Musiek in konteks

Het klassieke musiek ´n toekoms in Suid-Afrika?

 

Prof Bertha Spies gee die volgende oorsig oor die onderwerp ...

 

Wanneer ’n mens in die openbare lewe omtrent nooit klassieke musiek hoor nie en in die koerante lees dat musiek as vak uit die skole geneem gaan word, kan jy met reg wonder oor die toekoms van klassieke musiek in Suid-Afrika. Die persepsie dat klassieke musiek besig is om te taan, kom ook buite Suid-Afrika voor. In die begin van sy boek, Why classical music still matters (2007), wys Lawrence Kramer van die Fordham Universiteit op die wêreldwye afname in populariteit en kulturele outoriteit van hierdie musiek. Die negatiewe siening van klassieke musiek kan waarskynlik toegeskryf word aan die persepsie dat dit eksklusief, elitisties en ontoeganklik is.

Doeners se suksesverhale

Onsekerheid oor die funksionering van die Provinsiale Kunsterade het baie musici na 1994 bekommerd gemaak oor die toekoms van klassieke musiek in Suid-Afrika. Die feit dat ’n mens nie meer op regeringsteun vir die kunste en meer spesifiek, klassieke musiek, kan staatmaak nie, beteken dat die bevordering van hierdie musiek oorgelaat word aan privaat inisiatief, hetsy van ’n  individu of van ’n groep. Deur die toewyding en harde werk van talle entoesiastiese mense huisves groot stede soos Kaapstad, Port Elizabeth, Durban, Bloemfontein en Johannesburg egter die simfonie-orkeste vir hulle betrokke provinsies, om nie eers die orkeste by skole en universiteite te noem nie. Verder dink mens ook aan die suksesverhale van ondernemings soos Cape Town Opera wat reeds in die twintigerjare van die vorige eeu ontstaan het, Opera Africa (sedert 1994) en Salon Musiek (in Pretoria, ook sedert 1994) wat ’n groot bydrae tot die voortbestaan van klassieke musiek lewer.

Die uitreik na gemeenskappe wat vroeër nie toegang tot musiekonderrig gehad het nie, bewys dat klassieke musiek wel toeganklik is en dat dit mense nie uitsluit nie. Die Mangaung String Programme (Bloemfontein) betrek byvoorbeeld meer as 500 kinders wat hoofsaaklik uit informele nedersettings en die platteland kom. Na ’n klein begin het die projek se orkes twintig jaar later tydens sy tweede besoek aan Europa oorwegend klassieke musiek gespeel (Desember 2010). Die twintig konserte was almal uitverkoop, drie ekstra konserte is aangebied, en op een van die vier verskynings op Europese televisiekanale het ’n kind uit ’n plakkerskamp soos volg getuig: “It’s very hard work, I love it, it's worth it. It makes people happy and we can work for a better life in our country.”

Die probleem is dat skole in histories swart woonbuurtes meestal nie musiekonderwysers het nie.

Hierdie kinders wil ook graag musiek leer, soos die Musikhane Gemeenskapsprojek wat deur die Departement Musiek en Konservatorium van die destydse PU vir CHO begin is, bewys het. Hierdie projek verskaf vanaf 1994 vir voor- en nagraadse studente die geleentheid om praktiese ondervinding ten opsigte van onderrig, administrasie en bestuur op te doen. Terselfdertyd lewer hulle ook ’n diens aan die samelewing sonder dat die regering ’n gemeenskapsjaar hoef voor te skryf.

Die Unisa Musiekstigting se Community Music Development Project wat in 1998 begin is, het 48 musiekonderwysers wat vir ongeveer 900 kinders en studente musieklesse (insluitend musiekteorie) gee. Dit sluit ook die onderrig en afrigting vir eksamens by vier tronke in.  Dink net wat dit vir klassieke musiek kan beteken indien elke musiekonderwyser in hierdie land bereid sou wees om gratis musieklesse te gee vir één kind wie se ouers dit nie kan bekostig nie.

Uitvoerings buite die konsertsaal

Dit lyk asof klassieke musiek se bekendheid by die breër samelewing besig is om die glasmuur tussen die verhoog en die gehoor af te takel. Die bekendste voorbeeld waar ligte klassieke musiek op internasionale vlak na die breë publiek geneem word, is seker André Rieu se reuse konserte, wat sedert verlede jaar ook in ons land aangebied word. Hy het op oorweldigende wyse aangetoon dat hierdie musiek ’n groot aanhang het – met multi-platinum status is al meer as 30 miljoen albums wêreldwyd verkoop, 300 000 DVDs in Suid-Afrika alleen. Wie sou ooit kon dink dat mense meer as ’n R1 000 sou betaal vir ’n sitplek in ’n konsert van hoofsaaklik ligte klassieke musiek, in Sun City?

