Kulturele landskap

Prof. Piet van der Merwe,
´n teoloog jarelank verbonde aan die
Universiteit van Pretoria

Suid-Afrika ´n ontmoetingsplek van verskillende godsdienswêrelde

Suid-Afrika maak ’n interessante ontmoetingsplek van verskillende godsdiens­wê­relde uit. Dit verbaas daarom nie dat godsdienswetenskaplike navorsers hulle graag hierheen wend nie.

Die volgende hooftradisies word aangetref:

1. Primale godsdienstigheid in die vorm van tradisionele Afrika-godsdiens.

2. Godsdienste wat hulle oorsprong in die Nabye Ooste het, te wete

  • Judaïsme
  • Christendom
  • Islam.

3. Godsdienste wat hulle oorsprong in Indië het, te wete

  • Hindoeïsme
  • Boeddhisme (weliswaar amper ontelbaar min).

Hierdie indeling is natuurlik nie sonder probleme nie. Die saamgroepering van Judaïsme, Christendom en Islam is byvoorbeeld problematies. Verder openbaar die Christendom in Suid-Afrika ’n hoë mate van pluraliteit, vanaf kerke met Europese wortels tot Afrika-onafhanklike kerke.

Godsdienstige affiliasie in die omgewing van Bosbokrand(Foto 2010: Rina Loader)

Die volgende uittreksel is van ’n Amerikaanse regeringswebblad verkry (my vertaling):

Suid-Afrika het ’n bevolking van nagenoeg 44,8 miljoen mense. Godsdienstige demografiese syfers wat van die 2001 sensus afgelei is, bring die volgende aan die lig: nagenoeg 80 persent van die bevolking behoort aan die Christelike godsdiens en 4 persent aan ander godsdienste. Laasgenoemde word soos volg saamgestel: Hindoeïsme 1,2 persent, Islam 1,5 persent, Judaïsme 0,2 persent en tradisionele Afrika-godsdiens 0,3 persent. Ongeveer 15 persent van die respondente het aangedui dat hulle aan geen godsdiens behoort nie of wou die vraag nie beantwoord nie.

Die Afrika onafhanklike kerke maak die grootste groepering binne die Christelike groep uit. Daar is nagenoeg 4 000 sulke kerke (of selfs meer) met ’n totale lidmaatskap van meer as 10 miljoen uit beide plattelandse en stedelike gemeenskappe. ... Die Zionist Christian Church is die grootste denominasie met 11,1 persent van die bevolking as lede.

Ander Christelike kerke sluit in die Rooms-Katolieke Kerk met nagenoeg 7,1 persent van die bevolking, die Gereformeerde groep met nagenoeg 6,7 persent van die bevolking en ander Protestantse denominasies wat soos volg daar uitsien: Metodis 6,8 persent, Anglikaans 3,8 persent, Luthers 2,5 persent, Presbiteriaans 1,9 persent, Baptis 1,5 persent en Kongregasionalis 1,1 persent. Die grootste tradisionele Pinksterkerke is die Apostoliese Geloofsending, die Assemblies of God en die Volle Evangelie Kerk. Die afgelope tyd het daar ook ’n aantal charismatiese kerke tot stand gekom wat saamgroepeer in die International Fellowship of Christian Churches. Die Grieks-Ortodokse en Sewendedagse-Adventiste kerke is ook aktief.

Nagenoeg 15 persent van die bevolking maak daarop aanspraak dat hulle geen godsdienstige affiliasie het nie. Dit word aanvaar dat baie van hulle die tradisionele inheemse godsdiens beoefen. ...

Die 2001 sensus bring ook die volgende aan die lig: ’n geskatte 80 persent van swart Suid-Afrikaners (dit wil sê Afrikane) is Christelik; nagenoeg 87 persent van blankes is Christelik en byna 1,4 persent Judaïsties; byna die helfte (47,3 persent) van Indiërs is Hindoe, terwyl 49 persent òf Moslem (24,6 persent) òf Christelik (24,4 persent) is, met 3,7 persent wat in ander kategorieë val. Die meerderheid Moslems is Indiërs of behoort tot die Kleurlingbevolking van die Wes-Kaap. (http://www.state.gov/g/drl/rls/irf/2005/51496.htm)

Hoewel dit onwaarskynlik is dat die sensusuitslae van 2001 gemanipuleer is, is daar rede om die hoë syfer van 80% Christene te betwyfel, aangesien ’n vorige sensus (1996) dit nog op ongeveer 76% geraam het. Dit is byvoorbeeld ’n vraag wat respondente onder die term “Christelik” verstaan het. Dit is bekend dat tradisionele Afrikane geneig is om hulle leiers na te volg en dit is moontlik dat ’n beduidende persentasie swartmense hulleself as Christelik beskryf het, omdat hulle weet dat die swart leierselement meestal Christelik is.

Die mees onderskatte godsdienstige tradisie is tradisionele Afrika-godsdienstigheid. Dit is nie ’n tradisie wat sterk in statistiese ontledings figureer nie, maar nogtans een wat deur kundiges as die mees belangrike godsdienstige tradisie naas die Christendom in suider-Afrika beskou word. Daarom word die ontwikkeling van die Afrika onafhanklike kerke (ook hulle teologiese ontwikkeling) goed dopgehou, omdat hierdie kerke meer as enige ander die ruimte vir interaksie tussen die twee tradisies bied.

