Kulturele landskap

A short summary of this background on the Griqua Psalms

In this article the Afrikaans author, Hans du Plessis, discusses the background of his Griqua poetry. The Griekwapsalms (Griqua Psalms) are found in four volumes of poetry in so called Griqua Afrikaans, a sub variety of Orange River Afrikaans, one of the three major dialect groups in modern Afrikaans. The poems in these volumes are almost all based on texts from the Bible and they are among the most popular poetry in Afrikaans.

The poet is also known as an Afrikaans linguist who specialised in the study of Afrikaans dialectology. The language of this poetry is therefore based on linguistic research in the North-western Cape. This variety of Afrikaans can be distinguished from Standard Afrikaans on all levels of grammatical analysis.

The Griqua is in itself a diverse language community, and they are found in various parts of South Africa. The Griqua originated from a Khoekhoe tribe of the Western Cape.

The first volume of Griqua poetry, Innie skylte vannie Jirre (In the shelter of the Lord), was published in 2001, and has become known as the Griekwapsalms (Griqua Psalms). This article describes the poetry in all four volumes as transposed, rather than a translation of Bible texts. The transposition is a transposing on at least three levels, without changing the meaning of the Bible as basic text. The first level of transposition is the linguistic level where the language used in the poems is a dialect of Standard Afrikaans on all linguistic levels. The other two being the geographic and religious levels.

 

Die Griekwas

Om vandag presies te sê waar en wie die Griekwas is, is nie heeltemal so maklik nie omdat sosio-ekonomiese en veral politieke faktore die mense al laat versprei het.

Oorspronklik was die Griekwas `n Khoi-stam wat waarskynlik in die omgewing van Saldanhabaai en later Piketberg gewoon het. Met die kolonisasie van Suid-Afrika sedert 1652 het die Khoi-stamme wat in die suidelike dele van Afrika gewoon het, ontwrig begin raak hoofsaaklik omdat kolonisasie en die gepaardgaande opeis van grond deur byvoorbeeld die Vryburgers en later die Trekboere en Voortrekkers en die hele koloniale sisteem en intrekkende swart stamme die Khoi van hulle bestaanswyse as nomadiese veeboere en jagters ontneem het. Dit en die ontwikkeling van suidelike Afrika het op verskillende maniere tot die agteruitgang van die Khoi-gemeenskap gelei. Die Griekwastam is maar een voorbeeld hiervan.

Nietemin, die Khoi-strukture het in vele opsigte verkrummel en baie van die stamme was aangewese op die inname van nie-Khoi-elemente om te kan oorleef. So is daar heelwat voorbeelde van die opname van drosterslawe en -matrose, ontsnapte misdadigers of sommer net opportunistiese geluksoekers of avonturiers.

Hierdie verloop van die geskiedenis het sosiale, ekonomiese, politieke en linguistiese implikasies vir die Khoi ingehou. By Piketberg, byvoorbeeld sluit die vrygestelde kok van die Kaapse goewerneur by die Griekwas aan. Dit wil voorkom of hierdie groepie toe al reeds nie meer die naam Griekwa gedra het nie. Die vrygestelde slaaf, die vader van Adam Kok, was klaarblyklik `n slim man, intellektueel en `n sterk leier en hy lei hierdie volgelinge van hom noordwaarts teen die weskus op totdat hulle by Pella (aan die Oranjerivier naby die huidige Pofadder) land en later by Klaarwater (nou Griekwastad).

Die Griekwa het teen daardie tyd (eerste kwart van die negentiende eeu) reeds `n sterk nasionale gevoel, en dit blyk byvoorbeeld uit die feit dat hulle `n eie wet- en muntstelsel ontwikkel. Dit is ook in hierdie tyd dat hulle, op aanbeveling van die sendeling Campbell, weer die naam Griekwa laat herleef.

Verskillende faktore, waaronder die uitbreiding van boerdery en ook die ontdekking van diamante en die koloniale opeis van mineraalryke gronde deur die Boererepublieke en Brittanje lei tot verarming en `n diaspora van die Griekwavolk.

Vandag nog vind `n mens heelwat van hulle in die oorspronklike Griekwaland in die omstreke van Griekwastad, ofskoon daar ook Griekwagemeenskappe so ver as Kokstad, Kranshoek by Plettenbergbaai en in Ratelgat aan die Weskus woon.