Met hierdie projek het André Rieu deur middel van musiek ook ‘n reuse besigheid tot stand gebring, omdat hy vir talle mense werk skep. Dit sluit nie net die sangers en die spelers in sy Johann Strauss-orkes in nie maar ook klanktegnici, garderobe-personeel, kameramanne, kombuispersoneel, werktuigkundiges wat die sewe busse, veertien vragmotors en twee vliegtuie (in 2003) in stand hou, vlieëniers, bus- en vragmotorbestuurders, om nie eers te praat van die personeel wat vir die administrasie en bestuur van hierdie onderneming verantwoordelik is nie. Benewens die 250 uitvoerende kunstenaars was 250 ander personeellede by die organisering van die Schönbrunn-konsert (2006) betrokke en het 100 persone die verhoog wat met 80 vraghouers vervoer is, opgestel. André Rieu gebruik ook die musiek, uitvoerende kunstenaars en groepe van die betrokke lande waarin opgetree word. So het 500 applikante opgedaag toe hy in 2008 blaasinstrumentspelers vir sy Maastricht III-projek nodig gehad het! Al 500 is toe op een of ander manier in die konserte gebruik.

Te midde van die oorweldigende teenwoordigheid van populêre musiek in ons openbare ruimtes, bring radiostasies soos Classic FM (Gauteng) en Fine Music Radio (Kaapstad) klassieke musiek in die huise en motors van ’n groot groep luisteraars in. Behalwe dat hierdie stasies ook wêreldwyd deur middel van die internet gehoor kan word, kan Classic FM ook as ’n DSTv-kanaal buite sy geografiese teikenarea gehoor word. Verder speel vier oudio-kanale van DSTv ononderbroke  onderskeidelik ligte klassieke musiek, opera-arias en ouvertures, kamermusiek en werke vir simfonie-orkes wat ook concerto’s insluit. ’n Mens moet egter in gedagte hou dat dit betaalkanale is, wat beteken dat ’n groot deel van die samelewing wat dit nie kan bekostig nie, uitgesluit word.

Die positiewe invloed van klassieke musiek

Oor die algemeen het musiek die vermoë om ’n mens los te maak van die onmiddellike, alledaagse omgewing en kan dit selfs die menslike gemoedstemming positief beïnvloed. Die woorde uit Horatius se Odes, Minuentur atrae carmine curae (“donker sorge sal verlig word deur ’n lied”), is hier van toepassing. Hierdie Romeinse digter het sy odes geskryf om met lierbegeleiding gesing te word. Wat meer spesifiek die klassieke musiek van ons tyd betref, het die Louisiana Filharmoniese orkes spesiale konserte aangebied om die Amerikaanse publiek te help om die skok en afgryse van die gebeure op 11 September 2001 te verwerk. Volgens die orkes se uitvoerende direkteur was die projek ’n sukses: “it touched your soul, it soothed, it calmed“. Die skepping van klassieke musiek help ook om die onmiddellike omgewing te transendeer. In Olivier Messiaen se Quartet for the end of time (1940) wat hy in ’n Nazi konsentrasiekamp gekomponeer het, het hy verby die angs van die onmiddellike omgewing die eindtyd nie as skrikwekkend beleef nie, maar met toenemende spiritualiteit en ’n kalmte van gees.

Behalwe dat klassieke musiek in uitsonderlike gevalle selfs in mediese spesialiste se wagkamers gehoor kan word, het gekontroleerde wetenskaplike eksperimente in die afgelope dekade aangetoon dat dit ’n positiewe effek het op die verligting van pyn, verlaging van bloeddruk, verhoging van immuniteit, atletiekprestasie en slaaploosheid. Natuurlik kan die algemene geldigheid van hierdie resultate slegs bevestig word as die eksperimente op ’n uitgebreide skaal gedoen word. Hierdie argument geld ook vir die stelling dat musiek, meer spesifiek die sogenaamde “Mozart-effek”, leerders slimmer maak – eksperimente met Bach se musiek het byvoorbeeld ook positiewe resultate opgelewer. Maar dat daar ’n verband tussen musiek en akademiese prestasie kan bestaan, is wel bevestig deur ’n studie in die vroeë negentigerjare onder veertienjarige leerders wat wetenskap as vak neem. Die drie lande (Hongarye, Nederland en Japan) wat die beste onder die sewentien lande gepresteer het, het op daardie stadium musiek as verpligte skoolvak vanaf voorskoolse tot op sekondêre skoolvlak aangebied.

