Kulturele landskap

Oorsprong van Afrikaners en Engelssprekendes

Van die ongeveer 50 miljoen mense wat in Suid-Afrika woon, kan sowat 6 miljoen mense se stambome teruggevoer word na "mense van anderkant die see". Hierdie veraf lande verwys hoofsaaklik na die Nederlande, Duitsland, Frankryk en Portugal.

Portugese en Nederlanders

Die vroeë ontdekkingsreise van die Portugese het later tot die aankoms van die eerste permanente Hollandse nedersetters gelei. Hulle was werknemers van die VOC (Vereenigde Oost Indische Compagnie) wat vanaf 1609 wêreldwyd handelstasies gevestig het onder die leiding van hulle direksie, die sg. "Here 17". Die Kaap was in 1652 op hulle agenda en dit het tot die landing van Jan van Riebeeck en sy geselskap aan die Kaap van Goeie Hoop gelei. Die Kaapse administrasie was ondergeskik aan die Bataafse Raad wat op die eiland Java gestasioneer was en as steunpunt moes dien.

Duitsers

Daar was ook Duitsers in diens van die VOC. Sowat 14 000 Duitsers het in die eerste 140 jaar hulle aan die Kaap gevestig. Mense soos Wilhelm Müller uit Frankfurt am Main, Paulus Petkau uit Danzig en die Sakser, Zacharius Wagner (later Wagenaar) is name uit hierdie tyd. Die eerste miljoenêr in Kaapstad, Johannes Hüsing, was van Duitse afkoms.

Aangesien Nederlands die amptelike taal was het Duits slegs die huistaal van die immigrante gebly. Gedurende 1857-1859 asook in 1877 en 1882 is duisende Duitse soldate deur die Britte in die Kaap verwelkom. Hulle moes help om die Britte teen die Xhosas te beskerm. Hulle het meestal met ingevoerde vroue uit onder andere Ierland getrou.

In Genadedal het die "Deutsche Missionare der herrnhuter Missionsgesellschaft" die eerste sendingstasie in Suid-Afrika gevestig (1849). Duitse skole is gestig en gemeenskappe waar Duits dikwels gehoor is (bv in die Wuppertal-omgewing) het algaande ontstaan. Baie dorpname, soos Heidelberg en Heilbron, getuig van Duitse invloed.

Duitse pioniere het diep spore in die ontwikkelende kolonie getrap. Bekende Duitse families is daar baie:

  • Die geoloë, Karl Mauch en Hans Merensky (seun van 'n Duitse sendeling) was bv verantwoordelik is vir die ontdekking van goud- en diamantriwwe, platinum- en fosfaatneerslae.
  • Die hoofopsigter van die VOC-tuine in 1747 was Johann Andreas Auge wat vir vele blomname in Suid-Afrika verantwoordelik is.
  • Johann Franz Drege, een van Auge se opvolgers, het 200 000 verskillende plantsoorte opgeteken en só bygedra tot die erkenning van die Kaap as een van die ses blommeryke in die wêreld.
  • Die goud- en diamante familie, Oppenheimer uit Hessen-Nassau, het Anglo American en De Beers tot reuse ondernemings uitgebou.
  • Talle Duitse maatskappye (bv Siemens) is in Suid-Afrika gevestig, sommige reeds vir meer as honderd jaar.

Ten spyte van versmelting met die ander groepe in die land is daar vandag nog Duitse enklaves in die Suid-Afrikaanse gemeenskap met hulle eie skole en tradisionele byeenkomste (bv die jaarlikse 'Bierfest').

Die Franse

Tussen 1688 en 1700 moes duisende Hugenote vlug as gevolg van godsdienstige vervolging in Frankryk. Sommige van hierdie Calviniste het hulle weg na Suid-Afrika gevind en as skrynwerkers, wynmakers en landbouers in die Kaap gewerk. Franschhoek is van hierdie deel van die geskiedenis 'n sprekende voorbeeld so wel as talle Franse name soos du Plessis, De Villiers, Marais en Le Roux.

Afrikaners

Vandag nog is die kasteel waarin die nedersetters aanvanklik gewoon het, in Kaapstad te sien. Van hier af het vrygestelde amptenare eers trekboere en later grensboere geword en dit was die begin van 'n boere-gemeenskap in die Kaapkolonie.

Eienaardig is dat geen swart bevolkingsgroep na die Afrika-kontinent vernoem is nie maar dat hierdie groep witmense as Afrikaners bekend geword het. Hulle taal is ook Afrikaans, geen swarttaal uit Afrika nie maar 'n Germaanse taal wat heel dikwels deur inheemse spraakgroepe beïnvloed is.

Die vestiging van Afrikaans as skryftaal (1867) en die erkenning daarvan as amptelike taal in 1925 (naas Engels) het baie daartoe bygedra dat die taal 'n groot deel van die Afrikaner se identiteit vergestalt.