Daar is tans weer bewegings onder die Griekwa wat hulle beywer vir die vereniging van die Griekwavolk en `n mens kan maar net hoop dat hierdie herlewing weer `n eens trotse gemeenskap kan help opstaan.

Afgesien daarvan dat die Afrikaans van die Griekwa dus Khoi-kenmerke vertoon, is dit ook logies dat daar in hulle kultuurlewe trekke van Afrika en Europa moet wees. Dit is vir my as skrywer die interessantste aspek van Griekwawees: die godsdiens-paradoks wat in die Griekwa-gedigte byna `n leitmotief word. Hierin lê die geloofsparadoks: aan die een kant die vaste, kinderlike geloof in God en sy Evangelie en aan die ander kant die vashou aan oermites.

My ervaring van die tradisionele Griekwa is een van `n kinderlike, eenvoudige geloof in God as die Skepper van hemel en aarde. Daar is `n erkenning van volle afhanklikheid. Dit mag ook verband hou met die harde omgewing van die Noord-Kaap, die barheid, son, wind en droogte. Nietemin `n geloof in God en die aanvaarding van Christus as Verlosser.

Maar tegelykertyd by sommige die oergeloof in mites, soos die waterslang en die beerlou.

Rondom die mite van die waterslang is daar in die oer-Afrika al rituele. Een hiervan is nog lewendig by die tradisionele Griekwa, dit is die ritueel van die hokmeisie:

As `n meisie vrou word, begin menstrueer, dan word sy buite die dorp in die hok gesit. Die hok is tradisioneel `n hut of riethuisie weg van die ander. Hier word die meisie dan onderrig in die dinge van die vrou deur een van die ouer vroue – een van die grootvroue. Dan volg die ritueel waarin die hokmeisie water toe geneem word met sang en dans waaraan almal deelneem. Die hokmeisie word gesluierd en singend rivier toe geneem en die grootvroue loop met `n gordels waaraan skilpaddoppies vol boegoe hang. Die ouvrou strooi boegoe op die water om vas te stel of die waterslang tevrede is – die meisie aanvaar. Dan slaan die ouvrou met `n kierie op die water en die water moet met `n sekere boog spat, die jong meisie raak spat. Dan is die slang tevrede – en die meisie is hubaar. Sy het vrou geword.

Hierdie en ander aandstories om die vure is `n skat van Afrikaanse orale tradisie wat besig is om weg te raak. Die vure vrek soos wat die ontvanklike, gasvrye tradisionele Griekwa nie meer oral te vinde is nie.

Dit is die meer tradisionele Griekwa van Griekwaland-wes wat verteller en karakters is in die Griekwabundels is.

 

Die Griekwapsalms

Inleiding

Die eerste digbundel van Hans du Plessis in die Afrikaanse variëteit van Griekwaland-Wes, Innie skylte vannie Jirre, het in April 2001 by Lapa Uitgewers verskyn. Dit is tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn bekendgestel. In die eerste jaar is 35 000 eksemplare verkoop en dit is vyf keer in dieselfde jaar herdruk. Sedertdien is daar reeds meer as 70 000 verkoop.

Die eerste bundel word in 2003 opgevolg met die verskyning van Boegoe vannie liefde (Lapa). Hierdie tweede Griekwabundel is gedigte oor Hooglied. Die verse dek die hele Hooglied, maar dit volg nie die chronologie van die Bybel nie. Van hierdie bundel word ook meer as 10 000 verkoop. Daarna verskyn ook Hie neffens my by Lapa.

Meer as tien jaar na die verskyning van Innie skylte van die Jirre, verskyn die derde bundel ook by Lapa, Karos orie dyne (2012). Hierin volg nog Psalms, Gelykenisse en 'n siklus oor Kersfees. (lees 'n resensie oor die boek)

Die taalnavorsing

In 1980 begin die Universiteit van die Vrystaat met `n navorsingsprojek onder leiding van die taalkundige Christo van Rensburg oor die Afrikaans van die Griekwas in die tagtigerjare. Hans du Plessis word as medewerker by hierdie projek betrek. Dit sluit in die eerste plek verskeie veldwerknavorsingsessies in, wat beteken dat daar by verskeie geleenthede onderhoude met die sprekers van hierdie variëteit van Afrikaans gevoer is. Hierdie gesprekke is in Griekwaland-wes (Campbell, Douglas, Griekwastad, Daniëlskuil, Postmasburg en Olifantshoek) gevoer en ook in Phillipolis, en Griekwaland-oos (Kokstad). Na uitgebreide veldwerknavorsing is `n lywige verslag oor Die Afrikaans van die Griekwas in die tagtigerjare saamgestel en deur die destydse Raad vir geesteswetenskaplike navorsing (RGN) aanvaar.

