Letterkunde

Intertekstualiteit: van skipbou na Monroe na Warhol

Sy verwerf in 2004 haar meestersgraad in Kinder- en jeugliteratuur in ’n vergelykende studie tussen Afrikaanse en Nederlandstalige poësie vir adolessente aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelik Hoër Onderwys (PU vir CHO) in Suid-Afrika en die Universiteit van Tilburg (UvT) in Nederland. Sedert Januarie 2007 is sy woonagtig in Tilburg vanweë haar huwelik met Geno Spoormans, ook verbonde aan die Universiteit van Tilburg.

Abstract

Intertextuality – from ship building to Monroe to Warhol

Intertextuality was first described by philosopher and literary critic, Julia Kristeva in 1966. Since then you can find intertextuality not only in literary texts, but also in other genres and media like paintings and photography. Ekphrasis and intermediality are two forms of intertextuality, the first as old as Classical times, the second a new phenomenon of Postmodernism, expanding boundaries from traditional media like paintings, photo’s and films to contemporary media like television, video and the internet. In this article three groups of literary texts in Afrikaans, linked to each other by intertextuality, are described. The first group of three poems is connected by the same metaphor, the idea of building a ship in a bottle. The second group of five poems is connected by responses of different Afrikaans poets to the same subject, sex symbol Marilyn Monroe. And the third group of two poems is connected by the contrasting respons of one poet to the art of artist Andy Warhol. With Monroe and Warhol as subjects of poems, different examples of ekphrasis and intermediality are richly demonstrated in the Afrikaans literary world of South-Africa.

1. Inleiding: Intertekstualiteit

2. Skipbou – die D.J. Opperman-trilogie

3. Monroe – vier Afrikaanse digters in reaksie op die sekssimbool

4. Warhol – bewondering en verwerping

5. Samevatting

Bibliografie

 

1. Inleiding: Intertekstualiteit

Intertekstualiteit het in 1966 sy beslag gekry deur die filosoof en literêre kritikus, Julia Kristeva. Sedertdien het intertekstualiteit nie alleen maar herkenbare vorms aangeneem in die letterkunde nie, maar ook in ander genres en media soos in die skilder- en fotokuns. Ekphrasis is ’n baie ou vorm van intertekstualiteit vanuit die Klassieke Oudheid wat ontstaan het toe visuele kunsvorme, soos skilderye en (in die geval van die artikel) foto’s, in woorde deur digters “vertaal” is (Heffernan, 1993:2). Intertekstualiteit tree verder met rasse skrede toe tot grensoorskrydings tussen verskillende tradisionele media (skilderye, foto’s en films) en kontemporêre media (televisie, video en internet) en gee volgens Heinrichs & Spielmann (2002:1) aanleiding tot die fenomeen intermedialiteit. Teenoor ekphrasis is intermedialiteit dus ’n moderne fenomeen van intertekstualiteit. Om nuwe intertekstuele verbande op ’n oorspronklike (en verkieslik winsgewende) wyse te maak, word vandag beskou dié manier van kuns-en kultuuruiting.

Intertekstualiteit is in die eerste plek egter ’n literêre verskynsel waarin nuwe tekste wat ontstaan, verwys na reeds bestaande tekste. Die artikel konsentreer daarop. Nuwer tekste of eindtekste en ouer tekste of grondtekste vorm volgens Claus (1988:53) intertekste van mekaar. Tekste kan doelbewus in reaksie op reeds bestaande tekste geskryf word, hetsy deur ’n oorname van dieselfde metafoor of deur ’n oorname van dieselfde onderwerp.

Daarmee bring die skrywer minstens een van twee dinge teweeg: óf hy bevestig en beklemtoon dus die standpunt van die grondteks óf hy ondergrawe en verwerp dus die standpunt van die grondteks in ’n poging om sy eie stem as skrywer te laat hoor (Claus, 1988:58). Die eindteks staan dus in ’n sekere verhouding tot die grondteks. Die eindteks kan ook kommentaar lewer op die inhoud van die grondteks en opnuut aanleiding gee tot die ontstaan van verdere tekste. Vir die ervare leser kan die erkenning van ’n reeds bestaande teks in ’n eindteks lei tot vinniger verwerwing en intiemer belewing van hierdie nuwe teks. ’n Alternatiewe reaksie by die leser is ook moontlik deurdat die eindteks as ’n vorm van plagiaat beskou kan word, omdat digters woorde en frases en idees by mekaar “leen” of “steel” (Foster & Viljoen, 1997:xxviii). Met intertekstualiteit kan plagiaat maklik op die speerpunt gedryf word. Die grens tussen wat as plagiaat beskou moet word en wat as oorspronklik beskou moet word, vervaag aansienlik. Wanneer ’n mens intertekstualiteit probeer verduidelik aan die hand van voorbeelde uit die Afrikaanse poësie, word dit glashelder. In D.J. Opperman se gedig Digter uit Negester oor Ninevé (1949) verwys hy in die twee slotreëls na sy eie digterskap as ’n:

reis met die klein skipgeslote agter glas.” (r.15-16)