Die Afrikaner het dus hoofsaaklik ontwikkel uit die samesmelting van Nederlanders, Duitsers en Franse. Hulle gedeelde ontberinge in die nuwe kolonie het hulle gesout anderkant laat uitkom.  'n Allesoorheersende strewe om onafhanklik te lewe van die Britse ryk, vry te wees van oorheersing en onderdrukking lei tot 'n volksverhuising na die binneland gedurende die Groot Trek. Die twee bloedige Anglo-Boere-Oorloë het die Afrikaner verarm agtergelaat maar sy oorlewingsdrang en koppige deursettingsvermoë was ongeskonde, indien nie daardeur versterk nie. 'n Kragtige nasionalisme en patrionalisme snoer hulle uiteindelik tot 'n volk saam. Die spreekwoord "'n boer maak 'n plan" verklap baie van die wese van die Afrikaner - 'n klein groepie boere wat die hele Britse militêre mag drie jaar lank opdraande gee, querilla-oorlogvoering uitdink, loopgrawe ontdek en ongeag ekstreme omstandighede oorleef. Hulle sterk Calvinistiese oortuigings was die erfenis van die Hugenote en vasberadenheid en handigheid die erfenis van hulle ander stamvaders. Slegte keuses en fanatieke politieke leiers en kerkvaders voer hulle egter in die Apartheidsdebakel in totdat hulle die onreg van die stelsel erken en vanaf 1994 'n ware demokrasie vir alle bevolkingsgroepe in die land probeer verwesenlik.

Aan die Afrikaners is die uitgebreide landbou en uitstekende boerdery-metodes te danke - 'n tradisie wat deur die huidige regering se grondbeleid in die wiele gery word. Só ook (soms met invloede van die Maleiers) lekkernye soos "braaivleis" (barbeque) en "potjiekos" en "biltong" en "koeksisters" en "melktert".

Pres Paul Kruger (Boere-president van Transvaal vanaf 1883) was die eerste ekoloog met die proklamering van die Nasionale Krugerwildtuin meer as 100 jaar gelede. Chris Barnard het die eerste hart in die wêreld oorgeplant en FW de Klerk is saam met Nelson Mandela en Tutu 'n vredesnobelpryswenner.

Rebellie in die bloed van die Afrikaner

Chrsitelike-federaal as lewensbeskouing

 

Die Engelse

Om die seeweg na Indië te beveilig ná die Franse Revolusie in 1787, annekseer die Britte die Nederlandse Kaapkolonie in 1795 vir die eerste keer en in 1806 vir die tweede keer.

In 1814 word die Kaapkolonie op 'n kongres in Wene aan die Engelse toegesê en nie lank daarna nie (1820), toe land daar 2 000 Britte in die huidige Port Elizabeth om die oosgrens van die kolonies te beman.

Dié toetrede tot die Kaapkolonie het reuse golwe veroorsaak in die lewe van die Afrikaners, slawe, Khoi, San en Bantoe-groepe. 'n Verengelsingsbeleid het permanente gevolge vir die gebied en is vandag nog in die kulturele lewe van Suid-Afrika speurbaar.

Die botsende waardes en belange tussen die Cecil John Rhodes ('n oortuigde kapitalistiese Brit) en Paul Krüger ('n behoudende Calvinistiese Afrikaner) dompel die land in 'n vernietigende oorlog.  Dieselfde Britse imperialisme lei ook tot dodelike gevegte tussen die Britte en ander inheemse volkere (Xhosas, Zoeloes, ens).

Die eindresultaat was dat die Britte hulleself as heersers oor die hele Suid-Afrikaanse gebied gevestig het. Hulle impak in veral die besigheidswêreld, die ontwikkeling van 'n infra-struktuur, skolastiese opleiding (tipiese 'grammar schools') bly in die land tot in 1961 met die totstandkoming van die Repubiek van Suid-Afrika.

Net soos die Nederlandse setlaars het ook die Britse setlaars gekom om te bly en is hulle vandag nog 'n noemenswaardige deel van die blanke bevolking in Suid-Afrika - mens hoef maar net na die gewilde Suid-AFrikaanse sportsoorte kyk om dié stelling te glo: krieket, rugby, perdesport ...

 

Lees meer uitvoerig oor die bostaande groepe in:
1. Giliomee, Hermann and Mbenga, Bernard. New History of South Africa.
2. Pretorius, Fransjohan. Die geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag

 

Bronnelys

Loader, C., Afrikaanse taal en kultuur II, Nederlandistiek Universiteit Wenen, 2013.
Informationsblatt Satour, Frankfurt, Januar 1997.

 

Catharina Loader

Gepubliseer Junie 2013

 

 

 © Catharina Loader 2001