Daar is ook navorsing in die Richtersveld, Namakwaland, Boesmanland, die Sandveld gedoen en Du Plessis was self as projekleier betrokke by navorsing oor die Afrikaans van Namibië, waaroor daar ook `n omvattende verslag deur die RGN aanvaar word.

Die taalnavorsing onder die sprekers van Afrikaans lei ook tot verskeie projekte vir populêre tydskrifte, radio en televisie, waarin die variëteite van Afrikaans en die sprekers daarvan betrek word.

Die Afrikaans van die bundels

Afrikaans het sy ontstaan nie te danke aan die stigting van die GRA, die sg. Eerste en Tweede Taalbeweging tussen 1875 en 1925 nie. Ofskoon die bewegings wat uit die GRA en die Bybelvertaling spruit `n belangrike rol speel in die ontwikkeling van Afrikaans as kultuurtaal en geskrewe taal, is die Paarl nie die bakermat van Afrikaans nie!

Afrikaans se ontwikkeling begin veel vroeër, volgens 'n navorser soos Christo van Rensburg (So kry ons Afrikaans, 2012, Lapa Uitgewers) selfs voor die koms van Jan van Riebeeck op 6 April 1652.

Die koms van die koloniale Nederlanders van die VOIC skep onmiddellik die tipiese taalkontaksituasie wat altyd vrugbaar is vir die ontwikkeling van verskillende vlakke van intertaal. Kortom, die kontak tussen Nederlands as taal van die koloniseerder en Khoi as taal van die gekoloniseerde lei daartoe dat die Khoi Nederlands moet aanleer. Ook natuurlik omdat Khoi tot vandag toe vir die Europese tong vreemd val. Die Khoi probeer dus van die begin af Nederlands praat, `n intertaalvorm daarvan aanvanklik, maar dit word (veral in die loop van die agtiende eeu) moedertaal vir baie groepe, byvoorbeeld die Griekwas. Die kontak tussen slawe (met uiteenlopende moedertale) en Nederlands aan die suidpunt van Afrika het die tweede Afrikaanse dialek aan die Kaap tot gevolg: Slawe-Afrikaans as jy wil.

Die gebrek aan taalkontak tussen die Europese koloniste en Sewentiende-eeuse Nederlands in Nederland veroorsaak die derde dialek: Koloniste-Afrikaans.

Verskeie taalkundige studies volg die ontwikkeling van hierdie drie vroeë dialekte in Afrikaans en `n mens sou opsommend kon aanvaar dat Afrikaans teen die agtiende eeu reeds drie duidelike dialekte vertoon:

  • Khoi-Afrikaans,
  • Slawe-Afrikaans met die sterk geur van die Ooste,
  • Koloniste-Afrikaans wat duidelik van Nederlands te onderskei is.

Hierdie drie word vandag nog duidelik in Afrikaans onderskei as onderskeidelik

  • Oranjerivierafrikaans,
  • Kaapse Afrikaans,
  • Transvaalse Afrikaans.

Variasiestudies van veral die tweede helfte van die twintigste eeu gee nogal `n duidelike beeld van die ontwikkeling en stand van hedendaagse Afrikaans met die geografiese en sosiale subvariasie daarvan.

Griekwa-Afrikaans as subvariëteit van Oranjerivier-Afrikaans toon variasie op al die grammatiese beskrywingsvlakke. Klankvariasie, soos die duidelike ontronding (deur>deer), palatalisasie (kind>kjind) en –r-weglating (klaar>klaa). Op die morfologiese vlak, bv. die meervoudsvorming in kind x kinderse of die verkleiningsverdubbeling in mandjietjie, die leksikale nuutskeppinge, sintaktiese reëlvereenvoudiging van, byvoorbeeld die om te-konstruksie (om te hom te sien) of semantiese vereenvoudiging.