Om te reis was vir Opperman ’n belangrike vereiste vir digterskap. In die gedig is die reis ’n gedwonge reis as Boere krygsgevangene tydens die Anglo-Boere-oorlog (1899-1902). Die bestemming was Ceylon, vandag Sri Lanka, ten suide van Indië. Krygsgevangenes het hulle tyd deurgebring met allerlei handwerk soos houtsneewerk van klein artikels of die bou van skippies binne-in bottels. Hierdie aktiwiteite was uiters tydrowend, maar het gehelp om die tyd op Ceylon te verkort en heimwee na die vaderland te verlig. Dit word verwoord met

’n verlore vaderland” (r.6) en… met horisonne en verlange,” (r.8).

Opperman gebruik die aktiwiteit, die bou van skippies in bottels, en verwoord ’n verbeelde ontvlugting uit ballingskap op Ceylon. Parallel daarmee kan digterskap beskou word as ’n soort ontvlugtingsreis uit die werklikheid. Die skippie in die bottel word met ander woorde metafoor vir digterskap. Die spanning in die metafoor lê ook daarin opgesluit dat die letterlike reis beperk bly en dat dit maar ’n verbeeldingsreis (na en terug van Ceylon) bly:

“geslote agter glas.” (r.16)

Dieselfde metafoor vir digterskap as ’n delikate skippie agter glas word later deur ander digters oorgeneem en hergebruik - dus: intertekstualiteit. Só gebruik Opperman se dogter, Trienke Laurie, in die gedig Ingeperk (Skietspoel, 1997) hierdie metafoor om haar frustrasies as ontluikende digter in die skadu van haar pa, ikoon in die Afrikaanse digterswêreld, uit te druk. Sy begin die gedig met:

“Ek loods deur bottelneknie luuksues ’n lynboot” (r.1-2)

en:

“maar eenvoudig en onperfek” (r.3)

en:

“… ’n galjoen.” (r.6)

Deur ’n lynboot (’n moderne boot wat gereeld op vaste roetes vaar) en ’n galjoen (’n ouderwetse seilskip) teenoor mekaar af te speel, verwys dit eintlik na haar vader se vaartbelynde en meesterlike digterskap teenoor haar eie, sukkelende pogings om ook gedigte te skryf. Haar stryd word in die tweede strofe se openings- en slotreëls verder bevestig met woorde soos:

“Moeisaam woord vir woord…(r.7)bly ek die patryspoort soek.” (r.12)

Daarmee bevestig sy haar vader se digterskap.

Dit is egter nie net Laurie wat intertekstueel reageer op Opperman se metafoor van digterskap as ’n reis met ’n skip agter glas nie. Sy oudstudent, Daniel Hugo, skryf die gedig Ontnugterde digter (Dooiemansdeur, 1991) na Opperman se dood en dra dit aan hom op. Met dié gedig lewer Hugo op twee dinge kommentaar: sy mentor se lewenshouding om te reis as vereiste vir digterskap en sy verwoestende lewenswyse as alkoholis. Eersgenoemde lewenshouding word verwoord in:

“jy moet al die oseane bevaaras jy gesout en wêreldwys wil dig” (r.2-3)

Die woorde kan agterna beskou, nie anders as om ook figuurlik geïnterpreteer te word nie – die digter moet alles ervaar… Hugo sluit sy gedig af met die volgende woorde, verwysende na Opperman:

“hy wens hy kon die reis van voor begindan sou hy beslis uit die pekel blydeur ’n skip in die bottel te versin”. (r.10-12)

Die Afrikaanse uitdrukking – “uit die pekel bly” – beteken uit die moeilikheid bly. Met ander woorde, vryelik vertaal skryf Hugo eintlik: Opperman se wens is om sy lewensreis van voor af te begin en hy sou dan uit die moeilikheid bly ( miskien sy alkoholisme?) deur alleen maar ’n skippie in ’n bottel te versin.

