Waarom die interesse in Afrikaans op internasionale vlak?

Afrikaans is lank nie meer beperk tot Suid-Afrika en omliggende buurlande nie. Globalisering het daartoe gelei dat Afrikaans sy vlerke sprei en ook in ander dele van Afrika, Europa, Brittanje, die Amerikas en Australasië te vinde is. Daar word selfs gewerk aan´n Chinees-Afrikaanse woordeboek. ´n Japans-Afrikaanse woordeboek is reeds beskikbaar.

Verstaanbaar is die spesiale historiese band tussen Afrikaans in Suidelike Afrika aan die een kant en Europa aan die ander kant. Opvallend is die feit dat Europeërs al hoe meer erns met hul suidwaartse nalatenskap maak terwyl daar ook vanaf Afrikaanssprekendes uitgereik word na dié lande wat´n invloed op die ontwikkeling van hulle taal gehad het. Nie alleen vind ons dat Afrikaans in die Nederlande, België, Duitsland en Frankryk bekend is nie maar ook, teen die verwagting in, is daar interesse in Afrikaans in dele van Europa wat nie histories met die taal verbind word nie. In Oostenryk, die Tjeggiese Republiek, Pole, Hongarye en Rusland speel Afrikaans, soos ook in die weste van Europa,´n marginale maar agtenswaardige rol.

Die mees ooglopende belangstellingsvlak lê natuurlik op die gebied van taalnavorsing. In Europa, waar vergelykende linguïstiese en letterkundige studies so´n prominente rol speel, is die interesse in verskille en ooreenkomste tussen die ouer en die jongste Germaanse tale voor die handliggend.

Die natuurlike bande tussen Nederlands en Afrikaans open outomaties moontlikhede tot vrugbare kommunikasie. Ander Europese tale soos veral Duits (ook Platduits), Frans, Portugees en Engels het egter ook´n belangrike rol in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel.

Die onvermydelike interaksie tussen Afrikaanse en die inheemse Swarttale soos weerspieël in die Afrikaanse woordeskat (hier dink ek aan woorde soos “karos“, “kierie“, “indaba“, ens.) maak verdere interessante linguïstiese studies moontlik.

Die sogenaamde "toevallige" interesse figureer vervolgens ook naas akademiese belangstelling as gevolg van toenemende sosiale kontak tussen Europeër en Afrikaanses. Familie, vriende en kennisse moet oor grense heen met mekaar kommunikeer en só word Afrikaans dan dikwels "ontdek".

Die Afrikaanse letterkunde is verder´n nimmereindigende bron van kulturele en geskiedkundige onthullings en bied opwindende moontlikhede ten opsigte van verskeie hedendaagse studieterreine. Die studie van die Afrikaanse letterkunde bring nuwe insigte in´n kontinent wat vir die Europeër nog immer onder´n romantiese sluier verborge is.

Ook politieke interesse stimuleer die huidige interesse. Ná 1994 word Suid-Afrika, by wyse van spreke, gesien as´n tipe laboratorium waarin verskeie eksperimente geloods word om´n kaleidoskoop van wyd uiteenlopende tale en kulture vreedsaam naasmekaar te laat voortbestaan. Hierdie bewustheid van die land en sy mense dra daartoe by dat Suid-Afrikaanse kuns en kultuur gereeld op Europese bodem kop uitsteek. Dié internasionale podium is goud werd wat nuwe horisonne vir alle betrokkenes open. Vir die Afrikaanssprekende self is jare se isolasie deurbreek en is hulle nou loshande aan die werk met´n taal wat Apartheidspolitici skreiend misbruik het.

Ná die afskaffing van sanksies en boikotte word die land met nuwe besigheidsoë betrag. Deel van wat raakgesien word is die inherente waarde van Afrikaans. Afrikaanssprekendes is´n koopmag wat nie onderskat moet word nie. Die feit dat Afrikaans van Kaappunt tot diep in Namibië deur ongeveer 12 miljoen mense ten minste verstaan word, word deur die vernuftige sakeman na waarde geskat.

Afrikaans is, in wêreldverband gesien,´n minderheidstaal en in Suid-Afrika self ten opsigte van sy aantal sprekers marginaal in vergelyking met tale soos onder andere isiXhosa en isiSotho. In´n artikel, Speaking in Tongues, wys James Geary daarop dat ongeveer 6 500 tale in die wêreld gepraat word waarvan die helfte reeds op die randjie van uitwissing staan of daarheen oppad is. Soos alle minderheidstale, moet Afrikaans in die taalomgewing van die 21ste eeu vertroetel word. Dit is dus in hierdie raamwerk vir taalsosioloë heel interessant om die invloed van sosio-politieke faktore op die ontwikkeling van Afrikaans te monitor.

As akademiese vak word Afrikaans vandag dus met vrymoedigheid aan universiteite in Europa doseer. Vanuit Suid-Afrika word hierdie interesse flink ondersteun. Verskeie instansies het byvoorbeeld reeds boeke aan biblioteke in verskillende Europese sentra geskenk. Namens alle entoesiaste van Afrikaans in Europa wil ek baie graag die Taalsekretariaat, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Kultuur en Wetenskap, die uitgewer LAPA en die taalskool van Noordwes Universiteit en die lede van die PUK-Kanselierstrust bedank vir hulle bydraes om Afrikaans in Europa te bevorder.

Vir Europese studente is die bemeestering van nuwe tale´n intrinsieke deel van hulle kulturele ingesteldheid terwyl algemene interesse in die wêreld buite die eie geboorteland hoë prioriteit geniet. Daarom word Afrikaans so ver van sy eie bodem geleer, gelees en bespreek.


Catharina Loader
Augustus 2005