Transponering in die Griekwabundels

Dikwels vra lesers: Is dit opgetekende gedigte, of vertalings wat tradisioneel onder die Griekwas voorkom? Kopiereg bly vir baie mense 'n kwessie: jy approprieer, jy steel die intellektuele eiendom van die Griekwas met hierdie gedigte. Dit is 'n beskuldiging wat dikwels geopper word, en daarom iets daaroor.

'n Taal, of enige vorm daarvan, het nie op sigself kopiereg nie, want dit is nie iemand spesifiek se intellektuele eiendom nie. As dit was, sou ek of Antjie Krog of André ook nie in Engels mog skrywe nie – of Elias P. Nel of E.K.M. Dido in Standaardafrikaans nie. Afrikaans is die somtotaal van al sy dialekte, en Afrikaans behoort aan almal wat dit praat. Intellektuele eiendom lê daarom in die oorspronklike skepping in die besondere taal en nie in die linguistiese kode self nie. Sou die Griekwapsalms iewers bestaan het voordat ek dit geskryf het, beteken dit dat ek iemand anders se intellektuele eiendom gesteel het en as my eie skepping voorhou. Nie een van die gedigte bestaan egter elders as in my eie publikasies nie. 'n Kunstenaar kan net approprieer wat reeds geskep is. Geen wet of reël of regulasie kan egter voorskryf in watter medium die kunstenaar mag skep nie. Dis soos om te sê ek mag nie op 'n rots met plant-en-dier-verf teken nie, want iemand anders het dit al gedoen. Dit is egter 'n ander saak as ek 'n rots met 'n oertekening daarop uitkap en dit as my eie kunswerk gaan uitstal. Dit is appropriasie. Plagiaat, of steel in gewone Afrikaans. Dit is nogal vreemd dat niemand dieselfde vraag met betrekking tot die gebruik van die Bybelgedeeltes vra nie. Miskien is dit simptomaties van ons gebroke taalgemeenskap, 'n taalgemeenskap met grense wat nie bestaan nie, maar deur politieke domastrantheid gefabriseer is. Inteendeel, die skep in 'n variëteit is daarop gemik om die variëteit se potensiaal as skeppingsmiddel te bevestig. Dit probeer juis grense afbreek.

Nie alle Griekwas gebruik hierdie variëteit van Afrikaans nie, eenvoudig omdat die Griekwas nie 'n homogene gemeenskap veronderstel nie. Die Griekwas van Kokstad of Kranshoek of Ratelgat praat hulle eie variëteit. Soos die sprekers van Messina Afrikaans anders praat as dié van Bredasdorp. Verder sou dit net so erg wees om te beweer dat nét Griekwas hierdie dialek gebruik. Variëteite het 'n mond en ore, maar nie oë wat kleur kan sien nie.

Die gedigte in my Griekwabundels is nie een opgeteken nie, dit is oorspronklike gedigte.

Dit is streng gesproke ook nie vertalings nie, omdat daar nie met die grondteks in byvoorbeeld Hebreeus of Grieks gewerk word nie.

Die eerste Griekwapsalm (Psalm 23) het ek in April 1982 in die hotel op Douglas geskryf en die eerste ses het in 1984 in my bundel Gewete van glas verskyn. Die reaksie op die paar Griekwagedigte was positief, maar nie oorweldigend nie en etlike jare het verloop voordat ek weer daaraan begin werk het, hoewel ek deur die jare my kontak met die Griekwas en hulle Afrikaans behou het.

Heelwat faktore het daartoe aanleiding gegee dat ek weer begin het met die skryf van Griekwagedigte. In die middel van die jare tagtig het Awie van Wyk, die koorleier van die Potchefstroomse universiteitskoor Psalm 121 in sy Griekwavorm getoonset en hierdie toonsetting hou tot vandag toe `n besondere bekoring in. Daarna het verskeie sangers en komponiste van hierdie gedigte getoonset. Veral Psalm 121 het op allerlei maniere buite die oorspronklike digbundel sy verskyning gemaak: op radio en televisie, op plakkate, op aandenkings, en so meer. Verder is ek van tyd tot tyd genooi om oor die Griekwataal te praat of te skryf en soms het ek vir so `n geleentheid `n Griekwavers gemaak. Uit al hierdie dinge het ek besluit om `n klein boekie net van Griekwagedigte saam te stel, twaalf gedigte onder die titel Griekwapsalms en annerlike goeterse ytie Woord yt. Ek kon nie `n uitgewer daarvoor kry nie, maar omdat ek my outeursreg wou beskerm, het ek dit self uitgegee, eintlik net om `n ISBN-nommer te kon kry! Die boekie was onmiddellik `n sukses en ek het toe besef dat `n meer omvattende bundel dalk ook kan werk, en só is die bundel Innie skylte vannie Jirre gebore. Toe al moes ek die Genadehand van die Here daarin begin sien het.