Marilyn Monroe foto in blou deur T.T. Cloete uit Angelliera (1980)Marilyn Monroe: foto in rou deur Joan Hambidge uit Hartskrif (1985)mooi marilyn monroe foto in rooi deur T.T. Cloete uit Idiolek (1986)marilyn monroe foto in grou deur Tom Gouws uit Troglodiet (1995)Marilyn Monroe: foto in goud deur Lina Spies uit Die skaduwee van die son (1998)

’n Tweede voorbeeld van intertekstuele reaksies van digters op mekaar spreek duidelik uit die groot hoeveelheid gedigte in Afrikaans oor Marilyn Monroe. Nou deel die gedigte nie dieselfde beeld of metafoor - soos in die DJO-intertekste - nie, maar is intertekstualiteit geskoei op ’n gedeelde onderwerp.

Bogenoemde vyf gedigte het nié - anders as wat mens sou dink - dieselfde foto van Monroe as ontstaansimpuls nie. Elke gedig verwys na ’n ander foto van hierdie ikoon en sekssimbool. Albei Cloete se gedigte is byvoorbeeld geskryf na aanleiding van verskillende foto’s uit ’n boek van Norman Mailer, Marilyn.

Marilyn Monroe: foto in blou, was ’n uiters pornografiese gedig in ’n tyd toe streng sensuur eintlik nog gegeld het. Onder Cloete se vaardige pen is Monroe volledig ontklee en beklemtoon

“die spanbroek van plooilose blou materiaal” (r.5)

dat alles eintlik vertel word en dat niks aan die verbeelding oorgelaat word nie. Cloete skroom nie om Monroe se erotiese uitstraling in Afrikaans te verwoord nie deur te konsentreer op haar laggende mond in die

“volsterkte stilte” (r.21)

en dit te verbind met

“praat die deurgefluisterde skootoop en blootnakont vlesig groot” (r.22-24).

Dit was die vonk wat ander digters na hulle penne laat gryp het. Aanvanklik het Hambidge ’n artikel geskryf oor die gedig en die foto waarna Cloete verwys, waarin sy ’n ander perspektief as dié van Cloete se sinlike bewondering handhaaf, naamlik dat Monroe eintlik deur die gemeenskap uitgebuit en afgetakel is. Haar sentiment spreek duidelik uit haar eie intertekstuele reaksie, Marilyn Monroe: foto in rou. Daarin kies sy ’n foto van Bert Stern as ontstaansimpuls en waarsku die leser:

“jou hand voor jou mondasof jy stil waarsku: ek word nie meer gebruik” (r.24-25)

Die volgende vraag laat die leser verder dink:

“of was jy reeds tot-die-einde-toe-//moeg?” (r.34-35, strofes 11-12).

Cloete reageer vervolgens op Hambidge se gedig. Hierdie keer maak sy uiters sensuele eerste gedig plek vir ’n religieuse perspektief op Monroe, waarin hy haar verheerlik as ’n soort heilige met die gedig mooi marilyn monroe foto in rooi. Net soos in sy eerste gedig, kokketteer Cloete met sy belesenheid. Dié keer verwys hy nie na Pierre Kemp nie, maar na Dante met ’n uittreksel uit Vita nuova – in Afrikaanse vertaal met: Die nuwe lewe. Die Italiaanse aanhaling verwys na iemand wat naak slaap in ’n ligte/dun kleed van bloed. Haar vel weerkaats selfs

“van rosig tot sagblosend tot teer gesproet” (r.6-7)

die fluweelrooi kleed, soos wat sy diagonaal daaroor gedrapeer lê. Dit gee by die leser aanleiding tot ’n religieuse belewing, naamlik dat sonde/skuld afgewas word deur bloed en dat die mens daarna sonder sonde of heilig kan voortlewe.

Uit hierdie gedigte van Cloete en Hambidge vloei die ander twee gedigte van Spies en Gouws as intertekstuele reaksies voort.

Gouws verwys in sy gedig na die nadoodse ondersoek op Monroe, waarin sy gestroop op die ondersoekstafel in die lykshuis lê

“en wag op die patoloog se flitsende lem” (r.2).

Sy is nou onherkenbaar vir haar vele bewonderaars en minnaars, en tog

“sonder die masker van maskara het sy ongekleemet net ’n ligte jassie van parfuum haarself onbedek //aan almal wat so begerig wou sien, volkome oorgegee” (r.15-17, strofes 4-5).