Tegelyk godsdienstig en gesekulariseerd

Europese besoekers kom gewoonlik gou agter dat baie van die Christelik kulturele simbole wat in hulle eie lande deel van die alledaagse samelewingskultuur is, in Suid-Afrika grootliks afwesig is. Besoekers wat weet dat die amptelike sensus die Christene in die land op 80% van die bevolking stel, spreek dikwels hulle verbasing uit oor die hoë mate van sekularisasie wat hulle in die openbare domein bespeur. Een van die redes hiervoor is dat die Suid-Afrikaanse kerklike toneel reeds van vroegsaf in verskillende denominasies verdeel was en die samelewing nooit die eng verbintenis tussen kerk en staat geken het wat gedurende die Middeleeue en vir eeue daarna in Europa gegeld het nie.

Tog is Suid-Afrika inderdaad ’n godsdienstige land. Die groot getal kerkgeboue, moskees, tempels en sinagoges dui byvoorbeeld daarop. Verder het die vorige Suid-Afrikaanse grondwet selfs erkenning gegee aan God as Skepper en Beskikker van nasies en volkere en het die vorige bewind (wat deur die Nasionale Party saamgestel is) homself vir die grootste deel van sy bewindstydperk as Christelik beskou. Die kerke (veral die Afrikaanse Calvinistiese kerke) is toegelaat om ’n groot rol in openbare meningsvorming te speel en oefen steeds ’n groot invloed uit. Een van die partye wat in die parlement verteenwoordig is, die African Christian Democratic Party (ACDP), is uitgesproke Christelik in sy program en politieke optrede.

Islam, hoewel ’n relatief klein godsdiens in Suid-Afrikaanse terme, tree ook met groter selfvertroue na vore en is aktief in swart gemeenskappe met hulpverlening en proselitering.

Tans ervaar die meeste sogenaamde hoofstroom-kerke ’n wegvloei van lidmate, veral wat die jongmense betref. Waar die Sondag tot aan die einde van die tagtiger jare van die vorige eeu ’n kerklike dag was met min kommersiële en ontspanningsaktiwiteit, het dit nou vir baie Suid-Afrikaners in die stedelike gebiede ’n dag van inkopies, sport en ontspanning geword.

Dit kan aanvaar word dat ’n sekere deel van die lidmaatverlies wat die hoofstroomkerke gely het (en steeds ly) die wins van sogenaamde charismatiese kerke en Afrika-onafhanklike kerke geword het. Enkele sulke kerke (asook die Moreletapark-gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk) bars uit hulle nate. Oor die algemeen wil dit nogtans lyk of die meeste hoofstroomkerke ’n verlies aan lidmate ervaar. In blanke geledere moet dit waarskynlik toegeskryf word aan die toenemende uitwerking van sekularisasie in die samelewing en in ’n mindere mate aan ontgogeling met die rol wat sommige kerke gedurende die apartheidsjare gespeel het. Die tendens word versterk deur die veroudering van die blanke bevolkingsgroep wat veroorsaak is deur ’n skerp afname in blanke geboortes sedert die tagtiger jare, asook deur emigrasie van jonger blankes. (Vir ’n pakkende beskrywing en ontleding van die periode vgl Krüger, JS 2003. Sweeping whirlwinds. A study of religious change: Reformed religion and civil religion in die city of Pretoria (-Tshwane) (1855-2000). Pretoria: Unisa, ISBN 1-86888-246-2, xvi+680 pp)

Hierteenoor openbaar die sogenaamde Afrika-onafhanklike kerke (AOK’s) in dieselfde tydperk verstommende groei. Van hierdie kerke kan gesê word dat hulle die Christendom, kerk en evangelie met inheemse oor en hart ontvang en interpreteer het. Die grootste is stellig die Zion Christian Church met ’n geraamde ledetal van nagenoeg vier miljoen, terwyl die AOK’s as groep nagenoeg elf miljoen lede uitmaak. Hoewel hierdie kerke hulle tradisioneel nie met politiek bemoei nie, word hulle invloed toenemend in die sosio-politieke omgewing ervaar. Die grootste deel van die ACDP se ondersteuning kom waarskynlik uit hierdie oord.

Laastens moet ons weer eens verwys na die haas onoorskatbare rol van swart tradisionele (of primale) godsdienstigheid in die Suid-Afrikaanse samelewing. Vanweë stigmatisering word die invloed daarvan nie maklik erken nie, maar die geoefende oog en oor bemerk dit daagliks. Al die elemente en dimensies van primale religiositeit (dinamisme, animisme en totemisme) is ter sprake. Kragte wat gemanipuleer kan word, voorouers wat steeds familie- en stamlede uitmaak en ’n diepgewortelde vrees vir die bose towenaar of heks vorm deel van die werklikheidsbeeld van baie tradisionele swart Suid-Afrikaners.

 

Kort Curriculum Vitae: Prof Piet van der Merwe

Professor en Hoof van die Departement Godsdiens- en Sendingwetenskap, Universiteit van Pretoria.

Akademiese kwalifikasies: BA(Hons), DD, DTO (Pretoria).

Professionele agtergrond:

  • Senior lektor, Fakulteit Teologie, Unisa – 1971-1978
  • Professor en Hoof, Departement Godsdiens- en Sendingwetenskap, UP – 1979-.

Betrokkenheid in kerk en bediening:

  • Georden as predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHK) (1970, Premiermyn)
  • Tans lid van die volgende sinodale kommissies (NHK): Kuratorium (adviserend); Raad vir Apostolaat.

Akademiese fokus:

  • Hoofsaaklik gemoeid met die onderrig van Godsdienswetenskap (Engels: Religious Studies), ofskoon elemente van Sendingwetenskap ook onderrig word
  • Nagraadse studieleier in beide Godsdienswetenskap en Sendingwetenskap
  • Spesifieke belangstelling: Godsdiensteorie, Teologie van godsdiens.

Akademiese lidmaatskap:

  • Suid-Afrikaanse Werkgemeenskap vir Sendingwetenskap
  • Association for the Study of Religion in Southern Africa.

 

 

Gepubliseer September 2007

 

© Catharina Loader 2001