Bundels soos dié, is eintlik `n transponering, en daarmee bedoel ek dat dit `n bepaalde soort poëtiese omsetting van Bybelgedeeltes is. Ek dink `n mens sou kon aantoon dat die gedigte op veral drie vlakke `n transponering is: op die taalvlak, die geografiese vlak en die godsdienstige vlak.

Ek het deurgaans met meer as een Bybelvertaling as die grondteks gewerk, Afrikaanse vertalings, Nederlandse en Engelse vertalings. In die transponering is dit vir my belangrik om nie die Bybelse betekenis te verander nie en daarom het ek ook `n studie bly maak van kommentare en Bybelverklarings.

Die transponering van die taal beteken eenvoudig dat ek die grondteks vertaal in die dialek van die Griekwas. Uit die aard van die saak is dié Afrikaans dan in sekere sin `n abstraksie omdat ek verskillende moedertaalsprekers se Afrikaans konstrueer sodat dit in die bundels eintlik neerslag vind as die Griekwa-Afrikaans van 'n fiktiewe verteller. Daarom beteken dit nie dat alle Griekwas of net Griekwas Afrikaans presies só praat nie. Dit is daarom `n abstraksie omdat ek `n spreker van Griekwa-Afrikaans skep wat dit so sou kon praat. Dit bly egter belangrik dat die taal wat wel gebruik word, inderdaad in die monde van segsmense bestaan, soos wat dit in die navorsing beskryf is.

Die tweede vlak van transponering is die geografiese vlak: die omgewing van die Bybel word omgesit in die omgewing van die verteller in die bundels. As Dawid dan byvoorbeeld van die berg Sion praat, word dit `n sandduin in die bundels, `n olyfboom word `n kameeldoring en die dal tussen die Bybelse berge word in die bundels die strate tussen die duine.

Op die godsdienstige vlak word die tweestryd van Heil en onheil, God en bose, goed en kwaad van die Psalms in die bundels die tweestryd tussen God as Heil en die beerlou en die waterslang as onheil. Die pes of die vyand van die Psalms word die hitte, die droogte of die wind van die bundels.

Hierdie verskillende vlakke van transponering lei daartoe dat daar in die poëtiese transponering nuwe metafore tot stand kom. Die digterlike tegnieke bring `n nuwe teks tot stand, `n nuwe ervaringsomgewing van ou waarhede.

Dit is waarskynlik in hierdie kombinasie van oud en nuut, van bekend en onbekend waarin die sukses van die bundels te vinde is. Dit maak nuwe moontlikhede oop, maar dit behou die ou waarheid. Dit Afrikaniseer en dit maak eenvoudig, dit herskep dus en dit maak die Woord op `n ander manier toeganklik.

Niemand kan egter die genade van God in die skeppingsproses self en in die afloop daarvan ontken nie. Daarom uiteindelik: aan God die eer!
 

SPREUKE 22:2

vorie Jirre is alman gelyk.
of jy arm is of altemit ryk,
die Jirre het die hele mense gekom maak:
Hy sallie selle agter alman kyk

Uit: Innie skylte vannie Jirre

BOEGOE VANNIE LIEFDE

Ek wil jou vi altyd neffens my hê,
hou my sos boegoe teen jou vas:
ek wil sosse ring om jou se vinger pas,
en sos grashout op jou se hart loop lê.

Die liefde het eentlikie dood se krag,
hy gryp jou wa jy niks vewag,
die liefde die soek okkie ytie,
vra nou nie wat jy self beslytie.

Die liefde brandsteek `n annerlike vier,
en jy kannie hele waterse kom stier,
of goi ma Grootrivier yt op hy se kop,
môre sien jy, hie statie liefde self wee op!