Wat van Monroe oorbly, is gestroop van alle kunsmatigheid en tierlantyntjies en verwoord Gouws as

“just marilyn” (r.20).

En alhoewel sy letterlik binne bereik van elke man se fantasieë op die dissekteertafel (hoe absurd hierdie fantasieë ookal binne die gegewe konteks funksioneer!) lê, is sy nou in die slotreël

“tog so los van kyk en ruik en van gebruik.”

Spies konstateer ondubbelsinnig, maar eers aan die begin van die vierde strofe:

“Oor jou, Marilyn, het ek nooit geswymel;” (r.24).

In die eerste drie strofes verbind Spies Monroe met pragtige seebeelde, met die Venus van Botticelli en met die onskuld van ’n kind. Daarmee sluit sy aan by Cloete se verwondering en verheerliking. Sy verwoord dit eksplisiet in die slotreël deur te verwys na die effek van Monroe se aanvanklike skoonheid op mans

“…voor die blond gebleikte prikkelpop” (r.32)

en alles wat sy toe was, was sy

“ … ’n goue meisie rossig in die son.” (r.34)

Deur Cloete se woordgebruik

“rosig” (r.6)

in sy tweede gedig te verbuig tot

“rossig” (r.34)

weerspieël Spies se gedig opnuut ’n mate van sensualiteit.

Spies sluit daarteenoor briljant intertekstueel aan by Gouws se verwerping van Monroe in al haar naakte self deur slegs twee Engelse woorde in kursief:

“beauty spot,” (r.33).

Daarmee verwoord Spies ’n sekere dualiteit in haar eie gedig en verteenwoordig sy eintlik albei die manlike digters se perspektiewe – verwondering en verwerping. Sy staan egter glad nie simpatiek teenoor Monroe soos Hambidge nie.

Elkeen van die vier digters kies nie alleen maar opnuut ’n ander foto van Monroe waarop hulle reageer nie, maar kies ook vir ’n nuwe (of dan gedeeltelik nuwe) perspektief op Monroe. En al vyf hierdie tipe gedigte verwoord ekphrasis, ’n subtiele klemverskuiwing binne intertekstualiteit.

Die byna ooreenstemmende titels van die gedigte of dieselfde formuleringswyse in die onderskeie titels – met telkens net ’n afwyking in die foto se kleur, herinner vervolgens aan verskillende kleurafdrukke wat Andy Warhol in die sestigerjare van ’n enkele foto van Marilyn Monroe se gesig gemaak het (google: marilyn monroe andy warhol). En presies op hiérdie punt word die leser met nog ’n verdere subtiele klemverskuiwing in intertekstualiteit gekonfronteer. Nou is die gedigte nie net in reaksie op mekaar geskryf nie, maar roep al die gedigte gesamentlik dieselfde visuele kunswerk van Warhol in die gedagtewêreld op. In die geheel gesien, is intertekstualiteit in sy breedste vorm voltrek. Dit het verloop in ’n ontstaansprosedure vanaf die film met Monroe as ster en sekssimbool, na Warhol se weergawe van haar gesig as kuns, na die letterkunde deur hierdie verskillende gedigte in Afrikaans met haar as onderwerp. Die uitdrukking van Monroe in die filmwêreld, as kunsobjek én as onderwerp in verskeie gedigte verteenwoordig intermedialiteit as vorm van intertekstualiteit en betrek die breër kultuur as oneindige teks.

Om dit nog interessanter te maak, skryf Joan Hambidge ’n soort lofsang op Warhol se kuns in haar gedig Andy Warhol (Hartskrif, 1985)

"omdat jy ‘bewys’ het dat die gevormdewel ont-vorm ver-vorm verfomfaaikan word tot iets nuuts & anders” (r.2-4).

Die woord “verfomfaai” (r.3) weerspieël die betekenisse verfrommel en verkreukel en het alreeds, ten spyte van bewondering, ’n negatiewe lading. In die gedig verwys Hambidge onder andere ook na Marilyn Monroe:

“die tydelike word tydlooshier: MM se gesig vyf maal vyf keerop die doek (’n voorspel tot die ewige duplisering?)” (r.6-8)

Haar oënskynlike bewondering vir Warhol se kuns blyk uit die verwysing na een van sy bekendste kunswerke:

“tog: die mooiste van jou werkdie 100 ingekleurde Cambell’s tamatie-sopblikke” (r.14-15) (google: andy warhol campbell soup).

