygeloof. Intoleransie en die misbruik van die burger se regte in kerk en staat moes deur feite en insig ontmasker en teëgewerk word. Wie homself volwaardig intellektueel genoem het, kon nie in dieselfde sin gelowige sê nie. Maar iets moes hierdie menslike wetenskaplikes se inherente behoefte aan geloof vervang. Dit was KENNIS. Báie kennis. ’n Stroom van kennis. Ensiklopediese kennis. Vandag, driehonderd jaar later, word Nederland en Wes-Europa geroem om sy kennisekonomie. Hier is kennis goed. Geloof gevaarlik. Dink maar aan die Moslem-ekstremiste. Is dit nie in Suid-Afrika dikwels die omgekeerde nie? Kennis is gevaarlik. Geloof is goed. Die nuwe pinkstergroepe is ’n karnavaleske verskynsel; ’n travestie van die asketiese kant van geloof. Die sober Lent- of Vastenkant van die lewe is so skaars soos hoendertande. En ’n digter soos Cloete as intellektuele gelowige met ’n ensiklopediese kennis? Ronduit GEVAARLIK!

5.   Lyflike geloofsbelydenis

Vir die dowe en blinde Hellen Keller het Cloete die grootoogdriehoekgesighottentotsgot ’n spesiale sagte plekkie. Hy haal haar aan by sy gedig hierdie sigbare gedig (p.146)

But if I write what my soul thinks,
then it will be visible,
and the words will be its body.

Die laaste reël is terselfdertyd ook die titel van afdeling agt: The words will be its body. Keller se siel dink. As sy nie die gedagtes van haar siel kon neerskryf nie, sou dit onsigbaar bly. En omdat sy prakties gesproke sonder oë en ore deur die lewe moes gaan, was sy in wese liggaamloos. Haar liggaam kon slegs vir haarself vorm aanneem deur middel van woorde. Sy soek haar lyf. Dis weg.

Cloete soek nie sy lyf nie. Hy is hiperbewus van sy liggaam, want sy hele lewe lank is hy gekonfronteer met daardie lyf se pynlike tekortkominge. Terselfdertyd is hy die priemende kyker en die gulsige eter wat die lewe met groot teue geniet. Met al sy sintuie skryf hy van:

… die bloed van my are wat vinnige riviere
loop deur my ganse lyf tot in my oorlelle

en

… my worsige ingewande
se wurmkrulle
waar die maaltye van vandag wat kom uit die aarde
nog verwerk word en magies omgetoor word
tot harsings

Keller se soektog na haar liggaam deur haar siel moes vir Cloete in sy soektog na sy siel déúr sy liggaam soos ’n magneet aangetrek het. Hulle vorm twee sterk digterlike teenpole: metafisies – fisies versus fisies – metafisies. Sý het vir hom die leidraad gegee vir miskien die lyflikste geloofbelydenis wat tot dusver in Afrikaans geskryf is.

As ek opkyk van my rekenaarskerm sit daar skielik ’n bidsprinkaan teen die kant van die dakraam. Ek staar na hom. Hy draai sy hartvormige kop stadig in 360 grade. Dit lyk asof hy na my kant toe knik. Ek sal hom maar liewers nie doodmaak nie.

 

 

Gepubliseer: November 2014

 

© Catharina Loader 2001