Sosiale kohesie

Benewens die luister na klassieke musiek, hou die speel of sing in groepe (byvoorbeeld orkeste en kore) bykomende sosiale voordele vir die aktiewe deelnemers in – dit bevorder interpersoonlike verhoudings en ontwikkel deelnemers se vaardighede om in ’n groep te funksioneer. André Rieu glo dat, naas die professionele manier waarop orkeslede en dirigent saamwerk, “hebben we samen ongelooflijk veel plezier. Als je niet in vreugde en harmonie met elkaar kunt leven, hoe kunt je dan samen mooie concerten geven?”

Verder bevorder die aktiewe deelname aan musiekmaak in groepe ook toeganklikheid. ’n Noorweegse musiekterapeut, Even Ruud, het byvoorbeeld aangetoon dat om saam musiek te maak, individue deel van ’n gemeenskap laat voel en dat dit so sosiale kohesie bevorder. Goeie interpersoonlike verhoudings en aktiewe deelname is twee van die vier hoofkomponente van lewenskwaliteit soos dit deur die Noorweegse sielkundige, Siri Næss, gedefinieer is. Die ander twee hoofkomponente wat sy genoem het, is selfvertroue en ’n basiese gevoel van geluk.

Klassieke musiek kan selfs help om die openbare ruimte veiliger te maak, om misdaad te bekamp en om antisosiale gedrag te verminder. Nadat die speel van klassieke musiek op ’n Londense ondergrondse treinstasie binne agtien maande ’n vermindering van misdaad (roof met 33%, aanvalle op personeel met 25% en vandalisme met 37%) aangetoon het, is klassieke musiek sedert 2008 in 40 ondergrondse treinstasies gespeel. ’n Opname onder 700 pendelaars het oorweldigend uitgewys dat die klassieke musiek hulle lekker en meer ontspanne laat voel het. ’n Mens moet egter ook in gedagte hou dat kriminele karakters moontlik nie van hierdie musiek mag hou nie, hulle mag dalk nie in so ’n omgewing tuis voel nie en daarom dan eerder ander ruimtes opsoek!

’n Aktiewe burgerlike samelewing kan ’n positiewe bydrae tot lewenskwaliteit maak. Dit verg egter kreatiewe denke, baie entoesiasme, toewyding en harde werk. Finansiering is vanselfsprekend ’n groot probleem want borgskappe is meestal die hoofbron van inkomste – ’n mens kan net dankie sê vir die talle borge en donateurs wat in die programme van konserte en projekte gelys word. Maar dink net watter verskil dit sou maak as besighede in elke stad en dorp, al is die dorpie hoe klein, die plaaslike musiekbedrywighede sou ondersteun.

In Amerika het die korporatiewe wêreld eienaarskap vir die bevordering van die kunste in die samelewing aanvaar. Die National Guild of Community Schools of the Arts word deur besighede gehelp om studente wat nie fooie kan bekostig nie, te finansier. Die ouderdomme van die leerders in 380 gemeenskappe wissel van kleuters tot senior burgers en kunste-aktiwiteite word na skool en oor naweke aangebied (2004).

Hoewel die stigting van ’n Suid-Afrikaanse musiekgilde waarskynlik net ’n droom sal bly, kan musiekonderwysers in hulle privaat hoedanigheid wel ’n inkomste genereer sonder om noodwendig ’n aanstelling by ’n skool te hê. Baie jare gelede, toe daar ook nie musiek as vak by skole aangebied was nie, het my ma byvoorbeeld as boervrou met privaat musieklesse genoeg fondse bymekaar gemaak om, onder andere, ’n Steinway vleuelklavier te kon koop. Verlede jaar het ’n bekende motormaatskappy by die bekendstelling van hulle nuwe motor ’n strykkwartet gevra om oorwegend klassieke musiek te speel. Kan dit wees dat klassieke musiek vir advertensies gebruik word, omdat dit ’n spesiale soort indruk maak? Wat sou dan die aard van hierdie indruk wees? Selfs mense wat in die tagtigerjare op laerskool was, onthou die Old Spice-advertensie in die sogenaamde ontoeganklike moderne idioom (Carmina Burana van Carl Orff). Bestaan daar dalk ’n persepsie dat klassieke musiek met kwaliteit en/of langlewendheid geassosieer kan word?

 

Bertha Spies
Buitengewone Professor: Departement Musiek
Universiteit van Pretoria
spies.bertha@gmail.com

 

Gepubliseer met toestemming van die Prof Michael Heyns, hoofredakteur van Woord & Daad, 50(414) Somer 2010

Junie 2014


© Catharina Loader 2001