Daar is ook ’n ligte afwyking in haar bewonderende blik deur die blikkerigheid van die Cambellblikke te beklemtoon:

“vir jou dan ’n vers: Rembrandt-in-blik” (r.19).

Vyf jaar later “korrigeer” Hambidge op intertekstuele wyse haar bewondering vir Warhol en skryf ’n opvolggedig: Andy Warhol op uitstalling (Tachycardia, 1990). In die eerste strofe verwys sy na Warhol se bekende selfportret (google: andy warhol selfportrait)

“Met sy vinger op sy lip in ’n selfportretword die kunstenaar as ’n niemandmet ’n handtekening wat eggo, uitgestal.” (r.1-3).

Duplisering word in hierdie gedig in reël ses nie beskou as deel van toekomsmusiek vir kuns nie, maar uitgedruk as ’n vorm van selfgelding en ’n najaag van roem.

Hambidge sluit die gedig af met:

“Maar die morsigemaak ook van dié reprodusent se lewe ’n sopkombuisdodelik ’n niks.” (r.13-15)

Die uiters boeiende verhouding waarin groepe tekste deur middel van intertekstualiteit met mekaar in verband gebring word, verdien met reg verdere ondersoek deur die geïnspireerde student. Alhoewel ander tekste ook by die afsterwe van D.J. Opperman gepubliseer is, betrek die tekste nie die metafoor van skipbou nie en word daar tans in die Afrikaanse poësie met hierdie trilogie volstaan. Wat beide die Monroe- en Warhol-tekste betref, word die fenomene ekphrasis en intermedialiteit as vorme van intertekstualiteit goed ontgin. Wat al die tekste presies met mekaar doen, bly ’n interessante vraag. Alle tekste roep trouens vandag om ’n voortsetting daarvan binne die nuwe media soos onder andere die internet, hetsy om kritiek en afkeuring, hetsy om bewondering en bevestiging.

 

Bibliografie

Claus, P. 1988. Echo’s echo’s. Amsterdam: Uitgeverij De Bezige Bij.
Cloete, T.T. 1980. Angelliera. Kaapstad: Tafelberg.
Cloete, T.T. 1986. Idiolek. Kaapstad: Tafelberg.
Foster, R. & Viljoen, L. 1997. Poskaarte: beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960. Kaapstad : Tafelberg en Human & Rousseau.
Gouws, T. 1995. Troglodiet. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hambidge, J. 1985 Hartskrif. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hambidge, J. 1990. Tachycardia. Kenwyn: Jutalit.
Heffernan, J.A.W. 1993. Museum of Words: The Poetics of Ekphrasis from homer to Ashber. Chicago : University of Chicago Press.
Heinrichs, J. & Spielmann, Y. 2007. Convergence: The International Journal of Research into New media Technologies. [Web:] http.//convergence.beds.ac.uk/issues/volumeeight/numberfour/editorial [Datum van gebruik: 6 Sept. 2007]
Hugo, D. 1991. Dooiemansdeur. Kaapstad: Tafelberg.
Laurie, T. 1997. Skietspoel. Kaapstad: Tafelberg.
Mailer, N. 1973. Marilyn, a Biography … Pictures by the World’s Foremost Photographers. New York: Grosset & Dunlap.
Opperman, D.J. 1949. Negester oor Ninevé.
Spies, L. 1998. Die skaduwee van die son. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Carina van der Walt
e-pos: carina.vanderwalt@gmail.com

Ekstra nota:

  • Prof. Joan Hambidge het my artikel oor ekphrasis (Van skipbou na Monroe na Warhol) op Afrikaans in Europa opgespoor en op Versindaba 2009 pragtig daarop uitgebrei.
  • Op SêNet het ek 'n paar weke terug geraegeer op die vertalingsproblematiek tussen Afr en Ndl, soos wat Riet de Jong-Goosens (Ndl. vertaalster van Marlene van Niekerk se werk) vanuit Afr na Ndl beleef, maar dan andersom: van Afr na Ndl. Die "artikel" se naam is: 'n Ligte staat van verwarring.

 

Afskrifte van die gedigte wat in die artikel vermeld is, kan verkry word van die skryfster self of van die webmeester.

 

Gepubliseer in Afrikaans in Europa, November 2007

 

© Catharina Loader 2001