Uit: Boegoe vannie liefde

 
JOSEF

Wassit nou te veel gevra
om te die vrou wat jy het,
ennie kjind wat sy in ha dra,
te hou, Josef, klong yt Nasaret?

Toe jy stilletjies beslyt
om hierielike vrou te los,
het jy altemit begryp
wat hóm dood kan kos?

En toe ’n ingel aan jou veskyn
en sê Maria moet by jou bly,
het jy toe gedink hoelike pyn
en venedering hý sou ly?

Josef, seun van Dawid, vegjeet
die spanriem van jou se vrees:
wat in háár is, en aan jou vreet,
kom net so vannie Heilage Gees.

Da sal ’n kjind yt Maria ytkom!
Wat ek jou beveel, moet jy doen,
want hý sallie hele mensedom
met hille se sondes kom vesoen.

Toe jy wakker skrik oppie bed,
en laterder byrie krip loop staan
en jy hóm Jesus doop, het
jy die boodskap tóé vestaan?

Uit: Karos orie dyne

 

Junie 2013

 

© Catharina Loader 2001

Oor die skrywer

  • Kliek  hier om´n TV-onderhoud tussen Hans du Plessis en Chemane Harris op Kwêla te sien.

  • Sien ook prof. du Plessis se fotobeeld op Versindaba se blog (saamgestel deur Zandra Bezuidenhout, een van Afrikaans in Europa se medewerkers).

  • U kan ook die onderhoud met Marlies Taljaard lees op Versindaba

Hans du Plessis is in 1945 in Pretoria gebore, word in Silverton groot en matrikuleer in 1962 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria. Hy behaal `n B.A.-graad aan die Universiteit van Pretoria en agtereenvolgens die U.O.D., Honneurs (cum laude), M.A. (cum laude) en die doktorsgraad in Afrikaanse taalkunde in 1975. Hy studeer ook aan die Harvard-universiteit, Massachussets Institute for Technology, en besoek in 1991 die universiteite van Iowa en Oklahoma. Aan die Oklahoma Arts Institute voltooi hy 'n kursus in Skryfkuns. Hy woon in Johannesburg ook 'n werkswinkel van Syd Field in die skryf van draaiboeke by.

Hy hou vir ses jaar skool en doseer daarna Afrikaanse taalkunde aan Unisa en die Randse Afrikaanse Universiteit. In 1981 word hy professor vir Afrikaanse taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, en in 1990 word Direkteur van die ATKV-skryfskool van die NWU. Hy doseer ook Skryfkuns aan dieselfde universiteit. Hy tree aan die einde van 2011 af, en word voltydse skrywer en navorsingsgenoot in die Skool vir Tale aan die NWU.

As taalkundige doen hy navorsing oor teoretiese grammatika, taalbeplanning en taalvariasie, soos die Afrikaans van Johannesburgers, die Griekwas en Afrikaans in Namibië. Net meer as twee honderd publikasies het reeds uit sy pen verskyn, waarvan die grootste aantal taalkundige en literêre artikels is. Skeppende werk sluit radio- en televisietekste, gedigte, kortverhale en verhoogstukke in. Hy is veral bekend as jeugboekskrywer, romanskrywer en digter.

Jeugromans:

Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou (HAUM-Literêr)
Bakgat, en wat dan van my (Human & Rousseau
Ditsem, Dawid (Human & Rousseau)
Romans
Grensgeval (Human & Rousseau)
Skuiwelinge (HAUM-Literêr)
Verbrande paradys (Lapa)
Die pad na Skuilhoek (Lapa)
As die wind kom draai (Tafelberg)

Digbundels:

Kleinwild (De Jager HAUM)
Gewete van glas (Human & Rousseau)
Innie skylte vannie Jirre (Lapa)
Boegoe vannie liefde (Lapa)
Hie neffens my (Lapa)
Karos orie dyne (Lapa)

RUBRIEKE

Splinters (Lapa)

Hy ontvang ook pryse vir sy skryfwerk waaronder die C.R. Swartprys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys en `n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en kuns.

Hans du Plessis is getroud met Magdaleen Potgieter en hulle woon op Potchefstroom. Die egpaar het vier getroude seuns en agt kleinkinders.

---oooOOOooo---